Wees gehoorsaam aan jou voorgangers – hulle is daar vir jou heil.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-11-20
Text: 
Hebreërs 13
Preek Inhoud: 

Hebreërs 13:17

Ds C Kleyn - Sondag 20 November 2005
Bevestiging van Ampsdraers

Lees: Hebreërs 13.
Sing: Ps 95:1,2; Ps 95:4,5; Ps 100:1,2 (na doop
van Renske Visser); Ps 23:1; Ps 23:2,3; Ps 134:4; Ps 80:10.

Tema: Wees gehoorsaam aan jou voorgangers – hulle
is daar vir jou heil.

  1. Waarom?
  2. Hoe?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Net nou hoop ons ses broers in die amp te bevestig. ’n
Ryke saak vir ons, die gemeente van Christus. Ook vir die
ampsdraers self is dit pragtig om in die besondere amp te mag
dien. Nie verniet sê Paulus in 1 Tim 3:1 “as iemand na
’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk.”

Daardie sorg vir die gemeente behoort ’n vreugde te wees,
kan baie bevrediging gee. Dit kan egter ook ’n las word.
Daarvoor waarsku die brief aan die Hebreërs. ’n Ampsdraer
moet sy werk met blydskap kan doen. Dit hang eerstens af van jou
eie houding as ampsdraer. Hoe sien jy jou roeping? Hoe diep is
jou verhouding met Hom wat jou roep? Hoe sien jy die lidmate wat
aan jou sorg toevertrou is? Selfbeproewing en selfverloëning bly
nodig.

Die vreugde in die amp hang ook van die gemeente af. Die
lidmate kan die vreugde verhinder, versmoor. Dan maak jy as
lidmaat daardie werk onnodig moeilik. Baie moeiliker as wat dit
reeds is. En wat nog erger is, dan staan jy jou eie heil in die
pad. Daarom die woorde van die teks: wees gehoorsaam aan jou
voorgangers – hulle is daar vir jou heil.

  1. Waarom?
  2. Hoe?

Die teks begin met die woorde: “Wees gehoorsaam aan julle
voorgangers en onderdanig.” Luister na hulle. Gee ag op hul
woorde. Los jou natuurlike weerstand en onderwerp jou. Doen wat
hulle sê.

U sal verstaan dat die voorganger in die teks veral wys op die
predikant en ouderlinge. Tog geld baie van wat van hulle gesê
word ook vir die diakens. Die diakens is ook in sekere sin leiers,
voorgangers wat waak ook die welstand van die lede. Ons kan dus
gerus aan ouderlinge en diakens dink.

Waarom moet julle aan die ampsdraers gehoorsaam wees? Hulle is
tog net gewone mense, met hul gawes en swakhede. Dit is baie
eenvoudig om hul tekortkomings op te som. Dit kan lei tot die
gedagte: die ouderling, die diaken kan sê wat hy wil, laat hom
maar eers na homself kyk. Moet ek aan daardie manne gehoorsaam
wees?

Ja, sê die Here nadruklik in ons teks. “Wees gehoorsaam
aan julle voorgangers en onderdanig.” Hoekom? Omdat die
broers so wys, so simpatiek of so bekwaam is? Omdat hulle
sienings met my sienings ooreenstem? Omdat hulle my bekoor? Nee,
dis nie wat die teks noem nie.

Die ampsdraers word voorgangers genoem. Hulle loop voorop.
Hulle wys die weg. Waarom moet ek dan aan hulle gehoorsaam wees?
Om hierdie rede, sê die Here: “want hulle waak vir julle
siele.” Wees gehoorsaam aan hulle vanweë hul taak as
wagters oor jul siele.

Die woord waak kan letterlik dui op wakker bly, dag en nag met
iets of iemand besig wees. Ampsdraers kan by tye inderdaad wakker
lê uit bekommernis oor die gemeente of sekere lidmate. Paulus
het ook baie slapelose nagte gehad (2 Kor 11:27). Die ampsdraer
wat nooit wakker lê, hoef egter nie bekommerd te wees nie. Hy
kan ook bes ’n goeie ampsdraer wees. Om te waak is meer as
om wakker te bly. Dit gaan hieroor dat jy waaksaam moet wees,
oplettend. Hou jou oë en ore oop. Let op die gevare. Waarsku die
mense daarteen. Laat hulle in die goeie rigting kyk.

Esegiël 33 vertel ons wat ’n wag moet doen. Daar sê die
Here vir Esegiël: “Ek het jou as wag oor die huis van
Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet
jy hulle van my kant waarsku” (vers 7). Dis ’n baie
verantwoordelike taak. Want die Here vervolg: “As Ek aan die
goddelose sê: o goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek
nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die
goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek
van jou hand eis” (vers 8). As wag moet Esegiël daarom vir
lewensgevare waarsku. Hy moet oor die lewens van God se volk waak
om hulle te beskerm en te red.

Kyk, dit is ook die taak van ampsdraers. Hulle hou wag oor
julle siele. Hulle is aan julle gegee om julle te bewaak en te
beskerm.

Maar wat word met jou siel bedoel? Dis nie ’n
afsonderlike deel van jou lewe nie. Jou siel verwys na jouself,
jou lewe voor die Here. Jou lewe soos dit vanuit die hart gedryf
word en in jou woord en wandel tot uitdrukking kom. Dis waaroor
die ampsdraers die wag hou: jou lewe voor die Here. Daarom het
die ampsdraers met elkeen se konkrete lewens-situasie te make.

Om oor die siele te waak is ’n groot taak. Daarvoor moet
jy oplet, jou oë en ore oophou. Daarvoor moet jy jou wyk goed
ken, in voeling bly met die lidmate wat aan jou sorg toevertrou
is. Daarvoor moet jy hulle besoek. In hul huise. Daar word mos
die lewens van God se kinders geleef, met sy hoogtes en dieptes,
vreugde en verdriet. Jy sal vrae moet stel. Vrae aangaande hul
lewens voor die Here. In die verlede is soms gevra: hoe gaan dit
met jou siel? Mense het dikwels nie geweet wat met so ’n
vraag te maak nie. ’n Ongemaklike stilte het gevolg. Maar
geliefdes, wanneer jy in die lig van ons teks daaroor nadink, is
so ’n vraag werklik so snaaks? Dit kom mos van hulle wat oor
jul siele wag moet hou? Solank as jy die vraag maar so verstaan:
hoe gaan dit met jou lewe voor die Here en met die Here? Daarom
sou die ampsdraer dit vandag waarskynlik ook anders formulier.
Hoe gaan dit met jou as kind van God en as lid van sy gemeente?
Om na jou siel te vra is dan tegelyk om te vra na jou daaglikse
lewe, jou werksituasie, jou gesinsomstandighede ens. Dis ’n
vraag na jou omgang met die Here. ’n Vraag oor jou blydskap
in die Here in al die konkrete situasies van die lewe.

Broer, suster, as niemand ooit na jou siel sou vra nie, dan
sou dit jou verskriklik eensaam laat. Dan sou jy altyd dit dinge
alleen moet hanteer, die stryd van die geloof alleen moet stry.
Wees daarom bly met die aandag van jul ampsdraer. Wees bly met
hul vrae, maak nie saak hoe lomp dit moontlik oorkom. Hulle wys
tenminste dat hulle belang in jou lewe stel. Hulle hou die wag
oor jou siel. Hulle gee om vir jou lewe met God. Hulle is besig
om jou geestelike gesondheid te bewaak. Gestel dat jou geestelike
lewe sou kwyn? Gestel dat jy in ’n krisissituasie van God af
sou wegbeweeg. Gestel dat Satan te sterk vir jou sou word en jy
in die sonde sou verstrik raak, weg van God weg. Gestel dat jy so
jou verderf tegemoet sou gaan. Wat ’n seën is dit dan
wanneer daardie ampsdraers jou wil ondersteun, bemoedig, troos,
wanneer hulle jou ernstig waarsku, teregwys, vermaan. Om jou lewe
te red. Wees dankbaar vir hul woorde, hoe onbeholpe dit soms
miskien geuit is. Onderwerp jou aan hulle. Gee ag op hul woorde.
Tot eer van God en jou eie heil.

Die ampsdraer doen sy werk nie as ’n stokperdjie nie. Hy
het nie homself as ’n wag oor die siele aangestel nie. Hy is
deur God tot die amp geroep. Dink net aan die eerste vraag by die
bevestiging: “Is u in u hart oortuig dat God self u deur sy
gemeente tot hierdie heilige diens geroep het?” God self
stel wagters aan. Hulle is aan hom rekenskap verskuldig. Hy is
hul opdraggewer, sender.

Waarom moet jy dan aan die ampsdraers gehoorsaam wees? Nie
vanweë hul persoon nie. Vanweë hul goddelike roeping. Want
hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee aan
hul goddelike sender. Vanweë hul werk in Christus se diens.

Daarom is dit nie ’n kwessie van buig of bars nie. Dit
sou ’n karikatuur van die amp wees. Die ampsdraer is ’n
dienaar van Christus. Hy is nie die Heer en Meester self nie. Ons
Heer en Meester is bo.

Ek moet aan die ampsdraer gehoorsaam wees omdat hy dienaar van
Christus is. Ook in sover hy dienaar van Christus is. Indien die
ampsdraer aan Christus ontrou is en met sy eie woorde kom, wat
met die woorde van sy sender in stryd is, dan mag ek hom nie
daarin volg nie. Pleks om die skape te lei is hy dan besig om
hulle te mislei. Daarom moet ek my nie aan hulle onderwerp in hul
ontrou nie. Maar wanneer hulle getrou Jesus Christus
verteenwoordig, dan onderwerp ek my feitelik nie aan mense nie
maar aan Jesus Christus self. Gehoorsaamheid word gevra omdat dit
nie ’n onderwerping is aan Jan, Piet en Klaas nie, maar aan
Christus self.

Gemeente, die probleem is dikwels dat ons dit nie meer
raaksien nie en dat ons maak asof die amp net ’n menslike
instelling is. Dan sien jy Jan daar voor jou staan, Jan met sy
eienaardighede, hy kan sê wat hy wil. Of jy sien Piet voor jou,
laat hom na homself kyk.

Geliefdes, wanneer jy so praat, dan het jy die sig op die amp
verloor. Dan ignoreer jy die goddelike roeping. Dan veronagsaam
jy die feit dat hierdie manne namens Christus na jou toekom.
Besef tog goed: wanneer jou ouderling of diaken voor jou deur
staan, dan staan Christus self daar, Christus, die herder van die
skape. Daardie ampsdraer is deur Christus gestuur, hy hou die wag
oor julle siele namens Christus. Daarom behoort jy hulle te
ontvang, tyd vir hulle te maak. Wanneer jy die getroue ampsdraer
ontvang, ontvang jy Christus.

So kom ons by die tweede gedagte: hoe jy jou voorgangers moet
gehoorsaam.

Die laaste gedeelte van die teks maak dit duidelik dat jy dit
vir die ampsdraers moeilik kan maak. Letterlik sê ons teks: Wees
gehoorsaam aan julle voorgangers sodat hulle hul werk met
blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle
nie nuttig nie. Ek moet daarom gehoorsaam wees sodat hulle hul
werk met blydskap kan doen. Dit is nuttig vir my. As ek dit vir
hulle moeilik maak, dan doen ek dit tot my eie skade. Dis immers
in elkeen se belang dat die ampsdraers goed funksioneer. Die
welsyn van ons lewe met God word daardeur geraak.

Daarom, broer en suster, doen alles in jou vermoë sodat die
ampsdraers hul werk met blydskap kan doen en nie sugtende nie.
Hoe kan jy dit doen?

Eerstens deur eenvoudig na hulle te luister, deur die woorde
wat hulle in Christus se naam spreek, te aanvaar. Die werk van
die ampsdraers is reeds moeilik genoeg. Hulle kan nie net die
mense besoek wat hulle graag besoek nie. Hulle kan nie oor die
dinge praat waaroor hulle sou verkies om te praat nie. Nee, hulle
moet elke lidmaat wat aan hul sorg toevertrou is, besoek en
aanspreek met die woorde van hul Sender. En die woord is nie na
die mens nie. Dit is ’n skerp tweesnydende swaard. Dis nie
maklik om die swaard in elke situasie te hanteer nie. Dis nie
maklik om te vertroos en te vermaan nie. Daar is ’n
natuurlike weerstand teen die woord. Daarom, laat die natuurlike
weerstand vaar. Wees oop en ontvanklik vir die woorde wat die
ampsdraers namens hul sender spreek. Onderwerp jouself.

Wat ’n verdriet is dit wanneer lidmate hulle bly verset,
wanneer die vrugte van geloof en bekering uitbly. Dan lyk dit
asof jy besig is om ’n verlore stryd te stry. Iets wat jou
kan ontmoedig. Jy kan dit wel honderd keer sê, maar dit het geen
effek nie. Hulle gaan rustig hul eie gang. Jy dring daarop aan om
volgens die Woord van God te lewe. Maar die lidmate steur hulle
nie daaraan nie. Hulle ignoreer jou met die woorde: dit is jou
opinie.

’n Ampsdraer ly daaronder wanneer jy as gemeentelid sy
waarskuwings, sy skriftuurlike woorde, ignoreer. Daardeur speel
jy in die duiwel se kaarte. Dit kan die ampsdraer moeg maak,
uitput. Dit sou skadelik wees vir jou en ander.

Calvyn se kommentaar is raak. Hy sê: as ons die redding van
ons siele hoog waardeer, dan sal ons ook hulle wat waak oor die
redding van ons siele hooghou. Want min ampsdraers sal hul mond
oophou, wanneer die ore van die hoorders toegestop is. Daarom,
sê Calvyn, moet ons dit selfs as ’n straf sien vir ons
teenstand, vir ons gebrek aan belangstelling wanneer die ywer van
die herders afgekoel is.

Blykbaar is daar ’n wederkerigheid. Die ampsdraer
stimuleer die gemeente om die Here te dien. Omgekeerd, stimuleer
die gemeente sy ampsdraers. Deur hul voorgangers te volg. Deur na
die stem van die goeie Herder te luister. Deur daarvolgens te
lewe.

Jy help daarom die getroue ampsdraer en jouself deur eenvoudig
te luister en te gehoorsaam. Daar is meer wat ons kan noem. Ek
het reeds genoem dat ons tyd vir die ampsdraers moet maak, hulle
ontvang sodat ’n gesprek kan plaasvind. Maar nou iets oor
die manier waarop ek hulle ontvang, my houding tydens die besoek.
Is ek eerlik en oop? Reageer ek werklik op die vrae? Wanneer ek
die vrae ontwyk, maak ek dit vir die ampsdraer onmoontlik om sy
taak te doen. Hoe kan die herder weet wat in my leef as ek
daaroor stil bly? Swye verhinder die wag in sy werk. Hoe kan hy
wag hou oor my lewe met God as ek hom daarbuite hou? Hoe kan
hulle in ’n krisis situasie help as ek die krisis nie eers
noem nie? Hoe kan hulle my bemoedig of waarsku as ek hulle op
’n afstand hou, buite my lewe? So kan hulle moeilik die
regte woord op die regte oomblik tot my heil spreek. Ek staan
hulle en myself in die pad.

Dit kan ook op ander maniere gebeur dat ek die ampsdraers en
myself in die pad staan. Bv, deur onbillike kritiek. Dis baie
maklik om allerlei negatiewe dinge op te som. Die ampsdraers is
uiteindelik feilbare mensekinders met hul sondes en swakhede.
Hulle gee dikwels die woord van die Here op ’n gebrekkige
manier deur. Dis maklik om agter daardie gebreke te skuil om
onsself vry te pleit. Maar is dit heilsaam?

Die Christelike houding is egter anders. As Christen fokus ek
nie op die swakhede nie, maar op die woorde van God wat deur
alles heen tog deurklink. En ek onderwerp myself aan hulle. God
wil my mos deur hulle hand regeer. Daarom bely ek ook met Sondag
39 van die HK dat ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid aan
hulle goeie leer en tug moet onderwerp en dat ek met hulle
gebreke geduld moet hê.

Gehoorsaamheid beteken dus ook dat ek geduld met hulle gebreke
hê. Dit kan bv gebeur dat ek die gevoel het dat die ampsdraers
my verwaarloos. Ek worstel met sekere dinge maar die ampsdraers
kom nie ’n draai maak nie. Wat te doen? Bly nie wag nie. Dan
gebeur daar moontlik niks nie. Gaan ook nie daaroor kla teenoor
ander nie. Nee, gaan eenvoudig na jou ampsdraer toe en vra hom om
’n draai te kom maak, om ’n gesprek. So dra jy positief
by aan die goeie voortgang van die werk van die ampsdraers sodat
hulle kan wees wat hulle moet wees, naamlik wagters oor jou siel.
Onthou, die ampsdraers het meestal meer dinge waarmee hulle besig
is en kan nie alles opmerk of onthou nie. ’n Vriendelike
bemoediging of herinnering kan dienstig wees. Laat ons as
ampsdraers sulke aansporinge ook positief ontvang en met blydskap
hulle wat dit nodig het versorg.

Gemeente, ses ampsdraers sal net nou as wagters oor julle
siele bevestig word. Ontvang hulle as gawes van God, as ’n
seën. Is dit nie ’n seën dat daar broers is wat wag hou
oor jou lewe voor God nie. Jy word in jou stryd teen sonde en
Satan nie aan jou lot oorgelaat nie. Christus plaas ’n muur
rondom jou. Hoe dwaas sou dit wees om die muur te ignoreer. Dit
is ’n teken van arrogansie wanneer jy dink dat jy so ’n
muur nie nodig het nie. Christus, die groot herder van sy skape
het tog nie verniet wagters oor jou siel aangestel nie? Onderwerp
jou aan hulle goeie leer en tug met die verskuldigde
gehoorsaamheid. Nie omdat hulle so vriendelik en simpatiek is nie,
maar omdat God jou deur hulle wil regeer. God self hou die wag
oor jou deur hulle. Wees gehoorsaam soos aan die Here. Help die
wagters om hul taak met ywer en blydskap te doen. Dit is tot jou
eie voordeel en heil.

En broers ampsdraers, aanvaar jul verantwoordelike maar ook
mooie taak in diens van Christus, die goeie herder. Waak oor die
lewens van hulle wat aan jul sorg toevertrou is. Dis nie ’n
maklike taak nie. Bly kyk na Hom wat jou roep. Jy besoek die
lidmate en jy praat met hulle nie op eie gesag nie. Christus het
jou die gesag en roeping gegee. En Hy wat roep is getrou. Hy sal
dit ook doen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)