Die wet van die Here is ’n wet van vryheid.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-12-05
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Sondag 34

Ds C Kleyn - Sondag 5 Desember 2004

Lees: Deuteronómium 6; Sondag 34.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 33:5,6; Ps 81:9-12; Ps 115:1-4,6;
Ps 115:8,9.

Tema: Die wet van die Here is ’n wet van vryheid.

Dit besef ’n mens wanneer jy nadink oor

  1. die wetgewer; en
  2. die 1ste gebod.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Elke Sondag oggend word die wet van die Here in die erediens
gelees. Bowendien word elke jaar oor die wet gepreek aan die hand
van die HK. So doen ons dit in die VGKSA. Ons is gewoond daaraan.
Tog is daardie twee dinge, die lesing van die wet en die
prediking van die wet opvallend in hierdie tyd. Nuwe tye vereis
tog om nuwe gewoontes. Jy kan tog nie bly aankom met die reëls
uit die ou tyd nie? So kan baie mense dit nie waardeer dat ons
nog met die wet van die Here kom nie. Daaronder is ook mense wat
hulleself as Christene beskou. Julle moet goed besef dat julle
deur die wet te handhaaf meer en meer alleen kom te staan.

Daarom, seuns en dogters, as julle God se wet wil naleef, gaan
julle dikwels teen die stroom in. In die verlede het die publieke
sedes in ’n groot mate ooreengestem met die Christelike
sedes. Onder die ou politieke bedeling het die wette van ons land
die Christelike waardes ondersteun. Dit het nou duidelik verander
met een van die liberaalste grondwette in die wêreld. Die ou
morele waardes word steeds meer en meer ondermyn deur wette van
die land en deur uitsprake van ons howe. Dink net aan die
uitspraak van die hof vorige week oor sogenaamde homoseksuele
huwelike. Dit sou die reg van homoseksuele pare wees dat hul
verhouding as ’n wettige huwelik erken word. Maak nie saak
wat die sewende gebod sê nie. Dink ook aan die manier waarop die
onnies se hande afgekap word in hul poging om ongehoorsame
kinders te dissiplineer. Ja, selfs hoe ouers voor die hof gedaag
kan word indien hulle hul kinders lyflik straf gee. Asof die
vyfde gebod nie nodig en heilsaam is nie. Dink ook aan die manier
waarop oor seksualiteit gepraat word, asof dit die reg van elke
burger is om sy seksuele behoeftes uit te leef maak nie saak hoe
jonk hulle is of met wie hulle omgang hê nie. En dit in ’n
land waar miljoene nog steeds met die dodelike virus HIV besmet
word en miljoene aan Vigs sterwe, met alle ellende wat daaraan
voorafgaan en daarop volg. Dink ook aan die negende gebod.
Hoeveel leiers is daar wat sonder enige diskriminasie die
waarheid hooghou en korrupsie bestry ook in hul eie vriende
kringe?

Die leus is individuele vryheid. Dit is die moderne afgod.
Wees gewaarsku! Jy word vertel dat jy vry is om te doen wat jy
goedvind en waarvoor jy lus is. Die mens het sy eie norm geword.
Hulle dink dat hulle God se norme nie nodig het nie. Sentraal
staan die mens self, sy eie ek. Solank as ek maar my deel kry, en
ek my begeertes kan vervul.

Nou, broer, suster, in so ’n tyd van selfsug, word die
wet van die Here as ondraaglike juk beskou, wat jy so gou as
moontlik moet afwerp. Die wet word as ’n belemmering gesien.
Die wet sou jou vryheid en vreugde in die lewe inperk.

Dis belangrik, geliefdes, dat julle ten volle bewus is van die
geestelike klimaat van ons tyd. Daar is baie sosiale en morele
druk op ons seuns en dogter, ja op elkeen van ons om ons aan te
pas. Dis nie maklik om altyd teen die stroom in te gaan nie. Dis
nie maklik om gesien te word as ouderwets en krampagtig nie. Jy
moet dus goed weet wat jy doen wanneer jy aan die wet van die
Here vashou. Is dit ’n ondraaglike juk, waarvan jy jou so
gou as moontlik moet bevry? Of kan en moet ons ander dinge
daaroor sê?

Ek verkondig vir julle: die wet van die Here is ’n wet
van vryheid

Dit besef ’n mens wanneer jy nadink oor

  1. die wetgewer; en
  2. die 1ste gebod.

Wanneer jy goed na die wet kyk, dan leer jy dat dit nie ’n
lys van onderdrukkende reëls is nie. Luister maar na die
inleidende woorde: “Ek is die Here jou God wat jou uit
Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.” Dis hoe die wet
begin. God stel homself voor as die HERE, jou God. Jahwe. As jy
die wet wil verstaan, moet jy weet wie die wetgewer is. Mense,
maghebbers kan allerlei wette voorskryf wat onderdrukkend is, wat
nie werklik die belange van ons burgers dien nie, maar wat sleg
is. Maar hier is die HERE besig om ons aan te spreek, Jahwe,
“Ek is wat ek is”. Diegene wat werklik daar is, altyd
aktief aanwesig tot verlossing van sy volk.

Wie is dan die HERE?

Hy is die God van die verbond. Hy is diegene wat homself bewys
het as die verlosser van sy volk. Die aanhef van die wet maak dit
duidelik, wanneer dit die bevryding uit die slawerny van Egipte
noem. Wanneer die Here sy wet by die Sinai gee, kan Hy verwys na
sy onlangse daad van bevryding uit Egipte. Wat was die situasie
van Israel in Egipte? Israel het hard moet werk onder die juk van
slawerny. Hulle het gekerm onder die onderdrukkende wette van
Egipte. Maar die Here het aandag aan hul gekerm gegee. Nie omdat
die mense so goed was nie. Die Bybel vertel ons dat Israel in
Egipte afgode gedien het. Israel het sy bevryding op geen enkele
manier verdien nie. Die Israeliete het dit ook op geen enkele
manier self tot stand gebring nie. Nee, die Here het in sy
barmhartigheid na sy volk omgesien. Die Here het aan sy verbond
met hul vaders Abraham, Isak en Jakob gedink. Dit was vanweë die
Here se trou aan sy verbond dat Hy sy volk bevry het.

Ons sien dus dat die bevryding teruggaan na die verbond met
Abraham en sy nageslag. Die hele menslike geslag het in
duisternis gewandel, was aan die verdoemenis onderworpe. Uit die
verlore menslike geslag het God egter vir homself ’n volk
uitgekies sodat die volk opnuut in ware vryheid sou lewe.

Geliefdes, wanneer die Here homself voorstel as die HERE jou
God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het, dan
herinner hy julle aan jul bevoorregte posisie. Uit enkel genade
het God ’n verbond van lewe met jou opgerig. Hy, die HERE
jou skepper wil jou God wees. Hy het homself ook bewys as jul
Verlosser.

Natuurlik bly ons as N.T.iese gemeente nie staan by die
bevryding uit Egipte nie. God se werke van verlossing het
voortgegaan. Jesus Christus het op aarde gekom. Hy het bevry uit
die slawerny van die sonde. Terwyl ek van nature deur die sonde
en die dood gevange was, nie in staat om myself daarvan te bevry
nie, het Christus ingegryp en my verlos.

Daarom, broer, suster, word die wet nie aan jou verkondig as
’n onderdrukkende juk nie, maar as ’n wet van vryheid.
Die wet leer jou hoe God jou op die pad van vryheid geplaas het
en hoe Hy jou op die pad van vryheid wil bewaar. Bevryde mense
word nie aan hul lot oorgelaat nie. God los jou nie in die
duisternis nie, Hy laat jou dit nie self uitsorteer nie. Dan sou
jy die vryheid vinnig verruil vir die slawerny van die sonde.
Daarom gee jou Verlosser jou rigting hoe jy moet lewe in die
vryheid van die kinders van God.

God se wette leer jou om die verskillende verhoudings te sien
en te respekteer. God wys die regte plek vir alles en almal. Hy
reël eers die verhouding met Homself. Jy leer wat jou houding
moet wees hou jy jou moet gedra teenoor God, teenoor sy diens, sy
naam en sy dag. Daarna reël God ons verhouding met ons naaste.
Eers met hulle wat die meeste naby ons is, ons ouers. Dan beskerm
die Here die naaste se belange en besittings. Jy word geroep om
sy lewe te respekteer, sy huwelik, sy besittings, sy naam. Ten
slotte gee die 10de gebod ’n soort samevatting. God leer ons
daarmee dat hy nie net let op die sondige dade nie, maar ook op
die onderliggende gedagtes en begeertes.

God se wet dek alle dele van die lewe. Daar is geen deel wat
buite die wet val nie. Indien daar een area is waarvan jy
moontlik sou dink dat dit vir jouself is, dan sou dit jou eie
gedagtes en gevoelens wees. Jy is tog vry in jou denke. Maar God
lê ook beslag op daardie deel van jou: “jy mag nie begeer
nie.” Die Here doen dit nie om jou te pla nie. Dis nie so
dat Hy nie wil hê dat jy van die lewe geniet nie. Die teendeel
is waar. Hy gee sy wet om jou vryheid kompleet te maak. Hy wil
sien dat jy werklik vry is op alle gebiede van die lewe. Alles
moet van die mag van die sonde bevry word.

Daarom wys God die pad na die goeie harmonie, die harmonie in
die kerk en in die samelewing. Wanneer jy volgens sy wet lewe,
dan straal jy ware vrede uit. Aan die ander kant, wanneer jy die
wet van die Here ignoreer, dan verdwyn die vrede. Dan val die
lewe en die verhoudings uit mekaar. Jy sien dit massaal rondom
jou gebeur, ja, soms ook in jou eie lewe. Hoe miserabel is
dikwels nie ons lewe wanneer ons weier om God se heilsame gebooie
na te leef en om met die sonde te breek nie. Dit versteur werklik
ons lewens en verhoudings. Dit ontneem ons ons geluk in die lewe.
Pleks van ware ontwikkeling is daar die degenerasie van die lewe.
Wat ’n chaos word veroorsaak deur wetteloosheid, wat ’n
afbraak, verwoesting. Net die wet van die Here kan weer orde in
die lewe bring. Die wet is goed, nuttig omdat dit die wet van die
Here jul Skepper en Verlosser is.

Dan kan jy met die woorde van Ps 19:4 sing:

Die HEER se heil’ge wet / is rein en onbesmet,
En sal die hart bekeer;
Sy woorde sal gewis / aan wie eenvoudig is,
Die ware wysheid leer.
Sy regte heerskappy / die sal ons hart verbly
En onreg nooit gedoë;
En wat sy wet berig / is suiwer soos die lig
Wat afstraal op die oë.

Ons het nou gesien dat God se wet ’n wet van vryheid is
deur te kyk na die wetgewer. In die tweede plek wil ons kyk na
die 1st gebod. Dit maak ook duidelik dat God se wet ’n wet
van vryheid is.

Die 1ste gebod is fundamenteel vir die hele wet. Die Here het
homself bewys as die enige ware God. Hy het homself bewys as die
altyd aktief aanwesige Skepper en Verlosser van sy volk. Hy het
homself aan sy volk verbind nie net deur hulle uit die slawerny
van Egipte te verlos nie, maar ook en veral deur hulle van die
slawerny van die sonde en die dood te red.

Nou dit so is, dan stel jy tog jou vertroue op Hom alleen en
dan het jy tog Hom lief? Dan wil jy tog leef vir hierdie Skepper
en Verlosser? Dan vertrou jy tog jouself toe aan sy Woord? Hy is
jou Maker fisies en geestelik. Jy behoort aan Hom, soos ’n
vrou aan haar man behoort. Die bruid het as dit goed is net een
man. En die een is genoeg. Daar is geen ruimte vir ’n derde
party nie. Daarom: “jy mag geen ander gode voor my aangesig
hê nie.”

Die Here het homself bewys as die groot Verlosser van sy volk.
Toe Hy ingegryp het, het hy die gode van die wêreld as
nulliteite ten toon gestel, hulle bestaan nie eers nie. Waar was
die gode van Egipte en die gode van Kanaän. Hulle het net
bestaan in die mense se verbeelding. Elke nasie het so sy eie
gode gekies. Liefs meer as een. Dit is beskou as veiliger om nie
al jou eiers onder een hen te sit nie. Jy kan beter die risiko
verdeel. So kan jy in die stryd wel skade ly, maar nie alles
verloor nie. Dis hoe mense probeer het om hul eie posisie veilig
te stel. Hulle het nie al hul liefde en vertroue aan een god
gegee nie, maar dit verdeel onder verskillende gode. So was daar
onder die heidene ’n ryke variasie aan gode. Mense het hul
eie gode geskep. Sekere kragte in die skepping, waarvan mense
afhanklik was, is verhef tot gode. So het Egipte sy sonne god
gehad, maar ook sy Nyl god. In Kanaän het Israel dieselfde
vergoddeliking van natuurkragte raakgeloop. Baal was die god van
die weer. Dinge wat God geskep het, is verhef tot gode deur mense
wat hul eie bestaan wou verseker.

Broers en susters, julle sal verstaan dat die Here God nie kan
toelaat dat hy aan hierdie afgode gelykgestel word nie. Hy is nie
een van hulle soort nie. Hy is nie ’n god onder die gode nie.
Ook nie ’n nasionale god, ’n god wat deur ’n
sekere volk uitgekies is nie. Die aarde is nie verdeel in gebiede
wat elk sy eie god het nie, waaronder die Here dan ook sy plek
sou hê. Nee, die Here is uniek, onvergelykbaar. Luister maar na
Jes 40:25,26: “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net
so kan wees? sê die Heilige. Slaan jou oë op in die hoogte en
kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare
uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë
die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar
word nie een gemis nie. En vers 28: “Weet jy dit nie? Of het
jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van
die eindes van die aarde.”

Die Here jou God is nie ’n keuse of projeksie van mense
nie. Hy is heeltemal onafhanklik van die skepping. Hy is verhewe
as Skepper. Hoe kan Hy dan gelykgestel word met sy skepsels? Die
Here is nie die son of die maan of watter indrukwekkende
natuurverskynsel ook. Die Here staan bo dit alles as Skepper. Hy
het die wêreld, die son en maan en sterre, hemel en aarde met
alles wat daarin is tot stand geroep. Hy het hulle almal hul plek
en funksie gegee. So kies Hy ook self ’n volk uit om sy volk
te wees. Hy verander vyande in vriende en bondgenote. Hy maak
hulle wat dood in sonde was, lewend. Hy bring tot aansyn dit wat
nie bestaan het nie.

Daarom, geen ander gode voor my aangesig nie. Hoor Israel, die
Here onse God is ’n enige Here. Hy is die enigste. Gaan nie
na die nulliteite, na die versinsels van mense nie.

Geliefdes, moenie dink dat hierdie gebod nou uit die tyd en
irrelevant is omdat daardie gode van die verlede verdwyn het nie.
Baal bestaan nie meer nie. Molog, die god van die Ammoniete, en
Kamos die god van die Moabiete, het geen aanbidders meer nie.
Beteken dit dat daar vandag geen gode is nie? Ek wens dat dit
waar was. Daar is nog talryke afgode. Mensekinders lyk nie te kan
lewe sonder hulle nie. Mense het hul sterre, kragte, voorkeure.
Mense soek hul omgewing af om dinge te vind wat hulle rigting en
hulp in die lewe kan gee. Ons kultuur het die ou gode afgedank
omdat hulle waardeloos geblyk het, maar pleks daarvan het ons
ander nulliteite voor God geplaas.

Welke? Dink maar aan die mag van die geld, die aandele,
voorheen die magtige dollar en nou die magtige rand. Die mag van
wetenskap en tegniek. Die mag van musiek (hoeveel jong mense is
nie in die greep van die moderne musiek nie). Die mag van sport.
Pleks van volle kerke is daar nou stampvolle sportstadions. Die
god van die liggaam, van seks, van individuele vryheid. Hoeveel
mense is nie daardeur oormeester nie. Daardie gode het die rol
van die antieke gode oorgeneem. Hulle kry nie persoonlike name
nie. Maar hulle vorm wel magtige kragte in die lewe van die
mense, selfstandige kragte waarop vertrou word en wat aanbid word.
Dink jy dat ons geen heilige koeie het nie? Wat van die tempels
van die moderne wetenskap. Vir baie moet die sogenaamde wetenskap
bepaal wat ware godsdiens is. En durf maar nie om in te meng in
die individuele vryheid van mense nie. Dan word jy aangekla vir
diskriminasie, vir intoleransie. Die skepsel verhef homself tot
god. Die mens het die maatstaf van alle dinge geword. Hy moet
self kies sonder enige druk van buite af, veral nie vanaf die ou
Christelike vooroordele nie. Maar wee jou as jy nie kies wat die
profete van die vryheid sê nie.

Dink aan die negatiewe groepsdruk. Wee jou as jy weier om saam
te doen met die liefhebbers van die sogenaamde vryheid. Dan sal
hulle jou lewe suur maak. Dan verdring hulle jou vryheid. Jou
vryheid bestaan alleen daarin dat jy doen wat hierdie liberale
mense voorskryf. Die individuele vryheid is ’n heilige koei
maar jy mag nie durf om buite die moderne tendense te beweeg nie.
Dan is mense bereid om die gereg in te roep om jou jou vryheid te
ontneem.

Geliefdes, hierdie inkonsekwensie wys wat werklik die moderne
profete van die vryheid dryf. Hier geld die woord van die apostel
Petrus: “Hulle belowe vryheid aan hulle (aan hulle
aanhangers), terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is;
want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n
slaaf geword.” (2 Petr 2:19). Hierdie moderne profete is
self slawe van die sonde. Hulle is nie werklik self in beheer
nie, hoe baie hulle ook mag praat van eie baas wees, hulle is
oormeester deur hul sondige begeertes. Hierdie sogenaamde vrye
mense dink dat hulle kan doen wat hulle wil, maar feitelik is
Satan in beheer van hulle lewe om uiteindelik verderf oor hulle
te bring.

Broers en susters, dink julle dat jul vry van die kwaad is?
Die geskiedenis van Israel kan julle ’n les leer. Soos
Israel gaan ons soms ook agter nulliteite aan, sien ons iets in
dit wat niks is nie. Luister hoe die kat afgodery omskryf. Dis
veelseggend. “Dit is om in die plek van die enige ware God
wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit
te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.” Nee, om in
die plek van God iets te hê, dis iets wat ons nie wens te doen
nie. Ons wil God ’n plek in ons lewe bly gee. Maar om iets
naas Hom te hê waarop ons ons vertroue stel, dis ’n ander
storie. Hoe dikwels stel ons nie ons vertroue in dinge van
hierdie aarde nie? Ons verwag dit dan van onsself, van ander of
van sekere dinge. Hoe dikwels bou ons nie op ons krag, ons
insigte, ons gevoelens, ons verstandelike vermoëns, ons materiële
rykdom, ons slimheid of berekenings. Ek het alles uitgewerk en
dit kan nie verkeerd gaan nie, dink ons. Hoe dikwels word dit nie
verborge – of selfs minder verborge – gode naas die
enige ware God nie?

Hoe dom is ons dan. Wie gaan nou sy vertroue op verganklike
skepsels stel? Die Here jou God, Hy alleen is God. Sy liefde
verdra geen ander god naas Hom nie. Alles behoort aan Hom: jou
krag, jou verstand, jou besittings, dis alles van Hom. Daarom,
vertrou op Hom alleen. Doen dit ter wille van jou lewe. Die Here
waarsku jou nie teen die gode omdat Hy bang vir die kragte buite
hom sou wees nie. Hy weet beter. Hulle is net skepsels van Hom.
Hulle is in feite nulliteite. Nee, die Here is bekommerd oor jou.
Jy sou dalk jou hart sit op dinge wat net nulliteite is. En
daardeur jou vryheid verloor. Dit sou jou verderf beteken.
Daarom, wees bly met God se wet wat jou ware vryheid beskerm.
Onthou dat die wetgewer die Here jou Skepper en Verlosser is.
Stel jou vertroue op Hom alleen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)