Self aanbidding maak die christendom magteloos.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-08-31
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Sondag 34, Vraag en Antwoord 95

Ds. C. Kleyn - Sondag 31 Augustus 2003

Lees: Matthéüs 7:15-23, Matthéüs 16:21-28,
2 Timótheüs 3:1-5; Sondag 34, vraag en antwoord 95.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 81:10,13,14,15;
Ps. 16:13; Ps. 16:4,5.

Tema: Self aanbidding maak die christendom magteloos.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vorige week het ons gewaarsku teen moderne afgodery in die
vorm van self aanbidding. Die waarskuwing is baie waardevol in
die lig van 2 Tim 3:5. Daar lees ons: "mense wat ’n
gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het."
Vanaand wil ek veral daarop fokus wanneer ek vir julle die woord
van God verkondig onder die tema: "Self aanbidding maak die
christendom magteloos."

Dis moontlik om te wees soos die wat Paulus in die verse 2-4
noem – afgodsdienaars – en tog vroom te lyk. Dis
moontlik om baie godsdienstig te wees en gelyktydig daardie
afgode te dien. Paulus erken: hulle het ’n gedaante van
godsaligheid.

Feitelik suggereer Paulus dat daardie soort mense in die kerk
sal wees. Die soort afgodery vind ’n mens nie net daarbuite
in die wêreld nie. Ons kan selfs so wees terwyl ons deel van die
Christelike gemeenskap is. Dis huiweringwekkend. In die laaste
dae sal daar mense wees wat lidmate van die kerk is, moontlik
selfs getrou kerk toe gaan. Terwyl tegelykertyd hulle ware
lojaliteit by hulleself, by geld of genot te vinde is. Dit maak
ons verwysing na verbruikers christendom in vorige week se preek
so betekenisvol. Om hierdie aand in die kerk te wees, waarborg
nog nie dat jy nie daardie afgode dien nie. Dis moontlik om jou
aan afgodery skuldig te maak en tog ’n gedaante van
godsaligheid te hê.

Die kat verwys na twee soorte afgodery. Daar is daardie soort
afgodery waaraan tallose mense rondom ons hulle skuldig maak.
Hulle wil niks te doen hê met die God wat Homself in die Bybel
bekend gemaak het nie. Afgodery van hulle wat Jesus as hul
verlosser en Heer verwerp. Afgodery wat die kat noem: om in die
plek van die enige ware God iets anders uit te dink of te hê:
jouself, geld, genot in die plek van die Here God.

Maar daar is ook die afgodery dat jy iets bedink of het naas
God. Soos Israel uit die Ou Testament wat die Here God wou dien
maar daarnaas ook die Baal. Die profeet Elia het hulle geplaas
vir die keuse: die HERE of Baal. Wie gaan dit wees? Dis hierdie
afgodery waarby ons maklik betrokke is. Wanneer ek die Here, sy
seën en sy heil wil hê maar gelyktydig besluit dat ek, my ego,
ook sy sin gaan kry; of dat geld nie van die eerste plek verwyder
gaan word nie; of dat my genot, my plesier, nie deur die ware
godsdiens gesteur gaan word nie. Dan het ek wel die gedaante van
godsaligheid, ’n skyn van vroomheid.

Paulus voeg daaraan toe dat sulke mense die krag van die
godsaligheid verloën het. Die vorm is daar, maar in woord en
daad word die krag daarvan verloën. Dis in werklikheid net
’n leë dop, afgodery.

Wanneer Paulus oor die krag praat dan het hy in gedagte die
krag van die evangelie. Die krag wat kom deur die reddende en
vernuwende werk van Jesus Christus. Hy praat oor die krag wat kom
van die lewende band met Jesus Christus deur die inwoning van die
Heilige Gees. Ware geestelike krag kom van ’n lewe wat in
verbondenheid met die opgestane Christus geleef word. Daarom sê
God: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Al die ander gode is immers magteloos om te red. En magteloos
om ons te help om ’n werklik christelike lewe te lei. My ego
kan nie red nie. My ego is magteloos om ’n christelike lewe
tot stand te bring. Geld kan nie red nie en geld kan nie ’n
heilige lewenswandel waarborg nie. Genot het ook nog nooit gered
nie of ’n goddelike gedrag verseker nie. Wanneer ek op
daardie dinge vertrou, in die plek van of naas die enige ware
God, dan sal daardie dinge my in die uur van nood in die steek
laat.

Die gedaante van godsaligheid, maar magteloos om te help. Net
deur die evangelie van Jesus Christus kan ons van die slawerny
van die sonde bevry word en ’n verloste goddelike lewe lei.

Kyk maar waarop self aanbidding uitloop volgens 2 Tim 3. Mense
wat liefhebbers van hulleself is, word grootpraters, trotsaards
of lasteraars. Mense wat ’n te hoë dunk van hulleself het,
sien met minagting neer op ander en praat kwaad van hulle. Die
volgende vyf woorde wat Paulus gebruik kan saamgegroepeer word.
Dit kan wees dat hulle verwys na die gesinslewe en veral na die
houding wat sommige jong mense teenoor hul ouers inneem. Die
eerste is: ongehoorsaam aan hulle ouers, wat die kinders volgens
die Skrif moet eer en –onder normale omstandighede - moet
gehoorsaam. Daarna: ondankbaar. Jy wys geen waardering vir wat jy
van God, bv via hulle pa en ma, ontvang nie. Daarna: onheilig. Jy
wys dan geen ontsag en eerbied nie. Sonder natuurlike liefde. Jy
wys dan geen normale menslike geneentheid nie. Onversoenlik. Jy
is so in opstand dat jy nie bereid is om rond die tafel te gaan
sit om dinge uit te praat nie.

In ’n ideale samelewing behoort die verhouding van
kinders tot hul ouers gekenmerk te wees deur gehoorsaamheid,
dankbaarheid, respek, geneentheid en billikheid. In die swaar tye
sal al vyf ontbreek. Dis dikwels die gevolge van ’n vrye,
toegeeflike opvoeding, waar die kinders soos gode behandel word,
wat die middelpunt van die wêreld is. ’n Kind wat geleer
het om homself eers en bo alles lief te hê en wat nooit geleer
het om sy natuurlike sondige begeertes te beteuel nie, sal byna
outomaties grootword om ongehoorsaam en ondankbaar te wees. Die
kind het mos nooit geleer om gehoorsaam en dankbaar te wees nie.

Paulus vervolg: selfgesentreerde mense is dikwels
kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
verraaiers, roekeloos, verwaand. Hier is ons terug by die kwaad
waarmee die lys begin het, naamlik grootpraters, trotsaards. Al
hierdie anti sosiaal gedrag is onherroeplik die gevolg van ’n
afgodiese selfgesentreerdheid.

As ek ’n grootprater is, trots en verwaand, sal ek myself
natuurlik nie verloën om ander te dien nie. God se orde is dat
ons Hom eers moet liefhê, daarna ons naaste en onsself laaste.
As ek die volgorde omkeer en myself eerste plaas en God laaste
dan sal my naaste daartussen in ook ly. So is die wortel van die
moeite in die swaar tye dat mense heeltemal selfgesentreer is,
liefhebbers van hulleself.

Broeders en susters, ons het eerder gesien, dit kan met ’n
gedaante van godsaligheid gedoen word, maar sonder die krag
daarvan. Die mense gee hulleself nog voor as vrome mense. Hulle
besoek die eredienste. Hulle sing die Psalms. Hulle bid saam en
gee hul offergawes. Miskien doen hulle selfs baie meer as dit.
Dink maar aan wat ons in Mt 7:21-23 gelees het. Kom ons lees dit
opnuut.

Hierdie Christene erken nie net Jesus as hul Heer nie. Hulle
het ook hulleself gewys deur indrukwekkende dade sogenaamd vir
hul Heer te doen. "Here, Here, het ons nie in u Naam
geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie
kragte gedoen nie?" Hulle was baie aktief in die kerk en
daarbuite, in woord en daad om God se koninkryk te probeer
bevorder, tenminste so het dit gelyk. Maar wat sê Christus vir
hulle: "Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle
wat die ongeregtigheid werk."

Hoe kan Christus dit sê? Omdat hulle, ondanks hul aktiewe
vorm van godsaligheid, uiteindelik nie die wil van die Vader
gedoen het nie. Hulle het in al die dinge feitelik hulleself
gedien. Dit moet ons, broeders en susters, waarsku om te let op
waarom en hoe ons besig is in die diens van die Here. Is al my
godsdienstige aktiwiteite werklik tot eer van die Here en volgens
Sy wil? Dit moet ons ook waarsku om nie klakkeloos ons te laat beïndruk
deur godsdienstige aktivisme nie. Alles moet aan die geopenbaarde
wil van God getoets word. Is dit ware aanbidding van God? Dit sou
ook kan wees dat dit ten diepste aanbidding van myself is.

Gemeente, dit gebeur soms dat ons kerke beoordeel volgens hul
skynbare suksesse. Sommige kerke ervaar ’n massale toestroom
van buitestaanders deur hulle kerk groei programme. Die mense wat
aan hul programme deelneem is positief en entoesiasties oor hul
betrokkenheid. Maar dit beteken op homself nog niks nie. Die
vraag is: word die mense gebring tot aanbidding van die Vader van
ons Here Jesus Christus en tot onderwerping aan Vader se
geopenbaaarde wil? Om gelukkig en betrokke te wees is as sodanig
nog nie ’n bewys van ware geloof nie.

Soos ons afgelope Sondag gesien het, stel baie mense in ons
tyd van verbruikersmentaliteit nie werklik belang in
gehoorsaamheid aan die gesaghebbende woord van God nie. Hulle
stel meer belang in ’n gelukkig gevoel, in die deel wees van
’n ondersteunende gemeenskap. Om mense betrokke te kry in
aktiwiteite is ’n goeie saak en kan dien om hulle tot groter
kennis van Christus te lei. Maar ons moet wel besef dat as dit
gedoen word voordat hulle geestelik daarvoor gereed is, dan kan
dit dien om hul ego te streel en dan kan dit uiteindelik tog deel
word van self aanbidding. Wie sou dit nie waardeer nie om bemind,
gewens en ingeskakel te wees nie. As jy bv leierskap kwaliteite
het, sou jy dit nie waardeer as mense die kwaliteite opmerk en
dit wil inskakel nie? Laat ons daarom realisties wees. Uiterlike
betrokkenheid beteken nie outomaties ware geestelikheid nie. Om
te dien in die besonder amp of in seker kommissies kan ook ’n
saak van selfliefde of selfaanbidding wees. Dit voel mos lekker
om geëerd te wees. Laat ons oppas.

Dis geweldig wanneer die lidmate, ook die jong lidmate meer
bewus in die kerklike lewe ingeskakel is. Laat ons hulle bemoedig
en toerus daarvoor. Maar laat ons hulle en elkeen ook toerus om
die regte fokus te behou in al hul aktiwiteite. Om die fokus op
God te hou en nie op hulleself nie. Anders kan so ’n
inskakeling lei tot die verering van die eie ego, pleks van die
verheerliking van God. As ek bv baie selfvertroue het, kan ek
maklik vorentoe stap om in die publieke gebede voor te gaan
– ek is mos nie skaam nie - terwyl ek miskien min ontsag en
eerbied vir God het. Dan sal my gebed nie ’n teken van ware
godsaligheid wees nie. Dit sal eerder ’n refleksie wees van
my goeie gevoelens oor myself.

Onthou broeders en susters, jou fokus moet op God gerig wees
en weg van jouself weg. Ek moet nie bid omdat ek groot oor myself
dink nie, maar omdat ek weet dat my God groot is en alle
aanbidding en lof verdien. Wat ’n verskil in fokus.

Mt 16:24,25 kan ons hierby help. Die ek samelewing benadruk
self liefde, self bevestiging, self verwesenliking, self
bevrediging. Self, self en nog eens self. Dit sou die oplossing
vir baie van die persoonlike probleme wees. Maar wat sê
Christus? Laat ons weer saam Mt 16:24,25 lees.

Die Here Jesus leer ons nie om onsself lief te hê of om
onsself te bevredig nie. Nee, ons moet onsself verloën, nee teen
onsself sê. Die opdrag om onsself te verloën word ses keer
uitdruklik in die evangelies genoem, maar die gedagte vind ons
orals in die Skrif. Dit is wat die Here probeer duidelik maak het
toe Hy sy dissipels vertel het om hul eie belange na agter toe te
skuif om sy belange voorrang te gee: Soek eers die koninkryk van
God en sy geregtigheid.

Verloën jouself. Wat ’n skerp kontras met die self
bevestiging en self bevrediging wat in die massa media benadruk
word. Christus vertel ons nie net om nee vir onsself en ja vir
Hom (volg My) te sê nie. Hy sê ook dat ons ou self dood moet
maak deur ons kruis op ons te neem. Lukas voeg daaraan toe dat
dit daagliks moet gebeur. Om my kruis op te neem beteken nie om
’n sekere offer te bring nie. In daardie tyd het die
uitdrukking slegs een betekenis gehad: om die berugte krimineel
dood te maak. Jesus sê daarom: Jy moet jouself soos ’n
krimineel behandel en jouself elke dag doodmaak. Wat ’n
sterke taal. Nie baie komplimenteus nie. Waarom? Vanweë ons
sondige natuur. Binne in myself is daar geen inherente natuurlike
goed nie. Niks om goed oor te voel voor God nie. Niemand is
regverdig nie, selfs nie een nie. Ons natuurlike harte is
bedrieglik bo alle dinge. Sodra ons glo dat daar inherente goed
in ons is, waaroor ons trots kan wees, word God minder belangrik,
word Jesus Christus minder belangrik. Hierdie denke sal langsaam
maar seker ons behoefte aan God en aan Jesus Christus ons
verlosser laat verdwyn.

Daarom is dit gevaarlik om mense te leer om hulleself lief te
hê, om goed oor hulleself te dink. Ookal is dit belangrik dat
ons selfrespek hê, onsself leer aanvaar soos God ons geskep en
vernuwe het. Ons praat dus nie oor selfrespek nie, maar oor self
liefde. Die evangelie leer ons dat ons hoop lê nie in die
bevrediging van onsself nie, maar ’n die verloëning van
onsself. Dit wat ons verontreinig, is wat in ons is, sê Christus.
As ons eerlik na binne kyk, na ons sonde bevlekte lewe, behoort
ons ’n afkeer te hê van ons sogenaamde ware self. Ons moet
vir onsself sterwe en na Jesus Christus vlug, sodat sy
versoenende offer ons mag skoonmaak. Van nature is ons ellendige
sondaars wat die Verlosser nodig het.

Jesus Christus sê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Ek moet myself
met al my sondige maniere en begeertes behandel soos ’n
krimineel en elke dag my ou self doodmaak. Dis beter medisyne vir
elkeen van ons en veral vir die selfliefde aanhangers. Dis die
enigste genesingsmiddel vir die kerk van Christus.

En gemeente, die skynbare paradoks is dat die persoon wat
selfgesentreer is, alles wat hy van homself wil behou sal
verloor, terwyl die persoon wat Christus en sy belange eers plaas
alles verkry wat die ander verloor. "Want elkeen wat sy lewe
wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil
verloor, sal dit vind." In Joh 12:25 sê Christus ongeveer
dieselfde: "Wie sy lewe ( of homself) liefhet, sal dit
verloor; maar wie sy lewe (homself) haat in hierdie wêreld, sal
dit bewaar vir die ewige lewe." Met ander woorde: pleks van
onsself liefhê moet ons onsself verloor om dit vir die ewige
lewe te bewaar. My eie begeertes, belange moet ek aan die kant
skuif om Christus se wil te doen.

In die leer van die selfliefde leef die gedagte dat Christus
en ekself dieselfde voorrang gegee moet word. Hulle gaan selfs
’n stap verder deur te leer dat voordat ons Christus kan
liefhê en dien, ons eers onsself moet liefhê en gedien moet
word. Hoe anders praat Christus hieroor.

Die gevolge van die selfliefde leer kan baie ernstig wees.
Jesus waarsku dat ons so die ewige lewe kan verloor. ’n Mens
wonder hoeveel mense op ’n dwaalspoor gelei gaan word, weg
van die navolging van Jesus Christus weg, vanweë hierdie self
liefde leer wat vandag ingehamer word. As mense vir my bly sê
dat ek goed oor myself moet dink, maak nie saak hoe ek is en wat
ek doen nie, pleks om te sê dat ek my ou sondige self moet
doodmaak, hoe moet ek ’n volgeling van Christus word. Om
Christus te volg moet ek immers die teenoorgestelde doen: ek moet
myself verloën en my ou natuur kruisig.

Om ’n dissipel van Jesus Christus te wees, beteken dat ek
bereid is om myself, my plesier en geriewe op te offer en my aan
Hom te verbind. Die groot ding waarop jy die mense moet wys is
God se reddende genade, om Christus te behaag, om Hom te volg en
sy wil te doen. Dit sal kinders en volwassenes nie verwar nie of
hulle op ’n dwaalspoor bring nie. Enigiemand –
inklusief my eie ek- wat dit in die pad staan, is verkeerd besig.

2 Kor 5:15 vertel ons ook dat ons Christus voor onsself moet
plaas. Daar lees ons: "Hy het vir ons almal gesterwe, sodat
die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom
wat vir hulle gesterf het en opgewek is." Hier geld opnuut:
’n mens moet nie meer vir homself lewe nie, maar vir
Christus, ook al het ek vroeër volkome vir myself geleef. As vir
my die lewe Christus is, dan sal my lewe vrugbaar wees, vrugte
van ewige waarde voortbring. My ego kan nie red nie. Ek self is
magteloos om ’n heilige lewenswandel tot stand te bring.
Self aanbidding is magtelose godsdienstigheid. Alleen deur Jesus
Christus kan jy en ek vry lewe, vry van afgodery lewe. Die geloof
in Jesus Christus gee ’n heeltemal ander kyk op die lewe.
Ook ’n ander kyk op onsself. Ek herken myself as ’n
verloste sondaar. Gelyktydig: ’n sondaar en ’n heilige.

Dan word ek werklik dankbaar vir wat God my gegee het en wat
Hy in Christus van my gemaak het. Ek dien Hom dan met vreugde.
Altyd bly in die Here. Om my op God te rig, maak my ook baie
sterker. Ek het deel aan Christus se vernuwende krag. Ek hoef dit
nie in eie krag te doen nie, dit sou ’n mislukking wees.
Maar Christus wil dit in en deur my doen.

Geliefdes, as julle ’n lewe wil lei wat kontrasteer met
die wat in 2 Tim 3:1-5 beskryf word, stel dan jou vertroue op God
alleen. Wees werklik liefhebbers van God. Self aanbidding is
magteloos en het ernstige gevolge in alle verhoudings. Maar
geloof, of liewer Christus met wie ons deur die geloof verenig
word, is magtig. Deur sy verlossende krag leer ons om werklik God
eers lief te hê en daarna ons naaste soos onsself. Dan is my eie
ego, geld of genot vir my nie meer afgode wat my gevange hou nie.
Hulle is gawes wat ek van my hemelse Vader ontvang het, gawes wat
ek tot sy eer gebruik.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)