Die saligheid is in niemand behalwe Jesus Christus nie.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2002-11-10
Text: 
Handelinge 4
Preek Inhoud: 

Handelinge 4:12

Ds C Kleyn - Sondag 10 November 2002

Lees:

Handelinge 4:1-12; Sondag 11A; by nagmaals tafels: Psalm
28; Psalm 31:20-25; Ps 130.
Sing: Ps 71:1,2; Ps 38:1,17; Ps 118:11,12; Ps 106:1,2; Ps 28:6,8; Ps 31:15,17; Ps 130:4; Ps 71:9,10,12.

Tema: Die saligheid is in niemand behalwe Jesus Christus nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die naam van Jesus Christus het Petrus ’n verlamde man genees. Die man het opgespring, in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring het en God geprys het. Dit kon nie onopgemerk bly nie. Die mense was vervul van verwondering en verbasing. Die apostel gryp die geleentheid aan om Jesus Christus te verkondig. Hy word egter daarin gestuit. Die joodse leiers, die priesters, die hoofman van die tempel en die Sadduseërs gryp in, neem Petrus en Joh gevange en sit hulle in die tronk tot die volgende more. Die volgende more word hulle gebring voor die Sanhedrin, die hoogste Joodse Raad, om ondervra te word: "Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?" Met groot vrymoedigheid verkondig Petrus dan aan die leiers Jesus Christus. Hulle wat die prediking van Christus juis wou stopsit, moet nou self die prediking aanhoor.

Petrus praat reguit. Hy kontrasteer wat hulle, die Joodse leiers, gedoen het en wat God gedoen het. "Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan."

Petrus verwys vervolgens na die Skrifte, die beslissende instansie vir in elke regspraak in Israel. "Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het." Die Joodse leiers word bouers genoem. Hulle moes God se geestelike huis, die kerk, bou. Hulle het egter die belangrikste steen afgekeur. God het die steen egter op sy plek gesit. God het dit tot ’n hoeksteen gemaak, ’n steen wat die gebou by mekaar hou.

Geliefdes, in verband hiermee verkondig Petrus vervolgens die unieke waarde van Jesus Christus. "En die saligheid is in niemand anders nie."

Saligheid is ’n sentrale woord in die Skrif. Maar wat behels dit? Jesus Christus maak salig, red ons. Waarvan? Van geestelike nood? Seker. Maar wat van liggaamlike en materiele nood? Gee die verlosser Jesus Christus ook liggaamlike herstel, genesing?

In ons gebruik van die woord saligheid kan ons maklik hierdie element van verlossing oor die hoof sien. Moenie egter die verband van Petrus se woorde vergeet nie. Petrus het netnou ’n verlamde man in die naam van Jesus Christus genees. Jesus verlos die man van sy liggaamlike stremming. In die bybel word dieselfde woord gebruik om die genesing van siekte aan te dui as die verlossing van die siel. Daarom as jy vers 9 in die oorspronklike taal lees dan ontdek jy dat die woord wat daar vir genesing gebruik word verwant is aan die woord saligheid in ons teks. Die lewe is een. Beide liggaam en siel moet gered, genees word. Jesus Christus konsentreer nie slegs op die siel nie. Hy wil ons heeltemal red, na liggaam en siel. Dink maar aan die genesingswonders wat Jesus Christus tydens sy bediening op aarde verrig het. Hy het melaatses gereinig, siekes genees en selfs dooies opgewek. Kyk maar na Petrus se genesing van die verlamde man by die tempel poort. Dit is almal bewyse van die feit dat Jesus ’n volkome saligmaker is. Dit wys hoeveel ons mense vir Hom werd is. Hy het tot die aarde neergekom om ons volkome te red.

Broeders en susters, dis nie net ’n saak van die toekoms nie. Petrus gebruik die teenwoordige tyd: die saligheid is in niemand anders nie. Daar is in Hom redding. Dis nou reeds daar. Glo jy in Jesus Christus, dan het jy reeds deel daaraan. Christus self het eers gesê: Hy wat in my glo het die ewige lewe. Maar wat dan van my psigiese, liggaamlike en materiële nood? Hier en nou is die verlossing nog nie kompleet nie. Ek sondig nog daagliks, ek moet nog daagliks, onder die voorsienigheid van God, die gevolge van die sonde dra. My liggaam word nog aangetas of selfs verwoes deur siekte. Maar in Jesus Christus is daar volkome verlossing. Wanneer ek glo, besit ek dit in prinsipe reeds. Die begin is reeds sigbaar. En die begin waarborg die voltooiing. Daarom kan jy die saligheid hier en nou geniet, ook al sal die saligheid eers in die nuwe hemel en nuwe aarde voltooi word. Dit maak die geloof in Jesus Christus soveel werd. Ek vind nie net baat daarby later nie, maar reeds hier en nou. Die saligheid is ’n werklikheid elke dag en oomblik van my lewe. Dit hou my gaande. Dit gee glans aan my lewe, ondanks alle gebrokenheid wat daar nog is.

Petrus verkondig: "en die saligheid is in niemand anders nie." Die saligheid is uitsluitend in Jesus Christus. Hy alleen kan werklik red, jou lewe waarborg. Wat is dan so uniek met Jesus se reddingswerk? Is daar nie ander verlossers op aarde wat mense vryheid en voorspoed gegee het nie?

Wat is so opvallend by die ander sogenaamde verlossers? Dit, dat hulle feitelik net aan die simptome werk. Hulle kan miskien ’n tydelike verligting van moeite gee. Miskien kan hulle jou bevry van sekere magte en strukture. Dink aan die sogenaamde bevryding wat die ANC onder leiding van Nelson Mandela in Suid Afrika gebring het. Wat sien ’n mens by sulke menslike bevryders? Nuwe euwels neem die plek van die ou euwels. Bevry van die ou euwel van diskriminasie teen die swartes, het ons nou te doen met die nuwe euwel van onverantwoordelike regstellende aksie, die verlies van kundigheid en die huidige onveiligheid. Die menslike verlossers is geen ware verlossers nie. Egte verlossing is slegs in Jesus Christus.

Waarom? Omdat Hy alleen die oorsaak van alle ellende aanspreek. Hy gryp in daar waar alles verkeerd gegaan het. Die ellende onder ons mense, in Suid Afrika, is nie in die eerste plek vanweë sekere onderdrukkende magte of sekere politieke of sosiale strukture nie. Dis vanweë die revolusie teen God, vanweë die sonde. Die sonde verklaar die gebrokenheid van hierdie lewe, die onderdrukking en misbruik van mense en mag. Wel, dis wat Jesus Christus aangespreek het en oorwin het. Soos die formulier vir die viering van die heilige nagmaal dit sê: "Deur sy dood het Hy die oorsaak van ons ewige honger en kommer, naamlik die sonde, weggeneem. Hy het die oorsaak van alle ellende weggeneem. En as eenmaal die oorsaak weggeneem is, dan kan die res op sy tyd volg. Hy bevry nie net van die mag van die sonde nie, maar uiteindelik ook van die gevolge van die sonde, naamlik siekte en dood ens.

Geen ander Verlosser kan ooit dit doen nie. Al wat die ander sogenaamde verlossers kan doen is om ’n tydelike verligting van sekere simptome te gee. Hulle kan nooit werklik jou lewe red en waarborg nie. Kyk maar hoe onveilig die menselewens hier in Suid Afrika is. Hulle kan nooit van die sonde bevry nie. Hulle kan nie die skuld van die sonde en so ook die straf van die sonde wegneem nie. Hulle kan nie werklik bevry van die mag en so ook van die gevolge van die sonde nie. Net Jesus Christus kan dit doen.

"Want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie." Onder die hemel, met ander woorde: hier op aarde, waar die mens teen God in opstand gekom het. In hierdie revolusionêre wêreld is daar geen ander naam, geen ander persoon nie. "Laat dit bekend wees dat deur die Naam van Jesus Christus hierdie man gesond voor julle staan." Die een naam moes aan hierdie revolusionêre wêreld gegee word. Daar is geen ander reddingsmiddel nie. Ons het gerebelleer. Ons kan nie na die hemel toe opklim nie. Hoe groot is onse God van genade! Hy het ons die een Redder gegee. Hy het sy eniggebore seun gestuur om ’n verlore en opstandige wêreld te red, om verlore sondaars soos u en ek te red. Elkeen van ons is afhanklik van die reddingsoperasie vanuit die hemel.

"Want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie." Let op die "ons." Petrus sluit homself hierby in, ook die Joodse leiers. Petrus assosieer hom met die moordenaars van Christus, die bouers wat Christus verwerp en gekruisig het. Petrus sê: ek en julle, ja elke mensekind moet gered word. Ons is almal in onsself verlore. Redding is nodig. En dit is moontlik in die een naam wat onder die mense gegee is, Jesus Christus.

En gemeente, vir Hom is geen geval te sleg, te hopeloos nie. Selfs die grootste sondaar en die felste vyand kan na Hom toegaan en gered word. Dink aan Paulus die vervolger van die christene, wat die apostel van die heidene geword het. Geen geval is te ernstig nie. Die verlosser is deur God self gegee. Jesus is sy naam, wat letterlik beteken: die Here red. Wie in Hom glo, is gered, het die ewige lewe.

Geliefdes, dis hierdie saligheid wat ons aan die tafel van die Here vier. Jesus Christus is my enige en volkome verlosser. Sy dood is my lewe. Daar is geen ander weg nie. Verkondig hierdie evangelie deur aan te gaan aan die tafel. Verklaar dit vir die jongmense wat nog nie deelneem nie. Want daar is geen ander naam waardeur ons gered moet word nie. En in Hom is die redding kompleet, vir siel en liggaam. Nou reeds mag ek voor God staan vry van die skuld en vloek van die sonde. En een dag sal die res volg. Sou ons hierdie verlossing nie vier met ’n bly en dankbaar hart nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)