Gedenk die Sabbatdag deur dit te heilig.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-10-26
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

Sondag 38

Ds. C. Kleyn - Sondag 26 Oktober 2003

Lees: Jesaja 58; Sondag 38.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 95:1,2;
Ps. 92:1-4; Ps. 92:5-7.

Tema: Gedenk die Sabbatdag deur dit te heilig.

  1. Die dag is die dag van die Here; en
  2. Die dag is ’n seën vir die mens, ’n
    verlustiging.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar julle die Sondag? Wat beteken die dag vir julle?
Wat doen julle tydens die dag? In ons samelewing het die Sondag
as dag van die Here vir baie soos die vrye Saterdag geword.
’n Dag van die mens. ’n Dag vir werk en rekreasie.
’n Dag van sport en skoue.

Maar nou terug na onsself. Hoe is dit by ons? Ook onder ons
merk ’n mens ’n behoorlik verskil tussen die lidmate en
gesinne. Deurgaans stem ons saam oor die eredienste, die twee tot
drie ure per Sondag. Maar daarna word die verskille duidelik.
Sommiges kan nie wag om hul sondagse klere uit te trek nie.
Sommige lidmate gaan rustig winkel toe of vul rustig hul motor op
by die petrol stasie. Sommige het geen enkel probleem om ure voor
die TV te sit om sport wedstryde of ander programme te volg.
Hulle het tog kerk toe gegaan? En is die Sondag ook nie ’n
dag van ontspanning nie? Soms kan daar in die gesin onenigheid
tussen ouers en kinders oor hierdie dag wees. En as ons dan met
vakansie gaan, hoe vul ons dan die dag in? Onthou, gemeente,
Satan sal alles in sy vermoë doen om te verhinder dat die
spesiale dag sy sentrale rol in die lewe van God se kinders
vervul.

Wat moet ons daaraan doen? Moet ons ’n lys opstel van
dinge wat op daardie dag gebied en verbied is? Sodat alle
gereformeerde gesinne weet wat van hulle verwag word? Dis nie hoe
God dit doen nie. Hy gee ’n paar duidelike beginsels.
Daarmee kan en moet ons dan gaan werk. ’n Liefdevolle hart
is vindingryk. God wil nie hê dat die dag onder ’n kompleks
lys van reëls bedolwe word nie. God wil ons herinner aan dit
waaroor dit gaan op die sabbat. Dit moet ons dan ook steeds voor
oë hou.

Daarom wil ek vanaand saam met julle teruggaan na die
beginsels wat God gegee het. Dan word die dinge weer duidelik en
eenvoudig. Dan is verskeie vrae geen vrae meer nie. ’n
Liefdevolle hart sal dan sy weg vind. Laat ons dan luister na God
se onderrig: Gedenk die Sabbatdag deur dit te heilig.

  1. Die dag is die dag van die Here
  2. Die dag is ’n seën vir die mens, ’n
    verlustiging

Geliefdes, ons leef in ’n besige samelewing. Hoeveel tyd
het ons vir mekaar? Een van die groot oorsake van verdriet en
lyding by kinders is dat hul ouers geen tyd vir hulle het nie. Pa
en ma is te besig met ander dinge. Vroue kla ook dat hul mans
geen of min tyd vir hulle het. Dis pynlik om te moet hoor: Ek het
geen tyd vir jou nie. Meestal sê ons dit nie vir mekaar met
woorde nie, maar ons wys dit deur aanhoudende verwaarlosing.
Daardeur sny jy ander uit jou lewe uit. Wat ’n belediging.

Aan die ander kant, is daar ’n groter kompliment as om te
sê: ek het altyd tyd vir jou, ek sal altyd vir jou tyd maak?
Daardeur wys jy dat die ander belangrik vir jou is. Jy wys dat jy
van hom of haar hou.

Nou geliefdes, as ons verhoudings met mense verbreek word
deurdat ons geen tyd vir die ander het nie, wat van jou
verhouding met God? As mense diep seergemaak word deurdat ons
geen tyd vir hulle het nie, hoe sal God daaroor voel as ons geen
tyd vir Hom het nie? Jy het tog tyd vir Hom wat jou gemaak het?
Jy het tog tyd vir Hom wat jou gekies het om sy kind te wees? Wat
’n groot liefde het Hy gewys daar sy eie Seun oor te gee. Jy
wil Hom tog nie beledig deur te besig te wees om vir Hom tyd te hê
nie?

Broeders en susters, tyd vir die Here, dis waaroor dit gaan in
die 4de gebod. "Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen,
maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God."
Hierdie vereiste van die Here is baie duidelik en eenvoudig. Dit
word nie gekenmerk daar ’n groot aantal reëls en
voorskrifte nie. Die vierde gebod bestaan uit 4 eenvoudige
beginsels wat geen liefdevolle hart raaiselagtig sal vind nie.
Twee van die algemene beginsels is positief en twee negatief.

Eerstens moet ons die sabbatdag gedenk. Wanneer jy weet dat
’n spesiale dag, ’n troudag of ’n jubileum (bv van
jou kind, vriend of ouers) op koms is, wat doen jy? Jy maak seker
dat jy die dag vry hou. Jy gedenk die dag. Jy maak seker dat jy
vir die dag geen ander afsprake maak nie. Jy het n troue of
jubileum om te vier. Jy wil dit nie mis nie. Dis vergelykbaar met
die dag van die Here. Wanneer jy jou planne vir werk of
ontspanning maak, hou jy die Dag van die Here in gedagte. Ook
wanneer jy vakansie planne maak. Die tyd vir die Here moet bewaak
word, in soverre jy dit as mens kan doen. Gedenk die sabbatdag.
Hou daar rekening mee, wanneer jy jou werk en vakansies beplan.
Organiseer jou tyd op so ’n manier dat die dag vir die Here
beskikbaar is.

Gemeente, die tweede positiewe beginsel is dat die dag heilig
gehou moet word. Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig. Let
daarop dat die vierde gebod praat van ’n hele dag. Nie net
van enkele ure vir die besoek van eredienste nie. Een dag in die
sewe moet heilig gehou word. Maar wat beteken dit om die een dag
heilig te hou? Daarmee bedoel die bybel dat jy die dag afsonder
van gewoon gebruik om dit aan die Here God te wy. Die tyd is daar
om die Here op ’n spesiale manier te dien. Dis ’n
sabbat van die Here jou God. Dis in die eerste plek sy dag. Hy
het op die dag beslag gelê. Dit behoort aan Hom.

Maar, broeders en susters, is dit nie ’n enge en
beperkende eis nie? Wat dink jy? Sou ’n hart wat die Here
liefhet, nie uitsien na ’n dag met Hom nie? Hou ’n kind
nie daarvan nie om ’n dag met sy vader te hê nie?
Natuurlik, hulle wat wêrelds dink, sal dit verfoei om tyd aan
God te gee. Hy wat so vir homself leef sal dit betreur om een dag
op ’n spesiale manier aan die Here te wei. Sonder liefde vir
God sal so ’n eis eng lyk en ’n sware las. Maar vir
hulle wat God liefhet is dit ’n breë pad van vryheid en
vreugde. Ek is elke week ’n hele dag vrygestel van my
normale werk om my Beminde te ontmoet en te dien.

Gemeente, behalwe die twee positiewe beginsels om die dag die
gedenk en dit te heilig is daar ook twee negatiewe vereistes. Die
twee verklaar eintlik wat dit beteken om die dag te heilig.

"Dan mag jy geen werk doen nie." Normale werk moet
nie inbreuk maak op die tyd van die Here se dag. Die tyd moet aan
die Here gewy wees. Die tyd is nie bestem vir studie vir die
skool of universiteit nie, ook nie vir die werk vir jou baas nie.
Die vierde gebod dui nie net op die kerktye dat ons die moet
heilig nie. As dit so was, dan sou ons tussen en na die dienste
heeltemal deur sport in beslag geneem kon word of sou ons terug
na ons daaglikse werk kon keer. Dis egter nie die bedoeling nie.
Die hele dag moet geheilig word. Die dag van die heilige samekoms
was die Sabbat genoem, wat rus beteken of staking van werk.
Passiwiteit is egter nie wat beoog is nie. Moenie dink dat jy die
dag heilig wanneer jy die meeste slaap of passief bly nie. Ookal
is niks fout daarmee om op die dag wat ekstra slaap in te kry nie.
Die dag is ook gegee sodat ons ons kan ontspan. Die bedoeling van
die rus van ons daaglikse arbeid is egter vernaamlik om tyd vry
te hê om ons aan die Here te gee in aanbidding en erediens om
van Hom te geniet. Bowendien is dit goed vir ons liggaam en gees
om een dag in die sewe ons werk te mag los.

Die tweede negatiewe algemene beginsel is dat ons nie ander op
die dag vir ons mag laat werk nie, nog jou seun of jou dogter,
nog jou arbeiders, nog jou diere, nog die vreemdeling wat by jou
bly. Lei hulle nie af van die doel waarvoor God die dag gegee het
nie, van die fokus op die Here nie. Dan sou jy skuldig wees aan
die ontheiliging van die dag.

In ons samelewing kan dit verleidelik wees om te redeneer dat
hy wat vreemd is aan die diens van die Here tog sal werk. Vir hom
is dit geen enkele probleem nie. Hy sal sy winkel of petrol
stasie tog oophou. Waarom sou ek dan nie van sy dienste gebruik
maak nie, sodat die dag des te meer ’n verlustiging kan wees.
Die vierde gebod verbied hierdie manier van dink. Deur te bepaal
dat ek op die dag selfs die vreemdeling nie vir my mag laat werk
nie. God se morele wet is nie net bedoel vir die gelowiges nie.

Broeders en susters, dis duidelik dat die 4de gebod feitelik
baie eenvoudig en prakties is. Moenie dit uit die oog verloor
wanneer jy te make het met die komplekse situasies van die lewe.
Die beginsels is eenvoudig en prakties. Een dag in elke week
behoort in gedagte gehou te word en afgesonder te word. Die dag
moet aan heilige dinge gewy word. Sentraal behoort te wees die
aanbidding en diens van die lewende God. Normale besighede en
rekreasie moet nie ons ure op daardie dag opsluk nie. Ons het
dinge wat mooier en beter is om te doen. ’n Kind kan
verstaan waaroor dit gaan. ’n Kind wil tyd met Vader hê.

Die beteken nie dat dit maklik is om die gebod te hou nie. Wat
’n stryd kan dit vir ons wees, met ons sondige verstand en
vlees, in ons gebroke wêreld om hierdie eenvoudige wet na te kom.

Geliefdes nadat die 4de gebod die sabbat vereistes verklaar,
word drie redes of aansporings gegee.

God wys ons eerstens op sy skepping van die wêreld. "Want
in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en
alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus."
Ons word geroep om ons Skepper, wat ses dae gewerk het en op die
sewende dag gerus, het na te volg. Die redenering is baie
belangrik. Dit wys daarop dat die 4de gebod nie net ’n
Joodse aangeleentheid is nie. Sommige mense beweer dat die Nuwe
Testamentiese christene nie meer aan die 4de gebod gebind is nie.
In hul opinie is dit tipies Joods, Ou Testamenties. Maar
geliefdes, ook al het die dag verskuif van Saterdag na Sondag,
vanweë Christus se oorwinning op die Paasdag, die gebod self bly.
Die rede wat God vir die onderhouding van die dag genoem het, het
niks te doen met iets wat tipies Joods is nie. Dit word gefundeer
op die werklikheid van die skepping. God neem ons terug tot agter
Moses en Abraham na die skepping. Vanweë die goddelike patroon
van werk en rus in sy skeppingsweek, moet ons ook ’n siklus
van arbeid en rus volg.

Die twee ander redes wat ons aanspoor om die dag van die Here
te onderhou, is dat God die dag geseën en geheilig het. "Daarom
het die Here die sabbatdag geseën." Die ‘daarom’
wys terug na die Here se eie praktyk op die skeppingsweek.
Aangesien die Skepper-Koning die sewende dag tot meerdere eer van
homself afgesonder het, het Hy die dag geseën. Daar is ’n
seën wat jy kan verkry uit die sabbatdag. Wanneer jy God se rus
ingaan saam met Hom, dan sal jy ’n seën ontvang. Watter seën
is daar in die wyding van die dag aan die aanbidding en diens van
die Here? Ons hoop dit in die tweede punt te behandel.

Eers ’n kort opmerking oor die derde aansporing wat God
gee om die dag te hou. "Die Here het die dag geseën en dit
geheilig." Die Skepper self het die een dag afgesonder. Sou
ons skepsels dan met hom daaroor twis. Sou Hy ons Skepper en
Verlosser nie besluit wat die beste vir ons is nie? Daarom:
gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig.

Nou die tweede gedagte: die dag is ’n seën vir mense,
’n verlustiging.

Ons kyk nou na die skrifgedeelte wat ons uit gelees het,
Jesaja 58. Daar bespreek Jesaja die Sabbat in sy geestelike
skoonheid. Die sabbat gebod is nie vervelig en lastig nie. Dis
juis ’n verlustiging.

Vir hulle wat die sabbat onderhou, word aantreklike beloftes
voorgehou in Jesaja 58. Die gedeelte is ’n soort
goddelike kommentaar op die woorde van die 4de gebod: "Daarom
het die Here die sabbatdag geseën." Drie geestelike seëninge
word genoem. Die eerste seën op onderhouding van die sabbat wat
genoem word is: dan sal jy jou verlustig in die Here. Christene
kan soms klaerig wees, dit lyk asof jy min vreugde in die Here
het. Dis moontlik om die eredienste te besoek, die bybel te lees
en te bid en nog ellendig en ongelukkig te wees. Miskien dat jy
dit as hard werk ervaar of plig, sonder vreugde in die Here. Het
jy dan wel verstaan waaroor dit gaan by die dag van die Here. Het
jy wel gefokus op die Here jou God. Het jy wel gesien wat Hy vir
jou is en wat jy vir Hom mag wees.

Is dit meestal nie die geval dat jy die meeste geniet van die
geselskap van mense wat jy baie goed ken nie? Die geselskap van
naaste familie en goeie vriende bring diepe vreugde. God behoort
ons vertroude Vader te wees.

Maar hoe raak jy vertroud met mekaar? Deur tyd vir die
verhouding te gee. Selfs ’n pa en ’n vriend kan ver
verwyderd raak as jy nie reëlmatig kontak het nie. Vreugde vanweë
’n verhouding vervaag as daar net af en toe kontak is. Elke
week is daar egter een dag wat spesiaal aan die Here gewy is. Om
so in sy nabyheid te verkeer en jou aan Hom te gee vermeerder jou
vreugde in Hom. Jou hele wese word dan opgebeur deur die lig van
God se vriendelike aangesig, die rykdom van sy huis, sy volk, sy
koninkryk. Wanneer jy die gewoonte het om werklik een dag in sewe
heilig te hou, sal jy ontdek dat die dag jou ’n verlustiging
in die Here is.

Jesaja se tweede belofte vir hulle wat die sabbat onderhou is
oorwinning. "Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die
aarde." Hierdie beeldspraak laat dink aan ’n oorwinnaar
wat in sy strydwa oor die hoogtes ry. Hy ry daar as oorwinnaar.
Wel, in al die beproewings van die lewe is ons meer as
oorwinnaars, sê Paulus, deur Hom wat ons liefgehad het. En Joh
voeg daaraan toe: dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin
het, naamlik ons geloof (1 Joh 5:4).

Ons praat hier natuurlik van ’n geestelike oorwinning.
Met die Here sal ons in staat gestel word om oor die hoogtes te
ry as oorwinnaars. Die dag van die Here is ons dag van oefening,
wat ons opskerp vir die stryd, toerus en versterk.

Die derde belofte wat Jesaja noem vir hulle wat die sabbat
onderhou is dat jy sal geniet van goeie dinge. "Ek sal jou
laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob." Dit gee die
idee van oorvloed, dat jy lekker kan geniet van goeie dinge.

Geliefdes, julle sal nie ver hoef te kyk om Christene te vind
wat so te sê min het. Hulle sou nooit met Dawid getuig: my beker
loop oor. Hulle voel ongelukkig, ontevrede. Dis op die sabbat dag
dat die Here se goeie dinge opgedien word. Op die dag kan jy wyn
en melk kry sonder geld en sonder prys. Jou siel mag hom
verlustig in goeie dinge.

Wil jy hê dat jou lewe gevul word met vreugde in die Here,
oorwinning en genieting van die goeie dinge van God? Dis wat God
belowe aan hulle wat sy dag heilig. Die skatte van God se
koninkryk sal jou deel word. Is hierdie gebod bestem om jou
plesier te versteur? Maak die dag wat jy in die besonder met die
Here deurbring jou tot ’n verloorder wat werklik goeie tye
ontneem word? Die Here verklaar presies die teenoorgestelde. Met
die 4de gebod neem die Here jou by die hand en lei Hy jou na
vreugde, oorwinning en genietinge.

Broeders en susters, in Jasaja 58 spreek Jasaja ’n
situasie aan waarin mense die sabbat ontheilig deur hul eie dinge
te doen. Dieselfde houding sien ons vandag. Die dag van die Here
word onteer deur selfgesentreerde, mens gesentreerde aktiwiteite.
En dan het jy mense wat vra: waar is God (vgl. Vers 3).
Waarom seën God ons nie? Waarom het Hy ons verlaat? Is dit
vreemd dat so gepraat word waar mense God nie meer die liefde van
hul hart gee deur Hom op sy dag te soek en te aanbid nie?

Daarom sê die Here in vers 13,14: "As jy jou voet
terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag
te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die
heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou
gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of
ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en
Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat
geniet die erfdeel van jou vader Jakob."

Let daarop dat die profeet ’n verandering van houding
benadruk. Jou instelling is baie belangrik by die onderhouding
van die heilige dag. "As jy die sabbat ’n verlustiging
noem en die heilige dag van die Here hooghou." Die Here wil
’n blymoedige sabbat onderhouer sien. Laat jou hart uitsien
na die dag van die Here as ’n liefling dag, die mooiste van
alle dae. Uitsien na die ontmoeting met die Here op sy dag. Rig
nie ’n verlangende oog na die wêreld met sy vermaak nie.
Hoe beledigend is dit om die Here te nader terwyl jy liewer êrens
elders sou wees. Gestel dat jy die Here sou dien met voete wat
onrustig heen en weer skuif omdat jy nie kan wag om ander dinge
te gaan doen nie? Is dit ’n uitdrukking van liefde? Met die
Psalmis sê ons: Juig voor die Here, o ganse aarde! Dien die Here
met blydskap (Ps 100:1,2).

Laat daar in jou hart ’n positiewe houding wees van
heilige opwinding omdat jy die dag van die Here nader. Ouers, let
op watter indrukke julle vir jul kinders agterlaat aangaande die
dag van die Here. Kom nie met ’n lange lys van dinge wat wel
of nie mag nie. Beywer jou om die dag ’n spesiale dag te
maak, ’n verlustiging vir jul kinders. Die Here het enkele
duidelike beginsels gegee: die dag is sy dag en dis ’n seën
vir ons mense. Hou die beginsels in gedagte. Dan sal jy nie jou
eie gang gaan nie of net doen wat jy wil nie of ydele taal spreek
nie. Maar dan sal jy geniet van die dag, vry van werk, om die
Here te kan soek en dien. Om jou band met Hom en sy volk te
versterk. Dan sal jy geen probleme maak oor die vraag wat op die
dag toelaatbaar sou wees en wat nie. ’n Liefdevolle hart het
geleer om op die Heer van die sabbat te fokus. Dan sal jy die
uitdaging geniet om inhoud aan die dag te gee tot eer van jou
Skepper en Verlosser en tot jou eie geestelike en fisiese welsyn.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)