Die strenge verkondig van God se wet.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-02-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

Sondag 44

Ds C Kleyn - Sondag 13 Februarie 2005

Lees: Filippense 3:12-21; Filippense 4:8-13;
Sondag 44.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 106:1,2;
Ps 106:20; Ps 19:4; Ps 119:1-3; Ps 139:1,12.

Tema: Die strenge verkondig van God se wet.

  1. Die reikwydte van die strenge prediking van die wet; en
  2. Die doel van die strenge prediking van die wet.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand wil ek vir julle die Woord van die Here bedien onder
die tema: die strenge verkondig van God se wet. Ons sal let op
twee punte: Eerstens, die reikwydte van die strenge prediking van
die wet. Tweedens, die doel van die strenge prediking van die wet.

“Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou
naaste se vrou begeer nie.”

Is hierdie sake nie reeds aangespreek in voorgaande gebooie
nie? Die Here Jesus het gesê: “Elkeen wat na ’n vrou
kyk om haar te begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk
gepleeg.” Dit val onder die sewende gebod. Dis waar. Tog
word volgens die letter van die wet in die voorgaande gebooie net
oor dade gepraat: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie steel nie.

In die tiende gebod reik God uitdruklik uit na die hart. Die
Here kyk agter die mooi voorkoms wat ons kan wys. Mense beskou
ons as ordentlike persone. Maar God kyk agter die skerms. Hy laat
homself nie deur uiterlike skyn mislei nie. Hy ondersoek die hart.
Hy vra: dalk lei jy ’n fatsoenlike lewe, maar is jy ook
werklik tevrede? Is jy werklik oortuig dat Ek voldoende vir jou
sorg? Of is jy jaloers en begeer jy verkeerde dinge. Of is jy
ontevrede? Dalk doen jy niks met die begeertes nie. Maar jy sit
wel jou gedagtes op al die dinge. Miskien begeer jy meer geld.
’n Groter huis, ’n buitelandse vakansie, pleks om te
leer om jou te behelp met wat die Here vir jou gee. Miskien wil
jy die miljoene wen deur bv lotery. Jy sus jou gewete deur te
bedink dat die lotery uiteindelik vir ’n goeie doel is.

In die situasie kom God jou hart en lewe binne. Volgens die
wette van die land het jy niks verkeerds gedoen nie. Maar die
Here veroordeel die dobbelary wel. Die Here roep ook die regering
ter verantwoording oor die goedkeuring van dobbel masjiene en van
die staatslotery. Hulle maak misbruik van en stimuleer verkeerde
begeertes, mense se hebsug. En waarom keur die regering daardie
praktyke goed? Omdat hy, so lyk dit, daaruit geld kan maak. Geld
is meer werd as die welsyn van die burgers.

Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie. Dit lyk asof jy
’n ordentlike lewe lei. Jy sou nie daaraan dink om van jou
man of vrou te skei nie, tensy daarvoor grondige, skriftuurlike
redes is. Maar nou vra die Here: aanvaar jy jou man of jou vrou
werklik as uit my hand? Beywer jy jou werklik om die vrou vir jou
man te wees wat Ek wil hê jy moet wees? Beywer jy jou om die man
vir jou vrou te wees wat Ek wil hê jy moet wees? Of laat jy jou
hart of oë uitgaan na ’n ander man of vrou omdat hy of sy
so aantreklik en so begrypend is?

Kan jy nog dankbaar wees vir die posisie en inkomste wat God
vir jou gegee het (ook al is dit in vergelyking met ander miskien
min) of jaag jy na steeds meer en beter? Moet alles wyk vir jou
ambisie sodat jy geen tyd vir vrou of kinders het nie? Geen tyd
vir die kerk nie?

Geliefdes, om tevrede te wees of afgunstig, daaroor gaan dit
in die 10de gebod. As jy dit sien, dan besef jy hoeveel sondes
God in hierdie gebod aanspreek. God dring deur tot die sentrum
van jou lewe, tot jou hart. Jou verborge gedagtes en begeertes.
Hy spreek die sondes aan wat jou lewe kan verniel. Aan die
buitekant kan alles mooi lyk. Maar sondes aan die binnekant kan
dodelik wees.

Sonde teen die 10de gebod het reeds in die paradys groot
invloed gehad. Ons lees in Gen 3:6: “Toe sien die vrou dat
die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die
oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te
verkry; en sy neem van die vrugte en eet.” Die vrou het
vurig begeer om soos God te wees. Sy was nie tevrede met haar
verhewe posisie onder God nie. Sy het haar volmaakte verhouding
met die Here verwerp ter wille van haar verkeerde begeertes.

Die geskiedenis gaan verder. Kain is afgunstig op Abel. Die
Here waarsku hom: “As jy nie goed doen nie – die sonde
lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet
daaroor heers.” Kain heers egter nie oor die begeerte nie.
Hy gee daaraan toe. Hy dood sy broer Abel.

Agan kan die waardevolle buit van Jerigo nie vir die Here los
nie. Nog later begeer koning Agab die wingerd van Nabot. Judas,
een van Jesus se dissipels, verraai, vanweë sy sterke begeerte
na geld, sy Meester.

Al daardie afguns het egter geen geluk gebring nie.
Inteendeel, dit het lewens verwoes. Adam en sy vrou is uit die
paradys verban en moes sterwe. Kain moes vir sy lewe vlug. Agan
is gestenig. Agab is later ook gedood. En Judas het homself
opgehang.

In Spreuke 14:30 lees ons: “’n Rustige hart is die
lewe vir die vlees, maar hartstog ’n verrotting vir die
gebeente” of volgens die NAV “’n Kalm gemoed hou
die liggaam gesond; hartstog vreet ’n mens op.” Sonde
teen die tiende gebod het ’n negatiewe uitwerking op jou
lewe en jou gesondheid. Ontevrede mense verniel hul gesondheid.

In die tiende gebod spreek God dus ernstige sondes aan:
dobbelary, geldsug, afguns, ontevredenheid, verkeerde begeertes.
Dis sondes wat jou eie lewe en die van ander kan ruïneer. Dit
versteur goeie verhoudings. Dit kan huwelike en gesinne stukkend
maak. Wat ’n trouma vir getroudes, ouers en kinders. Dit kan
mense tot misdaad bring. Dit is bv een van die droewe gevolge van
die sterkte begeerte na dobbelary, drank of dwelms. Verkeerde
begeertes kan jou so verstrik in sonde dat alles daarvoor moet
wyk. Jy stel nie meer belang in die geluk van ander nie, solank
as jy maar jou begeertes kan bevredig.

Broers en susters, hoe dankbaar kan ons wees dat God ons die
tiende gebod gee, om ons teen onsself te beskerm. Jy mag niks van
jou naaste begeer nie. Met daardie woorde gee die Here ons ’n
positiewe rigting. Ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle
sonde wees en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê. Selfs
die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag
nooit in ons hart opkom nie.

Dis waar, sulke gedagtes kom soms sommerso omhoog. Teen jou
wil. Maar dis nie reg nie. Dit is sonde. Miskien dat jy skielik
te intiem word met die man of vrou. Miskien word jou oë steeds
weer gelok deur die pornografiese beelde in tydskrifte of
koerante. Of jy kan jou oë nie afwend van ’n vrou wat
skraps gekleed is. Die gebeur so maklik. Maar dis nie reg nie.
Inteendeel. Jy moet leer om die sonde te haat. En om ’n
begeerte tot alle geregtigheid te hê, tot alle goeie werke.

Gemeente, hierdie eise is ’n voortdurende stryd. Maar jy
hoef nie in eie krag te stry nie. Jy mag dit saam doen. In die
kerk gee God ons ook om die rede aan mekaar. Om mekaar daarin te
help.

Jy is natuurlik in die eerste plek verantwoordelik vir jouself.
Jy moet die goeie stryd self stry. Maar jy is ook verantwoordelik
vir mekaar. Dalk is jy bes tevrede met wat God vir jou gegee het.
Maar as jy bly praat oor jou rykdom en suksesse, dan kan jy
jaloesie by ander opwek. Dalk voel jy jouself gelukkig in die
klere wat jy dra. Maar intussen is jy miskien op so ’n
manier gekleed dat jy sondige gedagtes en begeertes by ander
opwek. Jy sal dit seker in rekening moet bring wanneer jy jou
klere uitsoek.

Die stryd teen ons sondige begeertes is ’n stryd wat ons
saam moet stry. Daarom, help mekaar. Beskerm mekaar. Wees tevrede
met wat God vir jou gee. Haat alle sonde en begeer alle
geregtigheid.

Gemeente, wanneer jy die tiende gebod so verstaan, dan merk jy
hoe skerp God se wet is. Dis ’n wet sonder skuiwergate.
Niemand kan die tug van die wet ontvlug nie. Want die Here eis
jou hart. In sy tien gebooie eis God baie meer as wat al die
wette van ons land ooit kan eis. Die burgerlike wette het altyd
sekere uitvlugte. Sommige mense is bedrewe daarin om steeds weer
nuwe skuiwergate te vind. Maar God se wet het geen uitvlugte nie.
Dit eis elke deel van jou lewe op, selfs jou diepste gedagtes en
begeertes.

Maar broers en susters, werk dit nie deprimerend nie? God se
wet is baie skerp, streng. Wie kan die standaard bereik? Indien
God net ons dade sou aangespreek het, dan kon ons nog staande bly.
Ons steel nie, ons pleeg geen egbreuk nie ens. Maar nou God ons
diepste gedagtes en gevoelens aanspreek is ons verlore. Want wie
kan God se strenge eise nakom? Niemand nie. Elke dag weer sondig
ons in ons swakheid. Selfs ons beste werke is met sonde bevlek.
Selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is,
nog maar ’n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid, bely
ons met ons Kat. Die allerheiligstes kom nie verder as ’n
geringe begin nie. En durf jy om jouself as ’n
allerheiligste te beskou? Hoe ver kom jy dan in die nalewing van
God se gebooie?

Geliefdes, wat moet ons dan met hierdie belydenis maak? Dit
bring ons by die tweede punt. Ons het in die eerste punt die
reikwydte van die strenge prediking van die wet gesien. Nou gaan
ons let op die doel van die strenge prediking van die wet.

Moet jy nou net aanvaar dat jou situasie so is en konkludeer:
daar is nie baie wat ek daaraan kan doen nie. Dis gewoon hoe ons
mense is. Moet jy na die prediking oor die wet sê: dit is weer
mooi gesê, maar dit sal in die praktyk van die lewe tog nie werk
nie. En more sal ons reeds daarvan vergeet het.

Dalk dink jy: “dis maar goed dat ons dit vinnig weer
vergeet. Anders sou jy ’n senu instorting kry. Immers
wanneer jy jou voortdurend besig moet hou met wette wat buite jou
bereik is dan sou jy amper outomaties depressief raak.”

Broers en susters, moenie so redeneer nie. Want dit is die
Here God wat met hierdie strenge tien gebooie na jou toe kom. Die
wet is nie net ’n stokperdjie van sekere predikante nie.
Nee, in die wet is die Here met jou besig. En wat wil Hy daarmee
bereik? Dit, dat jy van jou sondes meer en meer bewus word. Dat
jy jouself nie tevrede stel met die oppervlakkig opmerking: ja,
ons is en bly sondaars. Ons doen baie verkeerde dinge. Sonde om
te weet watter sondes ons doen. God wil hê dat jy volkome bewus
van jou sondes is en dat jy die sondes eerlik onder oë sien.

Die twyfel. Die keer dat jy nie lus was om te bid of om die
Bybel te lees nie. Die keer dat jy nie lus was om kerk toe te
gaan nie. Die seksuele begeertes. Die onheilige hunkering na
dinge wat ander het. Nee, verdoesel of ontken die sondes nie. So
sondig is jy. Besef tog dat jy net so ver met God se wet kom.
Wees eerlik met jouself.

Dalk dink mense dat jy ’n voorbeeldige Christen is. Maar
jy ken daardie sondige begeertes in jou lewe. En God ken ook
elkeen van hulle. Hy ken jou deur en deur. Dan help dit nie om
die sondes te ontken nie. Daarom, erken eerlik jou sondige natuur.
Die Here laat sy wet juis so streng aan jou verkondig sodat jy
ten volle bewus sou word van jou sondigheid.

God doen dit nie om jou depressief te maak nie. Onthou, Hy het
jou uit die slawerny van die sonde en die dood weggehaal. In die
aanhef van die wet sê Hy feitelik: Ek is diegene wat jou uit die
slawehuis van die sonde verlos het. Eers nadat God dit gedoen en
gesê het, gee Hy sy strenge wet. Nie om jou terug in die
slawehuis te dryf nie. Nie om jou neer te haal of wanhopig te
maak nie. Dis nie waarom Hy jou verlos het nie.

Deur sy strenge wet wil God jou na Christus toe dryf. Sodat jy
met groter verlange na die vergewing van sondes en na die
geregtigheid in Christus soek. Die kennis van sonde gee my alle
rede om myself voor God te verootmoedig. Om in gebed na God te
gaan. Met die belydenis van eie sonde en skuld. Nie om dan deur
God verstoot te word nie. Maar om dan te geniet van die
verlossing in Christus. Jy gaan met al jou sondes na die kruis
toe. By die kruis sien jy die erns van jou sondes. Bedink tog dat
Christus so verskriklik vir my sondes moes ly, dat Hy daarvoor
selfs die hel moes deurstaan. By die kruis begin jy ook om veilig
te voel. Die kruis is ’n toevlug, ’n skuilplek. Al my
sondes is in Christus se offer aan die kruis versoen en vergewe.
Die Here God dryf jou dus na die kruis toe. Na ons Here Jesus
Christus toe. Na die grootste bewys van sy liefde vir sondaars
soos ek en jy.

Sou dit jou nie dankbaar maak nie? Dan praat jy nie meer oor
jou eie sondes in ’n oppervlakkige of onverskillige manier
nie. Jy praat dan oor jou sondes as iemand wat sy toevlug gevind
het in Christus se kruis. As iemand wat die volle erns van die
sondes besef. As ’n nederige mens. Nederig voor die Here. En
nederig teenoor mekaar. En jy weet jy is veilig en geborge is in
jou Heer en Heiland Jesus Christus.

Maar, gemeente, dis nog nie alles nie. Met sy strenge wet dryf
God ons nie net na Christus toe nie. Hy dryf ons ook voorwaarts
na die volmaaktheid toe. As bekeerde sondaar wil jy nie in jou
sonde bly leef nie. Jy wil jou dan beywer om met die sonde te
breek en aan God gehoorsaam te wees. Om volgens alle gebooie van
God te lewe.

Nee, dit beteken nie dat jy nou op jou goeie voornemens of op
jou insette kan gaan bou nie. Dit sou net tot groot
teleurstelling lei. Elke inset sal in biddende afhanklikheid van
God gelewer moet word. Ek kan dit nie in eie krag nie. Daarom sê
die kat dat ons ons sonder ophou moet beywer en God om die genade
van die Heilige Gees bid sodat ons altyd meer en meer na die
ewebeeld van God vernuwe mag word.

Jy gaan dus voortdurend bid. Nie net by sekere geleenthede
nie, voor of na maaltye nie. Ook voordat jy skool, universiteit
of werk toe gaan, voordat jy die verskillende uitdagings en take
van die lewe aanvaar. Jy het God se hulp nodig, God se krag. Krag
vir die stryd teen die sonde.

Om die sonde te ontvlug en goeie werke te doen in die praktyk
van die lewe is nie maklik nie. Ook nie onder jou eie mense nie,
onder jou klasmaats of kollegas nie. ’n Sekere druk gaan van
die groep uit om te konformeer ook in dinge wat nie tot eer van
God of tot heil van die naaste is nie. Aanhoudende gebed bly
nodig. Gebed vir die leiding en krag van die Heilige Gees.

Wanneer jy so bid sal jy ’n nuwe begin kan maak. Want die
Here help hulle wat opreg Hom soek en dien. Hy laat jou nie aan
jou lot oor nie. Hy gee kragte om nee teen jou vriend of
klasmaats te sê, om nee te sê teen die sonde. Jy merk dat jy
meer en meer in staat gestel word om te doen wat God wens. Paulus
skryf in Fil 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus
wat my krag gee.” In daardie krag kan Paulus vergenoeg,
tevrede wees. In goeie en slegte dae, by rykdom en armoede, by
gesondheid en siekte.

Dit geld ook vir jou en my, vir elkeen wat glo. By rykdom en
armoede. In voorspoed en teenspoed. Wanneer jy alleen staan in
die lewe, of wanneer jou huwelik minder gelukkig is. Want die
Gees leer jou om vergenoeg te wees hoe die omstandighede ook al
mag wees.

Dis waar, hier op aarde sal jy die volmaaktheid nie bereik nie.
Die gelowige Noag het homself dronk gedrink. Dawid, die man na
God se hart, het met Batseba egbreuk gepleeg en haar man Uria
laat doodmaak. Petrus het sy Meester drie maal verloën. Die
groot apostel van die heidene, Paulus, noem homself ’n
ellendige mens en een van die grootste sondaars.

Maar al die sondes wat in die gelowiges oorbly is geen rede om
te konkludeer dat dit geen verskil maak hoe jy leef nie. “Immers
selfs die allerheiligstes is mislukkinge.” Deur die genade
van die Heilige Gees begin die onderskeid tussen die gelowiges en
die ongelowiges steeds duideliker te word. Gelowiges begin om
anders en beter te lewe. Merk jy dit in jou lewe?

Jy streef na die volmaaktheid. Jy is op pad na die
volmaaktheid. Eendag sal dit jou deel word. Nie deur eie
prestasie nie maar as ’n gawe van God. Christus sal jou dan
voor Hom stel sonder vlek of rimpel in die gemeente van die
uitverkorenes in die ewige lewe.

Vandag is dit nog nie sover nie. Daarom laat God sy wet nog so
streng verkondig. Om jou te leer om jou toevlug te soek in die
bloed en Gees van Christus. Dit gee die rustelose siel vrede,
moed en krag. Dit maak jou ook baie dankbaar. Die Here berus nie
in ons huidige sondigheid en gebrokenheid nie. Hy wil ons weer
volmaak voor Hom sien. En Hy sorg daarvoor dat dit eendag ook
werklikheid word. Die feit dat Hy na ons bly kom met sy volmaakte
wet wys hoe ernstig Hy daaroor is.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)