Verantwoorde ouerskap.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-10-22
Text: 
Psalms 127
Preek Inhoud: 

Genesis 1:28 & Psalm 127:3-5
Ds C Kleyn - Sondag 22 Oktober
2000

Lees: Genesis 1:20-31; Ps 127.
Sing: Ps 139:1,12; Ps 94:6-8; Ps 139:6-8; Ps 127;
Ps 22:11,12.

Tema: Verantwoorde ouerskap.

  1. Die ouers is God se onderkonings; en
  2. Die kinders is God se erfdeel.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gesins vorming bly ’n sensitiewe saak. Daar is op hierdie
gebied baie vreugde maar ook baie vrae en verborge stryd. Nie
elke huwelik ontvang die kinderseën nie. En egpare wat wel die
kinderseën ontvang, ervaar die seën nie altyd as ’n seën
nie. Hulle worstel met die vraag wat verantwoord is in hul
situasie. Mag hulle bv terwille van die gesondheid van die vrou
vir ’n tyd afsien van die kry van kinders?

Soms kry ’n mens die indruk dat ook onder ons daar soms
op ’n tweeslagtige manier oor hierdie onderwerp gedink en
gepraat word. Soms lyk dit asof uit twee monde gepraat word. Aan
die een kant bely ons dat kinders ’n gawe van God is. Maar
hoe word onder mekaar gesels oor ouers wat hul sesde of sewende
kind verwag? En hoe word gehandel as dit gaan oor eie
gesinsvorming?

Vanoggend kan ek nie alle vrae beantwoord nie. Laat ons kyk na
die beginsels.

So verkondig ek aan u: verantwoorde ouerskap

  1. die ouers is God se onderkonings
  2. die kinders is God se erfdeel

Om te praat oor die gesinsvorming moet ons terug na die begin.

Wat is die eerste wat God teenoor die mens doen? Hy seën
hulle. God verklaar dat Hy vir ons alle goeie gawes wil gee. Hy
begiftig die mens met die krag wat hy nodig het. God skenk wat Hy
beveel. Ons lees immers: "En God het hulle geseën, en God
het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde,
onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls
van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip."

God sorg daarvoor dat die mens die kultuuropdrag kan vervul.
Hy skenk kragte om te vermeerder en om die skepping te onderwerp.
In sy krag sal die mens vrugbaar wees, sal hulle die aarde vul en
onderwerp en sal hulle oor alle ander skepsels heers.

Hiermee wys God die taak van die mens, die taak van sowel die
man as die vrou. Hulle moet saam die aarde vul. Daarom moet hulle
dit ook in goeie oorleg met mekaar doen. God wil die aarde vol
mense sien. Hy het nie sonder rede ’n aarde geskep met
onnoemlike moontlikhede en kragte nie. Hy het nie sonder rede die
aarde toeberei as woonplek vir die mens. Hy wil daar bewoners hê,
mense, medewerkers, heersers, profete, priesters en konings.
Daarom die opdrag: Wees vrugbaar en vermeerder.

Gemeente, geld die opdrag nog vir vandag en vir alle mense? Na
die sondvloed, dus ook na die sondeval, herhaal God die opdrag in
Gen 9:1. Maar word elke persoon nou geroep om voort te plant? Die
seën en opdrag is algemeen. God spreek hier die mensheid aan,
die mensheid wat deur Adam en sy vrou verteenwoordig word. Vir
Adam en sy vrou geld dit as ’n lewenssaak. Hoe sou die
mensheid die taak immers kan volbring as Adam en sy vrou dit nie
doen nie? Dan sou daar geen ander mense wees nie. Die opdrag tot
voortplanting word dus met klem aan die eerste bewoners van die
aarde opgelê. Hulle moet daarmee ’n begin maak. Die aarde
moet vol mense word.

Dit wil nie sê dat elkeen hoof vir hoof vandag dieselfde
roeping ontvang nie. God roep nie elkeen persoonlik tot die
huwelik nie. God gee nie vir elkeen die seën en daarmee die
roeping om kinders te kry nie. God gee aan elkeen ’n eie
gawe. Dink maar aan wat Paulus in 1 Kor 7:7 skrywe wanneer hy
spreek oor ongetroud wees. Hy sê: "Want ek wens dat alle
mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die
een so en die ander weer anders." En met die gawe gee God
die roeping. Elkeen moet dan op sy eie plek en met sy eie gawes
saamwerk aan die vervulling van die kultuur opdrag.

Dit beteken, as getroud is en die moontlikheid ontvang om
binne die huwelik kinders te kry, dat ek die kinders nie mag
afwys nie. God wil sy aarde vol mense hê. Hy wil die uiterste
onderwerping van die aarde sien. U moet nie te gou dink dat die
moontlikhede uitgeput is nie.

Reëlmatig word geboortebeperking aanbeveel in verband met die
oorbevolking van die aarde. Mense is bang dat die grondstowwe
uitgeput sal raak. Ons moet inderdaad die aarde sorgvuldig beheer.
Maar is oorbevolking vir ons werklik’n probleem? As ’n
mens byvoorbeeld terugkyk na die einde van die 19e eeu, dan was
daar in die westerse wêreld baie armoede. Sinds daardie tyd het
die bevolking in die lande meer as verdubbel, terwyl die mense
nou in groot weelde lewe. Wie sou ’n eeu gelede kon gedink
het dat dit moontlik sou wees? Die probleem van armoede lê nie
soseer in die geboorte van teveel kinders nie, maar eerder in die
onverantwoorde gebruik van die aarde.

Binne die huwelik moet die opdrag om te vermeerder nie afgewys
word nie. Die Here wil die aarde vol hê met mense, ja veral met
christelike mense, met profete, priesters en konings, medewerkers
van Hom. Hulle wat trou moet daarom ook bereid wees om die
verantwoordelikheid te aanvaar om kinders voort te bring indien
die Here daartoe die moontlikheid gee. Die Here self het die
verbinding gelê tussen huwelik en kinderseën. Laat ons nie skei
wat God saamgevoeg het nie. Dis nie reg om die voorregte van die
huwelik te wil hê, sonder om die verantwoordelikhede wat daarmee
saamgaan te wil aanvaar nie.

Die roeping van Gen 1:28 bly staan: wees vrugbaar en
vermeerder. Die huwelik vra om kinders. Die vrugbaarheid van
’n huwelik kom op ’n heel besondere manier tot uiting
in die kry van kinders. Daarom ervaar kinderlose egpare hul
kinderloosheid ook as ’n gemis waaroor hulle verdriet hê.
Kinderloosheid is ’n gesteurde situasie as gevolg van die
sondeval. Dit behoort by wat die huwelik formulier noem: "Vanweë
die sonde sal die getroudes bekommernisse, moeite en verdriet nie
vryspring nie."

Dit wil, broeders en susters, nie sê dat ’n kinderlose
huwelik ’n onvrugbare huwelik is nie. Wanneer man en vrou
hulle aan mekaar in liefde gee, wanneer hulle mekaar getrou help
en bystaan in alles wat tot die tydelike en ewige lewe behoort,
dan is hul huwelik vrugbaar. Hulle verryk dan mekaar en vorm
’n seën vir ander. Daarom is ’n kinderlose huwelik nie
’n onvolwaardige of ’n ongeseende huwelik nie. Dit hang
ook saam met die opdrag wat God reeds in die paradys aan die mens
gee.

Die kry van kinders is nie ’n doel in homself nie.
Waartoe het God die mens geskape? Dit lees ons in Gen 1:26:
"en God het gesê: Laat ons mense maak na ons beeld, na ons
gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die
voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al
die diere wat op die aarde kruip." God het die mens geskep
om as sy onderkoning oor die skepsele te heers en om die aarde te
onderwerp. Dit is die groot opdrag van die mens.

In ons teks word dit herhaal. Nadat God gesê het: wees
vrugbaar en vermeerder vervolg Hy: "vul die aarde, onderwerp
dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die
hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip." Hier lê
die geweldige taak vir die mens. Die hele aarde word aan die mens
toegewys en vir hom oopgelê. God soek die onderwerping en die
ontwikkeling van sy wye wêreld. Ons moet uit die skepping haal
wat God daarin gelê het. Ons moet alles ontgin en eksploiteer.
Wat ’n kragte en moontlikhede het in die loop van die eeue
nie openbaar geword nie. Dit lyk amper onuitputlik. Die
heerlikheid van God se skepping kom steeds meer en meer aan die
lig. Tewens die heerlikheid van ons kultuuropdrag. Wat ’n
pragtige taak om elkeen op sy eie plek saam te werk aan die
beheersing en ontplooiing van God se kunstige skepping.

Maar, broeders en susters, as dit die opdrag van die mens is,
waarom praat God eers van vrugbaar wees? Dit is omdat die
uitbreiding van die menslike geslag nodig is om die hele aarde te
kan onderwerp. Adam en sy vrou kan die taak nie alleen af nie.
Baie meer mense is nodig. Om die hele aarde te onderwerp, moet
die aarde eers gevul word. Die werk van die ontwikkeling van God
se werke, roep om baie mensehande en mense verstande. Dit sal die
lewenstaak van miljarde nakomelinge wees.

So sien u, gemeente, die verband waarin God die opdrag tot
voortplanting plaas. Die opdrag staan in diens van die groot
opdrag om die hele aarde te onderwerp as God se onderkoning. God
wil die ontplooiing van sy hele skepping sien. En daarin word
elkeen van u op sy eie plek en met sy eie gawes aan die werk
gesit. Getroud of ongetroud. Met of sonder kinders. Ja, ook
’n kinderlose huwelik kan baie vrugbaar wees in God se diens,
in sy koninkryk. U mag almal God se medewerkers wees. U mag
namens Hom en tot sy eer die aarde en al haar volheid onderwerp.
As sy rentmeesters. Sien daar u pragtige taak waarvoor God u as
manne en vroue, seuns en dogters wil gebruik, elkeen op sy eie
plek en met sy eie gawes. Verheerlik dan God met al julle
moontlikhede, ook met jul tipiese vroulike en manlike eienskappe.

Die opdrag van Gen 1: 28 geld dus ook vir vandag. Beteken dit
dan dat ek sonder om na te dink kinders moet kry en soveel as
moontlik kinders moet kry? God het ons geskep na sy beeld, dws as
verantwoordelike skepsels. Let op die onderskeid tussen mens en
dier. Terwyl God oor die diere sy woorde uitspreek (Gen 1:22),
spreek Hy die mens persoonlik aan in vers 28. Die mens, man en
vrou word op sy verantwoordelikheid aangespreek. Ons is nie soos
diere wat volgens hul drifte en instinkte paar, sonder
verantwoordelikheid, sonder roeping en sonder vermoë om te
oordeel wat goed of verkeerd is nie. Die mens word deur God
aangespreek met sy beloftes en sy eise. Daarom dra ons ook
verantwoordelikheid vir die verwekking van kinders. Dis nie slegs
’n natuurlike biologiese proses, soos by die diere nie. Nee,
ons word daarby ingeskakel met onder meer ons verstand, ons
geloof, ons roepingsbesef. Die kry van kinders gaan dus nie buite
ons eie verantwoordelikheid nie.

God roep ons tot ’n spesifieke taak as verantwoordelike
mense. Hy het ons na sy beeld geskep om sy heerlikheid te
weerspieël. Die heerlike posisie bepaal hoe ons in of buite die
huwelik moet optree. Is wat ons doen werklik tot eer van God,
’n weerspieëling van sy heerlikheid en wysheid? Ook op die
gebied van gesinsvorming? Dan kan dit nooit die bedoeling wees
dat ons sonder meer soveel as moontlik kinders verwek, ongeag die
situasie nie. Beide ouers is verantwoordelik vir die verwekking
en ontvangs van die kinders. In biddende oorleg sal hulle saam
hul beslissings moet neem. As God se priesters en konings. Daarom
sal hulle ook die gesondheid van die vrou in rekening moet bring.
In sorgende liefde moet die man met sy vrou omgaan. Die apostel
Petrus skryf in 1 Pt 3:7: "Net so moet julle, manne,
verstandig met hulle (dws jul vroue) saamlewe en aan die vroulike
geslag, as die swakkere, eer bewys." Hierdie woorde is ook
op gesinsvorming van toepassing. Hulle wys op liefdevolle
verantwoordelikheid.

Bowendien is ons as ouers nie slegs verantwoordelik vir die
verwekking en ontvangs van kinders nie, maar ook vir die
opvoeding van die kinders in die vrees van die Here. In ons tyd
kom die maksimale aantal kinders wat iemand fisies kan kry, nie
altyd ooreen met die vermoë om hulle op ’n verantwoordelike
wyse groot te maak nie. Die kry van kinders is nie ’n doel
in homself nie. God wil kinders hê wat opgevoed word om sy beeld
te vertoon. Hy soek ’n geslag van God (Mal 2:15). Kinders
wat as God se profete, priesters en konings geoefen word en
optree.

Met die verwekking en baring van kinders is ons dus nie klaar
nie. Dit kom ook aan op ’n christelike opvoeding van kinders
wat God aan ons toevertrou. Die sal ’n belangrike plek moet
inneem in die oorweginge rond gesinsvorming. ’n Egpaar moet
hom nie afvra: hoeveel kinders kan ons, biologies gesien nog kry
nie. Maar: hoeveel kan ons tot eer van die Here grootbring.

Sommige mense wil liewer nie van die menslike
verantwoordelikheid speek nie. God is tog diegene wat die
moederskoot oopmaak of toesluit? Dis tog God wat kinders gee? Dis
waar en dit moet ons nooit vergeet nie. Tog moet ons besef dat
dit ons verantwoordelikheid nie uitsluit nie, maar juis insluit.
God wil sy plan uitwerk met inskakeling van ons
verantwoordelikheid.

Hierby moet ons wel die arglistigheid van die menslike hart
besef. Die sondige mens wil hom graag onttrek aan sy
verantwoordelikheid teenoor God. Dit kan dan gebeur met vroom
lykende argumente. Sondige selfsug en materialisme kan ons sommer
in sy greep kry. Vleeslike oorwegings kan baie maklik ons gedrag
gaan bepaal. Sodat ons eiemagtig (dit is, sonder om ons na God se
wil te rig) die kinders gaan beperk.

God se onderkoning wil nie eiemagtig optree nie. Hy wil juis
God se wil opvolg. Daarom word die beslissinge in biddende oorleg
geneem. Dan kan dit soms gebeur dat die besluit geneem word om
die verwekking van ’n volgende kind uit te stel terwille van
die gesondheid van die vrou of vanweë die huidige situasie van
die veeleisende gesin. God verwag van ons verantwoorde ouerskap.
Dit pas by die beeld van God. Ons is immers God se onderkonings.

Tegelykertyd het dit niks met die beeld van God te doen nie,
as ons ’n volgende swangerskap sou wil voorkom enkel
terwille van ’n luukse lewe of uit vrees. Selfsug en vrees
weerspieël nie God se heerlikheid nie. Die onderkoning van God
moet juis die wil van God soek en vertrou op God. Daarom is
christelike gesinsvorming ’n saak wat nie sonder vertroue in
die Here aangevat kan word nie. Kinders van gelowige ouers is God
se kinders. Die wêreld waarin ons kinders gebore word kan ons
benou. Maar dit is die wêreld waaroor God regeer. Ons mag vas
daarop vertrou dat alle skepsels so in Sy hand is, dat hulle
hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. Sou die troue
verbondsgod sy kinders nie versorg nie. Hy wat ons
verantwoordelikhede gee, gee ons ook sy seën. Hy gee die kragte
en moontlikhede wat by die verantwoordelikhede pas.

Laat ons nou kortliks op die tweede punt ingaan. Die kinders
is God se erfdeel. Ons lees daarvan oa in Ps 127: "Kyk seuns
is ’n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is
’n beloning."

Satan wil graag sien dat die kerkmense min of geen kinders het
nie. Hy weet dat dit God gaan om heilige saad, om kinders wat Hom
erken en dien. Daarom sal hy alles in sy vermoë doen om ons wys
te maak dat dit beter is om geen of min kinders te hê, en
wanneer ons wel kinders hê sal hy alles doen om die kinders te
mislei en geestelik te bederf.

Kinders word vandag dikwels gesien of ervaar as ’n las,
as ’n straf pleks van ’n seën. ’n Ryke man het
eers in ’n kinderryk gesin gekom en gesê: hierdie kinders
is diegene wat ’n ryk man arm maak. Die pa van die gesin het
toe raak geantwoord: nee, hierdie kinders is diegene wat ’n
arm man ryk maak; want daar is nie een van hulle wat ek sou wil
ruil vir al jou rykdom nie."

Kinders is ’n erfdeel van die Here. Dit kan wees dat ek
min aardse rykdom ontvang het. Miskien het ek nie voldoende geld
om ’n groot huis of ’n nuwe kar te koop nie. Miskien
worstel ek om met my gesin finansieel rond te kom. Maar ek is
baie ryk. My kinders is vir my meer werd as enige materiële
rykdom, meer werd as huise, land of geld. Dit is my erfenis. Die
kinders is van blywende waarde, ja van ewige waarde. Welke
gelukkige ouer sou sy kinders wil opgee in ruil vir materiële
besittings? Tog niemand nie!

Die kinderseën het baie beteken vir God se ou Testamentiese
volk. Was dit omdat die kinders soveel vir hulle kon beteken in
tye van moeite en ouderdom? Nee, die verlange was veel dieper.
Dit hou verband met God se belofte in Gen 3:15. Na die sondeval
het God die stryd tussen die vrou en haar saad aan die een kant,
en die satan en sy volgelinge aan die ander kant beskik. Elke
nuwe geboorte binne die kerk beteken ’n versterking van die
geledere van God se volk. Nuwe ammunisie, soldate, as ‘t
ware. Daarom lees ons in Ps 127: "Soos pyle in die hand van
’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man
wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan
as hulle met die vyande in die poort spreek nie." Die seuns
kan die vyande in die poort beveg en oorwin. Dink aan die belofte
aan Abraham: En jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit
neem (Gen 22:17).

In die stryd tussen vrouesaad en slangesaad sal die saad van
die vrou oorwin. Dit sal die kop van die slang vermorsel. Die
genadeslag sal deur die Messias uit die stam van Juda uit die
huis van Dawid uitgedeel word. Elke godvresende Israeliet het vol
verwagting uitgesien na die oorwinning. Hulle het nie slegs
gehoop om in die oorwinning van die Messias te deel nie, maar ook
om daaraan by te dra. Indien hulle self nie meer sou leef nie,
dan het hulle gehoop om in elk geval via hulle nageslag dit mee
te maak en daaraan by te dra. Daarom het hulle veral na seuns
verlang.

Vandag hoef ons nie te verlang om in ons kinders deel te hê
aan die koms van die messiaanse ryk nie. In Christus het die
messiaanse ryk reeds aangebreek. Hy het in beginsel oor die slang
en sy volgelinge getriomfeer. En wat sy wederkoms betref: ons
hoef die dag nie in ons kinders mee te maak nie. Wanneer Hy
terugkom dan sal ons almal, ook hulle wat reeds gesterf het, die
fees meemaak. Die Here sal op die dag hulle wat in Christus
gesterf het opwek. Dan sal alle gelowiges, hulle wat reeds
gesterf het en hulle wat nog lewe, die Here in die lug tegemoet
gaan om Hom feestelik op aarde te verwelkom (1 Thess 4:13-18).

Dit is dus nie die kry van kinders as sodanig wat glans en
fleur aan die lewe gee nie. Dis Christus wat fleur aan die lewe
gee, ook aan die lewe van alleenstaande en kinderlose egpare. Hy
laat hulle medestryders van Hom wees, sy medewerkers. Almal wat
in Hom glo is deur God geseën met alle geestelike seëninge in
Christus (Ef 1:3). In die Ou Testament het God sy kerk amper
uitsluitend deur natuurlike voortplanting gebou. In die nuwe
testament bou God sy kerk op velerlei maniere. Via sending en
evangelisasie. So kom daar ’n kerkvolk, ’n kerkjeug. En
eenmaal sal elkeen van ons in lewende lywe, met verheerlikte
liggame die voltooiing van God se ryk belewe.

Dit neem nie weg dat ’n stel lewenslustige kinders wel
deeglik ’n seën van die Here is, ’n beloning, ’n
erfdeel. Dit is ’n weldaad as die Here ons kinders vir Hom
laat kry. Kinders wat ingesit kan word in die stryd van God. Dit
is ’n skitterende saak as die Here in die lyn van die
geslagte sy verbond voortsit en sy kerk bou. Laat ons daarom nie
meewarig ons hoof skud oor gesinne wat bly groei nie. Laat ons
nie saamdoen met al die laatdunkende opmerkings wat ons van die wêreld
kan verwag nie. U weet tog beter! Kinders is ’n erfdeel van
die Here, skatte vir God se ryk. Gelukkig is die man wat sy
pylkoker daarmee gevul het! Wanneer man en vrou in biddende
oorleg hul bly oopstel vir die kry van kinders, verdien hulle
slegs begrip en waardering.

Hoeveel kinders daar moet wees, sê die Here nie. ’n
Pylkoker kan klein wees en tog vol. Nie elke ouer sou ’n
groot gesin kan hanteer nie. God gee nie aan elkeen die
moontlikheid om baie kinders te hê nie. In sy wysheid skryf God
nie ’n aantal voor nie. Ons mense is almal verskillend.
Huwelike en egpare is verskillend. Hulle kan nie almal dieselfde
dinge doen en hanteer nie. Wat die Here van ons as ouers vra is
verantwoorde ouerskap in vertroue op Hom. Die ouers is God se
onderkonings. Die kinders is God se erfdeel.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)