Ons is baie ryk met die Here God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-02-09
Text: 
Psalms 16
Preek Inhoud: 

Psalm 16:11

Ds C Kleyn - Sondag 9 Februarie 2003

Lees:

Psalm 16; By Nagmaalstafels: Psalm 63; Psalm 71:14-24; Psalm 73:21-28..
Sing: Ps 108:1; Ps 75:1,4; Ps 16:1,5; Ps 89:1; Ps 63:2,3; Ps 71:9,10; Ps 73:10,11; Ps 89:6,7.

Tema: Ons is baie ryk met die Here God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Terwyl ons ons gereed maak vir die viering van die HN is dit goed om mekaar
daaraan te herinner hoe ryk ons met die Here God is. Daar is niks beter in die
lewe as om die Here God as jou erfdeel te hê nie. Dis werklik geweldig om in
die Here se teenwoordigheid te verkeer. Die psalmis beskryf dit mooi in Ps 16.

Dawid begin met ’n gebed van bewaring. "Bewaar my, o God, want by U
skuil ek." Daaruit verneem ons dat Dawid in moeite verkeer, selfs in
lewensgevaar. Die lewe van die christen is nie bestem om hier op aarde altyd
maklik te wees nie. Jy is nie altyd voorspoedig nie. Jy kan ook baie swaar kry.
Maar dit neem nie jou rykdom en jou vreugde in die Here weg nie. Inteendeel.
Moeilikhede laat jou juis besef hoe ryk jy met die Here is. Wanneer alle aardse
sekerhede wegval dan besef jy des te beter hoe ryk jy met die Here is. In die
moeilike situasie uit Dawid sy vertroue op die Here. In feite is die Psalm
tipies ’n Psalm van vertroue.

Dawid verheug hom in sy erfenis. Neem vers 6: "Die meetsnoere het vir my
in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi."

Wat is die erfenis waaroor hy sing? Praat Dawid hier oor die vaste eiendom
wat Hy het., sy aardse besittings of sy posisie? As dit in materiële sin vir my
goed gaan, dan praat ek maklik soos Dawid: die meetsnoere het vir my in lieflike
plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Is dit wat Dawid bedoel? Die res
van die psalm maak duidelik dat Dawid dink aan die Here God self. Ons lees in
vers 2: "Ek het tot die Here gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed
bo U nie." En in vers 5: "die Here is die deel van my erfenis en van
my beker." Dis duidelik dat Dawid die Here self beskou as sy erfenis, sy
skat. Dawid het hier op aarde baie ontvang. Maar dit is niks werd in vergelyking
met God self nie. Om tot die groot en heerlike God te mag sê: U is my Here, is
’n ongelooflike weldaad. Dis waarlik ’n pragtige erfenis. Die grootste
erfenis wat jy ooit kan ontvang, ook vandag. Daar is niks heerliker en grootser
as om by die Here God te behoort, as om Hom as jou Heer en Meester te hê. Jy is
daarin skatryk, ook al sou jy geen enkele aardse besit hê nie. In die kerk van
Christus vind jy die ware rykes. Dit geld vir u en ek.

Maar is dit nie vreemd dat Dawid die Here vergelyk met ’n erfdeel wat hom
deur lot toegewys is? Met die beeldspraak laat Dawid iets belangriks uitkom.
Iets wat jou deur lot te beurt val, het jy self geen invloed op gehad nie. Die
lot val op jou. Die beslissing gaan buite jou om. Dit is van die Here alleen. So
word dit duidelik: dat die Here my God is, my groot rykdom, dit is vir my so te
sê in die skoot gewerp. Ek het nie die Here gesoek en gekies nie. Die Here het
my gekies. Hy het my tot sy gunsgenoot en huisgenoot gemaak.

Wat beteken dit in die praktyk van die lewe? Dawid sê: Ek sal die Here loof
wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Die Here is my
Raadgewer, my Gids wat my op die pad van die lewe lei. Sy leiding is nie net
’n vaag gevoel binne-in my nie. Nee, Hy lei my deur sy Woord, deur sy beloftes
en eise. Snags terwyl hy nog wakker lê, oordink Dawid die woorde en werke van
die Here. So weerklink God se raad in Dawid se gees. So mag jy ook God ervaar as
jou ryke erfenis. Hy is altyd daar om jou te help en te lei. Jy het sy Woorde om
jou te lei, sy woorde van lewe en vreugde. Jy het sy werke wat die woord
bevestig, wat wys dat Hy werklik die almagtige en getroue verbondsgod is.

Dawid vervolg: Ek stel die Here altyddeur voor my. Ek is voortdurend bewus
van God se teenwoordigheid. Orals en altyd het ek met die Here te doen. My lewe,
my werk, my stryd vind plaas in God se teenwoordigheid. "Omdat Hy aan my
regterhand is, sal ek nie wankel nie." Dawid beskryf dan die vreugde van
die volkome veiligheid by die Here. "Daarom is my hart bly en my eer juig;
ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie
oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. U sal my die
pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig,
lieflikhede in u regterhand, vir ewig."

’n Mens kan dit in 2 woorde saamvat: lewe en vreugde. Maar dan wel ware
lewe en ware vreugde. Ja, ewige lewe en ewige vreugde. Dawid sing van lewe wat
voortgaan verby die dood en die graf. Hy ken God as die ewige God, die getroue
wat nie laat vaar die werke van sy hande nie. Wel, as hierdie God my God is, as
ek die lewe met Hom besit, (ja, om te geniet van sy gemeenskap is die lewe), dan
moet die lewe ook voortgaan, maak nie saak wat met my liggaam gebeur nie. Die
liggaamlike dood kan die verhouding nie verbreek nie, kan die lewe met God nie
wegneem nie.

So sing Dawid: U sal my die pad van die lewe bekend maak of u maak my die pad
van die lewe bekend. Dis nie net die pad wat tot die lewe lei nie. Dis meer, dis
die pad waarop ek die lewe mag geniet. U wys my die pad, u laat my die pad volg
en dit geniet. Versadiging van vreugde is voor u aangesig. Dis nie net iets van
die toekoms nie. Iets wat ek slegs na hierdie lewe kan geniet nie. Nee, ek mag
dit onmiddellik begin geniet. Dis ’n permanente besitting, ’n teenwoordige
ervaring. Ek hoef nie te wag totdat my aardse liggaam verval nie. Dawid het
gesing: die Here is die deel van my erfenis en van my beker, nou reeds in
hierdie lewe. Dawid hoor sy stem en geniet van sy gemeenskap. Hy stel die Here
altyddeur voor hom So leef hy nou reeds in die Here se teenwoordigheid en wandel
hy op die pad van die lewe. Dis die begin van die ewige vreugde.

Die Here laat sy teenwoordigheid nou reeds sien en voel. In sy
teenwoordigheid is daar ’n volheid van vreugde. Daar is nooit ’n tekort nie.
Versadiging van vreugde is voor u aangesig. Lieflikhede in u regterhand, vir
ewig. Daar is geen einde daaraan nie. God gee ewige vreugde, ewige genietinge.
Daar is by Hom altyd rede tot vreugde, ewig.

Wat ’n kwaliteit van lewe, ’n volheid van vreugde en waardigheid, om in
God se teenwoordigheid te lewe, aan sy regterhand. Wat ’n duursaamheid., ewige
genietinge. Dit klink werklik na ’n herstelde paradys.

Wel, broeders en susters, dis wat u aan die HN mag ervaar. God het die pad
van die lewe aan u bekendgemaak. Ja, Hy stel aan u voor die weg, die lewe, Jesus
Christus. Eet en drink in gedagtenis aan Hom. Glo in Hom en jy sal lewe, nou en
vir ewig. Hier in die diens en aan die tafel is u in die teenwoordigheid van
God. God self wil hier wees. Nie om u bang te maak nie. Maar om u met vreugde te
vervul.

En let daarop, gemeente, wanneer jy jou in die Here verheug, dan verheug jy
jou ook in sy kinders. Julle is saam ryk, julle is saam op pad. Dawid sê in
vers 2,3: "Ek het tot die Here gesê: U is my Here; vir my is daar geen
goed bo U nie. Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is
die heerlikes in wie al my behae is." Ja, as God waarlik my Here is, my
erfdeel, as God werklik alles vir my beteken, sal ek my ook verheug in die
heiliges, in my broeders en susters in die geloof. Hulle is die heerlikes sê
Dawid, in wie al my behae is.

Met God is daar werklik lewe en vreugde, ’n gemeenskaplike lewe en ’n
gemeenskaplike vreugde. Wat ’n voorreg is dit om die gemeenskap met God te
ervaar en in Hom met mekaar. Vier aan die tafel die dubbele gemeenskap en die
dubbele vreugde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)