By die leë graf verkondig die engele die heerlikheid van die verbond.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2001-04-15
Text: 
Lukas 24
Preek Inhoud: 

Lukas 24:5b

Ds C Kleyn - Sondag 15 April
2001

Lees: Lukas 23:50-24:12.
Sing: Ps 96:1,2,3; Ps 96:5,6; Ps
21:1-3; SB10; Ps 118:7,8.

Tema: By die leë graf verkondig die engele
die heerlikheid van die verbond.

  1. Hulle wys op die Lewende God van die
    verbond; en
  2. Hulle roep op tot geloof in God se woorde.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n verskil tussen Goeie Vrydag en Pase.
Dis ’n verskil tussen lewe en dood, tussen kruisiging en
heerlikheid. Op Goeie Vrydag beleef Christus sy diepste
venedering. Hy word gespyker aan die vervloekte kruis, deur die
mense verwerp. Aan die kruis word Hy drie uur lank omhul deur
angsaanjaënde duisternis, deur God en mense verlaat. En as sy
stryd aan die kruis verby is, dan word sy liggaam in ’n graf
neergelê. Dit lyk alles op ’n tragiese einde van die Jesus
van Nasaret, ’n fiasko. Selfs Christus se volgelinge het
groot moeite daarmee. Hulle bedryf rou. Dit lyk asof alle hul
verwagtings doodgeloop het.

Maar wat gebeur daar op die Paasmore? Ons Here
Jesus staan op uit die dood. Hy verskyn in heerlikheid. ’n
Mens kan verstaan dat hierdie waarheid maar moeilik tot ons mense
harte wil deurdring. Die verskil met Goeie Vrydag is te groot vir
ons. Dis werklik ongelooflik!

Gemeente, Christus se opstanding beteken baie,
nie slegs vir Christus self nie, maar ook vir u en my. Christus
bring die nuwe onverganklike lewe tot oorwinning. En die lewe mag
die besit van u en my wees. Christus staan nie op uit die dood as
’n los individu nie. Hy staan op as regspersoon, as ons
wettlike verteenwoordiger. Met Hom staan ons wat glo almal op tot
’n nuwe lewe. Ons vorm God se nuwe skepping.

Christus laat die tempel van sy liggaam afbreek.
Om dit weer op die derde dag te laat herrys. Daarin bewys Hy
homself as die tempel bouer. Sy liggaam word in die bybel naamlik
ook gebruik as beeld vir die kerk. So rys op die paasmore die
kerk, God se tempel tot nuwe lewe. ’n Nuwe skepping wat voor
God staan en met God mag omgaan.

Gemeente, dis die gawe van die verbond. ’n
Gawe wat Christus aan die kruis verdien het. Die vyandskap, die
dood moes immers teniet gemaak word. Anders sou daar geen omgang
met God kan wees nie, geen verbond nie. Wel, Christus het deur sy
bloodstorting die verbond van genade vir ewig bekragtig. So kan
mense opnuut voor God aantree, God se nuwe skepping. Soos Jesaja
geprofeteer het: "As sy siel ’n skuldoffer aangebied
het, sal Hy ’n nakroos sien."

Ek verkondig vir U: by die leë graf verkondig
die engele die heerlikheid van die verbond

  1. Hulle wys op die Lewende God van die
    verbond
  2. Hulle roep op tot geloof in God se woorde.

Lukas noem nie al die verskillende besoeke aan
die graf nie. Hy vat alles kort saam. Om die feitelikheid en die
heerlikheid van Christus se opstanding te benadruk. Daarom gee hy
slegs ’n algemene indruk van die feit dat die graf leeg
gevind word en dat die engele die blye boodskap van Jesus se
opstanding verkondig.

Die rol van die vroue word deur Lukas vanaf
hoofstuk 23:55 as ’n eenheid behandel. Hy beskryf hoe hulle
die graf gesien het en hoe Jesus se liggaam daaarin neergelê was.
Daarna het hulle huis toe gegaan om speserye en salf te berei. As
godvresende Jode kan hulle nie onmiddelik weer graf toe gaan nie.
Hulle wag tot na die Sabbat. Maar sodra dit begin om lig te word
op die Sondag oggend, gaan hulle graf toe met die speserye wat
hulle berei het.

Dis opvallend dat ons op die vroë Paasmore nog
niks van die dissipels hoor nie. Alle Evangelies benadruk dat die
vroue die eerstes is wat in aksie kom. Dit wil nie sê dat die
dissippels hul geliefde meester vergeet het nie. Hulle lyk egter
deur teleurstelling en verdriet verlam te wees. Die boodskap van
die vroue moet hulle in beweging bring. Dis wonderlik om te sien
hoe die Here vroue betrek by sy werk. Nee, hulle neem nie oor nie,
soos die feministe ons wil wysmaak. Maar hulle word gestuur om
die dissippels in aksie te bring. Hulle moet die goeie nuus van
Pase deurgee. Christus gee hulle ’n eie plek en taak in sy
diens. ’n Belangrike plek.

Dis heeltemal ’n ander rol as was wat
hulle in gedagte gehad het op die more. Wanneer hulle by die graf
aankom vind hulle die steen van die graf weggerol. Wat ’n
skok! Nog groter is hul skok om te sien dat die graf leeg is.
Nerens kan hulle Jesus se liggaam vind. Wat ’n skok! Daar
het hulle nie op gereken nie. Hulle is ten einde raad. Daar staan
hulle nou met hul speserye en salf vir Jesus se liggaam. Met hul
bewyse van liefde en eer. Hulle weet nie wat om te doen nie.
’n Hulpelose klomp vrouens.

Dan staan daar skielik twee engele by hulle, in
klere wat skitter van hemelse lig. Wie sou by so ’n
verskyning nie bang wees nie? In vrees buig hulle hul gesigte na
die aarde toe. Dan hoor hulle die engele vir hulle sê: "waarom
soek julle die Lewende by die dooies?"

Hierdie woorde moet ons volle aandag hê. Dis
merkwaardige woorde. Die engele praat van die Lewende. Hulle sê
nie: waarom soek julle Jesus in die graf nie. Ook nie: waarom
soek julle die opgestane in die graf nie. Nee, waarom soek julle
die Lewende by die dooies? Die Here Jesus word die Lewende genoem.
Wat bedoel hulle daarmee? Sien dit slegs op die feit dat Jesus
dood was en nou weer leef, omdat hy uit die dood opgestaan het?
Dit sou die geval kon wees as die engele eers die vroue vertel
het dat Jesus opgestaan het en daarna oor hom as die Lewende
gepraat het. Maar dit doen hulle nie. Hulle doen die
teenoorgestelde. Hulle sê nie: die Here Jesus het opgestaan,
daarom is Hy die Lewende nie. Maar: die Here Jesus is die Lewende
en daarom het Hy opgestaan.

Dat die Here Jesus die Lewende is, kon hulle
geweet het. Het Hy nie vir hulle gesê: Ek is die weg, die
waarheid en die lewe nie? Hy is die lewe self. Hy leef van
ewigheid tot ewigheid. Hy is die lewende God.

Gemeente, dis verbondstaal wat u hier hoor. In
die Ou Testament word u God dikwels as die lewende God geteken,
teenoor die dooie afgode. Wanneer die afgode dood genoem word dan
beteken dit nie slegs dat die afgode nie bestaan nie. Dit beteken
dat hulle hulpeloos is, magteloos, inaktief. Die afgode kan niks
doen nie. Hulle kan nie red nie. Hulle is magteloos. Slegs die
Here God is magtig en aktief. Die Here lewe. Die Here red. Hy is
konstant besig tot heil van sy volk. As ons Verlosser. As getroue
Verbondsgod.

Hy stel sy volk steeds weer in die ruimte. Hy
ontsluit vir hulle ’n toekoms. Dit het die vyande van die
Here voortdurend tot hul skade ontdek. Die Egiptenare het dit
ontdek toe hulle Israel moes laat gaan. Wat ’n kontras : die
lewende God teenoor die dooie afgode van Egipte. Die inwoners van
Kanaan het dit ontdek toe Israel die land ingetrek het. Ons God
het Homself bewys as die Lewende, die Verlosser van sy volk. So
kon Josua sy volk oor die Jordaan lei met die woorde: "Hieraan
sal julle erken dat daar ’n lewende God tussen julle is, en
dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en
Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit
sal verdrywe" (Jos 3:10). So kon Dawid die reus Goliat
uitdaag in die naam van die lewende God. Dawid se motto was: die
Here leef! Geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God wat
die rots is van my heil! Die God wat my die wraak gee en volke
onder my neerwerp; en wat my uitlei onder my vyande uit; ja, U
verhef my bo my teënstanders, U bevry my van die man van geweld.
(2 Sam 22:47-49) Hierdie woorde word in Ps 18 herhaal. Die woorde
getuig van die Lewende God as die verlosser van sy volk.

Gemeente, in die Here Jesus word dit volle
werklikheid. Hy bewerk metterdaad verlossing. Jy kan die lewende
Verlosser-God is in Hom herken. Tydens Christus se omwandeling op
aarde het dit sigbaar geword. Wat het die Here Jesus gedoen? Hy
het blindes weer laat sien, dowes weer laat hoor. Hy het
kreupeles laat loop, dooies opgewek en aan armes die evangelie
verkondig (vgl Mt 11:5). Hy het die glans van die nuwe lewe
gebring. Wanneer die Here Jesus verskyn, dan gebeur dinge. Terwyl
dit in die kerk van die dae doods is, kom daar in Hom lewe en
uitsig. U Verbondsgod bewys homself as die Lewende, as Diegene
wat altyd aktief aanwesig is tot verlossing van sy volk. Die
dissipels het dit opgemerk. Petrus bely: "U is die Christus,
die Seun van die lewende God." Petrus sien in ons Here Jesus
die lewende God voor sig, die Verlosser. En Christus stel Petrus
met sy belydenis aan tot fondament van sy kerk: "Op hierdie
petra sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal
dit nie oorweldig nie" (Mt 16:16-18).

In aansluiting daarop begin Christus oor sy
lyding en sterwe te praat. Slegs langs die pad kan Hy die Lewende
vir sy volk wees. Slegs langs die pad van versoening deur
voldoening kan Hy ’n toekoms vir sy volk ontsluit, kan Hy
die kerk bou. Die skuld van die kerk moet eers uit die pad. Deur
die bloed van die nuwe en ewige testament. Die slinger en die
klip uit Dawid se tyd baat nou nie meer nie. Daar moet nou bloed
kom. Die kosbare bloed van God se eie Seun. Vir die verlossing is
daar geen ander manier nie. Ook al wil Petrus dit op daardie
oomblik nog nie aanvaar nie. Maar slegs op die manier bewys
Christus homself as Seun van die lewende God, as die Lewende self,
die Verlosser van sy volk.

Daarom kan Hy sê: Ek leef en julle sal lewe.
Hy is nie slegs besig om vir ons die pad na die lewe te baan nie.
Hy is ook die weg en die lewe self.

So verkondig die engele aan die vroue die
lewende. Waarom soek julle die Lewende by die dooies. Weet julle
nie dat Hy die Lewende is nie? En dat Hy slegs langs die pad van
dood en graf Homself as julle lewende Verlosser kan wys? Dit is
die pad van verlossing volgens die Skrifte: "Hy is ter wille
van ons oortredinge deurboor, terwille van ons ongeregtighede is
Hy verbrysel. … Die Here het die ongeregtighede van ons
almal op Hom laat neerkom. Soos ’n lam wat na die slagplek
gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders"
(Jes 53).

Het julle ook nie gelees van die afloop waarvan
Jesaja spreek nie. By die lewende God kan dit immers nooit ’n
fiasko wees nie? Inteendeel! Omdat daardie lam die Lam van God is
wat die sonde van die wêreld wegneem, daarom is daar juis
perspektief. Het Jesaja nie gesê nie: "As sy siel ’n
skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die
dae verleng, en die welbhae van die Here sal deur sy hand
vorspoedig wees".

Dit is, broeders en susters, die evangelie van
versoening deur voldoening. Die evangelie wat ook vandag alles
vir u beteken. Juis op die pad van Christus se lyding en dood het
Christus Homself bewys as die Lewende. Waarom soek jy die Lewende
by die dooies? Die Lewende kan tog nie in die greep van die dood
bly nie? Hy wat die lewe in homself het, het tog die mag oor die
dood? Ja, Hy het die dood in u plek aanvaar. Maar nou ook: Hy het
die dood vir u oorwin. Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.
Hy het Homself bewys as die Lewende, as u lewende Verlosser. U
het die gesien op Goeie Vrydag en met Pase. Hy het die skuldoffer
wat vereis was aangebied. Hy het opgestaan uit die dood, as u
verteenwoordiger, leier, verlosser.

Nou die tweede punt. By die leë graf verkondig
die engele vir die vroue die heerlikheid van die verbond. Hulle
doen dit deur te wys op die Lewende God van die verbond –
dit was die eerste gedagte. Hy doen dit ook deur op te roep tot
geloof in God se woorde.

Die verkondiging van die engele het die vorm
van ’n teregwysing: waarom soek julle die Lewende by die
dooies? Hoe kan julle so dwaas wees?

Waarom spreek die engele hulle aan op daardie
manier? Die vrouens het hul meester tog lief? Hulle is tog vol
ywer vir Hom. Het hulle nie speserye en salf berei om die Here
Jesus daarmee hul laaste eer te bewys nie? Hul voorbereidings
getuig van hul groot liefde en trou. Sou u in daardie gevaarlike
en teleurstellende omstandighede nog soveel liefde en eer vir u
Here gewys het? Waarom dan die teregwysing?

Vergeet nie, broeders en susters, die vroue kon
van die opstanding geweet het. Die engele beroep hulle op
Christus se eie woorde. Christus het hulle tog vertel dat hy moes
sterwe en op die derde dag opstaan. Die engele sê dan ook vir
die vroue: "Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in
Galilea was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die
hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag
opstaan." Hulle kon dit dus weet. Maar hulle het nie geglo
nie. Hoe lief dit ookal van hulle mag wees, dat hulle met soveel
sorg speserye en salf vir die Here berei het, hulle is nou besig
met ’n ongeloofsdaad. En in die verbond met die Here moet
ons uit die geloof lewe.

Wanneer die vroue op die Paasmore na die graf
gaan dan dink hulle slegs aan die dooie liggaam van ons Here.
Hulle wil die dooie liggaam salf. Hulle dink in terme van dood en
ontbinding. Nie een van hulle dink aan die moontlikheid van die
opstanding nie. En dit terwyl Chrsitus hulle so dikwels daarop
voorberei het. Hul ongeloof maak hulle blind vir die heerlikheid
van die Paasmore. Terwyl dit op daardie more vir hulle ’n
fees moet wees, trek hulle in rou na die graf toe, met speserye
en salf. Hulle wil die gestorwene die laaste eer bewys. Hulle kon
sy dood nie teenhou nie. Nou wil hulle probeer om die ontbinding
van die liggaam teen te hou. Hulle wil sy dooie liggaam
preserveer.

O onverstandiges, met harte wat traag is om te
glo, waarom soek julle die Lewende by die dooies? Julle aandag is
slegs gerig op wat julle verloor het. Julle verlang na Hom soos
julle gesien het dat sy liggaam in die graf neergelê is. Asof
dit alles is wat oor is. Asof oor niks anders en niks meer gedink
kan word nie. Hy is tog die Seun van die lewende God? Ja, die
Lewende self. Dan gaan ’n mens tog nie die kerkhof, die graf
kultiveer nie. Christus het gesê dat Hy sy gemeente sou bou. Hy
het gepraat van sy liggaam wat op die derde dag sou opstaan, as
’n tempel. Dan behoort julle tog nie op die kerkhof gefokus
te wees nie? Julle moet dan tog fokus op die kerkvors en die
gemeente van die lewende God.

Die vroue toon voldoende ywer, maar sonder
verstand. Hul aktiwiteite het geen waarde vir God se koninkryk
nie. Dis dooie werke. Dis werke wat pas by die gedagte van ’n
fiasko. Sou hulle daarmee besig bly, dan sou daar vir hulle geen
toekoms wees nie. Sonder geloof is daar in die verbond immers
geen lewe nie. Hulle lewe sou dan ewe somber en uitsigsloos wees.

Daarom roep die engele hulle op tot geloof in
Christus se woorde. Glo tog die woorde van julle Heiland! Lewe
uit die geloof. Ja, in die verbond is daar lewe en vreugde. Maar
dan moet jy wel in geloof lewe. Langs die pad van die geloof kom
die weldade van die verbond na jou toe, kan jy daarvan geniet.
Die lewe bloei daarvan op en die vrugte van so ’n lewe word
sigbaar. Christus reinig ons immers van dooie werke om die
lewende God te dien (Hebr 9:14). Niks is ydel nie, as dit in die
geloofsgemeenskap met die lewende God verrig word.

Broeders en susters, laat ons nou nie dink dat
wat die vroue gedoen het, ons nooit kan oorkom nie. Hul situasie
is inderdaad uniek. Christus het slegs eenmaal gesterf en
opgestaan. Maar daarmee is hul sonde nie minder aktueel nie.
Hulle het die pad van versoening deur voldoening misken. Hulle
kon nie glo dat hul Heiland vir ons sondes moes sterf nie, dat Hy
eers ’n skuldoffer moes aanbied om ’n nakroos te sien
en ’n lang lewe te hê nie. Hulle kon nie die pad van lyding
tot heerlikheid aanvaar nie. Wel, die sonde, die dwaling, is
’n voortdurende dreiging. Daar is vandag baie moderne
Christene wat die soenoffer vir ons sondes nie wil aanvaar nie.
Sulke christene kan baie besig wees met allerlei sosiale of
politieke programme, maar alles is tevergeefs. Dit is dooie werke.
Waarom? Omdat hulle die lewende God by die dooies soek. Ja, in
feite soek hulle nie meer die Lewende God van die verbond nie,
maar ’n dooie afgod. ’n Maaksel van hul eie verstand.

Laat ons egter in die gemeenskap met die
Lewende God lewe. Sentraal in die verbond is die lewendige omgang
met God. Hoe kan die omgang daar wees? Slegs deur voldoening,
deur betaling van die sondeskuld. Daarom moes die pad van die
Lewende via Golgota loop. Juis daar het Hy Homself as die Lewende
gewys, as die lewende Verlosser van sy volk. Die verhouding
tussen God en sy volk is herstel. Christus het die verbond van
genade vir ewig bekragtig. Deur sy lyding en dood. Daar staan
niks meer in die pad van die lewendige omgang tussen God en u nie,
behalwe ongeloof.

Hoe kan u dan geniet van die verbondsverhouding?
Deur geloof. Deur God se woorde te glo. Deur te glo in Hom as die
Lewende. As die almagtige Verlosser van sy volk. Let maar op
Goeie Vrydag, Pase, en Pinkster. Ja, let maar op die geskiedenis
van die verbond en van die kerk. U kan volkome op Hom staat maak.
Die afgode, ook die moderne afgode, is dood. Hulle kan niks nie.
Hulle kan nie red nie. Die HERE alleen red. Vertrou op Hom in
alle omstandighede van u lewe. Ook as die stryd soms uitsigsloos
lyk. Of as allerlei hindernisse op u pad kom. Niks gaan buite Hom
om nie, en niks is te moeilik vir Hom nie. U glo tog in Hom as
die Lewende. By niemand ander sal u en kan u redding vind nie.
Soek dan nie die Lewende by die dooies nie. Hy alleen is die weg,
die waarheid en die lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)