Die wonder van die enige algemene Christelike kerk

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2006-01-08
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 27
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 27

Ds C Kleyn - Sondag 8 Januarie 2006

Lees: Johannes 10:1-16; Efésiërs 2:11-22; 4:1-6;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 27.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 122; Ps
87; Ps 48:5.

Tema: Die wonder van die enige algemene Christelike
kerk

  1. die eienskappe van die kerk
  2. die omskrywing van die kerk

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die komende weke hoop ons nav die NGB ons te besin oor die
kerk van Christus. Dit bly ’n sensitiewe onderwerp. ’n
Onderwerp wat soms ook baie emosies wakker roep. Veral as daar op
’n ongevoelige en ongenuanseerde manier oor ander
kerkgemeenskappe gepraat word. Die kerklike gemeenskap waarin jy
geestelik grootgeword het, en waar jy jou familie en vriende
agtergelaat het, laat jou nie koud nie. Tereg nie. Jy bly op
’n sekere manier daarby betrokke al is dit net deur jou
voorbede en belangstelling. Jy dra die mense en die gemeenskap op
die hart. Daarom kan jy dit nie verdra as op ’n ongevoelige
en onbetrokke manier oor die gemeenskap gepraat word nie.

Maar, broers en susters, is dit dan nie gewaagd om oor die
kerk te praat nie? Dit hang daarvan af hoe jy dit doen. As jy dit
maar nie doen vanuit jou belewing nie. Die gevaar is daar dat ons
te maklik ander kerkgemeenskappe beoordeel vanuit ons eie
kerkgemeenskap. Vanuit die oortuiging dat ons kerke volgens ons
belydenis ware kerke is, gaan ons dan ander gemeenskappe
veroordeel. Die norm word dan wat ons in ons kerke sien. Die
uitgangspunt is dan ons ervaring. Pleks van God se woord en werk.
Dit is nie sonder rede dat ons belydenis by die artikels allerlei
bewystekste noem waarop dit gebaseer is nie. Die Skrif bly
uiteindelik die norm. Die belydenis wil niks meer of minder as
die Skrif naspreek nie en moet daarom in die lig van die Skrif
gelees word. Laat ons dan ook wanneer ons oor die kerk praat en
kerke beoordeel dit vanuit die Skrif doen.

Gemeente, let ook op die eerste woorde van ons art 27: Ons glo
en bely ’n enige katolieke of algemene kerk. Ons glo en bely.
Die kerk is ’n geloofsaak. Dis iets wat ons glo op grond van
die Woord van God self. God maak ons in sy Woord bekend wat die
kerk is. Dis nie iets wat ons uit onsself kan uitvind nie. Dis
nie iets wat ons vanuit ons waarneming of ervaring kan weet nie.
Dit is natuurlik wel verleidelik om uit te gaan van wat jy sien
en ervaar. En wat sien jy dan? Jy sien ’n groot
verskeidenheid van kerke. Jy sien mense wat om allerlei redes
verenig is en apart gaan vergader. Jy vorm vir jou self ’n
beeld van die kerk nav die gebroke en menslike situasie. Maar het
jy dan die wesenlike van die kerk ontdek? Die wesenlike van die
kerk is dat die Seun van God die kerk vergader en dat Hy die
Koning van die kerk is. En dit kan nie met die blote oog gesien
word nie. Dit weet jy net vanuit die Bybel. Daarom begin ons die
artikel ook met die woorde: ons glo en bely ’n kerk. Laat
dit dan ook jou uitgangpunt wees wanneer jy oor die kerk praat.
Dit kan jou help om bo die emosies en ervaring uit te kom en om
mekaar te vind in die saam luister na die Skrifte. Dan leer jy om
normatief oor die kerk te dink en te praat en nie vanuit jou
gevoel nie.

Ons glo en bely ’n enige kerk. Let daarop dat ons nie sê:
ons glo in ’n enige kerk. Die laaste sê ons wel tov God: Ek
glo in God die Vader, in God die Seun en in God die Heilige Gees.
Maar nie: ek glo in die kerk nie. Om in iets te glo beteken dat
jy jou volkome vertroue daarop stel. Ek stel my volkome vertoue
op God, op Jesus Christus. Dis nie die kerk wat my verlos nie,
maar Jesus Christus, God verlos my. Daarom, hoe belangrik en
geweldig die kerk ook al mag wees as geskenk en instrument van
God, ek gaan nie afgodery daarmee pleeg nie. Die kerk is nie
saligmakend nie. God is saligmakend.

Kom ons kyk dan na wat ons volgens die Skrif oor die kerk bely.

Ek verkondig vir julle: die wonder van die enige algemene
Christelike kerk

  1. die eienskappe van die kerk
  2. die omskrywing van die kerk

Ons glo en bly ’n enige katolieke of algemene kerk. Die
eerste teks waarna die oorspronklike versie van die artikel
verwys is Gen 22:18. Daar lees ons dat die Here vir Abraham sê:
“En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën
word, omdat jy na my stem geluister het.” God maak aan
Abraham sy goddelike plan bekend. God het Abram uit Ur van die
Chaldeërs na Kanaan gebring met die oog op sy groot
verlossingsplan. Dit sou uiteindelik lei na die koms van Christus.
Die evangelie van Christus sou vervolgens aan die volke verkondig
word. In Christus, die nageslag van Abraham, sou dan God se seën
na al die nasies van die aarde uitgaan. So kry jy dan die enige
algemene Christelike kerk. ’n Werk van God. Gebind aan
Christus. ’n Vervulling van God se belofte aan Abraham. Hou
dit steeds in gedagte wanneer jy verder lees wat ons belydenis
oor die kerk sê.

Dis waar dat God daarby mense inskakel. Dink aan die
sendingsopdrag van Mt 28: “Gaan dan heen, maak dissipels van
al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die
Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat
Ek julle beveel het.” Dit bly egter ’n goddelike werk.
Hy vergader en bewaar vir homself ’n kerk.

Ja, ’n enige kerk. Dit bring ons by die eerste eienskap
wat van die kerk genoem word, naamlik sy eenheid.

Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament vir kerk gebruik
word, ekklesia, word beide in die enkelvoud en in die meervoud
gebruik. Dit kan die selfstandige plaaslike kerk aandui en die
wêreld-wye kerk. Dink vir die meervoud aan die briewe aan die
sewe gemeentes in Klein-Asië wat Joh op Patmos vir hulle moet
stuur. Vir die enkelvoud kan jy veral dink aan Christus se woorde
aan Petrus in Mt 16: Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en
die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Die Bybel
omskryf nie presies hoe die verhouding tussen die plaaslike
gemeentes en die algemene kerk is nie. Blykens die opskrifte van
die 2 briewe aan die Korinthiërs, wys daarop dat die plaaslike
gemeente wel ’n sterke band het met almal wat die Naam van
onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep en met al die
heiliges wat in die hele Achaja is. Ons kan stel dat die algemene
kerk hom wys in die plaaslike gemeentes. Daardie plaaslike
gemeentes is die universele kerk in daardie spesifieke plekke. Jy
sou dit kan vergelyk met die Suid Afrikaanse leër. Dis een leër,
maak nie saak waar die leër gestasioneer is nie. So kan jy die
een Suid Afrikaanse leër ontmoet in Pretoria, in die Kongo, in
Burundi ens. Ja, so ontmoet jy en herken jy die enige algemene
kerk op allerlei plekke in hierdie wêreld.

Ons belydenis benadruk volgens die Skrifte die eenheid van die
kerk. Daar is nie twee of drie kerke nie. Daar is een kerk van
Christus. Jesus self het gesê: en dit sal wees een kudde, een
herder (Joh 10). En Paulus skryf: dit is een liggaam en een Gees,
soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here,
een geloof, een doop, een God en Vader van almal (Ef 4). Moenie
jou laat verwar deur die verdeeldheid wat jy vandag sien en
ervaar nie. Die kerk van die Reformasie het homself ook nie laat
verwar deur die bestaan van die groot Rooms-Katolieke Kerk en
deur die bestaan van allerlei sektes, wat hulle ten onregte die
naam kerk toegeëien het, nie. Die Kerk het gewoon die Skrifte
wil naspreek en daarom die eenheid van die kerk bely.

Die kerk se eenheid rus op die eenheid van die ware geloof.
Gewerk deur die Gees van God. In antwoord op Christus se
hoëpriesterlike gebed van Joh 17. Eenheid en waarheid gaan saam.
Wanneer Christus in Joh 17 bid vir die eenheid van sy dissipels
dan vra Hy die Vader: “Heilige Vader, bewaar in u Naam die
wat U My gegee het” en “Heilig hulle in u waarheid; u
woord is die waarheid.” Daardie eenheid word dus bereik deur
God se bewaring in Christus se Naam en waarheid. So is dit ook
met die gelowiges wat deur die woord van die apostels in Christus
sal gaan glo. Christus bid in wese dat God al die gelowiges in
Christus en in die waarheid sal bewaar. Sodat almal een mag wees.
Eenheid en waarheid gaan dus saam.

Van die een kerk word gesê dat dit gebou is op die fondament
van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die
hoeksteen is (Ef 2:20). Beide die apostels en die profete het van
die Christus getuig. Daarom word Christus self ook elders die
fondament van die kerk genoem (1 Kor 3:11). Alles saamgevoeg kan
jy sê dat die fondament van die kerk bestaan in Christus soos Hy
in die voltooide Skrifte bekendgemaak is. Dit is die fondament
van die algemene kerk. Daarom praat ons in ons belydenisse ook
van die Christelike kerk en van die apostoliese kerk. Dit wys op
die eenheid in Christus en in die waarheid.

Broers en susters, nou verwant aan die eienskap van die
eenheid is daar ook die eienskap katoliek of algemeen. Omdat die
Rooms-Katolieke kerk die naam katoliek gekaap het, het die
belydenis die verklaring algemeen daaraan toegevoeg. Ons
voorouers wou egter die naam katoliek bewaar. Die kerk van die
Reformasie was mos ’n wettige voortsetting van die ou
katolieke kerk wat vanaf Pinkster ontstaan het? Oorspronklik was
die woord katoliek of algemeen ’n geografiese aanduiding.
Dit dui daarop dat die kerk oor die hele wêreld versprei is. Dis
nie gebind aan ’n sekere plek of volk nie, maar dit bestaan
uit alle volke en tale. Waarlik katoliek. ’n Vervulling van
God se belofte aan Abraham: “In jou nageslag sal al die
nasies van die aarde geseën word.”

Hierdie werklikheid sorg voortdurend vir blye verrassings.
Vanweë die katolisiteit van die kerk kan ’n mens verwag dat
jy voortdurend God se werk onder ander volke, tale en kulture sal
ontdek. God gaan met al die volke, rasse en tale ’n eie pad.
Neem dan die katolisiteit van die kerk as jou uitgangspunt,
wanneer jy in hierdie land en wêreld van God rondkyk. Dan sal
daar ongetwyfeld baie blye herkenning wees, in verwondering oor
God se werk van bewaring en vergadering in die waarheid. Dit sal
ons ook beskeie maak. Die vraag van Paulus bly dan relevant:
“Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het die
tot julle alleen gekom?” (1 Kor 14:36).

Gemeente, die woord katoliek is later nie net as ’n
geografiese aanduiding gebruik nie, maar ook as ’n
aanduiding van tyd en geloof. Die katolieke kerk is so die kerk
van alle tye, van die begin van die wêreld tot die einde toe.
Die katolieke kerk is so ook die kerk wat die katolieke geloof of
waarheid vashou. Die kerk wat stry vir die geloof wat eenmaal aan
die heiliges oorgelewer is. Hierdie katolisiteit sal ons verhoed
om ander kerke aan ons eie kerklike tradisies en praktyke te meet.
’n Mens kan nie verwag dat ander ware gelowiges en kerke
presies soos ons sal dink en wees nie. Hulle het mos ’n
ander historiese en kulturele agtergrond. Die belangrikste vraag
is: Sien jy daar onder hulle die vervulling van God se belofte
aan Abraham? Sien jy daar die vervulling van Christus se bede,
naamlik die bewaring in Christus en in die waarheid? Die belofte
betreffende alle nasies van die aarde impliseer historiese en
kulturele variasies. Daarom kan ons nie verwag dat die kerke van
die verskillende lande en nasies presies dieselfde gaan wees nie.
Binne die een ware kerk wat Christus oor die hele wêreld
vergader, is daar ’n gesonde veelvormigheid.

Broers en susters, die wete dat die kerk katoliek is, bemoedig
ons in die stryd. Ons staan nie alleen nie. Ons is deel van die
groot skare wat God oor die hele wêreld vergader van die begin
van die wêreld tot die einde toe.

Gemeente, ons het nou uitvoerig stilgestaan by die twee
eienskappe van die kerk wat ons belydenis noem, naamlik sy
eenheid en katolisiteit. Dis ’n baie belangrike uitgangspunt
vir ons besinning oor die kerk. Laat ons daarin die volgorde van
ons belydenis respekteer. Die belydenis begin nie met art 29 oor
die kenmerke van die ware en valse kerk nie, maar met art 27 oor
die eenheid en katolisiteit van die kerk. Ons begin met die kerk
as gawe en werk van God. Dit kan ons daarvoor bewaar dat ons
vanuit ons belewing van die ware kerk groot dele van God se kerk
sou misken of verag en so die liggaam van Christus sou verskeur.
As jy uitgaan van God se ekumeniese belofte aan Abraham dan kyk
jy anders na wat God buite jou plaaslike gemeente besig is om te
doen. Jy aanbid dan God in sy werk van kerkvergadering. Jy besef
mos die wonder van die algemene Christelike kerk.

Geliefdes, ons wil nou kortliks kyk na die omskrywing van die
kerk volgens ons belydenis. Dit kerk word omskryf as
“’n heilige vergadering van almal wat waarlik in
Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus
verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die
Heilige Gees.” Die kerk is dus ’n vergadering van die
ware gelowiges, ware Christene wat geniet van die vergewing van
sondes en van die vernuwing en bewaring deur die Gees.

Ons wil nou veral let op die woordjie vergadering. Dis
opvallend. Is ons nie besig met die algemene Christelike kerk nie,
wat oor die hele wêreld versprei is? Kan so ’n wêreld kerk
wel ’n vergadering genoem word? Die Griekse woord wat in die
Nuwe Testament vir kerk gebruik word, ekklesia, dui op ’n
vergadering, ewenas die OT iese woord qahal. Die woord ekklesia
is bv gebruik vir ’n vergadering van Griekse burgers. Dat
hierdie woord vir die kerk gebruik is, wys daarop dat die kerk
gesien is as ’n vergadering van mense. Hierdie mense vorm
’n eenheid. Mense wat saamdrom by ’n stasie om vir
’n trein te wag vorm nie ’n vergadering nie. Ook nie
mense wat saamgepak sit en kyk na ’n krieket wedstryd nie.
Die kerk is baie meer as net ’n klomp mense bymekaar. Dit
word duidelik deur die beeld van die kudde met die herder (Joh 10).

Tog is daar iets spesiaals aan hierdie vergadering. Want
daarmee word in eerste instansie nie die kerk bedoel wat op
’n sekere plek staan en waar alle gelowiges elke Sondag
bymekaar kom nie. Dit gaan hier oor die kerk wat “oor die
hele wêreld versprei en verstrooi” is. Die gevolg hiervan
is dat baie mense mekaar nie ken nie, oa vanweë die afstande en
die ras en taal-verskille. Selfs in ons eie land kan gevra word:
wat weet ons feitelik van Christus se kerk onder al die
bevolkingsgroepe en in al die dele van ons land? Soms moet mense
in skuilplekke vergader. Daarom weet niemand eers van hulle
bestaan nie, soos wat Elia nie eers geweet het dat daar nog 7000
gelowiges was nie. Hierdie kerk is oor die hele wêreld versprei
en vergader in die openbaar en in die geheim.

Teen hierdie agtergrond is dit opvallend dat hierdie kerk as
’n vergadering van alle gelowiges beskryf word. Dit is
’n kudde met Christus as Herder, en ’n liggaam waarvan
Hy die Hoof is. Al die gemeentes van Christus waarvan baie mekaar
nie ken of sien nie is met hart en wil en deur die krag van die
geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig. So is ons
verenig met gemeentes van Christus wat ons nie ken of sien nie.
Dit wys dat die eenheid waarvan ons belydenis praat nie in eerste
instansie ’n organisatoriese eenheid is nie. Dis ’n
eenheid in die geloof deur die Gees gewerk. Dit het natuurlik ook
gevolge vir ons soek en verlange na groter eenheid. As jy die
eenheid in Christus herken dan wil jy ook aan die eenheid vorm
gee.

Maar, gemeente, is die katolieke kerk nie die optelsom van
alle gelowiges nie, sodat elke gelowige juis deur sy geloof lid
van die katolieke kerk is? Daar is baie mense wat beweer dat dit
glad nie belangrik is aan watter kerk of sekte jy behoort nie.
Hulle redeneer: as jy ’n ware gelowige is, dan het jy
’n band met Christus, en is jy lid van Christus se kudde,
die katolieke kerk. So sou die kerk dan al die gelowiges saam
wees. ’n Onsigbare kerk. Maar hier word misken dat die kerk
’n vergadering is. Christus vergader plaaslik sy kudde.
Hierdie vergadering van die katolieke kerk word in elke plek
gevind waar getrou in Christus se naam vergader word. As jy aan
hierdie katolieke kerk of vergadering wil behoort, moet jy
jouself by die kerk in jou omgewing aansluit. Want net daar kom
die kudde van Christus binne jou gesigsveld en is dit vir jou
bereikbaar. Daar wil Christus jou hê. Want daar vergader,
beskerm en onderhou Christus sy skape deur woord en sakramente,
baie konkreet en sigbaar. Daarom wil ons ook nie praat van
’n onsigbare kerk nie. Hoewel ons die wêreld wye kerk nie
kan oorsien nie, is dit in sy plaaslike vergaderings terdeë
sigbaar.

Gemeente, besef tog die wonder van die algemene Christelike
kerk. Prys God daarvoor. Waar sien jy dan die katolieke kerk? In
elke getroue plaaslike gemeente wat Christus in die eenheid van
die geloof vergader. Na die skrif praat ons in die enkelvoud en
in die meervoud. Daar is baie plaaslike kerke en tog een kerk.
Daar kan selfs deur die besondere pad wat God met ’n sekere
groep mense loop of deur God se werk van reformasie vir ’n
tyd meer as een plaaslike ware kerk wees. Wanneer jy na die kerk
gaan, gaan jy na die katolieke kerk. Daar is Christus en daar
woon sy Gees. Daar is jy verbind aan die gelowiges van alle
plekke en tye. Jy is mos lid van die enige algemene Christelike
kerk. Laat ons God daarvoor dank en prys. In verwondering. En
laat ons daarna strewe om steeds meer en meer vorm te gee aan die
eenheid wat God bewerk het, deur sy Gees, in antwoord op sy
belofte aan Abraham en as verhoring van Christus se
hoëpriesterlike gebed.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)