Die Here Jesus stuur predikers uit na die hele mensdom.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-04-25
Text: 
Markus 16
Preek Inhoud: 

Markus 16:15-18

Ds C Kleyn - Sondag 25 April 2004

Lees: Markus 16:9-20.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 112:1,4,5,6; SB 22:9-11; Ps
87:1-5; Ps 96:6-8.

Tema: Die Here Jesus stuur predikers uit na die hele
mensdom.

  1. Die opdrag van prediking;
  2. Die doel van die prediking; en
  3. Die tekens wat die prediking vergesel.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Voor sy hemelvaart tref Christus voorbereidings vir die tyd
wat voorlê. Hy berei sy dissipels voor op sy vertrek. Hy gee
hulle enkele laaste instuksies. In ons teks noem Hy die
werkprogram van die Nuwe Testamentiese periode saam met ’n
belofte. Die dissipels ontvang die opdrag om die evangelie aan
die ganse mensdom te verkondig en die belofte dat God die
evangelie met tekens sal bevestig. God se koninkryk gaan nou met
geweld in hierdie wêreld baanbreek.

Deur die apostels ontvang die kerk die groot sendingsopdrag.
Die apostels het die opdrag ontvang as verteenwoordigers van die
Nuwe Testamentiese kerk. Deur hulle spreek Christus sy kerk aan.
Die apostoliese woord is nou aan ons sorg toevertrou. Daarom is
ons vandag verantwoordelik vir die verbreiding van die evangelie.
Daarom bly sending en evangelisasie ’n opdrag van die kerk
totdat Christus terugkom. ’n Opdrag dus ook vir ons.

Ek verkondig vir julle: Die Here Jesus stuur predikers uit na
die hele mensdom.

  1. Die opdrag van prediking
  2. Die doel van die prediking
  3. Die tekens wat die prediking vergesel

Gaan die hele wêreld in, sê Christus. Julle moet in aksie
kom, uitgaan. Ek het julle ongeloof oorwin en julle die geloof
gegee. Daardie geloof moet julle nie vir julleself hou nie. Die
geloof moet julle juis uit jul geslote private sirkel dryf. Die
evangelie is nie ’n privaat besit wat jy vir jouself kan hou
nie. Die goeie nuus is bestem vir die hele wêreld, die hele
mensdom.

Wanneer God sy Seun na die wêreld stuur, dan het sy wêreld
op die oog. "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy
sy eniggebore Seun gegee het" (Joh 3:16). Die woord wat vir
‘wêreld’ gebruik word, ‘kosmos,’ wys op God
se pragtige meesterstuk. Dis sy wêreld, sy meesterstuk wat deur
sonde en skuld verlore is. Liefde vir sy skepping het God gedryf
om sy Seun na die wêreld te stuur. God kan sy meesterstuk nie
aan sonde en verderf oorlaat nie. God het sy wêreld lief, die
lewe wat Hy eens geskep het, die lewens van jonk en oud, elke
nasie en ras, elke klas van mense. God het die hele wêreld op
die oog. In Christus soek God sy wêreld, sy ryk gevarieerde
skepping. Hy wil mense van alle rasse en klasse van sonde en
skuld bevry en in sy gemeenskap terugbring. Sodat hulle weer vir
Hom kan werk en lewe en Hy Hom weer in hulle kan verheug.

Wel, wat God voor oë het met Christus se koms in die vlees,
dit moet na Christus se hemelvaart werklikheid word. Christus
soek sy wêreld. Hy wil sy wêreld red. Daarom hoor ons die bevel:
Gaan die hele wêreld in. Soek as my ambassadeurs die hele wêreld.
Reik uit na die hele mensdom, sonder onderskeid. Beperk julle nie
tot hulle wat in die verbond grootgeword het nie, tot die ou
verbondsvolk Israel of tot die blankes nie. Hulle wat vroeër ver
was het naby gekom deur my bloed (Ef 2:13). Ek het die middelmuur
van skeiding tussen Israel en die volke afgebreek. Ek wil hê dat
mense uit alle volke bereik word en tot medeburgers van die
heiliges en huisgenote van God gemaak word. Het Ek, Christus, nie
gekom as die lig van die wêreld nie. In Jes 49 is reeds van My
geprofiteer: "Ek het U gemaak tot ’n lig van die
nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde."

As Christus se ambassadeurs moet ons dus uitgaan en die
evangelie verkondig. Die woord wat vir ‘prediking’
gebruik word, verwys na die taak van ’n herout. ’n
Herout is ’n voorloper, wat voor die koning uitloop het. Hy
moet die koms van die koning aankondig. Dink aan Joh die Doper
wat as herout van die Here Jesus uitgeroep het: die koninkryk van
God is naby.

Die apostels en in hulle die kerk word geroep om as heroute
vir die mense duidelik te maak: Mense die koninkryk van God is
naby, ja die koninkryk is reeds hier, die koning het aangekom,
hier is die koning. Hy is aanwesig in die prediking. Hier en nou
breek sy koninkryk baan. Dis die boodskap van die heroute, ’n
boodskap wat as evangelie omskryf word in ons teks, ’n woord
wat goeie nuus beteken.

Volgens Jes 52:7 het die goeie nuus tot inhoud: jou God is
Koning. Wanneer die herout daardie boodskap verkondig, dan is dit
’n werklikheid. Die nuwe era het begin. Die heil het gekom.

Wel, die dissipels en die kerk moet hierdie goeie nuus
rondvertel aan die ganse mensdom. Diskriminasie op grond van
kleur of ras is onvanpas. Watter ras of kleur ook al, hulle is
God se skepsels. God soek sy hele skepping, sonder onderskeid,
selfs van leeftyd: sy heil is vir jong mense wat nog aan die
begin van hul lewe staan en vir die bejaardes. Hy wil jonk en oud
in sy koninkryk hê.

Daarom word elkeen van julle deur hierdie evangelie
aangespreek. En elkeen van julle word opgeroep om ander daarmee
aan te spreek. Deel dit met ander. Maak nie saak tot watter
bevolkingsgroep hulle behoort. Of dit nou swartes of blankes is.
Hulle is sonder onderskeid God se skepsels wat die Here wil soek.
Daarom moet die werk van sending onder die verskillende
bevolkingsgroepe ons belangstelling hê. Het jy ’n hart vir
jou medemens? Gee jy werklik om wat word van die mense in die
townships, in Soshanguve, in Belhar of Wesbank?

Geliefdes, dit wat verkondig word is goeie nuus: hier is die
koning, die Here is koning. Dit impliseer dat dit ’n baie
ernstige saak is. Alle rasse en klasse van mense staan voor die
hemelse koning. Hier in die prediking staar julle Christus in die
gesig. In die prediking kom Hyself na jou toe. Maar dan moet jy
ook gereed wees om Hom te ontmoet. Anders sal hierdie ontmoeting
’n verskrikking wees. Want die koning laat nie met hom speel
nie. Wie die boodskap van die herout verwerp en weier om die
koning te begroet sal dit tot sy ewige skande voel.

Die prediking van die goeie nuus behels daarom altyd ’n
oproep tot geloof en bekering: man, vrou, seun, dogter jy moet
jou lewe omkeer om die koning te ontmoet. Draai jou weg van die
sonde weg, breek met die sonde en buig jou neer vir Christus die
koning in geloof. Hy wat glo en hom laat doop sal gered word,
maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Met daardie woorde wys Markus die doel van die prediking. Dis
die tweede punt: die prediking is gerig op redding. Hy wat glo
sal gered word.

"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy
eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie
verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." God wil
sy knap werkstuk, sy meesterstuk nie aan sonde en verderf oorlaat
nie. Hy wil sy wêreld red. Daarom soek Hy die wêreld met die
evangelie van verlossing.

Maar, broers en susters, wat behels die woord redding,
verlossing? Moenie dit beperk tot hemelse geluk wat jy na hierdie
lewe mag verwag. Verlossing omvat alles. Dit beteken om van sonde
en verderf gered te wees. Dis nie net bevryding van die oordeel
wat kom nie, maar ook bevryding van die oordeel hier en nou reeds.
Joh 3 sê dat hy wat nie glo nie, alreeds veroordeel is omdat hy
nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
God se oordeel rus op hulle wat nie glo nie, hulle is veroordeel.
Daarom as ek die evangelie wat verkondig word, nie glo nie, dan
is ek veroordeel. Pleks om verlossing te ontvang, ontvang ek my
oordeel. Dit word verkondig vir elkeen wat die koning weier. God
se oordeel rus op jou soos jy hier as mensekind leef, na liggaam
en siel. Nie net die laaste nie, asof die oordeel net op jou siel
betrekking het. Ook die liggaamlike siektes van ongelowiges is
bewyse van God se toorn. God is besig om sy oordeel uit te stort
oor hulle wat Hom verwerp.

Daarteenoor beteken verlossing die verlossing van siel en
liggaam. My hele bestaan word bevry van sonde en vloek. Wanneer
ek glo dan mag ek in die gemeenskap van die lewende God lewe,
hier en nou reeds. Dan deel ek in die verlossing wat vir my
verkondig word. Die verlossing is nie net ’n geestelike saak
nie. Dit het ook betrekking op my liggaamlike bestaan.

Dis waar die volkome verlossing is nog iets van die toekoms.
Maar dit neem nie weg dat God vir my nou reeds ’n voorsmaak
van die volkome verlossing gee nie. Hy is besig om die vloek van
my lewe weg te neem. Hy begin ook om die gevolge van die sonde te
verwyder. Dis opvallend dat die oorspronklike woord vir
verlossing soms ook deur die woord genesing vertaal word. Dit kan
verwys na beide geestelike en liggaamlike genesing. Christus wil
my met liggaam en siel red.

Onthou egter, broers en susters, dat liggaamlik herstel
ondergeskik is aan die ewige verlossing."Want wat baat dit
’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade
ly?" (Mt 16:26). In sy wysheid bepaal God die maat van my
redding hier en nou. sodat ek voorberei mag wees op die volkome
verlossing later. Sodat ek gefokus bly op Hom. Hy verwyder nie
onmiddellik alle gevolge van die sonde nie, elke siekte en
gebrokenheid nie. Hy wil ons waaksaam hou. Hy wil die verlange in
ons na die ware en volkome verlossing, lewend hou. Nou sug ons
nog terwyl ons wag vir die volle openbaring van ons aanneming tot
kinders, die volkome verheerliking van ons liggame. Dit sal eers
volle werklikheid wees by Christus se wederkoms. Slegs dan sal my
verlossing kompleet wees en my stryd verby.

Wel, dis deur geloof dat ek die redding van liggaam en siel
ontvang. Die verlossing is vir gelowiges. Hy wat glo en hom laat
doop, sal gered word. Die doop volg die geloof. Dis ’n teken
van die verlossing wat omhels word, ’n teken van my inlywing
in Christus. Dis ’n teken wat ’n mens nie mag ignoreer
nie. Wanneer ek glo dan sal ek myself ook laat doop. Ek wil
Christus se merkteken en vaandel dra.

Tog is geloof hier die beslissende faktor. Die doop is
ondergeskik daaraan. In die tweede gedeelte van die sin sien ons
dat die doop nie genoem word nie. Daar lees ons: "Hy wat nie
glo nie, sal veroordeel word." Geloof is die beslissende
faktor, nie die doop nie. Die geloof is wat God in rekening sal
bring, of ek gedoop is of nie. Maar wanneer ek glo sal ek
vanselfsprekend die doop ook begeer.

Geliefdes, as mens hierdie teks lees, moet jy nie teen die
kinderdoop wees nie? Noem die teks nie eers die geloof en daarna
die doop: "Hy wat glo en hom laat doop sal gered word."
Behoort dan elke persoon wat gedoop word nie eers te glo nie?

Doen ons met so ’n redenering reg aan die teks? Markus
verwys hier na ’n sendingssituasie. In ’n
sendingssituasie spreek jy gewoonlik eers volwassenes aan. Dis
logies dat volwassenes eers moet glo voordat hulle die doop
ontvang. Dit was reeds so in die Ou Testament, dink aan Abraham
die vader van alle gelowiges. Wat gebeur dan met die kinders van
die volwassenes wat tot geloof gekom het? Dit word in ons teks
nie genoem nie. Dis nie waaroor dit gaan in hierdie skrifgedeelte
nie. Ander skrifgedeeltes gee ons lig daaroor bv die woorde van
Petrus in Hand 2: "want die belofte kom julle toe en julle
kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na
Hom sal roep." As ’n volwassene eenmaal tot geloof kom,
dan mag al die afhanklike kinders gedoop word. So kry ons in
Handelinge ook verskillende voorbeelde van gelowiges wat gedoop
is saam met hul huisgesin.

Nou die derde punt: die tekens wat die prediking vergesel. Die
evangelie van verlossing sal deur die tekens van verlossing
bevestig word.

Soos ons reeds gesien het, Christus stel belang is sy pragtige
skeppingswerk, sy meesterstuk, sy mensekinders. In die laaste
gedeelte van die teks wys Hy op die herstel van die meesterstuk.
Die tekens praat ’n duidelike taal: duiwels sal uitgedryf
word: satan se trawante word gedwing om terug te tree. Lewens
word van die mag van Satan bevry. Met nuwe tale of tonge sal
hulle spreek. Die tonge wat deur Satan, die vader van alle leuen,
in gebruik geneem was, sal deur die Gees vernuwe word sodat die
tonge God se groot dade weer gaan verkondig. Selfs die
ongeskooldes sal begin om te profeteer. Daarom het die nuwe tale
of tonge niks te make met wat mense vandag die spreek in tale
noem. Vandag se sogenaamde spreek in tale verwys na die uitspreek
van onverstaanbare klanke in verrukking of ekstase. Die nuwe
tonge waarvan Markus praat verwys na tonge wat deur die Heilige
Gees vernuwe is, wat in alledaagse taal praat, in verstaanbare
woorde wat die groot dade van God verkondig.

"Slange sal hulle opneem", vervolg Christus "en
as hulle iets dodeliks drink, dal dit hulle geen kwaad doen nie."
Die krag van die vervloekte slang sal gebreek word. ’n Teken
daarvan dat Satan se krag gebreek sal word.

"Op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond
word." Deur die krag van die Heilige Gees –
gesimboliseer in die oplê van hande – sal siek mense hul
krag en gesondheid terugkry. Liggaam en siel sal herstel word.

Die teks sê dat die tekens die gelowiges sal volg. Hulle word
tekens genoem. Tekens is bestem om iets aan te dui, om op iets te
wys. Waarop wys hierdie tekens? Hulle wys op die verlossing in
Jesus Christus, die verlossing van God se meesterstuk. Hulle is
tekens van Christus se herstel van die lewe na liggaam en siel.
Tekens van sy ewige koninkryk.

Hierdie tekens sal vir die wat geglo het, volg, lees ons. In
die verband sal dit waarskynlik wys op gelowige predikers. Die
teks praat mos oor ’n sendingssituasie. Heroute word in die
wêreld uitgestuur om die wêreld te konfronteer met die
evangelie van verlossing. Die tekens sal hulle volg. Met ander
woorde: die tekens gaan nie voor hulle uit nie. Die tekens
legitimeer nie die gelowiges nie. Hulle bied hulleself nie aan
met die tekens om hul gesag te bewys nie. Nee, God volg hulle met
tekens om die evangelie te bevestig. Daarom bevestig die tekens
nie die geloof van die predikers nie, maar bevestig hulle die
prediking self. In vers 20 lees ons dan ook dat die Here die
woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.

God bevestig die prediking deur tekens en wonders. Die
evangelie is nie leeg of ydel nie. Dis die goeie nuus van
verlossing. Dis iets wat volle werklikheid is. Kyk maar na die
tekens. Die Here is werklik Koning. Hy is werklik die verlosser
van die lewe. Kan jy nog daaraan twyfel? Kyk maar na die tekens.

Ons lees oor hierdie dinge in die boek Handelinge. Die
apostels verrig baie tekens en wonders: siekes word genees,
duiwels word uitgedryf. Filippus, een van die 7 wat in Hand 6
bevestig is, doen dieselfde tekens in Samaria. Op die eiland
Malta skud Paulus ’n adder, wat aan sy hand vasgebyt het, af
en hy ly geen kwaad nie. Paulus genees daar ook siekes wat na hom
toekom. Daar is baie meer wat ons sou kan noem. Dink aan die
gawes van die Gees wat in die brief aan die Korintiers genoem
word. God het ’n groot aantal van die tekens in die Bybel
opgeteken.

Maar hoe is die situasie vandag? Mag, moet ons nog sulke
tekens vandag verwag soos die charismatiese beweging beweer? Ook
al sê Christus nie uitdruklik dat hierdie gawes tydelike gawes
is, lyk dit asof hulle inderdaad bedoel is vir die begin periode
van die Christelike kerk, om die Nuwe Testamentiese bedeling in
te lui. Met ’n betoon van krag, met mag breek Christus baan
in die heidense wêreld. Teenoor die mag van Satan wat die volke
tot daardie tyd beheers het, bewys Christus sy kragte van
verlossing, die waarheid van die evangelie. Dis opvallend dat
hierdie tekens opgehou het of tenminste maar selde na die eerste
periode van die kerk waarin die Bybel voltooi is, voorgekom het.

Moenie uit die oog verloor dat die teks na ’n
sendingssituasie verwys. Indien jy vandag nog sulke tekens sou
verwag, dan sou dit logies wees om dit op die sendingsterrein te
verwag, waar die evangelie vir die eerste keer verkondig word,
waar heidene losgeruk moet word van die magte van die duisternis.
Ons het vandag die voltooide Bybel. Die tekens wat daarin
opgeteken staan is vir ons opgeteken. Hulle hoef nie herhaal te
word nie. Die komplete Bybel moet vir my voldoende wees. Daarin
staan alles opgeteken wat ek vir my verlossing nodig het. Daarom
is daar geen rede om terug te verlang na die eerste periode van
die kerk met sy tekens en wonders nie. Ek mag inteendeel my
verheug in die voortgang van God se openbaring, waardeur God sy
kerk tot volwassenheid gebring het. Volwassenes wil tog nie weer
kinders word nie!

Dit beteken natuurlik nie dat God sulke tekens nie meer kan of
wil doen nie. God beskik soewerein oor alle magte. In sy wysheid
kan Hy in sekere omstandighede besluit om kragtig in te gryp met
tekens en wonders. Ons kan net sy soewereine wil en krag
respekteer. En tevrede wees met wat Hy in ons situasie bepaal.

Daarom, moenie die charismatiese beweging jou laat verwar deur
te beweer dat die tekens ook vandag moet plaasvind. Die Here
beskik soewerein oor daardie dinge. Wanneer Hy dit onnodig vind
om sulke kragte te wys, wie is ek om die dinge te eis? Die feit
dat daardie tekens nie onder ons voorkom hoef beslis nie ’n
bewys van ons ontrou te wees nie. Die tekens is immers nie gegee
om die geloof van die predikers of van die kerk te bevestig nie,
maar om die evangelie van verlossing te bevestig. En die
evangelie is reeds vir ons bevestig jare gelede in die eerste
Christelike tydperk, waarvan die Bybel verslag gee.

Om vandag tekens te eis, sou ons op een lyn met die Jode in
Jesus se dae plaas. Hulle het ’n teken van Christus geëis.
Hoe reageer Christus daarop? Hy sê: "’n slegte en
owerspelige geslag soek ’n teken, en geen teken sal aan hom
gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona" (Mt
12:39). Hier verwys Hy na sy eie lyding, dood en opstanding op
die 3de dag. Dis die enigste waarop ’n mens sy geloof kan
bou, naamlik die woord van die kruis.

Broers en susters, die evangelie is aan julle verkondig en is
vir julle reeds bevestig deur tekens. Die koninkryk van die hemel
het in hierdie wêreld baan gebreek, ook in ons land. En die
koning gaan nog steeds voort deur sy heroute om sy hele skepping
op te soek. Dis nou nog die tyd van genade. Laat ons dan ag
daarop gee. Ons lees in Hebr 2:1-4: "

Broer, suster, seun, dogter, kan jy so ’n groot saligheid
veronagsaam, die saligheid wat aan jou verkondig is en wat as
waar bewys is deur wonders en tekens?

 

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)