Deur die eenvoudige wet van die liefde te verkondig, rig Christus ons op die enigste troos.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2002-08-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

Sondag 2

Ds C Kleyn - Sondag 11 Augustus 2002

Lees:

Matthéüs 19:16-26; Sondag 2; Romeine 3:9-20 (1ste tafel); Romeine 8:1-11 (2de tafel); Romeine 13:8-14 (3de tafel).
Sing: Ps 81:1,2; Ps 81:11,12; Ps 116:1-3; Ps 111:1,2 (voor Nagmaal); Ps130:2 (1ste beryming – 1ste tafel); SB 33:1 (2de tafel); SB 33:3 (3de tafel); Ps 116:9,10.

Tema: Deur die eenvoudige wet van die liefde te verkondig, rig Christus ons op die enigste troos.

  • Hoe Christus die wet vir ellendige sondaars verkondig; en
  • Hoe Christus die troos vir ellendige sondaars verwerf.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    Die oordeel van die kategismus is vernietigend. Daar word gevra: kan jy dit alles, dit is die wet van God, ten volle nakom? In antwoord daarop hoor ons: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Dis my sonde en ellende: ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

    Maar is my situasie werklik so sleg? Goed, ek weet dat ek soms faal, foute maak, ja selfs sondig. Maar dat ek van nature geneig is om God en my naaste te haat, dit lyk my vergesog. Nee, so sleg is ek tog nie. Ek leef tog ’n fatsoenlike lewe as ’n christen? Gewoonlik doen ek nie baie slegte dinge nie.

    Ons is geneig om so van onsself te dink. En wat van die lewe van ’n fatsoenlike nie-christen? Is hy werklik geneig om God en sy naaste te haat? Kyk maar na die liefdadigheid en menslikheid wat ons ook by die ongelowige tref. ’n Voorbeeld vir baie christene. Kyk maar na sy selfopoffering en sorg vir sy medemens. Hy benadeel niemand. Hy doen baie goeie dinge by die huis en in die samelewing. Kan jy dan sê dat die mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat? Kan jy die woorde van die kategismus handhaaf in ons beskaafde wêreld?

    Laat ons luister na die Here Jesus hieroor sê.

    Ek verkondig vir julle: deur die eenvoudige wet van die liefde te verkondig, rig Christus ons op die enigste troos.

    1. Hoe Christus die wet vir ellendige sondaars verkondig
    2. Hoe Christus die troos vir ellendige sondaars verwerf.

    Hoe moet jy mense van hul ellende oortuig? Moet jy hel en verdoemenis aan hulle verkondig? Moet jy hulle wys hoe verskriklik die hel is? Christus kies ’n ander pad. Hy kom met sy eenvoudige wet. Hy kom met die een woord: liefde. Deur die een woord kan jy jou sonde en ellende leer ken.

    Kyk maar na Christus se ontmoeting met die ryk jongman. Die jongman is goed af in finansiële sin, maar ook geestelik, so lyk dit. Hy wil ernstig die Here dien. Hy erken die gesag van die Here Jesus en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te hê. Later verklaar hy dat hy al die gebooie wat Christus genoem het, onderhou het. En hy meen wat hy sê. Hy het niemand doodgemaak nie, geen egbreuk gepleeg nie, nie gesteel nie, geen valse getuienis teen sy naaste gegee nie. Hy het sy vader en moeder geëer. Ja, hy het bewys dat hy sy naaste soos homself liefhê.

    Mens sou sê: alles is reg met hom. Hy is ’n fatsoenlike, agtenswaardige christen. Soos ons ook dikwels oor onsself dink. Ons gedra onsself op ’n fatsoenlike wyse. God en die naaste kan tevrede met ons wees.

    Hoe reageer Christus hierop? Christus verkondig die eenvoudige wet van die liefde. Hy laat weet wat die liefde behels. Ons is dikwels tevrede met onsself vanweë ons oppervlakkige verstaan van die wet van die liefde. Dikwels besef ons nie wat liefde omvat nie.

    Daarom stoot Christus deur na die hart. Het jy jou naaste werklik lief soos jouself? Soek jy werklik sy welsyn soos jy jou eie welsyn soek? Laat ons kyk. "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes en jy sal ’n skat in die hemel hê."

    Christus toets die jongman op ’n gevoelige punt in sy lewe om te sien hoe diep sy liefde is. En dan sien ons hoe teleurstellend dit is. Die man gaan weg bedroef. Hy kan dit nie opbring om te gee wat Christus gebied nie. Hy moet niks anders as onselfsugtige liefde wys. Maar dit is teveel vir hom.

    Dis opvallend dat die Here in sy gesprek met die ryk jongman slegs die tweede tafel van die wet noem: die liefde tot die naaste. Die tweede tafel waaroor die mensliewende humanis hom gemaklik voel. Maar wanneer dit daarop aankom, onttrek die mens hom daaraan. Hier blyk die bankrotskap van alle humanistiese optimisme en selfverheffing. Die mens is nie eers in staat om die konsekwensies van die tweede tafel van die wet na te leef nie. En as die mens nie eers die tweede tafel van die wet kan naleef nie, wat dan van die eerste tafel van die wet: die liefde vir God.

    God verkondig die eenvoudige wet van die liefde. In antwoord op God se liefde. Wat is die vervulling van die wet sonder liefde? Jy moet heeltemal liefde wees. God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Ja, met jou hele wese. Dit is die eerste en groot gebod. God vra liefde in hart en lewe, in woord en daad.

    Dan word duidelik hoe onvolmaak ons mense is. Hoe ver kom ons? Bedink wat dit beteken: om altyd jouself aan die Here te wy, sonder reserwes, totaal. Kan jy dit volmaak opbring? Word jou hele lewe, met liggaam en siel, met jou verstand en wil, in jou gedagtes, woorde en werke, altyd en orals, volkome deur die liefde bepaal? God is liefde. As ek nie liefde is nie, dan is daar geen hoop vir my nie. So laat Christus ons ons ellende ontdek deur die eenvoudige gebod van die liefde. Wie is mos in staat om die volmaakte liefde vir God te wys? Wie van julle laat die liefde jul hele bestaan deurtrek en beheers? Wie van julle is een en al liefde?

    Maar dan is jy nog nie klaar nie. Want die tweede wat hiermee gelykstaan is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Hierdie twee is gelyk aan mekaar. Jy kan die twee nooit van mekaar skei nie. In jou verhouding met jou naaste het jy ook met God te doen. God is die wetgewer wat die twee een gemaak het.

    Wie kan die twee tafel van die wet volkome onderhou? Wanneer jy kyk na die fatsoenlike humaniste, dink jy miskien dat die onderhouding van die tweede tafel nie so moeilik is nie. Kyk maar na hul mensliewendheid en sorgsame lewe.

    Maar Christus laat weet: moenie jou vergis nie. Van nature is elkeen geneig om God en sy naaste te haat. Kyk maar na die ryk jongman. Dit is hoe elkeen geneig is. Nee, jy sien dit nie altyd nie. Goddank! God beteuel die sonde. Hy hou die samelewing leefbaar. Anders sou dit nou reeds ’n hel op aarde wees.

    Maar is al die fatsoenlike gedrag die onderhouding van God se wet? Is dit dikwels nie ’n beskaafde manier om jou aan God te onttrek nie? Mense gaan dit self maak. As elkeen sy skouer aan die wiel sit, dan kan die stad van die mens rys, ’n paradys op aarde. In hierdie fatsoenlike, beskaafde stad van die mens draai alles om die mens, die mens wat sy eie heer en meester wil wees en God buite spel sit. Is dit die onderhouding van God se wet? Dit getuig eerder van haat teenoor God. Die fatsoenlike burgers is besig om God se naam te vertrap. Pleks om Hom lief te hê, wil hulle van hom ontslae raak.

    Bowendien, moenie jou vergis nie: om ware liefde tot die naaste te wys, is meer nodig as mensliewende dade. Die liefde moet voortkom uit die liefde vir God. Dit moet ’n liefde wees ter wille van God. Dan wil jy nie jou naaste gelukkig maak sonder God nie. Maar jy probeer om hom die liefde van God te laat sien. Dit is ware liefde vir die naaste. So soek jy werklik sy welsyn.

    Christus verkondig die eenvoudige wet van die liefde vir ellendige sondaars. Om ons te oortuig van ons sonde. Christus laat dit egter nie hierby nie. Hy kom ook met die enigste troos. Deur die eenvoudig wet te verkondig rig Hy ons op die enigste troos. Want Hy het die troos vir ellendige sondaars verwerf.

    Na die gesprek met die ryk jongman, begryp die dissipels dat Christus letterlik alles vra. Christus sê: "dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan." Daarop reageer die dissipels baie verslae: "Wie kan dan gered word?" In die lig van die totale toewyding wat Christus eis, sien die dissipels geen uitweg nie.

    Maar dan wys Christus op die enigste oplossing: "By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik." Christus sê nie: wees nie bekommerd nie, wees nie so pessimisties nie, dis nie so sleg nie. Nee, Christus sê: dit is sleg. Ja, by mense is dit onmoontlik. Geen mens kan dit bereik nie. Maar dis nie die einde van die verhaal nie. Wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God. Want by God is alle dinge moontlik. Van God se kant is dit moontlik dat ellendige sondaars gered word. Het God nie keer op keer bewys dat Hy die onmoontlike tot stand gebring het nie?

    Christus het die onmoontlike bereik. Hy het volmaakte, radikale liefde gewys. Dit in die plek van ellendige sondaars. So het Hy vir u en my verlossing verwerf. Dis wat ons aan die heilige nagmaal te vier.

    Ja, die wet oortuig my van my sonde en ellende. Kan ek ooit die volmaakte, selfopofferende liefde vir God en sy naaste wys? Ek, ellendige sondaar! Die wet dryf my ook na die enigste oplossing: Jesus Christus. Dit wat by mense onmoontlik is, het Christus vervul. Sy gehoorsaamheid word jou wat glo toegereken. Geniet van jou geloofsgemeenskap met Hom. Geniet van sy verdienste en van sy lewendmakende Gees. Laat jou so ook versterk en toerus tot die nuwe gehoorsaamheid.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)