Ons mag God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy woord beveel het nie.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-09-14
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Sondag 35, Vraag en Antwoord 96

Ds. C. Kleyn - Sondag 14 September 2003

Lees: Deuteronómium 12:1-14,28-32, Matthéüs
15:1-9; Sondag 35, Vraag en Antwoord 96.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 50:7,8,11;
Ps. 100:1-4; Ps. 150:1-3.

Tema: Ons mag God op geen ander manier vereer as wat
Hy in sy woord beveel het nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons gaan nou verder met die tweede gebod: jy mag geen beeld
maak om daarmee die enige ware God te dien nie. Waarom verbied
die Here dit? Omdat die Here hom nie laat voorskryf waar en
wanneer Hy moet optree nie. Via die beelde het die heidene immers
geprobeer om hul gode in hul beheer te kry en aan hulleself te
verbind. Ons soewereine God laat hom nie deur mense verplig nie.
Hy kies in volle vryheid self aan wie Hy hom wil verbind, wanneer
en waar Hy wil optree. Laat niemand dink dat hy God kan dwing nie.
Dis ook nie nodig nie. God is naby sy volk. Hy is die verbondsgod
wat altyd aktief aanwesig is tot verlossing van sy kinders.

Broeders en susters, op watter maniere kan ons ons vandag dan
skuldig maak aan beeldediens. Laat ek twee voorbeelde noem mbt
die publieke erediens. Dit kan gebeur dat jy moeg is vir die
sentrale plek van die prediking in die eredienste. Jy het geen
behoefte daaraan om in elke erediens na ’n preek te moet
luister nie. Jy soek beweging en lewe. Harde ritmiese musiek met
slagwerk spreek jou baie meer aan. Dit raak jou tot in die
diepste van jou bestaan, dit bring jou tenminste op ’n high.
Dit kan dan jou kontak met God mooi fasiliteer dink jy dan. In
letterlike sin is daar geen beeld nie, maar die musiek met daarom
heen allerlei nuwe rituele en seremonies vervul dan presies
dieselfde funksie as die beelde in die heidense kultus. So dink
jy jouself te kan verseker van God se teenwoordigheid.

Dieselfde kan ook gebeur in ’n erediens waar alles nog
volgens die goeie gereformeerde styl verloop. As die elemente van
die erediens maar in ’n sekere volgorde voorkom, as die
prediking maar ’n sekere styl vertoon, as ek maar die ou
bekende klanke hoor, as die Psalms maar in die ou bekende
geneefse wysies gesing word ens, dan is ek gelukkig. Hierdie
gewoontes kan rigiede vorme word waaraan ons omgang met God
gebind word. Beslissend is dan nie meer die lewende prediking van
die woord en die lewende geloof in antwoord daarop nie, maar die
ou bekende vorme en klanke. Dit laat ons veilig voel. Opnuut
beeldediens. Ons dink dan God aan ons te bind deur ons vorme.

Gemeente, die tweede gebod gaan dus oor die manier waarop ons
God dien. Die kat vat dit saam met die woorde: Ons mag God op
geen ander manier vereer as wat Hy in sy woord beveel het nie.
Vanaand wil ons op daardie woorde fokus. Wat word daarmee bedoel?
Om dit te verstaan moet ons terug na die Skrifte. In ons
belydenis wil ons immers die woord van God naspreek. Die Skrif
bepaal hoe ons die belydenis moet lees. Kom ons kyk na die
bewystekste wat by ons kat genoem word.

Die eerste teks wat genoem word is 1 Sam 15:23. Laat ons dit
saam in ons bybel nagaan. In 1 Sam 15:23 sê Samuel tot Saul::
"Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en
eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van
die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp." Waaroor
gaan dit in hierdie geskiedenis?

Die Here het ’n duidelik opdrag vir Saul gegee. Sien vers
3: "Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die
banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie,
maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en
suigling, bees en kleinvee, kameel en esel." Wat doen Saul
egter? Vers 9: "Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar
en die beste van die kleinvee en beeste, en die naasbestes en die
lammers en alles wat van waarde was – dit wou hulle nie met
die banvloek tref nie." Saul het dus ’n duidelike bevel
van die Here oortree. Hy moes alles met die banvloek tref, hy
moes mens en dier sonder uitsondering om die lewe bring. Saul
spaar egter die koning Agag en alle diere wat van waarde is.

Saul maak sy sonde van ongehoorsaamheid nog erger met sy vroom
smoesie in vers 15: "En Saul sê: Van die Amalekiete het
hulle dit (dws die diere) gebring, want die manskappe het die
beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer;
maar die ander het ons met die banvloek getref." Daarom sê
die Samuel vir Saul in vers 22: "Het die Here behae in
brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van
die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te
luister beter as die vet van ramme." Om dinge vir die Here
te doen, wat teen sy geopenbaarde wil ingaan, is vir Hom
onaanvaarbaar, hoe vroom dit ook lyk en hoe goed die dinge op
hulleself ook al mag wees.

In die teks wat ons kat aanhaal (vers 23) word hierdie
ongehoorsaamheid wederstrewigheid genoem wat gelykstaan aan die
sonde van waarsëery. Deur waarsêery soek mense wysheid buite
God. Dis wat ’n wederstrewige persoon doen. Hy is nie
tevrede met God se woord nie, hy wil wyser as God wees. Samuel
tipeer Saul se ongehoorsaamheid verder as eiesinnigheid en noem
dit afgodery en beeldediens. Eiesinnigheid, jy wil jou eie sin
volg, maak nie saak wat die Here sê nie. Jy wil die Here dien
soos jy lus is en nie volgens God se wil nie. Dan het jy God
feitelik onttroon en jouself op die troon gesit: afgodery. Jy
durf om te dink dat jy met die eiewillige erediens God nog kan
behaag, God aan jouself kan verbind: beeldediens.

Waaroor gaan dit dus in die aanhaling uit 1 Sam 15? Dit: as
God iets duidelik gebied dat moet ons dit ook gehoorsaam opvolg.
Ons moet God nie dien teen sy eie bevele in nie. Alle verering
van die Here moet in gehoorsaamheid aan die Here gedoen word en
nie op ’n eiesinnige manier nie. Saul wou God op sy eie
manier vereer sonder om met God se geopenbaarde wil rekening te
hou.

Gemeente, laat ons vervolgens kyk na die Mat 15: 9, ’n
ander teks waarna ons Kategismus verwys. Daar lees ons: "Maar
tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van
mense is." Waaroor gaan dit in hierdie skrifgedeelte?
Skrifgeleerdes en Fariseërs kom by Jesus met die vraag (vers 2):
"Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou
mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie."
Let op Jesus se antwoord in vers 3: "Waarom oortree julle
ook die gebod van God terwille van julle oorlewering?" Dit
gaan dus oor die oortreding van die gebod van God terwille van
die oorlewering. Die oorlewering word belangriker geag as die
gebod van God self.

Christus noem as voorbeeld die vyfde gebod: eer jou vader en
jou moeder. Wat doen die skrifgeleerdes met die gebod van God:
hulle sê: kyk jy moet jou ouers inderdaad eer. Dit omvat ook hul
versorging wanneer hul oud of behoeftig is. Maar as jy die geld
of goedere wat jy vir jou ouers sou kon gee aan die Here belowe
as ’n vrywillig offergawe, dan hoef jy jou ouers nie daarmee
te versorg nie. Maak nie saak hoe behoeftig hulle mag wees, jy is
ontslaan van die plig om hulle te versorg omdat jy die geld en
goed aan God gewy, toegesê het. Dit was nie nodig dat die kind
die offergawe onmiddellik aan die Here sou gee nie, hy kon die
uitvoering daarvan uitstel tot in die verre toekoms. Ondertussen
kon hy nog geniet van die vruggebruik daarvan en was dit amptelik
geblokkeer vir gebruik deur sy vader en moeder. So het kinders
hierdie oorlewing blykbaar ook gebruik om dinge uit die hande van
hul ouers te hou.

Daarom beskuldig Christus die skrifgeleerdes in vers 6 daarvan
dat hulle die gebod van God kragteloos gemaak het ter wille van
hulle oorlewing. Vir hulle was die oorleweringe belangriker as
die duidelike gebod van die Here. Hulle hou hulle liewer aan
menslike insettinge (bv insake die was van die hande) as aan die
gebod van God. Hulle vervang die gebooie van God met die gebooie
van mense. Daarom sê Christus (in vers 7-9): "Geveinsdes,
tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie
volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle
hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur
leringe te leer wat gebooie van mense is." Mense wat in gees
en in waarheid die Here dien sal kom met God se gebooie en
daaraan voorrang gee.

Wanneer ons die Mt 15:9 vergelyk met die woorde uit Jesaja
self (Jes 29:13) dan lyk daar ’n sekere aksent verskuiwing
te wees. Die profeet Jesaja rig hom teen ’n uitwendige
vormediens sonder hart vir God. Ons lees daar: "Omdat
hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe,
terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My
’n aangeleerde mensegebod is, daarom sal ek …." In
Jes 29:13 le die nadruk op uiterlike vormediens sonder hart.
Hulle erediens is slegs ’n aangeleerde les. Hulle doen dit
net omdat mense dit so vir hulle geleer het, nie omdat hulle God
liefhet nie. Jy dien God dan miskien wel volgens die reëls, maar
met ’n verkeerde houding, sonder om daarin jou hart vir God
te gee.

In Mt 15 lyk dit asof die aksent verskuif het van ’n
uitwendige verering na ’n verkeerde verering van God, wat op
menslike insettings gebaseer is, pleks van op die gebod van God.
So spreek die Here Jesus ook heel konkreet die sondes van die
skrifgeleerdes en Fariseërs aan. Tiperend vir hulle was dat
hulle die menslike insettinge bo die insettinge van die Here
geplaas het. Tog is daar, ondanks die verskil in aksent, saaklik
min verskil tussen die twee tekste. Wanneer my erediens op
aangeleerde mensegebooie gebaseer word, dan is daar ook geen ware
eerbied vir God nie. Dan maak dan nie baie verskil of die
mensegebooie nog met God se gebod ooreenstem of nie. Beslissend
is mos wat mense sê en doen. .

Wat kan ons dan vanuit Mt 15:9 konkludeer met betrekking tot
ons kategismus antwoord? Ons verering van God mag nooit op
aangeleerde gebooie van mense gebaseer wees nie. In jou diens aan
die Here mag jy nooit die oorlewerings van mense bo die gebod van
God stel nie. Jy moet ook nooit die Here dien net omdat mense dit
vir jou opdra nie. Jy moet met jou hele hart en lewe die Here
volgens sy woord dien.

Let daarop dat die konteks van Mt 15 daarop wys dat die
verering van God waaroor ons kat praat nie net betrekking het op
die openbare erediens nie. Dit het ook betrekking op die gewone
lewe van elke dag. Ook jou verhouding met jou pa en ma val
daaronder, wat jy doen met jou geld en goed.

Nou die laaste teks waarna ons kat verwys, Deut 12:30. Daar sê
die Here vir sy volk: "neem jou dan in ag dat jy nie agter
hulle (dws die heidense nasies) aan, verstrik word nadat hulle
voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê
nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook
so kan doen."

In Deut 12 gee die Here sy volk Israel insettinge en
verordeninge met die oog op die kulties seremoniële offerdiens
in die beloofde land. Hier staan die plek van aanbidding sentraal.
Die Here gee ’n strenge waarskuwing teen die heidense
offerplekke wat heeltemal verwoes moet word en teen die heidense
praktyk om die bloed van die offerdiere te drink. Israel mag nie
een of meer hoogtes kies om daar die Here offers te bring nie. In
teenstelling tot die heidense godsdienste, sien ons dat die
inisiatief hier van God uitgaan. Hy kies ’n plek om daar te
woon. Daarheen moet die Israeliete in die toekoms hulle offers
bring.

"Voor die aangesig van die Here" lees ons. Dit wys
op die heiligdom en altaar van die Here. Daar wil Hy mos sy volk
ontmoet. Daar wil Hy sy naam vestig om daar te woon. Vandaar sy
bevel van vers 7: "En daar moet julle voor die aangesig van
die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne,
oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die Here jou God
jou geseën het." Die Kanaänitiese godsdiens het die mense
voortdurend met sorg en angs vervul. Die mense het gedink dat
hulle deur hul offers en plegtighede hul van die goeie opbrengs
van die land moes verseker. Moses gebied egter die
teenoorgestelde. God se kinders mag met vreugde voor sy aangesig
verskyn, dankbaar vir alles wat hulle reeds ontvang het.

Gemeente, in vers 8 en 9 word die toekomstige gesentraliseerde
offerdiens vergelyk met wat op daardie oomblik nog plaasvind.
"Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie
– elkeen net maar wat reg is in sy eie oë." In verband
met die oorlogssituasie in die veld van Moab het die Israeliete
blykbaar nie altyd hul offers in die voorhof by die tabernakel
gebring nie. Hulle het ook offers gebring op plekke wat hulle
daarvoor geskik geag het. Hierdie praktyk word deur Moses nie
uitdruklik goed- of afgekeur nie. Moses skyn dit eerder te
verontskuldig wanneer hy in vers 9 verklaar: "Want julle het
nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die Here jou
God jou sal gee nie." Die Israeliete besit reeds die
tabernakel as ’n sentrale heiligdom. Maar die heiligdom is
nog nie aan ’n vaste plek gebind nie en is in die
oorlogssituasie nie altyd bereikbaar nie. Dit sal egter van
verbygaande aard moet wees. In die toekoms, na die inname van die
beloofde land, sal die Israeliete hul offers slegs mag bring op
die plek wat die Here sal uitkies om sy naam daar te vestig. En
hulle sal dit op die manier moet bring soos God dit reguleer, en
nie volgens heidense gebruike nie.

Broeders en susters, wat beteken Deut 12: 30 dan vir die
verklaring van ons kat? Israel moet in sy sentrale seremoniële
diens aan God hom hou aan die voorskrifte wat die Here daarvoor
gegee het en nie allerlei godsdienstige handelinge, gebruike,
voorstellings e.d. van die Kanaänitiese godsdiens oorneem om dit
na die diens aan die Here oor te plaas nie. "So mag jy nie
handel met die Here jou God nie, want alles wat vir die Here
’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen."
Vers 31.

Oorgeplaas na ons Nuwe Testamentiese situasie kan ons hieruit
leer dat ons nougeset moet waak oor die bediening van die
versoening wat ’n vervulling is van die Ou Testament
offerdiens. Die woord van versoening, die woord van Christus moet
suiwer bewaar en verkondig word sonder enige heidense smette. Tav
die openbare eredienste het ons nie so ’n uitvoerige
beskrywing van besonderhede soos die Here dit mbt die Ou
Testamentiese offerdiens gegee het nie. Maar ons moet wel
daarvoor sorg dat ons die riglyne en beginsels wat die Here
daaromtrent gegee het eerbiedig en dat ons in ons amptelike
eredienste ons nie laat lei deur heidense gebruike of
voorstellings om daarmee die Here te dien nie.

Wat beteken dan die woorde van die kategismus: Ons mag God op
geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie? In
die lig van die tekste waarop die uitspraak gebaseer is, kan ons
sê: In ons verering van die Here, in ons daaglikse lewe en in
die openbare eredienste, moet ons altyd handel volgens wat die
Here beveel het en mag ons nooit doen wat Hy verbied het nie.
Verering van die Here mag nooit teen God se geopenbaarde woord
ingaan nie. Menslike oorlewerings mag nooit oor God se woord gaan
heers nie. Ons mag nooit op ’n heidense manier die Here
probeer dien nie, deur hul heidense gedagtes en praktyke oor te
neem nie.

Ons mag God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord
beveel het nie. Beteken dit nou dat as God iets nie beveel nie,
dit dan vir ons verbode is? Kom ons kyk na die verering van God
in die Ou Testament. Het daar gegeld: wat God nie uitdruklik
beveel het nie, is verbode? Het God in die Ou Testament alles vir
die daaglikse diens aan Hom en vir die sentrale offerdiens
uitdruklik beveel? Ons weet dat Hy baie beveel het, maar het Hy
alles beveel? Was daar nog ruimte vir vrywillige, spontane
handelinge in die diens van die Here? Of moes daar altyd eers
’n uitdruklike bevel daartoe wees?

Wat van Deut 12:32? Daar lees ons: "Alles wat ek julle
beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en
daar niks van weglaat nie." Jy mag daar niks byvoeg nie. Mog
die Israeliete dan niks meer doen as wat uitdruklik deur die Here
beveel is nie? Let daarop dat daar staan: jy mag daar niks
toevoeg en daar niks van weglaat nie. God het in Deut 12 sy
insettinge en verordeninge mbt die sentrale offerdiens gegee. Dit
let baie nou hoe die Here in die sentrale heiligdom gedien word.
Dis mos voorafskaduwing van Christus se werk. Daar het God dan sy
uitdruklike voorskrifte vir gegee. Aan die voorskrifte mag ’n
mens niks byvoeg en niks weglaat nie. Die Here is ’n heilige
God. Vergelyk dit met ’n verbondstraktaat. ’n
Verbondstraktaat mag ’n mens nie eiemagtig verander nie.
Daardeur sou jy jou skuldig maak aan verbondsbreuk. Afspraak is
afspraak. Daaraan is die partye van die verbond gebind. Dit
beteken egter nie dat die verbonds partye nie meer vir mekaar mag
doen as wat uitdruklik afgespreek is nie.

Ook mbt tot die sentrale offerdiens aan die Here sien ons dat
die reël: wat God nie uitdruklik gebied nie, is verbode, nie
opgaan nie. In Deut 12 word daar wel sekere reëlings getref vir
die gelofteoffers en die vrywillige offers. Maar daar word in die
Skrif nie ’n opdrag gegee om die offers te bring nie. ’n
Mens was volkome vry om self te bepaal of hy ’n gelofte wou
maak of nie. Hy was onder geen enkele verpligting om dit te doen
nie. Eers wanneer jy jouself deur jou vrywillige gelofte verbind
het om ’n offer te bring, was jy daartoe verplig sodra jy
die weldaad, waarop die gelofte betrekking het, ontvang het.
’n Vrywillige offer was ook ’n offer wat nie gebied was
nie. Dit was ’n offer wat spontaan in die hart van die
offeraar opgekom het. As jy iets ekstras vir die Here wou gee as
bewys van jou dankbaarheid en blydskap, dan was jy volkome vry om
dit vir die Here te bring, ook al was dit nie beveel nie. God mog
die vrywillige offers graag sien.

Broeders en susters, buite die sentrale seremoniële
offerdiens was daar onder God se volk nog baie meer dinge wat die
Here nie uitdruklik beveel het nie en wat blykbaar tog vir Hom
aangenaam was. Waar vind ons voorskrifte mbt die heilige
samekomste op die sabbat en tydens die Paasfees? Ons lees ook nêrens
dat die Here die sinagoges gebied het nie, laat staan dat Hy
beveel het hoe die sinagogale dienste moes verloop. Ons sien
gewoon dat die sinagogale dienste ontstaan. Christus skaam hom
nie om by die praktyk aan te sluit nie. Wat van die vas onder die
Ou Verbond. Waar word dit vir die volk gebied? Tog hoor ons van
persoonlike of gemeenskaplik vasdae wat deur bepaalde leiers
uitgeroep is bv deur Joel, Esra, Nehemia, Ester. Die laaste lei
selfs tot die ontstaan van die Purimfees, ’n uitbundige fees
van God se volk waarop hulle hul verlossing deur die tussenkoms
van koningin Ester gevier het. Let daarop dat daardie Purim fees
nie deur die Here beveel is nie. Dit is ingestel deur Ester self
en deur haar oom Mordagai. Dieselfde geld vir die fees van
tempelwyding waarin die Jode die reiniging van die tempel en die
vernuwing van die tempeldiens onder leiding van Judas Makkabees (164
vC) herdink het. Christus het hierdie fees nie afgewys nie, maar
wou selfs by hierdie fees aanwesig wees volgens Joh 10:22. Ook al
was die fees nie gegrond op ’n uitdruklike gebod van God nie.

Gemeente, uit bostaande is dit duidelik dat selfs in die Ou
Testament, waarin soveel dinge uitdruklik deur die Here
voorgeskryf is, nie alles mbt die diens van die Here, publieke of
persoonlike, in besonderhede gebied word nie. Veral buite die
sentrale seremoniële offerdiens het God vir die gelowiges,
persoonlik en gesamentlik ruimte gelaat om Hom vrywillig en
spontaan te vereer of hulle voor hom te verootmoedig. Indien dit
reeds in die Ou Verbond so is, hoeveel te meer in die Nuwe
Testament, waar God sy volk deur sy Gees mondig gemaak het.

Die konklusie stem ooreen met die karakter van die verbond.
Hoe gaan ’n mens in die verbond met die Here om? Ons is in
die verbond geen slawe wat enkel bevele mag uitvoer nie. God
behandel ons as kinders wat werklik met Hom omgang mag hê.
Kinders wat Vader gehoorsaam is en dus doen wat Vader beveel en
nie doen wat Vader verbied nie. Maar ook kinders wat spontaan na
Vader mag toegaan. Welke vader sou so iets verbied, wanneer dit
in ooreenstemming met sy geopenbaarde wil is? As kinders mag ons
Vader se naam bely, die Vader in gebed aanroep, voor Vader ons
verootmoedig, aan Vader ons dank en aanbidding wys. Persoonlik en
gemeenskaplik. As dit maar volgens die Skrifte is. In Gees en in
waarheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)