Die Here vang die Joodse leiers in hulle eie listigheid.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-04-11
Text: 
Matthéüs 28
Preek Inhoud: 

Matthéüs 28:11-15

Ds C Kleyn - Sondag 11 April 2004

Lees: Matthéüs 27:62-28:20.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 2:6; Ps 2:1-3; Ps 33:5,6; Ps
33:11.

Tema: Die Here vang die Joodse leiers in hulle eie
listigheid.

  1. Waaruit dit blyk; en
  2. Waarheen dit lei.

.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As daar een Christelike feesdag is wat geesdriftig gevier sou
moet word, is dit Paasfees. Terwyl die herdenking van Christus se
geboorte slegs ’n begin aandui, dui Paasfees op die
voltooiing van Christus se verlossingswerk. Paasfees is die fees
van oorwinning; ’n viering van lewe.

Op so ’n feestelike dag behoort jy tog ’n feestelike
preek te hê, of hoe? Maar wat van ons teks? Pas dit by hierdie
blye dag? Kan jy die Paasboodskap verkondig vanuit so ’n
teks? Kan so ’n teks jou na die hooggestemde lied van
oorwinning lei? Dit lyk eerder of die teenoorgestelde waar is. In
die teks lees ons van ’n teen-evangelie: die stigting van
’n leuenveldtog.

Maar, broeders en susters, dit is nogtans die ware
verkondiging van die Paasevangelie – mits jy nie bly staar
op wat mense doen nie en solank as jy God, wat ook in hierdie
geskiedenis aktief betrokke is, raaksien.

Ek verkondig aan u: Die Here vang die Joodse leiers in hulle
eie listigheid

  1. Waaruit dit blyk
  2. Waarheen dit lei

Dit moes ’n ongelooflike skok vir die Joodse leiers
gewees het toe sommige van die wagte vroeg op die Paasoggend
aangehardloop gekom het. En ’n nog groter skok om te hoor
wat by Jesus se graf gebeur het.

Op Goeie Vrydag is Jesus se liggaam in die graf gelê.
Eindelik is hulle verlos van hul vyand. Tog is hulle nie
heeltemal gerus gestel nie. Hul gedagtes dwaal aanhoudend terug
na hierdie Jesus van Nasaret. Hulle kan Hom net nie uit hul
gedagtes verban nie. ’n Rustige slaap is hulle die eerste
nag nie gegun nie. Vroegoggend gaan hulle oppad Pilatus toe. En
dit nogal op ’n Sabbat. Dit maak vir hulle nie meer saak of
hulle die Sabbat daardeur ontheilig nie, hulle moet
voorsorgmaatreëls neem. Die woorde van Jesus teister hulle: na
drie dae sal ek opstaan uit die dode. Netnou besluit die
dissipels van Jesus om sy liggaam in die geheim weg te dra en te
sê dat Hy van die dode opgestaan het. Nee, dit moet ten alle
koste verhoed word. Voorsorgmaatreëls moet onmiddellik geneem
word. Ookal beteken dit die verbreking van die Sabbat. Ookal moet
hulle hulself verontreinig deur in aanraking te kom met ’n
onreine graf. Vir hierdie manne, wat gewoonlik aandring op die
stiptelike navolging van die wet, maak dit nie saak nie, solank
as hulle vir Jesus en sy dissipels kan wen.

Hierdie manne sal waarskynlik met ’n voldane gevoel weer
huiswaarts gekeer het. Hulle het dit reg gekry: Jesus se graf
word nou deur soldate bewaak. Tenminste sal Jesus se dissipels
nou magteloos wees om iets te kan doen. En hulle sal maar wag en
sien wat van daardie woorde van Jesus, dat Hy in drie dae sal
opstaan, sal word. Hul oorwinning lyk seker.

Geliefdes, vriend en vyand word met Jesus besig gehou. Maar
hoe verskillend is hulle met Hom besig. Die vyande onthou Jesus
se woorde dat Hy in drie dae sal opstaan. Hulle neem, na
aanleiding daarvan, hul voorsorgmaatreëls.

Maar wat van die vriende, die volgelinge van Jesus? Hoe
beskamend! Dit kom geensins by hulle op om te dink oor ’n
opstanding nie. Die enigste ding waarmee hulle besig is, is die
vraag oor hoe hulle so goed moontlik vir sy dooie liggaam kan
sorg.

Blykbaar word Jesus se woorde meer ernstig opgeneem deur sy
vyande as deur sy vriende. Daardie woorde hou sy vyande besig.
Dit los hulle nie uit nie. Vandaar die voorsorgmaatreëls. Hier
is die woorde van Jesus van toepassing: "want die kinders
van die wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die
kinders van die lig" (Lk 16:8).

Die vyande kan tevrede wees met hul voorsorgmaatreëls. Maar
tog kan hulle nog nie heeltemal gerus wees nie. Daardie derde dag
moet nog eers aanbreek. Tot dan moet hulle op enigiets voorberei
wees. Tot op daardie dag sal die spanning bly.

En, inderdaad, op die Paasoggend begin die son net opkom as
die soldate aangehardloop kom. Hul verskrikte gesigte sê al
genoeg. ’n Bonatuurlike gebeurtenis moes plaasgevind het.
Hulle moes ’n hemelse verskyning gesien het. ’n Mens
kan nog die skrik op hul gesigte lees. En dan volg die verhaal
van die aardbewing en ’n engel wat van die hemel neerdaal en
die steen van die graf wegrol.

Wat ’n nederlaag vir die Joodse leiers. Hulle het gedink
dat hulle alle nodige maatreëls geneem het. Maar dit het hulle
niks gebaat nie. Want dit was nie die dissipels wat gepoog het om
Jesus se liggaam te steel nie, maar ’n engel het van die
hemel neergedaal. Daardie engel het die verseëlde steen van die
opening van die graf weggerol. En daardie engel het rustig op die
steen gaan sit en gemaak asof daar geen soldate was nie. Die
Joodse leiers kan nie die feite ignoreer nie. Die soldate se
verslag is glashelder. Onpartydig. Onbetwisbaar.

Geliefdes, ons weet nie of die soldate gesien het dat die graf
leeg was nie. Die owerpriesters ag dit in elk geval nie nodig om
te gaan en seker maak of dit so is nie. Selfs daarsonder weet
hulle al meer as genoeg. Jesus het die waarheid vertel.
Daarmee wys Hy dat Hy hul meerdere is. Hulle is nog nie van Hom
ontslae nie.

Hoe beskamend is dan in vergelyking hiermee die reaksie van
die dissipels op die Paasboodskap! Wanneer die vroue na hulle
aangehardloop kom om die verskyning van die engel en Christus se
opstanding aan hulle mee te deel, wys hulle dit af as ’n
sprokie. Hulle glo dit nie. In teenstelling met die ongeloof van
die dissipels, glo die vyande van Jesus onmiddellik wat hulle
hoor. Sonder om verder die woorde te bevestig. Hulle twyfel vir
geen oomblik aan die waarheid van die gebeure vroeg op die
Paasoggend nie.

Jesus het die Joodse leiers eens die teken van die profeet
Jona belowe: "Want soos Jona drie dae en drie nagte in die
buik van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae
en drie nagte in die hart van die aarde wees." (Mat 12:40).
Wel, nou, op hierdie Paasoggend, ontvang hulle daardie teken. Dit
word aan hulle meegedeel deur onverdagte getuies. Hulle het Jesus
tot die dood toe agtervolg, hulle het sy liggaam veilig in ’n
verseëlde graf geplaas onder die wakende oog van ’n groep
soldate. En dan hoor hulle van hierdie einste wagte dat die hemel
ingegryp het. Nou hoor hulle van hulle eie mense – nie die
dissipels nie – dat Jesus se woorde in vervulling gegaan het.
Meer geloofwaardige getuies kon hulle nie ontvang nie. Die
waarheid van hul verslag is nog op hulle gesigte leesbaar.

Geliefdes, Hy wat in die hemel troon, lag. Alles verloop soos
Hy dit beplan. Daardie listige Joodse leiers is in hulle eie
strik gevang. Dit is ’n pragtige aspek van hierdie
geskiedenis. Daardie Jode het hul beste pogings aangewend om
enige getuienis van Jesus se opstanding te voorkom. Hulle het
alles in hul mag gedoen om so ’n getuienis onmoontlik te
maak. Maar deur hul voorsorgmaatreëls het hulle juis vir ’n
betroubare getuienis van Jesus se opstanding gesorg. God het
hulle gebruik om getuies vir Hom te reël. Die wagte, wat hulle
by Jesus se graf aangestel het, verskaf die beste bewys dat Jesus
werklik opgestaan het.

Die getuienis het immers nie van die dissipels van daardie
"groot Verleider," soos hulle Jesus genoem het, gekom
nie. Nee, dit kom van manne wat hulle gehuur het om die getuienis
te verhoed. Meer geskikte getuies kan ’n mens nie kry nie.

Was die Joodse leiers nou nie slim gewees nie! Hulle het hul
eie vingers lelik verbrand deur hulle maatreëls. Hulle moes
liewers nooit ’n wag by die graf aangestel het nie. Die wag
is nou meer van ’n las as ’n hulp. Hulle het vir
onbevooroordeelde getuies gesorg. Stel jou voor dat hierdie wagte
Jerusalem binnegaan en vertel wat hulle die Paasoggend beleef het.

So vang God vir daardie Joodse leiers in hulle eie strik. God
kry heidense soldate om die feite van Paasfees te verkondig.
Betroubare getuies. Die Joodse leiers is eerste om hulle
getuienis te hoor. Hulle kan nie die feite ontken nie. Jesus
Christus het waarlik opgestaan. God konfronteer die Joodse leiers
met die Paasevangelie. Hy dwing hulle tot ’n duidelike keuse.

Wat maak die Jode toe? Aanvaar hulle hierdie onweerlegbare
feite? Bely hulle uiteindelik – gedwing deur die feite
– hulle eie onreg? Gee hulle hulself gewonne aan Jesus se
gelyk? Die Here vang hulle in hul eie listigheid. Maar waarheen
lei dit? Dit bring ons by die tweede gedagte: Waarheen dit lei.

Die Joodse leiers kom bymekaar. Die enigste ding wat ons van
daardie vergadering verneem, is die besluit om die wagte om te
koop. Dit blyk dus dat daar geensins ’n neiging is om hulle
gewonne te gee nie. Hulle hou aan om hulle te verset, ook teen
die feite. Hulle wil hul posisie ten alle koste behou. Hulle is
bereid om baie geld daarvoor te betaal. Daarom versprei hulle
leuens.

Dit word duidelik sigbaar wat die dryfveer agter die Joodse
leiers is. In die konfrontasie met die getuienis van die wagte,
stel God hul onwilligheid om in Jesus Christus te glo, en hul
soek na hul eie belange ten alle koste, bloot.

Ook sonder die getuienis van die wagte sou hulle sekerlik die
Paasevangelie weerstaan het. Maar God wil hiermee onweerlegbaar
vasstel dat dit nie onmag nie, maar onwilligheid is wat hulle
weerhou het om Jesus as Christus te aanvaar. Dit is nie dat hulle
nie kan nie, maar dat hulle nie wil nie. Matthéüs, wat in
besonder vir die Jode geskryf het, rig ons aandag daarop. Jesus
Christus het na sy eiendom gekom, en sy eie mense – die
Joodse leiers voorop - het Hom nie aangeneem nie.

Tydens Jesus se bediening op aarde kon die Joodse leiers, deur
te vra vir ’n egte bewys uit die hemel, nog agter ’n
skyn van reg skuil. Maar nou, op die Paasmôre, ontvang hulle
’n teken uit die hemel: ’n engel wat die verseëlde
steen van Jesus se graf wegrol. Nou kan die Jode weet dat hulle
nie slegs met Jesus te doen het nie, maar ook met die hemel
– ’n engel van die hemel, ja God self.

En wat doen hulle? Hulle volhard in hul verset teen God se
waarheid. Teen beter wete in. Hulle gaan immers daarvan uit dat
die Paasfeite ware feite is. Anders sou hulle nie die omkoopgeld
betaal het nie. Ja, hulle weet al te goed dat hulle met ware
feite gekonfronteer word. Maar hulle weier volstrek om te buig
vir daardie feite. Hulle weier om hul eie ongelyk te erken. Die
waarheid gaan teen die draad van hul eie hoogmoedige harte. Hulle
kies bewustelik vir die leuen. Solank hul eie belange beskerm
word. Hulle beskou hulself as meer belangrik as God se waarheid.

Daarom is hulle ook bereid om enige middel te gebruik om die
waarheid van God te bestry. Daarom dra hulle ook rustig ander op
om te lieg. Hulle is bereid om die wagte baie geld te betaal om
die leuen te versprei. Hulle sal die wagte voorsê wat hulle moet
vertel: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom
gesteel terwyl ons aan die slaap was.

Dink net, broeders en susters, dit is die geestelike leiers
van God se volk, die ampsdraers aan wie die waarheid van God
toevertrou is. Die ampsdraers, wat juis die waarheid moet uitdra.
Hulle blyk valse profete, leraars van die leuen, te wees.

Hulle is dieselfde manne wat gedurf het om Jesus voor Pilatus
’n verleier te noem. Hulle het Jesus met ’n leuen tot
die kruisdood gelei. Nou, probeer hulle – weer met ’n
leuen – om Hom dood hou. Waar hulle aanvanklik Judas
omgekoop het om Jesus dood te maak, koop hulle nou die wagte om
om Jesus dood te hou.

Met reg het Christus oor hulle getuig: "Julle het die
duiwel as Vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.
Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in
die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer
hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n
leuenaar is en die vader daarvan" (Joh. 8:44).

Dit is wat van die geestelike leiers van Israel, hulle
ampsdraers, geword het. Hulle het moordenaars, leuenaars en
leraars van die leuen geword.

Laat ons egter oppas, broeders en susters, dat ons onsself nie
bo hulle verhef en sê: "Kyk hoe sleg was hulle, so iets sal
my nooit oorkom nie." Is ons vanuit onsself enigsins beter?
Hoekom het hulle gewelddadig teen die waarheid gestry? Hoekom was
hulle bereid om te betaal vir die verspreiding van die leuen? Was
dit nie as gevolg van eie belange nie? Hulle ervaar Christus as
’n bedreiging vir hul gemaklike posisie. En hulle wil
allermins daardie posisie prysgee.

Gebeur so iets nie ook dikwels in ons eie kringe nie? Ons eie
belange is dikwels so belangrik. Dit begin reeds in ons
kinderjare. ’n Paar kinders is besig om ’n speletjie te
speel op die grasveld by die skool. Een van hulle kan nie verdra
om te verloor nie. Wat doen hy? Hy dring daarop aan dat die ander
vuil gespeel het – ookal besef hy dat dit nie waar is nie.
Hy wil net nie verloor nie. Hy is bereid om ’n leuentjie uit
te dink om staande te bly.

Op dieselfde manier probeer ons ook dikwels die druk van God
se Woord ontwyk deur ’n leuen of halwe waarheid. Wanneer jy
nie lus is om jou te onderwerp aan hulle wat God oor jou gestel
het, dan word gou die verskoning gebruik: hulle maak daarna dat
ek hulle nie eer nie. Hoewel jy baie goed weet dat God van jou
vra: eer jou vader en jou moeder. Dit beteken ook dat ek met hul
gebreke geduld moet hê. Jy wil egter liewer nie jou lewe
verander, verbeter nie. Daarom moet God se waarheid maar aan die
kant geskuif word.

So gebeur dit soms ook rondom die bou van partytjies of die
uitgaan met ’n vriend of vriendin. Mense wat ouer as jy is
waarsku teen bepaalde gevare of eksesse: bv te veel drank en te
lank deurgaan. Hoe reageer jy daarop? Heel maklik word
gesuggereer: ek mag ook nooit feesvier nie, ek mag ook niks nie.
Maar dit het die ouers ook nie gesê nie. Hulle het net wil wys
op die norm wat ook vir ons feeste en verhoudings geld: doen
alles tot eer van God. Dink aan jou Skepper in die dae van jou
jonkheid (Pred 12:1). Jy weet dit wel, maar jy wil dit nie hoor
nie. Ook al het jy toe jy belydenis van jou geloof afgelê het,
belowe dat jy die Here van harte sou liefhê en Hom in
gehoorsaamheid aan sy woord sou dien en dat jy van die wêreld en
sy begeerlikheid sou afsien. Nee van die wêreld met sy
begeerlikhede wil jy liewer nie afsien nie. Jy wil jouself
handhaaf soos jy dit prettig vind. Daarom die dooddoener: ek mag
ook niks nie. Daarom die leuen. En jy weet baie goed dat dit
’n leuen is. So kan ons nog tal van voorbeelde noem. God se
woord wat die waarheid is, word met ’n halwe of hele leuen
aan die kant geskuif terwille van ons selfhandhawing, terwille
van ons vermaak.

As iemand ons vermaan, kom ’n soort verdedigingstelsel in
aksie. Ten einde ons eie posisie te behou, soek ons die swakhede
en foute in ander mense. Daarom hoor jy ook partymaal: daardie
ampsdraer verstaan my nie en weet nie waarvan hy praat nie, of hy
stel self glad nie ’n voorbeeld vir ander nie. Ons is
meesters daarin om verskonings uit te dink. Binne die konteks
waarin dit gesê word, is dit egter dikwels ’n leuen, ookal
is daar bietjie waarheid in. Al wat ons wil doen is om ons eie
posisie te behou. Ons wil nie ons eie foute erken nie. Ons wil
ons eie dinge doen. Ons wil nie ons bekeer nie. Daarom moet die
waarheid, en ander mense daarmee saam, skade ly.

Broeders en susters, durf julle nog te sê dat jy uit jouself
beter as daardie Joodse leiers is? Julle het dit gesien: mense
wat in diens van die waarheid staan, raak maklik vasgevang in die
web van leuens as hul eie posisie en geriewe in gevaar kom. Ons
is gewaarsku. Bestry tog die leuen van die begin af, deur die
krag van die Gees van God. Laat daardie Gees jou lei en
aanhoudend teregwys. Want, hoe vreeslik is dit om in leuens
vasgevang te word. Jy grawe jouself net alhoe dieper in. Dit word
moeiliker en moeiliker om terug te draai.

So sien ons die Joodse leiers se harte verhard terwyl hulle
volhou in die leuen. Teenoor die feite, die bewese, onomstootlike
feite, hou hulle aan. Onweerlegbare getuies word baie geld betaal
om profete van die leuen te word. Uit selfverdediging en
selfhandhawing is die leiers bereid om enigiets te doen om die
leuen te laat oorwin. Indien die Goewerneur ’n probleem
daarvan sou maak, sal hulle die wagte verdedig en uit die
moeilikheid hou – weereens deur middel van ’n leuen.

Die soldate aanvaar die geld en doen soos wat aan hulle
opgedra is. Hulle is bereid om vir geld die leuen te versprei vir
die geestelike leiers van Israel. Hulle vertel hul verhaal:
"En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag
toe". Daardie propaganda van Satan hou tot vandag toe nog
aan.

Maar, geliefdes, dit maak nie saak hoe aktief die leuen is
nie, dit kan nie God se werk stuit nie. Christus, die waarheid en
die lewe, gaan ook aan.

Ons teks het begin met die woorde: "En terwyl hulle op
weg was" – hulle, dit wil sê die vroue, was op weg om
vir die dissipels te gaan vertel oor wat hulle gesien het. Die
Paasboodskap bereik nie slegs die Joodse leiers nie, dit bereik
ook die dissipels. Daardie boodskap bring nie slegs die
ondersteuners van die leuen in aksie nie, dit sit ook die
boodskappers van die waarheid aan die werk.

Let wel, broeders en susters, op die plek wat ons teks inneem
in die gehele evangelie van Matthéüs. Hierdie boodskap van die
groot leuen is vasgevang tussen twee boodskappe oor Galiléa. Net
voor ons teks lees ons dat Jesus vir die vroue sê: "Moenie
vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa
moet gaan; en daar sal hulle My sien." Onmiddellik na ons
teks lees ons die woorde: "En die elf dissipels het na Galiléa
gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het."

Moenie die veldtog van die leuen vrees nie. Selfs nie vandag
nie. Dit maak nie saak hoe magtig daardie veldtog is nie –
Jesus Christus gaan voort met sy werk. Vanaf Galiléa vergader Hy
sy verstrooide skape. Vanaf Galiléa begin Hy met sy wêreldwye
veldtog vir die waarheid. Die dissipels ontvang die opdrag:
"maak dissipels van alle nasies." Die waarheid moet die
hele wêreld oorwin. Niks kan dit keer nie – selfs nie
daardie goedgeorganiseerde, magtige beweging vir die leuen nie.
Want die opgestaande Here is eienaar van alles: Aan Hom is gegee
alle mag in die hemel en op aarde. En Hy is met ons al ons dae
tot aan die voleinding van die wêreld.

Daarom, broeders en susters, hou goeie moed. Moenie ontmoedig
word deur die groot hoeveelheid valse profete nie. Hulle kan niks
bereik sonder die toestemming van ons Here nie. Dink net aan
daardie Joodse leiers met hul wagte. Selfs daardie valse profete
werk vir die vervulling van God se planne – ten spyte van
hulself. Hulle help om dit duidelik te maak wie werklik glo en
wie nie glo nie. Hulle maak die wêreld ryp vir die oordeel en
vir die voltooiing van God se Koninkryk.

Kies daarom die goeie deel. Gee jou oor aan die waarheid.
Aanbid jou opgestaande Heer en volg Hom in selfverloënde liefde,
in diens van die waarheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)