God se wet is ons enigste maatstaf vir reg en verkeerd.

Minister: 
Ds RM Retief
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-03-08
Text: 
Matthéüs 5
Preek Inhoud: 

Matthéüs 5:17-20

Prop. R.M. Retief - Sondag 8 Maart 2000

Lees: Matthéüs 5:17-32.
Sing: Ps.103:1-3,11; Ps.38:1,3-5; Ps.119:1,7; Ps.119:11,14;
Ps.119:59,62,63.

Tema: God se wet is ons enigste maatstaf vir reg en
verkeerd.

  1. Christus bevestig die wet;
  2. Die wet is ewig en onveranderlik; en
  3. Die wet geld ook vir die koninkryk van die hemele.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

‘n Mens sien soms ‘n plakker agter op motorvoertuie
of op T-hemde wat sê: "No Rules!" Geen reëls
vir my nie dankie! Dit is ‘n gees van losbandigheid en
wetteloosheid wat ons in die samelewing sien, maar wat ook die
kerk kan binnekom onder die naam van Christelike vryheid.

Daar is mense wat hulleself Christen noem, maar wat niks van
die wet wil hoor nie. Hou jy God se wet aan hulle voor, of
vermaan jy hulle, dan sê hulle vir jou: Ag, moet tog nie so
wetties wees nie – ons is mos nie meer onder die wet nie!

Die Bybel leer ons egter dat die wet ewig geld.

Kyk ons na God se wet, soos die wet aan ons gegee is deur die
diens van Moses, dan onderskei ons tussen morele, seremoniële en
burgerlike wetgewing. Die morele wetgewing word vir ons saamgevat
in die tien Gebooie. Die tien Gebooie eis liefde vir God en
liefde vir ons naaste. Die morele wetgewing word dus saamgevat in
die liefdesgebod.

Die seremoniële wette handel oor sake soos die priesterdiens,
tabernakeldiens, die offers en feesdae, wat alles heengewys het
na ons verlossing in Christus (soos die boek Hebreërs aan ons
verduidelik). Die Burgerlike wetgewing het die praktiese
administrasie van die morele wet voorgeskryf, byvoorbeeld watter
strawwe vir watter oortredings moes geld.

Tog vorm die wet van God ‘n eenheid, sodat die Skrif
sonder enige spanning kan praat van "die wet",
enkelvoud, en daarmee die totale wetgewing insluit. In die
Skrifgedeelte voor ons, word in vers 17 gepraat van die wet en
profete. Die wet en profete verwys hier na die hele OT, maar
veral na God se wet soos ons dit in die OT vind. U sal sien dat
die res van die hoofstuk bloot praat van die wet, sonder om weer
die term "wet en profete" te gebruik. Die wet waarvan
gepraat word, is dus die wet van Moses, die eerste vyf boeke, en
daarmee saam God se uitleg en toepassing van die wet in die
profetiese geskrifte.

Die boodskap van verse 17-20 waarby ons nou gaan stilstaan, is
dat hierdie wet ewig geld, en dat ons daarom daarvolgens moet
leef. Ek verkondig nou die Here se Woord aan u, met die tema:

God se wet is ons enigste maatstaf vir reg en verkeerd.

Ons gaan na drie sake kyk, soos dit hier vers vir vers voorkom:

  1. Christus bevestig die wet
  2. Die wet is ewig en onveranderlik
  3. Die wet geld ook vir die koninkryk van die hemele

Christus bevestig die wet

Dit gaan hier in die bergpredikasie oor die koninkryk van die
hemele. Dit handel oor Christus se heerskappy in ons lewe. Hy is
die Koning van die koninkryk, en 'n koning bepaal die landswette.
Maar die koning kom en sê vir ons: Ek het nie gekom om 'n ander
grondwet op te stel nie. Die landswette van die koninkryk is
reeds gegee by Sinaï. Dit kan nie verander nie. Dit geld vir
alle ewigheid.

Alles wat Christus geleer het en gedoen het, en alles wat Hy
ons beveel om te doen, is in volkome ooreenstemming met die wet
van Moses. "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of
die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie,
maar om te vervul."

Dit is baie belangrik dat ons die verhouding tussen die Ou
Testament en die Nuwe Testament verstaan. Die Nuwe Testament is
nie in stryd met die Ou Testament nie; nêrens nie. Inteendeel,
die Nuwe Testament is volledig gebou op die fondament van die Ou
Testament.

Hier in die bergpredikasie begin Christus sy prediking op
aarde en sê: "Alles wat ek vir julle gaan leer, sal in
volkome ooreenstemming wees met die wet en die profete".
Daar is niks in die wet of in die profete wat Christus kom
ontbind het nie.

U sal op hierdie punt vra: Maar wat van al die wette rondom
die Levietiese priesterskap, die tabernakeldiens met al sy offers,
die feesdae, ens.; geld daardie wette nog? Ons slag tog nie meer
bulle en ramme vir brandoffers nie! Heeltemal reg. Maar die
inhoud van daardie wette is ewig. Christus is die Lam wat geoffer
is, Hy is ons Tabernakel, Hy is ons Hoëpriester. En Hy is dit
vir ewig.

Die wet dat daar geen vergifnis kan wees sonder
bloedvergieting nie, het dus nie verander nie. Christus is vir
ewig die Lam van God wat vir ons sy bloed gestort het. Al die
wette rondom die Levietiese priesterskap, die tabernakeldiens ens.,
is dus nie deur Christus ontbind of tot niet gemaak nie. Hy het
juis daardie wette kom bevestig. Daardie wette se eise is nie
bevredig deur die bloed van bulle en ramme nie. As hulle bloed
waarlik vergifnis kon bring, sou Christus se offer onnodig wees.
Christus het al daardie wette nagekom. Daardeur is dit nie
ontbind nie, maar vir ewig bevestig!

Daarom het ons vandag nog, in die Nuwe Testament, die bloed
van die Offerlam nodig. Die ware tabernakeldiens geld nog steeds
in die Nuwe Testament; Christus het daardie diens verrig en tree
nou vir ewig op as ons Hoëpriester, sodat ons altyd deur Hom na
die Vader gaan. Dit waarvan die skadubeelde getuig het, is nie
tot niet gemaak nie, dit het juis gekom tot die volle werklikheid!

Nou kan u 'n tweede vraag stel en sê: Maar wat van al die
burgerlike wette? Dié wette wat handel oor Israel as
verbondsgemeenskap, wat handel oor regsake tussen mense en die
strawwe wat vir elke oortreding geld; geld dit vandag nog? Ons
stenig tog nie meer iemand met klippe wat owerspel gepleeg het
nie. Het Jesus nie byvoorbeeld daardie wet opgehef deur die vrou
weg te stuur wat in owerspel betrap is nie (Joh. 8:1-11)?

Nee, weereens moet ons daarop let dat, net soos by die
seremoniële wette, die beginsels ten grondslag van die
burgerlike wette ewig is. In die ou bedeling is 'n owerspelige
uit die verbondsgemeenskap verwyder deur gestenig te word. In die
nuwe bedeling word 'n owerspelige uit die verbondsgemeenskap
verwyder deur kerklike tug – 1Kor.5. En by die eindoordeel
sal die owerspelige vir ewig verwyder word uit die
verbondsgemeenskap – 1Kor.6:10. Die beginsel ten grondslag
van elke burgerlike wet is dus ewig, al verskil die administrasie
daarvan in die ou en nuwe bedeling.

Die verskil tussen die ou en die nuwe bedeling lê daarin dat
die skadubeelde van die ou bedeling wat heengewys het na Christus
en sy koninkryk, in die nuwe bedeling tot volle werklikheid gekom
het. Die verskil lê dus nie in leer nie, maar in heerlikheid.
Die nuwe verbond is ‘n ander verbond, nie omdat dit ‘n
ander inhoud het nie, maar omdat dit dieselfde inhoud in groter
heerlikheid bedien. Die skadubeelde het oorgegaan tot volle
werklikheid.

Wanneer Christus dus hier sê: "Moenie dink dat Ek gekom
het om die wet of die profete te ontbind nie…", sluit
dit ál die lering van die Ou Testament in. Géén lering van die
Ou Testament is tot niet gemaak deur Christus se koms nie; die
ewigheid daarvan is juis bevestig. "Ek het nie gekom om te
ontbind nie, maar om te vervul." Die woord ‘vervul’
word gestel téénoor die woord ‘ontbind’. Deurdat Hy
die wet en profete vervul, word dit dus nie ontbind nie, maar
bekragtig en bevestig.

U het miskien gewonder waarom die Here in hierdie gedeelte aan
sy hoorders sê dat hulle nie moet dink dat Hy die wet kom
ontbind het nie. Was sy hoorders dan nie mense wat juis die wet
van Moses hoog geag het nie? En wat sou daar tog wees wat hulle
kon laat dink dat Christus die wet kom ontbind? Ons sal sien dat
Christus die skrifgeleerdes en Fariseër juis in hierdie gedeelte
veroordeel, omdat hulle die wet oortree. Die Fariseërs het net
ag gegee op die uiterlike van die wet, terwyl hulle die wet in
hul hart oortree – daaroor handel Hy meer breedvoerig in Mt.23.

Die mense het egter gedink dat die Fariseërs stiptelik
volgens die wet leef; hulle het as’t ware die Fariseërs se
lewensstyl en die wet met mekaar vereenselwig. Wanneer Christus
dan die Fariseërs se lewensstyl veroordeel, kon hulle maklik
dink, soos mense vandag nog dink, dat Christus teen
wetsonderhouding is.

Christus toon egter aan dat dit juis die skrifgeleerdes en
Fariseërs was wat die wet skaamteloos oortree het, en leer ons
om dit nie ook te doen nie, soos ons spoedig sal sien.

In die saligsprekinge wat voorafgegaan het, is dit reeds
duidelik hoe die wet tot sy reg kom in die koninkryk van die
hemele. Die burgers van die koninkryk is nuwe mense wat herskep
is, wat honger en dors na die geregtigheid wat rein van hart is,
wat gekenmerk word deur liefde en barmhartigheid. Daarom word
hulle ook beveel dat hulle lig moet skyn, naamlik hulle goeie
werke – vers 16!

Die wet kom dus tot sy reg in hulle lewe. Deurdat hulle
innerlik herskep word, volg dit ook dat hulle die Vader
verheerlik deur goeie werke. Dit is vervulling van die wet.
Hierdie gehoorsaamheid aan die wet word toegeskryf aan Christus
se heerskappy. Deur Christus se verlossing en herskeppingswerk
kom die wet tot sy reg in ons lewe.

Die wet en profete word egter in die eerste plek vervul deur
Christus se eie lewe en lering. As die groot Profeet laat Hy die
wet en profete tot hul reg kom deur sy lering, soos ons in die
res van die bergpredikasie sien.

As Hoëpriester vervul Hy die wet en profete deur Homself te
offer vir ons oortreding. As Koning vervul Hy die wet en profete
deur sy heerskappy oor sonde en dood. Die wet en profete, d.w.s.
die hele OT, word nie net vervul deur Christus se offer vir ons
aan die kruis nie, maar deur die volheid van sy Persoon en werk
– dit wil sê, ook deur sy lering aan ons en deur sy
lewendmakende heerskappy in ons.

Vervul beteken dan nie om tot 'n einde te bring nie,
inteendeel! Vervul beteken ook nie dat die wet en profete leeg
was en dat Christus dit kom volmaak het nie.

Dat Hy die wet en profete vervul het, beteken dat Hy die eise
van die wet en die lering van die profete volkome uitgevoer het
en só die wet tot sy reg laat kom het en die lering van die
profete bevestig het.

Die wet is ewig en onveranderlik

In vers 16 het Hy die opdrag gegee tot goeie werke. In die
volgende vers, vers 17, begin Hy nou om uiteen te sit wat goeie
werke is. Goeie werke veronderstel 'n wet. Die wet sê wat goed
is en wat kwaad is. Sonder die wet kan daar geen sonde wees nie,
want sonde is die oortreding van die wet (1 Joh. 3:4). Maar
sonder die wet kan daar ook geen geregtigheid wees nie, want die
wet sê wat reg is.

Gaan die Koning van die koninkryk nou 'n ander wet instel?
Christus sê: Nee, daar ís net een wet, en dit kan nie verander
nie. Daarom het Hy ook nie gekom om dit te verander of te ontbind
nie.

Vers 18 volg dus logies, as Hy sê: "Want voorwaar Ek
sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie
een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat
alles gebeur het nie."

In Luk. 16:17 sê die Here dit ook, maar daar stel Hy dit
effens anders. Hy sê daar: "dit is makliker dat die
hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou
val." Die bedoeling is dus dat die wet vaster staan as die
hemel en die aarde. Die wet is meer blywend as hemel en aarde.

Dit word nog verder bevestig in Mk. 13:31 waar Hy sê: "Die
hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit
verbygaan nie." Sy woorde, ook in die Ou Testament, is ewig,
dit staan vaster as hemel en aarde.

Maar nou is daar nog 'n sinsnede in vers 18, aan die einde,
wat sê: "totdat alles gebeur het." Wat beteken dit?

Daar is sommige wat wil hê dat dit beteken dat Christus alles
kom vervul het en dat die wet dán verbygaan nadat Hy alles
vervul het. Dit sou egter beteken dat Hy inderdaad die wet kom
ontbind het. Maar die Here sê: Nee, Ek het nie gekom om die wet
te ontbind nie.

Die woorde "totdat alles gebeur het" beteken dus nie
dat die wet ontbind sal word nadat alles gebeur het nie. Dit sou
nie net in stryd wees met vers 17 nie, maar ook in stryd met vers
19 wat volg. Vers 19 sê: "Elkeen dus wat een van die minste
van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste
genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit
doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die
hemele."

Van watter koninkryk praat Hy? Hy praat nie van die koninkryk
van Israel in die ou bedeling nie. Hy praat van die koninkryk van
die hemele, die ewige koninkryk wat Hy kom vestig het. Dit is 'n
koninkryk, sê Hy, waar die wet geëer en gehoorsaam moet word.

Watter wet? Die wet waarvan vers 17 en 18 gepraat het, wat God
deur die diens van Moses aan ons gegee het. Dit is daardie wet
wat Hy nou aan ons voorhou. In vers 21 begin Hy dan ook met die
verklaring van die tien Gebooie.

Wie is dit wat die wet moet leer en gehoorsaam? Vers 19 sê:
Dit is die burgers van die hemelse koninkryk wat dié wet moet
leer en doen.

Wat beteken die woordjie "totdat" dan aan die einde
van vers 18? Om dit aan u te verduidelik, lees ek vir u 'n
soortgelyke voorbeeld in Gen. 28:15. Daar sê die Here aan Jakob:
"… kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar
jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek
sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou
gesê het." Beteken dit dat die Here Jakob gaan verlaat
nadat alles gebeur het? Beslis nie. Die woordjie "totdat"
is juis bedoel om die sekerheid van die belofte te bevestig.

En net so in Mt. 5:18. Die woordjie totdat dui daarop dat
alles wél sal gebeur wat in die wet geskryf staan.

Die wet sal tot sy volle reg kom, wanneer ons in volmaakte
heiligheid met God sal wandel op die nuwe aarde. Die hemel en die
aarde sal verbygaan, maar God se wet is ewig en onveranderlik.

Dit is dan die bedoeling van vers 18. Die wet kan nie in die
minste verander of verbygaan nie, nie eers één jota of één
titteltjie nie, met ander woorde nie eers 'n letterstrepie of 'n
punt kan verander of verbygaan nie. Die wet is volmaak en ewig (Ps.
19:8; 119:151, 152).

Die wet geld ook vir die koninkryk van die hemele

Dit bring ons by vers 19 en 20: "Elkeen dus wat een
van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer,
sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar
elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die
koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as
julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die
skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk
van die hemele sal ingaan nie."

Hierdie verse volg logies op die voorgaande. As die wet ewig
geld, dan geld dit ook in die koninkryk van die hemele. Daarom
moet die wet geleer en gedoen word deur al die burgers van die
koninkryk. Dít is die landswette wat geld, daar is geen ander
nie.

Christus se heerskappy is in volkome ooreenstemming met die
wet en die profete.

Wie die wet eer, eer die Vader; wie die wet eer, sal daarom
deur die Vader geëer word. Want wie is dit wat hoog geag word in
die koninkryk van die hemele? Elkeen wat die wet doen en leer.

Ons moet daarop let dat die wet nie net 'n lerende funksie het
nie, dit moet gedoen word. Die wet geld dus nie net as lering in
die Nuwe Testament nie, dit moet gehoorsaam word deur die burgers
van die koninkryk.

Christus leer ons hier om die wet aan ander te leer en dit
self te gehoorsaam. En hierin stel Hyself vir ons die voorbeeld.
Die res van hierdie hoofstuk, en eintlik die res van hierdie
bergpredikasie, is ‘n helder verduideliking en kragtige
toepassing van die wet. Ons het saam gelees in verse 21-32 hoe Hy
die betekenis van die sesde en sewende gebod uitlê en dit dan
kragdadig bevestig deur die ewige oordeel aan te kondig vir
elkeen wat nie daarvolgens leef nie.

Christus toon aan hoe die skrifgeleerdes en Fariseërs die
betekenis van die wet verduister het, deur net te let op die
uiterlike, terwyl die wet geestelik is, ‘n beoordelaar is
van ons hart en gedagtes. Christus is nie hier besig om die wet
van Moses te verander of te korrigeer nie; Hy is besig om die
leer van die Fariseërs te korrigeer. Christus tree hier op as
‘n getroue Leraar wat die wet reg uitlê.

Jy kan die uiterlike van die wet stiptelik nakom, soos die
Fariseërs en steeds ‘n moordenaar en hoereerder wees; as jy
haat in jou hart koester en rondloop met oë vol owerspel.

Christus toon dus aan hoe die skrifgeleerdes en Fariseërs
deur hulle leer en wandel die wet oortree het, deur net op die
uiterlike van die wet te let. Daarteenoor stel hy ware
wetsgehoorsaamheid.

Net soos Christus hier die regte betekenis van die wet uitlê
en ons leer om dit te onderhou, so moet die burgers van die
koninkryk dit ook doen. Christus stel dus self hier die voorbeeld
hoe ons die wet moet verkondig. Dit is deel van die evangelie van
die koninkryk wat Hy hier verkondig, en Hy beveel ons om dit te
verkondig.

Is dit net hier in Mt. 5 wat die Nuwe Testament ons leer om
die wet te onderhou? Nee, die hele Nuwe Testament herhaal en
bevestig die wet wat by Sinaï gegee is. Kom ons kyk na enkele
voorbeelde: Ef. 6:1-3 sê: "Kinders, julle moet jul ouers
gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en
jou moeder – dit is die eerste gebod met 'n belofte –
sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde."
Aan wie leer die apostel dit? Hy leer dit aan 'n gemeente in die
Nuwe Testament. Waar kry Hy dit vandaan? Uit die wet van Moses.

Jak. 2:8, 9 sê: "As julle ewenwel die koninklike wet
volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos
jouself – dan doen julle goed. Maar as julle partydig is,
doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf."

Die Skrif waarna Jak. verwys, is Lev. 19: 18 in die Ou
Testament. Hy sê dus: As julle die koninklike wet, wat in die Ou
Testament in Lev. gevind word, gehoorsaam, doen julle goed, maar
só nie, is julle oortreders van die wet. Hy leer dit aan
gelowiges in die Nuwe Testament.

Daarom sê die apostel Paulus ook: "Maak ons dan die wet
tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons
bevestig die wet" – Rom. 3:31.

Die liefdesgebod wat Christus so dikwels aan ons voorhou; waar
kom dit vandaan? Dit kom uit die wet van Moses en is deur die
profete geleer.

1 Kor. 6:10 sê: "Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of
afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of
diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers, of rowers
sal die koninkryk van God beërwe nie."

Dit is lering van die Nuwe Testament. Maar hoereerders –
verwys dit nie na die 7de gebod nie? Afgodedienaars – verwys
dit nie na die eerste twee gebooie nie? Egbrekers, wellustelinge
en sodomiete – is hulle nie oortreders van die 7de
gebod nie? Diewe – word hulle nie geoordeel onder die 8ste
gebod nie? Gierigaards – verwys dit nie na die 10de
gebod nie? Kwaadsprekers – oortree hulle nie die 9de
gebod nie? Rowers – hulle oortree die agtste gebod.
Dronkaards word geoordeel deur verskeie van die gebooie –
hulle onteer God se naam, hulle is onsedelik, hulle breek die
lewe af wat God hulle skenk, ens.

Watter gebod is daar in die Nuwe Testament wat nie teruggevind
word in die wet van Moses nie? Die Nuwe Testament se lering bou
op alles wat die Ou Testament geleer het. Daar is geen gebod in
die Nuwe Testament wat nie teruggevind word in die Ou Testament
nie. Oral waar die apostel Paulus oor die Christelike lewe praat,
is dit niks anders as bevestiging en uiteensetting van God se wet
nie. Dink maar aan Rom.12-15, Ef.4:17-6:9, ens.

Daar is nie een God vir die Ou Testament en 'n ander god vir
die Nuwe Testament nie. God het nie verander nie, Sy wil het nie
verander nie, Sy woorde het nie verander nie. Mag ons nou maar
moord pleeg, hoereer of steel? Mag ons nou maar valse getuienis
lewer? Watter een van die gebooie geld nie meer nie?

Christus het nie 'n ander maatstaf gebring waarmee reg en
verkeerd gemeet kan word nie. Ver daarvandaan! Hy het die
maatstaf van die Ou Testament kom bevestig. Ons word geregverdig,
nie omdat Christus die wet vir ons kom breek het nie, maar juis
omdat Hy die wet volmaak gehoorsaam het. Hy het ons gered deur
die eise van die wet te gehoorsaam. Hy het ons nie gered deur die
wet tot niet te maak nie.

Die wet is nie die vloek nie, sonde is die vloek. Die vloek
van die wet beteken: die vloek wat die wet uitspreek oor die
sonde. Ons is nie meer onder die vloek van die wet nie, omdat
Christus ons vloek gedra het. Die wet kan ons nie meer veroordeel
nie, omdat ons in Christus volmaak is. Dit beteken egter nie dat
die wet nie meer geld nie.

As die wet nie meer vir ons geld nie, sou ons nie die
verlossing in Christus nodig hê nie. Want as die wet nie meer
geld nie, dan het ons geen sonde nie. Want sonde is juis die
oortreding van die wet (1Jh.3:4), maar waar daar geen wet is nie,
kan daar geen oortreding wees nie (Rom.5:13). Christus moes ook
vir óns sondes sterf, vir die sondes in die NT, juis omdat die
wet ook vir die NT geld.

Goeie werke is nog steeds die onderhouding van die wet. Daar
bestaan geen ander goeie werke nie. Sonde is nog steeds die
oortreding van die wet, daar bestaan geen ander definisie vir
sonde nie.

Die Heilige Gees – die Gees van Christus – bevestig
nie 'n ander wet aan ons as wat van die begin af was nie (Jer. 31:33).

Ten slotte

Wat beteken dit vir ons daaglikse lewe om die gebooie te leer
en te doen? Dit beteken dat ons mekaar moet aanspoor tot liefde
en goeie werke, soos Hebr. 10:24 ons beveel. Dit beteken dat ons
lig so voor die mense moet skyn, sê Christus, dat hulle ons
goeie werke kan sien en ons Vader wat in die hemele is,
verheerlik (Mt. 5:16). Dit beteken dat ons God se wet moet ken en
gehoorsaam en ook ander moet leer om dit te gehoorsaam.

'n Ware dienskneg van God leer dus mense om God se wet te
gehoorsaam, om heilig te leef. Maar hoe lyk 'n heilige lewe? Dit
is nie 'n lewe volgens jóú oordeel of jóú gevoel nie. 'n
Heilige lewe is 'n lewe in gehoorsaamheid aan die wet van God.

Iemand sal vra: Is dit nie wetties nie? Moet ons nou die wet
onderhou om daardeur gered te word? Ons is mos nie meer onder die
wet nie! Ja, ons word gered uit genade alleen, deur die geloof
alleen, deur Christus alleen. Ons hou nie die wet om daardeur
gered te word nie, maar juis omdat ons gered is.

Ons hou die wet omdat ons God liefhet. Hy het ons eerste
liefgehad, en nou het ons Hom lief. Die Here sê in Jh.14:21:
"Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat my liefhet…"
Ons hou die wet uit liefde en dankbaarheid juis omdat ons gered
is. Dit is God self wat in ons werk deur sy Gees en ons herskep
om wetsgehoorsaam te leef. Ons hou die wet omdat ons nie anders
kan nie! Die liefde van Christus dring ons daartoe.

Die natuurlike mens haat God se wet, maar vir die verloste is
dit soeter as heuning. Ons vind ons hoogste vreugde daarin om God
se wet stiptelik te gehoorsaam. En dit is vir ons die diepste
smart wanneer ons sy wet oortree.

Die vraag is nou: Het jy God se wet lief? Is jy besig om jou
eie lewe daarvolgens in te rig, is dit die maatstaf vir jou denke
en optrede? Leer jy ook ander om daarvolgens te leef? Of het dit
dalk gebeur dat jy mislei is deur ‘n ander evangelie, waar
jy gelei en beheers word deur jou eie begeertes en drifte? Glo jy
dalk ‘n evangelie waar jou eie begeertes en gevoel wet is?

Broers en susters, ons het saam met Christus gesterf vir die
sonde en saam met Hom opgestaan om in 'n nuwe lewe te wandel,
wetsgehoorsaam, diensbaar aan die geregtigheid.

Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en
die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk
van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot
genoem word in die koninkryk van die hemele.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)