Die evangelie van die Middelaar volgens die Skrifte, ons Here Jesus Christus.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-04-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

Sondag 6

Sondag 6

Ds C Kleyn - Sondag 11 April 2004

Lees:

Lukas 24:13-35; Hebreërs 1:1-4; Hebreërs 2:5-18; Sondag 6.
Sing: SB 27; Ps 8:1,4,5; Ps 40:3,4; Ps 40:5,8.

Tema: Die evangelie van die Middelaar volgens die Skrifte, ons Here Jesus Christus.

  • Wat Hy moet doen;
  • Wat Hy moet wees; en
  • Dat Hy van God gegee is.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    Twee manne is op pad na die dorpie Emmaus. Hulle is druk aan die gesels oor die dinge wat die laaste dae in Jerusalem gebeur het. Hulle staan voor ’n groot probleem, wat hulle neerdruk en somber stem. Skielik sluit ’n Man by hulle aan. Hy stap saam en meng hom in die gesprek. Hy vra hulle: "wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?" Een van hulle, Kleopas, antwoord: "Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?"

    In antwoord op die belangstellende vraag van die vreemdeling praat Kleopas dan van die kruisdood van Jesus, wat magtig in woord en daad was, van wie hy en ander gehoop het dat dit hy was wat Israel sou verlos.

    Kleopas en sy vriend het hulle dus ’n bepaalde verlossingsweg voorgestel. Hulle het gedink dat Jesus die pad sou volg. Hulle sit so vasgevang in hulle eie gedagtes dat hulle nie eers die berig van die vroue dat Jesus leef kan aanvaar nie. Na hul mening mog die Middelaar nie sterwe nie. Hy moes homself as ’n sterk en onoorwinlike held bewys. Hy moes ’n middelaar na hul idee wees.

    Juis daarom tref die verwyt van die Vreemdeling hulle so sterk: "o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?" Hierdie manne kon beter geweet het. Dan sou hulle nie so bedroef gewees het nie. Ja, dan sou hulle nou juis juig van vreugde. As hulle maar nie ’n Middelaar na hul eie inbeelding wou vashou nie!

    Hoe kon hulle beter weet? Wel, as hulle maar beter op God se woord gelet het. Net God kan tog bepaal hoe die Middelaar moet wees, hoe Hy werklik vrede tussen God en ons mense tot stand kan bring? En dan open die vreemde man die Skrifte. Hy begin by die begin, by die eerste boeke van Moses. Die eerste belofte van die Bybel het reeds van die Middelaar gespreek, dat Hy die kop van die slang sal vermorsel. Hy laat sien dat die beloofde kind na die Skrifte uit die huis van Dawid in die stad Betlehem gebore moes word, as ’n egte mensekind; as ’n takkie uit die stomp van Isai, as die onwaardigste van die mensekinders. Dat Hy ook God se Seun genoem sou word en die dood sou oorwin, dat hy Sterke God genoem sou word ewige Vader, Vredevors.

    Kleopas en sy vriend luister aandagtig. Die woorde klink as musiek in hul ore. Hul droefheid verander in groot blydskap. Hulle kan nie genoeg na die vreemdeling luister nie. Hulle dring by hom aan om vir die nag by hulle te bly. ’n Maaltyd word vir hulle berei. Die vreemde man doen die tafelgebed. Dan breek Hy die brood en skielik is dit of hul oë oop gaan. Met diepe verwondering en eerbied sien hulle dat dit Jesus is. Meteens verdwyn Hy egter. Hy het die blye boodskap gebring. Hy hoef nie langer te bly nie. Nou kan die manne die boodskap self gaan deurgee. Dit doen hulle dan ook. Nog dieselfde aand keer hulle terug Jerusalem toe om die goeie nuus bekend te maak. Hulle weet nou dat die Middelaar net so moet wees soos God dit in die Skrifte gesê het.

    Gemeente, vanaand wil ek vir julle dan die evangelie verkondig van hierdie Middelaar volgens die Skrifte, ons Here Jesus Christus.

    1. Wat Hy moet doen
    2. Wat Hy moet wees
    3. Dat Hy van God gegee is

    Ons gaan praat oor ons middelaar. Maar wat is nou presies ’n middelaar en wat doen hy? ’n Middelaar is iemand wat tussen twee partye instaan. Hier gaan dit oor ’n tussenpersoon wat tussen God en ons mense instaan. Deur die sonde het daar immers ’n kloof tussen God en ons mense gekom. Die Middelaar Jesus Christus staan dus tussen God en ons in.

    Maar, wat doen so ’n Middelaar? Om dit te verduidelik wil ek julle wys op ’n ander middelaar uit die Bybel. In die Bybel word nie alleen die Here Jesus ’n middelaar genoem nie, maar ook Moses. Wat doen Moses dan as middelaar? Moses staan tussen die Here en sy volk in. As die Here sy wet aan sy volk bekend wil maak, dan gee Hy die wet aan Moses. En Moses moet dit deurgee aan die volk. So moet Moses ook die woorde van die volk aan die Here deurgee. Alles gaan via Moses die middelaar.

    Kort na die verbondssluiting by die Sinai gaan dit egter verkeerd met die volk Israel. Moses bly lank weg op die berg. Wat doen die volk dan? Hulle maak ’n goue kalf en buig daarvoor neer. Die Here sien dit en sê vir Moses dat Hy die volk wil uitroei. Hoe reageer die middelaar Moses dan? Hy probeer om God te weerhou om die volk uit te roei. Hy pleit vir die volk by God. En die Here luister na Moses.

    Moses wil as middelaar selfs ’n stap verder gaan. Hy probeer ook versoening vir hul sonde te bewerk. Hoe wil hy dit dan doen? Hy sê tot die Here: "Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. Vergewe tog hul sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het." (Eks 32:31,32). Moses laat hier sien hoe ver ’n middelaar kan gaan. Eers vra hy om vergewing. As God daarmee nie tevrede is nie, dan wil hy homself vir sy volk opoffer. Hieruit blyk hoe lief Moses vir sy volk is. Maar is dit wel moontlik om Moses uit die boek van lewe uit te vee in die plek van die ongehoorsame Israeliete? Nee, dit kan nie. Moses oorskat homself. Hy vergeet dat hy ’n sondig mens is. En ’n sondaar kan nie vir ander mense betaal nie. Daarom aanvaar die Here nie sy aanbod nie. Die Here kan dit nie aanvaar nie.

    Gemeente, hoe anders is dit met ons beter Middelaar Jesus Christus. Hy pleit nie slegs vir ons by God nie, maar Hy offer homself ook vir ons op. En God aanvaar sy offer. Wat Moses nie kon en mog doen nie, kan en mag Jesus Christus wel doen, naamlik sy lewe gee in die plek van sy volk.

    Waarom kan hierdie Middelaar Jesus Christus dit wel doen? Omdat hy nie slegs ’n ware mens is nie, maar ook ’n regverdige mens, ja, selfs God. Dit is die tweede gedagte van die preek: wat die Middelaar moet wees.

    Gemeente, as ons so die vereistes van die Middelaar noem, dan moet julle besef dat dit goddelike eise is. Die Kategismus formuleer dit as volg: die geregtigheid van God eis dit. Dit is in ooreenstemming met die reg van God se liefde, dat die Middelaar ’n ware en regverdige mens moet wees.

    As eerste geld dat die Middelaar ware mens moet wees. Hebreërs 2 is duidelik daaroor. Dit gaan vir God om ons mense. Hy wil ons mense voor Hom hê. Hy wil met ons mense omgaan en in heerlikheid lewe. In hierdie verband lees ons die woorde: "Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak" (2:10). Dit het dus Hom betaam, dit het God gepas, dit was in ooreenstemming met God se heilig wese dat Hy dit so gedoen het. Om baie kinders na die heerlikheid te bring kon Hy dit nie anders doen as deur die lyding en die verheerliking van Christus nie. God bly trou aan Homself. Hy is dieselfde by die skepping as by die verlossing. In al sy werke is Hy enkel majesteit.

    Ja, gemeente, God bly by sy oorspronklike opset, ook na die sondeval. Hy wil met sy kinders in heerlikheid lewe. So het Hy dit aanvanklik bedoel. Hy het ons mense in ’n besonder verhouding met Homself geskep. Hy het met ons mense wil omgaan. Hy het ons sy liefde verklaar. Hy het ons heerskappy oor die skepping gegee. Hy het ons met heerlikheid en eer gekroon. Hierdie voorreg was vir geen ander skepsel nie. Ook die engele het nie die liefde en heerlikheid ontvang nie. Nee, die verbond was daar spesiaal vir God en ons mense. Wat God in die verbond gegee het, het Hy alleenlik vir ons gegee. En wat Hy van ons mense gevra het, het Hy alleenlik van ons gevra: die wederliefde. Daar staan letterlik alle ander skepsele buite: niemand het soveel ontvang en van niemand is daar soveel gevra nie.

    Na die sondeval bly God by sy opset om ons mense in sy liefde te betrek. In ’n sekere sin het daar vir God ’n leegte ontstaan deur die verbondsbreuk van Adam. En die leegte kan deur niemand anders as deur ’n mens gevul word nie. Vergelyk dit maar met ’n huwelik, wat ook ’n verbond is. Daardie besondere verhouding is daar slegs tussen ’n man en sy vrou. As een van die twee wegval, dan ontstaan daar ’n leemte wat nie deur kinders, familielede of vriende gevul kan word nie. Alleen ’n eie man of vrou kan die plek inneem. So word die sogenaamde leegte by God alleen gevul as ’n mens weer voor God staan. Die besondere verhouding was daar slegs tussen God en die mens. Daarom moet die mens weer voor God kom.

    Broeders en susters, dat God aan sy oorspronklike opset vashou blyk duidelik uit Hebr. 2. "Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld nie onderwerp nie" lees ons in vers 5 en dan volg ’n aanhaling van Ps 8. God wil die mens as onderkoning weer voor Hom sien. Hy wil alles aan ons onderwerp. Hy wil ons met heerlikheid en eer kroon. Ps 8 profeteerdaarvan. Soos dit in die begin was, so sal dit weer word.

    Maar, hoe sal dit dan gebeur? Deur die een mens Jesus Christus. Hebr. 2 wys daarop dat ons die heerlikheid van die mens nog nie sien nie. "Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie." (vers 8). Ons mense, ja selfs ons as kinders van God, lewe nog in vernedering, in moeite en aanvegting. Wat sien ons van ons heerlikheid? Nie baie nie. Maar wat sien ons wel volgens die brief aan die Hebreërs? Ons sien die mens Jesus met heerlikheid en eer gekroon, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak (2:9). Ons sien dus reeds die mens Jesus met heerlikheid en eer gekroon. ’n Mens staan weer voor God, ’n tweede Adam. ’n Tweede mens wat die plek van die eerste mens ingeneem het, sy straf gedra het. ’n Tweede mens wat ook aan God gee wat die eerste geweier het, ’n tweede mens wat die nuwe mensheid verteenwoordig.

    En, gemeente, dat Jesus Christus die nuwe mensheid kan verteenwoordig, blyk uit wat ons verder lees in Hebr. 2. Sterk nadruk val op die band tussen Christus en die gelowiges, die geslag van Abraham. Ek lees die verse 11-13: "Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; …en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het."

    Om as ons plaasvervanger op te tree, moes die Here Jesus werklik een van ons wees, vlees van ons vlees. Sien verse 14 en 15: "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel- en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

    Hy het in ons menslikheid neergedaal. Hy het mens onder ons mense geword, mens vir ons mense en so ook mens voor God. God wil mos opnuut die mens voor Hom sien met heerlikheid en eer gekroon. Deur die mens Jesus wil Hy mense tot heerlikheid bring. Sien die verse 16 en 17: "Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen."

    Opnuut word ’n goddelik vereiste genoem: daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word. Daar was geen ander weg nie. Om ons te kan verlos moes ons Middelaar volledig aan ons gelyk wees. Was hy nie werklik mens nie, dan kon hy ons nie saamneem uit die dood na die heerlikheid nie. God wil die mens voor Hom sien. Laat daarom ’n mens hom aan die heilige God gee en sê: Vader, U vra ’n menslike offer, kyk hier is ek, die skuldige wat u soek. Handel met my as een vir almal, as Middelaar vir almal wat in my glo.

    Gemeente, wat Moses die middelaar van die Ou Testament nie kon doen nie: versoening bewerk deur homself vir sy volk op te offer, dit kan die middelaar van die Nuwe Testament, Jesus Christus, wel . Moses is self sondig. Hy kan daarom nie vir ander betaal nie. Sy eie skuld is meer as wat Hy kan dra. As ek self bankrot is, kan ek tog nooit ander mense uit hul bankrotskap bevry nie? Ons middelaar Jesus Christus is egter nie self bankrot nie. Hy is volkome regverdig, sonder skuld. Ons lees in Hebr 7:26, 27: "Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wie nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir die van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het."

    Broeders en susters, daardie genoemde offer sou vir julle nog geen waarde hê nie, as jou middelaar nie terselfdertyd ware God sou wees nie. Sou iemand wat enkel mens is die las van God se ewige toorn vir jou kan wegdra? Vir die las van God se toorn is menslike skouers te swak. Daaronder beswyk elke mens. Dit is ’n oneindige las. Ons praat mos van die ewige straf na liggaam en siel. Voor ’n gewone mens kom daaraan nooit ’n einde nie. Die wurm sterf nie en die vuur word nie geblus nie. Wie kan nou die ewige toorn afwend? Wie as mens eenmaal in die duisternis van volkome godverlatenheid teregkom, kom nooit daaruit nie. Geen mens kan homself daaruit ophef nie. Slegs iemand wat ewig is, kan die ewige straf dra en afwend. Om ons middelaar te kan wees moet hy dus gelyktydig God wees. Wie kan dit immers uithou teen God? Alleen hy wat self God is. Hy moet God wees om daar bowe uit te kom en om tot die lewe terug te keer. Want geen mens het die mag oor die dood nie.

    Hy moet ook God wees om aan ons die lewe terug te gee. Hy moet God wees om ons weer by God terug te bring as troue bondgenote. Ja, dit is geen kleinigheid nie. Dit is gelyk aan: dooies lewend maak. En wie kan dit? Alleen God kan dit. Wie kan nuwe harte skep, nuwe mense voor God plaas? Slegs Hy wat terselfdertyd God is. Hy wat as God kan skep. Ons Here Jesus Christus, deur wie die Vader die wêreld gemaak het.

    Gemeente, dit lyk onmoontlik dat daar so ’n middelaar sou wees, wat terselfdertyd God en mens is. Dit gaan ons verstand te bowe. Daarom struikel baie mense oor hierdie waarheid.

    Hulle wil dit nie aanvaar nie. Maar wat dwaasheid vir mense is, is wysheid by God. Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God berei vir die wat Hom liefhet. Gelukkig maar, anders was daar vir ons mense geen hoop nie, ons sou vir ewig van God geskei bly, in die duisternis van godverlatenheid. Prys die Here, God het self die inisiatief geneem om jou en my weer by Hom te bring. Hy het self voor versoening tussen Hom en ons gesorg. "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh 3:16). Wat ’n liefde! God het die dierbaarste wat Hy het, daarvoor oor om jou en my te red: sy eniggebore Seun.

    Ja, broeders en susters, probeer in te dink hoe groot God se liefde vir jou is. As ’n aardse vader vind ek dit bv reeds verskriklik as ek een van my kinders in die hospitaal moet agterlaat. Indien moontlik sou ek liewer self na die hospitaal gaan. Ek kan dit nie aansien dat my kind so ly nie. So lief is ek vir my kind. Maar dit is nog niks vergeleke met wat God doen nie. God het sy eie Seun, wat self niks verkeerd gedoen het nie, die swaarste straf opgelê, naamlik die ewige straf. En waarom het God so ’n verskriklike ding gedoen? Sodat ons nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Om ons weer by Hom te kry. Wat ’n liefde!

    Dit is soos Paulus skryf in 1 Kor 1:30,31 dat Christus deur God vir ons geword het wysheid en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom soos geskrywe is: die wat roem, moet in die Here roem.

    Ons middelaar is vir ons deur God geword, deur God gegee. Ons kon nie self vir so ’n middelaar sorg nie. Hy moes aan ons gegee word. En hy is gegee tot wysheid, geregtigheid en heiligmaking, kortliks tot ’n volkome verlossing.

    Hy is gegee om my verstand, wat deur die sonde verduister is, te verlig. Hy is gegee om my weer op die pad van God se reg te plaas. Hy is gegee om my weer heilig te maak sodat ek my lewe weer in liefde aan God kan wy. Herken jy die drie: wysheid, geregtigheid en heiligmaking? Dit is die drie trekke van die beeld van God: wysheid, geregtigheid en heiligheid. Wat ek deur die sonde verloor het, dit is Jesus Christus vir my, sodat ek dit in Hom opnuut sal besit. Sodat ek weer sal wees wat ek behoort te wees: ’n mens wat op God gerig is, ’n koning en priester in diens van God.

    So word die verlossing in Christus kompleet. Daar is nou nog die stryd en gebrokenheid. Ons sien nog nie dat alle dinge aan ons onderwerp is nie. Ons sien nog nie ons heerlikheid en eer nie. Alles is nog geskonde. Maar ons sien die mens Jesus Christus reeds met heerlikheid en eer gekroon. Hierdie middelaar het ons voorgegaan in heerlikheid. Daardeur weet ons: ons sal volg. Waar die hoof is, daar sal die liggaam ook wees. God ontvang weer mense aan wie Hy sy liefde kwyt kan raak. En mense mag weer verkeer in God se teenwoordigheid. Daar kan weer ’n verhouding van liefde wees tussen God en ons mense. ’n Nuwe verbond. Danksy die middelaar tussen God en mense, ons Here Jesus Christus.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)