Christus bemoedig sy vervolgde gemeente om tot die dood toe getrou te bly.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-07-27
Text: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Openbaring 2:8-11

Ds. C. Kleyn - Sondag 27 Julie 2003

Lees: 1 Petrus 4:12-19; 1 Petrus 5:6-11;
Openbaring 2:8-11.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:5,6; Ps 61:1-3; Ps 70:1,2;
Ps 90:1,9

Tema: Christus bemoedig sy vervolgde gemeente om tot
die dood toe getrou te bly.

  1. die vervolging;
  2. die agtergrond van die vervolging; en
  3. die oorwinning

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus adresseer sy tweede brief aan die gemeente van Smirna.
Daardeur spreek Hy ook elkeen van ons aan. "Wie ’n oor
het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê." Hy
het ’n boodskap vir jou en my.

Ek vat die boodskap as volg saam: Christus bemoedig sy
vervolgde gemeente om tot die dood toe getrou te bly.

  1. die vervolging
  2. die agtergrond van die vervolging
  3. die oorwinning

Om die teks goed te verstaan is dit belangrik om iets oor die
stad Smirna te weet. Smirna was ’n belangrike hawestad in
Klein Asië. Deur handel het dit ’n ryk stad geword. Smirna
was ’n mooi en trotse stad. Dit het homself beskou as die
roem van Asië. Dit het ’n roemryke stadion, biblioteek,
publieke teater en baie tempels gehad. Die christene in Smirna
het in ’n situasie geleef waarin hulle aan alle kante die
glans van die heidense godsdiens raakgeloop het. Wat ’n
kontras tussen hul eenvoudige vergader plekke en die luister van
die heidense tempels.

Smirna het ook noue bande met Rome gehad. Tydens die burger
oorloë het hulle steeds die kant van Rome gekies. Daarom het die
stad die titel van ‘die getroue’ gekry. Die Romeine het
Smirna daarvoor beloon deur haar die voorregte van ’n vry
stad te gee. In 195 voor Christus het Smirna die eerste stad
geword om ’n tempel te bou ter ere van die stad van Rome,
wat hulle as die godin Dea Roma aanbid het. Later in 23 na
Christus het die stad die eer te beurt geval om ’n tempel te
mag oprig gewy aan die keiser. So het Smirna ’n stad geword
waarin die keiserverering baie sterk was. Die verering van die
keiser as god het oorspronklik begin as ’n spontane bewys
van dank aan Rome. Teen die einde van die 1ste eeu het dit egter
verplig geword. Een maal per jaar moes elke burger ’n
bietjie wierook op die altaar van die vergoddelikte keiser brand.
Indien jy dit sou weier, dan was jy outomaties geteken as ’n
landverraaier en voëlvry verklaar.

Gemeente, hier het julle die eerste saak wat die lewe van die
Christene sterk geraak het en hul lewe in gevaar gebring het.
Smirna was ’n entoesiaste sentrum van keiserverering. Daar
was ook ’n ander faktor wat dit vir christene moeilik gemaak
het om in Smirna te leef. Dit was die aanwesigheid van ’n
groot aantal Jode daar. Na die val van Jerusalem het baie Jode
hulle in Klein Asië gevestig. Hulle het dikwels in hul eie wyke
gewoon. Hul verhouding met die ander burgers was egter
uitsonderlik goed. Die Romeine was bereid om konsessies te maak:
die Jode hoef nie in die weermag te dien nie. Hul sinagoges is
deur die keiser beskerm. Vanweë die goeie verhouding tussen die
Romeine en die Jode, kon die Jode redelik vinnig herstel van hul
verskriklike nederlaag met die val van Jerusalem. Hul kon weer
handel bedryf en binne korte tyd het hulle deel gekry aan die
algemene welvaart van die stad.

Wel, in die groot handelstad Smirna waar Jode en heidene in
goeie harmonie saamleef, vergader Christus sy kerk.

’n Mens sou dink, daar moet in so ’n voorspoedige
stad baie geleenthede wees. As die Romeine selfs die Jode in die
welvaart laat deel, dan moet dit seker tog ook vir die Christene
geld. In die verlede was Romeine en Jode immers aartsvyande.
Hulle het hewig teen mekaar gestry. Wel, as die Jode getolereer
word, ja selfs deur die Romeine beskerm word, dan mag jy tog
verwag dat die Christene ten minste dieselfde behandeling sou kry.
Hulle het hulle immers afsydig gehou van die Joodse opstand teen
die Romeine.

Maar, broeders en susters, vergeet dit maar. Ons hoor Christus
sê: Ek ken jou verdrukking en armoede. Die christene leef
konstant onder die druk van vyande. Hulle word gepla en verdruk.
Hulle kan niks begin in die welvarende stad nie. Hulle word
ekonomies uitgeskakel. Hulle word sistematies aan die kant gesit,
sodat hulle gebrek moet ly in ’n stad van oorvloed. Miskien
is hulle selfs slagoffers van bendegeweld en plunder.

Bowendien het hulle te doen met die laster van hulle wat sê
dat hulle Jode is en dit nie is nie. Die Jode is baie vyandig
teenoor die Christene. Hulle versprei allerlei laster praatjies.
Hulle tree op as informante vir die Romeinse owerhede. Hulle
spoor die owerheid aan om teen die Christene op te tree. In
’n stad soos Smirna met sy sterk bande met Rome is dit nie
moeilik nie. Die Jode is bereid om enigiets te doen om die dit
vir die Christene moeilik te maak.

In so ’n wêreldstad Smirna sou ’n mens verwag dat
die vyandskap veral van die kant van die heidene sou kom. Die
keiserverering stel die Christene mos voor ’n onmoontlike
keuse. As Christen weet jy immers jy net die enige ware God mag
aanbid. Jy mag geen ander gode langs Hom plaas nie. In Smirna
word egter talryke gode langs mekaar geplaas. Daaronder het jy
die godin Roma en die vergoddelikte keiser. Elke burger moes in
ieder geval die twee aanbid om hul politieke lojaliteit te wys.
As jy eenmaal die twee vereer het, dan mog jy enige god of godin
wat jy verkies, dien. Dit moes dus wel uitloop op ’n konflik
met die Christene met hul eksklusiewe diens aan God.

Maar, geliefdes, dis opvallend dat die konflik nie daar begin
nie. Die aanval teen die kerk kom nie in die eerste plek van die
heidene met hul veelgodedom nie, maar van hulle wat sê dat hulle
die enige ware God dien. Dit kom van mense wat sê dat hulle Jode
is. Mense wat hulle daarop beroem dat hulle kinders van Abraham
is. God se besondere volk. Teenoor Christene en heidene het hulle
aanspraak daarop gemaak dat hulle die uitverkore volk van die
enige ware God is. Hulle bely tog volgens Deut 6: die Here onse
God is ’n enige Here? Die vyandskap teen Christus se kerk
kom uit ’n hoek waarvan jy dit nie allereers sou verwag nie.
In so ’n stad met sy veelgodedom sou jy dit eerder van die
kant van die heidene verwag. Bowendien is daar geen verwantskap
tussen Jode en Christene nie? Hulle gaan tog terug op dieselfde
Ou Testamentiese geskrifte? Bid hulle nie tot dieselfde God nie?
Tog begin die vyandskap van die kant van hulle wat sê dat hulle
Jode is. En dit is ’n fanatiese vyandskap. Hulle is bereid
om alles te doen om die Christene te verneder of uit te roei.
Hulle maak die Christene verdag met hul lasterlike beskuldigings.
Hulle kla hulle aan vir verset teen die Romeinse owerheid. Daarin
bly hulle trou aan hulleself. Het hulle Christus nie op dieselfde
wyse weerstaan nie? Toe Pilatus geprobeer het om Jesus Christus
vry te laat het hulle uitgeroep: as u Hom loslaat, is u nie die
keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in
verset teen die keiser (Joh 19:12).

Die Jode set die heidene teen die Christene op. Hulle sweep
die mense op teen die Christene. En die situasie sal nog erger
word. Christus sê dat sommige van hulle in die gevangenis gewerp
sal word. Die druk sal toeneem. Hulle lewe sal aan alle kante
bedreig word: armoede, lastering, gevangenskap. Selfs die
grootste offer sal van hulle gevra word: hul eie lewe. Daarom:
Wees getrou tot die dood toe.

Ongeveer ’n halwe eeu later sal Policarpus die opsiener
van die gemeente te Smirna as martelaar gedood word. Dan sal ook
duidelik wees hoe aktief die Jode betrokke is by die vervolging
van die Christene. Dis die Jode wat die menigte opsweep om die
dood van die christelike opsiener te eis. Hulle lei die geroep
van die menigte: dis die leraar van Asië, die vader van die
Christene, die verwoester van die gode, wat baie mense leer om
nie offers te bring of te aanbid nie. Policarpus moet kies: Óf
aan die keiser offer óf verbrand word. Policarpus gee dan die
geloofsantwoord: 86 jare het ek Christus gedien en Hy het my
nooit beskaam nie. Sal ek nou my Koning, wat my gered het, verloën?
Nooit nie! So het hy as martelaar gesterwe. Die geskiedenis
vertel ons dat duisende hom gevolg het op die pad van
martelaarskap.

Hoe is dit moontlik dat die vyandskap juis begin van die kant
van hulle wat teruggaan op dieselfde Ou Testamentiese geskrifte?
Ja, hoekom vorm twee aartsvyande, die Jode en die heidene, ’n
bondgenootskap teen die Christene? Hoekom span hulle nou saam?

Christus verklaar vir ons die situasie. Hy laat ons agter die
skerms kyk. Hy wys op die kragte wat daar aan die werk is. Dit
bring ons by die tweede gedagte van die preek: die agtergrond van
die vervolging.

Die felste vyande van die kerk noem hulleself Jode. Hulle maak
daarop aanspraak dat hulle God se uitverkore volk is. Hulle noem
hulleself nog die kerk. Maar in die ware sin van die woord is
hulle nie Jode en nie die kerk nie. Soos Paulus skryf in Rom 2:
"nie hy is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en
nie dit is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is
nie, maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en
besnydenis is die van die hart, in die gees, nie na die letter
nie" ( Rom 2:28,29). Geestelik gesproke is dit nie die
natuurlike nakomelinge van Abraham wat Jode is nie, maar hulle
wat die geloof van Abraham deel.

Hulle sê dat hulle Jode is, maar hulle is feitelik ’n
sinagoge van die Satan. Hulle noem hulleself God se volk, maar in
werklikheid is hulle volgelinge van Satan. Hulle maak aanspraak
daarop dat hulle die kerk is, maar hulle is ’n vergadering
van die groot teenstander van God. Christus het reeds iets
dergeliks gewys tydens sy aardse bediening. Die Joodse leiers het
hulle daarop beroem dat hulle kinders van Abraham was. Jesus sê
vir hulle: "As julle kinders van Abraham was, sou julle die
werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe
te bring….As God julle vader was, sou julle My liefhê, want
Ek het uit God uitgegaan…Julle het die duiwel as vader, en
die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n
mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid
nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie" (Joh 6: 39-44).

Die Jode wat Christus aanspreek, die Jode in Smirna en dit
geld ook vir die moderne, skrifkritiese, liberale Christene van
vandag, aanvaar Jesus Christus nie. Hulle verloën Christus se
lyding en dood vir die sondes van sy volk. Hulle wil nie hoor van
versoening deur voldoening nie. Hulle verloën Christus se
opstanding en verheerliking. Hulle ontken dat Hy die Seun van God
is. Dit beteken dat hulle ook God die Vader verloën. Hulle
beweer dat hulle die enige ware God dien, maar hulle ken Hom nie
soos Hy homself in die Skrifte geopenbaar het nie. Getuig die
Skrifte nie van die Christus nie, dat Hy moet ly, sterf en op die
derde dag moet opstaan nie. Die merendeel van die Jode het die
groot teenstander van God gevolg, die satan, de vader van alle
leuen, en die mensemoordenaar van die begin af. Hulle is ’n
sinagoge van die Satan.

Gemeente, dit verklaar hul laster teen die Christene en dat
hulle bereid is om enigiets te doen om die Christene uit te roei.
Hulle is vol van haat teen Christus en daarom ook teen sy kerk.
Die vyandskap teen die ware kerk kom veral van hulle wat beter
kon geweet het, hulle wat sê dat hulle God dien, hulle wat hulle
daarop beroem dat hulle Jode is teenoor die veelgodedom van die
heidene. Hulle weerstaan die wat die Skrifte lees soos dit gelees
behoort te word en die wat werklik die Skrifte glo, as die
evangelie van die versoening deur Jesus Christus.

Dis presies wat satan haat. Hy kan die hart van die evangelie:
versoening deur Jesus Christus nie uitstaan nie. Julle moet as
kerk weet dat satan agter al die vyandskap staan. Hy inspireer
teenstanders. "Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed
nie, maar teen die geestelike magte. Satan hul leier is baie slim
en gemeen. Word hy nie die duiwel genoem nie, wat lasteraar
beteken nie? Die duiwel weet hoe hy mense aan sy kant kan kry. Hy
weet hoe om mense op te stook teen die ware volk van God.

So kan julle verstaan, geliefdes, hoe die aartsvyande Jode en
heidene nou skielik saamspan teen die ware kerk van Christus. So
kan julle verstaan waarom die heidene en die valse kerk mekaar
kan vind in hul teenstand teen die kerk van Christus en teen die
ware christelike etiek. Albei het satan, die duiwel as hul vader.
Albei dien die groot verleider en moordenaar. So kan die Jode met
hul geloof in die een God saamspan met die heidene wat in
meerdere gode glo. Dit lyk slegs so dat hulle die ene ware God
dien. Feitelik glo hulle in ’n beeld van God, ’n beeld
van satan hulle ingeprent het en nie die enige ware God soos Hy
hom in die Skrifte geopenbaar het nie.

En wanneer jy eenmaal ’n beeld van God gaan dien pleks
van die ware God self, het jy geen rede om die eksklusiewe diens
van God streng op te neem nie. Dan sal dit geen probleem wees om
kompromieë aan te gaan nie. Veral as jou vryheid en welvaart in
geding is. Dit word dan ’n realistiese politiek genoem. Jy
moet mos realisties wees. Jy moet tog begrip opbring vir jou nuwe
maghebbers en jou aanpas aan die nuwe situasie. Daarom is die
Jode bereid om konsessies te maak in antwoord op die konsessies
van die Romeinse owerheid. Daarom is hulle bereid om ’n
bietjie wierook vir die keiser te brand. In verskeie sinagoges
het die Jode selfs kranse en skilde aangebring ter ere van die
Romeinse keiser. Hulle het geen moeite met die owerheid nie en
kan rustig hul eie godsdiens uitoefen so lank as hulle maar hul
lojaliteit aan Rome wys deur die keiser te vereer. Julle sal
verstaan dat kinders van satan geen probleme het met hierdie een
konsessie nie.

Geliefdes, deur die Jode dit te laat doen, het die duiwel dit
baie moeiliker vir die troue kerk van God gemaak. As die Jode met
hul eksklusiewe godsdiens bereid is om saam te doen met die
keiserverering, waarom sou die christene dit nie kan doen nie? As
die ander kerke , as die moderne liberale christendom sekere
dinge kan aanvaar, waarom moet ons dan aan die kant bly staan?
Dit word baie verleidelik. Jy hoef net ’n klein bietjie saam
te doen, jy hoef slegs ’n minimale formaliteit te verrig en
jou vrede en voorspoed is gewaarborg. In ons multikulturele
samelewing hoef jy in die onderwys net ’n klein offer te
bring op die altaar van die veelgodsdienstigheid. Jy kan daarnaas
nog rustig jou eie godsdiens beoefen en jou geloof in Jesus
Christus uitleef. Vir die owerhede is dit gewoon onbegryplik dat
jy die verering van die keiser eenmaal per jaar sou weier.
Behalwe die keiser het die Romeine tog ook ander gode gedien.
Waarom kan die christene nie dieselfde doen nie? Die Jode kan dit
wel, waarom die Christene nie? So word die Christene gesien as
spelbrekers, fanatiese, onverdraagsame mense. Laat hulle dan maar
die gevolge daarvan voel. Die duiwel probeer om God se volk te
verlei om tog die een konsessie te maak. En as hulle hulle nie
laat verlei nie, dan gebruik hy geweld teen hulle. Christus wys
hulle daarop wanneer Hy sê: "kyk, die duiwel gaan sommige
van julle in die gevangenis werp."

Let daarop dis die duiwel wat die lewe van die gelowiges
moeilik maak, ook vandag bv via verleiding van die kant van die
valse kerk, die liberale teoloë. En as hy sy sin nie kry nie,
via geweld, via vervolging.

Maar geliefdes, Christus sorg vir die oorwinning. Satan mag
rondgaan as ’n leeu op soek na prooi, maar Christus is die
oorwinnaar. Dis die derde gedagte: die oorwinning.

Let op die titels wat Christus homself in hierdie brief gee.
"Dit sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend
geword het." Baie toepaslike en vertroostende titels in die
situasie. Die vervolgde kerk het die eerste en die laaste aan sy
kant. Die eerste en die laaste, net God kan dit van homself sê.
Jesus Christus maak homself as God bekend. Hy was voor alle
dinge, voor die geskiedenis begin het en Hy sal ook daar wees
wanneer hierdie tydperk afloop. Hy staan bo die tyd en beheer die
hele geskiedenis. Satan mag slim en fel wees. Maar Christus is
hom voor. Satan mag jou vervolg en jou in die tronk werp. Maar Ek
is in beheer, sê Christus. Die ruimte en tyd wat satan het om te
handel word deur My bepaal. Satan kan nie meer doen en langer
optree as wat Ek hom toelaat nie. Ek het hom tien dae gegee om op
te tree. "Julle sal 10 dae lank verdrukking hê". Tien
dae, beteken ’n beperkte tyd. ’n Relatief korte tyd.
Tien dae is nie tien jare nie. Tog is dit ernstig genoeg. Tien is
’n simbool van volheid, kompleetheid.

Tien dae. Christus wys dat Hy ’n sekere definitiewe
periode vir die duiwel bepaal het, waarin hy die kerk mag vervolg.
Satan het die periode nie self bepaal nie. Hy het geen mag uit
homself nie. Sy mag en gesag is beperk en word aan hom deur God
gegee.

Wat ’n groot troos vir die kerk van alle tye. Satan het
ongetwyfel baie mag hier op aarde. Hy sal die lewe vir die
getroue gelowiges moeilik maak. Ons kan dit verwag. Maar onthou
net: die mag van die duisternis is heeltemal onder die beheer van
Hom wat wandel tussen die 7 goue kandelaars. Jou koning het alle
mag ontvang in hemel en op aarde. Ook mag om die duiwel, die
groot teenstander van God en sy kerk, te beheer. Hy is die eerste
en die laaste. Hy is Satan voor maar ook: Hy sal die laaste op
die slagveld wees. Hy sal die oorwinnaar wees. Is Hy nie diegene
wat dood was en lewend geword het nie? Hy het die dood oorwin. Hy
het nou die sleutels van die dood en die doderyk. Hy het die mag
om oop te maak en om toe te sluit, om te oordeel en om te bevry.

Wat ’n magtige Here en Verlosser het ons. Daarom: Vrees
vir niks wat jy sal ly nie. Satan probeer om jou tot sonde te
verlei. Ek het hom oorwin. Hy is aan my onderworpe en Ek gebruik
hom vir my doeleindes. "Sodat julle op die proef gestel kan
word."

Wanneer jy na jouself kyk dan kan jy inderdaad gaan vrees. Wie
is bereid om sy lewe vir sy geloof te gee? As jy let op eie krag
dan kan vrees jou hart vervul. Sal jy in staat wees om te
volhard? Maar Ek Christus is besig met julle, om julle op die
proef te stel. Nie om jou krag te ontdek nie, maar om my krag in
julle te openbaar. Sodat die krag van my genade in hierdie wêreld
sigbaar mag word en my naam verheerlik word. Ag dit as ’n
eer om deur beproewinge heen te gaan. Jy word waardig geag om
’n bewys van my krag te wees. Laat my daarom in jou werk tot
die einde toe. Ook al moet jy jou lewe daarvoor verloor. Wees
getrou tot die dood toe. Bly op my vertrou, die eerste en die
laaste, die oorwinnaar van die dood. Vrees nie. As Ek die pad met
jou wil gaan, sou Ek jou dan verlaat? As Ek satan jou in die
tronk laat werp of selfs laat doodmaak, sou Ek jou dan alleen
los? Vertrou op My. Dan is jy ryk, maak nie saak hoe arm jy na wêreldse
maatstawwe mag wees. Dan is jy ryk in genade en in die Gees. Die
eerste dood, die liggaamlike dood, kan jou geen skade toebring
nie. Dit gee my die geleentheid om jou te verwelkom in my hemelse
paleis. En wat meer is: die tweede dood kan jou niks maak nie. Ek
sal jou die kroon van die lewe gee. Die oorwinningskroon.

Daarom geliefdes, wees getrou selfs tot die dood toe. Bly jou
Here en Heiland getrou bely. Hoe groot die verleiding, die
vyandskap en teenstand ook al mag wees. Wees nie bang vir hulle
wat die liggaam kan doodmaak nie. Vrees Hom wat die sleutels van
die dood en die hel het. Die eerste en die laaste, wat dood was
en lewend geword het. Wie volhard, hom sal Ek gee die kroon van
die lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)