Die eerste bede.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-03-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Preek Inhoud: 

Sondag 47

Ds C Kleyn - Sondag 20 Maart 2005

Lees: Psalm 8; Sondag 47.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 145:1-3;
Ps 99; Ps 145:10-12.

Tema: Die eerste bede.

In die eerste bede vra ons ons Vader dat ons

  1. Hom as die heilige sal ken;
  2. Hom as die heilige sal herken; en
  3. Hom as die heilige sal erken.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons begin ons gebed met die aanspraak: ons Vader wat in die
hemel is. Nie net: God nie, maar: ons Vader. Dit wys o[
vertroulikheid, kinderlike ontsag en vertroue.

So ’n aanspraak sal ook die inhoud van ons gebed bepaal.
As ek eenmaal uitdrukking gegee het aan my kinderlike vertroue in
God, gaan ek alles ook in die lig van daardie verhouding stel.
God is my almagtige Vader. Hy het sy naam aan my naam verbind.
Reeds by my doop. Vir die bondsvolk beteken God se naam alles.
Dit het die hoogste prioriteit. Die naam is vir jou dierbaar, bo
enigiets anders. Daarom leer Christus ons om allereers te bid:
Laat u naam geheilig word.

Dis ons eerste geestelike en liggaamlike behoefte. Om God se
naam te heilig is die belangrikste doel van die lewe. Daartoe het
God ons geskep en herskep. Daarom het Hy ons in sy verbond
opgeneem. Dis die hoogste doel in hemel en aarde. Daarom bid ons
allereers: laat u naam geheilig word.

Laat ons nou dan gaan kyk na die eerste bede.

In die eerste bede vra ons ons Vader dat ons

  1. Hom as die heilige sal ken
  2. Hom as die heilige sal herken
  3. Hom as die heilige sal erken

Is dit nie vreemd om te vra dat ons God as die Heilige sal ken
nie? Ons het God reeds as ons Vader in die hemel aangespreek. Om
God so aan te spreek moet jy Hom tog reeds ken?

Tog, geliefdes, bly dit nodig om vir die kennis te bid.
Christus leer ons bid: laat u naam geheilig word, mag u naam as
heilig geëer word. Om God as die Heilige te loof, moet ek Hom
eers as die Heilige ken. En dis nie iets wat vanself gaan nie.
Van nature is ons blind. Sonder God se sorg sou niemand hom reg
ken nie.

In sy sorg maak God Homself steeds weer aan ons bekend. In die
voltooide Bybel. Daardeur kan ek God reg leer ken. Wanneer ek bid:
laat u naam geheilig word, beteken dit daarom dat ek erns met die
Skrif maak. Is dit wat jy doen? Die Skrifte ernstig opneem, dit
ywerig lees en bestudeer? Om jou God reg te leer ken?

’n Mens kan tog nie met ’n goeie gewete bid: mag ons
u reg ken, terwyl hy nalatig is om die Skrif te lees en te
ondersoek nie. Om God se naam te heilig, moet ek God se naam ken.
En om dit te ken, moet ek steeds weer luister na wat God oor
Homself sê. Aandagtig luister.

Broers en susters, die Skrif sê baie oor God se naam. Die
naam van God is nie soos ons name nie. Ons name sê gewoonlik
niks oor ons persoon nie. Miskien is jy vernoem na iemand in die
familie of miskien het jy ’n naam ontvang wat jou ouers mooi
vind. Maar dit sê niks oor jou nie. Dis net ’n naam. Dis
anders met God se naam. God se naam is God self soos Hy homself
bekend gemaak het. God het homself as die Heilige bekend gemaak.

Wat beteken dit dat God die Heilige is? Hier moet mens nie in
die eerste plek dink aan die negatiewe aspek van die woord nie,
naamlik dat God totaal anders is, dat Hy teenoor die sonde staan
en vry van sonde is. Die heiligheid van God verwys eerder na dit
wat God God maak, sy goddelikheid. Dit behels inderdaad sy
opposisie teen alle sonde en sy verhewe majesteit. God is
absoluut uniek, onvergelykbaar. Hy is God.

Geliefdes, die kat vra tereg ons aandag vir God se deugde. God
en sy deugde is een. God is sy deugde. God se heiligheid, sy
goddelikheid is die som van al sy goddelike kwaliteite.

Die deugde word duidelik in die Skrif geteken. God vertel ons
van sy almag. Dink aan sy skepping van die wêreld en sy
onderhouding van alles. Dink aan sy bevryding van sy volk Israel.
Wat ’n almag! Niks is onmoontlike vir hom nie. Hy skep dinge
uit niks. Hy maak dooies lewend. Die Skrif teken God duidelik as
die almagtige. Lees dit steeds weer opnuut. Dis hoe jou God is.

Die Skrif wys ook op God se wysheid. Hoe mooi het God nie alle
dinge geskep nie en allerlei strukture in plek gesit. Hoe wys was
God in die manier waarop Hy die verlossing van sy volk bewerk het.
Nie dat dit altyd op daardie oomblik duidelik was nie. Dink net
aan Josef wat deur sy broers verkoop is en hoe hy in Egipte in
die tronk beland het. Daardie tyd sou jy kon gedink het: dit maak
nie sin nie. Maar dit was deel van God se wyse plan. Josef noem
dit later vir sy broers: “God het my voor julle uit gestuur
om vir julle ’n oorblyfsel op die aarde te verseker en om
julle in die lewe te hou tot ’n groot verlossing” (Gen
45:7). Israel se verblyf in Egipte 450 jare lank, het so onwys
gelyk, maar dit het die pad voorberei vir die wonderlike eksodus
en die wonderlike inname van Kanaän. Hoe wys is God in sy planne.
Die Skrif maak dit duidelik.

Ons leer ook van God se goedheid. In sy goedheid laat God sy
son skyn oor alle skepsels. Hoe goed is God dat Hy hom bemoei met
ons, sy sondige skepsels, dat Hy vir ons sorg en selfs vir ons
gee om oor die werke van sy skepping te heers.

Die Skrif leer ons God se geregtigheid. Hy is regverdig in
alles wat Hy doen. Ook in die bestraffing van die goddeloses en
in die verlossing van sy kinders. Hy tolereer geen sonde nie.
Terselfdertyd wys Hy sy barmhartigheid. Deur sondaars in Jesus
Christus te vergewe. Weet jy waar jy sy geregtigheid en sy
barmhartigheid die beste sien skitter? Aan die kruis op Golgota.
God se toorn teen die sonde is so groot dat Hy – eerder as
om dit ongestraf te laat bly - sy geliefde Seun Jesus Christus
met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het. Daar wys Hy
sy geregtigheid en sy barmhartigheid vir sondaars. So het God aan
sy reg voldoen sodat Hy my my sondes kan vergewe. Maak nie saak
hoe groot ’n gemors ek van my lewe gemaak het nie, ek mag
tot Hom gaan en barmhartigheid verkry. Dink aan die gelykenis van
die verlore Seun, die geskiedenis van Dawid en die tollenaar. Wat
’n barmhartige God het ons.

Ten slotte noem die kat God se waarheid. In ’n
onbetroubare samelewing waar jy nooit ten volle op mense kan
staatmaak nie, is daar een op wie jy altyd kan staatmaak. God hou
altyd sy woord. Hy vervul sy belofte. Lees maar net die Bybel.
Ons kan aangaan met die noem van God se deugde. Die Skrif is vol
daarvan. Laat die Skrif jou wys tot saligheid maak. Daarvoor is
dit vir jou gegee.

Geliefdes, wanneer jy bid: laat u naam geheilig word, vra jy
allereers aan God dat jy Hom as die Heilige sal ken. Gee
allereers dat ons U reg ken. God het inderdaad homself duidelik
in die Skrif bekend gemaak. Maar ek belemmer dikwels die sig
daarop. Dikwels neem ek nie die tyd om goed te luister na wat God
oor homself sê en daaroor na te dink nie. Ons maak vinnig ons
gevolgtrekkings. So vorm ons maklik ons eie beeld van God, sonder
om noukeurig te luister na wat God self sê. Dan skryf ons dinge
aan God toe wat heeltemal nie by hom pas nie, wat in stryd met sy
deugde is. Dan ontvang God die skuld wanneer dinge nie gebeur
soos ons dit in gedagte gehad het nie. Ons laat ons so maklik lei
deur ons ervarings, deur wat ons hier sien en beleef. Daardeur
word die sig op God verduister. Daarom moet ons steeds weer van
ons blindheid en kortsigtigheid bevry word. Daarom moet ons
voortdurend bid: gee dat ons u reg ken. Net dan sal ek in staat
wees om God ook as die Heilige te herken.

Geliefdes, as jy eenmaal God in sy heiligheid ken, sal jy Hom
ook kan herken in hierdie wêreld. Dis die tweede gedagte: ons
bid dat ons God as die Heilige sal herken.

God se naam is nie abstrak of vaag nie. Nie iets waaroor jy
kan praat of skryf sonder om dit te ervaar, te sien of te voel
nie. God se naam is sy faam. Hy het ’n reputasie wat skitter
in al sy werke. Jy kan sy deugde herken in alles wat Hy doen.
Daardie werke onthul sy groot en heerlike naam. Jy sien sy hand
in alle dinge. Jy herken hom in seëninge en oordele. Jy herken
hom in jou daaglikse ervarings.

Die digter van Ps 8 herken God se heerlike naam in die
skepping. Ps 8 is ’n lofsang waarin God se deugde verheerlik
word. Dawid prys God se grootheid, sigbaar in die in die hemele
en in die lewens van kinders en suigelinge. Hy prys God se
goedheid vir die mens deurdat Hy hom so ’n hoë posisie in
die skepping gee.

Dawid verstaan die boek van die natuur. Hoekom? Omdat hy eers
die boek van God se selfopenbaring ontvang het, die Skriftuur.
Dawid behoort mos by God se verbondsvolk vir wie God sy spesiale
openbaring gegee het. Daarom herken Dawid sy God in sy
heerlikheid.

Die hemele verkondig sy eer. Wanneer jy die son, maan en
sterre sien, daardie ontelbare sterre, is jy verbaas, verwonderd.
Wat ’n groot God. Om net te dink dat Hy al die sterre in
plek gesit het en dat Hy hulle in hul bane lei. Dieselfde geld
wanneer jy na alles op die aarde of in die seë kyk. Daar is te
veel om te sien. ’n Mens raak nooit uitgekyk nie. Wat ’n
wyse en almagtige God het ons. Wanneer Dawid die posisie van die
mens op aarde sien – sy mag oor die skepping –
verheerlik hy nie die mens nie. Nee, in geloof sien Hy sy groot
God wat dinge so gemaak het. Dawid sien die mens in die regte
perspektief as ’n skepsel, afhanklik van God, deur God in
die posisie gestel. Daarom sing Dawid – hoe anders is sy
lied as die lied van die moderne mens – “wat is die
mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat u hom besoek? U het
hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom
met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke
van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste,
die almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die
hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die
see.” Hieruit konkludeer Dawid: “o Here, onse Here, hoe
heerlik is u naam op die ganse aarde.”

Hoe goed is God dat Hy aan die mens dink en hom met eer en
heerlikheid kroon. Hoe goed is God dat Hy ons so baie mag en
moontlikhede gee.

Geliefdes, van nature is ons geneig om net op die mens en sy
moontlikhede te fokus en om die mens daarvoor die erkenning te
gee. Om God in my daaglikse lewe te herken, moet daardie
natuurlike blindheid en kortsigtigheid verwyder word. Daarom bid
ek: laat u naam geheilig word. Gee dat ons U reg ken en herken.
Leer my om U ter herken wanneer ek in u skepping rondstap en
aangaan met my daaglikse lewe en take. Leer my om U grootheid en
goedheid te herken wanneer ek my studies volg, ook wanneer ek bv
rekenaarstudie doen of kuns of enige ander vak wat ek moet doen.
Seën daarom alle gereformeerde onderwys en alle ander onderwys.
Leer ons om u deugde te herken wanneer ons in u wêreld en
skepping besig is.

Leer ons om u te herken in die ontwikkelinge van die wêreld,
van ons land, en in die ervarings in ons eie lewe. Ook in ons
lyding en pyn. Laat ons tog u almag sien, u wysheid, goedheid,
geregtigheid, barmhartigheid en waarheid. Nee, dis nie altyd
maklik nie, veral wanneer jy teenslag ervaar, wanneer jy baie
swaarkry. Die wolke kan die uitsig verhinder. Daarom, leer ons om
dit tog weer te sien. Om U hand in alles te herken. Om te sien
dat u besig is om u wyse plan uit te voer. Om u te sien in u
goedheid, selfs in die midde van my lyding. Want u wys ook dan
nog steeds u sorg en troos. Laat ons u geregtigheid en
barmhartigheid sien. Ja, ook u geregtigheid. Tydens my
beproewings en lyding het ek geen rede om U van onreg aan te kla
nie. Want ek het gesondig. Alles in feitelik verdien. U bly my
herinner aan my sonde en mislukking. Tegelyk herinner u ons aan u
barmhartigheid. Want ons lyding is nie die einde van alles nie. U
wys barmhartigheid aan sondaars wat tot u vlug. Hierdie lyding is
net tydelik en ten dele. U vergeef ons sondes en vernuwe ons
lewens ewig, sodat die ewige lewe ons deel kan wees. Laat ons u
herken in u waarheid. Want alles gebeur volgens u eie woord. Die
lyding van die teenwoordige tyd is nie vreemd nie. U het ons eeue
gelede daarvan vertel en u het duidelik gemaak dat dit die pad na
heerlikheid is. Mag ons voortdurend u deugde in al u werke herken.
Mag ons hulle dan ook erken, U roem en prys. So kom ons by die
derde gedagte: ons bid dat ons God se heiligheid sal erken.

Wanneer jy God in al sy werke herken, kan jy nie stilbly nie.
Jy word gedring om God te roem en te prys. Dan skaam jy jou nie
voor Hom nie, maar dan prys jy Hom soos die Psalmis dit gedoen
het, toe hy in God se pragtige skepping rondgekyk het. Dan sal jy
God se naam daarby betrek wanneer jy praat oor daagliks
gebeurtenisse. Dan sal jy jou vertroue in God en jou dank aan Hom
uit. Dan sal jy mense na jou God verwys tydens jou studies of by
jou werk: watter groot dinge het God ons gegee. Of wanneer jy
groot rampe op aarde sien: wat ’n vreeswekkende God het ons.
Of wanneer jy van siekte herstel: God het die behandeling geseën
en my genesing gegee. Ja, mense kyk jou miskien wat snaaks aan
wanneer jy God in jou daaglikse gesprekke noem. Hulle is dit dalk
nie gewoond nie. Maar geliefdes, as jy God se naam nie noem nie,
wie moet dit dan doen? En jy bid daar tog vir: Laat u naam
geheilig word.

Broers en susters dit is nie net ’n saak van woorde nie.
Hoe belangrik die woorde ook al is. Dis ook ’n saak van dade.
Ons Kat sê so mooi: “Gee verder dat ons ons hele lewe,
gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam om ons ontwil
nie gelaster nie maar geëer en geprys word.

As God se naam eenmaal dierbaar vir jou geword het, sal jy
alles in jou vermoë wil doen om sy naam te eer en te prys. Dit
sal jou versigtig maak in die manier waarop jy optree en praat.
Want jy kan maklik ’n oorsaak daarvan wees dat sy naam
gelaster word. Dink net aan ’n gedrag wat nie by jou geloof
en belydenis pas. Ongelowiges sien dit skerp. Hulle hou jou dop.
Wat moet hulle dan dink van Christene wat hul belydenis nie in
praktyk bring nie? Christene wat Sondags ’n mooi skyn ophou
maar in hul huislike of daaglikse lewe op ’n onchristelike
manier optree? Wat moet hulle dink van die kerkgangers wat nie
eerlik in hul werk of besigheid is nie en onbetroubaar? Wat moet
hulle dink van hulle wat keurig in die kerkbanke sit, maar by die
skool, by die werk of tuis op ’n wêreldse manier lewe? Dit
sal mense daartoe bring om op die christendom neer te sien, dis
niks werd nie en wat nog erger is sal hulle op God neersien. Dan
is ons die oorsaak daarvan dat God se naam gelaster word.

Onthou, geliefdes, jul eerste bede: laat u naam geheilig word.
Jy bid daarvoor dat jy jou hele lewe, gedagtes, woorde en werke
daarop sal rig dat God se naam geëer en geprys word. Jy wil hê
dat mense van daardie naam hoor en dat hulle saam met jou dit sal
prys. Jy bid vir die vervulling van Christus se opdrag: “Laat
julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan
sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Ja,
jy wil hê dat mense jou Vader, wat in die hemele is, verheerlik.
Sy naam is vir jou baie dierbaar.

In Ps 8 noem Dawid dat selfs kinders daarin deelneem. Lof uit
die mond van kinders is meer en sterker as die teenstand van die
vyande. Selfs die woorde van daardie klein kinders is in staat om
die onmag van God se hoogmoedig vyande bloot te lê. Hulle wys op
ons groot en magtige God. En in die lig daarvan word vyande
stilgemaak. Wat kan hulle maak teenoor so ’n groot en
almagtige God? Daarom is dit so ’n pragtige taak om jou
kleintjies oor God te leer. In hul eenvoud vorm hulle ’n
groot en magtige leër in God se koninkryk. Hulle beskaam dikwels
grootmense. Waar ons stilbly, praat hulle soms onbevange oor ons
God. Hulle sê vryuit vir die mense waar dinge op staan: God het
dit of dat gedoen. God het ons ’n boetie of sussie gegee.
God het ons boetie of sussie tot hom geneem. God wil dat jy dit
of dat doen. God wil hê dat jy kerk toe gaan ens ens. Pragtig
hoe hulle onbevange God se naam heilig waar ons soms aarsel.

Geliefdes, laat die eerste bede julle bly herinner aan die
hoogste doel van julle lewens: naamlik om God te verheerlik.
Julle leef om God te loof. Daarin staan ons dikwels onsself in
die pad. Bly daarom bewus bid: gee dat ons u uit die Skrif reg
sal ken. Gee dat ons U in al u werke sal herken. Gee dat ons, in
al ons gedagtes, woorde en werke, U sal erken, U sal roem en prys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)