God konfronteer die hoogste Joodse raad met die Christus prediking.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-06-12
Text: 
Handelinge 4
Preek Inhoud: 

Handelinge 4:1-22

Ds C Kleyn - Sondag 12 Junie 2005

Lees: Handelinge 4:1-22.
Sing: Ps 118:1,2; Ps 119:1,2; Ps 119:39,40; Ps
118:11,12; SB 28b; Ps 118:13,14.

Tema: God konfronteer die hoogste Joodse raad met die
Christus prediking.

  1. die inhoud van die prediking
  2. die reaksie op die prediking
  3. die voortgang van die prediking

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die naam van Jesus Christus genees Petrus ’n verlamde
man. Die man spring op, gaan in die tempel in terwyl hy loop en
spring en God prys. Dit kan nie onopgemerk bly nie. Die mense is
vervul van verwondering en verbasing. Die apostel gryp die
geleentheid aan om Jesus Christus te verkondig. Hy word egter
daarin gestuit. Die Joodse leiers, die priesters, die hoofman van
die tempel en die Sadduseërs gryp in en neem Petrus en Joh
gevange. Hulle is verontwaardig dat die apostels sonder
bevoegdheid daartoe die volk leer en dat hulle in Jesus die
opstanding uit die dode verkondig. Die Joodse leiers voel dat
hulle posisie en invloed as leraars en leiers van die volk
bedreig word. Hulle vind dat die volgelinge van Jesus Christus
veels te veel aandag en invloed kry. Daarom gryp hulle in om dit
te keer.

Hierdie teenstand hoef ons nie te verbaas nie. Christus self
het gesê: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie.
As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Joh 15:20).

Die volgende more word Petrus en Johannes voor die Sanhedrin,
die hoogste Joodse geregshof, gebring. Hulle staan voor dieselfde
Joodse regters wat nie lank gelede hul heer Jesus Christus
veroordeel het. Hulle word ter verantwoording geroep met die
vraag: "Deur watter mag en deur watter naam het julle dit
gedoen?" ’n Pragtige geleentheid vir Petrus en Joh om
vir daardie selfde leiers Christus te verkondig.

Ek verkondig vir julle: God konfronteer die hoogste Joodse
raad met die Christus prediking.

  1. die inhoud van die prediking
  2. die reaksie op die prediking
  3. die voortgang van die prediking

Vol van die Heilige Gees voer Petrus die woord. Hoewel hy die
gesag van die Joodse leiers erken, praat hy reguit. Met sy woorde
probeer hy om die aanklaers aan die dwaasheid van hul optrede te
ontdek. Nie die apostels nie, maar die Joodse leiers moet
aangekla word. Wie neem nou mense gevange en verhoor hulle
vanweë ’n weldaad aan ’n siek man, waardeur hy gesond
geword het? Dis tog iets waaroor ’n mens bly en dankbaar
moet wees? Maar nou dat die sake so staan, wil die apostels die
waarheid wel onomwonde laat hoor, ook hier voor die Hoë Raad.
“Owerstes van die volk, laat dit bekend wees aan julle almal
en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus
Christus die Nasarener hierdie man gesond voor julle staan.”

Die Joodse leiers wou die prediking van die opgestane Christus
stopsit. Maar nou word die prediking selfs teenoor hulle met gees
en krag voorgesit. Deur hul eie toedoen kom hulle nou onder die
direkte gehoor van die Christus prediking. Die Christus word
onomwonde aan die felste teenstanders verkondig. Hoe wonderlik is
die weë van die Here, ons God. Wat ’n geduld en soekende
liefde ook vir daardie moordenaars van sy Seun.

En wie verkondig hier die Christus? ’n Man wat net
’n paar maande gelede teenoor ’n diensmeisie nie vir sy
Meester durf uitkom het nie. ’n Man wat sy Meester toe
driemaal verloën het. Deur sy Gees het Christus Petrus daartoe
bekwaam. Christus vervul hier die belofte wat hy vir sy
volgelinge gegee het: “En wanneer hulle jul sal bring voor
die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul
nie kwel oor hoe of wanneer julle jul sal verdedig, of wat julle
sal sê nie; want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur
leer wat julle moet sê” (Lk 12:11,12). Ja, die Here Jesus
het dit later nog sterker verwoord toe hy gesê het: “Want
Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders
nie sal kan teëspreek of weerstaan nie” (Lk 21:15).
Beloftes wat ook vir ons vandag geld. So staan Petrus dan voor
die hoogste Joodse raad en getuig van die Christus op so ’n
manier dat die lede van die Raad spraakloos is.

Petrus praat vrymoedig en reguit. Hy kontrasteer wat hulle,
die Joodse leiers, gedoen het en wat God gedoen het. "Laat
dit bekend wees dat deur die Naam van Jesus Christus, die
Nasarener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode
opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan."

Petrus verwys vervolgens na die Skrifte, die beslissende
instansie vir in elke regspraak in Israel. "Hy is die steen
wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen
geword het." Die Joodse leiers word bouers genoem. Hulle
moes God se geestelike huis, die kerk, bou. Hulle het egter die
belangrikste steen afgekeur. God het die steen egter op sy plek
gesit. God het dit tot ’n hoeksteen gemaak, ’n steen
wat die gebou by mekaar hou.

Geliefdes, in verband hiermee verkondig Petrus vervolgens die
unieke waarde van Jesus Christus. "En die saligheid is in
niemand anders nie."

Saligheid is ’n sentrale woord in die Skrif. Dit behels
siel en liggaam. Christus het gekom om ons na siel en liggaam te
red. In ons gebruik van die woord saligheid kan ons maklik
hierdie element van verlossing oor die hoof sien. Moenie egter
die verband van Petrus se woorde vergeet nie. Petrus het netnou
’n verlamde man in die naam van Jesus Christus genees. Jesus
verlos die man van sy liggaamlike stremming. In die Bybel word
dieselfde woord gebruik om die genesing van siekte aan te dui as
om die saligheid van ons siel aan te dui. As ’n mens vers 9
in die oorspronklike taal lees, dan ontdek jy dan ook dat die
woord wat daar vir genesing gebruik word, verwant is aan die
woord saligheid in ons teks. Die lewe is een. Beide liggaam en
siel moet gered, genees word. Jesus Christus konsentreer nie
slegs op die siel nie. Hy wil ons heeltemal red, na liggaam en
siel. Kyk maar na Petrus se genesing van die verlamde man by die
tempel poort. Dit is ’n bewys van die feit dat Jesus ’n
volkome Verlosser is. Dit wys hoeveel ons mense vir Hom werd is.
Hy het tot die aarde neergekom om ons volkome te red.

Broeders en susters, dis nie net ’n saak van die toekoms
nie. Petrus gebruik die teenwoordige tyd: die saligheid is in
niemand anders nie. Daar is in Hom redding. Dis nou reeds daar.
Wanneer jy in Jesus Christus glo, dan het jy reeds deel daaraan.
Jy is dan gered. Christus self het eers gesê: Hy wat in my glo
het die ewige lewe. Jy, wat glo, mag dit reeds in beginsel besit.
Die begin is reeds sigbaar. En die begin waarborg die voltooiing.
Daarom kan jy die saligheid hier en nou geniet, ook al sal die
saligheid eers in die nuwe hemel en nuwe aarde voltooi word. Dit
maak die geloof in Jesus Christus soveel werd. Ek vind nie net
baat daarby later nie, maar reeds hier en nou. Die saligheid is
’n werklikheid elke dag en oomblik van my lewe. Dit gee
glans aan my lewe, ondanks alle gebrokenheid wat daar nog is.

Petrus verkondig: "en die saligheid is in niemand anders
nie." Hy verkondig dit vir die Joodse leiers wat ook graag
van saligheid praat. Hulle beskou hulleself as diegene wat gered
is, as die verlostes. Hulle is seker van hul redding. In
selfversekerdheid verhef hulle hul bo die gewone volk wat hulle
as sondige en ongeletterde mense beskou. En nou verkondig Petrus
juis vir hierdie upper class mense wat Christus gedood het: Die
saligheid is in niemand anders as in Jesus Christus nie. Sou jy
dit durf verkondig aan sulke hooggeplaastes? Aan mense wat by ver
jou meerderes is? Julle het Hom wel gedood, maar God het Hom
opgewek en Hy is die enigste Verlosser. Dink maar nie dat julle
julleself kan red nie. Sonder Hom is daar geen redding nie. Hy
alleen kan werklik red, jou lewe waarborg.

Wat is dan so uniek met Jesus se reddingswerk?

Hy het die oorsaak van alle ellende weggeneem. En as eenmaal
die oorsaak weggeneem is, dan kan die res op sy tyd volg. Hy
bevry nie net van die skuld en straf van die sonde nie, maar ook
van die mag van die sonde en uiteindelik ook van die gevolge van
die sonde, naamlik siekte en dood ens.

Net Jesus Christus kan dit doen. Hy is die enigste en volkome
verlosser.

"Want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder
die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie." Onder
die hemel, met ander woorde: hier op aarde, waar ons teen God in
opstand gekom het. In hierdie opstandige en afvallige wêreld is
daar geen ander naam, geen ander persoon nie. Die een naam moes
aan ons mense gegee word. Ons kan nie na die hemel toe opklim nie.
Hoe groot is onse God van genade! Hy het ons die een Redder gegee.
Hy het sy eniggebore Seun gestuur om ’n verlore en
opstandige wêreld te red, om verlore sondaars soos u en ek te
red. Elkeen van ons is afhanklik van die reddingsoperasie vanuit
die hemel.

"Want daar is ook geen ander naam ... waardeur ons gered
moet word nie." Petrus spits sy Christus prediking toe op sy
hoorders, die Joodse leiers. Let op die "ons." Waardeur
ons gered moet word. Dit geld vir julle persoonlik, maar ook vir
my. Petrus assosieer homself met die moordenaars van Christus,
die bouers wat Christus verwerp en gekruisig het. Petrus sê: ek
en julle, ja elke mensekind moet gered word. Ons is almal in
onsself verlore. Redding is nodig. En dit is moontlik in die een
naam wat onder die mense gegee is, Jesus Christus.

Wat ’n geweldige, indringende prediking voor die Joodse
Hoë Raad. Wat ’n radikale prediking. Van die genesing van
’n verlamde man stoot Petrus deur na die algehele redding in
Christus alleen. Broers en susters, sien ons nog die noodsaak en
die geleenthede raak om Christus aan die mense voor te hou? Ook
in ons daaglikse gesprekke? Onthou, elkeen moet deur Hom gered
word. Buite Hom is daar geen redding nie. Durf ons nog om so
mense, ook vriende en kollegas, na Christus te wys as die enigste
Redder?

En gemeente, vir Hom is geen geval te sleg, te hopeloos nie.
Selfs die grootste sondaar en die felste vyand mag na Hom toegaan
en gered word. Dink aan Joodse leiers wat Christus se dood beplan
en geëis het. Dink aan Paulus die vervolger van die Christene,
wat die apostel van die heidene geword het. Geen geval is te
ernstig nie. Wie in Hom glo, is gered, het die ewige lewe.

Nou die tweede gedagte: die reaksie op die Christus prediking

Petrus en Joh het die Sanhedrin in ’n moeilike posisie
gebring. Die Joodse leiers kan die feite nie ontken nie. Hulle
sien die vrymoedige en kragtige optrede van hierdie volgelinge
van Jesus. Terwyl hulle ongeleerde en eenvoudige manne is, leke
wat nie amptelik in die wet ingelei is nie. Tog het hul woorde
’n geweldige krag. Die leiers staan perpleks. En dan is daar
nog die man wat meer as 40 jare verlam was en nou gesond voor
hulle staan. ’n Lewende bewys van die mag van die apostels.
Die lede van die Sanhedrin staan magteloos. Hulle kan niks teen
die apostels se getuienis inbring nie. Jy sou dink, hulle moet
wel swig vir die feite.

Maar dit is die laaste wat hulle wil doen. Vir geen geld wil
hulle hulleself gewonne gee aan die gehate Jesus van Nasaret nie.
Daarvoor is hul posisie en mag te dierbaar. Ja, hoe moeilik is
dit nie, broers en susters, seuns en dogters, om jouself gewonne
te gee nie? Is ons ook nie dikwels geneig om teen elke prys ons
eie posisie vas te hou en te verdedig, pleks om ons ongelyk te
erken nie. Ek weet dat ek verkeerd is, maar ek sal dit nooit
erken nie. Daarvoor is ek te trots. Veral ook as sekere mense my
die waarheid voorhou. Moet ek na hulle luister, my deur hulle
laat gesê? Nooit nie. Ja, broers en susters, wat ’n
hoogmoed sit daar nog dikwels in ons hart en lewe. Laat ons nie
dink dat ons uit onsself beter as die Joodse leiers is nie.

Die Joodse leiers oorleg met mekaar. As hulle hul posisie wil
red, dan moet hulle vinnig iets bedink en maatreëls neem. Maar
wat moet hulle met daardie apostels doen? Hulle besef dat hulle
baie versigtig met optree. “Dat daar ’n onmiskenbare
wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van
Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie” sê hulle.
Maar hulle voel dat hulle tegelyk deurtastend moet wees. Indien
hulle hul invloed onder die volk nie wil verloor nie, dan moet
hulle hierdie beweging in die kiem smoor. Dit gaan egter moeilik
wees, omdat hulle met die volk rekening moet hou. Gestel dat
hulle deur hul maatreëls teen die apostels by die volk in
ongenade sou val. Dan sou dit met hul saak en invloed afgelope
wees. Daarom kan hulle niks bedink behalwe ’n dreigement nie.
Om die apostels te straf sou te gevaarlik wees. Vrylating is
vanweë die volk nodig, maar via dreigemente wil hulle in ieder
geval verhinder dat hul boodskap verder versprei sal word. Hulle
besluit om hulle te verbied om in die Naam van Jesus met iemand
te praat of te leer. Dit word baie nadruklik geformuleer. Hulle
mag in die geheel nie meer in die Naam van Jesus met enige mens
spreek nie.

Gemeente, wanneer die apostels weer binne geroep word, word
die besluit aan hulle meegedeel. Hulle mag nie op die gesag van
Jesus spreek nie, laat staan dat hulle in Jesus se naam ander
mense leer. Hulle mag dus op geen enkele manier as gesante van
Christus optree nie. Om te leer is die taak van die
skrifgeleerdes. Daarmee mag hulle hulle nie bemoei nie, seker nie
op die gesag van die naam van Jesus nie.

Met die spreek en leerverbod dink die Joodse leiers dat hulle
die voortsetting van hierdie beweging kan verhinder. Daarmee sit
hulle die eerste stap op die pad van die vervolging van die
Christelike kerk. Hulle kies bewus teen die Christus.
Noodgedwonge is hulle wel bereid om die Christene te tolereer, as
hulle maar oor hul geloof swyg. Jy sou dit kan vergelyk met die
moderne toleransie gedagte. Mense wil jou as Christen wel
tolereer, solank jy bereid is om saam te gaan en saam te doen.
Wanneer jy egter duidelik vir jou geloof in Christus alleen
uitkom, en die sonde aanspreek, dan hou die toleransie op en word
teen jou gediskrimineer. Jy word beskou en behandel as ’n
spelbreker. Neutraliteit bestaan nie. Dit beteken in feite ’n
keuse teen die Here. So is die neutraliteit waar Gamaliel later
die Hoë Raad toe beweeg (Hand 5) niks anders as selfhandhawing
teenoor die Here nie.

In ons teks probeer die leiers van die Joodse volk die stem
van Christus, die goeie Herder, te smoor. Hulle wil die mense van
die enigste verlosser, die beloofde Messias weg hou. Dis nou die
geestelike leiers, die priesters en skrifgeleerdes wat aangestel
is om juis die stem van die goeie Herder te laat hoor, en die
mense na die verlosser te lei. Pleks om die volk op die enigste
Verlosser te wys en hulle na Hom te lei, gaan hulle voor in die
vyandskap teen Hom. Die geestelike leiers blyk misleiers te wees.

As die apostels die vonnis hoor, wys hulle dit deur die Gees
met beslistheid af.

So kom ons by die derde gedagte van die preek: die voortgang
van die prediking

Die apostels spreek weer ontdekkende woorde. Daarmee doen
hulle ’n dringende beroep op die Joodse leiers. Hulle sê:
“Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as
God, moet julle self beslis.” Julle het sopas ’n vonnis
gevel, maar kan julle dit teenoor God verantwoord, is dit reg
voor God? Julle staan tog in diens van God? Julle ken tog die wet
van God en julle wil tog die wet naleef? Nou dan, oordeel volgens
die wet of ons julle meer as God moet gehoorsaam? Dit gaan tog
oor God se reg wat bevorder moet word?

Die lede van die Sanhedrin moet besef dat God meer gehoorsaam
moet word as mense. Dit is voor God onaanvaarbaar om aan die
spreekverbod gehoor te gee as dit ongehoorsaamheid aan God
impliseer.

Dis wel tragies dat so ’n appel op die Joodse leiers
gedoen moet word. Hulle wat God se reg aan die volk moes voorhou.
Maar nou blyk hul gebod juis in stryd met God se gebod te wees.
Dis ’n of – of: of aan hulle gehoorsaam wees of aan God,
pleks van ’n en – en : God gehoorsaam wees en God se
dienaars gehoorsaam wees.

Petrus en Joh is seker van hul opdrag om Christus se getuies
te wees. Daarom sê hulle: “Vir ons is dit onmoontlik om nie
te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. Dis onmoontlik,
maak nie saak wat mense of selfs leiers van ons eis. Ons is
immers in die eerste plek gesante van Christus. Christus het
nadruklik vir ons gesê: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek
julle ook. En: julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in
die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.
Christus wil deur ons diens die uiteindes van die aarde bereik.
Die pinksterprogram moet afgewerk word.

Hulle kan dit nie in eie kragte doen nie. Die Pinkster Gees
stel hulle daartoe in staat. Die Gees sorg vir die voortgang van
die Christus prediking. Daarom verlaat hulle die raadsaal nie met
bravour of oormoed nie. Hulle verhef saam met hul eie mense hul
stem tot God om sy bystand af te smeek: “En nou Here, let op
hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle
vrymoedigheid u woord te spreek.” So is die voortgang van
die Christus prediking in God se eie hande.

Gemeente, God het die Joodse Raad gekonfronteer met die
Christus prediking. Hy het die prediking laat hoor juis daar waar
die teenstand teen die Christus die ergste was, in die Joodse
Hoë Raad. Hy soek daardie vyande nog op. Hy skep dreigende
situasies om na preekgeleenthede. Die reaksie van die leiers is
verharding in hul opposisie. Maar die apostels laat hulle nie
bang maak nie. Hulle gaan aan met hul prediking, ondanks alle
dreigemente. So sorg God vir die voortgang van die evangelie. Sy
Pinksterprogram sal voltooi word. Hoe groot die opposisie en
gevare ook al mag wees. Hy is immers almagtig en trou.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)