Alle gesag is van God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-11-02
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

Sondag 39

Ds. C. Kleyn - Sondag 02 November 2003

Lees: Efésiërs 5:22- 6:9; Sondag 39.
Sing: SB. 27; Ps. 71:1,2,4; Ps. 71:10-12;
Ps. 115:7,8.

Tema: Alle gesag is van God.

  1. Wat beteken dit vir die gesagdraers; en
  2. Wat beteken dit vir hulle wat onder die gesag staan.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die 5e gebod praat van gesag en gehoorsaamheid.
Elkeen het daarmee te make. Die kategismus wys tereg op die breë
strekking van hierdie gebod. Dit gaan nie alleen oor die vraag
hoe kinders hulle teenoor hul ouers moet gedra nie, maar ook hoe
ons ons moet gedra teenoor almal wat oor ons gesag het.

In hierdie gebod self word net vader en moeder uitdruklik
genoem. Dit is die mees natuurlike gesag waarmee elke persoon te
doen kry. Die gesin is ons eerste lewensverband waarin jy gebore
word. Dit het sy uitstraling na alle ander lewensverbande. As lid
van die gesin tree jy die ander lewenskringe soos kerk, skool,
maatskappy binne en neem jy daar jou plek in.

Die woord gesag is oor die algemeen geen lieflingswoord nie.
Gesag praat immers van seggenskap, dat een persoon oor ’n
ander persoon seggenskap het. En wie wil nog daarvan weet in
’n tyd waarin die individuele vryheid so hoog aangeskryf
staan. Jy moet tog vry wees om te doen wat jy wil? Die gesag van
gesagdraers word steeds meer ondermyn en versmaad. Dit geld in
die gesinne: die kinders wil vrygelaat word om self te bepaal wat
hulle wil. Dit geld nie minder vir die ander lewensverbande nie.
Mense wil vry wees.

Daarom, gemeente, is dit belangrik dat ons luister na wat die
5e gebod vir ons sê.

Ek verkondig vir julle: alle gesag is van God.

Ons let op 2 dinge:

  1. Wat dit beteken vir die gesagdraers
  2. Wat dit beteken vir hulle wat onder die gesag staan.

Met betrekking tot gesag sien ’n mens die slinger dikwels
beweeg tussen twee uiterstes. Een uiterste is dan dat die gesag
absoluut gemaak word. Dit ontaard in ’n verskriklike
tirannie. Daarby word alle vryheid en lewens-ontplooiing versmoor.
Ons sien dit in lande waar mense sug onder ’n diktatuur. Kyk
maar na wat die kommunistiese diktatuur van Rusland gemaak het.
Wat eens die graanskuur van Europa was, het heeltemal verarm deur
die geesdodende diktatuur. Iets dergeliks sien ons gebeur in ons
buurland Zimbabwe. Ook in die gesinne kan die uiterste getref
word. Kinders word dan met strawwe hand aan bande gelê. Hulle
word gedwing om presies te doen en te dink wat die ouers wens,
omdat hulle dit wens en daarmee basta. Van ’n liefdevolle
leiding waaronder die kinders hulleself kan ontplooi is geen
sprake nie. Hulle word voortdurend die swye opgelê.

Die ander uiterste is dat die gesag gerelativeer en
verwaarloos word. Die individuele vryheid beteken dan alles. Dit
lei dan tot losbandigheid. ’n Mens sien dit in ons land waar
die owerheid nie altyd ewe duidelik sy gesag laat tel nie. Daar
word baie deur die vingers gesien, waardeur die wettelose gedrag
toeneem.

Jy sien dit ook in sommige gesinne. Die kinders word heeltemal
vrygelaat om te doen wat hulle wil. Reeds vanaf hul eerste jare
het die kinders amper die hef in hande. Hulle kry hul ouers
presies waar hulle hul wil hê. Hul vryheid ontaard in
tugteloosheid.

In albei genoemde uiterstes word die ontbinding van die lewe
openbaar. Wat so skoon in die menselewe is, gaan in albei gevalle
verlore: die natuurlike lewens-ontplooiing smoor onder die
dwangbuis van die diktatuur. Maar dit versmoor ook in die
onbegrensde vryheid. As daar geen grense meer gestel word nie, as
jy nooit gekorrigeer word nie, dan kom daar ’n wilde-groei
wat die gesonde, normale ontwikkeling belemmer.

Die een houding is dikwels ’n reaksie op die ander. Hulle
wissel mekaar baie kere af. Ek ervaar die wrang vrugte van die
een en slaan dan deur na die ander uiterste. As ek self ’n
te strenge opvoeding ontvang het, neig ek na ’n te
vryblywende opvoeding van my kinders. Wie die ellende van ’n
diktatuur beleef het, roep om vryheid, totdat ook die vryheid
homself verteer en mense weer om ’n sterk man roep.

Gemeente, waarom is dit so dat daar ten aansien van gesag
sulke verskuiwings plaasvind? Waarom steeds die beweging tussen
magsmisbruik en onbegrensde vryheid?

Die rede is omdat mense die oorsprong van alle gesag, naamlik
God, vergeet. God het die verskillende lewensverbande geskep. Hy
laat kinders in ’n gesin gebore word. Binne die
liefdesverhouding gee Hy vir die een seggenskap oor die ander.
Die man het seggenskap oor sy vrou. Hy is die hoof, die leier.
Geen diktator nie. Maar hy word verantwoordelik gestel vir wat in
die gesin gebeur. Hy moet in liefde en trou leiding gee. Die
ouers het seggenskap oor hul kinders. Die kinders wat aan hul
sorg toevertrou is, is nie vreemdes vir hulle nie. Dis hul eie
kinders waarvoor hulle lief is. Dis ’n verhouding van
liefde, eenheid, geborgenheid, trou. Tenminste so het God dit
geskep en bedoel. Daarom het die gesag van die ouers ook niks te
make met diktatorskap, met ’n willekeurige of onbeperkte
uitoefening van mag nie. Dis beslis nie die gesag wat God vir ons
as ouers gegee het nie. Daardie gesag is ’n saak van
liefdevolle leiding, liefdevolle sorg en korreksie.

God het ons as ouers gesag oor ons kinders gegee vir hul
welsyn. Ja, vir die welsyn van die gesin en die samelewing.
Daarom waarsku Paulus die vaders, en daarmee ook die moeders, om
hul gesag nie te misbruik nie. "Vaders, moenie julle kinders
vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die
Here." Of met die woorde van Kolossense 3:21:"Vaders,
moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie."

Dis opvallend dat Paulus hierdie aspek in verband met die 5de
gebod noem. Wanneer ons die 5de gebod hoor, dan is ons geneig om
uitsluitend op die kinders te fokus. Hulle moet hul ouers eer.
Maar Paulus fokus ook op die vaders, die ouers. Daar is twee
kante aan die verhaal. Wanneer God kinders aan hul ouers gee,
soek Hy nie blinde gehoorsaamheid nie. Hy wil nie dat die kinders
willose slawe of robots word nie. God het die welsyn van die
kinders op die oog. Hul ontwikkeling as blye kinders van Hom.

Vanweë die sonde vergeet ons maklik dat die verhoudings wat
God geskep het, verhoudings van liefde en sorg is. Dan sien jy
mense as losse individue, wat wel naas mekaar leef, maar elkeen
vir homself. Dan sien jy die gesag van een oor die ander as
’n saak van mag en meerderwaardigheid. Die sonde neem die
basis vir ware gesag weg. Die sonde veroorsaak die misbruik van
gesag. Dan funksioneer dit tot nadeel van hulle wat onder die
gesag staan. Dan word kinders vertoorn of ontmoedig. Dan verloor
die kinders moed of raak hulle verbitter.

Verbittering ontstaan dikwels wanneer daar te min dissipline
is. Wanneer daar geen duidelike reëls gestel word nie en die tug
nie konsekwent toegepas word nie, sodat jy as kind nooit goed
weet waar jy aan toe is nie. Verbittering ontstaan dikwels ook
wanneer daar te veel dissipline is, wanneer amper alles verbied
word en geen positiewe bemoediging gehoor word nie. So verwoes
die sonde die pragtige verhouding van liefde, van gesag en
onderdanigheid. Neem dit goed ter harte.

Broeders en susters, dis opvallend dat Paulus sy instruksies
vir die interpersoonlike verhoudings onmiddellik laat volg deur
die waarskuwing teen die bose geeste. Spanning in verhoudings en
gebaklei, magsmisbruik en ongehoorsaamheid het te doen met die
stryd van die geeste. Die duiwel, saam met sy bose geeste, stry
teen God se kinders in ’n poging om hulle lewens uit mekaar
te ruk. In ’n poging om die verhoudings wat God tot
wedersydse welsyn en vreugde geskep het, te verwoes.

Daarom, word kragtig in die Here. Die geloof laat die
gesagsverhouding weer blom. Jy herken dan God se goedheid daarin.
Hy reguleer die lewe en die verhoudings. Hy gee nie aan elkeen
dieselfde plek en funksie nie. Hy gee aan elkeen sy of haar eie
plek. Hy skep ’n sekere orde in die verhoudings om die te
beskerm en te laat blom.

Die onderlinge gemeenskap kan nie sonder gesag nie. Anders
ontstaan daar ’n wanorde, dat elkeen sy eie gang gaan. En
gesag kan nie sonder onderlinge liefdes-gemeenskap nie. Anders
loop dit uit op tirannie. God die Vader soek die ware
ontwikkeling van jou lewe. Hy wil jou lei tot ware geluk. So wil
Hy gesag uitoefen.

Dis daarom baie belangrik, geliefdes, om in al jou
gesagsverhoudings te bly fokus op God. Moenie die tweede deel van
die wet van die eerste deel skei nie. Die liefde vir jou naaste
moet in die liefde vir God gegrond wees. Dan alleen kan die
onderlinge verhoudings goed funksioneer. As ek geen rekening met
God hou nie, dan sal ek geen rekening met sy heilsame wet hou nie
en my eie gang gaan, ook in die interpersoonlike verhoudings.

Nou weet ek egter dat God my deur die gesagdraers wil regeer.
God self het absoluut gesag. Die eerste deel van die wet het dit
duidelik vir my geleer. God het die laaste sê oor al sy skepsels.
En nou het dit hom behaag om ’n deel van sy gesag te
delegeer aan mense. Uit onsself het ons geen seggenskap nie. Het
ons geen reg om te regeer en te beveel nie. Menslike gesag is
verleende gesag. Deur God verleen. Gesagdraers is dienaars van
God. Niks meer en niks minder nie. Hulle is deur God aangestel.
Om God te verteenwoordig.

Dit gee ons as gesagdraers ’n groot verantwoordelikheid.
Ons moet God hier op aarde sigbaar maak. Ons moet gesag uitoefen
soos God self dit sou doen, streng en liefdevol.

Dis nie eenvoudig in ’n sondige wêreld nie. Vanweë die
sonde is dit egter des te belangriker. As jy sonde wil bestry en
die lewe weer wil laat blom, dan sal jy die gesag wat jy van God
ontvang het, goed moet uitoefen. Dit geld in die samelewing, in
die kerk, maar ook en veral in die gesin, die beginpunt van alle
verhoudings. Ons sondige skepsels moet gehoorsaamheid leer. Die
les begin by die huis, in die gesin. Wat jy daar geleer word is
van fundamentele belang vir jou funksionering in al die ander
verhoudings. Daar word die fondament gelê.

Daar is geen groter verantwoordelikheid as om daar aan die
beginpunt van elke menselewe te werk nie. Om kinders groot te
bring is van onskatbare waarde. Dis waar lidmate van die kerk
gevorm word. Dis waar hulle moet leer om God uit dankbaarheid te
dien. Dis waar gehoorsaamheid aan die Here geleer word. Dis waar
menslikerwys gesproke die toekoms en welsyn van die kerk bepaal
word. Dis ook waar die toekoms en welsyn van die samelewing
bepaal word. Dis waar burgers gevorm word, werkers, werkgewers en
werknemers, leiers en hulle wat gelei word. Dis waar die ruggraat
van die nasie gevorm word. Ouers wat nie hul take ernstig opneem,
veroorsaak groot skade aan die strukture van die lewe.

Daarom is dit ’n baie ernstige saak dat die gesinslewe in
ons tyd so ondermyn word. As jy die basiese eenheid van die
samelewing skaad, skaad jy die fondamente van die samelewing self.
Wees waaksaam, geliefdes. Moenie ooit die belang van die
opvoeding en vorming van kinders onderskat nie. Ouers, julle word
deur die Here geroep om sy instrumente te wees, sy
verteenwoordigers, om sy gesag oor die kinders uit te voer. Laat
jouself nie aflei van hierdie verantwoordelike taak. Moenie jou
laat mislei nie om te dink dat die kinders van nature goed is,
dat jy hulle van jongs af aan hul eie gang kan laat gaan, dat
hulle hulleself tot goeie burgers en lidmate van die kerk kan
ontwikkel. Hier word die mag van die sonde ontken. ’n Baie
gevaarlike eksperiment. En onthou jy kan jou kinders maar een
keer grootbring.

Gemeente, by die doop van ons kinders bely ons almal dat ons
kinders in sonde ontvang en gebore is. En in ons kat voeg ons
daaraan toe dat ons van nature so verdorwe is dat ons glad nie in
staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is.
Maar hoe sien ons dit in die praktyk van die lewe? Dink ons in
die praktyk dikwels nie dat dit heeltemal nie so sleg is nie? Ons
kinders is tog lief en goed. Maar, broeders en susters, ook in
die praktyk moet ons ons belydenis handhaaf. Anders kom daar
groot moeilikheid.

In jou opvoeding het jy nie te doen met kinders wat uit
hulleself goed is, met kinders wat die rigting van hul lewe self
kan bepaal nie. Nee, jy het te doen met jong sondaars wat geneig
is om verkeerde dinge te doen. Hulle harte moet deur die Heilige
Gees vernuwe word. En dis presies hier waar God jou as ouers wil
gebruik. Deur jou opvoeding en onderrig. God wil die sonde in die
lewe van ons kinders bestry en sy genade en Gees daar laat heers.
Goeie leer en tug is daarom nodig. Die vernuwende woord van God
moet vir hulle bedien word, die woord wat as ’n skerp
tweesnydende swaard is. Die lering moet waar nodig met tug,
korreksie, straf begelei word. Die sonde moet immers met mening
bestry word en die harte van ons kinders vir Christus gewen word.

Geliefdes, die goddelike oorsprong van gesag bepaal ook die
houding van hulle wat onder die gesag geplaas is. Dis die tweede
gedagte van die preek: Wat die feit, dat alle gesag van God kom,
beteken vir hulle wat onder die gesag staan. Ons moet hulle wat
oor ons geplaas is eer. Omdat God ons deur hulle wil regeer.
Kinders, julle moet jul ouers eer as verteenwoordigers van God.

Om te eer beteken letterlik om hulle die gewig te gee wat
hulle van God ontvang het. Wat is dan die gewig van hulle wat
gesag dra? Ons het dit in die eerste punt genoem. Jou ouers is
van die allerhoogste belang in die geskiedenis van jou lewe. Dit
geld veral vir jou geskiedenis binne God se verbond. Die Here
werk in die geslagte. Ouerskap word selfs die slagaar van die
verbondsvolk genoem. Deur middel van ouers sit God sy
verlossingswerk voort. Deur gelowige ouers word jy ingelyf in die
christelike kerk. Dit geld tenminste in die algemeen in
gevestigde kerke. Jou ouers het jou ontvang. Sonder hulle sou jy
nie lewe nie. Hulle het jou as dit goed is gelei op die pad van
verlossing. Dis waar, hulle het dit met gebreke en tekortkomings
gedoen. Dis jammer genoeg baie waar. Maar dit weeg nie op teen
die feit dat hulle jou na God gelei het nie. Sonder hulle sou die
meeste van julle hier nie wees nie. Hier sien julle die groot
gewig, waarde van jul ouers. Dis wat julle in hulle moet waardeer.

Om jou ouers te eer hang dan nie af van menslike gevoelens
nie, of menslike kwaliteite nie. Dit hang nie af van die sfeer
wat hulle kan skep nie, ook nie van die liefde wat hulle uit nie.
Dis nie afhanklik van hul ervaring en kundigheid nie. Om jou
ouers te eer is afhanklik van God se aanstelling. Hy het hulle
aangestel, daarom eer ek hulle. God het hulle ’n sekere
gewig gegee, daarom sal ek hulle ook hul gewig gee. Ek erken in
hulle God se goedheid en genade, waardeur Hy my wil red.

Ek eer as kind my ouers deur hulle op die pad van die Here te
volg. Deur hulle geloof in God en hulle gehoorsaamheid aan Hom te
volg. Dit is uiteindelik die hart van ’n christelike
opvoeding. Met ander woorde, ouers word geëer wanneer hul
kinders juis die dinge in hulle respekteer wat in die diens aan
die Here die belangrikste is. En binne die gemeente moet dit wees:
God se verbond en woorde. As jy jou ouers slegs as liefdevolle
ouers sien, sien jy hul werklike waarde oor die hoof. Is hul egte
waarde nie dit, dat hulle onmisbare skakels in die ketting van
God se verbond is nie?

As jy dit besef dan sal jy jouself met die verskuldigde
gehoorsaamheid aan hul goeie leer en tug onderwerp. Dan sien jy
God self met jou besig. Jy gehoorsaam in die Here, ter wille van
Christus. Nie met oëdiens soos mensebehaers nie. Nie met teensin
nie. Nie net wanneer jy met hulle saamstem nie of nadat jy deur
’n beloning tot gehoorsaamheid omgekoop is nie.

Jy bewys liefde en trou. Ook van jou kant soek jy hulle welsyn.
Jy wil doen wat jy kan sodat hulle kan wees wat hulle behoort te
wees. Jy help hulle waar moontlik om liefdevolle leiding te kan
gee. Jy bly lojaal aan hulle. Dit beteken ook dat jy met hul
gebreke geduld hê Hulle is en bly sondige mensekinders wat
daagliks teen hul sonde en swakheid moet stry. En om dan geroep
te wees tot so ’n verantwoordelike taak om kinders in die
tug en vermaning van die Here groot te bring. Wie is daartoe in
staat?

Daarom beantwoord jy hul foute nie met skerp kritiek nie, maar
met begrip, geduld en gebed. Pleks om te rebelleer, gaan jy bid
vir hulle wat God oor jou aangestel het. Jy bid vir jou ouers, jy
bid vir jou onderwysers, jy bid vir jou regering. Dat hulle die
verantwoordelikheid wat God vir hulle gee, getrou mag uitoefen.
Net wanneer hulle dinge wat teen God se wil ingaan, van jou vra,
moet jy weier om hul gehoorsaam te wees. Om hulle liefde en trou
te bewys beteken in daardie situasie dat jy die sonde duidelik
aanwys en afwys. So eer en help jy hulle.

Ja, seuns en dogters, broeders en susters, God weet wat Hy
doen wanneer Hy mense oor jou plaas. Jy kan nie sonder leiding
nie. Mense wat in sonde ontvang en gebore is, word nie outomaties
groot as mense wat God ken en dien nie. Daarvoor is baie nodig.
Die Gees van God moet ingryp. En die Gees werk in die eerste plek
deur jou ouers. Daarom, luister goed na jou ouers, ook al dink jy
dat jy beter weet. Moenie jouself oorskat nie. Om in sonde
ontvang en gebore te wees, is geen kleinigheid nie. Dwaasheid sit
van nature in ons jong harte. En die dwaasheid word nie sommer so
verwyder nie. Wysheid moet aangeleer word. Laat jouself daarom
lei deur die goeie leer en tug van jou ouers. Merk op die waarde
wat God hulle in jou lewe gegee het en eer hulle om die rede.

Maar, broeders en susters, wie is in staat om dit alles na te
kom? Watter ouer is volmaak in sy leer en tug? Watter kind is
volmaak in sy gehoorsaamheid, in sy liefde en eerbied? Daar is
net Een wat hierdie gebod volmaak vervul het. Dis ons Here Jesus
Christus. Laat ons bly wees dat Hy dit gedoen het. Sodoende kan
Hy ook ons sondes en tekortkoming versoen. In Christus kan die
lei van opstandige kinderjare en van swak ouerskap skoon geveeg
word. In Christus kan jy ook ’n nuwe begin maak as kind en
as ouer. Deur opnuut gehoorsaam te wees en deur getrou jou
ouerplig te vervul.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)