By die Here is jy in goeie hande.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-09-12
Text: 
Psalms 33
Preek Inhoud: 

Psalm 33: 20-22

Ds C Kleyn - Sondag 12 September 2004

Lees: Psalm 33.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 100:1,2; Ps 105:5; Ps 33:10,11;
Ps 145:9-12.

Tema: By die Here is jy in goeie hande.

  1. Hy is ons verwagting
  2. Hy is ons vreugde
  3. Hy is ons bede

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die winter is weer verby en het vir die lente plek gemaak.
’n Pragtige seisoen wat staan in die teken van nuwe lewe.
’n Seisoen waarin die plante en bome weer begin uitbot en
groei. God stuur sy Gees uit en daar is lewe. Hy maak die gelaat
van die aarde nuut. Ons dank God vir die voortgang van die
seisoene. Hy maak nog geen einde aan hierdie wêreld nie. Ondanks
die skreiende onreg en sondes van sy skepsels hier op aarde.
Ondanks die gemors wat mense van sy pragtige skepping maak. Die
Here gaan nog aan met hierdie wêreld, met ons land en volk, ja
met elkeen van ons.

Ons dank die Here vir die lente wat nou begin het. Ons gaan
hom nou ook bid vir alles wat in hierdie lente en in die
daaropvolgend somer moet gebeur. Ons gaan bid vir gewas en arbeid.
Hoe sal dit gaan in die nuwe seisoen? Ons leef in ’n wêreld
en in ’n gebied waar alles besig is om te verander. Wat vroeër
algemeen aanvaar was, word nou as ouderwets aan die kant gesit.
Die wette van die Here wat so heilsaam vir ons volk is, word
steeds meer en meer geïgnoreer. Dit word vervang met ’n
liberale etiek wat fokus op die regte van die individuele mens.
Met sy verskriklike gevolge. Dink net aan die reusagtige
verspreiding van die vigs epidemie. Watter effek gaan die massale
besmetting daarmee en die miljoene wat daaraan vroegtydig sterf
op ons samelewing hê? Hoeveel burgers en gesinne moet eers
uitgeroei word, met al die ellende wat daaraan gepaard gaan,
voordat die verspreiding van hierdie dodelike virus grondig en
dus met mening in ooreenstemming met God se wil getakel word?

Vanweë wanbestuur hoor ons van talryke bedrywe, instellings
of hospitale wat met groot tekorte sukkel of bankrot speel. Dink
aan al die burgers, jong en oud, wat daarvan die dupe word, veral
in landelike streke. Die gevolge daarvan? Minderwaardige
onderwys, ’n slegte mediese versorging, ’n toename van
werkloosheid, mense ontvang nie die inkomste waarop hulle reg het
ens ens.

Broers en susters, beteken hierdie negatiewe dinge dat ons
pessimisties na die toekoms moet kyk? Of dat daar geen toekoms
vir ons land is nie?

’n Mens kan aan die ander kant ook allerlei positiewe
dinge uit ons samelewing noem. Bv ons demokratiese vryheid wat in
die grondwet vasgelê is en deur die geregshowe beskerm word. Op
ekonomies gebied lyk dit asof ons regering goed presteer. Ons mag
dankbaar wees vir die moontlikhede wat God ons hier nog daagliks
gee. Moet ons dan vasklou aan al die positiewe dinge om so
optimisties na die toekoms te kyk? Is ons vertroue in die toekoms
afhanklik van wat ons daagliks sien en ervaar? Sodat die een geen
vertroue meer het nie en die ander juis wel vertroue het?

Gemeente wie is dit wat die toekoms bepaal? Wie regeer hier
eintlik? Is dit nie die Here onse God nie. In Hom mag ons die
toekoms met vertroue tegemoet sien.

Ek wil vir julle die evangelie verkondig onder die tema: by
die Here is jy in goeie hande

  1. Hy is ons verwagting
  2. Hy is ons vreugde
  3. Hy is ons bede

Waarop grond mense hul vertroue in die toekoms? Is dit nie so
dat baie mense hul vertroue fundeer op wat hulle tot nou toe
ervaar het nie? So van: tot nou toe het dit goed gegaan, waarom
sou dit straks anders wees? Nee, dit sal goed bly gaan, daarop
vertrou ek. ’n Mens kan let op sy gesondheid. Miskien was jy
nog nooit siek nie en dan dink jy: dit sal wel goed bly gaan: ek
is tog kerngesond?

Finansieel het jy dit miskien goed vir mekaar. Dit skep
vertroue: jy sien met vertroue die toekoms tegemoet. Jy kan nie
voorstel dat jy finansieel in die verknorsing sal kom nie. So kan
jy ook dink aan jou werk, besigheid, studie of aan jou menslike
verhoudings. Alles gaan goed. Jy het ook goeie voornemens om dit
so te bewaar. Jy kan jou nie voorstel dat dit straks sleg sal
gaan.

Waarop grond jy jou vertroue in die toekoms? Op wat jy tot nou
toe ervaar het? Is dit ’n soliede basis? Betroubaar?

Let maar op jou goeie gesondheid. Kan jy daarop bou? Wat dink
jy dan van die vitale mense wat skielik ernstig siek word en in
die hospitaal beland? En jou welvaart: Kan jy daarop bou? Wie
waarborg dat daar geen teenslae kom nie? Rampe? Dink aan die
gelykenis van die Here Jesus oor die ryk dwaas (Lk 12:13-21). Hy
was baie voorspoedig en besluit toe om nog groter skure te bou om
daarin sy graan en ander goed op te gaar. Hy sê dan vir homself:
Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus,
eet, drink, wees vrolik. Maar God sê vir hom: jou dwaas. Vannag
nog sal jou lewe van jou opgeëis word en wie kry dan alles wat
jy bymekaargemaak het?

En dan die onderlinge verhoudings by die werk, by die skool,
in die huwelik en in die gesin. Kan jy bou op wat jy tot nou toe
ervaar het? Kan dit vir jou waarborg dat dit goed sal bly gaan?
Wat maak jy as stres of siekte die karakter, die gevoelens of die
gedrag van jouself of van die ander aantas? Wat maak jy as
allerlei ondraaglike spanninge ontstaan?

Kan jy dan jou vertroue in die toekoms grond op wat jy tot nou
toe ervaar het? Kan jy die vertroue baseer op mense en dinge? Die
Skrif is daarin duidelik: sulke vertroue is ydel. Dit kan jou
lelik beskaam. Dink aan wat ons met die woorde van Ps 146:2 sing:

Moet op prinse nie vertrou nie,
By wie niemand heil kan vind –
Op die mens jou hoop nie bou nie;
Want as God hul gees ontbind,
Keer hul na die aarde weer
En hul raadslag stort terneer.

Daarteenoor staan dan vers 3 van dieselfde Psalm:

Salig hy wat in die lewe,
Sonder hulp en sonder raad,
As hom alles wil begewe,
Vlug tot God, sy toeverlaat;
En ook in die swartste nag
Op die Here alleen bly wag.

Jy word dus salig genoem, gelukgewens wanneer jy jou hoop nie
vestig op mense of dinge nie, maar op die Here, ons God. Ps 33
hou ons dieselfde voor. Die Psalm laat duidelik die groot verskil
tussen die Here en die mense sien. Die Here met sy magswoord en
die mense met hul menslike gedagtes en kragte. Die Psalm besing
die grootheid van die Here. Hy beheers alle magte en kragte. Deur
sy woord het Hy immers alles tot stand gebring. En Hy onderhou en
regeer nog alle dinge. Daarom moet die hele aarde vir Hom vrees
en al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees. Die digter
besing verder die almag van die Here deur daarop te wys hoe
betreklik alle menslike gedagtes en kragte is. Die maghebbers van
die wêreld maak hul planne. Maar as die Here dit wil, verydel Hy
die planne.

Teenoor die raad van die volke staan die raad van die Here.
Dit bestaan vir ewig. Die Here voer sy planne uit. Niks kan Hom
keer nie. Daaruit trek die digter in vers 12 die konklusie:
"welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk
wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het."

Daarna besing die psalmis verder God se almag en alwetendheid.
Die Here kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders, Hy
let op die werke van al die bewoners van die aarde. Hy het hul
hart gemaak. Hy oorsien en deursien alles en almal. Neem die
koning: die red hom nie deur ’n groot leër nie. Of die held:
hy ontkom nie deur sy groot krag nie. Of ’n perd: jy kan in
die uiterste nood niks daarmee doen nie. Want die Here bestuur al
die kragte. Hy voer eenvoudig sy planne uit. En dit tot heil van
hulle wat Hom vrees, hulle wat Hom ernstig neem in wat Hy sê en
doen.

Daarom kom die digter tot die belydenis: "ons siel wag op
die Here; Hy is ons hulp en ons skild." Ek verwag die Here.
Soos ek is, met al my gevoelens en verlangens. Ek sien uit na die
Here. Ek verwag alles van Hom. Ek weet dat ek van Hom volkome
afhanklik is. By al my voornemens. Daarom sien ek na Hom uit. Hy
sal my toekoms, ons toekoms maak. Hy sal ons die heil laat sien.
Verlossing van sondes. Verlossing van skuld. Lewensherstel. Nou
en in die toekoms.

Hierdie hoop, verwagting is geen twyfelagtige saak nie. Dit is
’n vasstaande kennis. Ons het mos te doen met die HERE, met
hoofletters: Jahwe: Ek is wat Ek is. Ek is daar. Die aanwesige.
Wat daar altyd is. Wat is, wat was en wat kom. Wat daar was toe
jy gebore is. Wat daar is nou jy skool toe gaan, nou jy werk toe
gaan, nou jy daagliks besig is by die huis of daarbuite. Wat daar
ook in die nabye of verre toekoms sal wees: die onveranderlike
God.

En, gemeente, die naam Here sien nie net op God se
aanwesigheid nie. Dit sien ook op sy aktiwiteit. Hy is diegene
wat altyd aktief is tot heil van sy volk. Hy is geen passiewe
toeskouer wat net op ’n afstand kyk na wat mense doen nie.
Hy is aktief betrokke by sy kinders, soos die psalmis dit
formuleer: "Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom
vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te
red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood."
Die Here sien in liefde om na hulle wat Hom dien. Hy gryp in tot
hul redding.

Daarom kan ons bely: "ons siel wag op die Here, Hy is ons
hulp en ons skild." Hoe die toekomstige omstandighede ook al
mag wees. Hy is daar om my te help. Om my daardeurheen te help.
Hoe sterk die sonde hom ook in my lewe laat geld, Hy is daar met
sy almag, met baie sterker kragte om die sonde te oorwin. Hoe
pynlik die gevolge van die sonde ook sigbaar mag word, Hy is daar
om te help sodat ek gelouter te voorskyn kan kom. Hy laat die
kwaad, wat Hy oor my beskik, vir my ten goede meewerk.

Die Here is my hulp en my skild. Hy help nie net nie. Hy
bewaar en beskerm my ook. Hy staan om die gelowige heen as ’n
skild. Hy weer as ’n skild die aanvalle van die vyand af.
Reeds teenoor Abram het God Homself ’n skild genoem.

So mag ons in geloof vertrou op die hulp en beskerming van die
Here. Dit geld nou des te meer, nou ons Jesus Christus leer ken
het. Jesus Christus het ons die betekenis van die naam Here nog
heerliker onthul. As êrens duidelik blyk dat die Here die aktief
aanwesige Verbondsgod tot heil van sy volk is, dan wel in die
koms en werk van Jesus Christus. Dit het Hy daarvoor oor gehad om
jou en my te red, om ons weer perspektief te gee, ’n
toekoms, lewensherstel. Nou en straks.

Ons siel wag op die Here; Hy is ons hulp en skild; op sy
heilige Naam vertrou ons. ’n Pragtige belydenis. Die Here is
ons verwagting. Die enigste grond van ons toekomsverwagting.

Maar, broers en susters, as ek nie mag bou op wat ek tot nou
toe ervaar het, kom dan die vertroue in mense en omstandighede
nie in verdrukking nie. Is daar dan nog wel plek voor? Om te
studeer moet jy tog ’n sekere vertroue hê dat die studie
sal geluk? Om werk aan te neem, moet jy tog ’n sekere
vertroue daarin hê dat dit goed sal gaan? ’n Boer gaan tog
nie gewasse aanplant as hy geen vertroue daarin het nie? Jy gaan
tog nie vee bly aanhou as jy daar geen enkele vertroue in het
nie? Om verhoudings met ander mense aan te gaan, moet jy tog
’n sekere vertroue in die mense en in die verhouding hê?
Inderdaad. Alleen dit kom daarop aan: watter plek ken jy toe aan
die vertroue in mense of dinge. Dink jy dat jy in die skepsels
waarborge vir die toekoms kan vind of in die Here? Wat jy nou in
die skepsels sien, bied op homself geen waarborg nie. Alleen die
Here kan waarborge gee. Ewige waarborge.

En gemeente, die wonderlike is nou: as jy eenmaal die
betreklike waarde van jou ervaring gesien het en jy jou
verwagting op God alleen leer stel het, dan kry jou ervaring
’n dieper betekenis vir jou. Jy sien dan die Here daarin
besig. Jy sien dat die Here die omstandighede so bestuur het dat
jy gesond of voorspoedig mag wees. Jy herken God in die
verhoudings waarin Hy jou geplaas het. Daardie dinge, verhoudings
wat jy nou beleef, kry meer woorde vir jou. Vanweë God wat
daarin besig is, kan jy meer daarop staatmaak. Hy staan daaragter
en daarbo. My werk, my opleiding, my huwelik en gesin is aan God
verbind. Aan die Here, wat daaroor regeer en wat my lewe kom
verlos en diensbaar kom maak aan die koms van sy koninkryk.

Daarom, broers en susters, sulke verhoudings en omstandighede
waarin jy God erken as die Heerser is allermins niks werd nie. Sy
aanwesigheid gee glans daaraan. Die Here is mos nie net ons
verwagting nie, maar ook ons vreugde.

"Want ons hart is bly in Hom" sê die psalmis in Ps
33. As jy die Here ken, dan maak dit jou bly. Jou lewe fleur
daarvan op. In goeie en kwade dae.

In goeie dae: jou oë gaan oop vir God se geweldige gawes. Wat
’n genade vir verlore sondaars. Wat het God die dinge tog
mooi gemaak. Jy kry nie genoeg daarvan nie. Wat ’n magtige,
wyse en goeie God. Is jy bly met die Here, dan kan jy daardeur
ook intens bly wees met mense en dinge wat Hy vir jou gee. Jy
ontvang dit uit Vader se hand. Jy besef hoe ryk jy is met die
vergewing van sondes, hoe dikwels jy dit ook verspeel het. En as
gevolg daarvan, kan jy jou ook verheug in vergewensgesindheid
teenoor ander waarmee jy te make het. God se genade straal uit in
alle verhoudings, suiwer die verhoudings keer op keer.

Wanneer jy die Here ken, fleur jou lewe daarvan op. Nie net in
goeie dae nie. Ook in kwade dae. Jy weet dat jy in goeie hande is.
Jy leer om met die profeet Habakuk te sê: "Alhoewel die
vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees
nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande
geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en
geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek
jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. Die Here
Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos die van herte, en Hy
laat my tree op my hoogte ( Hab 3:17-19). Jy het geleer om jou
vreugde in die Here nie afhanklik te laat wees van aardse
voorspoed nie. Teenspoed kan juis inteendeel die vreugde in die
Here verdiep.

Jy weet dat die oorsaak van alle nood en ellende, die sonde,
weggeneem is. Jy hoef nie daaroor te bly tob nie, oor jou eie
tekorte en mislukkings. Jesus Christus het gesterf en opgestaan.
Hy het betaal. Jy is in die hande van ’n liefdevolle Vader.

Jy weet ook dat jy op pad is na die ewige erfenis. Die
verlossing sal kom. Is dit nog nie nou nie, dan later wel, en dan
kompleet. Op die grote dag van Christus. Die uitsig laat jou juig
selfs in die nag. God sal eenmaal die verlossende woord spreek.
En dan sal al die kwaad verdwyn, dan sal alle sonde, alle gevolge
van die sonde vir goed verdwyn. En die lewensherstel volkome wees.

Geliefdes, na die pragtige belydenis: "Ons siel wag op
die Here, Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in
Hom" volg die bede van die Psalmis: "Laat u
goedertierenheid, Here, oor ons wees net soos ons op U wag."

Die Here is nie net ons verwagting en ons vreugde nie, Hy is
ook ons bede.

Pas ’n bede wel na so ’n belydenis? Jy is tog reeds
seker van God se hulp en beskerming? Jou verwagting van God is
tog nie ’n vae hoop nie, maar ’n vasstaande kennis?

Inderdaad. Juis daarom roep jy die Here aan. Om te vertrou en
om te bid hoort by mekaar. Die sonde, die gevare en die
gebrokenheid bly jou omring. Jy weet: by die Here is daar uitkoms.
Daarom smeek jy dit steeds weer van Hom los. In die verbond
gebeur niks outomaties nie. Die Here wil in antwoord op die gebed
sy gawes gee.

"Laat u goedertierenheid, Here, oor ons wees net soos ons
op U wag." "U goedertierenheid." Wat word daarmee
bedoel? Die woord word gebruik om aan te dui die manier waarop
die partye van die verbond hulle teenoor mekaar behoort te gedra.
Dit wys hoofsaaklik op wat jy in die verbond van mekaar mag
verwag. So spreek die woord van verbondstrou. Van die Here wil
dit sê dat Hy doen wat Hy in die verbond belowe het om te sal
doen. God belowe in die verbond hulp en beskerming. Die digter
het dit netnou bely. Ons het dit by die doop van Gerrit Agema
gehoor: God die Vader verklaar en verseël in die doop dat Hy ons
tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie
dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons
beswil beskik. God het belowe om in die bres te spring vir almal
wat hom liefhet en dien. "Kyk, die oog van die Here is op
die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag."

Die Psalmis doen nou ’n beroep op die beloftes. Hy smeek
dit los uit Vader se hand: "Laat u goedertierenheid, Here,
oor ons wees net soos ons op U wag." Kom u beloftes na, Here.
Wys uself as die getroue God van die verbond ook in my lewe.
Beskaam my vertroue nie. My hoop op u is immers nie gegrond op
eie bedenksels nie, maar op u eie woorde. Maak die woorde waar.

Geliefdes, gaan in daardie vertroue en met die bede die
toekoms tegemoet. Hoe onseker die toekoms ook al mag wees. Dan
gaan julle veilig, dan gaan dit goed. In goeie en kwade dae. By
die Here is jy mos in goeie hande.

Hy is ons verwagting, ons vreugde en ons bede.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)