Leef elke dag in afhanklikheid van die Vader.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-04-24
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

Sondag 50

Ds C Kleyn - Sondag 24 April 2005

Lees: Psalm 127; Spreuke 6:6-11; Matthéüs 6:19-34;
Sondag 50.
Sing: Ps 136:1-3; Ps 113:1,2; SB 17:1,2,6;
Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 28;6,7,8.

Tema: Leef elke dag in afhanklikheid van die Vader.

  1. Vertrou op Vader se sorg
  2. Werk in afhanklikheid

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die volmaakte gebed begin op so ’n verhewe, geestelike
vlak: Laat u naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil
geskied. Onmiddellik daarna kom daar die bede vir ons daaglikse
brood. Sou jy dit verwag het? Sou jy nie eerder verwag dat ons
geestelike nood eers aangespreek sou word en dat dan afgedaal sou
word na ons liggaamlike behoeftes nie? Tog is daar na die verhewe
bedes oor God naam, koninkryk en wil onmiddellik die bede: gee
ons vandag ons daaglikse brood. Wanneer die Here in die vierde
bede ons behoeftes begin verwoord, dan begin Hy met dit wat ons
vir ons liggaam nodig het. Wat is die eerste ding wat ons hier op
aarde nodig het om God se naam te verheerlik, om ons aan God se
koningskap te onderwerp en om God se wil op aarde te doen? Die
eerste is dat ons mag bly lewe, dat ons liggaam onderhou word.
Sonder lewensonderhoud kan ons hier op aarde die Here nie meer
dien nie. Dit sou die einde van ons aardse bestaan en werk
beteken. Daarom is hierdie vierde bede werklik op sy plek.

Is dit, broers en susters, ook nie pragtig dat die Here juis
aan ons liggaamlike behoeftes aandag gee nie. Hoe wonderlik dat
die God wie se naam so heerlik is, die almagtige Skepper, die God
van die ewige en volmaakte koninkryk, die alleenwyse God, dat so
’n God aandag wil gee aan jou en my klein behoeftes, selfs
in die kleinste besonderhede van die daaglikse brood. So is ons
God. Die Bybel vertel ons dat selfs ’n mossie nie op die
aarde sal val nie sonder ons Vader nie en dat ons baie meer werd
is as die mossies. Hy sê dat selfs die hare van ons hoof almal
getel is (Mt 10:29-31). As ons net hierdie werklikheid sou
verstaan dat die almagtige Heer van die heelal in elke deel van
ons belangstel! Selfs die kleinste besonderhede van my klein lewe
is aan Hom, die ewige Koning, bekend. Dis iets wat jy net in die
Bybel vind. Jy gaan onmiddellik van “Laat u wil geskied soos
in die hemel net so ook op die aarde” na “Gee ons
vandag ons daaglikse brood.” Dis hoe God is. Dis hoe God
werk. Dis die wonder van ons verlossing. Dis die betekenis van
Christus se menswording. Daarmee verbind Christus ons klein mense
met die almagtige en soewereine God. So behoort God se koninkryk
en my daaglikse brood by mekaar.

Kom ons let nader op die vierde bede. Leef elke dag in
afhanklikheid van die Vader.

  1. Vertrou op Vader se sorg
  2. Werk in afhanklikheid

Christus leer ons om vir daaglikse brood te bid. Hoe dikwels
is ons egter nie besig vir more en oormore nie? Ons kan ons oor
die toekoms bekommerd maak. Sal ek na my studies wel werk kry?
Sal ek wel voldoende inkomste kry om my gesin te onderhou? Sal ek
my werk wel kan behou? En hoe sal dit gaan as ek nie meer kan
werk nie, weens siekte of ouderdom? Sal my pensioen wel
toereikend wees? En wat van die land en die grondstowwe? Sal die
land oor ’n aantal jare nog voldoende produseer om ’n
groeiende bevolking te voed? En sal die grondstowwe waarvan ons
samelewing so afhanklik is, nie uitgeput raak nie? En wat van ons
ekonomie? Mense is nou nog redelik optimisties, maar is dit
volhoubaar? Sal hier nog plek vir ons kinders en kleinkinders
wees om ’n waardige bestaan te lei?

Dis vrae waarvoor ons ons oë nie moet sluit nie. Vir sommiges
is die vrae reeds nou ’n harde werklikheid. Sommiges beleef
reeds slapelose nagte omdat hulle nie meer hul rekenings kan
betaal nie. Wat moet jy in so ’n situasie? Vandag is daar
miskien nog net voldoende, maar wat van more, oormore, volgende
jaar? Ons kan verstaan dat daar groot bekommernis kan wees.

Gemeente, in die bergrede sê die Here Jesus vir sy dissipels:
kwel jou nie oor more nie. Dit hoef nie en dit mag ook nie. Die
aarde is tog van die Here? Is Vader in die hemel nie skatryk nie?
Hy kan sommer deure oopmaak. Het Hy nie in die geskiedenis van
Israel gewys dat Hy water uit ’n rots kon gee en dat Hy
daaglikse manna kon gee nie? Die mense het selfs in die woestyn
vleis te ete gekry. Ons Vader is so ’n ryke Vader. Hy sorg
vir al sy kinders. Wanneer jy ’n volgeling van die Here
Jesus geword het, hoef jy nie oor more bekommerd te wees nie. Dit
pas nie by ’n dissipel van die Here nie. Die Vader van ons
Here Jesus weet presies wat jy nodig het. Hy is tog jou Vader,
wat in liefde vir jou sorg? Jesus sê dan ook: soek eers die
koninkryk van God. Laat dit voorrang hê, die eerste plek kry. En
al hierdie dinge, kos, klere, onderhoud sal vir julle bygevoeg
word. Vader sorg daarvoor.

Die Here Jesus leer ons om nie allereers na die toekoms te kyk
nie, maar om eers na die Vader te kyk. Jy weet nie eers of jy
more hier nog is nie. Waarom sal jy jou dan oor more kwel? As jy
vandag maar ’n Vader in die hemel het. As Hy maar vir jou
sorg.

’n Aardse vader kan tekort kom in die sorg vir sy kinders.
Miskien het jy as aardse vader te min om uit te deel. Maar die
hemelse Vader het nooit te min nie. Hy het alles tot sy
beskikking. Sou Hy wat sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom
vir ons almal oorgegee het, ons nie saam met Hom alles genadiglik
skenk nie (Rom 8:32). Sou Hy dan nie vir die lewensmiddele vir
ons sy kinders sorg nie?

Miskien kry ek geen oorvloed nie. Maar as ek werklik iets
nodig het, dan sorg Hy tog daarvoor? Solank as Hy my hier op
aarde nog ’n plek en taak gee, solank sal Hy sorg. Dit het
Hy belowe. Hoe lank my lewe of die lewe van my geliefdes gaan
duur, weet ons nie. Dis nie in ons mag nie. Hoe die omstandighede
gaan wees oor ’n jaar of oor tien of twintig jaar weet ons
ook nie. Dis ook nie in ons mag nie. Maar by alle onsekerheid is
een ding seker: God belowe om vir die noodsaaklike onderhoud te
sorg, solank Hy my lewe hier laat duur. Alles wat ek vir my
liggaam nodig het: voedsel en drank, kleding, onderdak, my Vader
sal dit gee.

Vandag gee Hy my dalk nog ’n betreklik goeie gesondheid,
moontlikhede om fisies en verstandelik besig te wees. Hy gee nog
sekere take en verantwoordelikhede. Maar ook wanneer die
moontlikhede my ontneem word, ook dan sorg Hy, as ek byvoorbeeld
nie meer goed kan hoor, sien, of dink nie, of wanneer ek op
’n rolstoel teregkom of selfs aan ’n siekbed gekluister
raak. Ook dan sorg Vader. Hy gee medikamente en sorg vir hulp op
allerlei maniere. Ons hemelse Vader weet wat ek vandag nodig het.
Laat Hom dan sorg. Bid elke dag: gee ons vandag, nie more nie,
maar vandag ons daaglikse brood. Jesus leer ons om van dag tot
dag uit Vader se hand te lewe. In vertroue. Jy is mos ’n
kind van die hemelse Vader? ’n Kind is baie meer werd as
’n voël of ’n plant. Kyk na die voëls van die hemel,
sê Jesus, hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie
bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is
julle nie baie meer werd as hulle nie? En let op die lelies van
die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en
Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie
bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die
veld, wat vandag daar is en more in ’n oond gegooi word, so
beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Vertrou van
dag tot dag op die Here. Hy sal sorg.

Broers en susters, daar is baie dinge waarvan ons dink dat ons
dit nodig het. In die lig van ons huidige lewenstandaard lyk die
dinge onmisbaar te wees. Of die reklame oortuig ons dat ons
eintlik nie daarsonder kan nie. As ons egter kyk na hulle wat
baie minder as ons het en tog gelukkig lewe, dan verbaas ons ons
en besef dat ’n mens tog met minder kan regkom indien nodig.
Soms sou dit dalk selfs goed vir ons kan wees.

Die Here leer ons bid vir daaglikse brood. Brood sien hier op
ons noodsaaklike lewensbehoeftes, op dit wat ons werklik nodig
het en nie kan mis nie. Dit sal van persoon tot persoon verskil.
Afhanklik van omstandighede, verantwoordelikhede, liggaamsbou.
Ons bid nie vir genotmiddels nie. Dit gaan hier oor dit wat
werklik nodig is. Genotmiddels kan gemis word. Ook al mag ons
daarvan geniet as die Here die vir ons gee. Die Here leer ons om
beskeie te wees en dankbaar.

Ons bid vir onsself, vir ons gesin, vir elkeen wat dit nodig
het. Veral vir al God se kinders: Vader gee ons ons daaglikse
brood. Dit gaan daaroor dat elkeen brood het en dat ons daarom
leer deel. Wanneer ons aan ’n ruim gedekte tafel sit, mag
ons wel aandag gee aan hulle wat minder bevoorreg is: gee ons, ja
gee al u kinders, wat hulle nodig het.

Maar, broers en susters, maak God se vaderlike sorg ons sorg
nie oorbodig nie? Beteken dit dat ons geen voorsorg vir die
toekoms hoef te maak nie? Geen pensioene hoef op te bou nie? Ons
nie hoef in te span om ons werk en inkomste te behou nie? God sal
mos sorg. In Ps 127 lees ons: “Tevergeefs dat julle vroeg
opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee
die Here dit aan sy beminde in die slaap.” Moet ons dan maar
’n sorgeloos lewe lei. Nie bekommerd wees oor die manier
waarop ons met die omgewing omgaan, oor die uitputting van die
aarde of oor die manier waarop ons grond herverdeel word nie? Met
die gedagte dat die Vader wel vir die komende geslagte sal sorg?
Laat ons dan nou maar eet en drink en vrolik wees want Vader sorg
wel vir die toekoms?

Wie so praat verstaan niks van God se vaderlike sorg nie. Dit
getuig nie van die regte eerbied vir die Here nie. Jesus sê dat
ons moet kyk na die voëls. Hulle saai nie en maai nie en hulle
bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader
hulle, sê Jesus. Jy moet op die voëls ag gee. Maar dan wel goed
ag gee. Ja, Vader sorg vir hulle. Maar Hy laat hulle wel vlieg.
Hy laat hulle wel hul voedsel opsoek en ophaal. Daarin lê ’n
aanwysing vir ons. Jy mag heeltemal op Vader se sorg vertrou.
Maar jy moet Vader dan wel eer in die manier waarop Vader dit
doen. Al gee die Here dit aan sy beminde in die slaap, Hy gee dit
nie aan jou wanneer jy net slaap nie. As Hy sê dat jy tevergeefs
vroeg opstaan asof dit daarvan afhang, is dit nog iets anders as
om soggens betyds werk toe te gaan. Dit is ’n Bybelse
gedagte om op tyd te begin, maar ook om op tyd op te hou. Die
Here wil dat ons nie net werk nie. Hy gun ons ook ons rus. Hy het
die nag gegee en Hy gee ’n hele rusdag.

Om van God se vaderlike sorg te lewe, beteken dat ons
medewerkers van God is. Ons is aangestel as rentmeesters oor
hierdie wêreld. Ons het die opdrag ontvang om die aarde te
bewerk en te bewaar. Om dit tot ontplooiing te bring. Dis iets
anders as die uitbuiting van die aarde. God sluit ons arbeid in.
Die werk van die boer tot en met die brood op die tafel. Die Here
maak ons wel afhanklik, maar nie lydelik nie. Hy skakel ons in en
roep tot die arbeid. Ons daaglikse werk is ’n goddelike taak.

Die Bybel waarsku op verskeie plekke teen luiheid en
pligsversuim. Bekend is die woorde oor die luiaard wat na die
miere moet gaan om wys te word. Ons het dit gelees in Spr 6. Die
mier het geen aanvoerder, opsigter of heerser nie, maar hy maak
sy voedsel klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
Die mier het niemand nodig om hom aan te vuur nie. Hy weet wat hy
moet doen en doen dit. Hy tref ook maatreels vir die toekoms. Hy
maak sy kosvoorraad reg vir die winter. Sou dit dan vir ons mense
verkeerd wees om pensioen reëlings te tref vir die tyd waarop
ons nie meer vir inkomste kan werk nie? Die mier word ons tot
voorbeeld gestel. Ons leef en werk nie lukraak nie, maar
planmatig, doelgerig. Waar moontlik sal ons dan ook maatreëls
vir die toekoms tref. Dit behoort by ons verantwoordelikheid as
God se rentmeesters. ’n Mens kan dit ook vergelyk met die
boer wat vandag vrugtebome plant om oor enkele jare van die
vrugte van die bome te kan lewe. Of die boer wat vandag saad op
sy land saai om oor ’n halwe jaar die opbrengs van die land
binne te haal.

Gemeente, die Bybel lê ook ’n duidelike verband tussen
werk en eet. Toe God die mens geroep het om die aarde te
onderwerp en die hof te bewerk en te bewaar, het Hy onmiddellik
ook gepraat van voeding (Gen 1 en 2). Die arbeider is sy voedsel
werd, het Christus gesê (Mt 10:10). Paulus skryf in 2 Thess 3:10:
as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Dit gaan
hier dus nie oor mense wat nie kan werk nie, maar hulle wat nie
wil werk nie. In die verband wys dit selfs daarop dat sulke mense
ook uitgesluit moet word van die diakonale versorging van
behoeftiges. Onder gewone omstandighede verbind God werk en eet.
Wie weier om te werk, sal ook nie eet nie, want dit is die weg
waarlangs God in die reël mense voorsien.

Maar wat van tekste soos: moenie werk om die spys wat vergaan
nie (Joh 6:27)? Of die woorde van Mt 6: Moenie vir julle skatte
bymekaarmaak op die aarde nie? Moet ons onsself dan tog nie
terugtrek uit die arbeidsproses nie? En moet ons dan tog nie
ophou om pensioene op te bou nie? Om die tekste so te gebruik is
’n misbruik daarvan. Die tekste moet in hul konteks gelees
word. Daardie tekste verbied nie die werk vir inkomste nie of die
spaar van geld nie. Albei tekste wys op dit wat voorrang moet hê
in ons lewe. Ons lewe moet nie heeltemal gerig wees op brood wat
vergaan nie of op kwesbare aardse rykdom nie. Dit moet nie alles
vir ons wees nie. Ons moet nie ons vertroue daarop stel nie. Ons
moet ons des te meer inspan vir die spys wat bly tot in die ewige
lewe. Ons moet ons hart sit op die hemelse skatte. Wat die
swaarste is, moet ook die swaarste weeg. Maar dit maak ons werk
nie oorbodig nie. Dit maak ook nie ons maatreëls vir die toekoms
oorbodig nie. As ons dit maar doen in afhanklikheid van die Here.
In die besef dat dit uiteindelik die Here is wat sorg. Ook al
doen hy dit dan mede dmv ons werk.

Met die kat bely ons dat al ons sorg en arbeid en ook God se
gawes sonder sy seën ons nie kan baat nie. Jy kan werk so hard
as jy wil, sonder sy seën sal dit jou nie baat nie. Jy kan vir
jou oudag spaar soveel as jy wil, sonder God se seën sal dit jou
nie baat nie. Aardse skatte blyk kwesbaar te wees. Die pensioen
gelde kan misbruik word. Die ekonomie kan inmekaar stort. Groot
rampe kan op ons pad kom. Die geldeenheid kan drasties in waarde
verminder. Ens ens.

Ek kan eet soveel as ek wil, die beste versorging kry en tog
baat dit my nie. Ek kry daaruit nie die kragte wat ek daaruit sou
moet kry nie. Want God se gawes gedy nie sonder God se seën nie.
Daarom het ons as kinders leer bid, en leer ons ons kinders bid:
Here seën hierdie kos om Jesus ontwil, amen. Ons is heeltemal
afhanklik van die seën van die Here. As die Here die kos seën,
kan jy soms van min voedsel leef. Wanneer die Here die medisyne
seën kan dit die gewenste uitwerking hê. As Hy die rus seën,
kan jy soms weke aaneen met ’n korte en goeie slaap verkwik
word. Alles is werklik van sy seën afhanklik. In Ps 127 word
bely: As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat
daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak
die wagter. Die werk van die bouer en van die wagter bly
belangrik, God wil dit gewoonlik gebruik. Maar sonder die Here se
seën sal dit niks baat nie.

As jy dit sien en beleef, dan gaan jy jou vertroue van alle
skepsele aftrek en op God alleen stel. Dan word jy minder
afhanklik van mense en omstandighede, maar des te afhankliker van
die Here. Dan kyk jy nie allereers na jou werkgewer of werknemer,
na jou kollegas of vriende nie. Jy is ook minder afhanklik van
die staat van die ekonomie. Jy leer om meer ontspanne te werk en
te lewe. Jy weet dat alles in Vader se hande is, ook die
voortgang van jou werk en lewe of die sukses van jou planne. Daar
is geen rede om paniekerig of gespanne te wees nie. Die Here het
alles in sy hand. Al wat ek hoef te doen is om Hom te dien soos
Hy my in sy wysheid laat dien. My inspanning is nie die
beslissende faktor nie, maar God se inspanning, God se seën.

Broers en susters, Leef dan van dag tot dag in afhanklikheid
van Hom. Vertrou op Vader se sorg. Vader het dit mos belowe. Dit
kan wees dat die toekoms anders verloop as wat jy nou in gedagte
het. Maar by Hom is jy in bekwame en vertroude hande. Almagtige
en getroue Vader hande. Sou Hy jou dan beskaamd laat staan? Durf
om jou toekoms aan Hom oor te laat. Dit gee rus en vrede. Dis ook
die beste aansporing om die uitdagings van die lewe te aanvaar.
Bid en werk. Werk in afhanklikheid van Hom. In die besef dat
sonder sy seën niks sal baat nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)