God se ja en ons amen.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-11-09
Text: 
II Korinthiërs 1
Preek Inhoud: 

2 Korinthiërs 1:20

Ds. C. Kleijn - Sondag 09 November 2003

Lees:

2 Korinthiërs 1:12-19.
Sing: Ps. 98:1; Ps. 98:2; SB. 15:1-3; Ps. 106:1,2,20; Ps. 105:1,2; Ps. 111:1; Ps. 111:4; Ps. 130:3; Ps. 130:4.

Tema: God se 'ja' en ons 'amen'.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit gebeur nie baie dat ons albei die sakramente in een diens meemaak nie. Die woord van die teks verbind die twee aan mekaar met die ja van God se beloftes en die amen daarop van die gelowiges.

Watter geweldige beloftes van God! By die doop van Annemyn het ons dit weer gehoor. God kom ons lewe binne as ’n belowende God. Ek sal my verbond oprig "om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag na jou." ’n Belofte wat vir ons en ons kinders herhaal word. God wil vir my ’n God wees. Ek mag sy kind wees.. Baie persoonlik het God vir Annemyn laat sê: Annemyn, Ek doop jou in of beter nog tot die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Sy en elkeen van ons is by die doop simbolies in die gemeenskap van die drie-enige God gebring. God drie-enig wil in gemeenskap met ons lewe as Vader, Seun en Heilige Gees, as Skepper, verlosser en heiligmaker. Besef jy wat dit beteken?

’n Mens kan sê dat God drie-enig Homself aan ons belowe. In verband met die simboliek van die doopwater praat ons van die belofte van die afwassing van die sondes deur Christus se bloed en Gees. Dit wys op die vergewing van sondes deur die bloed van Christus en die vernuwing van ons lewe deur die Gees van Christus. Let daarop ons praat hier van ’n belofte, nie van ’n voorsegging of aansegging nie. Dis nie ’n voorspelling van wat God gaan doen nie. Dis ’n belofte wat aanspraak maak op ons gelowige aanvaarding daarvan. ’n Belofte wat langs die pad van die geloof sy seënryke uitwerking ontvang.

In ons teks lees ons: "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dws in Christus) is hulle ja." Die bybel is vol van beloftes van God.. Dink aan die moederbelofte, waar al die ander beloftes uit voortgekom het. Die belofte van oorwinning deur die saad van die vrou, Jesus Christus. God het sy beloftes aan Noag, Abraham , Dawid en aan baie ander gegee. Beloftes van redding uit die mag van die duiwel, die sonde en die dood. Beloftes van vergewing van sondes, van ewige lewe, van seën en voorspoed. Beloftes van God se nabyheid en vadersorg. Beloftes van genade en herstel. Beloftes vir die hede en die toekoms. En God se beloftes het nie net betrekking op die mens nie, ook op die hele skepping, die plante en diere, hemel en aarde.

God sê ja tot sy wêreld. Hy staan positief daar teenoor. Hy is ’n belowende God. ’n Veelbelowende God. Hoe kan dit dan? Die wêreld het tog in opstand teen Hom gekom? Ons het tog nee vir Hom gesê? Hoe kan God dan ja sê? Dis alleen moontlik danksy Christus. Jy mag geen belofte van God losmaak van Christus nie. Alleen deur Christus is dit moontlik dat God by ons doop ja vir ons sê. Dat Hy ons opneem in sy genadeverbond. Want Christus is die Middelaar van die genadeverbond. Al God se beloftes lê vas in Christus. Wil jy weet hoe betroubaar die Here is wanneer Hy iets belowe? Wil jy die bewys hê dat God nie vandag ja sê en more nee sê nie? Kyk dan na Christus. In Hom kom God se ja na jou toe. In Hom blyk God se ja betroubaar te wees. Kom God se beloftes in vervulling. Jy kan weet dat God sy woord hou. Christus is die bevestiging van al sy beloftes. Daarom is sy beloftes vas en seker, regsgeldig. So lees ons in die nagmaalsformulier dat Christus met sy dood en bloedstorting die Nuwe Testament, die verbond van genade en versoening vir ewig bekragtig het toe Hy gesê het: Dit is volbring!

Geliefdes, hierdie ja van God na ons en ons kinders toe, is nooit vryblywend nie. Dit blyk uit die vervolg van die teks: In Hom is die beloftes ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. Die volgorde van die woorde is miskien ’n bietjie onduidelik. Wie sê nou amen? Die amen moet ons verbind met "deur ons". Ons moet dan amen sê. God se beloftes beaam.

Ons amen is ook nie onseker nie. Nee, net soos God se beloftes vaslê in Christus, so lê ook ons amen vas in Christus. Dis iets wat Christus ons geleer het en wat Christus tot stand gebring het.

Ons amen is ’n reaksie op God se beloftes. Ek kan die Here nie vryblywend laat praat nie. Ek kan sy beloftes nie net vir kennisgewing aanneem nie. Ek word gedwing om daarop te reageer. Of ek wys die beloftes in ongeloof af, of ek neem die beloftes in die geloof aan. Vir die afwysende reaksie waarsku die Here ons voortdurend. Dink bv aan Heb 12:25: "Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie." Die Here gee ons sy beloftes met die eis tot bekering en geloof. Dis sy eis wat onlosmaaklik aan sy beloftes verbind is. Soos ons dit ook lees in die tweede deel van die doopsformulier. Alle verbonde bestaan uit twee dele, naamlik ’n belofte en ’n eis.

God doen dus ’n dringende appel op ons eie verantwoordelikheid. Sy verbondsbeloftes gaan nie outomaties in vervulling nie , maar langs die pad van geloof. Wanneer ek glo, word God se beloftes vir my ’n blye werklikheid. God se ja vra om my amen. Ek sê dan van my kant ja teen God. Ek neem sy beloftes ernstig op. Ek aanvaar God drie-enig as my Skepper, Verlosser en Heiligmaker. Ek soek by Hom my heil, die vergewing van my sondes en die vernuwing van my lewe. Hierdie amen lê ook vas in Christus. Ek het geen rede om te aarsel nie. Ek kan God bly aanspreek op sy ja woord. Ek mag altyd op sy beloftes pleit. Dit gee vaste grond onder my voete. So word die verbondsbeloftes wat God by my doop persoonlik vir my gegee het, ’n groot krag in my lewe.

En die amen is dan tot heerlikheid van God. Met jou amen roem en prys jy die Here. Jy loof Hom om sy goedheid in Christus. Om sy soekende liefde en genade. Om sy kragdadige werking in jou sodat jy die amen kan en wil uitroep. Deur Christus se Gees. So is daar in Christus die amen deur ons tot eer van God.

Dis, broers en susters, wat ons juis aan die nagmaal wil doen. Laat jou aangaan aan die tafel ’n bewuste amen wees op God se ja, wat Hy by jou doop gesê het. So kom die twee sakramente saam. By die doop het ons opnuut God se ja woord gehoor in Jesus Christus, op grond van sy werk.. Aan die nagmaal mag ons ons amen tot eer van God gee, opnuut in Jesus Christus. Deur Hom wat die antwoord van geloof in ons gewek het. Geniet so van die heil wat God drie-enig belowe het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)