Die derde bede: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-04-17
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Preek Inhoud: 

Sondag 49

Ds C Kleyn - Sondag 17 April 2005

Lees: Psalm 25; Sondag 49.
Sing: Ps 103:1,2; Ps 150:1,3; Ps 40:3,4; Ps 119:4-7;
Ps 103:10,11.

Tema: Die derde bede: Laat u wil geskied, soos in die
hemel net so ook op die aarde.

  1. Die dwaasheid van hierdie bede
  2. Die wysheid van hierdie bede

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bid onder ’n oop hemel. Christus het die hemel vir
ons oopgemaak. Hy het die kloof tussen hemel en aarde deurbreek.
Nou mag ek met vrymoedigheid toetree tot die troon van God se
genade. My gebed is moontlik en sinvol.

As die hemel toegesluit gebly het, sou daar geen plek vir die
gebed gewees het nie. So sien ons dit ook in ’n sogenaamde
geëmansipeerde wêreld, wat dink dat die hemel gesluit is en
leeg is. As jy nie meer glo in ’n God in die hemel nie dan
is daar vir die gebed geen plek meer nie. As jy die wêreld slegs
as ’n wêreld van die mens sien, dan verdwyn die adres van
die gebed, dan verdwyn die gebed self. Daarom is daar in die
westerse wêreld baie mense wat nie meer bid nie.

In Jesus Christus het egter die hemel vir ons oopgegaan. Hy
het vir ons die vadernaam van God op ons lippe gelê. Hy het ons
geleer hoe ons mag en moet bid.

Die 3 eerste bedes is nou aan mekaar verbind. Die een volg
logies op die ander. Die gebed begin met die bede: laat U naam
geheilig word. Dit is die groot doel wat die gelowige voor oë
het: dat God in al sy deugde geëer en geprys word. Ons leef mos
om te loof. Om dit te bereik, moet God se koninkryk kom, die 2e
bede. Dan moet die mense hulself aan God se koningskap onderwerp.
Dit het dan as gevolg dat God se wil geskied, die 3e bede. Jy kan
dit ook so sê: waar God se naam geheilig word, daar word God as
Koning erken en daar word sy wil volbring.

So sien jy die volmaakte harmonie tussen die eerste drie bedes
van die volmaakte gebed. Tydens sy lewe op aarde het dit Christus
gegaan oor die naam van sy Vader, die koninkryk van sy Vader en
die wil van sy Vader. Christus neem ons daarin saam, ons wat tot
kinders van God aangeneem is. Het dit Christus gegaan om Vader se
naam, Vader se koninkryk en Vader se wil, so gaan dit nou ook die
aangenome kinders om die drie sake. En die drie is een vir elkeen
wat uit God gebore is.

Vanmiddag wil ons stilstaan by die derde van die drie: Vader
se wil. Ek verkondig aan u die derde bede: Laat u wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde.

  1. Die dwaasheid van hierdie bede
  2. Die wysheid van hierdie bede

Is dit eintlik nie dwaas om te bid: Laat u wil geskied nie?
Wie bid nou dat die wil van ’n ander opgevolg sal word. Ja,
wie bid nou teen homself in? Laat u wil geskied beteken immers:
Gee dat nie my eie wil nie, maar dat u wil volbring word. Ek bid
dat ek my eie wil prysgee. Dit beteken soveel as nee teen jouself
sê, afstand doen van jou eie wil; al jou begeertes en verlangens
wat stry teen Vader se wil, prysgee.

Wie gaan nou daarvoor bid? Wanneer ek as smekeling na iemand
gaan, dan vra ek tog om iets waar ek self beter van word? In my
bede lê ek tog my wense voor die Here neer? Ek wil tog hê dat
my wense vervul word? Hoe kan ek dan bid: Gee dat nie my wense
nie maar u wense vervul word? Dit is tog dwaas, om so teen
jouself in te bid?

Gestel dat ek in die samelewing ’n pragtige bevordering
kan maak. Die kanse lê daar om te gryp. Gaan ek dan bid: gee dat
nie my wense nie maar u wense vervul word? Gestel dat ek werklik
kan geniet van bepaalde musiek of vermaak. Ek kan myself heerlik
daarin uitleef. Ek is werklik lus daarvoor. Wie bid dan: Vader,
gee dat nie my wense, nie my verlangens nie, maar u verlangens
vervul word.

Gestel, jy verlang na ’n vriend of vriendin. Dit lyk asof
daar onder die geloofsgenote geeneen vir jou bestem is nie. Op
’n sekere dag ontmoet jy iemand buite die kerk wat die Here
nie liefhet en dien nie. Tog raak jy onmiddellik op die persoon
verlief en groei daar ’n intieme band. Jy weet dat jy alleen
in die Here mag trou. Tog is jy baie lief vir die persoon en kan
jy amper nie sonder hom of haar nie. Gaan jy dan bid: Vader, gee
dat nie my verlangens nie maar u verlangens vervul word?

Ons het almal ons eie wil en wense. Selfs ’n klein
kindjie in die wieg laat sien dat hy ’n eie wil het. As hy
nie sy sin kry nie, dan laat hy dit wel hoor. Dit sit in ons
bloed so te sê dat ons ons sin wil kry. My wil moet opgevolg
word. My wil moet koning kraai. My wense moet vervul word. Hoe
maklik voel ons ons nie beledig as ons wil nie opgevolg word nie.
Hoe dikwels word die onderlinge verhoudings nie versteur deurdat
ons wil geen koning kon kraai nie. As ons of ons mening geïgnoreer
word, dan ontstaan daar baie maklik ’n negatiewe houding.
Ons het dan niks anders as kritiek op die persoon of instansie
wat ons geïgnoreer het nie. Ons kan niks wat positief is meer
raaksien of noem nie. Alles is negatief. Alleen vanweë
persoonlike belediging.

Ja gemeente, ons eie wil is vir ons baie dierbaar. Is dit dan
nie dwaas om te bid: Gee dat ek my eie wil prysgee om aan u wil
gehoorsaam te wees nie?

Weet u nog wel wat Christus oor die volg van Hom gesê het?
"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en
sy kruis opneem en My volg."(Mt 16:24). Harde woorde. Ons
kan dit nog wel aanvaar as dit in die algemeen vir ons gesê word:
jy moet jouself verloën. Jy moet jou nie laat lei deur eie wense
en insigte nie. Volg nie jou eie gedagtes en belange nie, maar
volg die wil van God. So ’n vermaan kan ons wel billik en
aanvaar. Dit klink bekend as daar gesê word: In die kerk gaan
dit nie oor wat jy oulik vind en waar jy lus vir is nie. Dit gaan
oor wat God goed vind en wat Hy wil dat ons sal doen. Omdat dit
so bekend en algemeen is, hoor en voel ons nie meer die skerpte
van die woorde nie. Die gevaar is aanwesig dat ons eintlik nie
deur sulke uitsprake geraak word nie. Ons hoor dit aan en gaan
dan rustig weer oor tot die orde van die dag.

Maar, gemeente, besef u wel dat ons nou nie praat oor ’n
woord van vermaan nie? Ons praat nou oor jou eie bede. Laat u wil
geskied is ’n bede wat jy daagliks self op jou lippe neem.
Dis nou nie ’n ander persoon, ’n ampsdraer of jou
ouers, wat dit van jou vra nie. Nee, jy vra dit self: Vader, gee
dat ek nie doen wat ek wil, wat ek goed vind nie, maar gee dat ek
sal doen wat u wil hê ek moet doen. Die woorde van vermaan het
jy vir jouself eie gemaak en tot inhoud van jou gebed gemaak. Nie
iemand anders nie, maar jyself spreek die bede uit: Vader, nie my
wil nie maar u wil geskied. Gee dat ek in kerk en samelewing my
eise en wense, waaraan ek so geheg is, onderwerp aan u wil, wat
alleen goed is. Gee dat ek nie sommer my verlangens opvolg nie,
dat ek nie sommer doen wat ek plesierig vind nie, maar dat ek
alles toets aan u wil en onderwerp aan u wil.

Broer, suster, seun, dogter, jy bid tog: laat u wil geskied
voordat jy belangrike besluite in jou lewe neem en voordat jy op
pad gaan? Daarmee bid jy in feite teen jouself in. Jy bid teen
jou sondige vlees in. Jy wil wel iets maar jy bid: Vader, nie my
wil nie, maar u wil geskied.

So bid ons ook teen onsself in as dit gaan om ons plek en
houding binne die kerk. Elkeen neem met die tyd so sy eie plek in
en neem sy eie houding aan. Dit stem dan meestal ooreen met waar
jy jouself gelukkig voel: Volop deelnemend aan die kerklike
aktiwiteite of iets meer aan die kantlyn. In albei gevalle word
gebid: Laat u wil geskied. Nie dit waarby ek my gelukkig voel
nie, nie my verlangens en gevoelens nie, maar laat u wil in die
gemeente, in my lewe en houding geskied.

Gemeente, by wie begin ons dan? Nie by die ander persone nie,
maar by onsself. Die Kategismus wys daarop: Gee dat ons en alle
mense ons eie wil prysgee. Nie eers die ander mense nie. In die
praktyk val die laatste ons wel in die smaak. Ons kyk baie maklik
eers na ander mense. Hulle moet eers dit of dat doen, dan sal ek
weer dit of dat doen. As ’n preek baie konkreet is, dan
luister ons maklik vir ander mense. Laat daardie persoon of
persone maar goed luister en doen wat die dominee sê. Maar
onsself? Ons sien onsself maklik oor die hoof, onbewus en tog
opsetlik. Waarom? Wel, dit hoef tog nie vir my gesê te word nie?
Ek wil myself liewer nie onderwerp nie, daar kom dit op die ou
end op neer. My eie wil, gedagtes en gevoelens is vir my te
dierbaar.

Daarom is die bede baie vanpas: Gee dat ons ons eie wil
prysgee om aan u wil sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees.

Maar is die wil van God wel altyd so duidelik? Die Bybel is
wel duidelik. Dit beteken egter nie dat die wil van God vir elke
konkrete situasie sommer aan u aangebied word nie. Daar moet jy
iets voor doen: bid en werk. Ondersoek en oordink die Skrifte.
Praat met medegelowiges daaroor. So sal jy groei in die verstaan
van God se wil vir die konkrete situasie van jou lewe. Daarom, as
jy die derde bede bid, sal jy ywerig wees om te ondersoek wat die
wil van God is. Jy wil sy wil tog opvolg in die konkrete lewe van
elke dag? Dan moet jy die wil tog ken? By hierdie bede pas dus
nie ’n gemaksugtige houding waarby jy alles wel goed vind
nie, jy weet vir jou gevoel wel genoeg. Gemaksugtige Christene is
Christene wat nie werklik erns met die wil van die Here maak nie.
By die 3e bede pas eerder die houding van Ps 25: 2:

Leer my, Heer, u regte weë,
Wys die regte pad my aan;
Maak my hart daartoe geneë,
Om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer,
Lei my dwalende gedagte;
Want U is my heil, o Heer!
U is ek altyd te wagte.

Die voorbede van Paulus in Kolossense 1 is hier ’n bede
van God se volk self. Paulus skrywe:

"Daarom hou ons ook nie op nie, om vir julle te bid en te
vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle
wysheid en geestelike insig." (Kol 1:9). Let op die woorde
"vervul mag word met die kennis van sy wil", julle moet
daar vol van wees.

Die doel van daardie voorbede van Paulus stem ooreen met die 3e
bede: “sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om
Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra
en in die kennis van God mag groei.”

Laat u wil geskied, dit is geen maklike bede nie. Na die mens
gesproke is dit dwaas: wie bid nou dat hy sy eie wil sal verloën
en die wil van ’n Ander sal doen? Jy moet dus goed weet wat
jy bid as jy die bede op jou lippe neem. Jy bid teen jouself in.
’n Dwaasheid in die oë van mense. Maar wysheid in die oog
van God en in die oë van hulle wat uit God gebore is. Daarop wil
ons let in die 2e punt: die wysheid van die bede laat u wil
geskied.

Om die bede teen jouself goed te verstaan, moet jy weet wat
die betekenis van jou lewe hier op aarde is. Wat is ons mense?
Wat is my posisie, my bestemming?

Hoe het God ons mense geskape? God het die mens na sy beeld
geskape. Dit is ons oorspronklike posisie. Ons is geskape as
mense met ’n groot verantwoordelikheid. Weinig minder gemaak
as ’n goddelike wese, sê Ps 8. God het ons laat heers oor
die werke van sy hande, alles het Hy onder ons voete gestel. As
onderkonings mog ons God verteenwoordig, God afspieël in ons
doen en late. Daarvoor het God ons die nodige gawes gegee:
geregtigheid en heiligheid. Ons mense het die vermoë gehad om
met ons wil in alles ooreen te stem met God se wil. So sou ons in
ons heerskappy oor die skepping God se heerlikheid vertoon. Ja,
gemeente, so is ons geskape: so heerlik en hoog verhewe. Dit is
die mens soos hy moet wees.

Wat sien ons egter nog hiervan vandag? Sedert die sondeval is
die situasie radikaal anders. Ek kan uit myself nie meer eg mens
wees nie. Tenminste nie soos God ons in die paradys gemaak het
nie. In plaas van heerser te wees, het ek slaaf geword, slaaf van
die sonde, nie eers in staat om myself goed in beheer te hou nie.
Vanweë die opstand teen God is ek uit myself nie in staat om my
oorspronklike posisie na te leef nie. Ons het onsself verlaag.
Ons kan God se wil nie meer self volbring nie. Ons kan God se
heerlikheid nie meer afspieël in ons doen en late nie. En wat
nog erger is: ons wil dit nie eers nie. Ons is van nature
vervreemd en vyandig gesind skryf Paulus in Kol 1:21. Dit blyk
dan uit die sondige werke.

Daarom is die 3e bede so nodig en wys. Dit lyk pragtig om eie
heer en meester te wees, om te doen wat ek self goed en mooi vind.
Maar dit is juis nie pragtig nie. Om my eie sondige wil te volg
is juis ’n groot vernedering, verlaging van my menslike
bestaan. Ons sou kan sê: daarmee word ek ‘onmenslik’.
Want daarmee lewer ek myself uit aan die sonde. In plaas van
onderkoning van God te wees is ek dan slaaf van die duiwel en van
die sonde.

Daarom, laat nie my wil nie maar u wil geskied. Bevry my uit
die mag van die duisternis waarin ek myself gewerp het. Haal my
weer terug uit die diepte, uit my lae en verlore staat. Ja, dit
moet jou gegee word. "Gee dat ons en alle mense ons eie wil
prysgee om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery
gehoorsaam te wees." Ons kan dit nie self nie. Ons wil
liewers ons eie wil deursit. Daarom, gee dat ons ons wil
onderwerp en u wil opnuut aanvaar. Ja, gee dat ons wil weer in
ooreenstemming met u wil gebring word.

So bid ons dat ons opnuut mag aanvaar die ampsdiens waartoe
God ons kragtens ons skepping geroep het. In die paradys het ons
die diens aan God geweier. Nou leer Christus ons om die diens aan
God weer op te neem.

Hoe kan ons sover kom om die hoë diens weer te aanvaar? Dit
is alleen moontlik deur Jesus Christus. Dit het God behaag om
deur die bloed van Christus vrede te maak en so alles met Homself
te versoen. Deur Christus herstel God alles weer in die regte
verhouding.

So gee Christus ons weer sig op ons oorspronklike heerlike
posisie. As hoof van sy kerk neem Hy ons sy gemeente saam as Hy
ons leer bid: laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op
die aarde. Die oorspronklike verhoudings word herstel. Ons kom
weer terug by ons skitterende paradysamp. Dit beteken dat ons
hier op aarde God weer gaan verteenwoordig, dat ons sy beeld weer
gaan vertoon.

Dan hou ons ons nie afsydig van wat hier op aarde en in die
samelewing gebeur nie. Ons trek ons nie terug nie. Nee, hier op
aarde is ons werkplek. Hier moet die diens aan God weer aanvaar
word. Daarom wys die kategismus na die daaglikse werk "sodat
elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer
soos die engele in die hemel."

Ons weet: God roep ons. Ons is sy dienaars en dienaresse; sy
medearbeiders. En dit in die gewone alledaagse werk. God roep ons
daar tot sy diens. In die gesin, op die kantoor, in die fabriek,
op die bouperseel, by die skool, waar ons ook al ons take het. So
staan die huisvrou in haar gesin, nie as ’n gevangene nie,
maar as ’n dienares van God, bevry van slawerny. So gaan
mans en vroue op pad om hul werk buite die huis te doen as
dienaars en dienaresse van God. Nie langer as slawe van hul werk
of geld nie, geen werkoholiste nie . So gaan ons seuns en dogters
skool of universiteit toe, dienaars en dienaresse van God, geen
slawe van die studie nie. God roep julle almal tot sy diens. Hy
doen dit in antwoord op die gebed wat jy self tot Hom gerig het:
laat u wil geskied. Ons staan met beide voete in hierdie wêreld,
om hier gehoorsaam en bly te werk solank as God ons lewe en
gesondheid gee. Ons oordink hier die dinge wat daarbo is. Dit wil
sê, ons wil ons instruksies van bo ontvang, waar Christus is,
aan die regterhand van God. Dan beywer ek my om vandag Christen
te wees in die kerk en daarbuite. Dan beywer ek my daarvoor om
’n goeie ondernemer te wees, ’n harde en betroubare
werker, ’n ywerige student, ’n getroue ampsdraer. Om
die heerlikheid van my Skepper en Verlosser te laat skitter.

Laat u wil geskied, ons het dit gebid en ons sal dit bly bid.
Dit lyk dwaas om so teen myself in te bid. Dit is egter baie wys.
Ek bid vir die herstel van my heerlike amp van die begin. Ek weet:
alleen God se wil is goed.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)