Christus se lewe en sterwe is diens aan sondaars.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2005-02-13
Text: 
Markus 10
Preek Inhoud: 

Markus 10:45

Ds C Kleyn - Sondag 13 Februarie 2005

Lees: Markus 10:32-45; Jesaja 53:1-7 (1ste
tafel); Jesaja 53:8-12 (2de tafel); Filippense 2:1-11 (3de tafel).
Sing: Ps 81:1,2; Ps 81:11,12; SB 8:1,2; Ps 22:9;
SB 7:4 (1ste tafel); SB 7:8 (2de tafel); Ps 22:11 (3de tafel); Ps
40:8.

Tema: Christus se lewe en sterwe is diens aan sondaars.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hierdie jaar se tema praat van ’n diakonale gemeente.
’n Diakonale gemeente is soveel as ’n dienende gemeente.
Hoe ervaar u dit om te dien? Hoe ervaar jy dit om jouself te
verneder om ander mense te bedien, veral as die persone
maatskaplik minder as jy is?

Gemeente, moenie dink dat dit vanself gaan dat Christene dien
nie. Ons moet deur God se genade altyd weer leer om te dien. Ons
is van nature nie beter as die ongelowiges nie.

Ook die dissipels van die Here Jesus het getwis oor die vraag
wie van hulle die eerste sou wees in die koninkryk van die hemele.
Die dissipels het eers na Jesus gekom en gevra: “Wie is tog
die grootste in die koninkryk van die hemele? Die Here roep dan
’n kindjie na Hom en laat hom in hul midde staan en sê:
“Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos
die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van
die hemele ingaan nie! Elkeen wat homself verneder soos hierdie
kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”
Mt 18:1-4.

In die Skrifgedeelte wat ons vanoggend gelees het, kom Jakobus
en Johannes, die seuns van Sebedeüs, by Jesus met die vraag:
“Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u
regter- en een aan u linkerhand.” Hulle begeer dus ’n
plek van eer en mag en grootheid in Christus se ryk. Wanneer die
ander tien dissipels ontdek wat die twee wil hê, is hulle
verontwaardig. Dalk omdat hulle self die vernaamste plekke begeer.
In ieder geval roep die Here hulle en sê vir hulle: “Julle
weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor
hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen;
maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder
julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat
onder julle die eerste wil word, moet almal se dienaar wees. Want
die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie,
maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”

Christus wys na homself as die groot dienaar. Ons teks is
fundamenteel in ons besinning oor die dienende gemeente. Christus
se priesterdiens is begin en fondament van die diensbetoon van
die gemeente. Die formulier vir die bevestiging van diakens begin
met die woorde: “Ten opsigte van die diens van die
barmhartigheid leer die Skrif dat dit voortvloei uit die liefde
van Christus. Hy het in die wêreld gekom om te dien en het Hom
ontferm oor baie wat in nood verkeer het. In navolging van sy
Heer het die eerste Christelike gemeente toegesien dat niemand
onder hulle behoeftig is nie.” Die diens van barmhartigheid
vind dus sy oorsprong in Jesus Christus. Hy het dit deur sy offer
moontlik gemaak en Hy het daarin vir ons ’n voorbeeld gegee.
Broer, suster, wil jy opnuut leer om diensbaar te wees, om te
dien, kyk dan na Christus. Leef dan uit Christus se soenoffer en
volg sy voorbeeld na. “Want die Seun van die mens het ook
nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te
gee as ’n losprys vir baie.” Let op die voegwoord: want.
Wat Christus gedoen het is redegewend, maar ook as voorbeeld
bedoel. Die laaste word onderstreep in Mt 20: 28 waar gepraat
word van: net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien
te word nie, maar om te dien.

Broers en susters, wanneer Christus as voorbeeld aan ons
voorgehou word, moenie die verskil tussen Christus en ons
verwaarloos nie. Ons hoef nie te doen wat Christus gedoen het nie.
Ons kan ook nie doen wat Hy gedoen het nie, naamlik om sy lewe as
’n losprys vir baie te gee. Ons moet op ons vlak, in ons
situasie, sy gesindheid navolg. Ons moet optree soos Hy dit
gedoen het. Soos Christus dien, moet ons, sy volgelinge, ook dien.
In die kerk is grootheid nie die grootheid van magsuitoefening
nie, maar van diensbetoon.

Christus keer die styl van die wêreld heeltemal om. In die wêreld
van daardie tyd wou mense nie graag dien nie. Dit sou
minderwaardig werk wees. Goed vir slawe. Hulle moet die sware
werk doen. Of goed vir vroue. Volgens die Grieke was ’n man
in die wêreld om te heers en hom te laat dien. Plato die Griekse
wysgeer sou gesê het: “Hoe kan ’n mens gelukkig wees
as hy ’n ander moet dien?” Hulle het gedink: dis
onmoontlik. Gelukkig is die vry man wat van niks of niemand
afhanklik is nie. Om gelukkig te wees, moet ’n mens mag hê
en hom kan laat dien. Net diens aan die staat was aanvaarbaar.
Maar dan het dit dalk meer gegaan oor die eer en waardigheid wat
daarmee saamgegaan het.

So het die Grieke daaroor gedink en so dink eintlik elke nie-wedergebore
mens daaroor. Jesus Christus keer die saak heeltemal om. Die
vernaamste persoon in God se koninkryk moet juis almal se
dienskneg wees. Geen mens is groter en magtiger as Jesus Christus
nie. As iemand reg het om te heers en gedien te word, dan wel
Jesus Christus. In ons teks word Hy die Seun van die mens genoem.
Hy is mens onder die mense, uit ’n mens gebore. Tog ook
’n baie besondere mens. Die beloofde Seun van Adam. Die Seun
van die mens waarvan Daniël profeteer, wat voor God staan, aan
wie eer en koningskap en ewige heerskappy gegee word. ’n
Hemelse dubbelganger van die eerste Adam.

Wat sy afkoms en posisie betref, is Jesus Christus dus baie
meer as enige ander mens en het hy alle reg om gedien te word.
Maar wat doen Hy? Hy kom om te dien. Hy verrig die werk van
’n slaaf. Hy is nie daarop uit om homself te handhaaf ten
koste van ander nie. Hy bou nie sy mag en ryk met die bloed van
ander nie. Hy offer homself vir die ander op. Hy bou sy ryk met
sy eie bloed. Hy neem nie, maar gee. Sy hele lewe op aarde kan as
diens omskryf word. Hy soek nie homself nie. Hy soek die heil van
ander. Die heil van verlore sondaars. Rusteloos werk Hy vir ander.
Hy genees siekes, gee vir blindes dat hulle weer sien, laat dowes
weer hoor, vergeef sondaars. Hy is daar vir ander. Dit is reeds
so by sy menswording. Nêrens word dit so pragtig tot uitdrukking
gebring as in Fil 2:5-11. Daar lees ons dat Hy in die gestalte
van God was, maar dat Hy nie daarop gestaan het om daardie
posisie te bly inneem nie. Want Hy het gedink aan die mense wat
sy soenoffer nodig het. Daarom het Hy homself ontledig, het Hy
die gestalte van ’n slaaf aangeneem en het Hy aan die mense
gelyk geword. Nie net sy lewe nie, maar ook sy dood was diens aan
sondaars. Hy het bly dien tot die kruisdood toe. Hy gee selfs
alles wat Hy is en het, sodat baie deur Hom gered kan word.

Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word
nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir
baie. Die woord losprys laat ’n mens dink aan gevangenes.
Ons is van nature gevangenes wat tot die dood veroordeel is. Aan
die ewige oordeel onderworpe. Geen uitsig op bevryding en lewe
nie. Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie of die losprys
vir ’n lewe betaal nie (Ps 49:8-13) Wat sal ’n mens gee
as losprys vir sy siel? (Mk 8:37). Ons mense is magteloos. Maar
wat doen God, die skuldeiser? Hy staan tog ’n losprys vir
ons lewe toe. Hy gee ons selfs ’n Losser, wat ons plek
inneem, en vir ons aan God se eis en straf voldoen. Wat ’n
groot liefde! Satan sou vir ’n losprys geen prooi loslaat
nie. Maar God laat die skuldige vry, wanneer aan sy reg voldaan
is. Wat ’n liefde ook van Christus. Hy neem vrywillig die
plek van ons sondaars in. Hy gee vrywillig sy lewe as ’n
losprys vir u en my. Hy betaal die prys sodat ons vryuit mag gaan.

In verband hiermee sê Christus dan ook by sy die instelling
van die Nagmaal: Dit is die bloed van die nuwe testament, wat vir
baie uitgestort is (Mt 14:24). So hoop ons nou nou Nagmaal te
vier. ’n Heerlike gedagtenis aan dit wat Christus in ons
teks verkondig het. Hy, die Seun van die mens, het waarlik gekom
om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie. Gedenk sy
unieke dienswerk en selfofferande. Dis die fondament van julle
lewe. Ja, so kan julle lewe en opnuut gaan dien, in navolging van
julle Heer. So kan julle waarlik ’n dienende gemeente wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)