Die verhouding tussen Christus en die Christene: Hy is die wynstok, ons die lote.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-05-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

Sondag 24, vraag en
antwoord 64

Ds C Kleyn - Sondag 11 Mei 2003

Lees:

Jesaja 5:1-7; Sondag 24, vraag en
antwoord 64.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps
106:1,2; Ps 106:20; Ps 36:2,3; Ps 92:6,7.

Tema:


Die verhouding tussen Christus en die
Christene: Hy is die wynstok, ons die lote.

  1. die snoeiwerk van die Vader;
  2. die roeping om in Christus te bly; en
  3. die belofte van veel vrug dra

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend het ons reeds stilgestaan by die
beeld van die wingerdstok en die lote. 
Ons het gefokus op die innige band wat daar is tussen Christus en sy
gelowiges.  Vanaand wil ons kyk na die
hele Skrifgedeelte oor die wynstok en die lote.  Ek verkondig vir julle: die verhouding tussen Christus en die
Christene: Hy is die wynstok, ons die lote

  1. die snoeiwerk van die Vader
  2. die roeping om in Christus te bly
  3. die belofte van veel vrug dra

 Dis
opvallend dat die landbouer in die beeld van die wynstok nogal aandag kry.  Die eerste en die laaste vers  (verse 1 en 8)  praat van hom.  Die dra
van vrug is uit Hom, deur Hom en tot Hom. 
As ’n boer het die Vader baie sorg aan sy wingerd bestee.  Die Vader het die ware wingerdstok
geplant.   In sy liefde het Hy sy Seun
gegee.  Hy het ook daarvoor gesorg dat
die lote daarop kon groei.  Paulus skryf
in 1 Kor 1:30: Maar deur Hom is julle in Christus Jesus.

Die Vader sorg dus vir die wynstok en die
lote.  Wat is die doel van sy sorg?  In al sy werk as boer is Hy geïnteresseer in
die vrugte.  Hy wil vrugte sien, goeie
en veelvuldige vrugte.  Waarom plant ’n
boer ’n wingerd?  Ter wille van die
vrugte, om druiwe te kan pluk.  Die
waarde van die loot op die wingerdstok lê in sy vrugte.  As die loot vrugteloos is, dan is dit
waardeloos.

Broeders en susters, dat die Vader belangstel
in die vrug, is duidelik uit die verhaal. 
Daar sê Christus: "elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy
weg; en elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug
dra." (vers 2)  En: Hierin is my
Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra (vers 8). 

Die vrug kom egter nie vanself nie.  Die boer moet baie daarvoor doen.  Dit vereis sy voortdurende aandag en
sorg.  Hy moet dit reëlmatig nakyk en
versorg.  Siektes of ander belemmerings
van die groei moet so gou moontlik bestry word.  Daarom stap Hy deur die wingerd met twee messe: ’n kapmes en ’n
snoeimes.  Ons lees dit in vers 2: elke
loot wat nie vrug dra nie, neem Hy weg, kap Hy af.  En elke loot wat vrug dra die maak Hy skoon, die snoei Hy, sodat
dit meer vrug kan dra.  Wanneer die boer
deur die wingerd stap dan kyk Hy noukeurig na alle lote.  Geen loot ontglip sy aandag nie.  Hy laat geen loot onaangeroer.  Hy sny een loot af met sy kapmes, ’n
verskriklike oordeel wat in die vuur eindig. 
Die ander loot snoei Hy met sy snoeimes.  Dis genade.

Ons wil nou veral op die snoei werk van die
boer let.  Wat is die snoeimes?  Dikwels verwys mense na die snoeimes van die
beproewings.  God beproef ons tydens
hierdie lewe.  God kan ons baie snoei en
baie van ons wegneem.  Hy kan ons sterk
beperk, ons klein hou.  Verskeie mense
ervaar dit in hul lewe.  Die snoeimes
maak seer, dit bring trane en lyding. 
Maar in geloof mag ons nader kyk en sien dat God met ons besig is.  Daarom, ondanks die trane, is daar ook
vreugde: die snoeimes is in goeie hande, in die hande van die Vader van ons
Here Jesus Christus.  In die hande van
Vader wat die beste vir ons soek. 
Tydens elke teenslag, siekte, verdriet weet ek: die Here is met my
besig.  Nie omdat Hy daar plesier in het
om my te pla nie, maar omdat Hy hom daarin verheug dat ek veel vrug dra.  Hy snoei my met die beste bedoelings.  Hy wil iets goeds daaruit te voorskyn
bring.  Deur beproewings louter Hy my
geloof.  Verkeerde elemente moet
verwyder word.  En ek moet steeds meer
na Christus toe gedryf word sodat ek werklik uit sy volheid leef.

Geliefdes, hoewel hierdie pragtige, troosryke
gedagte volop skriftuurlik is, wys Joh 15 tog in eerste instansie in ’n ander
rigting.  Die konteks wys dat Jesus nie
besig is met sieke en beproefde mense nie. 
Hy is besig met sy dissipels wat deur ware geloof in Christus ingelyf
is, hulle is die lote.  En die gelowiges
moet gesnoei word, elkeen van hulle. 
Sien daar die lote wat die boer begin snoei.

Wel, vir die dissipels sê Christus in vers 3:
Julle is reeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.  Hierdie woord rein is verwant aan die woord
skoon in vers 2: elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon.  Julle is reeds rein deur die woord wat Ek
tot julle gespreek het.  Christus sê dus
vir die dissipels dat hulle reeds deur sy woord gesnoei is.

Sekere dinge moes van die dissipels weggesnoei
word.  Daar was ongeloof,
kleingeloof.  Hulle het wêrelds gedink,
kortsigtige aardse verwagtings gekoester. 
Sondige eienskappe het openbaar geword. 
Wel, al die wildegroei moes verwyder word.  Hoogmoed moes kort geknip word. 
Hulle was dissipels, maar hulle moes nog as dissipels geslyp word.  Noem dit maar snoeiwerk, skoon maak, reiniging.

Geliefdes, in die konteks pas dit goed om te
praat van die snoeimes van die Woord. 
Die Woord reinig van ongewenste groei. 
As eenmaal die wildegroei afgesny word kan die vrug toeneem.  Die woord sny daarin.  Vader sny alles wat die groei belemmer.  Daar is dikwels soveel ongewenste groei in
ons lewens, alles wat vanself opkom: hoogmoed, ongeloof, gebrek aan vertroue,
selfsug, geldsug, onbarmhartigheid, eiewilligheid ens.  Dit moet onmiddellik verwyder word.  Anders kan die vrug nie kom nie.

Elkeen van julle moet daarom voortdurend
gesnoei word.  Vader die boer steek sy
mes daarin.  Die mes van die woord, ’n
skerp tweesnydende swaard.  Broeders en
susters, laat julle deur die woord snoei. 
Aanvanklik maak dit seer.  Dis ’n
pynlike operasie.  Dit sny diep in jou
eie vlees.  Jy moet nee sê teen dinge
waarvan jy hou.   Maar dis die beste vir
jou.

Tot ons skande moet ons opmerk dat die woord
van God dikwels eers ten volle tot ons deurdring tydens beproewings.  Die beproewings is dikwels nodig om ons ten
volle bewus te maak van die snoeimes van die woord.  God hou ons klein.  Hy sny
al die wilde en oortollige takkies weg. 

Geliefdes, dank God vir die snoeiwerk van die
Woord.  Die snoeimes wat dikwels saamkom
met beproewings.  Dank God vir die snoeimes
wat diep in eie vlees sny, wat seermaak en jou klein hou.  Laat God jou snoei.  Laat Hom die dinge uit jou lewe verwyder wat
nie by Christus pas nie maar slegs van Hom aflei.  Met jou eiewilligheid en selfsug staan jy in jou eie pad.  Daarmee verhinder jy jou vreugde in die Here
en in die kerk.  Sondes verhinder jou
vrede en ontwikkeling.  Dis daarom
genade wanneer gemeentelede of ampsdraers jou aanspreek op die sondes.  Dis ’n teken van genade dat God jou nog wil
snoei.  Blykbaar vind die boer dit nog
die moeite werd om te snoei.  Hy neem
nog die tyd daarvoor.  Hy soek nog vrug.

Dit kan ook so anders wees: dat God dink dat
dit nie meer die moeite werd is nie, dat Hy die wingerd, die lote aan hul lot
oorlaat.  Ons lees van so ’n oordeel in
die OT-iese lied van die wingerd. 
"En Ek sal dit (naamlik die wingerd) ’n wildernis maak: dit sal nie
gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels." (Jes
5:6).  As jy nie jouself laat snoei nie,
as jy weier om na die Woord van God te luister dan sal bitter vrugte volg.  Dis die wet van die natuur en dis gelyktydig
’n oordeel van God.  Wanneer die lote
nie goeie vrugte dra nie, dan neem God die kapmes, hy kap die dooie lote
af.  Die waardelose lote word in die
vuur gegooi en verbrand.  Dis hoe dit gaan
met ’n Christen wat weier om uit Christus te lewe.  Dis die bestemming vir hulle wat weier om hulle te bekeer.

Daarom roep Christus op: Bly in my.  Dis die tweede gedagte: Die roeping om in
Christus te bly.  Ja, geliefdes, niks
anders is nodig as ’n bly in Christus nie. 
Anders tree die proses van die dood in, wat eindig in die volle
geestelike en ewige dood.

Bly in My, sê Christus. In die teks noem hy
dit 6 maal.  Blykbaar is dit nie
voldoende om op ’n sekere oomblik met Christus verenig te wees nie.  Jy moet daaraan bly werk sodat jy die genade
behou.  Deur geloof moet jy altyd aan
jou Verlosser verenig bly.  Jy moet aan
Hom vashou, sonder om los te laat. 
Vashou aan Hom as diegene wat red en lewe gee.  Aan Hom vashou ook wanneer die sonde jou weer gevang het, wanneer
jy weer geval het.  Aan Hom vashou met
die sekerheid dat jy in Hom regverdig is.

Maar, geliefdes, om in Hom te bly, hoe moet ek
dit doen?  Wat is dit presies?  Christus verklaar dit deur die uitdrukking
af te wissel met die woorde: as my woorde in julle bly (vers 7).  Om in Christus te bly beteken onder ander :
om Christus se woorde in jou te laat bly, jou te laat beheers.  Om in Hom te bly, is vir ons om die
onvervalste evangelie van genade vas te hou, die volkome woord van God.  Want enigiemand wat die woord loslaat, laat
Christus los.

Dis, broeders en susters, ’n les wat die kerk
steeds weer moet leer.  Bly in My.  Los alle eiewaan en selfregverdiging.   Maak jouself leeg om deur Christus gevul te
word.  Leef uit Hom alleen.  Die kerk, die Christene wat hulleself as
selfgenoegsaam beskou, wat hulleself tot wingerdstok verhef  pleks van lote, plaas hulleself buite die
wingerdstok Christus.  En buite die wingerdstok
is daar die dood vir die lote en die vuur. 
Wanneer die kerk Christus en sy woord verlaat dan kies dit vir die dood
en die vuur.  In selfgenoegsaamheid het
hulle die lewensaar deurgesny.

"Want sonder My kan julle niks doen
nie" sê Christus.  "Net soos
die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so
julle ook nie as julle in My nie bly nie."  Christus maak duidelik dat daar absoluut geen kragte van
ontwikkeling en vrugbaarheid is buite Hom nie. 
Laat die lote hulleself nie verhef nie. 
Van hulleself het hulle geen bron van lewe nie.  Uit onsself is ons dood in sondes, onbekwaam
tot enigiets goeds en geneig tot alle kwaad. 
Ons is net lote wat alles van die wingerdstok Christus moet ontvang.

Bly in My. 
Die ander kant van die medalje is: Ek in jou.   "Bly in My, soos Ek in julle."  Om in die wingerdstok te bly is die manier
waarop ons die lewenssappe van die wingerdstok ontvang.  As ek aan die volle evangelie vashou,
ontvang ek ook die volle evangelie.  So
bly Christus se woorde in my.  En in die
woorde: Christus self.  Hy in my.  In sy woord is Hy aanwesig, in my.

"Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel
vrug" sê Christus.  Dit bring ons
by die laaste gedagte: die belofte van veel vrug dra.

Die innige band met Christus kan nie
onopgemerk bly nie.  Soos die
wingerdstok altyd sy sappe na die lote stuur om die in staat te stel om vrug te
dra, so stuur Christus sy lewendmakende kragte na ons sy lote toe.  Die loot wat in Hom bly sal nooit lewenskrag
kort nie.  Want uit sy volheid gee Hy
genade op genade.  Volle lewe en heil
vloei na ons toe.

Waarom is dit, broeders en susters, dat ons in
ons daaglikse lewe soms so min vrugte wys? 
Waarom is dit dat daar dikwels so min vrugte is waarin die landbouer,
die Vader, hom kan verbly?  Dis nie
vanweë Christus nie.  Hy het volkome
verlossing verwerf.  Alles is in Hom
gereed.  God het Hom vir ons tot
wysheid, geregtigheid en heiligmaking gegee, ja tot ’n volkome verlossing.

Wanneer daar min vrugte is, dan is dit ook nie
vanweë die Vader nie.  Hy gee aandag aan
sy wingerd.  Hy negeer nie een loot
nie.  Hy kap af of snoei.  Dink aan die werk van die ampsdraers.  Dink aan die prediking.  Die Vader hanteer voortdurend sy snoeimes
van die woord, dikwels vergesel met beproewings, sodat die vrugbare lote nog
meer vrug kan dra.

Hoekom dan, dat die daaglikse lewe van
Christene soms so min Christelik kan wees? Hoekom dat ons manier van dink,
praat en doen dikwels so min verskil van die van die ongelowiges?  Ons mense luister dikwels na dieselfde
musiek,  vermaak hulleself op dieselfde
manier, kyk na dieselfde programme ens. 
Hoekom?

Dis nie vanweë Christus nie.  In Hom is daar lewe in oorvloed.  Dis ook nie vanweë die Vader nie.  Hy gaan aan met sy snoeiwerk.  Dis uitsluitend vanweë onsself.  Blykbaar leef ons nog nie genoeg uit Christus
nie. Blykbaar hou ons onvoldoende rekening met die opdrag: Bly in My.  Te dikwels leef ons nog sonder, buite
Christus.  Te dikwels vertrou ons op ons
eie wysheid en op ons eie krag.  Te
dikwels weier ons om onsself leeg te maak sodat ons deur Christus gevul kan
word.  Dit verklaar die maer vrugte: ’n
belediging vir Vader die landbouer en vir Christus die wingerdstok.

Geliefdes, wanneer jy uit Christus leef en vir
sover jy uit Hom leef, sal jy veel vrug dra. 
Dis normaal en natuurlik.  Want
dan bereik die lewenssappe hul doel sonder belemmering.  In antwoord op die gebed groei daar meer en
meer vrugte.  Christus sê tog: As julle
in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle
sal dit verkry.  In Christus is daar
geen tekorte nie.  In Hom is daar ’n
oorvloed.  As jy in Hom bly sal jy uit
die oorvloed ontvang.  Die vrugte sal
steeds meer sigbaar word.  Tot groot
vreugde van die Vader.

Broeders en susters, aan die tafel het julle
die voorreg gehad om die innige band met Christus, jul Verlosser te vier.  Hy het sy lewenssappe so te sê aan julle
deurgegee.  Hy het jul siele aan sy
tafel gevoed.  Daarin mog julle ervaar
die sorg van jul hemelse Vader, die landbouer. 
Wat mag die hemelse Vader nou van julle verwag?  Tog dit: dat julle vrug dra, goeie vrugte,
veelvuldige vrugte?

Geliefdes, julle wil tog ook veel vrug
dra?  Jy wil tog ook meer en meer wys
dat jy ’n Christen is?  Wel: bly in
Christus.  Hou op om op jouself te
vertrou.  Los al die selfgenoegsaamheid,
al die eiesinnigheid.  Leef net uit
Christus, die ware wynstok.   Leef uit
en volgens sy woord.  En sy woorde sal
jou besiel, lewend maak. Dit sal ’n bron van vitale krag wees wat na jou
toestroom.  En jou lewe sal bloei.

Daarom, onderwerp jouself gewillig en met
vreugde aan die snoeiwerk van die Vader. 
Laat Hom jou deur sy woord snoei. 
Laat jouself vermaan en geslyp word. 
Laat jouself skoonmaak van elke ongewenste groei.

En die vrugte sal sigbaar word.  Baie vrugte tot eer van God die Vader en God
die Seun.  Dis immers onmoontlik dat ’n
mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van
dankbaarheid sal voortbring nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)