Die middelaar van God volgens die skrifte: ons Here Jesus Christus.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2002-09-29
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

Sondag 6

Ds C Kleyn - Sondag 29 September 2002

Lees:

1 Johannes 4; Sondag 6.
Sing: SB 27; Ps 98:1,2; Ps 145:1-5; Ps 145:10-12.

Tema:

Die middelaar van God volgens die skrifte: ons Here Jesus Christus.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Sondag 6 is nie een van die mees populêre sondae nie. Dit lyk so ingewikkeld en dogmaties. Die vrae spreek ons nie onmiddellik aan nie. Waarom moet hy ’n ware en regverdige mens wees? Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees? Wie is dan hierdie middelaar? Waaruit weet jy dit?

Sondag 6 lyk ietwat saai en onaantreklik te wees. Miskien dink jy selfs: dit mag ’n mooi leerstuk wees, maar dit is nie baie relevant vir my daaglikse lewe nie. Ek kan in die kerk daaroor mediteer maar in die normale lewe kan ek nie baie daarmee doen nie.

Maar broeders en susters, wanneer julle so oor sondag 6 dink en praat, maak julle ’n groot vergissing. Want die inhoud van sondag 6 is baie ryk. In sondag 6 hoor ons die verwondering van die geloof oor God se pad van verlossing.

Wanneer ons praat oor ons middelaar, dan weet ons almal oor wie ons praat. Ons middelaar is ons Here Jesus Christus. Ons weet dit baie goed. En ons glo dit ook. Maar die kat bely dit nie op ’n onpersoonlike manier nie, sonder dat dit die gelowige raak nie. Sondag 6 beskou dit nie as iets gewoons nie. Daarom al die vrae wat uitloop op die pragtige belydenis van ons Here Jesus Christus wat God vir ons gegee het.

Maar waarom so uitvoerig hieroor geskryf, nadat die saak reeds in sondag 5 genoem is? Wie die geskiedenis ’n bietjie ken en wie ons eie tyd ’n bietjie ken, sal verstaan dat dit beslis nie oorbodig is nie. Die pad van God se liefde en reg is ’n saak wat die kerk altyd moes verdedig teenoor dwaling. Dit was reeds so in die tyd van die apostels en dit is nog steeds so. Mense wil nie die middelaar van God aanvaar nie. Dink aan die moderne sogenaamde wetenskaplike navorsing na die ware Jesus. Mense wil God se getuienis oor Jesus nie aanvaar nie. Hulle kan nie aanvaar dat Jesus tegelykertyd God en mens is nie.

In die skrifgedeelte wat ons uit die eerste brief van Johannes gelees het, waarsku Joh teen valse profete wat die mensheid van Christus verloën. Joh het te make met sekere gnostici wat ’n teenstelling tussen gees en vlees sien. Die geestelike verteenwoordig volgens hulle die goeie terwyl die vlees die kwaad verteenwoordig. Daarom konkludeer hulle dat God se Seun onmoontlik vlees kon aangeneem het. Die Seun van God kan tog geen gemeenskap met die kwaad hê nie? So het die gnostici ’n skeiding gemaak tussen Christus en Jesus. Christus, die Seun van God, sou gees gebly het. Eers by die doop van Jesus sou Christus as gees op die mens Jesus neergedaal het. Vergelyk dit maar met die salwing van Saul en Dawid en hoe die Gees toe oor hulle vaardig geword het. Joh waarsku teen die dwaling deur verskillende kere nadruklik te wys op die eenheid van die persoon Jesus Christus en die waarheid van sy menswording. Joh noem elke gees wat dit ontken selfs die gees van die antichris. Hy roep ons op om die geeste te beproef of hulle uit God is. Want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

Gemeente, hierdie waarskuwing is ook vandag baie relevant. Hoeveel mense, teoloë beskou hulleself nie as christene, terwyl hulle die Christus van die Skrifte ontken nie. "Hieraan ken julle die Gees van God", skryf Joh: "elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God." Hier het ons die hart van die evangelie: die wonder van die vleeswording van God se Seun, die wonder van die persoon van die middelaar: god en mens in een persoon verenig.

In die geskiedenis en ook vandag word nie slegs die mensheid van Christus verloën nie, maar omgekeerd word ook dikwels sy godheid ontken. Die Here Jesus word dan as slegs ’n mens gesien, ’n seun van Josef en Maria. Joh laat geen twyfel daaroor bestaan dat Jesus werklik die Seun van God is nie. "Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God" (1 Joh 4:15). En "elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie" (1 Joh 2:23). Ja, luister goed: "elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie." Hier sien u die erns van die verloëning van Jesus as die Seun van God. As ek die Seun verloën, het ek ook nie die Vader nie, maak nie saak hoe nadruklik ek myself ’n christen noem nie. Die belydenis van ons kat is dus allermins oorbodig. Die hart van die evangelie moet bewaar en bely word. Met verwondering oor die ongekende weg van God se liefde. Die pad wat Hy self in die Skrifte vir ons bekendgemaak het.

Ek wil dan vir u verkondig: die middelaar van God volgens die skrifte: ons Here Jesus Christus.

Die pad van God se liefde is nie ’n pad wat die mens uitgedink het nie. Alle inisiatiewe tot ons verlossing het van God uitgegaan, moes van God uitgaan. Joh skryf: "hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes." God het ons opgesoek terwyl ons vyande was. En Hy het sy enige geliefde Seun gestuur. Wat ons van Hom geskei het, het Hy self uit die pad wil ruim, deur ons sondes te versoen.

Gemeente, dis soos die kat nav 1 Kor 1:30 bely dat God Christus vir ons gegee het. Ons was nie in staat om vir so ’n middelaar te sorg nie. Hy moes vir ons gegee word. En hy is vir ons gegee tot wysheid, geregtigheid en heiligmaking. Herken u die drie woorde? Was dit nie die eienskappe wat ons in die paradys besit het nie. Toe ons nog die beeld van God vertoon het? Deur die sonde het my verstand verduister geraak. Christus het nou vir ons wysheid geword. Hy ontdek my aan die dwaasheid van my eie wysheid. Hy kom met sy verlossende woord. Sy woord is die waarheid. Ek ontdek weer wie ek is en wat ek moet wees. Christus het ook vir ons geword tot geregtigheid. Hy is ons vryspraak. Die versoening van ons sondes. Hy is ook ons heiligmaking. Hy laat my weer stap op die pad van God se liefde. Hy vernuwe my hart en lewe. Hy maak my weer tot liefdediens bereid.

Ons herken in die drie: wysheid, geregtigheid en heiligmaking die drie kenmerke van die beeld van God waarna ons geskep is: kennis, geregtigheid en heiligheid. Die drie het ons verloor. Maar Christus is weer die ware mens, wat die beeld van God ongeskonde vertoon. Hy is wat ons was. Hy maak ons ook weer soos ons behoort te wees. Hy maak my wys tot saligheid. Hy leer my om te doen wat God wil, om my lewe aan Hom te wy. Op die manier herstel Christus die beeld van God in my.

Die Kat noem ook nog dat Christus ons tot volkome verlossing gegee is. Daarmee word die voorgaande saamgevat. Dis ’n duidelike klimaks. God het Christus vir ons gegee tot wysheid, geregtigheid en heiligmaking, ja, met ander woorde: tot ’n volkome verlossing. Die verlossing is in Hom kompleet, volkome. Die volle lewe word in Hom herstel. Ek mag as mens weer in die gemeenskap van God se liefde verkeer.

Gemeente, wanneer ons let op die vereistes waaraan ons Middelaar moet voldoen, dan sien ons dat dit goddelike vereistes is. Dis goddelike reg. Die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Slegs langs die pad kan Hy vir my volkome verlossing wees. God bepaal dus die styl van die verlossingswerk.

Ons lees in Hebr 2:10: "Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak." Dit het Hom betaam. Die het Hom gepas. Dit was in ooreenstemming met sy goddelike waardigheid. Hy wou baie kinders tot heerlikheid bring. Dan was dit reg vir Hom om die Leidsman deur lyding heen tot volmaaktheid te bring, tot die heerlike einddoel te bring. Die styl van die verlossingswerk stem ooreen met God se heilige wese. God bly trou aan Homself. Hy bly dieselfde by die skepping en by die verlossing. Sy werk is enkel majesteit, reg en heerlikheid.

God bly by sy oorspronklike plan, ook na die sondeval. Hy wil saam met die mens in heerlikheid lewe. Hy het nie verniet die mens in verbondsverhouding met homself geskep nie. God wil met die mens verder. Hy wil die mens sy liefde gee. Dit gaan vir die Here nie om die engele nie. Wanneer die mense ontrou word, dan skakel Hy nie oor op die engele nie, om hulle tot die objekte van sy liefde te maak nie. Nee, en dit is ons groot troos, God bly by sy plan om die mens in sy liefde te betrek.

Die oorspronklik plan kan na die sondeval egter alleen gerealiseer word deur ’n middelaar wat werklik mens is. Die mens het gesondig, die mens sal dit dan ook weer goed moet maak, hy sal die skuld moet betaal. God, die beledigde party, sal voldoening moet ontvang van die skuldige party. Daarom moet die middelaar werklik een van ons wees, ’n ware mens, ons vlees en bloed. ’n Mensehart moet weer voor God staan. Die middelaar moet op dieselfde plek staan as Adam eers gestaan het. Hy moet die mensheid kan verteenwoordig. Ons het ’n 2de Adam nodig. In die eerste Adam het ons alles verspeel. Ons het die lewe met God ingeruil vir die dood. Ons het nou ’n tweede Adam nodig om die dood as straf vir ons te dra en om weer voor te gaan op die pad van God se liefde. Die 1ste Adam kon nie anders as die dood deurgee nie. Nou het ons iemand nodig wat die lewe kan teruggee.

Om ’n tweede Adam te wees moet die middelaar dan ook werklik mens wees. Kyk maar na Hebr 2:14: "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was." Hy het dus ons vlees en bloed, wat deur die sonde onder die oordeel van God lê, aangeneem. Hy het die natuur aangeneem waarin ons as veroordeeldes voor God staan. God wil die mens in sy liefde betrek. Hy wil ons mense tot heerlikheid bring.

"Want, waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen" (Hebr 2:16,17). Opnuut word gesê dat Hy dit moes word. Dis ’n goddelike eis. Daar is geen ander pad nie. Die pad van die verlossing moet beantwoord aan God se reg. En daarby pas volkome gelykheid. Ons middelaar, ons voorloper moet in alle opsigte aan ons gelyk word. Hy moes vlees van ons vlees wees, om ons saam te kan trek uit die dood na die heerlikheid toe. God wil mos met die mens in verbondsgemeenskap lewe. Daarom: laat ’n mens aan die heilige God voldoening gee en sê: Vader, u vra ’n menslike offer, kyk, hier is die skuldige wat U soek. Handel met my na u reg as een vir almal, as Borg vir almal in wie se plek ek staan.

Maar, gemeente, hierdie middelaar moet nie slegs ware mens wees nie, ook regverdige mens. Hy moet die broeders gelyk wees, behalwe wat die sonde betref. Kan iemand wat self sondaar is, vir ander betaal? Natuurlik nie! Hy kom nooit klaar met die betaling van sy eie skuld nie. Hoe sou hy dan ook nog die skuld van ander op hom kan neem en betaal? "Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir die van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het." (Hebr 7: 26,27).

Die offer vir die sondes van die volk sou egter nog geen waarde gehad het nie, indien die Middelaar nie tegelyk ware God was nie. Sou so ’n middelaar wat net mens is en sonder sonde die las van God se toorn vir ons kan wegdra? Nee, ook so ’n regverdige mens sou dit nie kan doen nie. Vir die las van God se toorn is menslike skouers te swak. Daaronder sou elke mens ewig beswyk. Dit is ’n oneindige las. Wie eenmaal in die duisternis van God se toorn teregkom, ook al is hy self geen sondaar nie, bly in die duisternis. Hy kan homself nie daaruit ophef nie. Dit is ’n ewige straf waar geen mens wat slegs mens is, mee klaar kan kom nie.

Wil jy dus ’n middelaar hê wat jou uit die duisternis ophef, dan sal die middelaar tegelyk God moet wees. Wie kan dit uithou teen God behalwe Hy wat self God is? Hy moet God wees om self weer tot die lewe te kan terugkeer. Hy moet God wees om ook ons die lewe weer te kan gee. Om sy verlossing aan ons uit te deel. Want wie kan dooies lewend maak, wie kan die hart van die mens herskep, wie kan dinge tot aansyn roep? Dis slegs God wat dit kan doen. Die mens het geen mag oor die dood nie. Hy kan geen hart verander nie. Hy kan nie skep nie. Om ’n ware middelaar te wees, moet Hy egter kan skep. Hy moet God wees, God, wat die dooies lewend maak, God, wat spreek en dit is daar, wat gebied en dit staan daar.

Broeders en susters, dit lyk vir ons onmoontlik dat so ’n middelaar sou bestaan: ’n middelaar wat tegelyk God en mens is. Ons kan dit met ons verstand nie vat nie. Vanuit ons posisie uit is dit volkome uitgesluit dat daar iemand sou wees wat aan die eise van God se reg beantwoord. God en mens in een persoon. Dit is daarom ook begryplik dat mense hierdie waarheid voortdurend bestry het. Mense kan dit nie begryp nie. In ons tyd sien ons baie geleerde teoloë struikel en val oor hierdie waarheid. Die wetenskap kan dit nie bevat nie, ook nie die moderne wetenskap nie. Dit gaan ons verstand te bowe. Daarom probeer die hoogmoedige mens om ander oplossings te bedink.

Indien jy egter wys tot saligheid wil word, dan sal jy jou deur God moet laat voorlig. In die werk van verlossing het jy in die eerste plek met God self te doen. Buite Hom is daar geen verlossing nie. Hy is diegene wat die verlossingswerk uitgedink het. Hy het die Middelaar vir ons gegee, ons Here Jesus Christus, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het.

Gemeente, wat staan daar baie op die spel as ek hierdie enige middelaar nie aanvaar nie. As ek nie tevrede is met die middelaar wat God en mens in een persoon is nie. Die moderne teoloë en ‘christene’ begaan ’n ernstige fout wanneer hulle die ware godheid of die ware mensheid van Jesus Christus ontken. Hulle verbreek daarmee ook die band met die Vader. Immers: elkeen wat die Seun loën, het ook die Vader nie. Jy verloën dan die enigste weg tot behoud. Ek kan mos alleen deur God self verlos word. Indien ek Jesus nie as God ken nie, dan kan ek geen verstandige woord oor geloof en verlossing praat nie. Dan bly die pad na God toe versper. Oorbrugging van die kloof tussen God en mense is slegs moontlik deur God self. Dit is God wat ’n nuwe begin op aarde kom maak het. Dit het Hy gedoen deur die groot wonder van die persoon van Jesus Christus ons middelaar.

Die bybel is daar vol van. In die paradys het ons reeds gehoor dat die saad van die vrou die kop van die slang sal vermorsel. Christus is die saad van die vrou wat die oorwinning oor Satan waarborg. God bly daaroor praat deur die hele bybel heen. Hy het die aartsvaders en die profete dit laat verkondig. Die offers en ander seremonies van die wet het die koms en werk van die middelaar afgebeeld. Die evangelie van verlossing mog nooit aan die aandag ontglip nie. Dit moes die lewe van God se volk bly beheers. Waar die sentrale heilsfeit uit die oog en hart verdwyn, daar heers mos die dood.

In die Nuwe Testament lees ons van die vervulling van hierdie skaduwees en beloftes. God se Seun het mens geword, ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria. Die wonder van verlossing waarna God se volk eeue lank uitgesien het, het werklikheid geword. "Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol van genade en waarheid" (Joh 1:14). God se Seun het mens geword. Hy het die waarheid van al die offers en seremonies vervul. Hy het volkome verlossing kom bring, om ons tot heerlikheid te bring.

Broeders en susters, ons ervaar hierdie herstel nog slegs in beginsel. Ons staan nog steeds voor ons gebrokenheid, ons onmag. Ons hart en lewe is nog geskonde. Ons dra nog steeds die liggaam van die dood. Maar ons middelaar die Here Jesus Christus het een van ons geword. Hy het ons voorgegaan na die heerlikheid. Daar is reeds ’n mens daar in God se nabyheid met eer en heerlikheid gekroon. So mag ek in geloof weet dat ek ook eenmaal volle heerlikheid sal besit. Alle belemmerings sal verwyder word. Na liggaam en siel sal ek Hom dan ewig loof en prys. Ek sal dan ewig, sonder onderbreking, mag geniet van die gemeenskap van God se liefde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)