Die voorsienigheid van God, veral in die lyding.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2002-10-27
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

Sondag 10

Ds C Kleyn - Sondag 27 Oktober 2002

Lees:

Romeine 1:18-32; 2 Korinthiërs 12:1-10; Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13; Sondag 10.
Sing: SB 27; Ps 75:1-4; SB 34:1,3; Ps 68:9,16.

Tema:


Die voorsienigheid van God, veral in die lyding.

  1. God het alles in sy hand; en
  2. God laat sy toorn sien.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die belydenis van God se voorsienigheid is ’n pragtige belydenis. God
onderhou en regeer alles en almal sodat alle dinge ons nie per toeval nie maar
uit sy vaderhand toekom. Ons is in Vader se hande. Dit amper te goed om waar te
wees. Dis amper nie te glo nie. Daarom is daar ook baie vrae en stryd rondom
hierdie werklikheid. Kom alles uit sy vaderhand? Wat van die verskriklike dinge
waarvan ons daagliks lees in die koerante en wat ons sien op die TV? Kapings,
moorde, verkragtings, massale armoede in suidelik Afrika, terreuraksies soos die
aanvalle op die torings van die Trade centre in New York vorige jaar, ernstige
siektes soos vigs wat sy miljoene verslaan, teleurstelling en verdriet ens ens.
Die ellende wat in hierdie land en wêreld daagliks ervaar word, is
onbeskryflik.

Wanneer ’n mens die beelde van die uitgemergelde of verminkte of vermoorde
mense sien, wie sou nie worstel met die probleem van God se leiding in hierdie wêreld
nie? Kom my siekte en swaarkry uit Vader se hand? Het die ellende van die
Engelse konsentrasie kampe tydens die Anglo-Boere oorlog en die ellende van die
Duitse konsentrasie kampe tydens die tweede wêreld oorlog, waar miljoene mense
gemartel en vergas is, uit Vader se hand gekom? Hoe moet ’n christen aankyk
teen sulke verskrikkinge? Kan ’n mens met die kat nog volhou dat God alle
dinge regeer? Dwing die feite ons nie om die belydenis los te laat nie?

Moet ons dit vandag nie anders formuleer nie? Is dit nie veel logieser om te
sê dat alle goeie dinge uit God se hand kom, maar dat God met die kwaad niks te
make het nie? Is die kwaad nie afkomstig van ’n vyandelike mag wat ons slegs
kan haat nie? As jy bly volhou dat God sy hand in die lyding het, maak jy God
nie tot ’n beul nie? Moet jy God dan nie verdedig teen sulke beskuldigings
deur te stel dat die kwaad nie uit God se hand kom nie? So bly God se hand
skoon, al moet jy dan wel so verstandig wees om nie meer oor ’n almagtige hand
van God te praat nie. Nee, Hy is eerder die weerlose God wat ook niks teen die
kwaad kan doen nie. Hy is eerder die God wat magteloos is teen die bose dinge
wat mense mekaar aandoen. Hy is die medelydende God.

So lui ongeveer die moderne antwoord op die raaisel van die lyding. Dis ook
die antwoord van die bekende Amerikaanse rabbyn Harold Kushner in sy trefferboek
"As die kwaad goeie mense tref." Die kwaad tref nogal eens goeie
mense, sê Kushner. Dit kan nie uit God se hand kom nie. Die mense het mos beter
verdien. God kan daar blykbaar ook niks aan doen nie.

Is dit, broeders en susters, die oplossing vir die probleem van die lyding?
Die moderne lewensgevoel spreek ons wel aan. Maar dit is ’n dwaalspoor waarop
ons hier gelei word..

Ons belangrikste beswaar teen die moderne gedagtes is dat God nie meer op sy
woord geglo word nie. God se woord is duidelik hieroor. Dit roep op tot geloof.
Daarom bly ons, ondanks alles, ons belydenis vashou. Ons belydenis van God se
voorsienigheid. Ons spreek daarin mos na wat God eers vir ons gesê het. Hier
word die geeste openbaar of die uit God is of uit die mense. Hier blyk die
geloof of ongeloof.

Vanaand wil ek vir julle verkondig: die voorsienigheid van God, veral in die
lyding.

  1. God het alles in sy hand
  2. God laat sy toorn sien

Die Bybel laat geen twyfel daaroor bestaan dat God die Almagtige is nie.
Wanneer die Here sy verbond met Abraham sluit, dan stel Hy Homself aan Abraham
voor as die Almagtige: Ek is God, die Almagtige (Gen 17:1). So stel die Here
Homself ook aan Joh op Patmos voor: "Ek is die Alfa en die Omega, die begin
en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige."
Die selfopenbaring kom herhaaldelik in die Bybel voor. God laat weet: Ek het nie
net meer mag as alle ander magte nie, maar Ek het alle mag. Alle mag, ook die
van die duiwels en van goddelose mense kom van My. Ek het alles, en dan ook
alles in my hand. Niks kan my besluit ooit keer nie.

Maghebbers hier op aarde het geen mag buite My nie, ook nie ’n Saddam
Hoessein of ’n Mugabe nie. En Ek gebruik hulle – vrywillig of gedwonge –
vir die uitvoering van my planne. My almag is ruimteskeppend van aard. Ek gee
die mens – ook die slegtes – die ruimte, die tyd en die krag om te handel.
Ek maak erns met die eie verantwoordelikheid van die mens. Nee, dis geen teken
van weerloosheid nie. Want as Ek ruimte skep dan is dit ’n bewuste aktiewe
uitoefening van my mag. Dis ’n bewys van my oormag. Sonder My kan hulle niks
doen nie. Hulle kan nie meer doen as wat Ek vir hulle moontlik maak nie. So kan
ook die kwaad nie langer duur en swaarder wees as wat Ek bepaal nie.

Het julle moeite om dit te verstaan? Dis omdat julle mense is, kortsigtige en
sondige mensekinders. God se beskikkings is ondeurgrondelik. Ons kan nie
verstaan waarom God by die een sus handel en by die ander een so nie. Ons kan
slegs ootmoedig luister na wat God oor Homself sê. Dan sien ons dat God se trou
en almag altyd saamgaan. Wat sy liefde wil bewerk, ontsê Hom sy vermoë nie.

Hoor hoe God Homself bekend maak: Ek is die almagtige. Dit weerklink deur die
hele Bybel. Dit word steeds weer herhaal. Ek is wat Ek is, die Almagtige. Lees
maar jou Bybel. Gaan die geskiedenis maar na: dis een groot bewys van die
werklikheid van my almag. Abraham sou ’n bloedeie seun ontvang. Abraham en
Sara kon egter geen kinders kry nie. Tog ontvang hulle ’n kind. Ek, die
Almagtige, het dit gedoen. Israel het baie swaar gekry in Egipte. Nogtans
"hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle
uitgebrei" (Ex 1:12). Ek, die Almagtige, het dit gedoen. Israel het geen
enkele uitsig op bevryding uit die slawehuis gehad nie. Ek, die Almagtige, het
die volk uit Egipte gelei met ’n sterk hand en met wonders en tekens. Ek, die
Almagtige, het die volk deur die dorre woestyn gelei. Ek het die land Kanaän in
hul besit gegee. In die volheid van die tyd het Ek my as die Almagtige bewys in
die vleeswording van die Seun uit die maagd Maria. Gaan so maar aan met die lees
van die geskiedenis, ook van die kerkgeskiedenis. So leer julle jul God ken. So
is die Here jul God. Hy is die Almagtige, wat alle dinge onderhou en regeer. Wat
alles in sy hand het. Soos Ps 115 dit so mooi sê: Onse God is in die hemel; Hy
doen alles wat Hom behaag.

Maar kan ek dit ook volhou wanneer dit gaan oor die lyding? Wanneer alles
verkeerd gaan? Kan ek sê: die armoede, die siekte, die aanranding, die kaping,
die moord is uit God se hand?

Hier moet ons weer eerbiedig en ootmoedig kyk na wat God self ons daaroor sê.
Hoor Job bely, wanneer alles, sy kinders en besit, hom ontneem word: Die Here
het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd! (Job 1:21).
Job bely dus: ook dit is uit God se hand.

Josef het baie swaar gekry in Egipte. Ver van sy ouerlike huis vandaan.
Verkoop deur sy broers. En dan nog jare lank in die tronk omdat hy gekies het
teen die sonde waartoe Potifar se vrou hom probeer verlei het. Josef het dus
baie gely en dit deur sy broers. Maar wat sê Josef later tot sy broers?
"Julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om
’n groot volk in die lewe te hou" Gen 50:20. Ja, nog sterker: "Julle
het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God" (Gen 45:8). Josef vertel
ons as God se profeet: die broers het wel terdeë skuld, maar God het die
leiding gehad.

In die Psalms hoor ons telkens dat God se kinders hul teenspoed en lyding met
God se hand in verband bring. Dawid word dodelik siek. Maar hy sien daarin God
se hand en bely: U het u aangesig verberg – ek het verskrik geword (Ps 30:8).
Die digter van Ps 42 praat oor God se bare en golwe wat oor hom heengegaan het.

Die Skrif laat geen enkele twyfel daaroor bestaan: God se hand is in die
lyding wat God se kinders soms so skrynend oorkom. Om ’n NT teks te noem:
"Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan
verhoog op die regte tyd." Hier praat Petrus oor die lyding en vervolging
van die gelowiges. Ook wanneer mense my kwaad aandoen vanweë my geloof moet ek
my verneder onder die kragtige hand van God. God se hand is ook in die lyding
van die wêreld, in die oorloë en rampe.

Die profeet Jesaja profeteer bv van die magtige en heersugtige Assur. Hulle
plunder, vertrap en roei allerlei volke uit. Wat ’n lewensverwoesting! Wat
’n leed word mense aangedaan. Wat ’n skuld laai hulle op hulleself. Maar wat
sê die Here van Assur? Die Here noem Assur die roede van sy toorn en ’n stok
van sy grimmigheid. U moet by die huis Jes 10 maar eers lees.

In die gedeelte van Rom 1 wat ons gelees het, skryf Paulus dat allerlei
ongeregtigheid, boosheid, hebsug, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid (tipies
die dinge wat lyding in ons land veroorsaak) deur God se toorn oor die
ongeregtigheid van mense kom.

Dis maar enkele voorbeelde. Dit sal duidelik wees dat God werklik alles in sy
hand het, ook die verskriklike lyding. Aan die hand daarvan kan en moet ek sê;
Ook die Boere oorlog en die tweede wêreld oorlog was in God se hand. Ook die
armoede, siekte en ellende in Suidelik Afrika. God is daarby geen weerlose
toeskouer nie, maar die Almagtige wat alles in sy hand het en wat alles vir sy
doel gebruik.

Hoe ons hier God se hand en die menslike verantwoordelikheid aan mekaar moet
verbind is vir ons nie heeltemal deursigtig nie. God se regering en die skuld
van die mens bly in hul eenheid vir ons ’n misterie. Laat ons ooreenkomstig
art 13 van die NGB tevrede daarmee wees dat ons leerlinge van Christus is om
slegs te leer ken wat Hy ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan
te oorskry. "God se mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat
Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels
en goddelose mense onregverdig."

Ons sal mbt die lyding altyd met twee woorde moet spreek: God het sy hand in
alle lyding en nie Hy nie, maar die duiwel en ons sondige mense is die skuld van
die lyding. Satan en goddelose mense gaan te kere, maar die laaste woord is nie
aan satan of die goddeloses nie. God het die laaste woord. Alles gebeur
uiteindelik volgens God se raad. Wanneer Paulus praat oor sy doring in die vlees
dan noem hy dit ’n engel van satan wat hom met die vuis slaan. Tog bely Hy dat
die Here dit vir hom beskik sodat hy hom nie sou verhef nie.

Toe Ursinus die Kategismus opgestel het en bely het dat alles ons uit God se
vaderhand toekom, het hy goed geweet wat hy geskryf het. Dit was ’n tyd waarin
sy geloofsgenote op die brandstapel en aan die galg gedood is. Vroue, dogters en
moeders is verkrag. Stede is uitgemoor. Baie gelowiges moes vlug vir hul lewe.
Ursinus het dus goed geweet wat lyding beteken. Tog het hy juis in die situasie
volgehou dat alles uit God se vaderhand ons toekom. Daarby het Ursinus, in sy
verklaring van die Kategismus wel met onderskeiding gepraat wanneer dit gaan oor
die verhouding tussen God en die sonde wat mense bedryf. Daar is kwaad wat God
bewerk en kwaad wat Hy toelaat. Die laaste is die kwaad wat die duiwels en
goddeloses stig, die sonde. God doen dit nie self nie. Maar Hy laat dit toe dat
dit deur duiwels en verkeerde mense geskied, dws Hy belet hulle nie, al sou Hy
dit kon gedoen het. So is dus ook die kwaad van sonde aan God se voorsienigheid
onderworpe. Nie so egter dat God self dit doen, maar dat Hy dit toelaat. Ursinus
onderskei dus tussen bewerking van kwaad en toelating van kwaad. Daarin sien ons
dat Ursinus ook geworstel het met woorde om na die Skrif te spreek oor sake wat
te groot vir ons begrip is.

Bo al die onduidelikheid bly dit egter na die Skrif duidelik dat ons nie aan
toeval oorgelewer is nie. Om te sê dat alles wat ons oorkom, per toeval ons
oorkom is volkome troosteloos en onskriftuurlik. Daarom bely ons na die Skrifte:
God het alles in sy hand. Alles kom ons nie per toeval toe nie, maar uit God se
vaderhand. God is in beheer. Alle skepsels is so in sy hand dat hulle hulle
sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

Nou die tweede gedagte van die preek: God laat sy toorn sien.

Na die sondeval is alles en almal aan die oordeel onderworpe. Na die sondeval
praat God meteen van moeite en smart, ja dat die mens tot stof sal terugkeer.
Die hele skepping is aan die nietigheid onderworpe omdat God haar daaraan
onderworpe het (Rom 8:20). By elke doop bely ons dat ons almal in sonde ontvang
en gebore is en daarom van nature aan allerhande ellende, ja, selfs aan die
ewige oordeel onderworpe is. Slegs deur Christus kan ons aan die ewige oordeel
ontkom. Dit ontslaan ons egter nie van die lyding van die teenwoordige tyd nie.

In die lig van die sondigheid van die mens is die titel van Harold Kushner se
boek "As die kwaad goeie mense tref" nie reg nie. Wie durf na die
sondeval nog te praat van werklik goeie mense? Is daar sedert die sondeval
iemand wat met reg homself goed kan noem? Elkeen het met sonde en skuld te make.
Daarom doen God ook niemand onreg as Hy die kwaad vir hom beskik nie. In
algemene sin kan jy van elke lyding sê: dis verdien. Ook al kan en mag ons nie
’n spesiale verband lê tussen elke lyding en ’n spesiale sonde nie. Wanneer
een persoon meer as ’n ander persoon ly, dan beteken dit nie dat die persoon
oor meer as die ander skuldig sou wees nie.

Waarom loop baie mense vas met die lyding in hierdie wêreld? Omdat hulle nie
van God se toorn wil weet nie. Die apostel Paulus open ons oë vir die
werklikheid van God se toorn. "Want die toorn van God word van die hemel af
geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense."

Hoe uit God dan sy toorn? Allereers deur die mense aan hulleself, aan hul
sondige begeertes, oor te gee. Dit is blykbaar reeds toorn van God wanneer die
mens sy gang kan gaan. So val daar lig op baie lyding uit die wêreldgeskiedenis.
God laat die mense ’n tydlank hul gang gaan totdat hulle heeltemal vasloop.
Totdat hulle in volkome dwaasheid, beesagtigheid en hopeloosheid verval het.

Bowendien is daar God se toorn in rampe en gerigte, in die vernietiging van
baie menslike prestasies (dink aan die verwoesting van New York se Trade
Centre). Die boek Openbaring wys vir ons die verwoestinge in verskriklike
afmetings. Wat kom daar nie los wanneer die 7 seëls geopen word, die 7 basuine
geblaas word en die 7 skale van God se grimmigheid uitgegooi word. En dit is net
aankondigings, voorbodes van die groot dag van die toorn van God en van die Lam.

Wat beoog die Here met al die dinge? God wil daarmee die mens met sy
skitterende moontlikhede diep verneder. God maak die mens klein en hou hom klein
deur rampe en oorloë, deur siekte en dood. So sny God alle ander verlossingsweë
af. So oefen God die mense om te fokus op die Verlosser van die wêreld, die Man
van Golgota en Pase.

Dit is vandag nog geen hel op aarde nie. Dit was tot nou toe net op Golgota
’n hel. Daar is wel aankondigings van die hel op aarde. Soms laat God toe dat
die mens self, binne sekere grense, ’n "hel" daarvan maak. Daarvoor
hoef God slegs een oomblik die teuels te laat vaar. Ons het dit gesien in die
tweede wêreldoorlog. Midde in die hoogontwikkelde Europa was daar die
vernietingskampe: Auschwitz en Treblinka. God laat tot ons beskaming sien hoe
vinnig sogenaamde beskaafde mense tot barbaarse handelinge kan kom, wanneer ons
God nie vrees in die gebruik van ons kulturele mag nie. God het gewys dat die
humanistiese ideaal ydelheid is, dwaasheid, doodlopend. God hoef die nette,
beskaafde mense maar effens los te laat en hulle word beule vir mekaar.

In Auschwitz het God sy toorn laat sien, allereers in die ruimte wat Hy aan
die beule gegee het. En die beule was nie die uitskot van die samelewing nie.
Laat ons nie dink dat die blanke westerling beter sou wees as die swart volke
nie. Die beule in die tweede wêreldoorlog was gewone beskaafde mense soos u en
ek. Hulle was verteenwoordigers van ’n samelewing wat besig was om haar God te
vergeet. Verteenwoordigers van ’n samelewing wat besig was om die diens van
God te verruil vir die afgode. So het die heidendom sy kans gekry om sy
lewensverwoestende mag te demonstreer. Tegelykertyd is die bankrotskap van die
humanisme publiek gewys. En is die verloëning van die lewende God op ’n
verskriklike manier gestraf.

Was God aanwesig in Auschwitz? Was Hy aanwesig in New York op die 11e Sept?
Ja, Hy was daar aanwesig in die skrikaanjaende openbaring van sy toorn. En dit
allereers teenoor die bedrywers van die ongeregtigheid.

Maar wat van die miljoene slagoffers? Ons voel ons klein en beskaamd wanneer
ons dink aan al die verwoeste gesinne en lewens. Ons het geen enkele behoefte om
ons bo die slagoffers te verhef nie. Ons is solidêr in die skuld. Niemand is
mos regverdig, selfs nie een nie. Ons herinner ons die woorde van ons Heiland in
Lk 13. Daar gaan dit oor die Galileërs wat slagoffer geword het van Pilatus se
wreedhede. Daar se Jesus: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter
sondaars was as al die Galileërs omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek
vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom."

Auschwitz, Hiroshima, New York is nie die einde nie, nie die dieptepunt nie.
Dit was, hoe verskriklik ook, nog maar ’n aankondiging van die hel. Ons hoor
daarin die 7 basuine van God uit Openbaring klink. En waarom laat God die
basuine klink? Om ons wakker te roep. Om ons weg te roep van die afgode na die
lewende God toe. Sodat ons op die appel gereed staan.

Hoe reageer u, broeders en susters, op die geluid van die basuin? Laat die
woorde van Openb 9 ons waarsku. Daar lees ons die beskamende reaksie: "En
die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer
van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en
silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle
het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul
diefstalle nie."

Moet dit nie gesê word van die westerse wêreld na die tweede wêreldoorlog
nie? Het die mense hulle werklik laat terugroep van die afgode vandaan? En wat
van ons eie samelewing? Wat is die reaksie op al die ellende wat ons hier tref?
Laat die mense hulle, ja laat ek my werklik wegroep van die afgode na die
lewende God? Helaas is daar nog baie afgode in ons land: afgode van
materialisme, seksisme, vryheid, individualisme. Massas loop nog agter die
afgode aan. En die lewende God word in feite dood verklaar deur vooraanstaande
teoloë. Hy word geskets as ’n weerlose en magtelose God.

Broeders en susters, laat dit tog nie van u gesê word nie. Julle hoor tog
die basuine van God klink? Julle voel dit tog in jul eie lewe? Laat julle tog
wegroep van alle moderne afgode na die lewende God toe. Jesus Christus is aan
die kom. Soek julle redding, julle toekoms in Hom alleen. Verneder julle onder
die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)