Die middels van die Gees, die outeur en onderhouer van die geloof

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-05-18
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Preek Inhoud: 

Sondag 25

Ds C Kleyn - Sondag 18 Mei 2003

Lees:

Psalm 78:1-8; Romeine 10.; Sondag 25.
Sing: Ps 118:12,13; Ps 75:1,4; Ps 78:1,2; Ps 105:1-3; Ps 71:9,10.

Tema:

Die middels van die Gees, die outeur en onderhouer van die geloof.

  • Die woord: die geloof kom uit wat jy hoor; en
  • Die sakramente: die geloof word ondersteun deur wat jy sien.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    Die geloof, daar hang baie van af. As ek in die Here Jesus glo, dan sal ek nie beskaamd word nie, dan sal ek nooit teleurgestel word nie, in hierdie en in die toekomende lewe. Paulus sê vir die tronkbewaarder van Filippi: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

    Baie hang dus van die geloof af. As jy dit besef dan wil jy ook graag weet waar die geloof vandaan kom. Die vraag is lewensbelangrik. Hoe ontvang ek die geloof en so ook die redding, die lewe? Is die geloof iets wat uit myself moet opkom? Kan ek tot geloof kom deur my gesond verstand te gebruik of deur my godsdienstige gevoelens te volg? Met ander woorde: kan ek uit myself tot geloof kom?

    Die Skrif gee daarop 'n radikale nee as antwoord. 'n Duidelike nee ook na die moderne teologie toe, wat elkeen laat glo soos hy wil. Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God berei vir die wat Hom liefhet. Uit myself is daar net ongeloof. In my ongeregtigheid onderdruk ek van nature die waarheid.

    Die geloof is daarom nie uit onsself nie. Ons gedagtes en gevoelens laat dit nie ontstaan nie. Geloof moet vir my gegee word, van buite af, van bo, van die Heilige Gees.

    Dit beteken ook dat niemand op aarde my die geloof kan gee nie. My ouers nie, die kerk nie, nog die ampsdraers, selfs nie die mees opwindende prediker nie. Die geloof is uitsluitend die werk van die Gees. 'n Gawe van God, genade.

    Geliefdes, dat die Gees dit moet doen, sal die meeste mense wel beaam. Maar hoe doen die Gees dit? Hier gaan die paaie uiteen. Sekere teologie maak asof die gees van die mens ongeveer dieselfde is as die gees van God. Daarom moet die mens dit met sy gees bereik. Die mens moet dit uiteindelik dan tog self doen, ook al word gepraat van die Gees van God.

    Ander mense bly vaag oor die werkwyse van die Gees. Ja, die Gees moet dit doen, maar hoe? Dit bly 'n misterie, word gesê. Die Gees moet jou aangryp. Kyk maar na die mense wat die buitengewone werkinge van die Gees ervaar het. Luister maar na hul getuienisse. Ja, dis die egte ding: die werk van die Gees. Hulle is die ware gelowiges, die wedergeborenes. Bid dat dit ook vir jou mag gebeur. Dan mag jy ook seker van jou geloof wees en van jou redding.

    Wat sê die Skrif? Is die Skrif vaag oor die werkwyse van die Gees? Moet jy maar sit en wag totdat die Gees iets besonders vir of aan jou doen?

    Nee, geliefdes, die Skrif is duidelik oor die werk van die Gees om mense tot geloof te bring. Dis nie vaag of ingewikkeld nie. Eintlik is dit baie eenvoudig en tog weer so geweldig. Die Heilige Gees werk deur die eenvoudige verkondiging van die evangelie en deur die sigbare bediening van die sakramente.

    Ek verkondig vir julle: die middels van die Gees, die outeur en onderhouer van die geloof.

    1. die woord: die geloof kom uit wat jy hoor
    2. die sakramente: die geloof word ondersteun deur wat jy sien

    Hoe bereik die Gees die harte van ons kinders? Ps 78 laat ons weet hoe die Gees dit doen. Ouers, ja, die een generasie, word geroep om die volgende generasie die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het te vertel. Met die roemryke dade dink die outeur veral aan die wonderlike bevryding uit die slawehuis Egipte. Daar het die Here duidelik gewys wie Hy is, dat Hy die almagtige en getroue God is, aktief aanwesig tot redding van sy volk. Hy gaan voort van krag tot krag, van een verlossing na die volgende. Ja, waaroor gaan dit in die geskiedenis van die kerk? Oor niks anders as oor God se bewarende en reddende hand, sy roemryke dade.

    Elke verlossing het as grondslag en klimaks die verlossing uit die slawehuis van die sonde deur Jesus Christus. Broeders en susters, as ouers en ouer generasie het ons vandag baie meer om ons kinders te vertel as die ouers in Asaf se dae. Die bevryding uit Egipte was net 'n skaduwee van die bevryding van die sonde. En sedert Christus se verlossingswerk op Golgota het baie gebeur. Amper 20 eeue van kerkgeskiedenis. Geskiedenis van God se roemryke dade van verlossing en bewaring. Wat 'n stof om deur te vertel!

    Waarom moet een generasie die volgende generasie die roemryke dade van die Here vertel? Waarom moet God se verlossingswerk op Golgota en in die geskiedenis van die kerk aan die jeug van die kerk vertel word, in die gesin, by die skool en op die katkisasie? Om hulle te pla? Om hulle te vermoei met feite uit die verlede wat vir hulle nie van belang is nie?

    Nee, God se roemryke dade moet aan die kinders vertel word sê die Psalmis "sodat die volgende geslag....hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar." Met ander woorde: ons moet dit deurgee sodat die kinders in God kan glo en Hom kan dien. Die kinders, die jeug moet gaan glo, in God hul vertroue gaan stel. As hulle hul vertroue op God wil stel, as hulle wil glo, dan moet hulle eers hoor. Hulle moet eers weet wie God is. As jy God nie ken nie, dan kan jy ook geen vertroue op Hom stel nie. Daarom moet die jonger generasie die heilsgeskiedenis en die geskiedenis van die kerk hoor. Hoe kan hulle hul vertroue op God stel as hulle amper niks oor Hom en sy werke weet nie? Sien hier, ouers, oueres julle groot verantwoordelikheid. Besef u wel dat u instrumente van die Gees is?

    Paulus sê in Rom 10: Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? Gevolglik is die geloof uit die gehoor. 'n Voorvereiste vir die geloof is om te luister. 'n Moeilike saak in ons teenwoordige tyd wat op vermaaklikheid gerig is. Hoe het die tronkbewaarder van Filippi tot geloof gekom? Paulus en Silas het in die nag die woord van die Here aan hom en aan almal wat in sy huis was verkondig (Hand 16:32).

    Seuns en meisies, hoe kom julle tot geloof? Eenvoudig deur om te luister. Die Heilige Gees werk deur die woord wat vir julle vertel word. Dit begin reeds tydens jul eerste jare wanneer jul ouers op 'n baie eenvoudige manier julle van God vertel of uit die Kinderbybel voorlees. Daar is die Heilige Gees aktief. Dit gaan voort in al die onderrig uit en volgens die Skrif. In die kerk, in die gereformeerde onderwys, in die katkisasie klasse en op die bybelstudieverenigings. Die Gees van God soek jul harte. Hy is besig om aan julle te werk. Jul ouers, jou onderwysers, jou ampsdraers is dienaars van die Gees. Deur hul werksaamhede wil Hy geloof in jou harte werk: uit wat julle hoor. Deur te luister na die woord van Christus.

    Maar, geliefdes, wat as jy dan moeite het om te glo, as jy die gevoel het dat jy gewoon nie kan glo nie? Wat is die oorsaak daarvan?

    Dit kan nie wees omdat jy dit nie gehoor het nie. Elkeen van julle het die evangelie gehoor en julle hoor dit nog. Kyk maar goed na wat God in Rom 10: 16-21 sê. Paulus noem daar sekere verskonings wat moontlik kan verklaar waarom nie al die Israeliete aan die evangelie gehoor gegee het nie, waarom nie al die verbondskinders tot geloof gekom het nie.

    Die eerste verskoning wat mense kan probeer maak is : Het hulle miskien nie gehoor nie? Die verskoning is nie geldig nie, veral nie vir hulle wat in die kerk groot geword het nie. Paulus skryf met 'n aanhaling uit Ps 19: "Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde."

    Dan is daar die tweede verskoning: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Was dit miskien te moeilik vir hulle, te vaag en onduidelik. Die verskoning is ook nie geldig nie. Hoekom het baie van die Israeliete nie tot geloof gekom nie? Paulus gee die antwoord wanneer hy skryf: "die hele dag het Ek my hande uitgebrei na 'n ongehoorsame en teësprekende volk." Dit was dus nie God se skuld nie, ook nie vanweë die onduidelikheid in die oordrag van die evangelie nie. Nee, dit was omdat hulle self ongehoorsaam was en teësprekend. Hulle wou nie luister nie. hulle wou aan die evangelie nie gehoor gee nie. Hulle wou self praat, self die toon aangee. Hulle was nie bereid om eenvoudig te luister na wat die Here vir hulle sê nie. Hulle was ongehoorsaam en teësprekend.

    As een van julle sê dat hy nie kan glo nie, dan kan jy nie God die skuld daarvan gee nie. Jy kan ook nie die Heilige Gees blameer nie omdat Hy jou nie aangeraak het nie. Die Heilige Gees het sy woord vir jou laat hoor, in die gesin, in die kerk, by die skool ens. Miskien was dit by tye nie altyd ewe duidelik en eenvoudig nie. Maar julle het dit almal gehoor. En die geloof is uit die gehoor. Dis dus veral 'n kwessie van onwilligheid, dat jy nie wil glo nie. Dat ek nie tot geloof kom moet verklaar word vanuit ongehoorsaamheid, onwilligheid, dat ek my nie wil oorgee aan God en sy woord nie, koppigheid.

    Broeders en susters, daar is egter mense wat beslis nie onwillig en ongehoorsaam wil wees nie. Hulle is van die nederige Christene wat die Almagtige God in alles gehoorsaam wil wees. Tenminste so lyk dit. En dis hoe hulle die situasie beskou. Maar in al hul nederigheid kom hulle tog maar nie daartoe om te glo nie. Hulle worstel met vrae soos: Geld alles wel vir my? Is die redding in Christus ook vir my bestem? Is ek gered? Dis vrae wat hulle nie met 'n ja durf beantwoord nie. Hulle dink dat die Gees eers hulle 'n duideliker aanwysing moet gee.

    Maar, geliefdes, die eerste en belangrikste middel van die Gees is die Woord. Deur die woord wil die Gees jou tot geloof bring. Sy werkwyse is so eenvoudig en tog weer so magtig: deur die woord. Hy dring deur tot jou hart. Die woord is die saad van wedergeboorte, se Petrus. Die geloof kom van wat jy hoor. As jy nie met die woord tevrede is nie, dan is jy, hoe nederig jy ook al mag lyk, tog ongehoorsaam. As jy eers iets meer wil ontvang, bv 'n spesiale teken of ervaring van die Gees, dan is jy ongehoorsaam. Feitelik is dit ook hier 'n kwessie van dat jy nie wil glo nie.

    Die woord waardeur die Heilige Gees die geloof werk is nie abstrak en onpersoonlik nie, maar lewend en kragtig en persoonlik geadresseer. As jy die woord aanvaar, dan besit jy die ewige lewe. In en met die woord ontvang jy Christus en al sy weldade. Glo en jy sal gered word. Niks meer is nodig nie. Elkeen wat glo, wat die evangelie aanvaar, is gered.

    Gemeente, die Heilige Gees die outeur van die geloof beperk Hom egter nie tot die woord nie. Hy voeg ook die sakramente daarby. Dis die tweede gedagte: die geloof word ondersteun deur wat jy sien.

    As die geloof uit die gehoor is en die redding aan die geloof verbind is, waarom dan nog die sakramente? Ek besit tog reeds die verlossing deur die woord? Toe die tronkbewaarder te Filippi sy vertroue op die Here gestel het, is hy gered. Waarom dan nog die doop en die nagmaal?

    Die sakramente is nie gegee om iets aan die woord toe te voeg nie. In sy woord maak God sy hart oop, verklaar Hy reeds sy liefde. Die woord word evangelie genoem, goeie nuus. Daarin word Christus se offer aan die kruis voorgestel as die enigste grond van ons saligheid. God stel Homself voor as die God van genade. En Hy laat geen twyfel daaroor bestaan dat elkeen wat glo, ewige lewe het. So word die woord aan elkeen van julle persoonlik geadresseer. Dit spreek jou direk aan: glo en die voorgestelde saligheid sal joune wees.

    Broeders en susters, pasop dat julle die sakramente nie meer laat sê as wat hulle sê nie. Dis een van die foute wat in die kerkgeskiedenis herhaaldelik gemaak is. Dis ook een van die redes vir die vrymaking in Nederland van 1944. Ons mense wil graag uit die sakramente 'n boodskap ontvang wat bo die woord uitgaan. Ons wil graag die boodskap hoor dat ons onvoorwaardelik gered is. Die woord kom na ons toe in 'n voorwaardelike vorm: glo en jy sal gered word. Die geloof word dus voorgestel as 'n voorwaarde. Jy moet eers glo.

    Wel ons sou graag bo die eis en voorwaarde wil uitkom. Pleks van Glo en jy sal gered word, wil ons graag die persoonlike boodskap hoor: Johan, Marieke, Pieter ens., wat ook al mag gebeur, jy is gered. Ons wil die waarborg ontvang dat die saligheid ons deel is, maak nie saak wat gebeur nie. Dit lyk asof die voorwaarde van geloof dinge so onseker en vaag maak.

    Daarom het mense die sakramente en veral die doop op so 'n manier verstaan dat God daar sou verklaar dat jy outomaties die vergewing van sondes en die ewige lewe ontvang, sonder enige voorwaarde van geloof. Die doop sou dan iets verseël wat ons reeds het, ons wedergeboorte, ons ewige verkiesing en verlossing. En niks sou dit kan versteur nie. As die persoon dan later in ongeloof die Here afwys, dan sou dit slegs 'n teken wees dat daardie doop nie eg was nie. Want die doop sou 'n onvoorwaardelike belofte verseël.

    Maar geliefdes op daardie manier laat ons die sakramente iets toevoeg aan die evangelie self. Die woord kom altyd na my toe in 'n voorwaardelike vorm. Daar is altyd 'n belofte en 'n eis. Glo en jy sal gered word. As die Here dit in die sakramente anders sou doen, dus onvoorwaardelik dan sou Hy homself weerspreek. En dis onmoontlik. God kan nie lieg nie. Wat Hy sê bly altyd geld. Daarom is die boodskap van die sakramente nie anders as die boodskap van die woord nie. Die woord en die sakramente is albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys. Die saligheid wat in die woord en die sakramente uitgestal word, moet in geloof aangeneem word. Indien ek glo dan sal dit vir seker die myne wees. Die tronkbewaarder het die redding ontvang toe hy geglo het en nie eers toe hy gedoop is nie.

    Maar waarom dan die sakramente as hulle tog niks toevoeg aan die woord nie. God hou rekening met ons stompsinnigheid en swakheid. Ons geloof is maar klein en swak. Ons geloof wankel maklik as dit nie ondersteun word nie. Daarom gee God as 't ware prentjies by die woord. Dit spreek ons sinne aan. Vra maar vir die kinders: wat jy met jou oë sien en wat jy met jou hande kan voel, bly jou beter by, dring meer tot jou deur. Dis baie makliker om te onthou wat jy bv op die TV gesien het as wat jy net via die radio gehoor het.

    So gee God ons sigbare tekens en seels naas die woord om ons geloof ekstra te ondersteun. As tekens is die sakramente sigbare beelde soos illustrasies in 'n boek wat die verhaal verduidelik. Saligheid in Christus, die belofte van die evangelie, word op 'n duidelike manier geïllustreer.

    As seëls waarborg die sakramente die betroubaarheid. Seels op belangrike dokumente voeg niks aan die inhoud van die dokumente toe nie. Al wat hulle doen is om duidelik te maak dat dit wat daarin geskryf is outentiek, geloofwaardig is. Hierdie verseëling van die belofte is nie nodig vir die belofte self nie. Wat God sê is altyd geloofwaardig. Dis slegs nodig vir ons geloof. Ons het so 'n klein geloof. Daarom ondersteun die Gees ons met die seëls.

    Maar waarom twee sakramente? Doop en Nagmaal? Dit het alles te doen met die aard van die verbond. Die verbond met die Here is eensydig in sy oorsprong. Dit kom van een kant, van God se kant af. Hy rig die verbond op. Dink aan die doop van die babas, wat onmoontlik God kon soek.

    As sakrament van die eensydige begin het ons die doop. Ons word gedoop. Ons is daarby passief. Net God is aktief. Hy kom na ons toe met sy beloftes.

    Hoewel die verbond in sy ontstaan eensydig is, is dit tweesydig in sy voortbestaan. Die Here wil dat dit werklik as 'n tweesydige verbond sal funksioneer. Dit kan nie van een kant bly kom nie. Uiteindelik moet dit van albei kante kom. Die mens moet ook in aksie kom as 'n ware party van die verbond.

    Wel, hierdie tweesydigheid van die verbond in sy voortbestaan sien jy in die tweede sakrament: die heilige nagmaal. Aan die nagmaal is nie net God aktief, soos by die doop nie. Aan die tafel sien ons albei partye aktief: God en die mens. God gee homself in die tekens van brood en wyn. En die mens neem dit tot hom. Eet en drink.

    Deur die twee sakramente wil God die Heilige Gees jou geloof versterk. Feitelik is die woord voldoende. In die woord besit jy die volle heil. Die geloof kom van wat jy hoor. Maar in sy goeie sorg vir jou wil die Heilige Gees die boodskap nog duideliker en nadrukliker na jou toe laat kom. Daarom gee Hy ook die sakramente.

    Geliefdes, eer die Gees in sy werk. Neem sy werkwyse ernstig op. Dis nie vaag en afstandelik nie. Dit so eenvoudig en tog so geweldig: Hy gebruik die woord, die geloof kom van wat jy hoor. Hy gebruik ook die sakramente: die geloof word ondersteun deur wat jy sien.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)