Hou jou oog op Christus gerig.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-11-13
Text: 
Matthéüs 14
Preek Inhoud: 

Matthéus 14: 28-31

Ds C Kleyn - Sondag 13 November 2005
Nagmaal

Lees: Matthéus 14:22-36; Nagmaal: Fillipense
1:3-11; Fillipense 2:1-11; Fillipense 2:12-18.
Sing: Ps 81:1,2; Ps 81:11,12; Ps 138:1,4;
Nagmaal: Ps 116::7,10; Ps 111:1; Ps 111:2; Ps 111;4; Ps 111:5.

Tema: Hou jou oog op Christus gerig.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit het so mooi begin. Petrus het sy geloof in die Here Jesus
gewys. Petrus is saam met die ander dissipels in die skuit.
Terwyl hulle midde in die see is. is daar ’n harde teëwind
en word die skuit deur die golwe geteister. Hul situasie word
redelik desperaat. Skielik kom die Here Jesus aangeloop op die
water. Hulle skrik en glo dat dit ’n spook moet wees. Van
angs begin hulle hard skreeu. Dadelik stel Jesus hulle gerus:
“Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.” Dan wys
Petrus sy geloof in die Here. “Here as dit U is, beveel my
om op die water na U te kom.” Petrus sê feitelik: Here as
dit U is dan weet ek dat niks onmoontlik is nie. U wat self oor
die wilde golwe loop, kan deur u bevel ook my oor die water laat
loop. Beveel my dan om oor die water na U toe te kom. Petrus glo
in die Here, is sy mag, in sy Persoon. Nie net in teorie nie,
maar ook in praktyk. Hy klim sommer uit die skuit en begin oor
die water te loop na Jesus toe. Ondanks die wind en die golwe.
Hier wys Petrus wat geloof is. Jy vertrou jouself toe aan die
Here, aan sy almag en trou. Jy doen wat Hy sê, hoe onmoontlik
dit ook lyk. Jy ken Hom as jou Here, as jou Meester en as die
Heer van die skepping, wat mag het oor wind en golwe. Jy ken Hom
as diegene wat gekom het om sondaars soos ek en jy te red.

Dit het dus so mooi begin. Soos jy in jou lewe dikwels ’n
mooi begin kan maak. Jy bely jou geloof openlik voor God en die
gemeente. Jy glo werklik in die Here. Jy vertrou jouself aan Hom
toe. Hy sal sorg. Hy sal jou vashou. So kan jy ook op
verskillende oomblikke van jou lewe in daardie geloof bevestig
word. Byvoorbeeld tydens die Sondagse eredienste. Jy ervaar
opnuut hoe sterk en getrou die Here is. Niks is vir Hom
onmoontlik nie. Daarom stap jy die kerk uit met nuwe moed en
kragte, met pragtige voornemens. Jy sal in sy krag aan die werk
gaan, die uitdagings van die lewe trotseer. Jy sal jou nie deur
die sonde en gebrokenheid van die lewe, deur jou omstandighede
laat onderkry nie. Jy ken die Here en jy gaan met Hom die volle
lewe in.

Maar nou die vervolg. Ons lees: “Maar toe hy (Petrus) die
sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep
hy uit en sê: Here, red my!” Hoekom hierdie val? Die
omstandighede het nie verander nie. Die storm was daar reeds
voordat Christus verskyn het. Tog het Petrus op Christus se bevel
in die storm uit die skuit geklim en op die water begin stap.
Waarom skielik dan hierdie val? Christus verklaar dit vir ons. Hy
praat van kleingeloof. “Kleingelowige, waarom het jy
getwyfel?” Kleingeloof het hom laat twyfel. Hy het nie sterk
genoeg aan Christus vasgehou nie. Nie homself voldoende aan die
Here toevertrou nie. Nie op die Here bly let nie. Hy het sy
gerigtheid verander. Pleks dat hy hom blywend deur die Here, deur
sy bevel en mag, laat lei het, het hy homself deur die wind en
die golwe laat lei. Toe moes hy wel val. Soos ons telkens weer
val wanneer ons ons laat lei deur ons omstandighede, deur ons
frustrasies en moeites.

Let daarop dat twyfel jou nie onmiddellik tot ’n
ongelowige maak nie. Daar is blykbaar mense wat dink dat as jy
eenmaal ’n gelowige is, jy nooit deur twyfel gepla sal word
nie. Maar dis nie waar nie. Petrus is nog ’n gelowige. Die
Here Jesus sê nie vir hom: Petrus omdat jy twyfel, is jy geen
gelowige nie. Jesus noem hom ’n kleingelowige. As twyfel jou
weer beheers, dan wys jy dat jy ’n klein geloof het. Dis wat
met Petrus gebeur het. Sy geloof het nie heeltemal verdwyn nie,
maar omdat dit swak is, het twyfel hom aangegryp en het hy bang
geword. As jy Petrus in daardie stadium sekere vrae oor die
Persoon van Christus sou gestel het, dan sou hy ortodokse
antwoorde gegee het. Maar vir die oomblik het twyfel hom
oormeester. Moenie dit laat gebeur nie. Twyfel sal ons aanval
maar moenie toelaat dat dit jou beheers nie.

Hoe kan jy dit vermy? Deur ’n groot geloof. Deur jou deur
Christus te laat beheers. Deur jou op Christus te rig, na Hom te
kyk. Deur jouself heeltemal aan Hom en sy Woord, sy bevel en
belofte, toe te vertrou. Die geloof sê: Wat Hy begin het, sal Hy
voortsit. Die begin van sy werk in my was ’n wonderwerk. As
Hy so ’n wonderwerk kan begin dan kan Hy dit ook bly
voortsit. Soos Paulus skryf in Fillipense 1:6: “omdat ek
juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin
het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.”

Terwyl jy steeds na Jesus Christus kyk, sal jy nie deur twyfel
beheers word nie. Sonder Hom is ek hopeloos. Ek is volkome
afhanklik van hom. Sonder hom kan ek niks nie. Ek kan net my
twyfels oorwin deur voortdurend na Hom te kyk en nie na die
twyfels nie. ’n Gepaste antwoord op die twyfels is om na Hom
te kyk. Hoe meer ek Hom en sy heerlikheid ken, des te meer besef
ek hoe dwaas daardie twyfels is. Daarom, bly na Hom kyk. Leef
Christo-sentries. Die omstandighede kan baie moeilik en
frustrerend wees. Maar bekyk en benader dit vanuit Christus. Die
lewe is nie maklik nie, ook nie die omstandighede. Ons moet so te
sê golwe en wind trotseer. Maar elke dag weer wil Hy daar vir
jou wees en krag gee.

As gelowige het jy ook die belofte dat hy jou nie sal laat
sink nie. Petrus het in angs uitgeroep: Here, red my. En Christus
het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp. En toe hulle in die
skuit geklim het, het die wind gaan lê. Dank God vir hierdie
bemoediging. Hy sal jou nooit laat sink nie, omdat jy aan Hom
behoort. Jy kan faal, jy het moontlik die gevoel dat jy nou op
die punt staan om eers en vir altyd weg te sink. Tog sal dit met
jou as gelowige nie gebeur nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk
nie, hoor ons Christus sê (Joh 10:28). Terwyl Paulus skryf:
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of
owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte
of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde
van God wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Rom 8:38,39).
Nooit nie. Wanneer jy dink, jy is verlore, sal sy hand daar wees
en sy hand jou vashou. Roep uit die nood tot Hom. En Hy sal jou
hoor en jou optel.

Broers en susters, aan die Nagmaal hoop ons te kyk na Jesus
Christus. Daar aan die tafel staan Christus sentraal. Ons soek
ons heil buite onsself in Jesus Christus. Ons bely dat ons ons
lewe en toekoms in Hom vind. Laat die gerigtheid daar wees nie
net aan die tafel nie, maar ook wanneer jy die erediens verlaat,
by die huis, in die werkplek, midde in die daagliks lewe en stryd.
Wend jou blik nie van hom af nie. Staar jou nie blind op jou
omstandighede nie. Vertrou jouself in daardie omstandighede toe
aan Christus se almag en trou. Hy sal dit vir jou doen. Daarom,
glo in Hom en doen rustig wat Hy van jou vra. Ook al lyk dit
onmoontlik. Vir die Here en dus vir die geloof in Hom is immers
niks onmoontlik nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)