God het ’n blymoediger gewer lief.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2004-05-16
Text: 
II Korinthiërs 8
Preek Inhoud: 

2 Korinthiërs 8:9 en 9:7

Ds C Kleyn - Sondag 16 Mei 2004

Lees: Markus 12:41-44; 2 Korinthiërs 8:1-9;
9.
Sing: Ps 92:1,2; Ps 53:1-3; Ps 95:4,5; Ps 112:5-10;
Ps 65:6,7.

Tema: God het ’n blymoediger gewer lief.

  1. Wat is dit om blymoedig te gee;
  2. Hoe kom ’n mens daartoe om blymoedig te gee; en
  3. Watter gevolge het dit om blymoedig te gee.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat beteken vir julle die kollektes in die erediens? Hoe bewus
gaan ons om met hierdie onderdeel van die erediens? As ons kyk na
die plek van die kollektes in die erediens, dan kan die lyk asof
dit kollekte nie so belangrik is nie. Die groot onderdele van die
erediens (die preek en gebed) het ons gewoonlik reeds gehad. Dit
lyk asof die kollektes amper nie meetel nie. Dit lyk soms op
’n ritueel wat ons uit gewoonte doen, sonder dat dit baie
vir ons beteken. Ons het ons aandag aan die preek en aan die
gebed gegee. Nou kan ons ons ewe ontspan voor die afsluiting van
die erediens. So kan daardie onderdeel van die liturgie as ’n
soort pouse beleef word. ’n Geleentheid om weer wat rond te
skuif en te gesels met die persoon of persone wat langs jou sit.
Is dit nie hoe dit soms ingevul word nie? Watter aandag gee ons
nog aan hierdie onderdeel van die liturgie? Ja, behoort dit
werklik wel by die liturgie?

Gemeente, dis interessant om te sien dat die woord liturgie
selfs letterlik in ons tekshoofstuk, in 2 Kor 9:12, genoem word.
Letterlik begin die vers met die woorde: "want die diakonie
van hierdie liturgie voorsien nie alleen in die behoeftes van die
heiliges nie" ens. Die diakonie van hierdie liturgie. Twee
bekende Griekse woorde. Die kollekte vir die gemeente te
Jerusalem word hier liturgie genoem. Dis diens aan die Here, net
soos die ander onderdele van die erediens. By die kollekte in die
erediens gaan dit in die eerste plek om diens aan die Here. Ons
kan hier ook dink aan wat ons lees in 2 Kor 8:5. Daar staan dat
die gemeentes van Macedonië in die diensbetoning aan die
heiliges hulleself eers aan die Here gegee het en toe aan ons. Om
stoflike hulp aan behoefte gelowiges te gee, word as ’n
heilige, priesterlike diens aan God voorgestel. Dit gaan in
hierdie onderdeel van die erediens in die eerste plek om ’n
diens wat aan God gebring en alleen via Hom aan die armes verleen
word. Eers is daar die gedagte van jouself aan die Here gee as
’n offer van liefde en dankbaarheid. Pas daarna is die
offergawe nuttig en bestem vir die behoeftige.

Hier sien ons die verbinding tussen liturgie as sorg vir die
armes en liturgie soos dit in die eredienste plaasvind. Ook die
opneem van die offergawes tydens die erediens is volop liturgie,
diens aan die Here, wat ons volle aandag verdien.

Ek verkondig vir julle: God het ’n blymoediger gewer lief

  1. Wat is dit om blymoedig te gee
  2. Hoe kom ’n mens daartoe om blymoedig te gee
  3. Watter gevolge het dit om blymoedig te gee.

Hoe ervaar ons dit om te moet gee vir die verskillende
kerklike doeleindes? Afhanklik van ons situasie kan dit op
verskillende maniere beleef word. Sommiges kan dit ervaar as
’n las wat jy moet probeer ontwyk. Ons teks sê: "laat
elkeen gee nie met droefheid of uit dwang nie." Dit kan dus
gebeur dat iemand met droefheid of uit dwang gee. Dit is die
geval wanneer jy met teensin gee omdat mense dit vir jou opgelê
het. Mense het so dringend ’n beroep op jou gedoen dat jy
voel dat jy nie anders kan nie. Jy voel jy kan daar nie onderuit
nie. Jy moet nou eenmaal iets gee, maar jy is nie lus daarvoor
nie. Jy durf dit egter nie nalaat nie. Wat sal mense daarvan sê?
Of wat sal die kerkraad daarvan sê as jy nie jou kerklike bydrae
betaal nie of as jy niks in die kollektesakkie plaas nie? Jy is
lidmaat van die gemeente, dus moet jy maar betaal, as jy nie in
moeilikheid wil kom nie. Om jou eer en posisie te handhaaf moet
jy maar met die stroom meegaan. Maar jy sou dit liewer dit nie
doen nie. Of jy gee jou offergawes omdat jy bang is dat God jou
anders sou afkeur. Jy doen dit uit gewetensdwang. Jy soek nie die
afkeuring van God of mense nie. Daarom gee jy maar getrou jou
offergawes. Met teensin of uit dwang.

Paulus waarsku, so moet jy dit beslis nie doen nie. As dit so
is, dan kan jy jou offergawes beter hou. Wees daarmee maar
gelukkig! Nee, dit moet ’n vrywillige, liefdevolle daad wees.
"Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem." Ek
moet van harte gee wat ek my voorgeneem het om te gee. God let
nie soseer op die gawe nie, maar op die hart, waarmee gegee word.
My offergawe word nie soseer na die bedrag gemeet nie, maar na
die gees waarin dit gegee word. Dit word duidelik geïllustreer
in die verhaal van die aalmoes van die arm weduwee. Die bedrag
wat hierdie arm weduwee gee is baie min, vergelykbaar met ’n
paar sente. Tog sê Jesus van haar: "Hierdie arm weduwee het
meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle
het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar
gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud."
Soms is baie, min en min, baie.

Hoe moet ek dan my gawes gee? Met ’n blymoedige en
dankbare hart. Dit moet vir my ’n plesier wees om te gee wat
ek gee. Eerder het Paulus al geskryf dat die offergawe as ’n
dankoffer gereed moet wees en nie as iets wat afgepers is nie.
God wil daarin my liefde en dank ontvang. Ja, die manier waarop
ek gee weerspieël my liefde vir God. My offergawe is ’n
bewys van my liefde vir God. Daarom skryf Paulus ook vir die
Korintiërs dat hy deur sy aanmoediging om te gee, die egtheid
van hul liefde op die proef stel.

Gemeente, Paulus sal ook wel gedink het aan Dawid se
danksegging vir die byeenbring van die gawes vir die tempelbou in
1 Kron 29:14vv. Daar sê Dawid o.a. "Want wie is ek tog, en
wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige
gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons
dit aan U gegee....En ek weet, my God, dat U die hart toets en
behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al
hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien
hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het."
Pragtige woorde: "want dit kom alles van U, en uit u hand
het ons dit aan U gegee." Is dit, broer, suster, hoe jy jou
offergawes aan die Here gee? Met die belydenis dat feitelik alles
van die Here is. Dat jy nie van jou besit aan die Here gee nie,
maar van sy eie besit teruggee? Besef jy, wanneer jy gee, dat jy
heeltemal aan die Here behoort met alles wat jy is en het?
Wanneer ek my kerklike bydraes gee, wanneer ek geld in die
kollektes gooi, dan is ek besig om as priester myself as ’n
dankoffer aan die Here op te offer. Ek gee dan net ’n deel
van wat die Here vir my gegee het regstreeks terug. Maar die res
gee ek indirek terug wanneer ek as priester Hom dien in alles wat
ek doen. Wat ’n belangrike verteenwoordigende priesterdiens
word hier in die erediens vervul. Die deel wat ek vir die Here
teruggee verteenwoordig immers alles wat ek is en het. Dit gee ek
aan die Here terug.

Dawid en Paulus benadruk ook dat die offergawes vrywillige
gawes moet wees. Ons betaal geen kerkbelasting nie. Daarom moet
ons ook goed oplet hoe ons die VVB riglyne van die Finansiële
Kommissie hanteer. Moenie dit as kerkbelasting beskou nie, en die
riglyne op ’n formalistiese manier gebruik nie. Dan verdwyn
die hart uit ons vaste vrywillige bydraes. Dan word dit ’n
afgeperste gawe. Of dit word net ’n administratiewe
aangeleentheid. Die riglyne is nie meer as riglyne nie, om ons te
help om ons vrywillige bydraes vas te stel. God soek ’n
vrywillige gawe wat ons uit eie keuse blymoedig vir Hom teruggee.

Paulus benadruk ook dat ons offergawes bewuste gawes moet
wees, bewus bepaal. Ek moet daar goed oor nadink en daaroor bid.
"Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem." Hoe
ernstig berei ek my voor op die gee van my offergawes, op die
kollektes in die kerk? Hoe maklik word die kollektes nie ’n
roetine waarvoor ek net gee wat ek gewoond is om te gee nie?. Ek
neem dan die kleingeld uit my beursie en gooi dit in die kollekte
of ek neem gewoonte getrou die munte van een, twee of vyf rand en
gooi dit in die kollekte. Gee ek dit dan as ’n bewuste
blymoedige dankoffer? Of is dit net ’n ritueel?

Op meerdere plekke wys Paulus daarop dat ons moet nadink oor
ons offergawes. Ons lees in 1 Kor 16:2 "Op elke eerste dag
van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar
namate sy voorspoed is." Hier word die offergawes ook op die
eerste dag van die week, op Sondag ingesamel. Die dag waarop die
gemeente in erediens saamkom. Soos ons dit vandag nog steeds doen.
Maar die offergawe moet bewus opsy gesit en gespaar word, sê
Paulus. Dis nie iets wat jy net op die laaste oomblik, net
voordat jy kerk toe gaan, doen nie. Sodat jy net gee wat op
daardie oomblik beskikbaar is nie. Dis iets wat jy beplan,
opspaar deur die week sodat jy ’n verteenwoordigende
dankoffer gee, namate jou voorspoed is.

Namate ons voorspoed is. "Elkeen volgens sy vermoë om te
gee." Die VVB riglyne is ook op die basis saamgestel. Wie
baie het, sal ook baie moet gee. Maar wie min het, sal ook min
kan gee. God weet baie goed hoe hoog my inkomste is en wat my
behoeftes is. Laat ek dus eerlik die hoogte van my dankoffer
bepaal, in die regte verhouding tot die mate van rykdom wat Hy my
gegee het. Is dit, broeders en susters, hoe ons die hoogte van
ons gawes bepaal? Hoe vergelyk die gawes wat ek vir die Here
teruggee o.a. deur die kollektes, met my geld besteding deur die
week? Dit kan gebeur dat ons deur die week baie maklik tien,
twintig, selfs vyftig of honderd rand vir onsself uitgee, bv aan
dinge soos biertjies, die uitleen van videos, sigarette,
snoepgoed, of oordadig vleis vir ’n braai of vir modieuse
klere wat ons nie nodig het nie, maar wanneer dit kom by die
kollektes in die erediens, dan lyk tien, twintig of vyftig rand
skielik baie geld. Is dit eerlik teenoor God die eienaar van
alles wat ek het en ontvang? So sou dit ook kan gebeur dat ek
baie geld aan dure vakansies uitgee, maar wanneer die kerklike
bydraes ter sprake kom, ek baie suinig is. Broer, suster, seun,
dogter, laat ons onsself hierin beproef. Hoe is die verhouding
tussen wat jy vir die Here teruggee en wat jy aan jouself bestee?
Hoe is die verhouding tussen jou inkomste en jou kerklike bydrae?
Gee jy werklik ooreenkomstig die rykdom wat God jou gegee het?

Paulus noem die gemeentes van Macedonië as voorbeelde van
blymoedige en milde gewers. Die gemeentes het baie swaar gekry
deur lyding en verdrukking. By al hul verdrukking was daar egter
oorvloedige blydskap. Hulle was bly dat hulle verwerdig was om
vir Christus te ly. Mede as gevolg van hul verdrukking was hulle
baie arm. Het wonderlike was egter dat hul vreugde in God, wat in
hul verdrukking en armoede gebloei het, bygedra het tot hul
oorvloedige vrygewigheid. Dis iets wat mens meer sien. Arme mense
is soms meer bereid om mededeelsaam te wees. Ons sien dit ook in
ons land. Soms het jy van die arme vrouens of manne wat baie
uitreik met die min middels wat hulle self het. Hulle geniet
daarvan om dinge vir ander te doen, om die nood van ander te
verlig, ook al het hulle, na ons maatstawwe, niks oor nie. In
Macedonië het die genade van God hulle daartoe gebring. Die arme
gemeentes het selfs bo vermoë wil bydra, sê Paulus. "Uit
eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in
die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea."
Ondanks hulle eie armoede wou en sou hulle bydra. Dit was vir
hulle ’n vreugde en ’n eer om dit vir Christus te doen.
Waar sien ons vandag nog so ’n verlange om te mag help? Hoe
dikwels moet daar nie eers om gevra word voordat mense wil bydra
nie? Wat sou dit pragtig wees as ons dit meer spontaan sou doen,
volgens die rykdom of armoede wat God aan ons gegee het? Sou die
spesiaal aanbevole kollektes dan nog wel nodig wees?

Paulus wys daarop dat hulle nie net hul offergawes gegee het
nie. Hulle het baie meer gedoen. Hulle het hulleself aan die Here
geoffer. Hulle het hulleself heeltemal tot God se beskikking
gestel. Alles wat hulle is en het wou hulle in diens van die Here
gebruik.

Sien hier, broers en susters, ’n pragtige voorbeeld van
blymoedige gewers. So kan ons weet wat dit is om blymoedig te gee.
Dit beteken dat jy vrywillig, mildelik, van harte en met vreugde
gee, in ooreenstemming met die rykdom wat God jou gegee het, uit
liefde vir God en jou naaste.

Maar, gemeente, hoe kom ’n mens daartoe om blymoedig te
gee? Die feit dat die offergawe ’n dankoffer genoem word,
wys reeds hoe ’n mens blymoedig kan gee. Dit kan slegs as jy
besef hoe ryk jy in die Here is. Dink maar aan die arme gemeentes
van Macedonië.

Paulus werk dit konkreet uit in 2 Kor 8:9. "Want julle
ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy
ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy
armoede ryk kan word."

Paulus verbind die genade van Christus met die onderlinge
hulpbetoon in die kerk. God vra nie te veel nie. Jy ken immers
die genade van ons Here Jesus Christus, aan wie jy alles te danke
het. Hy wat ryk was, het ter wille van julle arm geword. Waarin
het Christus se rykdom en armoede bestaan? Wanneer ons die woorde
ryk en arm gebruik, dan dink ons gou aan ’n hoeveelheid wat
mense besit, aan kwantiteit. Iemand is ryk wanneer hy meer, selfs
veel meer as die gemiddelde persoon besit. Jy is arm as jy
minder, veel minder as die gemiddelde persoon het. As ons so die
teks benader dan kom ons nie by die kern uit nie. As ons hierby
net aan materiële welvaart dink, dan is die armoede van Christus
niks besonders nie. Daar is baie mense wat in die sin selfs armer
is as Jesus tydens sy aardse lewe was.

Ons moet eerder dink in terme van kwaliteit pleks van
kwantiteit. Dit gaan hier eerder oor die teenstelling tussen
Christus se hemelse goddelike majesteit en die menslike ellende
wat Hy op Hom geneem het. Dink aan die pragtige beskrywing van
Fil 2:5-8. "Hy wat in die gestalte van God was" –
sien daar sy goddelike heerlikheid. Hy het dit geen roof geag om
aan God gelyk te wees nie, Hy het dit nie vir Homself gehou nie
om homself daarmee te verheerlik nie. Hy het vrywillig daarvan
afstand gedoen. "Maar het Homself ontledig deur die gestalte
van ’n dienskneg aan te neem." So het Hy vrywillig sy
rykdom prysgegee. Hy was ’n vors sonder prag en praal. Sy
armoede het daarin bestaan dat Hy wat kon gebied het, nou bevele
van ander moes gehoorsaam. Hy het Homself as ’n dienskneg
betoon. So was Hy onder die mense. Nie om gedien te word nie,
maar om te dien. Ja, sy vernedering was nog dieper. Want Hy het
Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja,
die dood van die kruis.

Wat ’n armoede in vergelyking met die heerlikheid wat Hy
van ewigheid af by die Vader besit het en waarop Hy reg gehad het.

Daarby voeg Paulus: "ter wille van julle." Hy het
die heerlikheid nie prysgegee om self daarvan beter te word nie,
maar om ons daarvan beter te laat word. Hy het aan ons gedink.
Aan ons heil. Sodat ons die vergewing van sondes en die ewige
lewe sou hê. Sien daar ons rykdom! Ons mag opnuut die lewende
God ken as ons Vader. Ons mag deel in sy liefde. Ons mag in sy
krag lewe, as blye en dankbare kinders. Sou ek dan nie blymoedig
gee nie? Terug gee aan Hom, van wie ek alles ontvang het, ja
werklik alles, die volle heil? Laat die genade jou dan beheers
wanneer jy jou offergawes vir God se kerk en koninkryk gee. Laat
dit jou motiveer om te gee. So word jy in staat gestel om werklik
blymoedig te gee. So kan jou liefdediens ook selfs genade van God
genoem word. Soos Paulus dit skryf oor die gemeentes van Macedonië
in hoofstuk 8:1: "Ons maak aan julle bekend, broeders, die
genade van God wat aan die gemeentes van Macedonië geskenk is."
Dis genade om te mag gee. Dis ’n bewys van genade waarin ek
mag deel. Ons prys hulle gelukkig wat blymoedig gee.

Nou die laaste gedagte: watter gevolge het dit om blymoedig te
gee.

Die teks sê dat God ’n blymoedige gewer lief het. God
sien in welgevalle op jou neer. Wie wil nie graag gewaardeer word
nie? Hoe geweldig is dit om te weet dat jy deur God self
gewaardeer word, dat Hy jou lief het.

Paulus wys ook op ander gevolge van blymoedig gee. Hy skryf in
vers 8: "Dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook
spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai."
’n Mens moet hierdie woorde natuurlik nie op ’n
selfsugtige manier gebruik nie deur te redeneer: "hoe meer
ek gee, des te meer sal ek ontvang." "Gee mildelik en
die Here sal daarvoor sorg dat al jou rekenings betaal kan word."
So misbruik jy daardie woorde.

God bemoedig ons inderdaad om op Hom te vertrou vir die
versorging van my lewe. Die skrif praat ook van loon waarop ek
mag hoop. Die beloning wat ons hier op aarde ontvang, kan egter
baie verskillend wees. Sommiges word geseën met die geleenthede
en vermoë om mildelik te gee. Ander mense word soms gekies om
God te verheerlik deur hul tyd of kragte aan sy werk te gee of
selfs deur lyding en beproewing. God se kinders word op
verskillende maniere gebruik. Nie elkeen besit dieselfde gawes
nie.

Wie volop saai sal op allerlei maniere verryk word. Wat ek ook
al doen tot seën vir ander, is ook ’n seën vir myself. Ek
self word baie verryk deur my tyd en talente, my geld en besit in
diens van God te stel. Dalk groei my bankrekening nie daardeur
nie, maar my geestelike skatte neem wel toe. Dink vir ’n
oomblik na oor die voordele wat ons ontvang van blymoedig gee.
Daar is die geluk om te weet dat God besig is om my te gebruik,
’n voorreg wat ek nie verdien nie. Die vreugde om ander te
mag help, die voorreg om aan die verbreiding van God se koninkryk
te mag bydra. Die liefde, danksegging en voorbede van hulle wat
die liefdegawes ontvang. Die genot om God se liefde en goedheid
uit te straal in my omgewing onder mense buite die kerk.

Baie mense kan dit nie verstaan nie. Hulle dink in terme van:
deur om te gee, word ek juis armer. Dit klink logies. Maar dit is
nie Christelik nie. Deur om te gee word ek juis ryker. Ryker in
die Here. Ryker in aanbidding en lof op die Here. Om dit te sien
en te beleef is genade nodig. So eindig Paulus die hoofstukke ook
met die woorde: "Maar God sy dank vir sy onuitspreeklike
gawe."

Gemeente, laat ons dan bewus omgaan met die kollektes as
onderdeel van die erediens. Gee aandag daaraan. Besef waarmee jy
en die gemeente op daardie oomblik besig is. Laat die gee van jou
offergawes tog ware diens aan die Here wees. Gee jouself in die
offergawes aan die Here. Laat dit werklik ’n dankoffer wees
wat jy blymoedig gee, vanweë die onuitspreeklike genade wat jy
in Christus ontvang het. Wys daarin jou liefde vir God en jou
naaste. Dan sal die Here jou seën.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)