Die Here wys dat die pad van die vlees dood loop en dat slegs Hy kan red.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-12-05
Text: 
Matthéüs 1
Preek Inhoud: 

Matthéüs 1:1-17

Ds C Kleyn - Sondag 5 Desember 2004

Lees: Matthéüs 1:1-25.
Sing: Ps 86:1,3; Ps 86:6; Ps 100:2,4; Ps 111:1,2;
SB 2:1,2; Ps 130:3,4 (2de beryming).

Tema: Die Here wys dat die pad van die vlees dood loop
en dat slegs Hy kan red.

Hy doen dit soos volg:

  1. Hy begin by Abraham;
  2. Hy noem vier vroue; en
  3. Hy deel die name op in drie gelyke periodes.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Nuwe Testament begin met ’n lys name – 42 name
in totaal. Is dit ’n toepaslike begin vir die Nuwe
Testament? Wanneer hierdie gedeelte van die Skrif gelees word
sukkel sowel kinders as volwassenes om daarop te konsentreer. So
’n lys hou gewoonlik nie die aandag nie. Watter nut het so
’n lys van name?

Maar, geliefdes, dit het die Gees van God behaag om die Nuwe
Testament op hierdie manier te begin. So ’n begin het sy eie
boodskap. Watter boodskap? Die boodskap van God se
verlossingswerk. Vanaf die begin van die Nuwe Testament wil God
sy wonderlike pad van verlossing vir sy volk beklemtoon. Die
Verlosser val nie sommer uit die lug nie. Nee, die lyne loop deur
die Ou Testament na die Christus toe. Die geskiedenis van Israel
vind sy hoogtepunt in Christus. Hy is die antwoord op die Ou
Testament.

Deur al daardie generasies werk God aan sy verlossing vir sy
volk. Langs ’n wonderlike pad, soos ons reeds genoem het. As
ons die lys van name aandagtig lees, ontdek ons die mislukking
van die vlees. Van die vlees, van sondige nietige mense, kan niks
verwag word nie. God moet ingryp, Hy moet dit doen. God, wat deur
sy Gees lewend maak, wat uit niks kan skep. Jesus sal sy naam
wees, wat letterlik beteken: die Here red. Op die deurslaggewende
moment word die vlees eenkant gesit. Josef, die erfgenaam van die
troon is nie nodig nie. Die Verlosser word deur die Heilige Gees
verwek. Josef word nie toegelaat om hom te verwek nie. Sodat
alles van God sal wees: die Here alleen red.

Laat ons let op ’n paar uitstaande elemente in die teks
as ek vir julle verkondig:

Die Here wys dat die pad van die vlees dood loop en dat slegs
Hy kan red.

Hy doen dit soos volg:

  1. Hy begin by Abraham;
  2. Hy noem vier vroue; en
  3. Hy deel die name op in drie gelyke periodes.

Die eerste woorde van die teks: “Die geslagsregister van
Jesus Christus” is veronderstel om die opskrif bo die gehele
boek Matthéüs te wees. Die Joodse lesers – vir wie hierdie
evangelie in eerste instansie geskryf is – sou dit
onmiddellik opgemerk het. Letterlik lees die Griekse teks: “Die
boek van die genesis van Jesus Christus.” Dieselfde woorde
kom ook voor in die Griekse vertaling van Genesis 5:1. Daar lees
ons in ons vertaling: “Dit is die stamboom van Adam.”
Onder daardie opskrif, vertel Genesis 5 van die oorsprong van
Adam en wat na hom gekom het, wat uit hom gegroei het. Ons sou
hierdie opskrif, in beide Genesis 5 en in ons teks, kon vertaal
met: “Die boek van die geskiedenis van ...” Daardie
titel verwys nie slegs na die oorsprong of voorouers nie, maar
bowenal na die ontwikkeling van die genoemde persoon. Matthéüs
handel grotendeels oor wat van Jesus geword het. Hierdie
inleidende woorde funksioneer dus as opskrif bo die gehele
evangelie.

In die lys name wat volg, is dit opvallend dat Matthéüs
teruggaan na Abraham. Hy benadruk dat Jesus Christus nie slegs
die seun van Dawid is nie, maar ook die seun van Abraham. In vers
1 plaas hy die twee – die seun van Dawid en die seun van
Abraham – langs mekaar. U moet die vers dus nie lees as:
Jesus is die seun van Dawid, wat op sy beurt die seun van Abraham
is. Nee, Matthéüs benadruk dat Jesus Christus ook die seun van
Abraham is.

Die eerste lesers, die Jode, sal waarskynlik nogal verbaas
gewees het daaroor. Hulle was nie gewoond daaraan om die
Verlosser as die seun van Abraham te beskou nie. Hulle het ’n
groot koning verwag uit die huis van Dawid. Hulle het hulself as
kinders van Abraham beskou. Hulle was die saad van Abraham en het
daarom gedeel in al die beloftes aan Abraham. Maar hulle het
alles verwag van die groot seun van Dawid.

Matthéüs stel die Verlosser egter voor as die seun van
Abraham. Die Jode word agter Dawid na Abraham verwys. Die
Verlosser word aangedui as nie slegs die vervulling van die
beloftes aan Dawid nie, maar ook as vervulling van die beloftes
aan Abraham. Toe God sy beloftes aan Abraham gegee het, het Hy
vir Christus, die Verlosser, in die oog gehad. So wys Paulus in
Galasiërs 5 daarop dat God gespreek het van Abraham se saad, sy
nageslag, in die enkelvoud, met verwysing na Christus. Al die
beloftes aan Abraham fokus op die Christus. In Hom is die
beloftes vervul.

Geliefdes, hiermee skryf God die vleeslike verwagtings van die
Jode af. Hulle beroem hul daarop dat hulle kinders van Abraham is.
Hulle spog oor hul vleeslike afstamming van Abraham. Maar nou sê
God: Jesus Christus is die seun van Abraham. Al die beloftes aan
Abraham fokus op Jesus Christus en is in Hom vervul. Wil julle
deel hê aan die beloftes aan Abraham? Dan sal julle by Jesus
Christus moet wees, dan sal julle, deur die geloof, met Hom
verenig moet wees. Die ware kinders van Abraham is nie die
kinders na die vlees nie, maar die geestelike kinders, die
afstammelinge wat, deur die Gees, die geloof van Abraham besit.

Die pad van die vlees loop dood, maar die Gees maak lewend. So
gee Matthéüs 3 ’n verslag van die prediking van Johannes
die Doper aan die Joodse leiers. Johannes waarsku hulle: “En
moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie;
want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe
kinders vir Abraham op te wek” (Mt 3:9). Slegs die Here red.
Hy alleen gee lewe. Jy kan niks van die vlees verwag nie, ook nie
van liggaamlike afstamming nie. As jy nie in Jesus Christus, die
seun van Abraham glo nie, dan is jou afstamming van Abraham
waardeloos. Deurslaggewend is dat jy glo in hierdie een seun van
Abraham, die fokus van al die beloftes.

Broers en susters, Matthéüs lei die Jode onmiddellik agter
Dawid na Abraham. As u die naam van Abraham hoor, kan u nie
eintlik anders as om te dink aan die beloftes wat aan Abraham
gegee is nie. Maar wat was vir Abraham belowe? God het vir hom
belowe: “en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën
word” (Gen 12:3). Die Jode mag dit nie vergeet nie. God het
reeds die geslagte van die aarde, die nasies, die volke, in
gedagte gehad toe Hy vir Abraham geroep het. Die seën van
Abraham moes uitgaan na die volke toe. Hier is nou Jesus
Christus, die seun van Abraham. En in Hom gaan dit in vervulling.

Die Jode het in nasionale trots geroem in die feit dat hulle
die kinders van Abraham was. Maar hierdie afkoms is uiteindelik
’n internasionale saak. Die nageslag moet uit alle volke kom.
Dit was reeds aan Abraham belowe. En dit word in Jesus Christus,
die seun van Abraham, werklikheid.

Paulus skryf hieroor in Galasiërs 3:7-9: “Julle verstaan
dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.
En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die
geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie
verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.
Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die
gelowige Abraham.” En ’n bietjie later, in vers 29,
skryf Paulus: “En as julle aan Christus behoort, dan is
julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

Dit is daarom nie liggaamlike nageslag wat belangrik is, maar
nageslag volgens die belofte, nageslag wat deur God se kragtige
beloftewoord tot stand gebring is.

Dis hoekom die evangelis Matthéüs, wat sy evangelie met
’n verwysing na Abraham begin, daardie evangelie eindig met
die woorde: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies”
(Mt 28:19). Jesus Christus is die seun van Abraham. Hier word die
beloftes aan Abraham vervul. Die seën gaan na al die volke. Nee,
nie langs die weg van die vlees nie, maar langs die weg van die
Gees, langs die wonderlike weg van die Here wat lewend maak.

Trouens, gemeente, het Abraham se gehele lewe nie getuig van
die wonderlike weg van die Here nie? Abraham sou ’n talryke
nageslag ontvang. Maar Sara, sy vrou, kon nie kinders kry nie.
Toe het hulle, gebaseer op vleeslike oorweginge, gedink om
kinders te kry deur middel van die slavin, Hagar. Maar die Here
wou nie langs daardie weg, die weg van die vlees, werk nie:
“Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ’n seun baar, en
jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as
’n ewige verbond vir sy nageslag ná hom” (Gen 17:19).

Sara het egter onvrugbaar gebly. Jare het verby gegaan sodat
selfs Abraham se vermoë om kinders te verwek verdwyn het. Jy sou
nie meer ’n kind verwag van daardie bejaarde egpaar nie. Die
weg van die vlees het dood geloop. Hoekom het God dit op hierdie
manier laat gebeur? Sodat dit duidelik sou wees dat alles van die
Here kom, deur die krag van sy beloftewoord. Abraham en Sara was,
so te sê, dood; maar God het hulle lewend gemaak (Rom 4). Hy het
’n saad vir hulle geskep, ’n nageslag, ’n toekoms.
Deur sy woord het Hy, dit wat nie was nie, in lewe geroep. Sodat
God se volk – sodat u – sou besef dat die Here in
beheer is, slegs Hy red, ons is totaal van Hom afhanklik vir
alles.

Geliefdes, die inleiding van Jesus Christus as seun van
Abraham is opvallend. Dit is ook opvallend dat vier vroue genoem
word in die lys van voorouers. En watter soort vroue! Die eerste
vrou wat genoem word is Tamar: “Juda was die vader van Peres
en Serag by Tamar” (Mt 1:3). Die noem van Tamar herinner ons
aan ’n wêreld van sonde. Tamar is die vrou wat haar
skoonvader tot sonde verlei het. Ja, daardie geskiedenis is
voorafgegaan deur ’n wêreld van sonde. Juda het sy broers
verlaat en met ’n Kanaänitiese vrou getrou. Hy het die
onderskeid tussen die kerk en die wêreld verontagsaam. Ons merk
op waarheen die weg van die vlees lei. Drie seuns word aan hulle
gebore. Oor twee seuns word daar geskryf dat hulle so goddeloos
was dat die Here hulle gedood het. Tot slot laat Juda hom in
sonde verlei deur sy skoondogter Tamar, wat aangetrek het soos
’n prostituut. Deur haar ontvang hy tweeling seuntjies:
“Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar” (Mt 1:3).

Die tweede vrou wat genoem word is Ragab: “Salmon die
vader van Boas by Ragab” (Mt 1:5). Weereens ’n Kanaänitiese
vrou met ’n sondige agtergrond – ’n prostituut.

Vervolgens word die Moabitiese vrou, Rut, genoem: “Boas
die vader van Obed by Rut” (Mt 1:5).

Tot slot lees ons van die vrou van Uría: “koning Dawid
die vader van Salomo by die vrou van Uría” (Mt 1:6). ’n
Baie donker bladsy in die geskiedenis van Dawid se koningskap.
’n Saak van egbreuk en moord. Sy word in ons teks uitdruklik
as die vrou van Uría genoem. Dawid kon nie van die vrou van sy
buurman afbly nie. Deur die vrou van Uría ontvang hy Salomo.

Broers en susters, moet hierdie vier vroue genoem word in die
stamboom van Jesus Christus? Moet juis hierdie vier vroue genoem
word as voorouers van Jesus Christus: heidense vroue, prostitute,
groot sondaars?

Hoekom slaan Matthéüs nie daardie donker bladsye oor nie? Hy
hoef mos in elk geval nie vroue in die stamboom te noem nie?
Heeltemal nie sulke vroue nie. Sulke vroue hoef mos nie genoem te
word, behalwe as dit werklik noodsaaklik is nie. Jy benadruk mos
nie iets wat oneerbaar is nie?

Tog, geliefdes, doen Matthéüs dit hier, teen die normale
gebruike in. Hoekom? Om alle roem op die vlees te verydel. Kyk
hier – dit is nou die heilige geslag in Israel. Niks om oor
te roem nie. Eerder ’n skande. En vreemde bloed.

In die Joodse literatuur word daar ook vier vroue genoem.
Hulle noem Sara, Rebekka, Ragel en Lea as eervolle moeders van
Israel. Die Jode het geroem in hul afkoms. Maar die Here wys ons
die ware prentjie. As dit van die vlees afhanklik was dan sou
daar niks van gekom het nie. Kyk net na daardie donker bladsye
van Israel se geskiedenis. En die res is in feite nie veel beter
nie. Die weg van die vlees loop dood. Dit is slegs die Here wat
kan red. Dit is die Here wat vir Homself ’n weg baan vir die
verlossing van sy volk. Daar is absoluut geen rede om in die
vlees te roem nie.

Broers en susters, deur hierdie vroue te noem in die stamboom
van Jesus Christus, wys God ook dat Hy reeds in die Ou Testament
mense van buite sy volk gebruik het in sy werk. Daardie vreemde
vroue, van heidense afkoms, word deur die Here ingeskakel. Hulle
word voorouers, moeders van die Verlosser. God beskou hulle as
gebore op die berg Sion (Ps 87). Moeders wat, volgens hul
natuurlik afkoms nie daar behoort nie, word ingesluit volgens God
se verkiesing, volgens God se welbehae. So wys alles na die
manier waarop God self sy weg baan. Die Here alleen – nie
die vlees nie – red.

Ons sien dit ook as ons kyk na die indeling van die lys in
drie gelyke tydperke.

Blykbaar is dit nie Matthéüs se doel om volledig te wees, as
hy die stamboom van Jesus Christus noem nie. Hy noem nie al die
voorouers nie – hy los byvoorbeeld drie konings tussen Joram
en Ussía uit. Matthéüs wil die gehele lys ’n sekere
struktuur gee. Hy snoei die lys om drie gelyke tydperke te kry.
Hy vestig ons aandag op daardie gelykheid in vers 17: “Al
die geslagte dan van Abraham tot Dawid is veertien geslagte, en
van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en
van die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.”

Wat wil Matthéüs sê met hierdie indeling in drie gelyke
tydperke?

Die Jode het min gedink van die laaste tydperk. Hulle het dit
beskou as slegs ’n tussen tydperk, wat so vinnig as moontlik
vergeet moes word. Hulle het hul aandag gerig op die klimaks van
die geskiedenis – die tydperk van onafhanklikheid en
heerskappy onder koning Dawid en koning Salomo.

Maar, geliefdes, deur die geskiedenis van Israel in drie
gelyke tydperke in te deel, wys Matthéüs dat die gehele
geskiedenis skaars enige eer inhou. Daardie laaste tydperk van
die ballingskap tot Christus was nie slegs ’n kort tussen
tydperk nie. Dit staan gelyk aan die tydperk van die Dawidiese
konings. Hoe val die hoogtepunte dan weg! As jy na die gehele
tydperk tussen Abraham en Christus kyk, dan is dit ’n
droewige geskiedenis. U moet in feite na al die name apart kyk.
Elke naam vertel sy eie verhaal. Ons het reeds na ’n paar
van hulle verwys.

Die drie tydperke wat Matthéüs onderskei is dikwels
bestempel as opgaan, blink en versink. Eerstens is daar die
tydperk van Abraham tot Dawid. Wat moes alles nie gebeur voordat
die beloftes aan Abraham oor sy talryke nageslag en die in
besitneming van die land Kanaän werklikheid geword het. Dink net
aan die 400-jarige verblyf in Egipte.

In Dawid en Salomo het Israel sy hoogtepunt bereik. Israel
word ’n politieke mag in die wêreld. Buurlande word
onderwerp. Maar die glans van die kroon op die hoof van Dawid se
seun hou slegs ’n kort rukkie. Dit vervaag vinnig. ’n
Proses van afval tree vinnig in. Salomo, wat die pragtige tempel
van die Here gebou het, begin optree soos ’n heidense tiran.
Hy hou ’n harem aan, wat invloedryke heidense vroue insluit.
Hy lewe in groot weelde, ten koste van die gewone volk. Salomo se
opvolger verloor die tien stamme. Dawid se huis hou slegs twee
stamme oor. Die geskiedenis van die koningskap is glad nie
rooskleurig nie. Selfs konings wat oorspronklik getrou aan die
Here was, raak in sonde verstrik. Die agteruitgang veroorsaak die
wegvoering na Babel. Saam met Juda, ontvang die huis van Dawid sy
verdiende loon. Die weg van die vlees loop dood. Volgens menslike
standaarde beteken die ballingskap die einde van Dawid se troon.
Daar bly niks oor van die roem van Dawid se huis nie.

En hoe gaan dit in die derde tydperk, die tydperk van die
ballingskap tot Christus? Daar is min wat gesê kan word oor die
laaste veertien name. Serubbábel is nog aan ons bekend. Hy het
as leier opgetree onder die wat teruggekeer het uit die
Babiloniese ballingskap. Die troon van sy vader Dawid het egter
buite sy bereik gebly. Dit het verder en verder uit die bereik
van Dawid se nakomelinge gekom. Die Jode word deur naburige magte
rond gegooi. En as Jesus Christus gebore word, is Josef, die
erfgenaam van die troon van Dawid, ’n vergete man, wat in
die afgeleë dorpie Násaret woon. Menslik gesproke, is daar van
die huis van Dawid niks oor nie. Jy kan niks meer daarvan verwag
nie. Sy roem het totaal verdwyn. Dit is hoekom God in die
profesieë na die stomp van Isaí verwys (Jes 11:1). Die boom is
tot die grond toe afgekap. Slegs ’n stomp het oorgebly.
’n Stomp waarvan niks meer verwag kan word nie. Vir die huis
van Dawid loop die weg van die vlees dood. Hulle het alles
verknoei.

Nou sien u, broers en susters, des te duideliker dat die
verlossing slegs van die Here verwag kan word. God beskik ’n
nageslag, ’n seun van Dawid en ’n seun van Abraham. Die
weg van die vlees het dood geloop. God gaan ’n toepaslike
antwoord daarop gee. Die Redder sal nie deur die wil van ’n
mens verwek word nie, nog deur die vlees. Josef sal hom nie
verwek nie. Die vlees van Dawid word vir ’n oomblik een kant
gesit. God self skep nuwe lewe in Maria, Josef se vrou. Jesus
Christus is verwek deur die Heilige Gees, gebore uit die maagd
Maria.

Geliefdes, daardie hele lys name in Matthéüs 1 lei tot die
wonder van julle verlossing. Die lys is een groot roep om daardie
wonder van verlossing. Dit is die enigste geskikte oplossing.
God, die Here, moet die doen. En Hy doen dit. Die Here alleen red.
So word die betekenis van die naam “Jesus” vir u
duidelik – Jesus: die Here red.

Geliefdes, laat ons die inleidende hoofstuk van die Nuwe
Testament so lees. Hier leer u die taal van u verlossing. U kan
dit nie verwag van die vlees nie, van menslike vermoëns. Dit
geld steeds vandag. Moenie bou op die sekerhede van die vlees nie.
Moenie, byvoorbeeld, u vertroue stel op die feit dat u in die
verbond gebore is nie, of dat u ’n kerklidmaat is nie. Dit
sal u nooit, op sigself, kan red nie. Die Here alleen red. Jesus
is sy naam.

Die lys van Matthéüs 1 begin by Abraham. In eerste instansie
is dit vir die Jode bedoel. Die lys sluit egter ook mense van
heidense agtergrond in. Die Kanaänitiese vroue Tamar en Ragab,
en die Moabitiese vrou Rut. God beskou hulle ook as kinders van
Sion. Al die generasies lei na Jesus Christus. Hy is die
vervulling en kroon van die ou verbond. In Hom mag u ook die seën
van Abraham ontvang.

So mag ons die koms van Jesus Christus gedenk. U mag kyk na
Hom in wie al die beloftes van God hul ja en amen vind; hul ja,
ook vir u (2 Kor 1:20).

Want Hom, in wie God se onveranderlike trou geopenbaar word,
is ook diegene wat die woorde van die Here in vervulling laat
gaan. In Hom bly geen enkele belofte onvervul nie. In Hom ontvang
u alles wat u vir u verlossing nodig het. Jesus is sy naam: die
Here red. En Hy doen dit volkome.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)