Ek is tot alles in staat gemaak, deur Hom wat voortdurend krag in my instort.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-08-10
Text: 
Filippense 4
Preek Inhoud: 

Filippense 4:13

Ds. C. Kleyn - Sondag 10 Augustus 2003

Lees: Filippense 4:1-13.
Sing: Ps 81:1,2; Ps 81:11,12; SB 14; Ps 116:7,10;
Ps. 111: 1; Ps. 111:2; Ps. 111:4; Ps. 111:5.

Tema: Ek is tot alles in staat gemaak, deur Hom wat
voortdurend krag in my instort.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat 'n verrassende uitspraak van Paulus. "Ek is tot alles
in staat deur Christus wat my krag gee." Triomfantlike
woorde. Klink dit nie oormoedig nie? Ek is tot alles in staat.
Tog is die woorde ook weer ootmoedig. Paulus roem hier nie in
homself nie, maar in die Here: deur Christus wat my krag gee. Ons
sou ook kan vertaal: deur Christus wat voortdurend krag in my
instort.

Die apostel sê dus nie soseer dat hy sekere dinge self kan
doen nie, maar dat hy in staat gestel is om sekere dinge, ja,
alle dinge te doen, deur Hom wat sy krag in hom instort. Hier het
ons die finale verklaring van wat Paulus in die voorgaande verse
noem. Daar skryf Paulus: "Ek het geleer om vergenoeg te wees
met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word,
ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is
ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om
oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly." Paulus het dit
geleer, sê hy. Dink maar nie dat hy 'n supermens was nie. Hy was
nie altyd in staat om dit te doen nie. Dit het nie vanself
ontstaan nie. Hy moes leer hoe om tevrede te wees in alle
omstandighede, hoe om onafhanklik van die omstandighede en
omgewing te wees. Hy moes dit leer. Hy is ingewy in die geheim
hoe om dit te doen. Dis wat hy bedoel wanneer hy sê dat in alle
dinge onderrig is.

In ons vers ontvang ons die finale verklaring van Paulus se
houding. Die ware geheim, sê Paulus, wat ek ontdek het is dat ek
tot alles in staat gemaak is deur Hom wat voortdurend krag in my
instort. Paulus wys wat die christelike lewe in wese is. Die
christelike lewe is 'n lewe, 'n krag, aktiwiteit. Dis iets wat
ons maklik vergeet. Die christelike lewe is nie net 'n filosofie
nie, nie net 'n oortuiging nie, nie net 'n leer wat ons aanvaar
en probeer om in praktyk te bring nie. Dis baie meer as dit. Die
wese van die christelike lewe is dat dit 'n geweldige krag is wat
in ons inkom. Dis 'n lewe wat so te sê binne in ons klop. Dis
aktiwiteit, aktiwiteit ook en veral van die kant van God.

Paulus het dit reeds eerder in hierdie brief benadruk. In die
eerste hoofstuk sê Paulus dat hy daarop vertrou dat Hy wat 'n
goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag
van Jesus Christus (vers 6). So moet julle, broeders en susters,
julleself sien. Julle is mense in wie God 'n goeie werk begin het.
God het binne in jou kom woon en Hy werk in jou. Dis is wat dit
is om 'n christen te wees. Jy is nie net 'n mens wat 'n sekere
teorie aanvaar het en nou probeer om dit in praktyk te bring nie.
Nee, dis God wat besig is om in en deur jou iets te doen. Dink
ook aan Filippense 2:13: "want dit is God wat in julle werk
om te wil sowel as om te werk na sy welbehae". Dis na sy eie
welbehae dat God in my werk om te wil sowel as om te werk. My
hoogste gedagtes, my mees edele strewe, elke regverdige neiging
kom van God. Dis iets wat deur God in my tot stand gebring is.
Dis God se werk en nie net myne nie. Daarom skryf Paulus in
hoofstuk 3:10: "sodat ek Hom kan ken en die krag van sy
opstanding."

Die christen is nie net 'n goeie, fatsoenlik, morele mens nie.
'n Christen is 'n mens wat 'n nuwe lewe ontvang het. Die lewe van
God het in hom gekom. Daarom is daar in my 'n nuwe energie, 'n
nuwe krag, 'n nuwe lewe. Om 'n christen te wees is nie net om die
leer van Christus te glo nie. Dis om aan Christus verbind te wees
sodat sy lewe en sy krag in jou werk. Dis om 'in Christus' te
wees. Dis dat Christus in jou is. "In Christus" is 'n
uitdrukking wat herhaaldelik in die Nuwe Testament voorkom. Dit
tipeer ons as christene.

Paulus sê in die teks dus dat Christus so veel krag in hom
instort dat hy tot alles in staat is. Hy word nie aan homself
oorgelaat nie. Hy stry nie alleen en tevergeefs teen die oormag
nie. Dis Christus self wat in sy lewe inkom en ingekom het.
Daarom is Paulus nie meer alleen nie. Daar is twee van hulle
Paulus en Christus. Christus en Paulus. 'n Tweetal. Dis daar as
'n krag. Daarin, sê Paulus, is ek tot alles in staat.

Tot alles? Is dit nie oordrewe nie? Paulus kan blykbaar nie
uit die tronk ontsnap nie. Hy kan nie van sy boeie ontslaan raak
nie. Hy kan ook nie homself bevry van die doring in sy vlees nie.
Tot alles in staat? Dis duidelik dat ons dit in die konteks moet
lees. Dit gaan oor die hantering van allerlei omstandighede. Hy sê
ook onmiddellik voor die teks: in elke opsig en in alle dinge is
ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om
oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Hy is in staat om as
christen, ja om in en deur Christus alle omstandighede te hanteer.

Dis een van die geweldigste uitsprake van Paulus. Hier het ons
'n man in die tronk, 'n man wat reeds so baie in sy lewe gely het.
'n Man wat weet wat dit is om op allerlei manier teleurgestel te
word - vervolg, verneder, gelaster, selfs teleurgestel in sy eie
medewerkers. In die tronk onder omstandighede wat die sterkste
persoonlikheid neerslagtig sou maak, terwyl hy martelaarskap in
die gesig staar. Tog kan hy sê: ek is tot alles in staat deur
Christus wat my krag gee.

Hierdie bekragtiging is soos 'n bloedoortapping. Daar is 'n
pasiënt wat om een of ander rede baie bloed verloor het. Hy is
baie swak en snak na asem. Dit het geen nut om hom medisyne toe
te dien nie. Hy het nie genoeg bloed om die medisyne op te neem
nie. Die man ly aan bloedarmoede. Die enigste wat jy kan doen is
om hom 'n bloedoortapping te gee, om bloed in hom te laat vloei.
Dis wat Paulus sê God besig is om met hom te doen. Ek is baie
swak en dit voel soms asof ek geen lewenskrag meer het nie. Maar
vanweë my band met Christus merk ek dat Hy lewenskrag in my
stort. Hy ken my toestand en omstandighede. Hy weet presies wat
ek nodig het. O, hoe baie gee Hy my! God sê: "My genade is
vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring."
Daarom kan ek sê: "as ek swak is, dan is ek sterk." (2
Kor 12:9,10). So kan ek moedig wees, en rus vind, maak nie saak
hoe die omstandighede is nie. So kan ek as christen ly en stry.
Deur Christus wat my krag gee.

Broeders en susters, sien daar julle geheim as christene. 'n
Geheim wat aan die nagmaal gevier word. Praat ons daar nie van:
Christus in ons en ons in Hom nie? So seker as ons die tekens en
seels van Christus se liggaam en bloed in ons opneem, so seker
kry ons deur die werking van die Heilige Gees deel aan sy ware
liggaam en bloed. Hy voed en verkwik ons siele tot die ewige lewe.
Deur sy Gees kan ons in ware gemeenskap met Hom lewe en in al sy
rykdom deel.

Eet en drink. Gedenk en glo. Oordink wat Christus in en deur
jou wil doen. Vra Hom om sy krag in jou swakheid te openbaar.
Leef uit sy volheid. Doen gewoon wat Hy vra. Dan sal Hy jou na
die omstandighede krag gee. Hy ken ons beter as onsself. Hy gee
volgens die nood. Dan sal jy met Paulus kan sê: ek is tot alles
in staat deur Christus wat my krag gee. Dan sal jy as 'n christen
kan leef en stry.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)