God se kind sing van die rus in die gemeenskap met die God van die verbond.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-11-14
Text: 
Psalms 131
Preek Inhoud: 

Psalm 131

Ds C Kleyn - Sondag 14 November 2004 -
Nagmaal

Lees: Psalm 131.
Sing: Ps 108:1,2; Ps 107:1; Ps 131; Ps 25:4,7;
Ps 62:4; Ps 63:4; Ps 65:2; Ps 65:3,4.

Tema: God se kind sing van die rus in die gemeenskap
met die God van die verbond.

  1. die rus word nie gevind by die mens self nie
  2. maar in God en die woord van sy genade

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons leef in ’n wêreld waarin baie onrus en onsekerheid
heers. Alles is konstant in beweging en aan die verander. Waar
sal dit alles op uitloop? Hoeveel onrus en onsekerheid is daar
ook nie dikwels in ons eie lewens nie. Daar is soveel dinge wat
ons kan pla. Frustrasies, teleurstellings, swaarkry, by die huis,
by die werk, in die samelewing of in die kerk. Wie kan nog rus
vind in rustelose tye?

Deur Ps 131 wys die Here hoe ons die onrus kan oorwin en weer
rus kan vind.

Ek verkondig vir julle: God se kind sing van die rus in die
gemeenskap met die God van die verbond.

  1. die rus word nie gevind by die mens self nie
  2. maar in God en die woord van sy genade

Die Psalmis teken homself as ’n nederige man. “O
Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie.” Die hart
word beskou as die oorsprong of setel van hoogmoed. Daarom eers:
my hart is nie hoog nie. My hart verhef hom nie bo my naaste nie.
Ek is nie hooghartig nie. Die oë wys meestal wat in die hart
leef. Daarom vervolg die digter: my oë is nie trots nie. Ek kyk
nie uit die hoogte neer op ander mense nie. Die Psalmis bely dat
hy nederig van hart is en dat hy ’n nederige houding wys.

Dawid vervolg: “Ook wandel ek nie in dinge wat vir my te
groot en te wonderbaar is nie.” Wat bedoel hy daarmee?
Voorbeelde uit die Bybelse geskiedenis kan dit duidelik maak. Kyk
na Abraham. Die Here het hom ’n talryke nageslag belowe. Die
belofte word nog steeds nie vervul. Sara bly onvrugbaar. Wat doen
Abraham en Sara wanneer hulle albei oud is? Hulle dink dat hulle
die belofte moet red. Hulle begin om te wandel in dinge wat vir
hulle te groot en te wonderbaar is. Hulle probeer om die
vervulling van God se belofte en hul toekoms in hul eie hande te
neem. Hulle sal daarvoor sorg dat alles uitkom soos God belowe
het. Laat Abraham maar ’n kind by die slavin Hagar kry dan
sal alle probleme opgelos wees. Asof die mens eiemagtig daarvoor
moet sorg dat God se beloftes vervul word. Wat ’n hoogmoed.
God self sal daarvoor sorg dat sy beloftes vervul word.

Die Jode in die tyd van Christus se omwandeling op aarde het
ook gewandel in dinge wat vir hulle te groot en te wonderbaar was.
Hulle het gedink dat hulle allerlei gebooie en voorskrifte
noukeurig moes naleef om daardeur by God in die guns te kom. Wat
’n hoogmoed. Asof ons ons eie saligheid kan bewerk, asof
’n mens sy eie toekoms, sy ewige toekoms kan waarborg.

Geliefdes, hierdie menslike hoogmoed gaan terug na die paradys.
Daar het Satan gesuggereer dat ons soos God kon wees. Die
hoogmoedige mens wil soos God wees. Ek wil myself handhaaf,
verhef. Ek wil my eie toekoms waarborg. Ek durf myself nie aan
God oor te gee nie. Dit voel veiliger om sekere dinge uit sy
hande in eie hande te neem. Dan wandel ek in dinge wat vir my te
groot en te wonderbaar is. As ek in ’n moeilike situasie
verkeer dan kan dit gebeur dat ek dink dat ek ’n kompromis
met die sonde nie kan ontwyk nie. Ek moet die situasie tog
leefbaar hou. Ek dink dan dat ek met God se bevel en belofte nie
kan klaarkom nie. Ek kies daarvoor om die duidelike woorde van
die Here te ignoreer om my posisie te red, om my vriende of my
kontrakte te behou. So neem ek my lewe en toekoms in my eie hande.
Die teenoorgestelde van wat Dawid gedoen het.

Wanneer ek nederig is, dan erken ek my eie beskeie plek
teenoor God. Dan weet ek dat ek volkome afhanklik van die Here is.
Dawid wag op die Here. Hy dring homself nie na vore nie. Ook nie
na sy salwing nie. Hy aanvaar geduldig die lang pad van
vernedering onder die hand van Saul. Hy wag totdat God Hom verhef
en vir hom die beloofde troon gee. Hierin is Dawid ’n
voorbeeld van nederigheid.

Wat is dan ware nederigheid. Dit is dat jy jou aan die Here
onderwerp. Dat jy die Here volgens sy Woord dien, maak nie saak
hoe moeilik dit mag wees en hoe dikwels jy ook tekort gekom het.
Dis die erkenning: ek kan die nie self doen nie, God die
Almagtige moet dit vir my doen.

Nou die tweede gedagte: die rus word gevind in God en die
woord van sy genade.

Die Psalmis vervolg: “Waarlik, ek het my siel tot
bedaring gebring en stilgemaak.” Hierdie woorde vorm ’n
kontras met die voorgaande. In vers 1 het Dawid bely: “my
hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in
dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.” Nou sê
hy: inteendeel, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak.

Hoogmoed en stilheid/rus staan teenoor mekaar. Hoogmoed
veroorsaak rusteloosheid terwyl nederigheid rus gee. Dikwels lyk
dit asof die teenoorgestelde waar is. As jy jou lewe en jou
toekoms in eie beheer het, dan gee dit jou tog rus en nie
rusteloosheid nie? Jy weet waar jy staan en wat om te verwag.
Tenminste so lyk dit. Maar die skyn bedrieg. Vind jy op daardie
manier werklik rus vir jou siel? Dit lyk miskien so wanneer alles
voorspoedig gaan, maar die pad loop uiteindelik dood.

Dit word dikwels tydens hierdie lewe reeds ontdek. Wat so goed
vir eie persoonlike ontwikkeling gelyk het, blyk nadelig te wees.
Na ’n rukkie blyk die vryheid van die wêreld bitter te
wees, teleurstellend. Die blydskap verdwyn soos in die lewe van
die verlore seun. Die lewe sonder God blyk dikwels hard te wees,
rusteloos en onseker. So is daar baie rusteloosheid en
onsekerheid in ons samelewing. Mense wil hul lewens en die
toekoms van die wêreld op hul eie skouers neem. Maar hulle
beroof hulleself van die rus. Hulle neem ’n las op hulleself
wat hulle nie kan dra nie. Hulle wandel in dinge wat te groot en
te wonderbaar vir hulle is.

Daarom nooi die Here Jesus ons ook tot homself met die woorde:
Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle
rus gee. Al die pogings om jou eie heil of dit van jou kinders of
dit van die kerk of samelewing te bewerk, veroorsaak net dodelike
vermoeiing, rusteloosheid en teleurstelling. Christus roep ons op
om soos die kinders te wees, om eie hulpeloosheid en onmag te
aanvaar en om met leë hande na Hom te vlug.

Ware vrede en rus word alleen deur Hom verkry. Teenoor die
idee van self verlossing, bied Christus homself aan as die
enigste Verlosser, wat rus en redding gee.

Dawid sing reeds daarvan in Ps 131. “Waarlik, ek het my
siel tot bedaring gebring en stilgemaak.” Dawid wil duidelik
maak dat die rus nie sommerso gekom het nie. Hy moes daarvoor veg.
Hy moes sy siel tot bedaring bring en stilmaak. Daar was die
versoeking om homself te verhef, die versoeking om die grense wat
God gestel het te oorskry. Sterk was die neiging om uit te gaan
bo wat God in sy woord gesê het. Hy wou ook meer weet en meer
doen as wat God hom toegestaan het. Die Psalmis moes daarteen
stry. Hy moet die neiging bedwing. Dit was nie sonder moeite dat
hy homself aan God se woord en wil moes onderwerp nie. Maar hy
het geleer om dit te doen. Ek het my siel tot bedaring gebring en
stilgemaak.

Die rustelose siel wat heen en weer geslinger was, is tot
bedaring/rus gebring. Die Psalmis het ook geleer om stil te wees
soos ’n kind. Terwyl hy gedink het dat hy dit self moes
doen, toe hy nog ’n groot mond gehad het, het die
rusteloosheid gebly. Maar toe hy geleer het om stil te wees, om
rustig te luister na die woord van God en om hom daaraan te
onderwerp, het die rus teruggekeer.

Gemeente, hierdie rus word vergelyk met die rus van ’n
kind by sy moeder. Hoe is in die reël ’n kind wat netnou
aan die bors van sy moeder gedrink het? Die kind is weer rustig.
Daarvoor was hy onrustig, huilerig, maar noudat hy gevoed is, is
hy voldaan en rustig. Die kind lê rustig in sy ma se arms. Op
’n vergelykbare manier vind die kind van God rus by die
Here, deur die geestelike voeding wat God vir hom gee.

Wat is die voeding? God voed en verkwik ons met sy lewende en
kragtige woord. Met sy woorde van lewe, met die goeie nuus van
verlossing in Jesus Christus ons Here. Waar vind ons rus in die
stryd teen die sonde in ons lewe? Waar vind ek rus by al die
nederlae wat ek gelei het, in die harde werklikheid van die lewe,
met my eie onmag, verdorwenheid, hulpeloosheid? Die rus word net
gevind in God se woord van genade. By die oop Bybel. Deur die
prediking van die woord. Deur die gebruik van die sakramente,
deur die gebroke brood wat ek mag eet en die beker waaruit ek mag
drink. Teken en seëls van Christus se liggaam en bloed, van
verlossing in Hom.

Broers en susters, dit gebeur nog baie dat ons ons bly kwel
oor sekere dinge in ons lewe. Ek bly steeds met die las rondloop.
Dit bly my pla. Dit kan swakheid, gebrokenheid, teenslag of
teleurstelling wees. Dit kan verdriet of pyn wees. Ek kan maar
nie daarmee klaarkom nie. Ek bly rusteloos.

Hoe kan ek rus vind? Deur na God se woord van genade te
luister. Deur die Nagmaal in geloof te gebruik. So wil God jou
voed en verkwik soos ’n gespeende kind by sy moeder.

Maar waarom is daar net rus by die Here? Vir God is niks te
groot en wonderbaar nie. Ons oorlaai onsself deur die las van ons
lewe of toekoms op ons eie skouers te wil neem. Maar God oorlaai
homself nooit nie. Hy het die wêreld uit niks geskep. En Hy
onderhou in sy voorsienigheid nog steeds alle dinge. Hy waarborg
die toekoms van sy kinders, ook wanneer daar menslikerwys
gesproke geen toekoms meer lyk te wees nie. Wat ons verknoei,
bederf het, ons nederlae kan die toekoms nie van ons wegneem nie.
In sy genade sorg God vir ons verlossing. Christus het juis vir
my, ’n sondaar, gesterwe. Ek mag uit genade lewe. God se
genade is vir my genoeg. Sy genade gee rus. Dink net wat die
genade beteken: ’n onverdiende guns van God se kant. God se
genade hou my, so te sê, op die been, maak nie saak hoe moeilik
my situasie mag wees nie. Niks is te wonderbaar vir die
Verbondsgod, my Skepper en Verlosser.

Daarom: “Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in
ewigheid!” Los al die eiewillige oplossings, al die vertroue
in eie prestasies. Verwag die oplossing van Hom, verseker dat Hy
dit kan en wil doen.

Moenie dit net nou doen nie, of wanneer julle in die probleme
kom nie. Nie, doen dit steeds weer en weer, voortdurend, ja, tot
in ewigheid.

Geliefdes, daar is rus vir elkeen wat glo. Rus in die
gemeenskap van die Verbondsgod. Rus by God se woord van genade.
Rus aan die Nagmaal, by die tekens van brood en wyn. Geniet van
die rus nou, en altyd weer.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)