Ek geloof in God die Skepper, wat om Christus ontwil my Vader is.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-05-02
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 9
Preek Inhoud: 

Sondag 9

Ds C Kleyn - Sondag 2 Mei 2004

Lees: Jesaja 40:12-31; Sondag 9.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 125:1-3;
Ps 138:3,4; Ps 68:9,16.

Tema: Ek geloof in God die Skepper, wat om Christus
ontwil my Vader is.

  1. Die Skepper is my Vader; en
  2. My Vader is die almagtige Skepper.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand bely ons God die Vader, die Almagtige, die Skepper van
hemel en aarde. Die vraag kan opkom en kom ook reëlmatig op: Kan
’n mens hierdie belydenis wel volhou in die lig van die
verskriklik lyding in die wêreld? Wat ’n ellende is daar in
hierdie wêreld. Elke dag gebeur daar afskuwelike dinge. In
verbystering vra ons onsself af: hoe is dit moontlik dat mense so
wreed en koelbloedig teenoor mekaar kan wees.

Ons is ook nie die eerstes wat met die nood gekonfronteer word
nie. Deur die eeue heen was daar baie gruweldade, wreedhede en
moorde. Adam en Eva het dit in hul eie gesin reeds ervaar toe
Kain sy broer Abel doodgemaak het. Wie kan die menslike verdriet
en pyn as gevolg van oorloë en rampe peil?

Die 20e eeu was getuie van die barbaarse moord op ses miljoen
Jode en dit in die sogenaamde beskaafde Weste. En dit gaan maar
aan. Hoeveel ongebore kinders is sinds die tyd nie vermoor nie.
Baie meer as die 6 miljoen Jode. Hoeveel mense sterf nie daagliks
as gevolg van geweld, honger of rampe nie? Net dit wat ons in ons
eie land ervaar aan verdriet en ellende is genoeg om ’n mens
te laat sug.

Wel, kan ons in die lig van al die lyding wel volhou dat God
’n almagtige en troue Vader is? As God almagtig is, hoe kan
Hy dit alles toelaat? ’n Troue Vader laat sy kinders tog nie
so ly nie?

Die vrae is begryplik. Hulle kom ook dikwels voor, ook onder
Christene. Hoe los ek dat nou op? Dit kan alleen as ek verander
in die rigting waarna ons kyk. Waarin fouteer ek dan? Ek bekyk
God dikwels vanuit die konkrete situasie. Ons begin dan met wat
ons sien of ervaar en maak van daaruit ons gevolgtrekkings met
betrekking tot God. En dan maak ’n mens ’n fout. Dan
gaan jy God ongerymde dinge toeskryf.

Daarom, moenie begin by wat voor oë is nie. Begin altyd by
God se self-bekendmaking in Jesus Christus. En bekyk vanuit die
openbaring die dinge wat jy sien en ervaar. Dan sal jy alles met
ander oë bekyk. Dan bly jy nie daarby vassteek nie. Dan is die
probleem van die lyding nie meer so onoorkomelik nie, ook al het
jy nie op alle vrae antwoorde nie. Jy het geleer om alles te sien
in die lig van God se openbaring. Dit is ook die weg wat die
Kategismus ons na die Skrifte aanwys.

Laat ons dit nader bekyk as ek julle verkondig:

Ek geloof in God die Skepper, wat om Christus ontwil my Vader
is.

  1. Die Skepper is my Vader
  2. My Vader is die almagtige Skepper

Die antwoord van die Kategismus is baie opvallend. Let maar op
die hoof en bysin van antwoord 31. Die hoofsin lui: "Ek glo
dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus ter wille van sy
Seun Christus my God en Vader is." Daaroor gaan dit: "die
Vader van Jesus Christus is my God en Vader."

Jy sou dit nie so verwag het nie. Mens sou eerder gedink het
dat die aandag op die Skepper-wees van God sou val. Maar nee,
eers val die volle lig op God se Vaderskap. Die ewige Vader van
Jesus Christus is my God en Vader.

Dat dit aan die begin staan is nie toevallig nie. Nee, dit is
die eerste wat ons moet weet. Dit is die blywende orde vir ons
kennis van God. Ek moet Hom eers as Vader ken, voordat ek Hom
werklik as die almagtige Skepper kan ken en aanbid.

Hoe gaan dit immers as ’n mens Hom nie as Vader ken nie?
Dan gaan ’n mens glo in ’n bepaalde mag. Die mag noem
jy miskien wel god maar dit is nie die God van die Bybel nie,
maar ’n selfgemaakte god. Jy ken Hom nie as Vader in Jesus
Christus nie. En dan kry jy allerlei verkeerde voorstellinge van
Hom. Ons sien dit duidelik in ons samelewing waarin die
meerderheid sê dat hulle in God glo, terwyl hulle God nie na
waarheid as die enige ware God ken nie. Ons sien dit in die
moderne teologie. Die God, soos ons Hom na die Skrifte bely, word
dan geteken as ’n wrede tiran, as ’n onbewoë
Albestuurder wat plesier daaruit put om mense te laat ly. Die
mense weet nie waaroor hulle praat nie, want hulle ken die
Skepper nie as hul Vader nie. En alleen as jy die Skepper as jou
Vader ken, is jy in staat om iets verstandig te sê oor God se
skepping en onderhouding van hierdie wêreld.

Die eerste wat ek dus moet weet is dat die ewige Vader van ons
Here Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus my God en
Vader is. Dit bepaal die manier waarop ek teen God se skepping en
regering aankyk.

Wat wil dit dan sê? In die eerste plek dit: God die Vader is
die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Hy was altyd Vader.
Voor die skepping van ons mense. Hy was nooit alleen nie. Die
intieme bande tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees was
nog altyd daar. God het in Homself reeds ’n volheid aan
verhoudings en kontakte. Die drie Persone van die goddelike Drie-eenheid
het mekaar. Hulle mis niks nie. Hulle het dan ook niemand nodig
nie. Tog het die selfgenoegsame God ons mense geskep, en wil Hy
met ons mense omgaan. Tog wil Hy vir ons mensekinders ’n God
en Vader wees. Hoewel God niemand nodig het nie, wil Hy my van sy
volle aandag en liefde laat geniet. Wat ’n voorreg!

Gemeente, dat die Vader van Jesus Christus terwille van sy
Seun my God en Vader is, laat ook duidelik God se liefde vir sy
skepping blyk. Die liefde het in Jesus Christus openbaar geword.
Dink maar aan Johannes 3:16: "Want so lief het God die wêreld
gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het." Na die sondeval
is God se bemoeienis met die wêreld nie net ’n saak van
toorn nie. Nee, Hy wys ook sy liefde. Hy soek die redding van sy
skepping en van die mensheid. Daarom het Hy sy Seun gegee. Dit
bepaal nou sy omgang met sy skepping. In Jesus Christus gee Hy
redding. In Jesus Christus alleen. Daar is geen ander
verlossingsweg nie. Dit is sinloos om so ’n pad te soek.
Elke ander pad loop dood. Buiten Christus is daar geen ware
redding en lewe nie.

God is liefde en die liefde is in sy Seun. Juis daarom misluk
daar soveel in hierdie wêreld. Waarom is daar al die verdriet en
ellende wat uit die mislukkings voortkom? Hulle is daar om my
daarop te wys dat elke pad buite Christus om ’n doodlooppad
is. Hulle is daar om my te leer om alle alternatiewe
verlossingsweë af te sweer. Dit gebeur so maklik dat ek op mense
gaan vertrou, op myself, op my gesondheid, op my verstand, op my
krag, op my geld en goed en so aan. God wil alles gebruik om my
na Christus te trek en om my by Christus te hou. Sodat ek op
Christus alleen sou vertrou. Christus die enigste weg, die
waarheid en die lewe.

Gemeente, dat die Vader van Christus my God en Vader is, wys
nie slegs op God se liefde vir sy skepping nie, maar ook op sy
toorn oor die sonde. Hy is nie sommer so my God en Vader nie. Hy
is dit ter wille van sy Seun Christus. Dit beteken baie. Wat moes
daarvoor nie gebeur nie. Getsemane en Golgota was daarvoor nodig.
God laat blyk dat Hy die sonde en die toorn daaroor ernstig opvat.
Selfs so dat Hy sy eie Seun nie spaar nie. Hy het, in sy
onbegryplike liefde, sy enigste Seun vir ons aan die
onuitspreeklike benoudheid en angs van die hel oorgegee.

Broeders en susters, as daar iets is wat ons denkvermoë te
bowe gaan, dan is dit wel dit: om Seun van God te wees en dan
deur God verlaat te word. Om altyd in die volmaakte liefde van
God te lewe en dan ondergedompel te word in sy toorn. Om nie
sonde te ken nie en om dan tog tot een stuk sonde gemaak te word.
Dit gaan ons verstand te bowe.

Ons kan baie dink, sê en kla oor die Engelse konsentrasie
kampe tydens die Boereoorlog, oor die Duitse gaskamers, oor die
massa moorde in Rwanda, oor die etniese moorde in Yugoslawië, in
die Kongo, Ethiopia en so aan. Maar as ek daarmee begin dan begin
ek te laat. Ek moet by Getsemane en Golgota begin. En van daaruit
na die moorde en rampe kyk. God het daar op Golgota sy afkeer van
die sonde so ernstig opgeneem dat Hy daarvoor sy eie Seun die
afgryslike dood van godverlatenheid laat sterwe het. Want God kan
Homself nie verloën nie. Hy kan sy liefde en sy toorn nie verloën
nie. Juis in die bloedige offer van Golgota het God sy
regverdigheid getoon, ook as Hy voortaan die ongehoorde werk gaan
doen, naamlik om sondaars wat in sy Seun glo vry te spreek.

Gemeente, wanneer ’n mens oor die ellende in die wêreld
vrae stel, dan laat God sy antwoord vanuit Golgota uitroep: Daar
het Ek my onbegryplike liefde vir my skepping getoon, maar
tegelykertyd ook my toorn oor die sonde. Moenie vergeet dat Ek
die Skepper die Vader van Jesus Christus is nie. My hand wat nou
die geskiedenis lei is dieselfde hand wat die lyding en sterwe
van my Seun bepaal het.

Daarom sê die apostel "Daar is dan nou geen veroordeling
vir die wat in Christus Jesus is nie." (Rom 8:1) en "As
iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ’n
vervloeking wees." (1 Kor 16:22). Gestel dat ek, na wat op
Golgota gebeur het, sonder Christus wil lewe. Gestel dat ek na
Golgota buite Christus om hierdie wêreld wil inrig en verbeter.
Hoe sal ek ooit teenoor God kan staande hou? As God sy eie Seun
nie gespaar het, waarom sou Hy dan wel die vyande van die kruis
van Christus spaar?

Gemeente, as julle die geskiedenis vanuit Golgota bekyk dan
val baie vrae weg: wat ’n wonder van liefde, maar ook wat
’n afkeer van die sonde. God het sy eie Seun die hel laat
ervaar om my te bevry, omdat Hy my God en Vader wil wees. Wat
’n wonder van genade! Terwyl ek self die hel verdien het,
mag ek weer kind van God wees. Vanweë Christus.

Wanneer ek dit begin sien, dan kyk ek met ander oë na die wêreld.
Dan kyk ek anders na die lyding van die wêreld. Dan laat ek wel
na om God aan te kla, om Hom van onreg te beskuldig. Dan
verwonder ek my inteendeel oor God se bewyse van liefde en reg.
Vol verwondering aanbid ek Hom as my God en Vader. Wat ’n
Vader, wat nog steeds alle moeite doen om my te red, om my by sy
Seun te bring en te hou.

In Rooms-katolieke hospitale hang daar meestal in elke saal
’n kruisbeeld – ’n beeld van Christus aan die
kruis. Daar was een ’n pasiënt wat my daarop gewys het en
aangedui het dat sy dit verskriklik vind. As Christene hou ons
mos nie van kruisbeelde nie – ons kies inteendeel vir ’n
leë kruis as teken dat Christus opgestaan het. Ek het haar toe
gevra om verby die twispunt te kyk en tog op Christus se kruis te
fokus. Daarby kon die kruisbeeld haar help. Sien daar Christus
aan die kruis – ’n toonbeeld van God se toorn teen die
sonde en van sy liefde vir ons sondaars. Dit bring my lyding in
perspektief. Christus het dit gedra wat ek verdien het. Die
siekte wat ek nou beleef is niks in vergelyking daarmee nie. En
in my siekte het ek nie met ’n toornende God te doen nie,
maar met ’n liefdevolle Vader. Sien daar die kruisbeeld.
Danksy Christus se lyding en sterwe.

Nou die tweede gedagte: my Vader is die almagtige Skepper.

Soms hoor ’n mens kinders opskep oor hul vader: my vader,
hy kan dit en dat, ja, hy kan alles. Dit is natuurlik ’n
sterk oordrywing. Ons aardse vaders kan beslis nie alles nie. Ons
hemelse Vader kan dit egter wel. Sonder oordrywing kan ek van Hom
sê dat Hy alles kan doen. Ek kan nooit te groots oor Hom dink of
praat nie. "Wat die hemel en die aarde met alles wat daarin
is uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid
nog onderhou en regeer." Staan jy nog wel stil by daardie
geweldige belydenis? Probeer dit in te dink: Die hemel en aarde
uit niks geskep. Hy het net gespreek en dinge het ontstaan.
Probeer jou dit voorstel: Hy onderhou en regeer nog hemel en
aarde en alle skepsels. Dit is werklik onvoorstelbaar.

Sou so ’n almagtige God magteloos staan teenoor my lewe
en moeites? My nood is miskien groot. My Helper is groter. My
vyande – die duiwel, die wêreld en my eie vlees kan magtig
wees. Maar hulle kan nooit my God en Vader ewenaar nie. Hulle is
slegs skepsels. Hy is die Almagtige, Skepper en Regeerder van
hemel en aarde. Stel jou voor: so ’n Vader het jy!

Ek bely met die Kategismus dat ek "so op Hom vertrou dat
ek nie twyfel dat Hy my met alles wat ek vir liggaam en siel
nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat hy in
hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy
dit as ’n almagtige God kan en ook as ’n getroue Vader
wil doen."

Hoekom lyk dit dan dikwels asof Hy my nie met alle dinge vir
liggaam en siel versorg nie? Hoekom lyk dit dan asof Hy die kwaad
wat Hy oor my beskik nie tot my beswil verander nie?

Daar is ernstige siekte. Ek bid tot die Here. Moet ek dan nie
die genesing ontvang nie? Daar is spanning in die huwelik, in die
gesin of by die werk. Ek bid vurig tot die Here, moet my situasie
dan nie verander nie? Dit is tog wat ek vir liggaam en siel nodig
het? Daar is werkloosheid. Ek bid tot God. Ek bid en ek bid. Ek
soek ywerig na werk. Moet ek dan nie werk vind nie? Dit is tog
vir my beswil? Ek verkeer in ’n krisis. Ek roep tot God.
Moet dit dan nie so wees dat ek onmiddellik uit die krisis
uitklim nie? So het ek dit geleer uit die kinderboeke. ’n
Seuntjie verdwaal in die bos. Hy weet nie meer in watter rigting
hy moet gaan. Hy bid tot die Here. En ..daar kom opeens hulp. Sy
gebed is verhoor. So gaan dit dan, dink ons. So werk dit. Asof
ons maar hoef te skakel en dan sorg die Here dat dit in orde kom.

Maar, broeders en susters, seuns en dogters so gaan dit
verreweg die meeste kere nie. Want om te bid is nie soos die druk
op die knop wat die outomaat onmiddellik aan die werk sit nie. Om
te bid is dit, dat jy dit van die Here verwag. Nie vir ’n
oomblikkie nie. Nie vir ’n uur nie. Ook nie vir ’n dag
of ’n week nie. Nee, dit beteken dat jy voortdurend na God
uitsien en Hom bly verwag.

Ons moet almal ons hemelse Vader leer ken. Ons moet aan Hom
gewoond raak. Veral as ons nog jonk is. Hoe is Hy? Hoe werk Hy?
Hoe help Hy? Hoe verhoor Hy? Die Here weet dit baie goed as ek
tot Hom roep in gebed. Dit is werklik nie so dat Hy sou dink:
laat hom of haar maar eers goed sukkel nie. Laat hom of haar dit
maar self uitsoek. Miskien sal Ek later daaraan aandag gee.

So is die Here nie. Want Hy is barmhartig. Soos ’n vader
hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat
Hom vrees (Ps 103:13). ’n Vader laat sy kind tog nie
nodeloos wag nie? En hoe dink jy oor ’n moeder. "Kan
’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor
die seun van haar skoot nie?" vra die Here in Jes 49:15. Dit
bestaan tog nie dat ’n moeder haar babatjie sou vergeet nie?
Dat sy hom sou laat skreeu van honger? En nou moet jy hoor wat
God verder daaroor sê: "Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans
sal Ek jou nie vergeet nie!" Ek sal jou nooit vergeet of
verlaat nie.

Maar waarom dan geen onmiddellike antwoord nie? Wel, broeders
en susters, die Here is besig om my te beproef. Om te sien hoe
ernstig ek daarmee is. Om te sien of ek werklik op Hom vertrou.
Of ek Hom ernstig opneem, na Hom luister. Alles van Hom verwag.
Tot Hom bly bid. Nie slegs vandag nie, maar voortdurend. Ook
wanneer die vervulling van bepaalde beloftes dalk moet wag tot
Christus se wederkoms.

Gemeente, met die Kategismus bely ek dat ek op God "so
vertrou dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my met alles wat vir
liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die
kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil
verander omdat Hy dit as ’n almagtige God kan en ook as
’n getroue Vader wil doen." Is dit werklik wat jy glo?
Ook by teleurstellings en verdriet?

God is almagtig en getrou. Lees maar die Bybel. Kyk maar na
die bewaring van sy kinders deur die eeue heen, deur vervolging
en martelaarskap heen. Wanneer ek dit glo, dan mag ek gelukkig
wees, ondanks my uiterlike omstandighede. Daar is geen rede vir
pessimisme nie. Ek is miskien bedroef maar tog altyd weer bly,
bly in die Here. Deur Hom ken ek immers die Skepper as my Vader.
Ek weet weer dat ek in die wêreld van Vader lewe. Ek is in
veilige hande. Want dit is die hande van die Vader. En my Vader
is die almagtige Skepper.

Daarom kan ons sing:

As in my angs en teëspoed
Die krag en moed my wil begewe,
As vyande van veglus brand,
Dan keer u hand en red my lewe.
Die Heer is goed en wondersterk:
Hy sal sy werk deur niks laat keer nie.
Laat my, o Heer wat my bewaar,
Tog nou nie vaar, en nimmermeer nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)