Jy mag nie steel nie, jy moet goed beheer.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-07-24
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

Sondag 42

Ds C Kleyn - Sondag 24 Julie 2005

Lees: Spreuke 20:10-17; 22:1-16; Sondag 42.
Sing: Ps 46:1,2; Ps 46:4,6; Ps 62:5,7,8; Ps 37:1-6;
Ps 52:3,4.

Tema: Jy mag nie steel nie, jy moet goed beheer.

  1. Waarvandaan kry jy jou inkomste?
  2. Hoe gaan jy om met jou inkomste?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Rykes en armes ontmoet mekaar" sê die Spreuke boek
(22:2). Daar is ryk en arm lande in die wêreld. Jy kry die ryk
en welvarende Weste met sy oorvloed. En jy kry die arm Derde-wêreld
lande, waar armoede en die gebrek aan die noodsaaklikste duidelik
sigbaar is. Daardie lande ontmoet mekaar. God plaas hulle langs
mekaar. Hy konfronteer hulle met mekaar.

Ook binne ons eie samelewing ontmoet rykes en armes mekaar.
Terwyl die een baie rojaal, selfs oordadig, kan lewe, moet die
ander regkom met ’n armoedige bestaan, sonder ’n
reëlmatige inkomste om die gesin te onderhou. Watter verskille!
In ons land het ons die eerste en derde wêreld langs mekaar.
Doelbewus laat God armes en rykes mekaar ontmoet. Hy het hulle
albei gemaak. God plaas hulle langs mekaar. Hy konfronteer hulle
met mekaar.

Gemeente, ’n Pragtige voorbeeld daarvan tref ons aan in
die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus. Christus laat
hierdie twee mekaar ontmoet. Hoe reageer die arm Lasarus op die
rykdom van die ryk man? En hoe reageer die ryk man op die armoede
van Lasarus? Dit gaan kennelik oor die houding van die ryke en
die arme in hierdie konfrontasie. Hulle word albei op die proef
gestel. Die arme mag die ryke nie verwens, vervloek of beny nie.
Andersom mag die ryke nie die arme hooghartig en onbarmhartig
bejeën nie.

Dit is, gemeente, in hierdie wêreld en samelewing waar rykes
en armes mekaar ontmoet – nie mekaar kan ignoreer nie –
dat die 8e gebod nou gepreek word. Dit is ’n gebod wat vir
albei rykes en armes iets te sê het.

Ek verkondig julle hierdie gebod onder die tema:

Jy mag nie steel nie, jy moet goed beheer.

En ons let op 2 vrae:

  1. Waarvandaan kry jy jou inkomste?
  2. Hoe gaan jy om met jou inkomste?

In die boek Spreuke het ons ’n groot aantal tekste wat
die 8e gebod vir ons uitwerk.

Neem die spreuk: "Soet is vir ’n mens die brood van
bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies" (20:17).
Met brood van bedrog word bedoel die brood, die inkomste, wat
deur bedrog verkry is.

As voorbeeld van sulke bedrog noem die Spreukedigter ’n
paar verse eerder: twee soorte gewig en twee soorte maat (20:10).
Julle ken wel die gebruik van vroeër om artikels met gewigte te
weeg. Die verkoper sou dan byvoorbeeld twee verskillende gewigte
kon gebruik, terwyl hy maak asof dit dieselfde waarde het. By die
aankoop sou hy ’n swaarder gewig kon gebruik het as by die
verkoop, om die verskil self op te stryk. Daar word dan deur
middel van ’n geknoei met gewigte iets agtergehou van dit
wat die koper toekom. Dieselfde geld vir 2 soorte mate –
gebruik asof dit dieselfde mate is. Albei is vir die Here ’n
gruwel, sê die Spreukedigter. Ons kan hierdie bedrog vergelyk
met alle bedrog in die samelewing, waarby die koper op ’n
oneerlike manier benadeel word. As byvoorbeeld artikels vir
’n sekere kwaliteit verkoop word, terwyl dit in werklikheid
nie daardie kwaliteit het nie. Daar kan allerlei moontlikhede
bedink word.

Jy sou dit ook kan vergelyk met ’n oneerlike opgawe van
die aantal ure werk wat iemand gewerk het. Jy sê dan byvoorbeeld
vir jou baas dat jy 40 ure gewerk het, terwyl jy in werklikheid
maar 38 ure gewerk het. Of jy gaan langsamer werk sodra jy per
uur betaal word. Jy kan ook dink aan die situasie waarin die baas
steeds aan die ure van sy werkers beknibbel, terwyl hy self
verlang dat hy vir elke minuut wat hy werk betaal word. Dink ook
byvoorbeeld aan die situasie waarin jy steeds te laat is om jou
rekeninge of skulde te betaal. Jy laat dit maande oploop. Terwyl
jy wel eis dat mense, wat aan jou iets verskuldig is, jou
onmiddellik betaal.

Brood van bedrog word dit genoem. Inkomste deur bedrog verkry.
Gesteelde goed.

Maar, gemeente, laat ons nie net kyk na die verkopers, die
winkeliers byvoorbeeld, of die werknemers wat hulle dienste
aanbied: By die kopers of werkgewers kan daar net so goed bedrog
wees. Spreuke noem ook hiervan ’n voorbeeld: "‘Sleg,
sleg!’ sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom"
(20:14).

Hier word die gewoonte van die koper geteken, om teenoor die
verkoper af te gee op die aangebode artikel om daardeur die prys
te probeer druk. En as hy dan suksesvol is om die prys af te
bring, gaan die koper verheug huis toe, trots op wat hy gekoop
het en wel vir so ’n goedkoop prys. Ook dit is brood van
bedrog! Deur middel van ’n oneerlike afkeuring van die
artikel en deur ’n onbillike afdinging van die prys eien jy
jouself toe wat die verkoper regmatig moes toekom. Nee, dit wil
nie sê dat jy nooit mag handel dryf nie. Natuurlik mag jy handel
dryf, maar dan moet jy daarin wel eerlik en billik wees. Geen
oneerlike toertjies gebruik om jouself te verryk nie. Nie teen
elke prys nie – via watter metode ook al – soveel as
moontlik na jouself toehaal, ten koste van jou naaste. Die naaste
moet ook lewe en vir sy gesin sorg.

Ook hier geld die norm van God se wet. So sou allerlei
praktyke op hierdie gebied genoem kon word waardeur ek probeer om
myself meester te maak van die besit van my naaste. Ek kan die
swakkes in die samelewing uitbuit. Ek kan misbruik maak van die
groot werkloosheid en minder geld uitbetaal aan my werkers as wat
billik en wetlik is, om daarvan self beter te word. Jy kan hier
ook dink aan die ontduiking van belasting. Reëlmatig lees ons
daarvan. Gewoonlik is dit slegs die grotes wat opval en
publisiteit kry. So kan ons maklik die handelswyse van die gewone
man op hierdie gebied oor die hoof sien.

Elke jaar moet ek my belastingpapiere invul. En daaronder
’n handtekening sit, waarby ek verklaar dat alles na
waarheid ingevul is.

Hoe nougeset neem ons nog die waarheid, waarmee massaal
geknoei word? Waar iets massaal gebeur, daar dreig die gevaar dat
jy ook gaan dink dat dit normaal is en dan neem jy dit self nie
meer ernstig op nie. Maar, gemeente, alle geknoei met
belastingpapiere bly bedrog, ongeag die aantal mense wat hulle
daaraan skuldig maak. Gee aan die keiser wat die keiser toekom,
sê Christus. En die apostel Paulus sê: "Betaal aan almal
wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol
aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer
toekom" (Rom. 13:7). Jy hoef nie meer te betaal as wat nodig
is nie. As daar byvoorbeeld wettige aftrekkings is, dan hoef jy
nie te aarsel om daarvan gebruik te maak nie. Maar dan moet jy
wel eerlik bly en nie minder betaal as wat wetlik verplig is nie.

Dit gaan oor die verskuldigde. Dit gaan jou miskien wel aan
jou hart, dit kos jou miskien wel groot moeite, maar die
verskuldigde, dit moet ons betaal. As ek iets daarvan agterhou
deur oneerlike opgawe, of deur verswyging daarvan, of deur
wanbetaling, dan eet ek brood van bedrog.

Gemeente, van daardie brood van bedrog, sê die Spreukedigter
dat dit soet is vir die mens. In eerste instansie vind jy dit
pragtig as jy jouself op daardie manier kan verryk. Stel
byvoorbeeld dat jy deur verswyging van jou byverdienste of deur
’n oneerlike opgawe van jou inkomste jouself belasting kan
bespaar. Is dit nie skitterend nie. Daardeur kry jy meer armslag.
Jy kan daardeur dinge doen waarvoor jy eintlik geen ruimte het
nie. Jy kan daardeur byvoorbeeld ’n vakansie reël wat ander
mense altyd al gehad het, maar wat steeds buite jou bereik was.
Of jy kan jou daardeur veroorloof om ’n beter motor te koop
of ’n ander duur apparaat, wat jy anders nooit sou kon doen
nie. Dit brood van bedrog is soet vir die mens.

Maar dan begin die moeilikhede. Vir die oog van die mense moet
die syfers klop. Die mense gaan vrae stel. Die uitgawe patroon
lyk nie in ooreenstemming met die inkomste nie. Jy besit meer
luukse as wat mense op jou vlak hulself kan veroorloof. Daardeur
moet jy allerhande dinge bedink om die skyn van reg te behou. So
ontstaan daar in sommige bedrywe ’n tweede boekhouding. Die
amptelike vir die rekenmeester. En die tweede om die oorsig,
vanweë die bedrog, nie te verloor nie.

Die brood van bedrog is al lankal nie meer so soet nie. Dit is
wel gemaklik om soms iets meer te kan doen, maar aan die horison
verskyn die wolke. Die sorge word steeds groter. Jy werk jou
steeds verder in die gemors in. Wie langs die weg van bedrog die
groot meneer wil uithang, moet dit betaal met groeiende onrus.
Die brood van bedrog blyk glad nie so soet te wees nie. Is dit
nog wel brood? Of het dit gruis geword, stroef in die mond en
swaar in die maag?

Daarom sê die Spreukedigter ook: Soet is vir die mens die
brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.
In plaas van brood, blyk dit dat jy uiteindelik gruis in jou mond
het. Met daardie bedrog het jy nie net ander mense benadeel nie,
maar ook jouself. ’n Mond vol gruis is nie ’n grap nie.
Die brood van bedrog is die brood van eensaamheid. Niemand mag
immers daarvan weet nie. Die magasyn van die oneerlikheid lê
verborge agter pragtige gewels van onkreukbare eerlikheid en
goeie trou. Maar die hart is verskeur en die gewete in opstand.

Gemeente, as daar ’n misdryf ontdek word, dan maak die
mense gewoonlik daarvan ’n groot ophef. Die koerante is daar
vinnig by om van die skande ’n skandaal te maak. God oortrek
die sake egter nie. Alleen Hy stoot wel deur na die hart van die
saak, nie om ons op ’n skandpaal te hang nie, maar om jou
oë oop te maak en jou tot inkeer te bring. So proe ons God se
bewoënheid met mense wat dit nie kon nalaat nie. Dit het so soet
gelyk. Maar dit blyk so bitter te wees.

So sê die Spreukedigter ook elders: "Liewer ’n
bietjie met geregtigheid, as ’n menigte van inkomste met
onreg" (16:8).

As ek myself in my ontmoeting met rykes benadeel voel, sal ek
met daardie spreuk wel moeite hê. Is "’n bietjie"
nou werklik "beter"? Nee, dit kan ek my nie voorstel
nie. Liewer die groot inkomste.

Gemeente, dit gaan nou nie om ’n bietjie loon of inkomste
te verhef as die ideale nie. Agur het nie verniet gebid: "Gee
my nie armoede of rykdom nie." ’n Mens moet armoede nie
idealiseer nie. Agur ken die gevaar: "gee my geen armoede
nie." Waarom nie? "Dat ek nie, as ek arm geword het,
steel en my aan die Naam van my God vergryp nie" (30:8,9).

Dit gaan in die aangehaalde teks oor ’n bietjie met
geregtigheid. En geregtigheid, dit is ’n groot woord in die
Bybel. Geregtigheid is niks minder as met God se wil saamgaan.

Regverdige mense, is mense wat weet hoe om onderskeid te tref
tussen wat reg voor God is en wat krom is, tussen eerlikheid en
oneerlikheid; en wat daardie onderskeid dan ook in praktyk bring.

Maar waarom is ’n bietjie met geregtigheid dan beter?
Omdat loon en inkomste, wins en besit, nooit ’n doel op
hulleself is nie. Jy is as loontrekker belangriker as die loon.
As besitter is jy oneindig meer werd as die besit. Want broer,
suster, seun, dogter, jy is as loontrekker en besitter tog duur
gekoop? Jy is tog gekoop met die kosbare bloed van Jesus Christus?
En daarom het jy ’n waarde wat nie in dollars of rande
uitgedruk kan word nie. Daarom is ’n hart vol vrede –
die vrede van Christus – meer werd as enigiets wat jy na
jouself kan toehaal.

Die Bybel maak geen reklame vir armoede nie. Maar dit is bang
vir rykdom wat te duur betaal is: Gekoop deur onreg en ’n
beswaarde gewete.

Die besitting mag geen doel op homself word nie. Is dit wel so
dan beteken dit ’n ontmensliking. Dan vier egoïsme hoogty.
Dan gaan dit oor om te "hê" en om "nog meer te
hê." Dan lê jy onvervangbare dinge, jou ewige heil, op die
altaar van welvaart. Dan lê jy jouself op daardie altaar. Maar,
broeders en susters, ons is nie geskape om te hê nie, maar om te
wees, om koning en priester van God te wees.

Daarom die 8e gebod: Jy mag nie steel nie, maar jy moet goed
beheer. Die vraag daarby is nie alleen hoe kom jy aan jou
inkomste nie, maar ook: Hoe gaan jy met jou inkomste om. Dit is
die tweede gedagte van die preek. Ons moet dit doen as konings en
priesters van God.

Die Bybel gebruik in hierdie verband die woord rentmeester.
Ons word rentmeesters van God genoem. En wat is ’n
rentmeester? Dit is iemand wat die besit van ander moet oppas,
iemand wat die besit van ander moet beheer. Jy is as rentmeester
dus nie self eienaar nie. Jy kan dan ook nooit in absolute sin
sê dat iets van jou is nie. Eintlik is God die eienaar, die
wettige eienaar. Die aarde en die volheid daarvan behoort aan die
Here. Jy is slegs rentmeester. God het Sy goedere vir jou gegee
om dit in sy naam te beheer.

As ek dit weet en in my lewe toepas, dan word ek bewaar vir
hebsug of gierigheid. Ek kan iets op ’n volkome eerlike
manier verkry, en dit tog verkeerd besit. En dit dan met ’n
"skyn van reg", deur byvoorbeeld te praat van "gepaste
suinigheid." Die gierigaard wat vassit aan "sy"
besit is vir die Here egter ’n dief. Die Here het Sy besit
nie aan my toevertrou sodat ek daar bo-op sou sit nie, maar sodat
ek daarmee sou werk, dit sou beheer in Sy naam. As ek my inkomste
net vir myself bewaar en gebruik, dan besteel ek God. My gawes is
eerstens nie daar om myself knus en gesellig te installeer nie.
Maar om God my Heer en Eienaar te dien. Dit gaan om Sy saak in
hierdie wêreld – nie om my saak nie.

Gemeente, as jy dit voor oë bly hou, die weet jy dat jy ryk
is, ook met ’n lae inkomste, ook al het jy moeite om rond te
kom met jou maandsalaris. Ook al moet jy jouself sekere luukse
dinge ontsê wat ander mense wel besit. Ook daardie "bietjie"
is in feite baie. God het Sy gawes aan jou toevertrou. Dit is
gawes van Hom. Nie regte waarop jy kan staatmaak nie. Nee, gawes,
in beheer gegee. En wat kan die beheer daarvan vir jou ’n
inspanning kos. Ook die klein daaglikse uitgawes moet goed beheer
word. Dit mag nie uit beheer raak nie, want dan sou jy God
besteel.

So waarsku die 8e gebod teen misbruik of verkwisting van God
se gawes. Ek is ’n rentmeester. En ’n rentmeester mag
nie volgens eie goeddunke met die besit wat hom toevertrou is
handel nie. ’n Rentmeester, soos die Bybel daarvan praat,
moet voortdurend in die oog hou dat niks werklik van homself is
nie. Hy ontvang van sy heer ’n vasgestelde loon, waarmee hy
moet rondkom. Dit is vir hom en sy gesin. Maar die goedere
waaroor hy die beheer ontvang het, bly van die eienaar. So ook
die winste. As hy byvoorbeeld graan of vee verkoop, dan is die
opbrings vir sy heer, die boer self. Die rentmeester moet altyd
bedink: nie ek nie, maar my heer is die eienaar.

So is jy, broer, suster, seun en dogter, rentmeester oor God
se eiendom. Daarom kan jy streng gesproke geen sent willekeurig
bestee nie. Jy moet vir alles, vir jou beheer of wanbeheer,
verantwoording af lê by jou Heer. En, jy kan tog nie verkwistend
"rojaal" doen met die besit van ’n ander, in
hierdie geval met die besit van God nie? God wil hê dat ons
versigtig moet omgaan met Sy skepping en met al Sy gawes. God
verlang ’n verantwoorde gebruik van alles wat Hy in beheer
gegee het.

En God het alles ryklik vir gebruik gegee om goed te doen, en
ryk te wees in goeie werke, vrygewig en mededeelsaam (1 Tim 6:17,18).
Met ander woorde: Moenie steel nie, maar beheer en gee! Gee en
vir jou sal gegee word. Leef nie na binne gerig nie, maar na
buite! Staar jou nie blind op jouself nie, maar rig jouself op
jou Here en so ook op jou naaste. Die Spreukedigter verwoord dit
onder andere so: "’n man wat ’n weldaad bewys,
doen goed aan sy eie siel, maar ’n wreedaard pynig sy eie
vlees" (11:17).

Gemeente, aanvaar so die 8e gebod in jou lewe: Jy mag nie
steel nie, maar jy moet goed beheer. Jy vind self baat daarby.
Die brood van bedrog, hoe soet ook al op die eerste gesig, besorg
uiteindelik ’n mond vol gruis. Uiteindelik benadeel jy nie
net ’n ander nie, maar ook jouself. Wie egter gee sal
ontvang, sê Christus. Aanvaar die beheer oor God se goedere. As
konings, wat nie self in die greep van die besit is nie, maar
heers oor die besit. En as priesters wat alles aan die Here toewy
en so ook ’n oog vir hul naaste het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)