Die noodsaak van die maagdelike geboorte van ons Here Jesus Christus.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-06-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Preek Inhoud: 

Sondag 14

Ds C Kleyn - Sondag 13 Junie 2004

Lees: Job 14; Sondag 14.
Sing: Ps 84:1,6; Ps 98:1,2; Ps 51:1,3; SB 24:1-3;
SB 50.

Tema: Die noodsaak van die maagdelike geboorte van ons
Here Jesus Christus.

Dit was nodig:

  1. As gevolg van ons totale bedorwenheid; en
  2. Ter wille van ons volkome verlossing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Ons bely nou die heilige ontvangenis en geboorte van Jesus
Christus. Deur al die eeue heen was daar mense wat hierdie
belydenis nie kon aanvaar nie. Alreeds in die vroeë Christelike
Kerk was daar mense wat verkondig het: die swangerskap van Maria
wat deur die Heilige Gees bewerkstellig is, kan nie waar wees nie.
Dit kan nie waar wees dat die Seun van God ons vlees en bloed
aangeneem het uit Maria se sondige menslike natuur nie.

Die ontvangenis deur die Heilige Gees was nog altyd ’n
struikelblok gewees. Die menslike verstand struikel aanhoudend
daaroor, tot vandag toe. Teoloë uit verskeie oorde se dat hulle
nie die belydenis van die maagdelike geboorte van Christus kan
aanvaar nie. Hulle beroep hulle op die sogenaamde verskille in
gewig tussen die verskillende Skrifgedeeltes. Die maagdelike
geboorte behoort nie tot die hart van die evangelie nie, word
beweer. Dit is nie noodsaaklik vir die Christelike geloof nie.
Hierdie ‘verhale’ wil net beklemtoon dat Jesus Christus
’n besondere persoon is. Dit is al wat jy van hierdie
Skrifgedeeltes mag aflei, beweer hulle.

Geliefdes, so ’n beskouing van Christus se geboorte is in
wese ’n ander beskouing van Jesus Christus as persoon. Daar
is baie mense wat weier om Jesus Christus as ware God te aanvaar.
Hulle beskou hom slegs as ’n mens, ook al was hy ’n
baie besondere mens. Aangesien hulle so dink, het hulle geen rede
om in die maagdelike geboorte te glo nie. As hy net ’n mens
is, kan sy geboorte net soos enige ander kind se geboorte beskou
word.

Dit is opvallend dat die Apostoliese Geloofsbelydenis die
geboorte van Jesus Christus deur die maagd Maria in ’n
aparte artikel bely. Die belydenis behandel hierdie boodskap van
die Skrif nie asof dit iets is wat nie daar hoort nie. Ons
aanvaar in alle nederigheid wat in die Skrif geskryf staan,
ongeag wat mense daarvan dink. Die Seun van God het op die aarde
gekom langs die pad van die ontvangenis van die Heilige Gees en
die geboorte deur die maagd Maria. So het die Woord vlees geword.
Dit word op ’n praktiese manier vir ons in ons Kategismus
uitgelê.

Ek verkondig aan julle: Die noodsaak van die maagdelike
geboorte van ons Here Jesus Christus. Dit was nodig:

  1. As gevolg van ons totale bedorwenheid; en
  2. Ter wille van ons volkome verlossing

Gemeente, dit is nie ons bedoeling om hierdie belydenis van
Christus se maagdelike geboorte, vir die menslike verstand
aanneemlik te maak nie. Hierdie belydenis handel oor jou
verlossing en jou Verlosser. Jou verlossing is, volgens die
Skrif, iets volkome nuuts. God bewerk verlossing. As jou
Verlosser maak Hy nuwe dinge. Die profeet Jesaja het geprofeteer:
"Kyk, ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal
julle dit nie merk nie?" Dit is die Here wat jou verlossing
teweegbring op Sy Goddelike en wonderlike manier.

Dit is iets wat ons alreeds in die Ou Testament sien. Hoeveel
van die belangrike figure in die heilsgeskiedenis was nie deur
’n wonderwerk van God gebore nie? Dink net aan die geboorte
van Isak. Menslik gesproke was dit onmoontlik vir Abraham en
Sarah om nog ’n kind te kon kry. Hulle was oud, en die Skrif
wys spesifiek daarop dat Sarah verby die ouderdom was om nog
swanger te kan word. Dit was onmoontlik om te verwag dat sy nog
haar eie kind sal dra. Die deur na die toekoms was heeltemal
gesluit. Totdat God ingegryp het. Isak is gebore volgens die
belofte. God kom sy belofte na deur middel van ’n wonderwerk.

Ja, ’n mens sal kon sê dat die Kerk deur middel van
’n wonderwerk bestaan. Hoekom het die Here dit so gedoen?
God wil ons inprent dat ons nie in staat is om in eie krag, deur
ons natuurlike vermoëns, ons toekoms te ontsluit nie. God wys
ons dat alle verlossing Sy werk is. Ons mense is volkome
afhanklik van Hom, die Almagtige, wat lewe skenk aan die dooies
en dinge tot lewe roep wat nie bestaan nie. Ons is volkome
afhanklik van die Almagtige wat die onvrugbare en afgestorwe
moederskoot weer lewend en bruikbaar maak. Ons is afhanklik van
God wat ’n weg na die toekoms oopmaak waar alles heeltemal
toe is.

Ons kan daarby ook nog dink aan die geboorte van Simson,
Samuel en Johannes die Doper. Hulle was ook al drie deur ’n
wonderwerk gebore. God het weë oopgemaak wat vroeër doodgeloop
het. Vroue wat onvrugbaar was, is weer vrugbaar gemaak in die
geskiedenis van God se verlossingswerk.

Broeders en susters, hierdie wonderlike geboortes het die
geboorte van Jesus Christus voorafgeskadu. Die Here het gewys dat
hy die oorsprong van alle dinge is, dat alles van Hom afhang. Tog
is daar ’n groot verskil tussen daardie geboortes en die
geboorte van Jesus Christus. Alhoewel die Ou Testamentiese
geboortes deur ’n wonderwerk geskied het, is dit duidelik
dat God tog die man en die vrou gebruik het. Die kinders is
gebore agv God se wonderbaarlike seën op die eenwording van man
en vrou. ’n Gewone kind is gebore; ’n kind met ’n
pa en ’n ma.

Dit was heeltemal anders met die Here Jesus Christus. Jesus is
immers die Seun van God. Hy het al bestaan voor sy geboorte deur
Maria. Kon Hy sy Goddelike en menslike nature verenig deur die
eenwording van twee mense?

Die aankondiging van Jesus se geboorte aan Josef en Maria maak
duidelik dat daar geen sprake van ’n seksuele verhouding
tussen Josef en Maria was nie, waardeur Maria met die kind Jesus
swanger kon geraak het. Maria ontvang die boodskap dat sy swanger
sal word en ’n seun baar. Haar natuurlike reaksie is: hoe
kan dit wees aangesien ek geen man het nie?

Later ontvang Josef ook ’n boodskap van die Here
aangaande die geboorte. Daarvan lees ons in Mattheus 1. Wanneer
Maria se swangerskap duidelik sigbaar word, voordat sy met Josef
saamgekom het, neem Josef hom voor om in die geheim van haar te
skei. Die Here laat hom egter van plan verander. Hoe? Hy stuur
’n engel met die boodskap: "Josef, seun van Dawid, wees
nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in
haar verwek is, is uit die Heilige Gees."

Die Heilige Gees word in albei aankondigings as die oorsprong
genoem. As antwoord op Maria se vraag: "Hoe kan dit wees
aangesien ek geen man het nie?", sê die engel: "Die
Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal
jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun
van God genoem word."

Die Heilige Gees, wat ook die krag van die Allerhoogste genoem
word, sal Maria dus oorskadu. Hierdie uitdrukking ‘oorskadu’
word ook in die Ou Testament gebruik in verband met die
tabernakel. ’n Wolk het die tabernakel oorskadu. Dit was
’n simbool van God se teenwoordigheid; God se aktiewe
teenwoordigheid. Dit het die feit gesimboliseer dat God op die
tabernakel beslag gelê het en daar wou werk.

Nou, op dieselfde manier, word Maria deur die Heilige Gees
oorskadu – Hy sal haar in sy besit neem. Hy sal in haar
aktief wees. Hy sal iets in haar bewerkstellig wat ver bo ons
verstand gaan. Sonder die betrokkenheid van ’n man sal Maria
’n seun baar. Die Heilige Gees berei ’n menslike
liggaam vir die Seun van God, in die skoot van Maria. Hy doen dit
deur ’n wonderwerk, onsigbaar vir die mens. Niemand op aarde
sal dit kan verduidelik nie; niemand sal dit vir die verstand
aanvaarbaar kan maak nie. Wanneer die Heilige Gees in die
verborgenheid vir die Seun van God ’n menslike liggaam
berei, is dit slegs ’n wonderwerk. Dit is absoluut uniek,
onherhaalbaar. Daarom sal die Kind wat gebore word Heilig, Seun
van God genoem word.

Dit is opmerklik, broeders en susters, dat sowel Maria as
Josef die boodskap van God ontvang. God maak seker by hierdie
belangrike saak dat daar meer as een getuie is. Dan staan die
saak vas. ’n Mens kan dit nie ontken nie. Dit is ’n
feit. ’n Saak staan immers vas deur die woord van twee of
drie getuies.

Maar, broeders en susters, hoekom was so ’n unieke wonder
nodig: ontvang deur die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.
Dit was nodig, geliefdes, agv ons totale bedorwenheid. Tot by die
wortel is ons bestaan sleg. In Ps. 51 bely Dawid: "Kyk, in
ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang."
By elke natuurlike geboorte is daar die voortgang van die sonde.
Elke nuwe lewe is van nature aan allerhande ellende, selfs aan
die ewige oordeel, onderworpe, lees ons in die doop formulier.
Elke nuwe lewe word deur die sonde meegesleep, verstrik. In
wanhoop roep Job uit: "Ag, kon maar ’n reine voortkom
uit ’n onreine – nie een nie!"

Hoe het Job hierby uitgekom? Julle ken almal die geskiedenis
van Job. Die Skrif vertel van hom dat hy ’n vroom en opregte
man is, godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. Tog word
hy skielik in verskriklike ellende gedompel. Alles word van hom
weggeneem en sy liggaam word van kop tot tone bedek met sere. Vir
Job is God se weë in sy lewe onnaspeurlik. Dan kom sy drie
vriende na hom toe: Elifas, Bildad en Sofar. Hulle dink dat hulle
dit wel kan verklaar. Daar is net een moontlike verduideliking:
Job moes iets verkeerds begaan het, hy moes grootliks teen God
gesondig het. Hulle probeer Job tot skuldbelydenis dwing. Maar
Job kan nie. Hy weet hy is regverdig voor God. Daarom wil hy sy
saak voor die Here stel. Hy wil by die Here pleit.

Tog, in die Skrifgedeelte wat ons gelees het (Job 14) moet hy
sy eie geringheid erken. Wie is die mens dat hy sy saak by die
Here kan pleit? Jy kan nie veel van die mens verwag nie. "Die
mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus.
Hy spruit uit soos ’n blom en verwelk; ook vlug hy soos
’n skaduwee en hou nie stand nie." Hoekom? Agv sy
onreinheid en sonde – in sonde ontvang en gebore en daarom
aan allerhande ellende, selfs aan die dood, onderworpe. Terwyl hy
worstel met die vraag oor sy lyding sien Job bittermin uitsig.
Ons lewens lei tot die dood. Hierin lyk dit asof bome beter vaar
as die mens. ’n Boom kan tenminste weer oplewe, nadat dit
afgekap is. Nuwe wortels kan uitspruit uit die stomp van ’n
boom wat afgekap is. Dus is daar nog hoop vir ’n boom. Maar
vir die mens? Wanneer hy sterf lyk dit die einde te wees.

Vir ’n oomblik word Job weer hoopvol. Hy vra: "As
’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae
van my stryd, totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U
antwoord. Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde
nie? My oortreding is verseël in ’n bondeltjie, en U sluit
my ongeregtigheid weg" (verse 14-17).

Hierdie hoop word egter gou weer deur die harde werklikheid
van die lewe oorskadu. Die onreine mens is aan die dood
onderworpe. Daar is nie ’n einde daaraan nie. Want –
"kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine –
nie een nie!" Die sonde hou aan deur die lyn van die
geslagte. Die mens is tot in die grond van sy bestaan verdorwe.
Ons verdorwenheid is van so ’n ernstige aard dat die siklus
van natuurlike geboorte eers gebreek moet word, voordat
verlossing kan plaasvind. ’n Heilige, rein persoon moet uit
’n onreine voortkom. Iemand moet opkom wat nie deur die
erfsonde geraak is nie.

Jy kan dit ook so stel: Ons, mense, is so volkome bedorwe dat
geen gewone mens ons Verlosser kan wees nie. God self moet ingryp.
En God het ingegryp. Hy het Sy Seun gestuur. Sy Seun het langs
God se weg gekom: ontvang deur die Heilige Gees, gebore uit die
maagd Maria. Die siklus van natuurlike geboortes is gebreek.

Geliefdes, hierdie belydenis wys vir jou die erns van jou eie
verdorwenheid, maar ook die hemelse oorsprong van jou verlossing.
Jy is nie verlos deur die mens nie, maar deur God self. God, wat
Sy eie geliefde Seun as Verlosser na die aarde gestuur het. Hy
het die ketting van die erfsonde gebreek; die ketting van
erfskuld en erfsmet. Hy is deur die Heilige Gees ontvang, gebore
uit die maagd Maria. Hy het nie deel aan die skuld van Adam se
oortreding nie, ook nie aan die gevolglike besmetting van die
sonde nie. Daar is weer hoop en ’n toekoms vir jou en my,
wat van nature dood in die sonde is.

Dit wys julle, geliefdes, hoe verskriklik dit is om Christus
se maagdelike geboorte te ontken. Om Sy maagdelike geboorte te
ontken, sou beteken dat Hy net soos enige ander kind in sonde
ontvang en gebore is. Dan hou die siklus van sonde aan. Dan sou
Christus net so sondig en net so skuldig wees as u en ek. Dan sou
die hemel gesluit bly. Dan sou alle vooruitsigte verdwyn. Dan bly
slegs God se oordeel vir ons oor.

Kom, ons dank God dat Jesus Christus ontvang is deur die
Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria. Dit was nodig agv
ons totale verdorwenheid. Dit was ook nodig ter wille van ons
volkome verlossing, die tweede punt.

Die kategismus stel die vraag: watter nut verkry jy uit die
heilige ontvangenis en geboorte van Christus? Christus se
wonderbaarlike geboorte baat my wanneer ek glo. God het nie
verniet ’n nuwe begin in Adam se verdorwe nageslag gemaak
nie. God het terwille van my verlossing ’n nuwe begin gemaak.
Dus raak Jesus se maagdelike geboorte vir jou en my persoonlik.
Hierdie evangelie moet aan almal, wat wandel in doodskaduwee,
verkondig word. Dit moet vertel word aan hulle wat van nature aan
die oordeel onderwerp is; hulle wat uit hulleself geen vooruitsig
en toekoms het nie, behalwe dood en verderf.

Hierdie evangelie eis geloof. Glo, en dit sal ’n verskil
aan jou lewe maak; dit sal vrugte dra. As gelowige hou ek immers
vas aan die volkome heiligheid van hierdie Kind, gebore uit die
maagd Maria. Ek ken my eie sonde en bedorwenheid in Adam en ek
vlug na hierdie heilige Kind – vlees van my vlees –
maar sondeloos. Deur geloof gryp ek daardie heiligheid aan;
daardeur weet ek dat ek van die verskriklike oordeel van God
verlos is.

Die kategismus gee daarom ’n baie persoonlike antwoord:
Hy is ons Middelaar en met sy onskuld en volkome heiligheid bedek
Hy voor God my sonde waarin ek ontvang en gebore is.

Ons het gesien dat God ’n nuwe begin gemaak het, reg in
die middel van Adam se verdorwe geslag, deur die heilige
ontvangenis en geboorte van Christus. Nou besef ek dat daardie
nuwe begin op my betrekking het. Dit bereik my presies waar my
verdorwenheid ontstaan het: by my ontvangenis en geboorte; by die
begin van my bestaan. Verlossing is radikaal. Dit reik terug na
die wortel van my bestaan. My onreine oorsprong is bedek deur die
rein begin van Jesus Christus.

Gemeente, Christus was nie net van sy jeug af rein nie, nee,
hy was dit van sy ontvangenis en geboorte af. Hy het alles
oorgedoen wat ek in die verderf laat stort het. Hy het my paadjie
in heiligheid en onskuld vir my geloop. As Middelaar plaas Hy Sy
lewe in my plek. Hy het my onreinheid met sy reinheid bedek.
Sodat ek ook as rein beskou kan word. God behandel my nou asof ek
net so onskuldig en rein is as Christus self.

Daarom kan daar nou weer ware blydskap wees by die geboorte
van ’n kind. Ja, ons weet, ons kinders het deel aan die
ketting van die sonde – hulle is in sonde ontvang en gebore
en onderwerp aan die ewige oordeel. Hulle ervaar allerhande
ellende, sondig soos hulle is, terwyl hulle opgroei in ’n
sondige en gebroke wêreld. Sou jy nie huiwer om lewe aan ’n
kind te skenk in so ’n wêreld nie? As jy weet dat lyding en
dood hulle lot is? Is daar nog hoop vir kinders wat nou die
daglig sien? Ja, verseker, Christus het die pad gebaan. Ons
kinders mag weer in Christus heilig genoem word. Daarom moet
hulle gedoop word. Van nature onrein, word hulle weer in Hom as
rein geag – in Hom wat as reine uit ’n onreine
voorgekom het.

Ons mag weer in hoop en volle verwagting leef. Job het met die
vraagstuk van sy lyding geworstel. Hy het bittermin uitsig gehad
toe hy kyk na die ketting van sonde en dood. Net vir ’n
oomblik het die lewe na die dood hom bygeval by wyse van ’n
kwellende vraag: "As ’n mens sou sterwe, sal hy weer
lewe?" Op die oog af gesien kan mens nie anders as om saam
met Job en die Prediker die gevolgtrekking te maak: "Alles
tevergeefs, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!" Jou
lewe is soos ’n blom wat opspruit vir kort tydjie en dan
verwelk.

Tog, geliefdes, kan ons meer weet. Die ketting van die sonde
is stukkend gebreek. Vir daardie doeleinde is die siklus van
natuurlike geboortes onderbreek: Jesus Christus is, nie deur
’n sondige mens nie, maar deur die Heilige Gees ontvang, en
gebore uit die maagd Maria. Hier sien ons ’n reine voortkom
uit ’n onrein persoon. ’n Onmoontlikheid vir die
menslike verstand. Maar moontlik gemaak deur God. Dit is God se
nuwe begin. Daar is weer uitsig, uitsig op die lewe. God het ons
heil bewerk. Die ellende van die teenwoordige wêreld sal tot
’n einde kom. En daardie einde is geen volstrekte einde van
lewe nie. Dit kan as ’n ontheffing van diens hier op aarde
beskou word. Daar is lewe na hierdie lewe. As ’n mens
sterwe, dan sal hy weer lewe, Job, ja, weer lewe in Jesus
Christus. Ek glo in die opstanding van die liggaam en ’n
ewige lewe.

Broeders en susters, die belydenis van Jesus Christus se
maagdelike geboorte is dus ’n ontsaglik mooi belydenis, wat
alles vir ons beteken. Dit herinner ons aan ons totale
verdorwenheid. Die siklus van natuurlike geboortes moes gebreek
word. Maar nie net dit nie. Dit wys ook op ons volkome verlossing.
Die Here red radikaal en volkome. Laat ons daarom glo met die
hart, wat ons met die lippe bely. Dan kan jy in alle
omstandighede uitroep: my sondes is bedek, selfs die sondes vanaf
my ontvangenis en geboorte. Ek mag lewe, vandag en in ewigheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)