Die Heilige Gees woon in die gelowiges as die derde Persoon van die drie-enige God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-03-02
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

Sondag 20

Ds C Kleyn - Sondag 2 Maart 2003

Lees:

Johannes 14:15-31; 16:5-15; Sondag 20.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 43:8,9; SB 14; Ps 20:1,2.

Tema: Die Heilige Gees woon in die gelowiges as die derde Persoon van
die drie-enige God.

  1. Die Heilige Gees is een met die Vader en die Seun; en
  2. Die Heilige Gees is ook aan my gegee.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is nou by die derde gedeelte van die apostoliese geloofsbelydenis, die
deel oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Die laaste dekades word veel meer aandag aan die heilige Gees gegee. Die
charismatiese beweging vaar wel daarby. Baie mense voel dat die kerke nie reg
aan die Heilige Gees gedoen het nie. Deur soveel nadruk op die leer te plaas,
sou die kerke die Heilige Gees uitgedryf het. Dit sou die persoonlike
geloofservaring gesmoor het.

Op homself is dit verblydend dat God die Heilige Gees meer aandag ontvang.
Wie is nie bly as God die Heilige Gees die eer ontvang wat Hom toekom as die
derde Persoon van die drie-enige God nie?

Ons moet egter besef dat die vernude aandag vir die Gees ook met die gees van
die tyd te make kan hê, die gees van subjektivisme met sy nadruk op die
individuele persoonlike ervaring. Ek sou wens dat dit waar was dat die Gees
opnuut deur die massa geëer word as die derde persoon van die drie-enige God.
Ongelukkig word die Gees dikwels voor die kar van mense gespan. Dikwels word die
Gees genoem om te verbloem dat die mens homself in die middelpunt wil plaas, die
mens met sy godsdienstig gevoelens en belewing.

Dit kan bv op twee maniere gebeur. In die liberale teologie sien die mens
homself as die maatstaf van alle dinge. Sy godsdienstige gevoel of bewussyn
bepaal sy godsdiens. Die waarheid, se sommiges, bestaan nie buite jou nie, maar
slegs in jou, in jou ervaring van die waarheid. Dit kom daarop neer dat jy jou
eie god word. Wat doen die liberale teologie dan? Hul identifiseer hul
godsdienstige bewussyn met die werking van die Gees. Die leer sou doodmaak, maar
die Gees maak lewend, sê hulle dan.

Die mens met sy godsdienstige gevoelens kan ook op ’n ander manier in die
middelpunt kom te staan. Uit reaksie teen wat ervaar word as dooierigheid in die
tradisionele kerke, soek mense dikwels ’n soort van oplewing. Hulle wil opnuut
die Gees in aksie sien, die Gees wat lewend maak. Hulle soek ’n herhaling van
die tekens van die eerste christelike kerk. Hierdie posisie is nie dieselfde as
die van die liberale teologie nie. Dis vernaamlik ’n reaksie teen die liberale
teologie. Maar as jy mooi kyk is dit die vraag of die verskil tussen die twee
wel so groot is as jy op die eerste gesig sou vermoed. So ’n reaksie op die
afval en dooierigheid in die kerke kan maklik lei tot ’n oorbeklemtoning van
die Gees ten koste van die ander twee persone van die Heilige drieenheid. Deur
sulke eensydigheid kom die mens tog weer in die middelpunt te staan. Jou
godsdienstige ervaring en opwekking sou die belangrikste wees. Dis wat jy in die
tradisionele kerke gemis het. Dis wat jy nou wil ontvang, maak nie saak hoe. Die
belangrikste lyk dan nie te wees wat God in die situasie gemis het nie, en wat
God graag sou sien nie, maar wat ek gemis het en wat ek graag sou sien. So word
Christus se woord en werk in beginsel tog weer na die agtergrond geskuif ook al
besef die mense dit nie. As ek die opwinding en opwekking van die charismatiese
beweging soek, dan sal ek myself die vraag moet vra: wil ek werklik deur die
Gees van God beweeg word, of jaag ek na die bevrediging van my eie godsdienstige
gevoelens?

Laat ons nou nader let op wat die Skrif ons leer oor die Heilige Gees.

Ek verkondig vir julle: die Heilige Gees woon in die gelowiges as die derde
Persoon van die drie-enige God.

  1. die Heilige Gees is een met die Vader en die Seun
  2. die Heilige Gees is ook aan my gegee.

Wat glo jy van die Heilige Gees? Die antwoord lui: Ten eerste is Hy saam met
die Vader en die Seun ware en ewige God. Ten tweede is Hy ook aan my gegee.

Die neiging is om vinnig verby die eerste punt te stap en ons op die tweede
punt te konsentreer. Dat die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun ware en
ewige God is, spreek ons nie so baie aan nie. Dit lyk sover van ons af te staan
en moeilik om te begryp. Maar die tweede dat Hy ook aan my gegee is, spreek veel
meer aan.

Maar, geliefdes, moenie die eerste gedeelte van die antwoord negeer nie.
Moenie die twee gedeeltes van mekaar skei nie. Die eerste gedeelte is van
fundamenteel belang. Die meeste foute wat aangaande die Heilige Gees gemaak
word, ek het sommige in die inleiding reeds genoem, is ’n gevolg van die
verwaarlosing van die eerste gedeelte van die kat antwoord. Die feit dat die
Heilige Gees saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, is nie iets
wat ver van my lewe verwyder is nie. Dit beteken alles vir my geloof. Dit
beteken die verskil tussen lewe en dood vir my. Ek sou nooit kon sê dat Hy ook
aan jou gegee is nie as die eerste punt nie eers sou geld nie, naamlik dat Hy
saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is. Dis omdat ek dit weet dat
ek kan bely dat Hy ook aan my gegee is. Die eerste gedeelte van die antwoord gee
inhoud aan die tweede deel.

Broeders en susters, moenie ooit die Heilige Gees van die Vader en die Seun
skei nie. As jy dit doen dan hou jy niks oor nie, geen God, geen Heilige Gees
nie, ook al dink jy dat jy juis wel die Heilige Gees het. Die drie Persone van
die drie-enige God behoort by mekaar, werk saam in volmaakte harmonie. Die
Heilige Gees rond af die werk van God die Vader en God die Seun. Hy is nie daar
tot verheerliking van homself nie, maar tot verheerliking van die Vader en die
Seun. Jesus Christus sê dit vir ons in Joh 16:13-15 "Maar wanneer Hy gekom
het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy
sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die
toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal
neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is
myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan
julle verkondig."

Let op die woorde: Hy sal nie uit Homself spreek nie. Hy sal neem uit wat aan
My behoort en aan julle verkondig. Hy sal daarom kom met die woord van Christus,
wat weer die woord van sy Vader is en Hy sal Christus verheerlik. Die Heilige
Gees handel nie onafhanklik van die Vader en die Seun nie. Hy is nie ’n
persoon wat my moet raak en beweeg los van die woord van die Vader en die Seun
nie. Nog minder dat Hy teen die Woord van God sou handel.

Daarom hoef ek nie te sit en wag totdat ek Hom skielik in my hart ontdek of
voel nie. Wanneer ek oor God die Heilige Gees praat, dan is dit nie my gevoel of
ervaring wat die belangrikste is nie. God die Heilige Gees plaas die Vader en
die Seun in die kalklig. Daarvoor is Hy uitgestuur. Hy is bekommerd oor hul
woord en hul heerlikheid. Het Christus nie gesê: Hy sal My verheerlik omdat Hy
dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Die bediening van die Gees is ’n spreilig bediening. Hy verlig Jesus se
heerlikheid voor ons geestelike oë. Julle weet wat die funksie van spreiligte
is. As dit goed is, word die spreiligte so geplaas dat jy die ligte self nie
sien nie. Jy behoort nie te sien waar die lig vandaan kom nie. Wat jy behoort te
sien is die gebou of ander objek waarop die spreiligte skyn. Die bedoeling is om
die gebou te laat uitstaan in sy waardigheid en skoonheid. Dit illustreer mooi
die Gees se rol. Hy is, so te sê, die verborge spreilig wat alle lig op ons
Verlosser Jesus Christus laat skyn.

Ons kan dit ook op die volgende manier verklaar. Dis asof die Gees agter ons
staan en lig oor ons skouer werp op Jesus wat voor ons staan. Die Gees se
boodskap is nooit: kyk na my, luister na my, kom na my toe nie, maar altyd: kyk
na Hom en sien sy heerlikheid, luister na Hom en hoor sy woord; gaan na Hom toe
en leef; leer Hom ken en proe sy gawe van vreugde en vrede. Die Gees is soos
iemand wat huwelike bewerkstellig, ’n soort hemelse huweliksmakelaar wie se
rol is om ons en Christus by mekaar te bring en te verseker dat ons saam bly.

Die Gees laat ons aan Christus en al sy weldade deel kry. Hy voeg niks toe
aan die werk van Christus nie. Hy kom nie met iets nuuts nie. Dis nie nodig nie.
Want Christus het die versoening tot stand gebring. Christus het tog uitgeroep:
dit is volbring. Die enigste wat nog moet gebeur is dat die verlossing
tuisgebring moet word. Die verlossing moet effektief gemaak word, my eie gemaak
word. Ek moet dit ontvang en aanvaar. So kom die Heilige Gees na my toe met
Christus se skatte om dit vir my uit te deel. Hy maak tot ons eiendom wat ons in
Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing
van ons lewe.

Ja, geliefdes, die Heilige Gees dryf ons na Christus toe. Hy laat my aan
Christus deel kry. So laat die Gees my ook aan die Vader deel kry. Wie die Seun
het, het ook die Vader. Laat niemand die Gees van die Vader en die Seun skei
nie. As ek dit doen dan verloor ek nie net God die Vader en God die Seun nie,
maar ook God die Heilige Gees. Feitelik verloor ek dan my lewe, my saligheid.
Die Heilige Gees woon mos in die gelowiges as die derde Persoon van die
drie-enige God.

Die Gees wat een met die Vader en die Seun is, is ook vir my gegee, dis die
tweede gedagte.

Kan ek dit sê dat die Heilige Gees aan my gegee is en daarom in my woon? Kan
ek hiervan seker wees? Onthou, broeders en susters, dat ons kat ’n
geloofsbelydenis is. Hier is die gelowige aan die woord, iemand wat aan sy
geloof uiting gee. As ek glo, dan mag en moet ek sê: die Gees is ook aan my
gegee. Elke ware christen het die Gees vanaf die oomblik dat hy of sy glo.

Waar kom mos die geloof in die drieenige God vandaan? Is dit iets wat
spontaan by my opkom? Is dit ’n prestasie van my vrome hart? Ons weet van
beter. Ek kan nie sonder die Heilige Gees glo nie. As ek werklik glo, dan is dit
slegs moontlik deur die Heilige Gees wat my lewend gemaak het en in my werk.
Daarom lees ons in die Skrif dat niemand kan sê dat Jesus die Here is nie,
behalwe deur die Heilige Gees (1 Kor 12:3) Wanneer ek werklike glo dan het ek
die Heilige Gees in my hart, dan mag ek sê: die Heilige Gees is ook aan my
gegee. As ek dit nie kan sê nie, dan ontbreek daar blykbaar die geloof. Paulus
skryf: as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie
(Rom 8:9).

Gemeente, in Paulus se briewe word beide die kerk as geheel en die
individuele gelowiges tempels van die Heilige Gees genoem. So skryf Paulus aan
die gemeente van Korinte: "want julle is die tempel van die lewende God,
soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal
hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees" (2 Kor 6:16). Ou
Testamentiese beloftes word op die jong Christelike kerk toegepas. God vervul
die ryke belofte van die nuwe verbond vir julle as kerk. God wou in en onder ons
woon en wandel. Nie net tydelik nie. Die Gees wil nie net ’n kort besoek bring
om daarna weer te verdwyn nie. Nee, die Gees wil blywend in die kerk van
Christus woon. Paulus noem die kerk dan ook ’n woning van God in die Gees (Ef
2:22). As ons as gemeente dit nie durf sê nie, dan sou ons geen kerk wees nie.
Dis juis die inwoning van die Gees wat ’n kerk maak wat sy is: ’n kerk van
Christus. Deur die Gees is julle verenig met Christus, vorm julle sy liggaam,
die kerk.

En, geliefdes, wat vir die kerk as geheel geld, geld ook vir die individuele
gelowige. Elkeen wat glo moet durf sê: die Gees woon in my, ek is ’n tempel
van God. Is dit nie wonderlik nie?. Durf jy om dit te sê? God beloof dit by
elke doop: Ek wil in jou woon. Hy het dit ook vir jou belowe. Aanvaar die
belofte in geloof. Dank God vir die wonderlike gawe. Wat ’n wonder van genade!

Maar hoe kom die Gees my lewe binne? Op watter manier vestig Hy Hom in my
hart en lewe? Nie deur skielike flitse nie. Hy kom my lewe binne deur die woord
van God se genade, deur die onderrig en prediking daarvan. Wanneer ek die woord
van God lees, wanneer ek dit hoor, dan is die Gees besig om tot my te kom. Ek
het dan nie besondere openbarings buite die Woord nodig nie. Ek het reeds die
voltooide Bybel. Die woord van die Gees. Daarom moet ons nie praat van
voortgaande profesie of nuwe openbarings nie.

Maar is die lewendmakende Gees nie belangriker as die geskrewe woord nie?
Moenie die twee so teenoor mekaar stel nie. Die een kan nie sonder die ander
nie. Kyk maar na die eerste christelike kerk. Wat sien jy onmiddellik na die
uitstorting van die Pinkstergees? Dis opvallend dat die Gees nie die middele van
genade, woord en sakramente, verag nie. Inteendeel, dis juis langs die pad van
die middele, op ’n ordelike manier, dat die Gees teenwoordig wil wees. So word
die kerk, die ampsdraers, die prediking, die geskrewe woord hul eie plek gewys,
hul legitieme en waardevolle plek.

Luister maar na die apostel Petrus op die Pinksterdag: laat julle red uit
hierdie verkeerde geslag. Hy roep die mense op om ’n duidelike keuse te maak
wat die kerkadres betref. Het Petrus ook nie eerder gesê nie: Bekeer julle en
laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing
van sondes. Hy roep op tot ’n radikale keuse vir Jesus Christus. En die keuse
moet deur die doop gevolg word, ’n teken van die inlywing in die christelike
kerk. Dan is daar die belofte van die Heilige Gees: en julle sal die gawe van
die Heilige Gees ontvang.

Met Pinkster, die groot dag van die Gees, skaam Petrus hom nie om te wys na
die kerk nie. Hy wys op die nuwe adres waar mense hulle moet laat vergader vir
redding. Petrus sê bv nie: die kerk is nie belangrik nie. Solank as julle die
Gees maar ontvang. Nee, Petrus roep na die kerk toe. Hy praat van die teken van
inlywing in die christelike kerk en in verband daarmee ook van die vergewing van
sondes en van die gawe van die Gees. Daar in die kerk word die skatte van
Christus uitgedeel. Die Gees bind ons aan Christus en so ook aan Christus se
kerk.

Let ook daarop, gemeente, dat die kat wanneer dit die Heilige Gees en ons
heiligmaking behandel, eers die heilige algemene christelike kerk noem. So werk
die Gees aan my heiligmaking. Deur God se volk te vergader en te versorg onder
leiding van die ampsdraers word Christus se weldade uitgedeel, die skatte van
vergewing van sonde en die daaglikse vernuwing van ons lewe.

Broeders en susters, wat ook kort na Pinkster opval, is die manier waarop die
jong gemeente hom besig hou. Die jong gemeente soek dit nie in allerlei spontane
uitinge en ervaringe deur die Gees nie. Ons lees in Hand 2:42:"En hulle het
volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van
die brood en in die gebede."

Die kerk waarin die Gees gekom het, om te woon, negeer nie die middele van
genade nie. Inteendeel, die kerk is juis besig met die middele van genade. Die
Gees van Pinkster bind die kerk aan die leer van die apostels. Die Gees sien nie
neer op die leer van die kerk nie. Die Gees sien ook nie neer op die ampsdraers
van die kerk nie, soos baie mense dit doen. Kyk maar na die jong gemeente
onmiddellik na Pinkster. Hulle het volhard in die leer van die apostels. Dis die
eerste wat die PinksterGees hulle laat doen. Die Gees laat hulle aanhoudend
besig wees met die apostoliese leer. Die leer beteken alles vir hulle. Dis vir
hulle ’n kwessie van lewe. Hulle is voortdurend daarmee besig. Dit stem saam
met die plek wat ons in die eerste punt aan die Gees toegeken het.

Hulle volhard ook in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die
gebede. Hulle waardeer die gemeenskap van die heiliges. Hulle beoefen dit. Hulle
kom saam vir woord, sakrament en gebed. Dis die manier waarop die Heilige Gees
sy aktiewe teenwoordigheid in die kerk wys.

Op daardie manier wil die Gees my laat deel kry aan Christus en al sy
weldade, om my te troos en om ewig by my te bly. As ek die middele van genade
verwaarloos, dan is ek soos ’n uitgehongerde persoon wat weier om die brood te
eet wat sy lewe kan red. Nee, gemeente, jy ontvang Christus nie outomaties nie.
Jy word ook nie outomaties getroos nie. Die Gees bly ook nie outomaties by jou
nie. Jy moet dan ook daar wees waar die Gees wil werk, in sy gemeente. Jy sal
dan ook die middele van die Gees met oop arms moet bly ontvang.

Dan sal iets in jou lewe gebeur. Dan sal dinge verander. Die apostel
formuleer dit so: dan is jy nie in die vlees nie, maar in die Gees. Dan is jy
nie in jou element in die sfeer van die sonde nie. Jy vind die sondige lewe dan
afskuwelik. Jy is dan in jou element in die Gees. Dis jou terrein.

Die Gees tree dan op as ’n nuwe krag in my om my dinge te laat doen wat ek
vroeër nie kon of wou doen nie. Die Gees bevry my van magteloosheid en
kortsigtigheid. Die Gees gee nuwe lewe en krag.

So ontvang ek ’n nuwe dryfkrag in my lewe. Ek leef nie langer uit vrees
nie, bang vir God en mense. Ek is nie steeds daarop uit om myself te red, om my
eie wense en gevoelens te bevredig nie. Nee, ek is nou gedryf deur die Gees. Ek
leef in die nuwe gees van aanneming tot kinders, deur wie ek roep: Abba, Vader!
Dis die Gees self wat getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as
ons kinders is, dan ook erfgename van God en mede-erfgename van Christus (Rom
8). Kan jy dit voorstel? So ontwikkel daar ’n werklik christelike lewe. ’n
Lewe uit dankbaarheid tot eer van die drie-enige God.

Die Heilige Gees woon mos in die gelowiges as die derde Persoon van die
drie-enige God. Hy is een met die Vader en die Seun. Hy neem dit uit Christus se
volheid. En sy doel is om die Vader en die Seun te verheerlik. Wel, die Heilige
Gees is ook aan my gegee. Waarom? Sodat ek deel sou kry aan die Seun en die
Vader. Sodat ek die Vader en die Seun sou verheerlik.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)