In die eed hef ons God se naam op in die publieke lewe.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-12-26
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Preek Inhoud: 

Sondag 37

Ds C Kleyn - Sondag 26 Desember 2004

Lees: Deuteronomium 10:12-22; Psalm 24;
Sondag 37.
Sing: SB 27; Ps 111:4,5; Ps 24:1-3; Ps 145:1-3.

Tema: In die eed hef ons God se naam op in die
publieke lewe.

  1. Ons het die eed nodig vanweë die leuenagtigheid van die
    mense;
  2. God het daar reg op vanweë sy koningskap oor alle dinge;
    en
  3. God soek die heiliging van die breë publieke lewe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

“Ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees
en eerbied gebruik nie sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en
in al ons woorde en werke geprys word.” Dis wat ons in
Sondag 36 bely het. Vandag gaan ons daaroor uitwei wanneer ons
praat oor die eed. Dit gaan by die eed hieroor dat die naam van
die Here bely word, ook in die publieke lewe. Die naam van die
Here het betekenis en gesag ook vir die publieke lewe. Wanneer
die owerheid die eed van sy onderdane mag vra in die geregshowe
of by die aanvaarding van een of ander amp, dan is dit mos
duidelik dat die naam van die Here aan die breë publieke lewe
verbind is. Die naam van die Here het vir die lewe van die Suid
Afrikaanse nasie ’n heilsame betekenis. Laat ons nasie dit
tog hoor en verstaan.

Dit gaan in Sondag 37 dus oor baie aktuele dinge. Die naam van
die Here word immers steeds meer uit ons samelewing weggedring.
Uit die politiek en uit die onderwys uit. Ook uit die besigheidswêreld
uit. Tog bely ons dat die heil vir ons nasie in geen ander naam
te vinde is nie. Want daar is geen ander naam onder die hemel wat
onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word. Oral waar
die naam weggedring of verloën word, daar word die lig deur die
duisternis vervang. Daar kom ’n mens op ’n doodloop
spoor tereg. Daar is uiteindelik geen toekoms nie. Daarom moet
die naam van die Here in hierdie donker land en wêreld opgehef
word. Tot eer van God en tot heil van ons nasie.

Vanaand wil ek vir julle verkondig: In die eed hef ons God se
naam op in die publieke lewe.

  1. Ons het die eed nodig vanweë die leuenagtigheid van die
    mense;
  2. God het daar reg op vanweë sy koningskap oor alle dinge;
    en
  3. God soek die heiliging van die breë publieke lewe.

Een van die voortreflike gawes wat God by die skepping gegee
het, is die moontlikheid van kommunikasie. God het ons ’n
verstand en ’n tong gegee sodat die mondelinge verkeer
moontlik is. Die mondelinge verkeer is ’n uitnemende saak.
Ons kan ons gedagtes tot uiting bring. Ons kan mekaar se gedagtes
leer ken. Ons kan weet wat ons aan mekaar het. Die mondelinge
verkeer is gegee tot onderlinge vreugde en welsyn.

Maar, broeders en susters, hoe geskonde het dit geword deur
die sonde. Vanweë die sonde weet ek as mens nie meer wat ek aan
die ander het nie. Mense kan eintlik nie meer goed op mekaar
staatmaak nie. Ons sê dikwels maar enigiets, ons belowe maar
sonder dat ons ons aan ons woord hou. Die woord, wat die ander
tot vreugde moes dien en waarop die ander moes kan bou, het
onbetroubaar en bedrieglik geword. Daar is dikwels die
oppervlakkige gepraat wat alle diepte en inhoud mis. Ons het die
woord wat onbedagsaam geuit word, terwyl ’n mens die
draagwydte daarvan nie besef nie. Ons het die woorde wat haastig
geuit is om daarna weer vinnig vergeet te word en nie uitgevoer
te word nie. Ons het ook die woorde wat bewus dien om ander te
mislei. Daarom weet ons eintlik nooit goed waar ons aan toe is
nie. Meen die persoon sy belofte wel? Begryp hy wat hy sê? Sal
hy dit ook nakom? Sal Hy dit nie vergeet nie?

Die goeie onderlinge omgang is ontwrig deur leuen, bedrog en
onbetroubaarheid. Die mondelinge verkeer van sondige mense bied
geen houvas meer nie. Die samelewing het leuenagtig geword.
Paulus noem dat God waaragtig is en elke mens leuenagtig. Op God
kan jy volkome staat maak. Dis nie so by mense nie: elke mens is
leuenagtig. Elke mens, niemand uitgesonder nie. Dis geen
oordrywing van Paulus nie, dis die droewige werklikheid sedert
die sondeval. Arglistig is die sondige mensehart, leuenagtig.

In hierdie leuenagtige wêreld het die HERE sy naam beskikbaar
gestel. Sy naam, dit wil sê God self, soos Hy Homself bekend
gemaak het as die Getroue en Waaragtige, op wie jy altyd kan
staatmaak. Hy mag deur ons aangeroep word. Om trou en waarheid te
bevestig. As die einde van alle teëspraak.

Deur ’n eed af te lê kan ek my suiwer van verdenking.
Daarmee sê ek: ek spreek die waarheid, ek lieg nie. Dit weet God
almagtig. Hy is my Getuie. Deur ’n beroep op sy naam kan die
saak afgesluit word.

Wanneer ek voor die regter staan om daar as getuie op te tree,
hoe kan die regter weet dat ek nie lieg nie? God is immers wel
waaragtig, maar elke mens is leuenagtig. Wie kan ons verdorwe
hart deurgrond? As ek ’n publieke amp aanvaar met die
belofte van trou aan die grondwet, wie gee in die leuenagtige wêreld
aan ons owerheid die sekerheid dat ek my amp in ooreenstemming
met my belofte trou sal bedien?

Ons hart is immers arglistig. Dink maar aan die massale
korrupsie en ontrou in ons land. Maar dan bied God, die
Waaragtige, Homself aan. Ons mag Hom daarby roep as Getuie, as
onbetwisbare, betroubare Getuie: Mag God almagtig my help. God
weet dat ek opreg is in wat ek sê, dat ek nie lieg nie.

En as ek nie die waarheid spreek nie, dan mag Hy, die Kenner
van die harte, my straf. Ja, gemeente, ook die laaste behoort
wesenlik by die eed. Dink aan die formulering van O.Testamentiese
ede: Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen as ek dit of
dat nie doen nie. Deur God in die eed daarby te roep lewer ek
myself aan die HERE oor. Mag Hy met my handel na reg. Indien ek
bedrog pleeg, dan roep ek Hom in om die kwaad te bestraf. Dit is
die heilige erns van die eed. Jy roep die Here daarby om jou te
help maar ook: jy kan Hom inroep om te straf. Jy gee uitdrukking
aan jou verhouding tot die HERE, maar ook: jy sit die verhouding
tot die HERE op die spel, jy sit jou bestaan op die spel. God,
die Kenner van die harte, word gevra om na reg te handel. Mag Hy
in die onderlinge omgang die reg handhaaf. So word God in die eed
ingeroep om waarheid en trou te bevestig. As einde van alle teëspraak.

Daarom is die eed ’n weldaad in hierdie leuenagtige wêreld.
Terwyl die mense van nature nie meer op mekaar kan staatmaak nie,
en die basis van die onderlinge verkeer deur die sonde stukkend
gebreek is, bied God Homself aan as die Waaragtige. Ons het weer
’n vaste punt, te midde van mense wat van nature leuenagtig
is. Daar is weer ’n vaste basis vir die onderlinge
mondelinge verkeer. Ons kan ons woorde verbind aan die
onwankelbare vastheid van God se Naam. So is die eed ’n
geweldige middel om die leuen te bestry. Ons wens dat dit meer
met eerbied in ons land gebruik sou word; dat mense hulle bewus
voor die HERE sou plaas en so Hom sou inroep en teenoor Hom hul
sou verantwoord.

Gemeente, dat die HERE die waarheid self is, kan julle sy volk
goed weet. Sy naam Jahwe getuig daarvan: Ek is wat Ek is, Ek sal
wees wat Ek belowe het om te sal wees. Ons kan op Hom staatmaak.
Hy doen wat Hy sê. Hy vervul sy beloftes. Hy bly trou tot in
ewigheid. Dit is nie verniet dat Deut 10, na die voorskrif om by
die naam van die HERE te sweer, God se reddingsdade noem nie. God
het Hom bewys as die Betroubare. Ons lees in die verse 21 en 22:
"Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en
vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het.
Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou
het die HERE jou God jou gemaak soos die sterre van die hemel in
menigte." Sien hoe Hy sy beloftes aan Abraham vervul het,
hoe Hy die betroubare is. Juis ons as kinders van God mag dit
daarom as ’n eer sien wanneer ons gevra word om ons op die
Naam van die Here te beroep. Hy is tog jou lof? Sy Naam is tog
die enigste vastheid in ’n leuenagtige wêreld? Hyself is
tog vir jou die waaragtige en getroue?

Dit bring ons by die tweede gedagte: die eed is nie slegs
nodig vanweë die leuenagtigheid van die mense nie. God het ook
reg daarop vanweë sy koningskap oor alle dinge.

Miskien dink julle: waarom soveel aandag vir die eed? Is dit
wel nodig? Hoeveel mense kry in hul lewe met die eed te doen?

Gemeente, wil julle die aktualiteit van Sondag 37 verstaan,
dan moet julle besef teen watter agtergrond die vraag en antwoord
opgestel is. Hier het ons te doen met die dwaling van die
wederdopers. Hulle het geleer dat daar ’n teenstelling
bestaan tussen die natuurlike lewe en die geestelike lewe. Die wêreld
word deur hulle in twee terreine ingedeel: die terrein van die
genade, waar God koning is, en die terrein van die natuur waar
God geen koning is nie, maar die Satan. Dit is volgens hul mening
twee teenoorgestelde gebiede wat streng uit mekaar gehou moet
word. Hulle sou niks met mekaar te make hê nie. Die terrein van
die genade, waar God koning is, daar speel die geestelike lewe
hom af. Op die ander terrein speel die natuurlike lewe hom af,
die gewone lewe van elke dag.

Genade staan teenoor natuur. Wie onder die heerskappy van God
se genade gekom het, sou daarmee vrygemaak wees van die
natuurlike lewe. En tot die natuurlike lewe behoort onder andere
die owerheid met alles wat daarmee saamhang, byvoorbeeld die
weermag, die polisie en die geregshowe.

Waarom weier die wederdopers dan om die eed af te lê? Vanweë
die strenge skeiding tussen genade en natuur. God se naam sou nie
pas op die terrein van die natuur nie. Deur by die naam van die
HERE voor ’n wêreldlike owerheid te sweer, sou mens hom
skuldig maak aan die ontheiliging van die naam. God se naam sou
nie aan die breë, publieke lewe verbind mag word nie.

Gemeente, gestel dat dit waar sou wees. Dan sou ons God se
heilige naam moet opsluit in die kerk en in die binnekamer. Dan
sou ons die bose wêreld aan sy lot moet oorlaat. Dan sou God net
oor ’n klein gebied as Koning heers. En die res, die groot wêreld,
die breë lewe, sou aan Satan se mag oorgegee wees. Dan sou,
byvoorbeeld die onderwys, die wetenskap, handel en verkeer, die
besigheidswêreld, politiek en sport, profaan gebied wees, aan
die duiwel oorgegee.

Wat ’n belediging van die HERE onse God. Hoe durf die
mens hierdie enigste ware God op te sluit in die kerk en die siel.
Is Hy nie die Skepper van hemel en aarde nie? Behoort nie alles
aan Hom nie? Dink maar aan Ps 24:1,2: "Die aarde behoort aan
die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin
woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die
strome."

Daar is, broeders en susters, werklik geen twee aparte
lewensterreine, ’n natuurlike en los daarvan ’n
geestelike terrein nie. Daar is nie ’n terrein waar Satan
regeer en wat ons maar aan hom moet oorlaat, en ’n terrein
waar die HERE God regeer en sy naam genoem moet word nie. God se
koningskap is allesomvattend. Hy regeer oor alles, ook oor die
wetenskap, die onderwys, die politiek, die bedryfslewe, ja oor
die hele menslike samelewing. God is aan sy hele wêreld verbonde.
As Skepper en Verlosser. In Christus soek Hy die verlossing, die
heiligmaking op alle vlakke van die lewe. God het reg op sy hele
skepping, dit behoort aan Hom.

Dit kom duidelik uit in Ps 24. Ps 24 is ’n lied oor Sion,
God se heilige berg, en Jerusalem, God se heilige stad. Maar
rondom Sion lê die hele aarde. Die aarde en sy volheid, die wêreld
en sy bewoners word as eerste genoem. Waarom? As die Here sy
residensie in Sion vestig, dan soek Hy van daaruit die aarde en
sy volheid, die wêreld en sy bewoners. Dan soek God daarin die
hele wêreld: “in jou sal al die geslagte van die aarde geseën
word” (Gen 12:3). Wanneer die Here op Sion gaan woon, dan
soek God daarin ook die verlossing van sy aarde, sy wêreld en
die volheid daarvan. Hy laat sy wêreld nie los nie. Maar soek
juis in liefde die redding daarvan. In sy Seun.

Juis daarom kan en mag ons as kerk die naam van die HERE nie
reserveer vir onsself nie. Juis daarom mag ons ons nie terugtrek
in eie kringetjie, met ’n boekie in ’n hoekie nie.
Vanuit die kerk wil die HERE die wêreld soek, heilig en seën.
Daarom word julle geroep om die een naam op te hef oor alles.
Laat Hy die eer ontvang wat Hom toekom. Laat sy Naam orals gehoor
word. God wil nêrens buitegesluit word nie. Hy regeer immers oor
alles. Moses sê dit so in Deut 20: "Kyk, aan die HERE jou
God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles
wat daarin is." (vers 14).

"En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net
om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief
te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou
hele siel" (vers 12). God lê beslag op jou hele persoon en
op al jou handelinge. In vers 20 se Moses vervolgens: Die HERE
jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en
by sy Naam sweer.” Skaam jou nie om sy Naam in die publieke
lewe te noem nie. Hy is tog die Skepper en Redder van die wêreld.

Hy soek dan ook die heiliging van die breë publieke lewe. Dis
die derde gedagte van die preek.

In die Ou Testament het die Here nog skeiding gemaak tussen
’n heilige en ’n profaan gebied. Daar was die tempel
met ’n plek wat die heilige en die allerheiligste genoem is.
Met Christus se dood en oorwinning is dit opgehef. Ook die
skeiding tussen Israel as God se heilige volk en die heidenvolke
is in Christus opgehef. Die tyd het gekom dat ons nie meer op
’n sekere plek God moet aanbid nie. God wil orals aanbid
word. Dit kom daarop aan dat ons Hom aanbid in gees en waarheid.
God soek in Christus die hele wêreld op, alle volke en tale,
alle rasse en kulture. Hy wil die hele aarde tot sy tempel maak.
Hy wil verlossend en helend ingryp. Deur sy Gees en Woord.

Daarom het ons as Christene ’n groot verantwoordelikheid.
In die gewone, daaglikse lewe, in die publieke lewe, in alle
terreine van die lewe. God wil ons gebruik as sy profete,
priesters en konings. Om sy heerskappy, in die volle lewe, tot
gelding te bring. Dit sou natuurlik makliker wees as God ons
binne ’n geslote grens sou opsluit, as Hy die oproep tot
heiliging sou beperk tot die kerk, die Sondag en die binnekamer.
Maar die wêreld met geheilig word. Sy wêreld.

Dit beteken wel eers afsondering, dat ons die sonde en
vuiligheid van die wêreld haat en daarvan wegvlug. Om iets vir
die wêreld te beteken moet ons van die wêreld onderskei wees.
Soos Christus ook sê: “Julle is die sout van die aarde,
maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit
deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense
vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. Laat julle
lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien
en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Mt 5:13-16).

Wanneer ons werklik van die wêreld onderskei is, as die sout
van die aarde en as die lig van die wêreld, dan kan ons uitgaan,
die wêreld in, die volle lewe in, sodat dit deur ’n wonder
van God geheilig mag word. Daarom moet ons probeer om op allerlei
terreine van die lewe ons plek in te neem, allerlei beroepe te
kies. God wil erken word as die groot Skepper en Verlosser op
alle terreine van die lewe, in alle beroepe. Behalwe natuurlike
die beroepe wat teen sy wil bedink is. So kan jy met die werk van
die Here besig wees in onderwys en wetenskap. In politiek en kuns.
In die polisie en in die weermag. In die handel en in die bou. Op
kantoor of op die land ens ens. Dit gaan daaroor dat ons poog om
alles onder die heerskappy van Christus te bring. Dit wys nie net
op die manier waarop ons ons werk doen, maar ook op hoe ons die
werk self beskou en benader. Ons probeer om die werk te benader
vanuit God se perspektief. Ons samelewing is vol van onbybels
visies, veronderstellings en norme. As Christene toets ons
daardie veronderstellings en norme en vervang dit met die
waarheid van God. Soos Paulus dit skryf in 2 Kor 10:4,5:”want
die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur
God om vestings neer te werp; terwyl ons planne verbreek en elke
skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte
gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” So kan en
mag ons heilsaam inwerk op ons samelewing. Deur in die publieke
lewe in alle trou en eenvoud as God se profete, priesters en
konings op te tree. Onderskat nooit die uitstraling wat jy so in
die samelewing kan hê nie. Deur ons, waaroor God sy naam
uitgeroep het, mag mense God weer leer herken en sy heilsame wil
weer leer waardeer. Tot heil van ons nasie en tot meerdere eer
van God se heilige naam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)