Op die Pinksterdag gaan die Bybel oop.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-05-30
Text: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Handelinge 2:1,16,34,35

Ds C Kleyn - Sondag 30 Mei 2004

Lees: Handelinge 2:1-21; 33-36.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 131; SB 13:1-5; SB 14; Ps 72:10,11.

Tema: Op die Pinksterdag gaan die Bybel oop.

Ons sien dat sowel

  1. Die wet;
  2. As die profete; en
  3. Die Psalms

getuig van Christus se verlossingswerk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Verlang julle ook terug na die eerste Pinksterfees? Hier in
die kerk gebeur dinge op ’n heel gewone manier, op ’n
voorspelbare manier. Daar is geen buitengewone ervarings nie.

Gestel dat daar in Jerusalem was tydens die eerste
Pinksterfees? Skielik kom daar uit die hemel ’n geluid soos
van ’n geweldige rukwind. Jy voel geen wind nie. Tog klink
dit soos ’n geweldige stormwind. En kyk, tonge soos van vuur
rus op die hoofde van Jesus se volgelinge. Hulle brand nie, tog
lyk dit werklik soos vuur. Dan begin hulle almal in ander tale
praat. Hulle is eenvoudige vissers. Geen mense van hoë afkoms of
hoë ontwikkeling nie. Maar of jy nou kom van Egipte of Asië,
Arabië of Persië, Noord of Suid, Oos of Wes, jy kan hulle
duidelik verstaan, in jou eie taal.

Stel jou voor dat jy dit so sou beleef. Dit sou ’n baie
ander Pinksterfees vir jou wees, ’n werklike fees. Of nie?
Kyk maar opnuut na Hand 2. Inderdaad gebeur daar aanvanklik
opsienbarende dinge. Deur die tekens roep God so te sê uit:
Aandag!

Maar wat gebeur daar wanneer Hy die aandag ontvang? Dan word
die Bybel oopgemaak. Soos dit hier vandag ook die geval is. Dalk
is dit die mooiste van Pinkster. Want wanneer die Bybel oopgaan
dan gebeur daar iets. Dan plaas God die Heilige Gees Jesus
Christus voor jou. Daarop gaan ons vanoggend let.

Dis opvallend, gemeente, dat verwys word na die drie
verskillende onderdele van die OT iese Bybel. Die Jode het die
drie dele genoem: die wet (d.i. die vyf boeke van Moses), die
profete en die Psalms (oftewel die Geskrifte). In Lukas 24 noem
die Here Christus self ook daardie drie gedeeltes wanneer Hy na
sy opstanding vir sy dissipels die Bybel oopmaak. Wanneer die
Bybel oopgaan dan kom Christus voor jou te staan. Die Bybel
getuig mos van die Christus.

Ek verkondig vir julle: op die Pinksterdag gaan die Bybel oop

Ons sien dat sowel

  1. Die wet;
  2. As die profete; en
  3. Die Psalms

getuig van Christus se verlossingswerk

Gemeente, om die betekenis van die Pinksterfees reg te
verstaan, moet jy let op die allereerste woorde van Hand 2. Ons
lees maklik oor die eerste woorde heen. Daardeur vergeet ons die
verband van hierdie Pinkster gebeure.

Wat staan daar dan in vers 1? In ons vertaling lees ons:
"En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het..."
Wat word met die Pinksterfees bedoel? Is dit ’n fees wat
eers met daardie uitstorting van die Heilige Gees ingestel is?
Sodat ’n mens moet lees: toe die dag, wat die Here vir die
uitstorting van sy Heilige Gees bepaal het, aangebreek het en
daardie eerste Pinksterfees begin het? Ons vertaling bring nie
mooi uit wat daar werklik in die oorspronklike teks staan nie.
Letterlik word gepraat van vervul, volgemaak wees. Wat is dan
vervul of volgemaak? Dit is die wetlik vasgestelde tyd tussen
twee gebeurtenisse. In hierdie geval gaan dit oor die
voorgeskrewe tyd tussen die Paasfees en die Pinksterfees. Dis
miskien ook goed om hier te noem dat die naam Pinkster afgelei is
van die Griekse woord pentekoste, wat die vyftigste beteken,
’n afkorting vir die vyftigste dag. Ons sou die teks so kan
omskryf: Toe die dag van die vyftigste dag vervul of volgetel
was, het dit alles gebeur.

Lukas praat dus nie van ’n Pinksterfees wat eers met die
uitstorting van die Gees aangebreek het nie. Hy praat van die OT
iese Pinksterfees. En Hy verbind dit aan die fees 50 dae
daarvoor, naamlik die Paasfees. Die volk Israel het reeds eeue
lank die Pinksterfees gevier. Wil jy weet wat die Pinksterfees
is, dan moet jy jou Bybel maar oopmaak, by die gedeelte wat die
wet genoem word, Lev 23. Israel het drie groot feeste geken: die
Paasfees, die Pinksterfees en die Huttefees. Die laaste laat ons
nou buite beskouing.

Kom ons kyk na die eerste twee feeste. Wat was die betekenis
daarvan? Die Paasfees was ingestel by die uittog uit Egipte. Dit
was die fees van die verlossing uit die mag van die dood. Die
doodsengel, wat alle eersgeborenes van Egipte gedood het, het die
huise van die Israeliete mos verbygegaan. Die Paasfees was die
groot fees van bevryding uit die slawehuis van Egipte.

Die Paasfees was egter ook ’n oesfees. Die eerste van die
oesfeeste. Die Here verlos sy volk nie uit Egipte uit om hulle
dan aan hul lot oor te laat nie. Hy bring hulle in die beloofde
land, wat vloei van melk en heuning. Daar sal hulle nie soos
slawe swoeg nie, maar as kinders van God werk en hul brood met
vreugde eet. Om die volk dit in te skerp beveel die Here dat
hulle in Kanaän die dag na die Pasga die eerstelingsgerf aan die
Hom moet aanbied. Hierdie fees het in die lente plaasgevind.
Gewoonlik was dan die eerste graansoort gereed, naamlik die gars.
Die eerstelinge van die oes is aan die Here gewy. Dit was dus
’n fees van dankbaarheid vir God se goeie sorg in hul
lewensonderhoud.

Tog was met die garsoes die insameling van die vrugte van die
land nog nie klaar nie. Die koringoes moes nog plaasvind. Daardie
graansoort was eers 6/7 weke later ryp. Wel, God stel vir sy volk
ook ’n tweede fees in, wat presies 50 dae na die Paasfees
gevier moet word. Dit word ook genoem die fees van die weke,
naamlik 7 weke later. Ons lees daarvan in Lev 23:15-17. Dit is
dus die tweede oesfees. Alle graansoorte is dan gereed, gedors en
geoes. Op die 50ste dag moet hulle dan twee brode, gebak met die
meel van die nuwe oes, as Pinksteroffer aan die Here aanbied. Met
Pinkster staan hulle aan die einde van die graanoes wat met Pase
begin het.

Hier sien ons die verlossing in fases. Eers Paasfees wat
’n ryke oes belowe. 50 dae later die Pinksterfees: die oes
is kompleet. Die land het sy opbrengs gegee. Die Paasfees wys op
’n nuwe begin. God verlos uit die ellende van Egipte en God
gee ’n begin van ’n nuwe oes. Die Pinksterfees wys op
die vervolg, die voltooiing. God gee oorvloedige seën in die
land van vryheid. Die skatte van die land staan tot hulle
beskikking. ’n Eindproduk, twee brode, word aan die Here
aangebied. Die verhouding tussen Pase en Pinkster is dus ’n
verhouding van begin en einde, minder en meer. Dit blyk ook uit
die ander offers wat met die feeste gebring is. Die Pinksterfees
was ’n blye fees oor God se oorvloedige seën, as gevolg van
sy verlossing, die kroon op Pase.

Broeders en susters, dikwels weet ons nie goed raad met
Pinkster nie. Ons beskou Pinkster dan as ’n fees wat op
homself staan. Daarom is dit goed om noukeurig te let op die
eerste woorde van Hand 2. Daar word Pase en Pinkster aan mekaar
verbind. Die tyd tussen Pase en Pinkster is vervul, volgemaak.
Baie Jode het in Jerusalem saamgekom om groot fees te vier in
dank vir God se gawes.

Hierdie keer word die Pinkster fees egter ’n ander fees
as wat die Jode verwag het. Hoe kan dit ook anders! 50 dae
daarvoor was die Paasfees ook heel anders as daarvoor. Christus
het Homself as Paaslam laat kruisig om die volkome verlossing te
verwerf. Die Paasfees het nie net terugverwys na die bevryding
uit Egipte nie. Dit het ook heengewys na die verlossing deur
Jesus Christus. Dit was ’n teken en onderpand van die
verlossing uit die slawehuis van die sonde en van die gemeenskap
met God in die beloofde Christus. Wel, Christus het op die laaste
Paasfees hierdie skaduwees van die wet kom vervul. Hy het die OT
iese Pase in Homself vervul. Ons mag nou die Paasfees vier as
fees van die verlossing wat Christus deur sy dood en opstanding
verwerf het. ’n Fees van die verlossing van sonde en dood.

Wel, gemeente, as die laaste Paasfees so ’n besondere
fees was, dan sal hierdie Pinksterfees ook baie anders wees. Dit
kan nie anders nie. Die Pinksterfees is mos gegee as ’n
afsluiting en bekroning van die Paasfees. Net soos die Paasfees,
wys ook die OT iese Pinksterfees seremonieel bo homself uit na
die verlossing in die Here Jesus Christus. Dit getuig van
Christus. So gebeur daar dan ook wonderlike dinge op daardie
spesifieke Pinksterdag. Die skatte wat Christus op die Paasfees
verwerf het, word sigbaar. Christus het nie net gekom om uit die
slawerny van die sonde te red nie, maar ook om ons te laat geniet
van die weldade van die verlossing, Met Pinkster word die nuwe
lewe, krag en seën sigbaar. Christus se skatte en gawes word
uitgedeel, uitgestort. So vind Pase sy bekroning in hierdie
Pinksterfees. Die vrugte van Christus se werk word sigbaar.

Gemeente, Pinkster word meestal die fees van die uitstorting
van die Heilige Gees genoem. Laat ons egter hierdie heilsfeit
nooit los van die ander heilsfeite maak nie. Ook hierdie fees
verkondig vir ons die heerlikheid van Christus. Waar die OT iese
feesdae reeds van Christus getuig het, daar getuig ook hierdie NT
iese Pinksterfees van die Christus. Hy het dit uitgestort wat
julle nou sien en hoor, lees ons in vers 33. Pinkster is volop
’n Christus fees. Hy is dit wat die mense gawes gee, wat die
vrugte van sy verlossing uitdeel. Hierdie gawes word nie
binnegehaal in die aardse tempel nie. Hulle word uitgedeel vanuit
die tempel, die hemelse heiligdom, die troon van God en van die
Lam. Daar ontspring die lewe. Die begin van die oorwinning met
Pase vind nou sy bekroning. Ons mag geniet van die volheid van
Christus. Ons is nie net bevry van die bande van die dood nie,
ons ontvang ook lewe en oorvloed deur die Gees van Christus. Sou
ons dan nie met groot vreugde hierdie fees vier nie? Hoe ryk en
vol het Christus ons nie gemaak nie. Ons mag deel in skatte en
gawes.

Gemeente, daar is ook ’n ander manier waarop hierdie
Pinksterfees ’n vervulling van die Paasfees is. Pase was
werklik ’n beginpunt, ’n dag van die eerstelinge.
Tydens die laaste Paasfees het Christus as eersteling opgestaan
uit die dood (1 Kor 15:20). Christus is so te sê as eersteling
die skuur van die Vader ingedra. Hierdie begin vind op die
Pinksterdag sy vervolg wanneer baie mense tot geloof kom. Die
eersteling bly nie alleen nie. Hy sorg vir die vervolg. Die oes
van die akker van die wêreld kan ingesamel word. Pinkster word
’n geweldige oesfees. 3000 mense aanvaar Christus as hul
Verlossser. Hier sien ons ook die verlossing in fases. Eers die
eersteling. Daarna hulle wat by Hom behoort.

Dikwels het ons moeite met die pinksterfees. Dit lyk so ver
van ons af te staan. Wat het dit met my te doen? En dan kan jy
gaan verlang na die ervaring van die eerste gelowiges op daardie
eerste NT iese Pinksterdag. Maar, broers en susters, open jou
Bybel en besef watter soort fees dit is. Dit is ’n oesfees.
Christus het die vrugte van sy verlossing gegee. Hy het sy skatte
en gawes uitgedeel. Ek mag die skatte wat Hy op goeie Vrydag vir
my verdien het, ontvang, daarvan geniet, God daarvoor dank. Hy
het die oes van die wêreld akker gegee. Mense uit Noord en Suid,
Oos en Wes het in Christus Jesus gaan glo. So mag ek vandag ook
in Hom glo. Die Gees het my na Christus gelei. Die Gees het in my
kom woning maak. Is dit nie iets om te vier nie. Ek self is
’n vrug van Christus se verlossing en ek mag elke dag geniet
van die vrugte van die verlossing.

Pinkster is inderdaad ’n ryke vervolg op Pase. Daar is
nooit so ’n ryke vervolg as wanneer mense hulleself aan
Christus gee nie. Dis asof Pinkster hier en nou besig is om
vervul te word. Die fees word steeds voller. Eeue lank was die
geheim in die wet geskrywe. Maar niemand het ooit gedink aan so
’n oes. God self wel. Deur sy Gees bring Christus die oes
binne. Steeds meer mense van alle volke en tale, tree voor God
aan om Hom te dien.

Gemeente wanneer die Bybel op Pinkster oopgaan, dan hoor ons
ook ’n profetiese woord, wat van Christus getuig. Dis die
tweede punt.

Pinkster word nie net in die wet genoem nie, maar ook in die
profete. "Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is",
sê Petrus. En dan word die Bybel weer oopgemaak. Op ’n
verrassende manier. In die verlede was daar die profete wat die
Woord van God ontvang en gespreek het. Joël was een van hulle.
Jy kan in die Bybel lees wat hy in God se naam gesê het.

In daardie tyd was dit dikwels net ’n enkeling. Nou en
dan het ’n man van God verskyn. Die Gees het so ’n man
in beslag geneem en dan het hy die woorde van God gespreek. Maar
daarna kon dit gebeur dat daar vir ’n hele periode geen
profeet meer was nie. Jy kan sê: die Bybel het oopgegaan. Maar
dit was bietjie vir bietjie. Nou en dan ’n motreëntjie van
genade wat nuwe lewe gebring het. Dis hoe die Gees in daardie tyd
gewerk het.

Wel, dit verander radikaal. Pinkster beteken dat die Bybel nou
werklik oopgaan. Nie net ’n bietjie nie, maar heeltemal. Nie
langer nou en dan ’n motreëntjie nie, maar ’n stortreën
van genade. Dis wat die uitstorting eintlik beteken. Die Gees
word op Pinkster uitgestort. Dit beteken dat dit werklik ’n
stortbui is. Mense word deurweek met die Gees. Nie langer nou en
dan ’n man van God nie. Nou word jonk en oud ingeskakel, man
en vrou, seun en dogter, slaaf en vrye, elkeen. Elkeen ontvang en
spreek die woord van God. Dit sien jy op Pinkster. ’n Aantal
manne van die veragte Galilea is bymekaar. Skielik spreek hulle
die woorde van God. Elkeen hoor hulle oor die groot dade van God
praat. Dan staan daar ’n eenvoudige visser op en maak die
Bybel oop. En dan sien jy voor jou wat Joël van gepraat het.
Manne en vroue wat die woorde van God praat. Nie langer nou en
dan ’n profeet nie. Van nou af aan talryke profete. Elkeen
wat aan Christus behoort is ’n profeet wat sy Naam bely.

Pinkster: die Bybel gaan oop. Verder as voorheen. Joël mog
reeds iets van God se woorde deurgee. Maar hy was ’n eensame
profeet. Met Pinkster word daardie woorde van die Bybel
werklikheid in die mond van elke Christen. Wat ’n momentum
kry so die woord.

Verlang jy terug na die eerste dag van Pinkster? Open jou oë.
Kyk. Jy het jou Bybel saam met jou in die kerk. Die woorde van
God, die voltooide openbaring van God. En jy mag en kan die
woorde deurgee. Wanneer jy die kerkdiens verlaat. More en die dae
daarna. Waar jy ook al jou plek in hierdie wêreld het. Dit lyk
natuurlik pragtig om die ervaring van die eerste Pinkster te hê.
Om die Galilese manne besig te sien. Maar kyk rondom jou. Ons het
hier ’n kerk vol profete. Elkeen van julle het die voltooide
woord van God.

Beskou jy dit ’n baie gewone plek? Wat is gewoon? Hoe sou
Joël dit ervaar indien hy hier sou kon wees vanoggend? Hy sou
van verbasing sy oë uitkyk. Elke lidmaat van die gemeente het
’n voltooide Bybel. Ons is deur die Gees gesalf. Ons ken die
beloofde Messias. Wat is ons tog baie ryk. Profete van die nuwe
verbond.

Vandag gebeur dinge op ’n gewone manier. Nie so
opsienbarend as op die eerste Pinksterdag nie. Maar dink wat
gebeur wanneer die Bybel oopgaan. Dan word Christus voor jou
geplaas. Christus ons hoogste profeet en leraar. Hy het ons die
verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle
bekend gemaak. Joël het daarna verlang om te weet wat jy vandag
mag weet. En die hoogste profeet en leraar wil julle almal
inskakel. Kom, profete, versprei die woord in die wêreld.

Broeders en susters, behalwe die wet en die profete, word ook
die geskrifte, oftewel die Psalms, met Pinkster oopgemaak. Petrus
haal twee Psalms in sy preek aan. Ons let op die tweede aanhaling.
Ons sien dat ook die Psalms van Christus getuig. Dis die derde
punt.

Die konings van Israel was maar gebrekkige mense. Hulle kon
die volk nie verlos nie. Dawid was ’n man na God se hart.
Maar wat ’n sondes en tekortkomings. Sy nakomelinge was nie
beter nie. Hulle gaan van kwaad na erger. ’n Mens kan geen
heil van Dawid se huis verwag nie. Hoe wonderlik is dit dat Dawid
dit reeds gesien het. Daaroor gaan dit in die Psalm wat Petrus in
Hand 2 aanhaal, naamlik Ps 110. Daar sing Dawid oor ’n ander
koning wat na hom gaan kom. ’n Groter koning. Die koning is
my Here, sê Dawid. Dawid se meerdere.

Dit is nodig. Dawid val self in sonde. Sy huis sal ook nie
werklik kan verlos nie. Maar hierdie koning – Dawid se seun
en Here – hy sal die vir mekaar maak. Dit is wat ons nou
ervaar, vertel Petrus aan sy hoorders op Pinkster. Hy is nou
koning op sy hemelse troon, aan die regterhand van die Vader. En
kyk hoe Hy regeer. Hy regeer deur sy Gees te gee. Dis hoe Hy jou
onderwerp aan sy seënryke koningskap.

So sien julle, broers en susters, die koninkryk van God baan
breek. Ons word aan Hom onderwerp. Om self ook opnuut konings te
wees, onderkonings van God. Die koning op Vader se troon bring
ons terug by God. As konings.

Op die pinksterfees gaan die Bybel oop. En ’n koninklike
woord word gehoor. ’n Woord wat ons op Christus wys. Sien
julle dit, geliefdes. Juis dit wat so normaal op Pinkster lyk, is
die wonder van Pinkster. Lees aandagtig Hand 2. Inderdaad,
aanvanklik gebeur daar iets opsienbarend. God roep so te sê:
aandag! Maar wat gebeur daar wanneer Hy die aandag het? Dan word
die Bybel oopgemaak. Net soos dit vandag ook hier in die kerk
gebeur. Dalk is dit die mooiste ding wat op Pinkster gebeur. Want
as die Bybel oopgaan dan plaas die Heilige Gees Jesus Christus
voor jou. Jesus Christus die Hoëpriester, wat ons deur sy
kruisoffer met God versoen het.

Jesus Christus die profeet, wat die Woord van God is en vir
ons die woord van God gee.

Jesus Christus die Koning wat ons deur sy woord en Gees regeer.

As Jesus Christus so na jou toekom, dan kan Pinkster nie ver
weg buite jou lewe bly staan nie. Dan kom Hy self jou lewe binne
deur sy Gees. Hy laat jou deel in al sy skatte en gawes, die
vrugte van sy verlossingswerk. Sodat jy self ’n priester kan
wees om jou lewe as dankoffer aan Hom te offer. En profeet om sy
woord uit te dra. En koning. Om teen die sonde en die duiwel te
stry en om met Christus te regeer.

Ag jy dit gewoon? Dan sal Pinkster niks vir jou beteken nie.
Maar onthou watter soort fees dit is. Die Bybel gaan oop.
Heeltemal. God is daar weer in jou lewe. In Christus. In sy
volheid. Jy ontvang lewe en oorvloed. Genade op genade.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)