Jesus Christus is die Seun van God en so ook self God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-10-09
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 10
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 10

Ds C Kleyn - Sondag 9 Oktober 2005

Lees: Matthéus 16:13-23; Johannes 5:16-27;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 10.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 2:4,6; SB
8:1,2,5; Ps 24:4,5.

Tema: Jesus Christus is die Seun van God en so ook
self God.

  1. Wie sê die mense is Jesus?
  2. Wie sê julle is Jesus?
  3. Waarom is dit so belangrik?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

“Maar julle, wie sê julle is Ek?” ’n
Indringende en persoonlike vraag van Jesus aan sy dissipels.
’n Beslissende vraag wat die hart van die evangelie raak.
“Wie sê julle is Ek?” Christus stel hierdie vraag
nadat hy eers gevra het: “Wie sê die mense dat Ek die Seun
van die mens is?” Deur die eeue heen het mense nagedink oor
die persoon van Christus. Tot vandag toe bly Jesus Christus die
aandag van mense trek. Wie het nie van Jesus Christus gehoor nie?
En wie het geen idee oor Hom gevorm nie? Ook onder die moderne,
liberale teoloë bly die persoon van Jesus mense boei. Hulle is
ywerig op soek na die historiese Jesus.

Broeders en susters, die antwoord wat julle, ek en elke mens
op Christus se vraag gee is van beslissende betekenis. Ja, dis
selfs ’n kwessie van lewe of dood, redding of veroordeling.
Daarom is dit goed dat ons ons vanoggend hieroor besin.

Ek verkondig vir julle: Jesus Christus is die Seun van God en
so ook self God.

  1. Wie sê die mense is Jesus?
  2. Wie sê julle is Jesus?
  3. Waarom is dit so belangrik?

Om skerp in beeld te kry wie Jesus Christus vir ons is, is dit
nuttig om eers te kyk na wat ander mense van Hom sê. So het
Jesus ook sy dissipels aan die dink gesit met die vraag:
“Wie sê die mense dat Ek is?” So het Jesus sy
dissipels voorberei op hul persoonlike belydenis. Deur eers te
bepaal wat ander dink, word jy self gedwing om dieper daaroor na
te dink.

In antwoord op Christus se vraag, noem die dissipels die
oordeel van hulle wat nog positief oor Jesus is. Hulle sien Jesus
as ’n profeet van God: Johannes die Doper, Elia, Jeremia of
een van die profete. ’n Teleurstellende antwoord vir die
Here Jesus. Waarom? Omdat hulle Hom net as ’n voorloper van
die beloofde Messias sien en nie as die Messias self nie. Hulle
verwag iets meer van die Messias. Die godsdienstige Jode verwag
dat die Messias hulle bv politieke vryheid en selfstandigheid sal
gee. Hy sal hulle bevry van die Romeinse onderdrukkers. Hy sal
hul aardse mag en invloed herstel. Maar dis nie wat Jesus hulle
gee nie. Daarom is hulle nie bereid om Jesus as die messias te
erken nie. Wel, so dink dan die Jode oor Jesus, dws die bestes
onder hulle. Is dit nie teleurstellend nie?

Wat is veral opvallend in die antwoord van die Jode? Hulle
sien Jesus wel as ’n groot profeet, as ’n besondere
godsdienstige man, maar nie as God se Seun nie. Hy is net ’n
mens, nie meer as mens nie. Deur die eeue heen het mense
vergelykbare antwoorde gegee. Wat dit betref is daar niks nuuts
onder die son nie. Arius uit die vroeg Christelike kerk het
beweer dat Jesus voor die wêreld as ’n volmaakte skepsel
deur God die Vader geskep is. Daardeur het die Seun wel die
vernaamste van alle skepsele geword, die hoogste skepsel, maar
nietemin skepsel gebly. Aan die stryd teen Arius het ons die
bekende Geloofsbelydenis van Nicea te danke. .Die Jehovasgetuies
is ware volgelinge van Arius.

In die laaste eeue het die liberale teologie allerlei beelde
van Jesus geskep. Die uitgangspunt is telkens dat Jesus net
’n mens is, soos enige ander mensekind, ’n kind van
Josef en Maria. Hy is geëer as ’n besonder goeie man wat
homself met die nood van die mens vereenselwig het. ’n Man
vol van liefde en begrip, van sagmoedigheid en selfopoffering,
selfs tot in die dood. Jesus is gesien as ’n weldoener vir
armes en onderdruktes. Iemand wat met sy lewe geboet het vir sy
liefde vir sy volk en vir alle mense. Jesus is ook beskou as die
groot Revolusionêr, die Bevryder. Daarom het selfs Marxiste en
die verskillende bevrydingsbewegings in Afrika en Suid Amerika
hom toegeëien in hul stryd. Jesus sou ook die groot sosiale
hervormer gewees het, wat gedurf het om teen die gevestigde orde
op te staan ens ens.

So is daar baie Jesus beelde. En dit gaan vandag nog aan.
Mense bly op soek na die sogenaamde historiese Jesus. In hul
soektog gee die moderne teoloë graag voor dat hulle die
wetenskap aan hul kant het. Maar hoe wetenskaplik is dit om die
historiese boeke waarin die Here Jesus juis aan ons bekendgemaak
word, as onbetroubaar aan die kant te skuif en dan ’n
subjektiewe seleksie daaruit te maak om so ’n eie beeld van
Jesus te konstrueer? So kan ’n mens enige beeld van Jesus
skep. So kry ’n mens ook baie verskillende en selfs
teenstrydige beelde van Jesus. Dis wat gebeur as jy jou nie aan
God se eie Woord wil onderwerp nie.

Maar nou julle, wie sê julle is Ek? Dis die tweede van die
preek.

Teenoor die gedagte dat Jesus net ’n mens, ’n
skepsel is, hoe besonder ook al, kry Jesus van sy dissipels die
antwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
’n Pragtige antwoord! Vir die eerste keer hoor Hy die volle
belydenis van Hom as die Messias en die Seun van God. Christus is
mos dieselfde as Messias. Die een is net Grieks en die ander
Hebreeus. Die dissipels sien Jesus as die vervulling van die ryke
messiaanse beloftes. Hulle herken in Jesus die lewende God.
“U is die Seun van die lewende God.” Petrus bely dat Hy
die Seun is, die enigste, unieke Seun van God. Daarmee wys hy op
die besondere verhouding wat Jesus met God het. Hy alleen is die
natuurlike Seun van God, ja van die lewende God. In die Bybel
staan die lewende God teenoor die dooie afgode. Wat wil dit sê?
Nie net dat God bestaan en die afgode nie bestaan nie. Dit sê
meer, naamlik dat God aktief is. Die gode kan niks nie en doen
niks nie. Hulle is dood. Maar die Here God is almagtig en aktief
aanwesig tot verlossing van sy volk. Die Egiptenare, die
Kanaäniete, die Filistyne, die Assiriërs ens het dit tot hul
skrik ervaar.

Nou herken die dissipels die lewende God in Jesus. Hulle sien
hoe Hy blindes weer die gesig gee en dowes weer laat hoor.
Kreupeles loop weer, dooies word opgewek en aan armes word die
evangelie verkondig. Jesus demonstreer die heerlikheid en krag
van die Here God tot redding van sy volk. In Hom is die lewende
God sigbaar aanwesig.

Gemeente, die Jode het verstaan dat die titel ”Seun van
God” ’n titel was vir een wat ook self God was. Ons
sien dit bv in Joh 5. Daar praat Jesus uitvoerig oor sy unieke
verhouding met God die Vader. Wanneer Jesus God sy Vader noem,
dan is die Jode verontwaardig. Waarom? O.a. omdat Jesus God sy
eie Vader genoem het nie. Let op die woordjie eie Vader. God is
sy Vader op ’n geheel unieke manier. Die Jode het Jesus so
verstaan. En hulle is verontwaardig dat Hy Homself op hierdie
manier met God gelykgestel het (vers 18b). Christus bevestig dat
hulle hom goed verstaan het, wanneer hy daarna sy gelykheid met
die Vader noem. Bv vers 19: “Want alles wat die Vader doen,
dit doen die Seun ook net so.” Vers 21: “Want soos die
Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend
wie Hy wil.” Vers 23: “sodat almal die Seun kan eer net
soos hulle die Vader eer.” Vers 26: “Want soos die
Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om
lewe in Homself te hê.” Die Here Jesus benadruk in daardie
gedeelte dat hy die Seun van God die Vader is, maar ook gelyk aan
God die Vader. Die Jode het Hom goed verstaan toe hulle die titel
“Seun van God” verklaar het as ’n gelykstelling
met God.

By Christus se verhoor sien ons dieselfde. Wanneer die Here
Jesus homself die Seun van God noem, dan wys dit nie net op
’n verhouding tussen Hom en God soos ons ook kinders van God
genoem word nie. Dan is dit ook nie net ’n eretitel nie.
Wanneer Jesus die titel vir homself gebruik dan wys dit daarop
dat Hy ook werklik God is. Dit het die Jode onmiddellik so
verstaan. In die verhoor voor die Joodse Raad vra die
hoëpriester vir Jesus: “Ek besweer U by die lewende God dat
U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God is?” Jesus
beaam dit. In reaksie daarop verskeur die hoëpriester sy klere
en sê: “Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog
getuies nodig? Kyk nou het julle sy godslastering gehoor” (Mt
26:65). Hoekom reageer die hoëpriester so? Omdat hy baie goed
verstaan dat die titel “Seun van God” ’n goddelike
titel is. Natuurlik was dit geen godslastering nie, maar die
waarheid. Die hoëpriester en die Joodse Raad wil dit egter nie
glo nie.

Die dissipels het dit egter wel geglo. Daarom die belydenis:
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Hoe
het hulle daartoe gekom om Christus as Seun van God en so ook as
God te aanvaar? Jesus noem dit vir Petrus: “Salig is jy,
Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou
geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.”
“Vlees en bloed” wys op die mens soos hy op aarde uit
homself is, die sterflike mens met al sy sonde en gebreke. Uit
jouself kan jy nie die Seun van God na waarheid ken en bely nie.
Geen mens kan via sy eie menslike wetenskap of logika tot die
ware kennis van Christus kom nie. Vergeet maar van die sogenaamde
wetenskaplike ondersoek na die historiese Jesus. Menslike
vermoëns skiet tekort. Ter onderstreping van die natuurlike
onmag om God te ken, noem Jesus Petrus, Simon Bar-Jona. Dis sy
naam van sy geboorte af en volgens sy natuurlike afstamming.
Daardeur het hy nie sover gekom nie.

Geliefdes, om in Jesus die Seun van die lewende God te herken,
het jy openbaring van God nodig. Wat vir die natuurlike oog en
verstand verborge is, moet onthul word. Menslike oë en harte
moet vir die lig van die wêreld oopgemaak word. Wel, dit het God
die hemelse Vader, gedoen. Het Christus nie reeds gesê:
“Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader nie? Alleen
hulle aan wie die Vader dit openbaar, sal dit sien en bely.
Goddelike openbaring is nodig. En Petrus mog die openbaring van
Bo ontvang in die getuienis van Christus oor Homself. Die Vader
het sy hart daarvoor oopgemaak. Daarom word hy gelukkig geprys.
Die Vader het hom tot so ’n ryke belydenis gebring.

En jy broer, suster, seun, dogter, mag ek jou ook gelukkig
prys? Glo jy ook dat Jesus Christus die Seun van God is en so ook
self God is? Natuurlike menslike vermoëns sal geen mens daartoe
bring nie. God moes daartoe neerdaal. En Hy het dit gedoen. Hy
het my natuurlike onmag en onwil deurbreek. Hy het my die geheim
van sy Seun leer verstaan. As jy jou geloof in Jesus Christus
bely, prys dan die Here vir sy werk in jou. Hy het ingegryp om
die geloof te bewerk. Hy wek ook die begeerte om die geloof te
bely.

Dit sluit natuurlik nie die gebruik van die middele uit nie.
God die Vader het die woorde en dade van Jesus gebruik om Petrus
tot die oortuiging te bring. So gebruik die Vader vandag die
voltooide Bybel, sy selfopenbaring. So gebruik Hy die Christelike
opvoeding en onderrig volgens die Skrifte. So gebruik Hy die
prediking van daardie Woord. So gebruik Hy die lees, bestudering
en oordenking van die Skrifte. Hy vra en bewerk gelowige
aanvaarding van die Skrifte, ook van die historiese getuienis oor
die Christus. In sy wysheid wil God daardie middele gebruik om
jou geloof te werk en te versterk.

Geliefdes, die Skrif is baie duidelik oor die feit dat
Christus die Seun van God is en so ook self God. Op verskeie
plekke word die Here Christus ook uitdruklik God genoem. Ons noem
enkele voorbeelde. In Jes 40:3 lees ons ’n profesie van Joh
die Doper as voorloper van ons Here Jesus met die woorde:
“’n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg
van die HERE; maak gelyk in die wildernis ’n grootpad vir
onse God.” Let op die verwysing na die HERE met hoofletters
en na onse God. Christus blyk die Here te wees en God. In Joh 20:28
lees ons dat Thomas vir die Here Jesus sê: “My Here en my
God.” Christus korrigeer Thomas nie, maar aanvaar hierdie
aanbidding en sê: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy
geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”

Christus word in die Skrifte ook herhaaldelik Here genoem. Die
eerste Christene het dit duidelik as ’n goddelike titel
verstaan. Daarmee stel hulle Christus gelyk aan die God van die
Ou Testament, wat eweneens Here genoem word. Sy woorde asook sy
dade getuig van ’n unieke gesag, wat aan geen gewone mens
toegeskryf kan word nie. Hy beklee ’n posisie wat geen mens
ooit kan bereik nie, naamlik die van Hoof van die skepping en van
sy kerk.

Gemeente, ek weet dat Christus God is uit die goddelike name
wat Hy ontvang. Ook uit sy goddelike eienskappe. Hy is ewig.
Jesaja vermeld dat die HERE God sê: “Ek is die Eerste en Ek
is die laaste” (Jes 44:6). In Openb 22:13 sê die Here Jesus
van homself: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die
einde, die eerste en die laaste.” Teenoor die Jode wat nie
kan verstaan hoe Jesus Abraham kon gesien het, sê Jesus:
“Voordat Abraham was, is Ek” (Joh 8:58).

God is alom teenwoordig. Maar die Here Jesus gee ons die
bemoedigende belofte: “Ek is met julle alle dae tot aan die
voleinding van die wêreld” (Mt 28:20). God is alwetend.
Christus blyk ook alwetend te wees. Vir Natanael sê Jesus:
“Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom
was, het Ek jou gesien” (Joh 1:49). Sonder dat Jesus die
Samaritaanse vrou eerder ontmoet het, lig Hy haar doopseel. Hy
vertel haar van die vyf mans wat sy gehad het en dat die een wat
sy nou het, nie haar man is nie (Joh 4:18).

Christus se godheid blyk ook uit sy goddelike werke. God het
die wêreld geskape. Tog lees ons van Christus: “Alle dinge
is deur Hom ontstaan en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat
ontstaan het nie” (Joh 1:3). Wie kan sondes vergewe behalwe
God? Christus sê egter vir die verlamde man in Kapernaüm:
“Seun, jou sondes is jou vergewe” (Mk 2:5). Wie behalwe
God kan dooies opwek en die wêreld oordeel? Tog lees ons oor
Christus: “daar kom ’n uur wanneer almal wat in die
grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen
het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het,
tot die opstanding van die veroordeling” (Joh 5:28,29). Wie
behalwe God kan die ewige lewe gee? Tog sê Christus oor sy skape
wat na sy stem luister: “Ek gee hulle die ewige lewe” (Joh
10:28).

Ten slotte sien ons dat Christus ook goddelike eer toekom. Die
Here Jesus sê uitdruklik vir die duiwel dat jy die Here God moet
aanbid en Hom alleen dien (Mt 4:10). Tog huiwer Hy vir geen
oomblik nie om ook te sê: “Glo in God; glo ook in My”
(Joh 14:1) en “sodat almal die Seun kan eer net soos hulle
die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat
Hom gestuur het nie” (Joh 5:23). In Hebr 1:6 word die engele
opgeroep om die Seun te aanbid. Dit doen hulle dan ook in Openb 5:12.
Daar hoor ons ’n tallose menigte engele sing: “Die Lam
wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en
wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” Elke
skepsel in hemel en op aarde val dan daarby in met die woorde:
“Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom toe die lof
en die eer en die heerlikheid en die krag tot alle ewigheid.”

Broers en susters, wie onbevange die Skrifte lees, kan nie
anders as om Christus te aanbid as die Seun van God wat ook self
God is nie. Hy word geken aan sy goddelike name, sy goddelike
eienskappe, sy goddelike werke en sy goddelike eer. Daarvan is
die Bybel vol. Ons het net enkele voorbeelde genoem. Christus is
nie net ’n mens nie, hoe uitsonderlik ook al. Hy is God.

Maar waarom is hierdie belydenis so belangrik?

Gemeente, as Christus nie God is nie, kom die hele Bybel op
los skroewe te staan. God het Homself juis in sy Seun geopenbaar.
Maar as Christus nie God is nie, dan kry ons ons kennis van God
van ’n skepsel. En wie waarborg dat hierdie skepsel homself
nie misgis wanneer hy ons oor God vertel nie? So kan ons God nie
werklik ken nie. Terwyl om God te ken juis die ewige lewe genoem
word.

Geliefdes, as Christus nie self God is nie, dan is die
Christelike geloof in wese niks besonders nie. Dan staan dit in
feite op dieselfde vlak as enige ander sogenaamde godsdiens. In
daardie geval leer die Christelike geloof ook dat ons deur
’n skepsel verlos word. Maar dit is juis geen verlossing nie.
Geen skepsel kan red nie. Geen skepsel, wat net skepsel is, kan
die las van die toorn van God dra nie. ’n Gewoon skepsel sou
ewig daaronder beswyk. En iemand wat ewig beswyk kan niks vir my
doen nie, my die geregtigheid en die lewe nie teruggee nie. Met
ander woorde: dan is daar geen verlossing nie.

Hier het jy die fundamentele verskil tussen die Christelike
geloof en alle ander godsdienste. Kom verlossing van benede uit
of van bo? Is dit afhanklik van die mens wat na God reik of van
God wat na ons reik? In alle ander godsdienste moet die mens na
God reik en God se guns op een of ander manier probeer wen. Die
Christelike geloof gaan egter daaroor dat God na ons toekom. Hy
het sy Seun vir ons gestuur.

Om Christus as God te ken laat ons verwonderd en dankbaar wees.
My Redder is nie ’n swak en sondig mensekind nie. Hy is niks
minder as God nie. Die een wat vir my sondes aan die kruis
gesterf het is niks minder as God die Seun nie. Dis onbegryplik.
Kom, laat ons Hom aanbid en dien.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)