Engele verkondig die evangelie van Christus, die Lewende.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-03-27
Text: 
Lukas 24
Preek Inhoud: 

Lukas 24:5b, 6a

Ds C Kleyn - Sondag 27 Maart 2005

Lees: Lukas 23:50-24:12.
Sing: Ps 96:1,2,3; Ps 96:5,6; Ps 21:1-3; SB 10;
Ps 118:7,8.

Tema: Engele verkondig die evangelie van Christus, die
Lewende.

  1. Die verloëning van Christus as die Lewende; en
  2. Die oorwinning van Christus as die Lewende.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Toe die Here Jesus in Betlehem gebore is, het engele verskyn
om die goeie nuus te versprei. Daardie engele was nodig om die
geboorte en sy betekenis bekend te maak. ’n Engel het na die
herders gekom met die feestelike berig: “Ek bring julle
’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal
wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die
Saligmaker wat Christus, die Here, is.”

Maar, gemeente, wat sien ’n mens van die groot blydskap
33 jare later, as dieselfde Saligmaker aan die kruis hang en
sterf? Ja, ons weet dat Christus moes ly en sterwe om vir ons
sondes te betaal. Dis rede genoeg om bly te wees. Daarom praat
ons ook van goeie Vrydag, hoe verskriklik die Vrydag ook vir die
Here Jesus was. Maar hoe het die mense wat met die Here Jesus
opgetrek het, dit ervaar? Die 11 dissipels en die groep vroue wat
Hom vanuit Galilea gevolg het? Vir hul gevoel het die groot
blydskap vir die hele volk lelik verkeerd gegaan. In hul
teleurstelling en verdriet kan hulle nog nie hul Here Jesus
loslaat nie. Hulle hou nog aan Hom vas. Ja, hulle hou aan Hom vas
as ’n oorledene, oor wie hulle rou bedryf.

Dan keer die engele terug. Die groot blydskap moet bewaak
word, moet opnuut as werklikheid ervaar word. Dit het nie misluk
nie. Allermins! Die harte moet vir daardie werklikheid oopgemaak
word. Die bedroefde vroue en dissipels van toe en ons vandag moet
weet: ons leef nie by die gedagtenis van ’n dooie Jesus nie,
maar by die woord van die lewende Jesus. Dis die goeie nuus wat
die engele tydens die Paasoggend deurgee.

Ek verkondig vir julle:

Engele verkondig die evangelie van Christus, die Lewende

  1. Die verloëning van Christus as die Lewende
  2. Die oorwinning van Christus as die Lewende

Op die eerste dag van die week, baie vroeg in die oggend, neem
die vroue die speserye wat hulle toeberei het en gaan graf toe.
Wie daardie vroue is, kan ons nie presies vasstel nie. Vers 10
noem drie name, maar daar was meer: En dit was Maria Magdalena en
Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam
met hulle. Dalk was daar 5 of 6 vroue. Dit was ’n groep van
vroue wat reeds langer tyd met Jesus opgetrek het. Ons lees in
Luk 23:49 dat hulle Hom van Galilea gevolg het. Hulle word reeds
in Lk 8:2,3 genoem. Tydens sy reise deur stede en dorpe was hulle
deel van sy vaste groep volgelinge.

Toe die tyd nader gekom het dat Jesus opgeneem sou word en
Jesus vasbeslote die reis na Jerusalem begin het (Lk 9:51), het
die vroue nie afgehaak nie. Ondanks die feit dat Jesus hulle
vantevore vertel het wat in Jerusalem met Hom sou gebeur: Hy moet
baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en
skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.
Blykens die woorde van die engele in vers 7 van ons teks moet die
vroue die aankondiging van Christus se lyding ook gehoor het. Tog
het hulle nie afgehaak nie, maar Hom trou gebly. Selfs as Jesus
aan die kruis sterf, verlaat hulle Hom nie. Hulle bly op ’n
afstand dophou wat met hul Meester gebeur. Hulle is ook getuies
van sy begrafnis. Na die vertrek van Josef en Nikodemus bly hulle
agter en gaan reg voor die graf sit as ’n soort erewag.

Hul lojaliteit teenoor die Here Jesus is so groot dat hulle
dit nie daarby laat nie. Hulle wil Hom ook eer deur sy liggaam so
goed as moontlik te versorg. Hulle kan dit nie onmiddellik doen
nie. As godvresende vroue wat die wet onderhou, wag hulle totdat
die Sabbat verby is. Maar sodra dit sover is, mors hulle geen tyd
nie. Baie vroeg in die oggend is hulle reeds by die graf met die
speserye wat hulle vir hul plan nodig het.

Gemeente, dis opvallend dat ons, tydens hierdie vroeë ure,
nog niks van die dissipels hoor nie. Al die evangelies benadruk
dat die vroue die eerstes is om in beweging te kom. Nie dat die
dissipels hul geliefde Meester vergeet het nie. Hulle lyk eerder
gebroke te wees en bang. Deur hierdie vroue hoor hulle die berig
van Christus se opstanding.

Dis pragtig om te sien hoe die Here vroue inskakel in sy werk.
Hulle hoef nie allerlei verantwoordelikhede van die dissipels oor
te neem nie. Net die dissipels sal apostels word, die fondament
van die kerk. Maar die vroue word wel gestuur om die dissipels in
aksie te bring. Sodat hulle kan wees wat hulle moet wees. Die
vroue moet die groot nuus van Pase vir die dissipels deurgee.
Christus gee hulle ’n eie plek en taak in sy diens. ’n
Belangrike taak. Dit word ’n totaal ander rol as wat hulle
in gedagte gehad het toe hulle daardie oggend graf toe gegaan het.

Wanneer die vroue by die graf kom, vind hulle die graf leeg.
Hulle het nie daarop gereken nie. Wat ’n skok. Hulle is
perpleks en buite raad. Daar staan hulle met hul speserye, hul
blyke van liefde en eer. Hulle weet nie wat om te maak nie.
’n Hopelose groep vroue, verwar en perpleks, wat saamdring
in die klein halfdonker graf.

Het hulle dan alles wat Christus vir hulle gesê het, vergeet?
Het hulle nie met Hom opgetrek nie? Het hulle sy dade nie gesien
en sy woorde nie gehoor nie. Hoe Hy byvoorbeeld vir hulle gesê
het: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” En:
“Soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun
ook gegee om lewe in Homself te hê.” En nog baie ander
woorde. Hulle kon van te vore geweet het dat hul Meester aan die
kruis sou beland. Ja, hulle kon ook geweet het dat sy dood en
begrafnis nie die einde sou wees nie. Hy moes mos ook op die
derde dag opstaan. Maar dit kom nie in hul gedagtes op nie. Daar
is net een ding wat hulle op hierdie oomblik besig hou: Christus
se liggaam kan nêrens gevind word nie. Wat moet hulle nou doen?

Hoekom is dit so? Dis omdat hulle weier om Christus as die
Lewende te sien. Hulle staan daar met die speserye om sy dooie
liggaam te salf. ’n Duidelike bewys van hul verloëning van
Christus as die Lewende. Hul verloëning van Hom wat juis as die
Lewende sy lewe opoffer het en die mag van die dood kom breek het.

Moenie dink, broers en susters, dat ons beter as die vrou is
nie, dat dit ons nie sou oorkom nie. Hoe gaan dit wanneer ons
verdrietig, teleurgestel, bekommerd, verwar, gefrustreer of bang
is? Hoe gaan dit wanneer ons lewe so te sê in mekaar tuimel en
ons die gemors sien wat ons van ons werk, lewe, huwelik of gesin
gemaak het? Sien en ervaar ons in daardie omstandighede Christus
werklik as die Lewende?

God gryp in om die ongeloof en verleentheid van die vroue te
oorwin. Skielik sien die vroue twee manne by hulle staan. Die
half donker graf word opeens verlig. Die klere van hierdie manne
straal soos weerlig. Hulle is hemelse boodskappers, engele. Dat
Mt en Mk net een engel noem beteken nie noodwendig dat volgens
hulle daar beslis nie meer as een engel was nie. Dikwels word net
die woordvoerder genoem en nie die ander wat hom vergesel nie.
Bevrees deur hierdie verblindende hemelse verskyning buig die
vroue hul gesigte diep na die aarde toe.

Broers en susters, vandag hoef ek nie ’n engel te ontvang
om my oë vir die Lewende oop te maak nie. Tensy ek die persoon
wat my die blye boodskap in herinnering bring as ’n engel
wil sien. Die persoon is in ieder geval een van God se
boodskappers. Vandag het ons die Bybel, die woord van die lewende
God, die prediking, die Christelike getuienis van ’n vriend
of familielid. So bly God in my lewe ingryp sodat ek steeds
opnuut sou besef dat Christus werklik die Lewende in, ook in my
nood en stryd.

Op die nag van Christus se geboorte was die herders verskrik
toe die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn het. Hulle
het toe die goeie nuus van Jesus se geboorte ontvang. Net so kom
die engele op die Paasoggend met die goeie nuus van groot
blydskap: Jesus het opgestaan.

Deur hul vraag: waarom soek julle die Lewende by die dooies,
onthul die engele die dwaasheid van die vroue. Dink hulle werklik
dat Jesus nog onder die dooies gereken moet word? Hy is tog die
Lewende?

Wat bedoel die engele hiermee? Verwys die Lewende net na die
feit dat Christus Jesus dood was maar nou weer leef, dat Hy uit
die dood opgestaan het? Dit sou so gewees het indien die engele
eers die vroue vertel het dat Jesus opgestaan het en daarom nou
die Lewende is. Maar dit is nie die geval nie. Dis juis omgekeerd.
Dus nie: Christus het opgestaan, daarom is Hy nou die Lewende
nie, maar: Christus is die Lewende, daarom het Hy opgestaan. Dat
Christus die Lewende is iets wat hulle kon geweet het. Het
Christus nie gesê: Ek is die weg, die waarheid en die lewe nie.
Hy is die lewe self. Hy leef van ewigheid tot ewigheid. Hy is die
lewende God.

In die OT word die Here God dikwels as die Lewende geteken
teenoor die dooie afgode. Wanneer die afgode dood genoem word,
wys dit nie net op die feit dat hulle nie bestaan nie. Dit
beteken ook dat hulle magteloos is. Hulle kan niks doen nie,
hulle kan nie red nie. Die Here God alleen is magtig en aktief om
te red. Hy is die Lewende. Die Here leef. Die Here werk. Die Here
red. Hy gryp voortdurend in om sy volk te red. Die Egiptenare het
dit ontdek toe hulle Israel moes laat gaan. Wat ’n kontras:
die lewende God van Israel en die dooie afgode van Egipte. Die
inwoners van Kanaän het dit ook ontdek toe Israel Kanaän in
besit geneem het. Die Here God het Homself bewys as die Lewende,
die Verlosser van sy volk. So kon Dawid die uitdaging van die
reus Goliat aanvaar in die naam van die lewende God.

Broers en susters, tydens sy bediening op aarde het Christus
homself as die lewende voorgestel. Hy het dit ook bewys. Hy het
aan die blindes gegee dat hulle weer kon sien. Hy het kreupeles
laat loop. Hy het melaatses genees, dowes weer laat hoor, dooies
opgewek en die goeie nuus aan die armes verkondig. Ja, nuwe
kragte het in Jesus Christus sigbaar geword. Terwyl alles in die
kerk van daardie dae doods geword het, het Christus nuwe lewe en
perspektiewe gegee. Hy het homself gewys as die Lewende, die
aktiewe verlosser van sy volk.

Die vroue moes dus uit Christus se woorde en dade geweet het
dat Christus die Lewende was. Tog verloën hulle daardie
werklikheid deur Hom onder die dooies te soek. Hulle wil hul Heer
eer. Dis pragtig, maar dis dwaas om dit in die graf te doen, in
die ryk van die dooies. Want die graf kon Hom die Lewende God,
die almagtige Verlosser, nie vashou nie.

Gemeente, indien die vroue moes geweet het dat Christus die
Lewende is, hoeveel te meer ons vandag. Tog kan dit sommer gebeur
dat ons in die praktyk van die lewe Hom as die Lewende verloën.
In ons stryd met die sonde en die gebrokenheid van ons aardse
bestaan kan ons soms sommer maak asof Christus nie die Lewende is
nie. Ons maak dan asof Christus ook magteloos is om te help, net
soos die afgode. Asof daar vir ons geen hulp en uitsig is nie.

Nou die tweede gedagte: die oorwinning van Christus die
Lewende.

Geliefdes, die engele wys die verskrikte vroue nie net tereg
nie. Hulle bemoedig ook die vroue, verras hulle met die goeie
nuus. Ek bring vir julle goeie tyding van groot blydskap. Die
leeg graf is geen verdrietige saak nie, maar rede tot groot
blydskap.

Die Here Jesus het aan die kruis alle geregtigheid vervul, die
sondeskuld volkome betaal. Daarom kon Hy uitroep: “dit is
volbring” en “Vader in u hand gee Ek my gees oor.”
Selfs toe Jesus die liggaamlike dood gesterf het, het die
Lewende, God almagtig, gebly. Hy moes begrawe word. Om sy
gehoorsaamheid tot die einde toe te wys, self tot die vernedering
van ’n begrafnis. Deur sy gehoorsaamheid het Hy die mag van
die dood gebreek. Die dood kon nie langer op Hom aansprake maak
nie. Die straf was ten volle betaal. Daarom het Hy op die
Paasoggend as die Lewende opgestaan, almagtig om te red. Hy was
in beheer van begin tot einde. Daarom kon die dood Hom nie vashou
nie. As die Lewende hoort Hy nie tuis onder die dooies nie. Hy
staan op. Sy oorwinning is sigbaar tydens die Paasoggend; dit
word deur die engele bekend gemaak: Hy is nie hier nie, Hy het
opgestaan.

Dis net ’n kort, eenvoudige boodskap. Maar met goddelike
krag word die oë vir die ongelooflike groot blydskap van Pase
oopgemaak. Vrees en verwarring kan verdwyn. Daarvoor is geen plek
meer nie. Wees bly, dis ’n feesdag, meer as ooit tevore, ook
al is Christus die Lewende nie hier waar julle vir Hom soek nie.
Julle soek op die verkeerde plek. Dis nuttelose en dwaas. Die
Lewende het opgestaan. Hy is nie net opgewek nie, maar Hy het
self opgestaan. Hy het in eie krag uit die graf gegaan. Die man
Jesus is mos tegelyk die Lewende God. Die dood het geen mag oor
Hom meer nie, nooit weer nie. Hy is vol van lewe, ewige,
onverganklike lewe.

Geliefdes, dis hoe daardie droewige, verskrikte vroue tydens
die Paasoggend die evangelie van Christus se opstanding hoor.
Hier het jy die oorwinning van Christus, die Lewende. Deur die
graf oop te maak en deur die graf te verlaat, demonstreer
Christus ’n krag wat Hy, broer, suster, ook in jou lewe wil
waarmaak. ’n Krag om jou tot ’n nuwe lewe op te wek. In
jou stryd teen sonde en dood ontvang jy nuwe perspektiewe. Want
dit alles het geskied deur die Verlosser van jou lewe. Christus
was nie net vir Homself besig nie. Hy was besig as jou Verlosser.
Hy het deur sy lyding en dood God se genade verdien. Hy het jou
sonde en skuld gedra. Hy het God se toorn en vloek verwyder.

Nadat Hy dit gedoen het, het Hy uit die dood opgestaan. ’n
Dooie Jesus sou ’n hulpelose Jesus wees. ’n Jesus wat
jou nie sou kan help nie. Indien Hy in die graf sou gebly het,
sou jy net ’n herinnering aan verdwene glorie hê. Maar nou:
Hy het opgestaan. Hy het die dood oorwin. Hy leef. So mag ek
verseker wees dat my lewe nie meer ’n hopelose slagoffer van
die dood is nie, sonder troos en krag. Die dood heers nie meer
oor Christus nie, sê Paulus in Rom 6:9. En as die dood nie meer
oor Christus heers nie, dan heers dit nie meer oor hulle wat aan
Christus behoort nie. Ja, gemeente, met Pase begin jou lewe om te
bloei – tenminste as jy tot Christus bly vlug – die
lewe wat uit Christus, die Lewende, sy lewensappe ontvang.

Nee, dit beteken nie dat my lewe dan volmaak sal wees nie,
sonder sonde. Ons moet daagliks stry teen die swakheid van ons
geloof en die sondige begeertes van ons vlees. Hoe werklik is dit
nie in ons gewone daaglikse lewe nie. Hoe dikwels val ek nie in
sonde nie? Ek wil my lewe verbeter, maar voordat ek dit besef
doen ek weer die dinge wat ek nie mog gedoen het nie. Beledig ek
God en skaad ek my naaste. Wat ’n nederlae, wat ’n
gemors! Hopeloos! ’n Mens sou wanhopig word. Totdat ek
opnuut Christus voor oé sien as die Lewende. Hy het as die
Lewende vir my sondes gesterf. Ek hoef nie in die sonde te bly lê
nie. Christus het daarvoor betaal. Volkome. Ek mag opstaan en
’n nuwe begin maak. En die Lewende is daar om my nuwe kragte
te gee. Hy wek my op tot ’n nuwe lewe. Met Paulus kan ek dan
bely: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil
4:13). As Christus die Lewende tydens sy omwandeling op aarde
dooies lewend gemaak het, blindes weer laat sien het, kreupeles
weer laat loop het, sou Hy dan nie in staat wees om my tot ’n
nuwe lewe op te wek nie, om my ’n nuwe begin te laat maak
nie?

Gemeente die feit dat ons Christus as die Lewende het, wat ons
lewend maak, beteken nie dat my liggaam altyd volkome gesond sal
bly nie. Elkeen ervaar op sy tyd periodes van slegte gesondheid.
Dit beteken ook nie dat ek nooit die liggaamlike dood sal sien
nie. Niemand sal die dood ontglip nie, tensy Christus eerder
terugkom. Maar geliefdes, elkeen van julle wat glo mag weet dat
die dood en die graf nie die finale einde sal wees nie. Die dood
het nie die laaste sê nie sodat jy heeltemal deur die dood
verslind sou word. Nee, in Christus Jesus is die teenoorgestelde
waar. Jou sterflike bestaan sal juis deur die lewe verslind word
(2 Kor 5:4). Deur jou band met Christus behoort jy by die
lewendes en nie by die dooies nie.

Die Here Jesus het eers gesê: “Ek is die opstanding en
die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en
elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid
nie.” Die Here Jesus het dit gesê terwyl sy volgeling
Lasarus nog in die graf was. Gestel dat dit vir jou gesê sou
word terwyl jy net een van jou geliefdes begrawe het: wie in My
glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My
glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Hierdie woorde kry
nuwe glans met Pase. Ons herken in verwondering die heerlike
werklikheid van die oorwinning van die lewe.

Die oorwinning nou reeds. Die Paasboodskap bring vreugde, laat
jou lewe opnuut bloei en vrug dra. Kan jy enige sekerder en
duideliker teken van lewe bedink as bloei en vrug? Ja, tekens van
lewe, tekens van ewige, onoorwinlike lewe. Van lewe wat deur
Christus die Lewende aangebring is.

Gemeente, hierdie Paasboodskap is in die wêreld versprei deur
engele, vroue, dissipels, predikers, Christene. Die hele wêreld
moet dit hoor: soek die Lewende in ’n wêreld wat sy
ondergang tegemoet gaan. Elkeen moet dit hoor en bly hoor: soek
Jesus Christus, wat gesterf het en weer opgestaan het as die
Lewende, almagtig om te red. Soek en vind daagliks jou krag by
Hom die Lewende. Laat Hom jou bevry van jou dooie, sondige werke.
Laat Hom jou opwek tot ’n nuwe lewe. Laat Hom jou lewe
verander, sodat jy werklike kan lewe in die gemeenskap van die
lewende God. En vrug kan dra tot eer van Hom en tot heil van jou
naaste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)