Die Bybel is God se geskrewe woord.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-07-31
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 3
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikels 3 en 4

Ds C Kleyn - Sondag 31 Julie 2005

Lees: 2 Timótheüs 3:14-17; 1 Petrus 1:10-12;
2 Petrus 1:12-21; Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikels 3 en 4.
Sing: Ps 33:1; Ps 33:2; Ps 119:19,33; Ps 119:39,51;
Ps 18:1,14.

Tema: Die Bybel is God se geskrewe woord.

  1. Die woord is eers gespreek.
  2. Die woord is op skrif gestel.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

66 Bybelboeke. Ontstaan oor ’n periode van ongeveer 1500
jare. Van alle boeke in die wêreld het die Bybel die langste
ontstaansgeskiedenis. Wat ’n verskillende skrywers. Die
meeste skrywers het mekaar nie eers geken nie. En wat ’n
variasie van style, jy herken die verskillende agtergronde van
die skrywers en die tyd waarin hulle geleef het. Die styl van
Paulus (’n man wat goed akademies gevorm was) is byvoorbeeld
baie anders en moeiliker as die styl van die visserman Johannes.
Bowendien, wat ’n verskillende soorte Bybelboeke. Daar is
boeke met geskiedenis (Gen, Ex. Rigters ens). Daar is boeke van
wysheid, poëtiese literatuur: Spreuke; Daar is liedere (die
Psalms) selfs ’n liefdeslied: Hooglied. Profetiese geskrifte;
evangelies, briewe. Wat moet ons maak met so ’n gevarieerde
boek wat oor soveel jare ontstaan het? Wat is so besonder met
daardie boeke dat hulle saam ons Bybel vorm?

Volgens die getuienis van die Skrifte self, bely ons dat die
wesenlike van al die boeke is dat hulle van God kom. Ook al het
menslike skrywers hul merk daarop gesit, dis uiteindelik God se
woord. God het deur hulle gespreek en spreek nog deur hulle.
Daarom noem ons die geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.

Vanaand wil ek vir julle verkondig: die Bybel is God se
geskrewe woord.

  1. die woord is eers gespreek
  2. die woord is op skrif gestel

Allerlei kritiese vrae word teenwoordig gevra oor die ontstaan
van die Bybel. Mense probeer nareken hoe die kerk daartoe gekom
het om die Bybelboeke as die heilige en goddelike Skrif te
aanvaar. Om iets daarvan te verstaan, moet ons egter begin waar
God self begin het. God se verskyning, God se woorde en dade gaan
aan die Skrifte vooraf. God het eers gespreek. In die paradys het
God Adam en sy vrou opgesoek om met hulle te praat. Pen en papier
was oorbodig. Daar was regstreekse kontak. Ook na die sondeval
praat God regstreeks met die mens. So ontvang Abram ’n
regstreekse bevel van God om sy familie en vaderland te verlaat.
Meerdere kere praat die Here met hom op ’n vertroulike wyse.
Dit kan wees dat in daardie eeue sommige woorde van God en
sommige gebeurtenisse opgeskryf is. Tog begin ons kanon in sy
skriftelike vorm nie by die geskrifte van Henog of Abram nie,
maar by Moses.

Die Here het baie persoonlik aan Moses verskyn. God noem vir
Aaron en Mirjam dat hy gewoonlik deur ’n gesig of deur
’n droom met ’n profeet spreek. En dan vervolg Hy:
“So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy
getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en
nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die
Here” (Num 12:6-8). Deur sy magtige dade gee die Here aan
hierdie Moses volmag, outoriseer Hy hom. Dink aan die
verskriklike plae oor Egipte, die gebeure by die Skelfsee, God se
verskyning op die berg Sinai. Daarom het die volk ook ontsag vir
Moses, God se vertroueling. Die geheim van Moses se boeke is:
voordat Moses in opdrag van die Here skryf, het God op ’n
onmiskenbare manier aan hom verskyn.

So gee die Here deur woord en daad ook sy later knegte en
profete volmag om namens Hom op te tree en om met gesag te spreek.
Daarom sê hulle herhaaldelik: so spreek die Here. In die Nuwe
Testament breek die groot oomblik aan waarop ons hoogste profeet,
Jesus Christus, vir ons God se woord verkondig. God het hom reeds
deur Moses aangekondig: “’n Profeet sal Ek vir hulle
verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my
woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom
beveel” (Deut 18:18). Die apostels van die Here word
gelegitimeer om sy boodskap na sy dood en hemelvaart te bly
verkondig. Ook die apostel Paulus. Aan die geskrewe woord gaan
die gesproke woord vooraf. Heilige mense van God het gespreek.

Die apostel Petrus wys daarop in sy tweede brief, hoofstuk 1.
Hy skryf: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg
toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus
bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit.”
Die getuienis van die apostels oor Christus se dood, opstanding,
hemelvaart en wederkoms is nie ’n produk van menslike
fantasie nie. Dis geen fabel nie, soos sommige teoloë ons vandag
probeer wysmaak. Die apostoliese getuienis is gegrond op feite
wat die apostels self gesien en gehoor het.

Petrus verwys na Christus verheerliking op die berg. Petrus,
Jakobus en Johannes was daar ooggetuies van Christus se majesteit
en oorgetuies van die Goddelike stem uit die hemel. Hulle het
Christus se grootheid en waardigheid gesien. Hy deel in God se
glorie. ’n Voorproef van sy hemelse heerlikheid, waarmee Hy
eendag weer sal verskyn. Dan is daar ook nog die stem van Vader
uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n
welbehae het.” Drie getuies het dit gesien en gehoor. Die
feite kan nie ontken word nie.

Dit bevestig die profetiese woord, sê Petrus. Dit waarvan die
profete getuig het, het in Christus werklikheid geword. Juis
daarin blyk die profetiese woord betroubaar te wees. Die drie
apostels was op die berg getuies van hierdie vervulling. Toe het
die lamp in hul lewe helderder gaan skyn as ooit tevore. So skryf
Petrus dan ook: “En ons het die profetiese woord wat baie
vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in
’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester
opgaan in julle harte.” Ook na die wegval van die apostels
bly die lamp van die Woord skyn. Dis ’n lamp wat ons pad
belig, totdat die blink morester Jesus Christus weer verskyn. Die
lamp van die profesie sal dan deur die lamp van die Lam vervang
kan word. In die lig van die Lam sal die lig van die profesie
verbleek.

Let, gemeente, hier ook op die eenheid van die apostoliese
getuienis en die profetiese woord. Dit wat die apostels verkondig,
is in wese dieselfde boodskap as van die OT iese geskrifte. Daar
is absoluut geen spanning tussen die twee nie, soos die Judaiste
en later die anabaptiste daarin gesien het. Die NT is die
vervulling van die OT. Alles het mos gewys op die verlossing in
Jesus Christus. Dink maar aan wat ons gelees het uit 1 Pet 1:
“Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer
het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,
en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van
Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooraf getuig het
van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.”
Sonder die profetiese woord sou jy die apostoliese woord nie goed
verstaan nie. En omgekeerd, sonder apostoliese woord sou die
profetiese woord nie in sy volle rykdom blink nie. Hulle is een.
Daarom stel Petrus die versamelde briewe van Paulus ook op een
lyn met die ander Skrifte in 2 Pet 3:6. Die apostoliese getuienis
is ewe goddelik en gesaghebbend as die profetiese getuienis van
die OT.

Petrus vervolg: “terwyl julle veral dit moet weet dat
geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is
nie.” Jy mag nie op ’n eiemagtige manier die Skrif
uitlê nie. Waarom nie? “Want geen profesie is ooit deur die
wil van ’n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees
gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”

Vandag wil mense die Bybel net sien as ’n produk van
mense. Mense sou in die Bybel uiting gee aan hul ervaring van en
gedagtes oor God. Die Skrif het ’n boek van mense oor God
geword, pleks van ’n boek wat van God kom. Petrus sê egter
nadruklik: geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens
voortgebring nie. Ware profesie is geen mensewerk nie. God neem
die inisiatief. God praat. Dat die profete nie uit hulleself
gepraat het nie, sien ons baie duidelik wanneer die profete soms
heftig protesteer teen God se roeping. Hulle moet baie kere teen
hul eie wil in spreek. Dink aan Moses, die groot profeet van die
OT. Hy protesteer teen sy aanstelling en sê: “Ag, Here, ek
is nie ’n man van woorde nie” en “Ag Here, stuur
tog iemand anders“ (Ex 4:10-17). Jeremia sê: “Ag Here
HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk” (Jer
1:6) en later vra hy ontslag omdat hy dit nie meer kan hanteer
nie (Jer 20). Dink ook aan Jona en selfs aan Paulus voordat hy
apostel geword het. Wat moes die Here nie doen om hom tot sy
profeet te maak nie.

Gemeente, dit kan duidelik wees dat geen ware profesie ooit
deur die wil van die mens voortgebring is nie. Dit word verder
bevestig deur wat Petrus in 1 Petr 1:10-12 skryf oor die OT iese
profete. Hulle het volgens Petrus ondersoek en nagevors wat die
eintlike bedoeling van hul profesieë was. As hulle die
profesieë self sou bedink het, was hierdie navorsing nie nodig
gewees nie, ’n mens begryp tog wat jy self bedink. Maar nou
blyk dat God hulle dinge laat sê het, wat hulle nog nie ten
volle kon verstaan nie.

Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens
voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die
heilige mense van God gespreek. Ware profesie gebeur na die wil
van God. Die ware profeet vertolk ’n stem uit die hemel,
ongeveer soos die drie apostels die Goddelike stem op die heilige
berg gehoor het.

Dat die Gees van Christus in die profete gewerk het, sluit hul
eie aktiwiteit nie uit nie. Hulle het nie soos robotte gesit en
skryf wat hulle deur ’n stemmetjie gehoor het nie. Nee, God
het elke profeet ingeskakel met sy eie talente, gawes,
persoonlikheid, opleiding, agtergrond, woordkeuse en styl. Lukas
skryf dan ook dat hy navorsing gedoen het vir sy evangelie
beskrywing. Die Psalmiste noem herhaaldelik hul persoonlike
ervarings. Daar is verskillende soorte boeke en style. Kyk maar
na die verskil in styl tussen Joh en Paulus. Die stempel van die
menslike skrywers is duidelik herkenbaar. Ook die omstandighede.
Paulus het byvoorbeeld aan die Korintiërs geskryf nav probleme
en vrae in daardie gemeente. Hoe kan ons dan volhou dat wat hulle
gesê en geskryf het, nie deur die wil van ’n mens
voortgekom het nie, maar deur die Heilige Gees?

Broers en susters, beslissend is dat hulle in al hul spreek en
skrywe deur die Heilige Gees gedrywe was. “Deur die Heilige
Gees gedrywe het hulle gespreek.” Die Heilige Gees was die
drywende, inspirerende krag agter al hul profetiese woorde en
dade. Die woord gedrywe is ’n woord wat in die skeepvaart
gebruik is vir ’n skip wat deur die wind voortgedrywe word.
Die skip het die wind in die seile om hom in die regte rigting te
stuur. Sonder die wind in die seile sou die profete stuurloos
rondgedobber het. Maar die Heilige Gees het as ’n stuwende
krag hulle aangedryf sodat hulle God se woorde sou deurgee.
Daarom kan ons sê dat God die eintlike outeur is. Dis die woord
van God.

Gemeente, die besondere van profesie is dat sekere mense
namens God mag en kan praat. ’n Mens kan homself nie sommer
as boodskapper van God opwerp nie. God kies persone vir die taak.
Petrus noem hulle heilige mense van God, ’n OT iese benaming
vir profete. Die profete is spesiaal uitgekies en uitgestuur om
in God se naam te spreek. Die Heilige Gees gryp hul hele
persoonlikheid so aan dat hulle hul met hart en siel aan hul
goddelike roeping wy. Hulle spreek met ’n besondere
gedrewenheid. Dis die besieling van God se heilige Gees wat mense
tot woordvoerders van God maak. Dit alles gee hul profesie
’n blywende betekenis. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat
hul gesproke woord op Skrif gestel is. So bly die profete,
heilige Godsmense, nog spreek nadat hulle gesterf het.

Gemeente ons het daarop gelet dat God se woord eers gespreek
is. Ons let vervolgens daarop dat die woord ook op skrif gestel
is.

Ons art maak onderskeid tussen die Woord van God soos dit eers
gespreek is en soos dit daarna op skrif gestel is. Opvallend is
weer die nadruk waarmee bely word dat ook die skriftelike
vaslegging nie die werk van mense was nie, maar van God self. Die
gesproke woord is nie vasgelê omdat mense gedink het dis die
moeite werd nie. Dis nie die eintlike rede nie.

Dis waar dat ’n man soos Lukas in die voorwoord van sy
eerste brief skryf: ek het self tot die besluit gekom om alles
wat Jesus gedoen het in volgorde neer te skryf (Lk 1:3). Dis waar
dat Paulus sy briewe geskryf het omdat hy meestal die mense op
geen ander manier kon bereik nie. Dis ook waar dat Petrus in 2
Pet 1 skryf dat hy hom sal beywer dat sy apostoliese getuienis
vir die volgende generasies bewaar sal bly. Terloops, dit sou kan
wees dat hierdie wens van Petrus vervul is in die evangelie
beskrywing van Markus, Petrus se assistent. Markus het die
getuienis van Petrus genoteer en eers en vir altyd vasgelê. Dis
dus waar dat allerlei skrywers hul eie omstandighede en motiewe
gehad het om te skryf.

Maar die diepste en eintlike rede dat God se Woord op skrif
gestel is, is God se besondere sorg vir ons en ons saligheid.
Moses en verskeie profete kry die uitdruklike opdrag om sekere
openbarings op te skryf. Joh op Patmos word verplig om die
visioene op skrif te stel en vir die sewe gemeentes te stuur.
Veral in die OT word die menslike faktor oorskadu deur die
goddelike. Jesaja noem die geskrewe profesie die boek van die
Here. Die NT noem die geskrewe woord herhaaldelik die woord van
God. Christus en die apostels wys voortdurend na die Skrifte as
gesaghebbende woord van God. In 2 Tim 3:15,16 praat Paulus van
die heilige Skrifte en van die hele Skrif. Daarvan sê hy dat dit
deur God ingegee is. Hier word gepraat van die hele OT as deur
God geïnspireer. Letterlik word gesê: deur God uitgeblaas. Om
te praat moet jy jou asem gebruik: jou woorde is jou asem. So is
die Skrif die asem van God. Dis deur sy asem gespreek. Daarom is
dit suiwer goddelik. Dit noem ons inspirasie. Die woord
inspirasie kan misleidend wees. Dit beteken nie dat die woord
reeds bestaan het en dat God dan daarin lewe geblaas het nie. Nee,
dit beteken dat God dit juis deur sy asem tot stand gebring het.
God het gespreek. God het die menslike skrywers so gelei dat
hulle die dinge op skrif gestel het soos Hy dit wou hê.

Ja, gemeente, dis reeds geweldig dat God gespreek het. Dit nog
wonderliker dat Hy sy gesproke woord op skrif laat stel het. God
het eiehandig daarmee begin. Hy het met sy vinger die twee tafels
van die wet geskrywe. Daarin sien ons die troue sorg van God vir
sy volk. God het mos eers sy wet afgekondig. Maar Hy was nie
tevrede daarmee nie. Hy weet immers hoe swak ons is en hoe kort
van geheue as dit gaan oor die vashou van die waarheid. Die feit
dat God vanaf die berg gepraat het, moes voldoende wees. ’n
Mens kan die wet op jou vingers aftel en bowendien moes die ouers
die wet by hul kinders inskerp. Tog het God die wet toe ook nog
opgeskryf. Hulle wat vanaf Moses tot Joh op Patmos God se woord
onfeilbaar neergeskryf het, het dit gedoen in navolging van God
self. Deur sy voorbeeld het God die pad gewys.

Wat ’n liefde en sorg van God vir ons en ons saligheid.
Wat neergeskryf is, is duursamer. Dit bly daar vir komende
geslagte, ook na die dood van die skrywer. ’n Geskrewe
dokument is ook meer betroubaar. Deur mondelinge oordrag kan die
waarheid veel makliker vervals word deur dinge toe te voeg of weg
te laat. Wie waarborg dat jy dan werklik die boodskap wat God via
Moses, die profete en die apostels gegee het, ontvang? ’n
Skriftelike oordrag waarborg veel meer dat die oorspronklike
betroubaar deurgegee word.

Jare gelede het God reeds aan ons en ons saligheid gedink.
Daarom het Hy Moses,die profete en apostels sy woord op skrif
laat stel. Soos die apostel Joh skryf: Hierdie (tekens van Jesus)
is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die
Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy
Naam (Joh 20:31). Of soos Paulus skrywe: “Maar al hierdie
dinge het hulle (die Israeliete) oorgekom as voorbeelde en is
opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons (1 Kor 10:11). Hierdie
dinge, verwys na dit wat in die voorgaande verse genoem word oor
Israel se uittog uit Egipte, deurtog deur die Skelfsee,
voorsiening van manna en water in die woestyn, verering van die
goue kalf en God se straf oor hulle. Paulus skryf dat dit alles
op skrif gestel is as ’n waarskuwing aan die Korintiërs.
Die boek Exodus was geskryf in die dae van Moses, terwyl Paulus
sy brief aan die Korintiërs meer as duisend jaar later geskryf
het. God het by die opskrifstelling van Moses se boeke die
saligheid van die Korintiërs op die oog gehad.

Dis wat ons bely wanneer ons sê dat God in sy besondere sorg
vir ons en ons saligheid die profete en apostels beveel het om sy
geopenbaarde woord op skrif te stel. Alles wat God in die Ou en
NT laat skrywe het, is deel van God se besondere sorg vir my en
my saligheid. Wat ’n liefde, genade en sorg. Sy sorg vir my
het nie net begin toe ek gebore is nie, maar reeds eeue daarvoor.
God het toe reeds geweet wat ek vandag nodig sou hê. Hy het sy
woorde vir my laat opteken. My God gee werklik om vir my. God se
sorg omspan die eeue. Daarom is dit nie snaaks dat Dawid sê dat
die woord van die Here begeerliker as goud is; en soeter as
heuning en heuningstroop” (Ps 19:10) en dat hy die woord
liefhet en dit die hele dag oorpeins ( Ps 119:97). Broers en
susters, hoeveel te meer sou dit nie geld vir julle nie? Julle
wat nou die komplete Bybel besit, nie net die OT nie, maar ook
die NT, waardeur die OT nog heerliker skitter. Wat in die OT nog
in die knop was het in die NT in Christus volop gaan bloei.
Noudat God hierdie woord vir my op skrif laat stel het, sou ek
Hom nie loof en prys nie? Sou ek die Bybel dan nie as ’n
skat bewaar nie? Sou ek dit dan nie lees en oordink nie? In
verwondering en dankbaarheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)