Die Here verydel Satan se aanslae op die leier Nehemia.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-09-26
Text: 
Nehemía 6
Preek Inhoud: 

Nehemia 6:1-14

Ds C Kleyn - Sondag 26 September 2004

Lees: Nehemia 6:1-14.
Sing: Ps 146:1,8; Ps 51:1,6; Ps 70:1,2; Ps 11:1-5; Ps 125:1-7.

Tema: Die Here verydel Satan se aanslae op die leier
Nehemia.

Ons let op die drie onderskeie aanslae:

  1. uitnodiging tot vredesonderhandelinge;
  2. verdagmaking; en
  3. intimidasie tot heiligdom skending.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die sesde hoofstuk van Neh bereik die teenstand teen die
bou van Jer se mure ’n klimaks. Vroeëre opposisie was teen
die Joodse volk gerig. In hoofstuk 4 lees ons van psigologiese
oorlogvoering wat daarop gerig was om die moraal van die Jode te
verwoes, dreiging van ’n aanval en persoonlike ontmoediging.
Hoofstuk 5 noem interne moeites onder die Jode vanweë sosiale
onreg. Alles was gerig teen die Joodse volk. In hoofstuk 6 is die
opposisie teen Neh persoonlik gerig. Die vyande wil nou probeer
om die werk te stop deur die leier te tref. Hulle wil Neh laat
val.

Om leier te wees in onder normale omstandighede moeilik genoeg.
Maar wanneer die leier die teiken van persoonlike aanvalle word,
word dit nog moeiliker. Hoe behoort ’n mens daarop te
reageer. Hoe reageer Neh op die persoonlike aanvalle? Drie
onderskeie planne word uitgedink om Neh te oormeester. Deur God
se genade en Gees bly Neh getrou op sy pos.

Ek verkondig vir julle: Die Here verydel Satan se aanslae op
die leier Nehemia.

Ons let op die drie onderskeie aanslae:

  1. uitnodiging tot vredesonderhandelinge
  2. verdagmaking
  3. intimidasie tot heiligdom skending

Die situasie van Neh se vyande is byna desperaat. Hulle het
die hele tyd al geprobeer om te voorkom dat Jer weer ’n
versterkte stad sou word. Maar die mure is byna gereed. Al wat
nog moet gebeur is om die poortdeure te hang in die openinge wat
daarvoor gereserveer is. As Sanballat en sy bondgenote nog iets
wil doen, dan moet hulle dit vinnig doen. Hulle het min tyd oor.
Hulle besluit om hul taktieke te verander van konfrontasie na
konsultasie. Hulle nooi Neh om met hulle te praat erens in die
Onolaagte, halfpad tussen Jer en Samaria. Om saam die situasie te
bespreek. Miskien het hulle dit laat voorkom dat hulle spyt is
oor die vroeëre vyandskap en dat hulle nou vrede soek. Laat ons
die verlede vergeet en strewe om in vrede met mekaar te lewe.
Kom, laat ons vriende wees. Wat ons daarom moet hê is ’n
bespreking op hoë vlak.

Hierdie aanbod klink natuurlik soos goeie nuus vir die Jode
wat moeg is. ’n Wapenstilstand is tog beter as voortdurende
vyandskap en dreigemente? Wie sou nie verlang na ’n einde
aan al die vyandskap nie? Sanballat en sy vriende sal alles
gedoen het om oor te kom as beleef en vredeliewend. Die duiwel in
die gedaante van ’n engel.

Neh laat hom nie mislei nie. Hy sien deur die uitnodiging heen.
Hy sien dat hulle besig is met planne om hom kwaad aan te doen.
Dit is ’n komplot om hom dood te maak. Neh ken die manne wat
hom nooi en hy weet dat as die vos die passie preek, moet die
boer sy ganse oppas. Hulle kan nie vertrou word nie.

Sanballat plaas druk op Neh deur die versoek vier maal te
herhaal. Vier keer wys Neh die versoek af. Neh weet wat hom te
doen staan: hy moet die mure bou. As hy die werk neerlê om te
gaan praat, dan sal die bouwerk platlê. Daarom sê hy: "Ek
is besig met ’n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet
die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?"
Niks mag hom aftrek van sy God gegewe taak om die stad te herbou.

Gemeente, agter die gesig van menslike vyande staan ons
grootste vyand, die duiwel. Hy is vol skelmstreke om ons af te
lei van ons diens aan die Here. Moenie sy mag onderskat nie. Wees
bewus van sy listige planne. Hoe dikwels probeer hy nie om ons
aandag van God en sy diens af te trek nie. Hy kom soos ’n
engel van die lig. Hy suggereer: kom, laat ons praat, laat ons
vriende wees. Vergeet tog die antitese, die teenstelling tussen
gelowiges en ongelowiges, tussen kerk en wêreld. Jy moet in die
wêreld leef. Wel, maak die beste daarvan. Stort jouself
byvoorbeeld in sport, ook al kos dit jou byna elke aand van die
week. Dit hou jou gesond. Stort jouself in jou besigheid. Aanvaar
die promosie wat vir jou aangebied word, ook al beteken dit dat
jy dan geen tyd meer vir jou vrou en kinders of vir kerklike
aktiwiteite oorhou nie. Jy moet tog dink aan jou toekoms en die
ekstra geld wat jy verdien kan die kerk baat. Dit klink so mooi.
Baie Christene val daarvoor. Intussen het dit Satan geluk om jou
aandag weg te trek van God en sy diens. Jy word heeltemal in
beslag geneem deur jou aardse strewe ten koste van God se werk.
Jy is nie meer beskikbaar vir die werk van die Here in gesin of
gemeente nie.

Soms sien ’n mens dit ook mbt die Sondagsheiliging en die
besoek van die eredienste. ’n Familielid of vriend skakel
jou om te sê dat hy Sondag wil kom kuier. Hoe reageer jy daarop?
Ja, jy voel dit is belangrik dat julle weer ’n keer saam
kuier. Julle het mekaar vir ’n tyd nie gesien nie. Die
familielid of vriend weet dat jy Sondag twee maal kerk toe gaan,
maar hou daar gemakshalwe geen rekening mee nie. Durf jy om dit
dan wel te noem? Durf jy om te sê: dis mooi dat jy wil kom, ek
sien daarna uit. Jy is baie welkom om te kom. Alleen, ek is nie
beskikbaar tussen 9 en 11 uur en tussen 6 en 8 uur nie. Ek het
dan ’n ander afspraak, ’n afspraak met God en sy
gemeente. Ja, durf jy dit nog te sê? God het op Sondag iets
anders vir my beplan – om Hom en sy volk te ontmoet, om na
sy woord te luister, om sy lof te sing en om my medegelowiges te
bemoedig.

Geliefdes, laat julle aandag nie afgetrek word van jul
Christelike roeping nie. Die verleiding is soms baie sterk,
listig. Wees waaksaam. Jou vyand, die duiwel, loop rond soos
’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Hy bied
homself dikwels aan as ’n engel van die lig. Maar hy is
daarop uit om jou weg te trek van God en sy diens. Hy hou nie op
met sy vriendelike uitnodigings om jou af te lei van jou
goddelike roeping nie. Staan hom teë, standvastig in die geloof.
Laat nooit jou aandag aftrek van jou God en van wat Hy vir jou
beplan nie. Bly aan die werk as mede bouers in God se koninkryk.

Gemeente, wanneer hierdie komplot misluk, gryp Neh se vyande
na verdagmaking. Die tweede gedagte van die preek.

Sanballat stuur sy dienaar na Neh met ’n ope brief.
Luister na wat hy skryf: "Onder die nasies word ’n
gerug versprei, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs
’n opstand beplan. Daarom bou jy die muur. Volgens die gerug
wil jy koning word oor hulle, en jy het ook al profete aangestel
om jou in Jerusalem tot koning oor Juda uit te roep. Die koning
van Persië sal hierdie gerug te hore kom. Kom nou, laat ons saam
praat."

Die brief is nie net boosaardig nie, maar ook polities
skadelik. Dis ’n oop brief. Opsetlik. Sodat enigiemand dit
kan lees op sy pad na Jer. Laat die gerug maar versprei so ver as
moontlik. En dan bied Sanballat homself aan as ’n vriend wat
Neh die geleentheid wil gee om sy naam van blaam te suiwer.
Gestel dat die koning hierdie gerug hoor. Neh sal Sanballat se
beskerming nodig hê. Alleen al vir die rede sou dit goed wees as
hulle saam praat.

Die brief versin gerugte deur denkbeeldige bronne van
informasie aan te haal: onder die nasies word ’n gerug
versprei, en Gesem bevestig dit. Dis hoe dit dikwels met gerugte
gaan. Mense haal vername persone aan om hul vyande in diskrediet
te bring. En gerugte versprei soos veldbrande. Sondige
mensekinders hou daarvan om informasie deur te gee wat die goeie
naam van ander skaad. En as jy die gerugte ontken dan word jy
dikwels tog nie geglo nie. Wat kan jy doen as jy ontdek dat
boosaardige gerugte oor jou versprei word?

Ons is meestal gevoelig oor ons reputasie, oor hoe mense ons
sien en beoordeel. Ons is dikwels ook bang vir wat met ons gaan
gebeur as mense die aanklagte teen ons glo. Geslote deure,
afwysende blikke, veragting, vernedering, gemene, haatlike briewe
of oproepe. Ons vrees sulke dinge. En wat nog erger is, is die
skade wat aan die werk, aan God se werk gedoen word. Ons kan
daaroor opgewonde raak. Ons moet egter oppas dat ons kwaadheid
nie ons suiwer oordeel verhinder nie.

Wie is die groot boosdoener? Wie is diegene wat ons kwaad wil
hê? En wat beoog hy daarmee om die leuenagtige gerugte oor ons
te laat versprei? Sy verleiding is geslepe. Dis so maklik vir hom
om ons af te lei van ons belangrikste doelstellinge in die lewe.
Dit gebeur te dikwels dat Christene die mense aanval wat hulle
aanval. So word hul aandag en energie afgetrek van God se werk.
Seker, dit is nie verkeerd om jouself teen laster te verdedig nie.
Pas egter op dat jy nie so behep is met selfverdediging dat jy
die werk wat God vir jou te doen gegee het, uit die oog verloor
nie. Dis een ding om verkeerde inligting te korrigeer. Maar jy
sal nooit die skade wat ander mense deur hul leuens jou aangedoen
het, kan herstel nie. Soos jy ook nooit die skade sal kan herstel
wat deur jou eie leuens gemaak is. Onthou, jy is ook ’n
sondaar – deur genade gered. Tydens hierdie lewe kan ons net
sover kom. Uiteindelik sal God ons pleitbesorger wees.

Neh se keuse was die regte keuse. Hy het op die leuenagtige
beskuldigings gereageer. Hy kon nie anders nie. Die brief was aan
hom geadresseer. Maar hy het dit kort en kragtig gedoen. "Niks
van wat jy sê is waar nie. Jy suig dit uit jou duim."

Neh vermors geen tyd aan uitvoerige selfverdediging nie. Hy
deursien die motief van die laster, om hom te ontmoedig om met
die bou van die mure aan te gaan. Hy reageer op ’n gepaste
manier: Hy gaan aan met die bou. Met ’n bede tot God vir
krag. Hy wy homself aan sy taak. Hy bid: sterk my hande, o God.
Hy vra vir God om hom in staat te stel om die gerugte te ignoreer
en om met die bouwerk aan te gaan totdat dit voltooi is. Hy bid
vir ekstra krag om die vrees te oorwin vir wat die Persiese
koning kan gaan doen as hy die gerugte hoor.

Neh neem hom voor om nie bekommerd te wees oor sy reputasie
nie of oor hoe die koning sal kan reageer op Sanballat se laster.
Ja, die koning sou dit kan glo en Neh kan terugroep om hom te
onthoof. Maar dit is sake wat buite Neh se beheer is. Sake wat hy
in God se hande moet laat.

Gemeente, om rustig te bly werk ondanks die groot onsekerheid,
daarvoor is genade nodig. God gee vir Neh die genade. God hou hom
staande. God gee reëlmatig groot genade vir hulle wat, ondanks
moeites, nederig aangaan met die taak wat Hy aan hulle gegee het.
Vertrou jou saak aan God toe en wees verseker dat Hy uiteindelik
jou reg sal herstel, wat ook al in die korte termyn mag gebeur.
Wanneer jy die versoeking voel om bang te word, onthou die woorde
van die apostel Paulus: "Maar in al hierdie dinge is ons
meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het" Rom 8:37
en die konteks van daardie bemoedigende woorde.

Baie jare later skryf die apostel Petrus aan die gelowiges wat
worstel met ’n onregverdige behandeling. Hy rig hul gedagtes
op die Here Jesus Christus, wat valslik beskuldig is. "Wat
toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely
het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat
regverdig oordeel" (1 Pt 2:23). Ons sondelose en lydende
Verlosser het sy eer in die hande van sy hemelse Vader gelos. Ons
moet leer om sy voorbeeld daarin te volg wanneer ons die verdriet
van laster ervaar. Die houding van Neh en van Jesus Christus sal
ons bewaar vir die strik van wrewel en wraaksug.

Gemeente, die derde komplot teen Neh kom in die vorm van
’n poging om hom deur vrees te verlei om heiligdom skending
te pleeg. Dis die derde punt van die preek: intimidasie tot
heiligdom skending.

Neh besoek ’n profeet Semaja wat homself in sy huis
toegesluit het om een of ander duister rede. Tydens daardie
besoek vertel Semaja aan Neh dat mense die plan het om hom in
daardie nag dood te maak. Hy stel voor om in die tempel van die
Here toevlug te soek. "Laat ons saamkom in die huis van God,
binne-in die tempel, en laat ons die deure van die tempel
toesluit, want hulle kom om u dood te maak." Die geslepe
Semaja bied sy voorstel aan as profesie. As ’n berig van God
om Neh te oortuig. Neh kan die stem van die Here tog nie ignoreer
nie?

Hierdie keer kom die verleiding van een van God se eie volk,
nie van buite nie, soos by die twee eerste komplotte, maar van
binne. Indien Semaja dieselfde persoon is as wat in Neh 10:8
genoem word, dan is hy selfs ’n priester. So kom dan die
verleiding dalk van ’n priester wat sy woorde as profesie
aanbied.

Hoekom wys Neh sy waarskuwing en voorstel af? Hoe sien hy deur
die komplot? Wat stel hom in staat om die valse profesie te
onderken en om dit van ware profesie te onderskei? Ja, hoe
ontvang jy geestelike onderskeidingsvermoë? Sulke
onderskeidingsvermoë kom van die kennis van God se woord en
’n lewendige omgang met God. Om te onderskei moet jy op God
en sy Woord afgestem wees. Vra voortdurend in jou lewe wat tot
God se eer is, wat God se wil is. Neh leef naby die Here. Neh
fokus op God se geopenbaarde wil. Neh het die gewoonte om
voortdurend te vra wat God wil hê hy moet doen en wat God se eer
dien. Daarom kan Neh onderskei, daarom sien hy die kern van die
saak raak en ontdek hy die misleidende planne van sy teenstanders.

"Sal ’n man soos ek vlug?" vra hy. Die vraag is
nie spoggery nie. Hy weet dat God wil hê dat hy die bouprojek
klaar maak. Sou die God wat vir hom gesê het: bou Jer se mure,
nou sê: vlug vir jou lewe? ’n Teken van lafhartigheid by
Neh sou die moraal van die Joodse werkers ernstig ondermyn. Dit
sou die bouprojek tot ’n halt bring. Daarom is Neh op sy
hoede.

Neh se tweede vraag wys ’n dieper argwaan. "En hoe
durf een soos ek die tempel ingaan en in die lewe bly? Ek sal nie
ingaan nie." Neh is nie ’n priester nie. Om homself in
die tempel weg te steek, selfs om sy lewe te beveilig, sou
heiligdom skending wees. God het mense wat geen priester is nie,
streng verbied om die tempel binne te gaan. Wel, sou God wat dit
so strik verbied het, nou skielik sê: geen probleem Neh, skuil
gerus in die tempel? Jy kan nie jouself red deur die wet van die
Here te verbreek nie. Sonde is nooit ’n oplossing nie.
Wanneer ’n woord van ’n sogenaamde profeet in stryd is
met wat God reeds geopenbaar het, dan kan jy seker daarvan wees
dat jy met valse profesie te doen het en nie met ware profesie
nie.

Met sy blik op God gerig, vra Neh die regte vrae. Indien dit
nie van God is nie – dit gaan duidelik teen God se
geopenbaarde wil – waar kom dit dan wel vandaan? Watter
motief lê daaragter? Deur sulke vrae te stel, word die saak vir
Neh duidelik. "Ek het duidelik gemerk dat God hom nie
gestuur het nie, maar dat hy die profesie oor my gespreek het,
omdat Tobia en Sanballat hom gehuur het." En waarom het
Tobia en Sanballat dit so gedoen? "Hy is omgekoop om my bang
te maak sodat ek ’n sonde sou begaan en hulle die
geleentheid gee om sleg oor my te praat en my naam sleg te maak."
Gestel dat Neh daarvoor geval het. Hy sou homself in diskrediet
gebring het as ’n lafaard wat nie op die Here vertrou het
nie en die Here ongehoorsaam was om sy eie lewe te red.

Dank God, Neh is nie ’n lafaard nie, ook nie ’n
selfsugtige wetsoortreder nie. Die bevel van die Here is vir hom
belangriker as die woord van ’n man, ook al is dit ’n
priester wat beweer dat hy die bonatuurlike gawe van profesie het.
Neh, soos die apostels na hom, vrees God en nie mense nie. Hy
vertrou die saak aan God toe in gebed (vers 14) en gaan aan met
sy toesig oor die voltooiing van die poorte.

Geliefdes, so ’n houding moet gewys word waar God ons
take gee om te doen. Laat vrees jou nooit verlam nie. Moenie
toelaat dat vrees jou daartoe lei om God se woorde en werke te
ignoreer nie. Wees wakker. Jou vyand, die duiwel, is daarop uit
om jou van God en sy woord weg te trek. Hy gebruik mense van
buite en mense van binne. Hy wil jou ongehoorsaam aan God maak.
Staan hom teë. Bly standvastig in die geloof. Daardeur kan jy
ook onderskei tussen waar en vals. Vandag is daar ’n groot
tekort aan onderskeiding. Glo nie elke gees nie, sê die Here vir
ons, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is (1 Joh
4:1). Wees op God afgestem. Ondersoek die Skrifte om te weet of
die dinge werklik is, soos dit voorgestel word. Laat jouself nie
aflei van dit wat God wil hê jou moet doen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)