Jy, wat Vader om vergewing vra, moet Vader se beeld vertoon

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-05-08
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

Sondag 51b

Ds C Kleyn - Sondag 8 Mei 2005

Lees: Efésiërs 4:17-5:2, Sondag 51.
Sing: Ps 116:1-3; Ps 116:4; Ps 116:7; Ps 116:10;
Ps 34:6; Ps 112:1,4,5,6; Ps 133:1,2.

Tema: Jy, wat Vader om vergewing vra, moet Vader se
beeld vertoon

  1. Dit is die voorwaarde vir vergewing
  2. Dit is tewens die vrug van die vergewing

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus leer ons bid: vergeef ons ons skulde soos ons ook ons
skuldenaars vergewe. Is die tweede gedeelte van die bede nie
opvallend nie: soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Hier is ons
besig om die vergewing wat ons van God vra te vergelyk met ons
vergewing van die naaste. Kan dit wel? Ons vergewing van die
naaste is tog onvolkome? Kan ons God se gedrag dan wel vergelyk
met ons gedrag? Omgekeerd sou dit vir ons nie so vreemd gewees
het nie. As daar bv gesê is: laat ons ons skuldenaars vergewe
soos u ons skulde vergewe. Ons moet immers heilig wees soos God
heilig is. Ons moet mos navolgers van God wees. Ons moet mos
vernuwe word na God se beeld. Is dit egter nie vreemd dat
Christus ons leer bid: vergeef ons soos ons ander mense vergewe
nie?

Waarom voeg Christus die laaste woorde aan die bede toe?
Christus wys op die samehang tussen God se vergewing en ons
vergewing. Daar is ’n wisselwerking: As Hy vergewe, vergewe
ons ook, en omgekeerd: as ons vergewe, vergewe Hy ook. Dit gaan
om die gelykenis: soos ons ook vergewe. Jy en jou hemelse Vader
begin hoe langer hoe meer op mekaar te lyk. Vader het jou sy kind
van matelose skuld vrygespreek. Jy gaan op jou beurt ook ander
mense vergewe. Daarin vertoon jy die karaktertrekke van jou Vader.
Jy laat die Vader dan die trekke sien en bid: vergeef my soos ek
in beginsel reeds ander mense vergewe. Herken in my u eienskappe,
u beeld, en vergeef.

Ek verkondig vir julle: jy, wat Vader om vergewing vra, moet
Vader se beeld vertoon

  1. Dit is die voorwaarde vir vergewing
  2. Dit is tewens die vrug van die vergewing

Kan dit wel om ons vergewing van ander ’n voorwaarde vir
Vader se vergewing te noem? Luister maar na Christus se woorde in
Mt 6:14,15. Daar lees ons: "Want as julle die mense hulle
oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.
Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal
julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie." Die een
hang dus van die ander af. As jy nie vergewe nie, dan vergewe God
jou ook nie. Waarom die voorwaarde? God se vergewing is tog
onvoorwaardelik? Ek kan daartoe tog niks bydra nie? God vergewe
my tog slegs uit genade om die verdienste van Christus?

Let daarop, Christus sê nie: omdat julle die mense hulle
oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader ook julle vergewe
nie - Hy praat dus nie oor die grond van die vergewing nie–
maar Christus sê: as julle die mense vergewe. Dit is ’n
groot verskil. "As" laat sien dat sekere omstandighede
aanwesig moet wees. Die Vader vergewe nie sommer in alle
situasies nie. Hy vergewe nie sommer elkeen nie. Nee, daar is
slegs vergewing vir sy kinders, vir hulle wat by Hom behoort. En
waaruit blyk dit dat jy werklik ’n kind van die Vader is?
Uit jou vergewensgesindheid, uit die feit dat jy mense hul
oortredinge vergewe. Wanneer mag jy vra om vergewing? Wanneer mag
jy vergewing van die Vader verwag? Wanneer jy weet dat jy ’n
kind van Vader is en wanneer jy jouself as kind van die Vader wys.

Gemeente, in die tweede deel van die 5e bede sien ons hoe
Christus die grens van sy gebedsgemeenskap trek. Hy het sy
dissipels agter hom aangeroep, die nuwe gemeenskap wat Christus
gaan herskep na die beeld van sy Vader. Niemand leer hierdie
gebed buite Hom om nie. Hy roep ons as ‘t ware in die
Vaderhuis en leer ons om kinders te wees saam met Hom en deur Hom.
Hy leer ons die styl van die Vaderhuis: "Wees julle dan
volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is." (Mt 5:48).
Die Vader het ons, sondaars, deel gegee aan die vergewing van
sondes. Dit werk deur in die lewe van ons sy kinders. As ek
vanuit die vergewing leef, sal ek ook ander mense wil vergewe.
God se woord van vergewing lok my woord van vergewing uit. So
ontstaan daar ’n herstel van die verhoudings, vergewing en
versoening. As ek egter nie die skuld van die ander wil vergewe
nie, dan laat ek blyk dat ek buite Vader se vergewing lewe. En so
ook buite die Vaderhuis wat deur vergewing bestempel is.

Buite God om is vergewing eintlik ’n onbekende saak. Daar
heers bitterheid, haat, woede, toorn en wrok. Vergewing is iets
wat God bedink het en aan ons bekend gemaak het. So is dit in die
Vaderhuis ’n bekende saak. Daar is vergewing en word vir
mekaar vergewe. As jy die karaktertrek van Vader nie het nie, dan
hoort jy nie daar tuis nie. As jy nie bereid is om ander mense te
vergewe nie, dan weet jy blykbaar nie wat vergewing is nie en dan
kan jy ook nie vir vergewing vra nie.

Gemeente, die bereidheid om te vergewe is ’n kenmerk van
die kinders van God. Die apostel Joh skrywe: "Hierin is die
kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen
wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook
wat sy broeder nie liefhet nie."(1 Joh 3:10). "Wie sy
broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van
struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die
duisternis en wandel in die duisternis." (1 Joh 2:10,11). In
die duisternis is daar geen vergewing nie. Vergewing is slegs in
die lig. Joh skrywe verder: "Maar as ons in die lig wandel
soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die
bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde."
(1 Joh 1:7). Net julle wat in die lig van die Vaderhuis wandel,
ontvang dus vergewing en het ook reg om te bid: Vader vergeef
soos ook ek vergewe.

Dit is opvallend dat mense wat baie tolerant teenoor hulself
is, soms baie lastig vir ander mense kan wees. Mense wat nie met
hul eie sondes wil breek nie, praat soms baie oor die skuld van
ander mense. Dit lyk teenstrydig. As ek maklik oor my eie sondes
heenstap, dan gaan ek my tog nie moeilik doen oor die sondes van
ander mense nie? Tog gebeur dit dikwels wel. Hoekom? Wel, as ek
nie wil lewe in die lig van die Vaderhuis, as ek nie my eie
sondes wil bely en nalaat nie, dan het ek gekies vir die
duisternis, duisternis vir myself en vir my naaste. Daarom is
daar die gebrek aan vergewensgesindheid juis by hulle wat nie uit
vergewing wil lewe nie. Sulke persone kan moeilik bid: Vader,
vergeef soos ons ook vergewe.

Broeders en susters, die 5e bede kan ’n gevaarlike bede
wees. Ek kan daarmee God se oordeel oor myself bid. Ons bid
immers: Vader behandel ons soos ons ons naaste behandel. Maar as
ek nou haatdraend is? As ek weier om my naaste te vergewe? Sal
die Vader my dan wel vergewe? Ek bid immers: Vader vergeef ons
soos ons ook vergewe.

Jesus het dit duidelik gemaak in die gelykenis van die
onbarmhartige skuldeiser. Die koning het hom 10,000 talente aan
skuld kwytgeskeld. Maar wat doen hy, aan wie soveel skuld
kwytgeskeld is? Hy gaan na iemand wat hom slegs 100 pennings
skuld en weier om hom enigiets kwyt te skel. Hy werp hom in die
gevangenis totdat hy die skuld sou betaal het. As die koning dit
hoor, sê hy vir hom: "jou slegte dienskneg, al daardie
skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy
nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook
barmhartig gewees het nie?"(Mt 18:32,34). Daarna gee hy hom
in toorn aan die pynigers oor totdat hy sou betaal het alles wat
hy hom skuldig is. As ek weier om te vergewe, dan sal die oordeel
my tref, op my gebed; dan sal my hemelse Vader ook my oortredinge
nie vergewe nie. Ja, besef goed, broers en susters, wat jy sê as
jy bid: Vader, vergeef ons soos ons ook vergewe. Dit kan jou eie
oordeel beteken.

Geliefdes, maar ons vergifnis van die naaste is tog onvolmaak?
Kan ons dit dan wel aan die Vader voorhou? Hoeveel reserwes hou
ons dikwels nie. Ons werp die skuld van die naaste nie in die
diepte van die see, soos God dit doen nie. Ons werp die skuld
liewers in ’n vlak sloot sodat ons ou koeie weer uit die
sloot kan grawe.

Ons ontdek maar ’n klein begin van die nuwe
gehoorsaamheid. Netso rojaal as wat God is, so vitterig is ons
nog. Tog is daar in elk geval ’n begin, ’n belangrike
begin. Die kind wat Vader vir vergewing vra mag in beginsel die
beeld van Vader vertoon. Tydens hierdie lewe sal dit nog
onvolkome, ja, slegs ’n begin, wees. Maar die begin mag daar
wees. Die mense kan reeds sien dat ons kinders van die Vader is.
Dit is tog so, dat mense jou hemelse Vader in jou lewe kan
herken? Jy ken tog en jy vertoon tog die styl van die Vaderhuis?

Nee, ons beroem onsself nie op ons vergewensgesindheid nie.
Dit is net ’n begin. Maar dit is ’n begin van God. Ek
mag God in my besig sien. Uit myself sou ek immers nooit daaraan
toegekom het om te vergewe nie. Vader het dit aan my geleer en
gegee. Ons roem in sy genade. Vader, U het my die genade gegee om
te vergewe, vergeef dan ook my skulde.

Geliefdes, dat dit ’n werk van God self is, blyk ook uit
die 2e punt wat ons wil bekyk, naamlik dat die vertoning van
Vader se beeld ook ’n vrug van die vergewing is.

Die wonder van die vergewing rig iets uit in jou lewe. Dit is
immers onmoontlik dat die gelowige nie vrugte van dankbaarheid
sal voortbring nie, vrugte wat ook bestaan in die vergewing van
mekaar. Ons sal steeds meer en meer die beeld van Vader toon.

Die apostel Paulus roep ons daarom op: "wees dan
navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde,
soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het
as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur."
(Ef 5:1,2). Daarvoor skrywe hy: "Alle bitterheid en woede en
toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam
met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor
mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het."
(Ef 4:31,32). In Kol 3:13 skryf Paulus dit so: "Verdra
mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag
het, soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen."

Paulus gaan daarvan uit dat elkeen van ons ontferming en
vergewing nodig het en dat daar by elkeen van ons iets is wat die
ander moet verdra.

Ons wil hier meestal nie aan dink nie. Ons is in die reël
redelik tevrede met onsself. Moet mense hulle oor my ontferm?
Moet mense my verdra? Ek moet wel dikwels ander mense verdra. Ek
word dikwels gekonfronteer met nare eienskappe en maniere van
ander mense. As daar spanninge of moeites is, dan is ek gou om op
die gebreke en tekorte van die ander persoon of persone te wys.
Ek moet steeds soveel van ander mense verdra. Dit kan tog nie net
van een kant bly kom nie.

Gemeente, is dit dan nie opvallend wat Paulus skryf nie? Hy
leer ons om ons hand in eie boesem te steek. "Wees vol
ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar; verdra mekaar."
Paulus plaas ons langs mekaar. Daar is goeie redes voor. Elkeen
van ons het ontferming en vergewing nodig. Daar is by elkeen van
ons dinge wat ander persone van ons moet verdra, nare of
onhebbelike dinge. As ek myself eerlik en krities in die lig van
God se Woord bekyk, moet ek erken dat ander mense ook baie van my
moet verdra en vergewe. Dit maak my beskeie, geduldig en
barmhartig. Miskien het ek nie sekere negatiewe eienskappe wat
ander mense het nie. By my is daar egter ander dinge wat mense as
negatief ervaar. Ander mense moet my ook verdra.

Gemeente, was daar maar meer selfkennis! Dan sou ons beter in
staat wees om ander mense te verdra. Dan sou ook baie spannings
in die onderlinge verhoudings oorwin kon word. Ook binne die kerk
is ons nog onvolmaak. Ons kan soms baie lastig vir mekaar wees.
Vergewing van God noop egter tot onderlinge verdraagsaamheid. Ons
het saam aan die tafel van die Here gesit. Ons het saam geniet
van die vergewing deur Christus se bloed. As jy bewus die nagmaal
gevier het en so werklik geniet van die vergewing, sal jy
verdraagsaam en vergewensgesind wees. Let op die Here Jesus. Wat
het dit Hom nie gekos en wat kos dit Hom nog steeds nie om dit
met ons, met my uit te hou nie. Terwyl ons nog vyande van Hom
was, het Hy dit vir ons opgeneem, deur Homself selfs tot in die
allerdiepste smaad en angs van die hel te verneder.

Sonder God hou ’n mens dit nie met mekaar uit nie. As
daar spanning in die verhouding kom, gaan mense uit mekaar uit.
In die kerk moet dit anders wees. Daar ken jy tog jou eie skuld
en nood? Daar ken jy tog die vergewing? Daar is dan nog wel baie
onvolkomenheid, kortsigtigheid, struikeling en misverstand, by
onsself en by ander lidmate. Mense kan mekaar – dikwels
onbewus – kwets en irriteer. Maar Christus se onbegryplike,
rojale, liefde dwing ons tot wederliefde. As ek weet wat Christus
vir my oorgehad het – omdat ek self vuil, skuldig en
onvolkome is – dan sal ek die ander lidmaat in liefde verdra.

Dan vergeef ek ook rojaal. "Verdra mekaar en vergewe
mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus
julle vergeef het, so moet julle ook doen." Om mekaar te
vergewe is nie eenvoudig nie. Laat staan nog om mekaar tot
sewentig maal sewe toe te vergewe, soos Christus gesê het. Kan
ons dit wel doen? Ja, jy kan as jy werklik verwonderd is oor die
prys wat Christus vir jou betaal het, sy kosbare bloed. Jy kan as
jy werklik uit vergewing lewe. Hoe oorweldigend is die vergewing
wat jy ontvang het en nog daagliks ontvang. Sou julle mekaar dan
nie net so radikaal en rojaal vergewe nie. Wat jy die ander moet
vergewe is niks in vergelyking met wat die Here jou vergewe het
nie. Die verhouding is soos enkele sente teenoor honderde
duisende rande.

Gemeente, laat ons bid, opreg bid: vergeef ons ons skulde soos
ons ook ons skuldenaars vergewe. Leef ooreenkomstig jou bede.
Leef werklik uit die vergewing. Toon die beeld van jou Vader ook
hierin dat jy self vergeef. Nie karig, met voorbehoud nie, maar
rojaal en van harte. Dan sal die kerk ’n huis vol vergewing
wees, ’n huis wat deur die vergewing gekenmerk word. ’n
Huis waar die styl van Vader sigbaar en voelbaar is.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)