Mense aanbid liewer hulleself as God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-08-24
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Sondag 34 en 2 Timótheüs 3:1-5

Ds. C. Kleyn - Sondag 24 Augustus 2003

Lees: 2 Timótheüs 3; Sondag 34.
Sing: Ps. 99:1,2; Ps. 99:3-5; SB. 26:1,2;
Ps. 115:3,6,7; Ps. 115:8,9

Tema: Mense aanbid liewer hulleself as God.

Ons sien dit:

  1. by die self liefde;
  2. by die liefde vir geld; en
  3. by die liefde vir genot.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand maak ons weer ’n begin met die tien gebooie. Ons
begin met afgodery: "jy mag geen ander gode voor my aangesig
hê nie." Om ander gode, afgode te hê, klink dit nie baie
primitief nie? Ons leef in die 21ste eeu. En mense van die 21ste
eeu maak tog geen afgode meer nie en plaas die afgode tog nie in
hul huise of kerke nie? Moet ons nie hierdie gebod oorslaan en
maar onmiddellik na die volgende oorgaan nie?

Wag ’n bietjie. Luister hoe die Kat afgodery omskryf.
"Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy
woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê
waarop jy jou vertroue stel." As dit afgodery is, iets
waarop ons ons vertroue stel, dan kan ons ’n eindelose lys
van moderne afgode skep. Al die dinge waarop mense hul vertroue
stel. Al die sake waarin mense met volle kragte hulleself inwerp.
Die besittings wat ons het. Die dinge waarvoor ons werk. Byna
enigiets kan ’n afgod word.

In 2 Tim 3: 1-5 noem Paulus hierdie afgodery probleem. Hy
vertel ons dat in die laaste dae swaar tye sal kom. En die laaste
dae is nou, die periode tussen Christus se koms in die vlees en
sy wederkoms. Hierdie laaste dae sal stresvol wees vanweë
afgodery.

Paulus noem in die verse 18 dinge wat die laaste dae moeilik
sal maak. Die kern van die 18 dinge is afgodery. Let op die
eerste en die laaste uitdrukking wat gebruik word. Die eerste is
dat die mense liefhebbers van hulleself sal wees. Die laaste wat
genoem word is dat die mense meer liefhebbers van genot sal wees
as liefhebbers van God (vers 4). Ja, vier van die uitdrukkings
word saamgestel met die woord liefde. Dit suggereer dat iets
fundamenteel verkeerd met die liefde is. Die liefde van die mense
is verkeerd gerig. Pleks om liefhebbers van God te wees, is hulle
liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld (die woord
geldgieriges) en liefhebbers van genot.

Hier het ons drie tiperende afgode, drie baie moderne gode.
Almal verbind aan die self aanbidding. Dis waar alles op neerkom.
Daarop wil ek vanaand ook fokus.

Ek verkondig die woord van die Here onder die tema: Mense
aanbid liewer hulleself as God. Ons sien dit (1) by die self
liefde, (2) die liefde vir geld en (3) die liefde vir genot.

Paulus noem eerstens dat mense liefhebbers van hulleself sal
wees. Hulle sal self gerig wees en besorg oor hul eie belange.

Laat my sê dat elke mens ’n sekere maat van self respek
moet hê. Ek kies bewus nie vir die uitdrukking self liefde of
selfbeeld nie vanweë die humanistiese konnotasies wat aan die
woorde verbind is. Asof elkeen homself moet hoogag, goed oor
homself moet voel, maak nie saak wat hy is of wat hy doen nie.

Vir christene is dit beter om van self respek te praat. Dis
nie reg om te suggereer dat ons niks anders as ellendige sondaars
is nie, met geen waarde nie. Daar is ’n plek vir dit, maar
dit is net een kant van die verhaal. Die ander kant van die
verhaal is dat God ons na sy beeld geskep het. Hy het ook gekies
om ons wat glo te red. Hy het sy liefde na ons laat uitgaan. In
Christus is ons dierbaar, waardevol, geliefdes. Daarom moet ons
nie altyd net sleg oor onsself dink nie of onsself verag as
waardelose skepsels nie. Ons het ’n gesonde maat self
waarde, self respek nodig. Ons mag dankbaar wees vir die manier
waarop God ons gemaak het, ’n kunswerk van God. Ons mag die
gawes, wat God vir ons gegee het, erken en met plesier die gawes
tot sy eer gebruik. Ons mag bepaalde take met vertroue tegemoet
tree in die wete dat God ons die vermoë gegee het om in daardie
area goed te presteer. En bo alles mag ons ons daarin verheug dat
Christus ons verlos het en ons nuut gemaak het.

Waar Paulus oor praat is nie selfrespek nie, maar humanistiese
selfliefde. Jy is dan heeltemal vol van jouself. Waarskynlik ken
jy wel daardie tipe mense. Die enigste waaroor ek dan wil praat
is myself. Dis ek voor en ek agter. My enigste belangstelling is
my belange, my probleme, my toekoms. Ek soek slegs my eie
vooruitgang en my eie welsyn. Ook al is dit ten koste van iemand
anders. Liefhebbers van hulleself.

Sulke mense gee die Here Jesus beslis nie die eerste plek in
hul lewe nie. Paulus sê vir die Filippense dat die mense almal
hul eie belange soek, nie die van Christus Jesus nie. (2:21).
Hier is die liefde ’n volledige karikatuur is van die liefde
wat die wet vervul. Die Bybelse liefde is dit: om die Here jou
God met jou hele wese lief te hê en jou naaste soos jouself.
Maar hier is dit: ek eers en ek laaste en ek daar tussenin.

Is dit nie ’n goeie beskrywing van ons selfgerigte
samelewing nie. Iemand uit die westerse wêreld het gepraat van
’n ek generasie wat nou leef en grootword. Die self
aanbidding het groot opgang gemaak. Die reklamemakers slaan daar
groot munt uit. Die belangrikste motto is: sorg vir no 1. En in
die kerk word ons ook maklik ingetrek in hierdie soort afgodery.
Van alle kante hoor ons: jy moet ’n hoë dunk van jouself hê;
voel goed oor jouself, wees jouself, sorg daarvoor dat jy jou
deel kry. Die kinders word groot daarmee. Hulle groei op om
hulleself as die middelpunt van hul wêreld te sien.

Self liefde is die sleutel woord wat ons ingehamer word. Alles
is gerig op myself. Alles sirkel rond myself. Uitdrukkings soos
selfverloëning, die navolging van Christus, jou kruis dra, pas
nie in so ’n klimaat nie.

Broeders en susters, baie van vandag sy godsdienstigheid pas
hom aan by daardie selfgerigheid. Mense soek ’n kerk wat
hulle goed oor hulleself sal laat voel. So bedink verskeie kerke
programme wat presies dit sal doen. Die gevolg daarvan is wat
sommige mense noem die rond bewegende deur sindroom. Sodra jou
persoonlike behoeftes nie meer bevredig word nie, verlaat jy die
kerk en soek jy na ’n ander kerk. Let daarop wie die
middelpunt in hierdie tipe christendom is: nie God nie, maar die
mens met sy begeertes en behoeftes. Daarom lyk dit asof die leer
van die kerk, die leer van Christus nie meer so belangrik is nie.

’n Christelike outeur skryf oor ’n gesprek wat hy
met ’n ou bekende gehad het. Die persoon het hom by ’n
sekte aangesluit. "Waarom tog?" vra ek hom. "Jy is
’n christen en dit is ’n sekte." "Werklik?"
antwoord die vriend verbaas. "Natuurlik is dit so", sê
ek vir hom. "Hulle glo nie eers in die opstanding van Jesus
Christus of selfs in die een ware God nie." "Maar ek en
my vrou hou daarvan" sê hy. "Na so ’n samekoms
gaan ons altyd huis toe met ’n beter gevoel oor onsself."

Wel, geliefdes, hierdie 'beter gevoel' godsdiens kom neer op
self aanbidding. Dis nie die aanbidding van die enigste ware God
volgens die Skrifte nie. In hierdie tyd van verbruikers
mentaliteit kan ’n mens nie te veel eise stel nie, anders
verloor jy lidmate, word gesuggereer. Wanneer die kerk wel met
die historiese skriftuurlike posisie kom, die posisie wat ’n
mens se vryheid om te doen wat hy of sy wil beperk, word die kerk
daarvan beskuldig dat hy nie by die tyd is nie, nie meer in
voeling met die lewe is nie. Geestelike verbruikers stel belang
nie in dit waarvoor die kerk staan nie, maar in die bevrediging
wat dit vir hulle kan gee. Self aanbidding. Maak nie saak hoe
aantreklik dit mag wees nie. En maak nie saak hoe entoesiasties
sulke aanbidders oor hulle betrokkenheid is nie.

Dalk vind jy dit moeilik om dit as afgodery te sien. Dis tog
niks anders as selfsug nie. Maar is selfsug nie die wese van alle
afgodery nie? Dink aan Adam en Eva toe hulle deur satan verlei is:
"eet van die boom, want as jy dit doen, dan sal jy soos God
wees." Soos God wees. Hoe aantreklik is dit nie? Soos God.
Sodat niemand my meer kan vertel wat ek moet doen of wat ek nie
moet doen nie. Ek kan dan ’n wet vir myself wees, my eie god.
Soos God wees, sodat ek die middelpunt van my wêreld kan wees.
Ek op die troon, pleks van die Here Jesus op die troon van my
lewe. Dis slegs ’n ander manier om te sê: liefhebbers van
hulleself.

Gemeente, die tweede liefde wat Paulus noem is die liefde vir
geld. Dit die afgod wat die bybel Mammon noem.

Ons weet dat daar ’n legitieme plek vir geld is. Die
christelike geloof is nie teen geld of teen besittings nie. Geld
is op homself nie sleg nie. God gee dit om tot welsyn van onsself
en ander te gebruik. Sodat ons Hom en ons naaste daarmee kan dien.

Paulus praat hier oor hulle vir wie geld ’n manier van
lewe word. ’n Obsessie. Geld, geld, geld. Mense wat leef vir
betaaldag. Hulle werk en verdien nie geld om te leef nie, maar
hulle leef om geld te maak. Vir hulle is geld nie ’n dienaar
nie. Dit het hul meester geword. Geld kan op verskillende maniere
gegryp word. Die ergste van al is die kriminele maniere: Diefstal
en afpersing. Belasting ontduiking en uitbuiting van kopers en
werkers. Bedrog, korrupsie, omkoopgeld. Alles van ’n
roofoorval tot die steel uit ma se beursie.

Maar daar is ook baie verfynde maniere om vir geld te leef. As
’n nasie spandeer ons miljoene rande, nie per jaar nie, ook
nie per maand nie maar miljoene rande in slegs ’n week aan
dobbelary. Dobbelspeletjies, lotto kaartjies en weddenskappe.
Alles vir die ontwykende rand. Wie weet? ’n Volgende keer
word my no miskien getrek. Liefhebbers van geld.

Aan die wortel hiervan is ons hebsug en begeerlikheid. Tot
tweemaal toe noem Paulus dit afgodery. Daar is natuurlik maar
’n kort pad van die liefde vir geld na die liefde vir al ons
materiële besittings. Materialisme. Skielik word hierdie
afgodery baie reëel en lewend vir ons. Ons kan so maklik in
beslag geneem word deur die dinge wat ons het of wat ons nie het
nie, maar voel ons sou moet hê. Alles is daarop gerig om in te
speel op hierdie hebsug. Ons word oorspoel met advertensies,
pryslyste en krediet kaart fasiliteite. Bemarking is ’n
groot besigheid wat ons samelewing aan die gang hou. Wat ons los
met die indruk dat ons dit of dat nodig het om ’n meer
bevredigende en vol lewe te kan hê. Dit laat ons ongelukkig voel
indien ons dit nog nie het nie.

Kyk maar na die gebrek aan blydskap, dankbaarheid,
tevredenheid, en dit onder mense wat tog in die reel welgesteld
is. Ek vergelyk dan voortdurend my situasie met die van ander wat
beter af is en voel daarom ontevrede. Ek verdien nie soveel as
die suksesvolle besigheidsman nie. Ek kan nie die motor, die
huis, die vakansie bekostig nie wat ander wel kan bekostig. Pleks
om te kyk na God wat ook aan my gegee het, selfs meer as die
basiese behoeftes van die lewe. Dis puur afgodery. Liefde vir
geld, materialisme. En ’n mens raak gou daarin verstrik in
ons materialistiese samelewing.

Dit begin reeds op ’n jong leeftyd. Jong kinders het ook
die materialistiese drang in hulle om meer te wil hê, beter en
groter. Het dit u ooit opgeval dat hoe meer jy hulle gee, hoe
minder tevrede hulle dikwels is. Kinders wat bederf is, is
dikwels ondankbare kinders. Wat ’n verantwoordelikheid vir
ons as ouers om die natuurlike begeertes van die kinders te
beteuel en om hulle te leer om dankbaar en tevrede te wees.
Anders sal die kinders outomaties groot word as liefhebbers van
geld, materialiste, dus afgodedienaars. Die Here sê: "jy
mag geen ander gode voor my aangesig hê nie," geld nie, ook
nie aardse besittings nie.

Die derde verkeerde liefde wat Paulus in 2 Tim 3 noem is
liefde vir genot. Dis weer ’n afgod wat goed by ons tyd pas.
Gedrag is gerig op genot.

Ek sê weer: moenie Paulus misverstaan nie. Mense het dikwels
gedink dat die christelike geloof teen genot en plesier is. Soms
kan ons behoorlik negatief of wantrouend teenoor plesier staan.
As daar pret is…dan moet dit wel sondig wees. Dis nog
dikwels die beeld wat die wêreld van die kerk het. ’n Klomp
spelbrekers, pretbederwers.

Plesier en pret het ’n legitieme plek as gawes van God.
Daar is niks verkeerds met plesier en vermaak, as dit goed
gebruik word nie. Dink aan die bekende verse uit Prediker 11:
"Soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te
aanskou. Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in die
almal verheug" (vers 7,8). En: "verbly jou, o
jongeling, in jou jeug en laat jou hart vrolik maak in die dae
van jou jonkheid" (vers 9). Paulus veroordeel die
liefhebbers van genot saam met al die ander sondaars. Dit beteken
egter nie dat Paulus teen plesier is nie.

Die probleem is weer dat dit ’n doel in homself word.
Genot neem dan voorrang in die lewe. Dit het ook in ons tyd
’n populiêre afgod geword. Ons samelewing het hedonisties
geword, gekenmerk deur die sug na genot. Dis presies waaroor
Paulus praat: hedonisme. Die woord wat Paulus gebruik sluit ook
die woord in waaruit die woord hedonisme ontstaan het. Hedonisme
wil uiteindelik niks anders as genot en plesier nie.

Vir verskillende mense is ‘harde werk’ ’n vuil
woord. Hulle wil so min as moontlik inspanning vir soveel as
moontlik geld. Die lewe moet tog ’n plesier wees? Alles moet
plesierig wees. Die skool waar ek na toegaan. Die klasse, lesings
wat ek ontvang. Die werk wat ek moet doen. Die kerk moet ’n
genot wees. Bybelstudie verenigings en katkisasies moet plesierig
wees. Alles moet op genot gerig wees. Vra asseblief nie teveel
inspanning van my nie. Dit moet mos plesierig bly.

Hoeveel mense leef nie vir plesier nie. Onmiddellike
bevrediging. Koop nou, betaal later. Paulus het iets daaroor te sê
in Fil 3:19. Hy praat van hulle wat wandel as vyande van die
kruis van Christus. En dan voeg hy daaraan toe: "Hulle god
is die buik en hulle eer is in hulle skande."

Hierdie afgod genot het baie verskillende gedaantes: alkohol,
lekker eet, partytjies. Vir ander het sport die alles opeisende
passie geword. Die afgod waarvoor alle ander dinge opgeoffer moet
word. Die afgode van genot kan enigiets wees wat ons sinne
bevredig.

In hierdie verband kan ek opnuut wys op die fokus in baie van
vandag se godsdienstigheid. Wat soek baie mense in kerke in
hierdie tyd van verbruikers mentaliteit? Hulle soek iets wat
hulle bly laat voel. Nie die eer van God nie, maar jou eie
persoonlike genot, jou gevoel van geluk het die hoogste goed
geword. Wat baie soek is ’n geestelike sosiale klub, ’n
instelling wat plesierige verhoudings en ondersteuning gee, maar
wat nie meng met hoe ek wil leef en wat ek moet glo nie. So
’n instelling verander die karakter van die kerk. Dit word
’n mensgerigte saak. Pleks om ’n aanbiddende gemeente
te wees, word dit ’n sentrum van bemoediging. Moenie my
verkeerd verstaan nie. Die kerk moet sekerlik troos en
bemoediging bied. Egter nie op ’n humanistiese manier nie,
maar met die woord van die lewende God, langs die pad van
aanvaarding van God se verlossingswerk in Jesus Christus.

Pleks van pilaar en grondslag van die waarheid te wees, word
die kerk ’n hutspot van alle soorte subjektiewe idee. Pleks
om hom te rig op heiligmaking – dis mos God se wil: ons
heiligmaking (1 Thess 4:3) - rig die kerk hom op persoonlike
geluk, vreugde. Die boodskap van Christus die gekruisigde word
’n boodskap van Jesus as die vriend wat ons help om geluk en
self vervulling te vind. Let op die verandering van fokus, van
God na die mens. Dit kom neer op self aanbidding, afgodery.

En broeders en susters, laat ons nie dink dat dit ver van ons
afstaan nie. Wat soek jy in die kerk? Waarom kom jy kerk toe? Wat
is jou fokus? Is dit werklik die verheerliking van jou God of is
dit jou eie geluk en bevrediging? Natuurlik is geluk en blydskap
waardevolle dinge in die kerk. Maar dit behoort nie die fokus te
wees nie. Dit moet gesien word as ’n neweproduk. As ek
werklik op my God fokus, en sy verheerliking soek, dan sal ek my
ook gelukkig gaan voel, dan sal ek my ook in die Here verbly.

Hoe maklik is dit om die volgorde om te keer. Die ek
mentaliteit gaan ons nie verby nie. Ons stel ook maklik meer
belang in wat ons daaruit ontvang as in wat God daaruit ontvang.
Ons eis dan dat ons ontvang, pleks dat ons daarop rig om te gee,
om ons heilige God die eer te gee wat Hom toekom. Dan val ons in
self aanbidding. Afgodery.

Geliefdes, Paulus stel die drie vorme van self liefde teenoor
die liefde vir God. Hy sê dat mense liefhebbers van hulleself,
van geld en van genot sal wees, meer as liefhebbers van God. Dis
dus duidelik dat Paulus besig is om te praat oor afgodery. Die
dinge het die plek van God ingeneem. Hulle het die eerste plek in
ons lewe ontvang. Geen wonder dat die apostel Joh skryf: "my
kinders, bewaar julleself van die afgode."

Die christelike lewe is ’n voortdurende stryd teen die
afgode van die tyd. Die wêreld sê:

Bemin jouself; sorg vir no 1, vir jouself

Jaag na geld, gryp wat jy kan, terwyl jy dit kan

Soek genot, eet, drink en wees vrolik, want more kan dit te
laat wees.

God sê: hou jou ver van hierdie manier van lewe.

Vermy sulke afgodery. Jy mag geen ander gode voor my aangesig
hê nie. Vertrou op My alleen, julle Skepper en Verlosser.
Onderwerp jou aan My met alle nederigheid en geduld. Verwag alle
goeie dinge van My alleen. Bemin, vrees en eer My met jou hele
hart.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)