Waar die lewe deur Christus beheers word, daar word ook die sterwe deur Christus beheers.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-08-29
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

Sondag 22

Ds C Kleyn - Sondag 29 Augustus 2004

Lees: Filippense 1:12-30; Sondag 22.
Sing: Ps 31:1,5; Ps 31:15,17,18,19; Ps 73:10-12;
Ps 16:1,4,5; Ps 30:1,3,8.

Tema: Waar die lewe deur Christus beheers word, daar
word ook die sterwe deur Christus beheers.

  1. Die lewe is vir my Christus; en
  2. Die sterwe is vir my wins.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Om die opstanding van die vlees te bely, beteken ’n
aanvaarding van die werklikheid van die dood. Daarmee gee ons
rekenskap van ons sterwe. Ons doen dit in ’n wêreld waarin
die dood aan die een kant weggedruk word en aan die ander kant
naby gebring word.

Daar is mense wat sê: ons leef nou. Wanneer die dood kom, sal
ons daaroor nadink. Voordat dit sover is, gaan ons ons nie
daaroor bekommer nie. Nou leef ons en ons wil iets daarvan maak.
As jy jou daarop toelê, dan is jy te besig om oor die dood te
dink. Dit is ’n sorg vir later. Sommiges gaan nog ’n
stap verder en sê: jy het net een lewe, maak die beste daarvan,
eet, drink en wees vrolik. So word die dood vir nou uit die
gedagtes weggedruk. Alles word gerig op die lewe hier en nou.

Aan die ander kant word die dood ook naby gebring. Dink aan
die kwessie van eutanasie, die sogenaamde sagte dood, die dood
wat ’n mens self wil bepaal en beheers. Mense besef dat jy
die dood nie kan ignoreer nie. Veral nie as daar baie ellende is
nie. Dan kan jy beter daar beheer oor neem.

Gemeente, beide sienings, of jy nou die klem lê op die lewe
hier en nou, of op die dood, beide sienings gaan mank deur
kortsigtigheid. Die mens oordeel na wat hy sien en ervaar. Hy hou
geen rekening met die oorsaak van die dood of met die verlossing
van die dood nie. Hierdie sienings ignoreer die werklikheid van
die sonde en van die versoenend sterwe van ons Here Jesus
Christus. Die dood behoort nie by die lewe nie. Dis ’n
vreemde element, ’n vyand wat deur die sonde in die wêreld
ingekom het. Die dood is ook nie die eindpunt van alle lewe nie.
Christus was dood gewees en leef.

Indien jy jou met die dood wil versoen, dan moet jy verder kyk
as wat jy sien en ervaar. Dan moet jy kyk na Christus, wat dood
was en nou leef en sit aan God se regterhand. As jy in Jesus
Christus glo, kan jy die dood nie langer wegdruk uit jou gedagtes
of lewe nie. Hy was mos dood gewees vanweë die sonde. Dan kan jy
die dood ook nie waardeer as die uitkoms nie. Wanneer ek
in koning Christus glo, beklemtoon ek nie die aardse lewe nie,
ook nie die sterwe nie. Wanneer ek in Hom glo dan beklemtoon ek
die lewe met Hom, die ewige lewe, wat deur die dood en die graf
nie beëindig kan word nie. So kry die aardse lewe, ook die
liggaamlike sterwe ’n ander waarde. Dit word geplaas in die
breë verband van die onverderflike lewe met God. So word ek as
Christen bevry van die angs vir die dood. So word ek ook bevry
van ’n krampagtig wil vashou aan die mooie dinge van hierdie
aardse lewe. Ek weet dat die lewe met God in wese alles is en
deur die dood nie beëindig word nie. Inteendeel, dit word
daardeur juis voller en dieper.

Dit sien ons duidelik wanneer ons let op wat die apostel
Paulus skryf in die gelese Skrifgedeelte. Hy skryf: Vir my is die
lewe Christus en die sterwe wins.

Ek verkondig vir julle: Waar die lewe deur Christus beheers
word, daar word ook die sterwe deur Christus beheers.

  1. Die lewe is vir my Christus
  2. Die sterwe is vir my wins.

Wanneer Paulus sy brief aan die Filippense skryf, sit hy in
die tronk. In afwagting van ’n moontlike doodsvonnis. Dis
normaal dat gevangenes hulle intens met hul eie lot en toekoms
besig hou. Wat sal die toekoms vir my inhou? Paulus maak daarop
geen uitsondering nie. Alleen die manier waarop hy dit doen is so
anders. Die gevangenes is meestal bekommerd oor hul eie ek.
’n Gevangene veg in die reël vir sy eie lewe en vryheid.
Alles is daarop gerig. Maar by Paulus is dit anders. Dit gaan hom
nie oor homself nie. Vir hom is die middelpunt waarom alles draai
Christus.

Nou Paulus in boeie is, praat hy nie anders as voorheen nie.
Hy laat sy moeilike omstandighede hom nie onder kry nie. Nee,
Jesus Christus het vir hom alles geword en onder alle
omstandighede. Dit bly so, ook nou hy in die tronk sit. Hy bly in
sy boeie dieselfde dienaar van Jesus Christus. Hy sing nou nie
’n toontjie laer nie. Dit hoef hy nie te doen nie, want wat
hy vroeër gesing het, was geen oppervlakkige lied van ’n
mens wat hom oorskreeu terwyl dit goed gaan om dan in sak en as
te sit as dit sleg gaan. Nee, Paulus sing dieselfde lied ook
tydens sy gevangenskap. Wat hy vroeër bely het, toe hy nog vry
was, was vir hom volle werklikheid. En nou terwyl hy in die tronk
sit, weet hy nog steeds dat hy die eiendom en dienaar is van
dieselfde Here Jesus. Die lewe is en bly vir hom Christus.

Let, broers en susters, maar op die rekenskap wat hy van sy
gevangenskap gee. Hy wys nie groot spanning oor sy toekomstige
lot nie. Die spanning is van Paulus weggeneem. Nee, die
belangrikste vir hom is dat die verkondiging van die evangelie
bevorder word. Hy begin onmiddellik daaroor te praat. "Ek
wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het,
eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het." Sy
regsgeding het die saak van Christus aan die orde gebring, ten
aanhore van baie belangrike en invloedryke persone. Paulus se
moedige getuienis het ook op die broers buite die gevangenis
’n positiewe uitwerking gehad. Hulle waag dit al hoe meer om
die woord van God onbevrees te verkondig.

Die vrymoedigheid van die broers om die evangelie te verkondig
blyk vir Paulus egter ook ’n pynlik kant te hê. Daar is te
Rome blykbaar twee-erlei getuies van Christus. Albei verkondig
dieselfde Christus. Daar is egter ’n verskil in hul motiewe.
Sommiges verkondig Christus uit liefde. Maar ander doen dit uit
afguns en twis. Hulle hou nie van Paulus nie, hulle is jaloers op
hom. Hulle kan dit nie verdra dat Paulus so gesien is en soveel
invloed het nie. Hulle wil Paulus verby steek. Hulle probeer om
hul eie eer te bevorder ten koste van Paulus. Hulle wil die lewe
van Paulus nog moeiliker te maak.

Iets dergeliks sien ons soms ook in die gemeente of in die
gesinne gebeur. Wat doen mense soms as hulle jaloers is – as
hul nie kan verdra dat ander soveel eer en invloed het op die
gemeentelede of op die kinders? Jou eie medelidmate probeer dan
soms om jou werk te ondermyn. Hulle wil mos die eer en invloed
self hê. Of jou eie man of vrou, broer of suster ondermyn jou
werk om self aandag en eer te kry.

Hoe reageer Paulus op hierdie behandeling? Menigeen sou oor so
’n lae en onsuiwere gedrag omgekrap wees. Menigeen sou hom
daaroor kwaad maak en homself gaan bekla: nou moet ek bo die
ellende van die gevangenskap ook nog dit meemaak, hierdie
persoonlike miskenning en teëwerking van die kant van my eie
broers. Dis werklik teveel vir my.

In Christus reageer Paulus egter heeltemal anders hierop. Deur
Christus laat hy geen ruimte vir persoonlike geprikkeldheid nie.
Deur Christus is hy bevry van eersug, van die onderlinge stryd
vir eie mag en aansien. Deurdat Christus alles vir hom is, kan
Paulus sonder wrok verby daardie kleine menslike gedoe kyk, om
die blywende waarde van die verkondiging raak te sien. Christus
word dan tog maar bekend gemaak, en hierin verbly ek my en sal ek
my ook verbly.

Hier sien julle, broers en susters, ’n ware Christen vir
wie die lewe Christus is. ’n Christen wat reeds die begin
van die ewige vreugde in sy hart ervaar en dit wys in sy gedrag.

Wanneer ek myself so kan wegsyfer terwille van Christus, dan
hoef die ingrypende teenstelling tussen lewe en dood my ook nie
te beangs nie. Dikwels ervaar gevangenes, as ook baie siekes, die
kwelling van onsekerheid. Jy word dan heen en weer geslinger
tussen hoop en wanhoop, afhanklik van tekens van bevryding of van
veroordeling. Sommiges laat dan apaties hul kop hang, moeg van
die spanning oor hul lot. Paulus trek hom nie in moederloosheid
terug nie. Hy ken geen senuweeagtige spanning nie. By hom is daar
die rus van die geloof in Christus. Noudat dit vir hom gaan oor
die verheerliking van Christus, word hy nie gebreek deur die dood
of deur die oorweging van die dood nie. Paulus se vurige verlange
is "dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook
nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of
deur die dood is" (vers 20). Paulus skroom nie om te sê dat
ook sy dood die verheerliking van Christus kan dien.

Dit word gemotiveer deur vers 21 "Want vir my is die lewe
Christus en die sterwe wins." Paulus wys hier sy houding
teenoor die lewe en die sterwe. Vir hom is die lewe Christus. Hy
sê dit kort en kragtig. My lewensgeheim is Christus. Sonder
Christus is my lewe niks nie, is daar geen lewe nie. Christus is
alles vir my. Hy is die Een wat sin aan my lewe gee, die Een op
wie alles aankom. Daarom: vir my is die lewe Christus. Broeder,
suster, seun, dogter, kan jy dit Paulus nasê? Is jou
lewensgeheim Christus? Is die eer van Christus die doel van jou
lewe? Is Christus die krag en vreugde van jou lewe?

Vir my is die lewe Christus. Onlosmaaklik daaraan verbind, is
daar die tweede gedeelte van die vers: en die sterwe wins.
Hierdie tweede is ’n gevolg van die eerste. Nou dat my lewe
Christus is, is my sterwe wins. Hieruit blyk dat Paulus die
sterwe nie op homself verheerlik as winsgewend nie. Nee, wanneer
die geheim van die lewe Christus is, dan en dan alleen word die
sterwe, deur Christus, vrugbaar. Dan alleen word dit bevry van
die ydelheid wat dit anders kenmerk.

Paulus praat hier ander taal as die digter van Ps 30. In Ps 30:10
hoor ons die digter sê: "Watter voordeel is daar in my
bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u
trou verkondig?". In Ps 30 bied die sterwe geen wins of
voordeel nie. Terwyl Paulus in Fil 1:21 wel van wins praat. Is
dit nie met mekaar in stryd nie? Hoe moet ’n mens die twee
tekste met mekaar in ooreenstemming bring? Jy sal moet besef dat
die digter van Ps 30, net soos die skrywer van die boek Prediker,
die sterwe net vanuit een aspek van die dood bekyk. Hulle kyk
naamlik na die dood soos dit hier benede gesien word, die dood
wat uitloop op die begrafnis. ’n Dooie mens in die graf kan
Christus nie meer verkondig nie. Dit is op homself geen voordeel
nie, nie vir God nie, nog vir die mense, nog vir die betrokke
persoon self.

Gemeente, wanneer Paulus dan praat van die wins van die
sterwe, dan is dit duidelik dat hy fokus op ’n ander aspek
van die sterwe. Die apostel sien in die sterwe iets meer en iets
anders as net ’n einde van jou lewe en omgang op aarde.
Wanneer Paulus praat van die wins van die dood dan kyk hy bo die
aardse gesigsveld van dood en graf uit. Hoe hy dit bedoel word
ten volle duidelik in die volgende verse. Die wins van sy sterwe
onderskei hy van die vrug wat Hy deur sy arbeid hier op aarde mag
ontvang: "Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit
vir my vrugbare arbeid. Dit is tussen hierdie twee, naamlik die
wins van sy sterwe en die vrug van sy arbeid hier op aarde,
indien hy bly lewe, dat Paulus nie weet om te kies nie.

In vers 23 en 24 word dieselfde tweetal nader uitgewerk.
"Want ek word van weerskante gedring." En dan gee
Paulus vervolgens ’n duidelike omskrywing van die wins van
sy sterwe: "Ek het verlange om heen te gaan en met Christus
te wees, want dit is verreweg die beste."

Paulus praat hier van iets wat onmiddellik met die sterwe
plaasvind. Hy verlang om heen te gaan. Die werkwoord heengaan
roep by ons die beeld op van die opbreek van ’n tent of
tentekamp. Ons lewe hier op aarde is maar kortstondig,
vergelykbaar met ’n woon in tente. Ons het hier geen
permanente verblyf nie. Ons permanente woning is in die hemel,
’n gebou van God, nie met hande gemaak nie, ewig (2 Kor 5:1).
Wanneer ek sterf dan breek ek die tentwoning af om my intrek in
my permanente woning in te neem. In Fil 1 vertel Paulus ons ook
waar die reis na toegaan: om met Christus te wees.

Om hier jou tent op te breek, om te sterwe, hou sonder meer in
dat die gemeenskap met die mense op aarde verbreek word. Jy laat
jou familie en vriende agter. ’n Pynlike en verdrietige saak.
Maar hierdie heengaan lei nou positief na ’n ongekende
gemeenskap met Christus. ’n Gemeenskap wat nouer en ryker
sal wees as daarvoor, hier op aarde. Paulus begeer om van die
aarde te verhuis na die hemel om saam met sy verlosser Jesus
Christus te wees. Die batige slot van ’n lewe op aarde wat
vol van Christus was, is vir Paulus: om bewus in Christus se
geselskap te lewe in die hemel.

Dit is wat ons kat noem: "dat my siel na hierdie lewe
dadelik tot Christus sy Hoof opgeneem sal word." Hierdie
batige slot geld alleen vir wie die lewe Christus is, alleen vir
hom of haar vir wie Christus alles geword het en in alle
omstandighede.

Broers en susters, merk julle hoe nou hierdie belydenis van
die opstanding van die vlees en die ewige lewe verbind is met die
voorgaande artikels van die apostoliese geloofsbelydenis? Hulle
behoort by mekaar. Sonder die geloof in die eerste artikels,
beteken die geloof in die later artikels niks nie. Indien ek my
nie steur aan die leer van Christus nie, maar wel die belydenis
oor die opstanding en die ewige lewe aanvaar, dan beteken my
geloof in die opstanding niks nie. Laat ons oppas vir ’n
oppervlakkige vertroue in die toekoms. Daar is baie mense wat sê
dat hulle vertroue in die toekoms het, dat hulle die dood nie
vrees nie omdat hulle weet dat God wel vir hulle sal sorg. Maar
kan al die mense ook met Paulus se: vir my is die lewe Christus
en dit in die skriftuurlike sin van die woord?

Laat ons hierdie art van ons belydenis dan ook bly lees in die
verband van die ander artikels. Dit kan ons beskerm teen ’n
verkeerde nadruk op die lewe na hierdie lewe, asof dit daarop sou
aankom. Dis nie waar dat hierdie art van die opstandig die
beslissende art is nie. Beslissend is dat ek werklik in Jesus
Christus glo. Dit kom daarop aan dat ek deur die geloof een met
Christus is. Dan is ek reeds ’n nuwe skepping. In Christus
besit ek reeds hier en nou die lewe, die lewe wat deur geen dood
of graf van my weggevat kan word nie. Ek, wat dood was deur my
sondes, is met Christus lewend gemaak, opgewek tot ’n nuwe
lewe. As jy Christus ken, dan het jy reeds die ewige lewe.

Broeders en susters, waar die band met Christus jou toe in
staat stel, het jy by Paulus gesien. Hy raak nie onderstebo,
omgekrap deur die moeites wat hy ondergaan nie, ook nie deur die
verswaring van sy moeite deur sy geloofsgenote nie. Solank as
Christus maar verkondig word. Hy gee nie moed op nie, hy gaan aan
in geloof. Reeds tydens sy aardse lewe besit hy die begin van die
ewige vreugde. ’n Vreugde wat alle vrees en krampagtigheid
verjaag. ’n Vreugde wat onder alle omstandighede Christus
voor oë hou, en Christus se verheerliking soek.

Waar so ’n Christus lewe toe lei, het julle reeds gesien.
Die batige slot daarvan is: om saam met Christus te wees. In
geloof mag ek bely: by my sterwe verhuis ek van hier na die hemel.
Daar mag ek onmiddellik by my Here Christus woon om Hom in sy
groot heerlikheid te aanskou. Ek word werklik tuisgehaal.

Daardie begin word by Christus se wederkoms gevolg deur die
opstanding van my vlees. Dan word my liggaam weer met my siel
verenig. Dan is ek weer kompleet, na liggaam en siel. Dan besit
ek die heerlikheid wat Christus besit. My liggaam word aan die
verheerlikte liggaam van Christus gelykvormig. God laat nie vaar
die werk van sy hande nie. Hy laat die mens as kroon van sy
skepping nie los nie. In Christus bring Hy die mens uiteindelik
tot die doel waartoe Hy hom geskep het: die ewige lof op sy
heilige naam. ’n Doel wat in die nuwe hemel en aarde volkome
bereik word. ’n Ongekende geluk en heerlikheid. Sonder
onderbreking en sonder einde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)