Die kersboodskap waarborg die vervulling van die emmanuel belofte.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-12-25
Text: 
Matthéüs 1
Preek Inhoud: 

Matthéüs 1:22,23

Ds C Kleyn - Saterdag 25 Desember 2004

Lees: Matthéüs 1:18-25.
Sing: Ps 98:1,2; SB 2:1,2; Ps 46:1,2; Ps 46:4,6.

Tema: Die kersboodskap waarborg die vervulling van die
emmanuel belofte.

  1. Die basis van die vervulling; en
  2. Die werklikheid van die vervulling.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Emmanuel, dis ’n woord wat behoort by ’n
feesvierende gemeente. Wie dink op hierdie feesdag nie aan die
ryke belofte: God met ons nie? Sonder die belofte sou ons vandag
geen fees kon vier nie. Waar die belofte geen werklikheid is nie,
daar word hierdie feesdag ’n vreeslike dag. Ons verkeer dan
in die duisternis, in die duisternis van godverlatenheid. Pleks
van ’n dag van heil, ’n feesdag, word dit ’n dag
van onheil, ’n vreeslike dag.

Emmanuel, dis ’n geweldige belofte. Die groot belofte van
die verbond. Die Here wil met ons wees. Dit beteken nie net dat
die Here hier wil wees nie. Hy wil nie net ’n toeskouer wees
nie. Hy wil met ons saamgaan op ons lewenspad. Hy wil ons begelei
op ons pad. Hy wil aan ons kant staan, sodat ons ’n sterke
held langs ons het. Hy wil ons beskerm. Hy wil ons red, Hy wil
ons help deur ons lewenssituasie heen.

Hoe is dit moontlik! Hoe kan dit dat die heilige God met ons
sondaars wil omgaan? Hoe kan dit dat Hy ons party wil kies?
Terwyl ons van nature liewer niks met Hom te doen wil hê nie.
Terwyl ons sondig is en ons in gebrokenheid leef?

Gemeente, Kersfees, en in sy verlengde Pase, verkondig ons dit
wat volgens menslike maatstawwe onmoontlik was. God met ons.
Terwyl ons vyande was, terwyl ons ons regte steeds weer verspeel.
Ons teks praat daarvan. “Dit het alles gebeur, sodat die
woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:
Kyk die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal
Hom Emmanuel noem, dat is, as dit vertaal word: God met ons.”

Ek verkondig vir julle: die kersboodskap waarborg die
vervulling van die emmanuel belofte.

  1. die basis van die vervulling
  2. die werklikheid van die vervulling

In die teks word “dit alles” verbind met die
vervulling van die profesie van Jes 7:14. “Dit het alles
gebeur, sodat die woord vervul sou word”. Wat word met
“dit alles” bedoel? Sien “dit alles” op die
ontvangenis van die Heilige Gees? Ja, dit ook maar nog veel meer.
Die uitdrukking vat alles wat daaraan voorafgaan saam. Dit alles
bevat dan alles wat die engel gesê het. Dit sien op die
ontvangenis van Jesus, maar ook op sy geboorte, sy naamgewing en
sy verlossingswerk, met name dat Hy sy volk van hul sondes sal
verlos. Christus se oorsprong en sy verlossingswerk word verbind
aan die vervulling van die profesie.

Van dit alles word gesê dat dit gebeur het. Terwyl Christus
nog gebore moet word en sy verlossingswerk nog moet begin. Dis
iets wat ons meermale raakloop in die Bybel wanneer dinge beskryf
word wat ten stelligste gaan gebeur. Die toekoms word dan beskryf
asof dit reeds plaasgevind het. So kon Sagaria, by die geboorte
van sy seun Joh, sing van verlossing wat God vir sy volk
teweeggebring het en van ’n horing van heil wat God in die
huis van Dawid opgerig het. Terwyl dit alles nog moes plaasvind.
So seker was hy van die saak. Iets dergeliks vind ons in ons teks.
Terwyl Jesus Christus nog nie eers gebore is, hy is net ontvang
van die Heilige Gees, sê die engel: dit het alles gebeur.
Waarom? Omdat die ontvangenis ’n waarborg is van die
voltooiing van Christus se verlossingswerk. In daardie begin, ja
in daardie goddelik begin, lê reeds die einde beslote. So kan
die engel die voltooide teenwoordige tyd gebruik: dit het alles
gebeur, terwyl dit nouliks begin het en Jesus nog gebore moet
word. Wanneer God so ’n begin maak, dan mag jy jubel van die
voltooiing. God laat nie vaar die werk van sy hande nie. Hy
voltooi dit waarmee hy begin. Niks en niemand kan Hom daarin
verhinder nie.

Dit alles, naamlik die ontvangenis, die geboorte, die
naamgewing en die verlossingswerk van Jesus word verbind aan die
vervulling van Jesaja se profesie. Hoe moet ons hierdie verband
verstaan? Praat die engel hier van die vervulling van die
profesie van Jesaja? Word dit wat Jesaja eeue gelede geprofeteer
het, nou werklikheid? Het Jesaja toe reeds gepraat van Jesus wat
uit die maagd Maria gebore sou word? Ons vertaling gee daardie
indruk. In die aanhaling lees jy van die maagd wat swanger sal
word en van Hom met ’n hoofletter. Dan dink jy vanself aan
Jesus Christus. Die vertaling is egter misleidend. Daar word in
Jesaja nie in strikte sin van ’n maagd gepraat nie. En die
weergawe van Hom met ’n hoofletter is ’n interpretasie
van die vertaler.

Ons moet onthou dat die aangehaalde woorde uit Jesaja in die
eerste plek aan koning Agas geadresseer is met die oog op sy tyd.
Juda verkeer in daardie tyd in groot nood. Juda word bedreig uit
die Noorde deur die versamelde leërs van Aram en Israel. Terwyl
in Jerusalem groot paniek heers, word die profeet Jesaja na die
koning gestuur met ’n boodskap van verlossing. Die koning
mag ’n baie besonder teken vra om hierdie goeie nuus te
bevestig, as ’n bewys van God se hulp. Die koning weier
egter hierdie aanbod in ongeloof en skynvroomheid. Daarna kondig
Jesaja ’n teken aan wat die Here dan self sal gee tot
beskaming van Agas: “Daarom sal die HERE self aan julle
’n teken gee: Kyk, die maagd (of jong gehude vrou) sal
swanger word en ’n seun baar en hom Immanuel noem.”

Daardie teken word nie vervul in die geboorte van Christus nie.
Nee die teken was bedoel vir Agas met die oog op sy omstandighede.
Dit is dan ook vervul in sy tyd toe een of ander jong vrou haar
eerste seun Immanuel genoem het. Daardie teken word dan ook nie
herhaal ongeveer 700 jare later in die geboorte van Christus nie.
Die naam van Maria se seun is dan ook Jesus en nie Emmanuel nie.

Dit gaan in ons teks dus nie oor die vervulling van die
Immanuel teken nie. Dan sou Mt dit ook anders geformuleer het.
Dan kon Mt gesê het: in dit alles is die profesie van Jesaja
vervul. Maar dit staan daar nie. Ons lees: dit alles het gebeur
sodat die woord vervul sou word. Dit gaan in die teks oor die
vervulling van die Immanuel belofte wat in die teken opgesluit lê.
In die profesie van Jesaja lê die nadruk op die naamgewing
Immanuel. Dit is die besondere wat in daardie omstandighede as
teken dien. Terwyl die huis van Dawid nie op God wil vertrou nie,
gee die jong vrou uiting aan haar vaste vertroue in die Here. Sy
noem haar kind sowaar Immanuel, God met ons, al lyk die teendeel
waar te wees. Gestel iemand sou in ’n land wat in groot
gevaar en nood verkeer groot plakkate ophef met daarop die woorde:
God met ons. Gestel iemand sou bo die voordeur van ’n huis
wat in groot nood verkeer met groot letters die woorde skryf: God
met ons. Wel, dis wat hierdie jongvrou gedoen het, deur in
daardie omstandighede haar seun Immanuel te noem. ’n Teken
vir die ongelowige koning en volk.

Dit het alles gebeur sodat dit waarvan die teken van 700 jare
gelede gepraat het, vervul sou word. Die Immanuel belofte waaraan
die jong vrou uiting gegee het, word moontlik gemaak. Die belofte
word vasgemaak, gewaarborg. En wel deurdat dit alles gebeur het.
“Dit alles” maak die vervulling van die Immanuel
belofte moontlik. God kan nie sommer, sonder meer met ons wees
nie, met ons mense wat van Hom afgeval het, met ons wat verlore
in sonde en skuld is. In “dit alles” lê dan die
oorsaak, die basis van die belofte dat God met ons wil wees. Die
verbond van genade, die verbondsgemeenskap word bekragtig. Want
in “dit alles” het God self na ons toegekom tot ons
verlossing. Die Here neem self die inisiatief: die Seun van God
word mens, ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd
Maria.

Ja, gemeente, wanneer Mt die geboorte van Christus beskryf,
dan wys hy met nadruk op die goddelike inisiatief. Ons kry geen
beskrywing van wat ’n mens van Christus se geboorte kan sien
nie, soos ons vind in Lukas 2. Mt vertel ons juis wat niemand
daarvan kan sien nie, naamlik sy goddelike oorsprong uit die
Heilige Gees. “Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef,
voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige
Gees.”

Mt verkondig die evangelie van die nuwe begin. ’n Begin
nie uit mense nie. Dit kon ook nie. Die eerste begin in Paradys
het die mens radikaal bederf. Die omgang met God is deur die
sonde versteur. God kon nie langer sommer met die mens wees nie.
En die mense kon die verbondsverhouding nie uit hulleself herstel
nie. Van ons kant af kon ons niks verwag nie. Want sonde baar
sonde. Daarom is dit wat in Maria verwek is, uit die Heilige Gees
en nie uit Josef nie. Die geslagsregister van Mt 1 laat sien dat
jy selfs van Dawid en sy nageslag geen verlossing kan verwag nie.
Die geslagsregister kan getipeer word as ’n opgaan, blink en
versink. Dit het op ’n totale fiasko uitgeloop. Dawid se
huis het heeltemal verval. Die regmatige troonopvolger Josef is
’n vergete man wat na die pype van die Romeinse wêreldmag
moet dans.

Wanneer God dan ’n nuwe begin maak dan skuif Hy daardie
nakomeling van Dawid aan die kant. Hy lê beslag op die lewe van
sy vrou en wek sonder Josef se toedoen nuwe lewe in Maria. Eers
by die geboorte van hierdie kind kry Josef ’n plek toegewys.
As man van Maria moet hy volgens die wet as vader van haar seun
optree. Hy moet hom die naam Jesus gee.

God se Seun het mens geword. God self het tot ons neergedaal.
Hy het onder ons kom woon. Dit het gebeur sodat die Emmanuel
belofte vervul sou word. Is dit, broers en susters, na hierdie
wonderlike geboorte nog ’n vraag of God met ons kan en wil
wees? Emmanuel, dit het nooit so duidelik geblyk as by die
geboorte van God se seun nie. God en mens in een Persoon.

En daardie begin omvat heel sy verlossingswerk. Die seun van
God en die seun van Maria sal Jesus genoem word. ”Want dit
is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Hy sal wees
wat sy naam beteken. Die Here verlos, die Here is redding. Hy sal
volkome verlossing bewerk. Nie net verlossing van insidentele
vyande soos die konings voor hom nie. Maar verlossing van die
oorsaak van alle vyandskap en vervreemding, naamlik die sonde.
Die sonde was mos die groot versteurder in die omgang tussen God
en mens. Vanweë die sonde is die mens uit die paradys verdryf.
Jesus moet sy naam wees, want dit is Hy wat sy volk van hulle
sondes sal verlos. So kan die verbondsgemeenskap weer herstel
word.

Om dit te doen aanvaar Hy die pad van vernedering. Hy word in
Betlehem gebore. As ’n kind waaraan niks besonders te sien
is nie. Niemand dink daaraan om sy moeder Maria ’n plek in
’n herberg af te staan nie. Wanneer die kind Jesus gebore
word, dan moet hulle tevrede wees met ’n stal. Die wieg van
die kind word ’n krip. Vanaf die begin volg hierdie
verlosser die pad van vernedering. ’n Lydensweg wat Hom
uiteindelik aan die kruis bring. Hy word deur God verlaat.
Waarom? Sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom
verlaat sou word nie. Sodat God met ons sou wees, sodat die
Emmanuel belofte vervul sou word. Hy laat homself in die
duisternis stort, om ons in die lig te plaas.

Daarom gebeur daar op die Kersnag ook die opsienbarende
verskyning aan die herders op die veld. Die duisternis van die
nag verander vir hulle skielik in lig. Wanneer die engel van die
Here verskyn, skyn die heerlikheid van die Here rondom hulle. Die
lig beskyn hulle aan alle kante. Dit omring hulle soos ’n
vurige muur. Vir ’n kort oomblik is die veld ’n stukkie
paradys. Die sonde het die eerste begin in die paradys radikaal
opgebreek. Die mens kon nie langer verkeer in God se gemeenskap
sonder om verteer te word nie. En God kon nie sonder meer met die
mens wees nie. Maar in die Kersnag word skielik ’n flits van
die paradys gesien. Die heerlikheid van die Here omskyn die
herders, omskyn sondaars, sonder dat hulle verteer word. God
omarm sondaars. Die woorde van Ps 139: 5,6 word op ’n
letterlike manier vervul. Daar lees ons: “U sluit my in van
agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te
wonderbaar vir my, te hoog; ek kan daar nie by nie.”
Pragtige woorde wat amper letterlik op die kersnag werklikheid
word. God omarm sondaars.

Die nuwe paradys kom in sig, die volkome vervulling van die
Emmanuel belofte, in die nuwe hemel en nuwe aarde. Daar sal geen
sonde meer wees nie, nog vervreemding. Joh op Patmos mog die
volmaakte Emmanuel gemeenskap sien. Kom ons lees saam wat hy in
Openb 21:3-4 sê. Daar is die vloek oorwin en die paradyslike
lewe volkome herstel. Lees Openb 22:1-3.

Hoe is dit alles moontlik? Dit kan omdat Christus mens geword
het, ontvang van die heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.
Omdat dit ook Goeie Vrydag en Pase was. God kan weer met ons wees.
Jesus Christus het die nuwe verbond vir ewig bekragtig. Dit staan
vas, gegrond op heilige reg. Die Emmanuel belofte het nou ’n
heg fondament. Immers, dit alles, Christus se ontvangenis,
geboorte, naamgewing en werk het gebeur sodat die belofte vervul
sou word.

In die verlengde van hierdie woord staan die slot van Mt se
evangelie. Die evangelie begin en eindig met die Emmanuel belofte.
Die laaste hoofstuk wys ons die opgestane Here wat van sy
dissipels afskeid neem. Hy gee vir hulle die grootse opdrag om
alle volke tot sy dissipels te maak. By die vervulling van die
opdrag sal hulle baie gevare, teleurstellings en teenstand
ondervind. Maar geen paniek nie. Hul Meester het alle mag in die
hemel en op aarde ontvang. Hy gaan met hulle saam: “En kyk,
Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
Met die belofte het God se Seun, afskeid geneem. Die belofte geld
vir sy kerk alle dae. Die Emmanuel belofte is dus nie iets wat
vir die Kersfees gereserveer kan word nie. Dit is ’n woord
vir alle dae. As jy na die feesdae weer oorgaan na die orde van
die dag, dan gaan Hy saam, Hy gee krag, Hy help deur alle
situasies heen. Hy is met ons al die dae tot aan die voleinding
van die wêreld.

Ja, broers en susters, die feite van Kersfees waarborg die
vervulling van daardie Emmanuel belofte. Dit is gegrond op die
verlossingswerk van God se Seun wat mens geword het. Maar nie
elkeen het deel aan die vervulling nie. Wil jy daaraan deel hê,
wil jy God se heilsame nabyheid ervaar, dan moet jy dit gelowig
aanvaar. Die heil het aan koning Agas verby gegaan. Die Immanuel
teken het vir hom onheil beteken, omdat hy nie op die Here alleen
wou vertrou nie. Hy het dit nie gedurf met die Here. Hy het meer
vertroue gehad in sy eie menslike insigte en strategie. Hy wou
homself veilig stel pleks om sy veiligheid by die Here te soek.
Wie nie glo nie, vir hom beteken die Immanuel belofte ’n
oordeel. Hierdie feesdag word dan ’n vreeslike dag.

Vandag word kersfees massaal gevier. Die winkel sentra help
mense wel om hulle daaraan te herinner. Maar vir hoeveel mense
sal hierdie dag werklik ’n dag van lig en heil wees? Die
werklikheid word dikwels verdoesel deur al die liggies en
uiterlike versierings. Wie durf hom nog volkome toe te vertrou
aan Hom wat die pad van lyding aanvaar het om vir sy kinders die
reg van Immanuel te gee? Ja, wie durf nog te praat van die seun
van Maria as die Seun van God, as God self in die vlees verskyn?
Wie wil nog aanvaar dat nie net die inisiatief tot, maar ook die
werk van ons verlossing deur die Here is geskied? Wie met
Kersfees die woord Immanuel op die lippe neem, sonder om dit
alles te aanvaar, weet nie waaroor hy praat nie. Net wie Jesus
Christus in geloof aanvaar as God wat in die vlees verskyn het,
kan opreg en met vreugde sing: Emmanuel, God met ons.

In geloof mag ek weet: God is met my. Dan is ek baie ryk,
ryker as koning Agas met sy sterk bondgenoot Assur, ryker as die
grootste kapitaliste. Die Here van die leërskare is met ons; die
God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons.

Dikwels staan ons voor moeilike situasies in ons lewe. Dis nie
maklik om aan die Here en sy woord getrou te bly in die lewe van
elke dag nie. Maar jy mag weet dat jy tog sterk staan. Immanuel,
God is met ons. Met ons is meer as met ons teenstanders, die Here
van die leërskare, wat ons help en vir ons stry. Hy staan aan
ons kant. Dis by Hom so te sê: saam uit, saam tuis. Dit was mos
Kersfees en in die verlengde daarvan Paasfees. Die Here het vir
sy volk verlossing gebring. Die verhoogde Here Jesus is nou met
ons al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. En onthou:
aan hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)