Die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-08-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

Sondag 19
Ds C Kleyn - Sondag 20 Augustus
2000

Lees: Openbaring 1; Sondag 19.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 110:1,2,5,6; Ps 96:6-8; Ps 134:1-3.

Tema: Die heerlikheid van ons Here Jesus
Christus.

  1. Christus sit as loon op sy volbragte werk;
  2. Christus staan tot heil van sy verloste
    kerk;
  3. Christus kom tot troos van sy vervolgde
    kerk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand wil ek aan u die heerlikheid van ons
Here Jesus Christus verkondig. Ons let op drie dinge:

  1. Christus sit as loon op sy volbragte werk
  2. Christus staan tot heil van sy verloste
    kerk
  3. Christus kom tot troos van sy vervolgde
    kerk

Die sit aan die regterhand van God is nou
verbind met Christus se hemelvaart. Tog moet ons die twee wel van
mekaar onderskei. Want nie elke hemelvaart word gevolg deur
’n sit aan God se regterhand nie. Elia is bv in die hemel
opgeneem, maar hy het nie die plek aan God se regterhand ontvang
nie. ’n Mens kan ook spreek van ’n hemelvaart van
engele wanneer hulle van die aarde weer na die hemel terugkeer.
Maar daar is geen sprake van ’n sit aan God se regterhand
nie. Slegs Christus se hemelvaart word gevolg deur ’n sit
aan God se regterhand. Daarmee word die doel van sy hemelvaart
aangegee. Christus gaan nie slegs na die hemel toe om sy Vader
weer te ontmoet nie. Hy gaan doelbewus na die hemel om die plek
aan Vader se regterhand in te neem.

Die Vader nooi Hom daartoe uit. Ons lees in Ps
110: "Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my
regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete."
Die seun gee gehoor aan Vader se oproep en gaan sit aan Vader se
regterhand.

Maar gemeente, wat beteken dit om aan God se
regterhand te sit? Die plek aan die regterhand is die ereplek.
Dit is gebruiklik dat die persoon wat na die koning die eerste in
mag is, aan die regterhand van die koning ’n ereplek ontvang.
God gebruik hierdie beeld om die posisie van Christus aan te gee.
Ja, ons het hier te make met beeldspraak. God is gees en by Hom
kan ’n mens slegs in oordragtelike sin van ’n hand
spreek. Die uitdrukking wil sê dat Christus nou met alle mag en
met die hoogste eer beklee is. Christus het die waardigheid
ontvang om die tweede in mag te wees onder die Vader. Bo alle
skepsels het Hy die voorkeur. Hy is tot erfgenaam van alle dinge
gemaak. Hy het alle mag ontvang in hemel en op aarde.

Christus het die groot waardigheid en eer nie
sommer ontvang nie. Hy moes as ons verteenwoordiger die reg
daartoe verwerf. Die prys wat Hy daarvoor moes betaal was sy eie
lewe. Die prys het hy betaal. Daarom mag Hy as loon op sy
volbragte werk die plek inneem.

Die wêreld regering is aan Hom toevertrou.
Deur Hom regeer die Vader alle dinge. Johannes op Patmos mog iets
daarvan hoor. Hy het Jesus Christus leer ken as die owerste oor
die konings van die aarde. Jesus Christus het dus die seggenskap
oor alle maghebbers van die aarde. In ’n visioen het
Johannes ook iets van die heerlikheid van hierdie owerste mag
sien. Hoe indrukwekkend is sy verskyning! Johannes sien Een soos
die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete
hang (’n soort koningsmantel of moontlik ook ’n hoëpriesterlike
mantel), en gegord om die bors met ’n goue gordel (aanduiding
van sy hoë koninklike of priesterlike waardigheid).

Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos
sneeu, dws stralend met hemelse ligglans. In Dan 7 is dit die
tekening van die Here God. Hier geld dit vir Jesus Christus. Hy
word dus op een lyn met God gestel. Hy besit goddelike
heerlikheid. Sy oë is soos ’n vuurvlam. Sy blik dring deur
alles heen. Niemand kan hom vir hom verberg nie. Sy voete is soos
blink koper wat gloei soos in ’n oond. Dit is vir Hom geen
moeite om die volke te verpletter nie. Hy is as ’n
verterende vuur. Sy stem is soos die stem van baie waters. Uit sy
mond gaan ’n skerp tweesnydende swaard uit. Sy woorde tref
altyd doel. Sy aangesig is soos die son skyn in sy krag.

Gemeente, hoe skitterend is die verskyning. Vol
van hemelse heerlikheid en majesteit. Is die vreemd dat Johannes
skrik van sy verskyning en dat hy soos ’n dooie aan Christus
se voete val? Wie sou nie skrik voor hierdie goddelike
heerlikheid van Jesus Christus nie. As een van sy dissipels het
Johannes Christus vroeër dikwels genoeg gesien. Hy het saam met
Jesus opgetrek, toe Jesus onder die volk gepreek het en sy
wonders en tekens gedoen het. Toe het Jesus geen gestalte of
heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie (Jes 53:2). Toe
was Jesus soos ’n lam wat na die slagplek gelei word. Mense
kon Hom maak en breek, altans so het die gelyk.

Maar nou, nou sit Hy aan Vader se regterhand.
Die verskyning is nou so ontsagwekkend dat Johannes soos ’n
dooie aan sy voete val. Christus haas hom egter om Johannes gerus
te stel. Hy lê sy regterhand op die hoof van sy verskrikte
apostel, soos ons weleens ons hand op die hoof van ’n
verskrikte kind plaas, om die kind gerus te stel en weer vertroue
te gee. Johannes hoef nie te vrees nie. Hy mag rustig sy hoof
ophef en sy Meester in die oë kyk. Want alles wat in sy
verskyning huiweringwekkend is, is nie teen hom of teen die kerk
nie, maar juis vir hom en teen die vyande gerig. Wie ookal voor
Hom moet vrees, nie sy troue volgelinge nie.

Christus verjaag die skrik. Hy help Johannes
weer op die bene. Johannes kan voor hierdie heerlikheid bestaan.
Hy is versoen. Daarom voeg Jesus die woord by die daad: "Moenie
vrees nie, ek is die eerste en die laaste en die lewende";
Ek is die ewige God. Ek is ook diegene wat die dood en die
doderyk oorwin het. Ek heers nou oor die dood en doderyk. Ek het
die sleutels daarvan. Christus herinner Johannes aan sy dood aan
die kruis en aan sy glorieuse opstanding op die Paassondag. Hy
heers nou oor alles en almal. Hy het alle mag in hemel en op
aarde. En Hy sit die mag in vir sy kerk.

Dit wil ons sien in die tweede punt: Christus
staan tot heil van sy verloste kerk.

Gemeente, die Bybel praat nie slegs van
Christus se sit aan Vader se regterhand nie, maar ook van sy
staan. Stefanus sien Jesus staan aan die regterhand van God en
roep uit: "Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van
die mens aan die regterhand van God staan." Jesus Christus
mag die ereplek aan die regterhand van God inneem. Hy mag deel in
God se majesteit. Maar Hy gaan daar nie sit om te rus nie. Hy
neem sy plek in om juis van daaruit aktief te wees. So staan Hy
in aksie. Tot heil van sy verloste kerk. As Hoof van sy kerk.

’n Mens sou kan vra: klop dit wel met die
werklikheid? Wat sien ons daarvan hier op aarde? Is die kerk nie
dikwels ’n speelbal van allerlei magte nie? Hoe dikwels het
die christene nie onreg, vervolging en groot verskrikking moet ly
nie. Die geskiedenis is daar vol van. En ook nou word Christene
nog steeds gepla, verdruk, nou hier, dan daar. In die een land
meer as in die ander. As Christen kan ek dit soms swaarkry by die
skool, by die werk of in die samelewing. As ek daar pal staan vir
die Here en sy norme dan kan dit vir my baie kos: my vriendskap,
my posisie, moontlik selfs my besigheid. Hoe meer ander mense
oneerlike of oneerbare praktyke daarop nahou, des te moeiliker
word dit vir my as ’n Christen om mee te ding in die sakewêreld.
God se norme is dan immers meer werd as groot materiële winste.
As Christen moet jy soms ’n eensame stryd voer.

Waaruit blyk dan dat Jesus Christus oor alles
en almal regeer, as Hoof van sy kerk, tot heil van sy kerk?
Johannes op Patmos kan uit ervaring praat. Hy is immers na die
eiland Patmos verban vanweë sy troue verkondiging van Jesus
Christus. Die mense het die prediking nie getolereer nie. Daar in
die Romeinse ryk moes ’n ander as maghebber erken en aanbid
word. Daarom moes die groot prediker van die evangelie die swye
opgelê word. Waar blyk dan Christus se koningskap tot heil van
sy kerk?

Gemeente, let op Openb 1. Die vyand dink dat hy
’n oorwinning behaal het. Johannes is verbanne. Hy kan nie
meer preek nie. Maar wat sien ons gebeur? Kyk Christus magteloos
toe? Nee, Hy bewys homself as die hoof van die christelike kerk,
as die owerste oor die konings van die aarde. Hy gebruik die
handelinge van die Romeine. Juis dmv die verbanning breek
Christus die mond van Johannes oop. Hy laat Johannes so spreek
dat hy deur die eeue heen gehoor sal word. Die boek Openbaring
kom tot stand.

Die verbanningsoord Patmos word diensbaar
gemaak aan die verbreiding van die evangelie. Op die stille
eiland kan Johannes ongestoord visioene ontvang. Christus staan
aan die regterhand van God. Dit beteken dat u nie bang hoef te
wees vir die groot wêreldmagte nie. Want Christus regeer ook oor
hulle wat Hom en sy kerk bestry. In sy sorgende liefde vir sy
kerk gebruik Christus selfs hul bose dade. Alles sal uiteindelik
sy kerk dien. God se vyande moet hulpdienste verrig met die oog
op die verlossing van die kerk deur loutering en beproewinge heen.

Ja, die laaste moet u nie vergeet nie: deur
loutering en beproewinge heen. Ook via vervolging en verdrukking
is Christus besig om sy kerk voor Hom te stel as ’n reine
bruid. So is Hy besig om sy kerk klaar te maak. Die kerk moet hom
wys as ’n troue bruid. ’n Bruid wat op Christus se
beskerming vertrou. Het Christus nie belowe om sy kerk te sal
beskerm en bewaar teen alle vyande nie? Johannes op Patmos mog
dit sien en hoor. Hy moes dit aan ons deurgee. Let maar op die
verskyning van die verheerlikte Christus. Werklik skrikwekkend
vir sy vyande. Maar heil vir Johannes en vir Christus se kerk.
Die verheerlikte Christus word mos geteken as staande tussen die
sewe kandelaars. Dit is die plaaslike kerke, die ligdraers, wat
die lig laat skyn in ’n duistere wêreld. Die plaaslike
kerke het in Christus hul middelpunt, hul eenheid en vastheid. Hy
staan daar in hul midde, as die Seun van die mens. As een wat
werklik mens geword het om haar as bruid te werf.

Sou die kerk dan moet vrees? Sou ons dan
bevrees hoef te wees vir allerlei bedreigings wat daar is?
Christus verkeer te midde van die kandelaars. En in sy regterhand
hou Hy sewe sterre. Die sterre word ook engele genoem, wat
beteken gesondenes. Dit is die ampsdraers van die gemeentes.
Hulle mag ook getroos wees: Christus hou hulle in sy regterhand.
U moet broeders en susters, nooit klein van Christus dink nie.
Gryp maar na die eerste hoofstuk van Openbaring. Daar sien u
Christus in sy goddelike en koninklike heerlikheid, tot heil van
sy volk.

Nou die derde gedagte: Christus kom tot troos
van sy vervolgde kerk.

Gemeente, wanneer ons praat oor die wederkoms
van Christus dan sê ons dikwels: Hy sal terugkom, in die
toekomstige tyd. Ons dink dan aan iets wat in die toekoms sal
gebeur. Die Bybel sê egter dikwels: Hy kom, in die teenwoordige
tyd. Hy is reeds besig om te kom. Dink maar aan Openb 1:7: "Kyk,
Hy kom met die wolke", teenwoordige tyd. Hy is besig aan die
kom. Hy is reeds in aantog.

Maar waaruit blyk sy koms dan? Hoe kan ek dit
vandag sien? Ons lees: Hy kom met die wolke. In die Bybel word
wolke dikwels genoem as begeleidingsverskynsels van die
verskyning van die Here. Wanneer die Here op aarde verskyn o.a.
aan Moses en die Israeliete, dan is daar wolke en vuur. Tekens
van die heerlikheid van die Here. Rondom God is wolke en
duisternis.

As ons dan lees van Christus dat Hy met die
wolke kom, dan sien ons Christus in sy goddelike heerlikheid. Hy
word begelei, omgewe deur die heerlikheid van die Here. Ons word
herinner aan Christus se woorde tot die Sanhedrin: "Van nou
af" – dus nie slegs in die toekoms nie –"van
nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand
van die krag van God en kom op die wolke van die hemel" (Mt
26:64). Dis nie iets van die verre toekoms nie, maar dit is nou
reeds werklikheid. Kyk, Hy kom met die wolke.

Maar waar kan ons vandag Christus sien omhul
met wolke? Wanneer die heerlikheid van die Here op aarde verskyn
dan vervul dit die mense meestal met vrees. Sy verskyning beteken
verskrikking. Hy kom om wraak uit te oefen teen sy vyande. Hy
laat sy oordeel oor hulle kom. Ons lees in Ps 97:2-5:"Wolke
en donkerheid is rondom Hom…. ’n Vuur gaan voor sy
aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand. Sy
bliksems verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe. Berge
smelt weg soos was voor die aangesig van die Here, voor die
aangesig van die Here van die hele aarde." Wanneer die Here
met die wolke kom dan gebeur daar dinge op aarde. Die storm breek
dan los. Alle kragte van die wêreld kom in beweging.
Huiweringwekkende oorloë breek los. Verwoestinge vind plaas. Die
hele aarde skud op sy fondamente.

Gemeente, in geloof mag u Christus in die wêreld
gebeure sien kom. U kan die wolke daagliks sien. In alle beweging
en verskrikking op aarde kom Christus saam. Christus is besig om
heen te werk na die einde toe. Hy is reeds besig om die oordeel
te voltrek, om die wêreld te rig. In die verloop van die
geskiedenis word die wêreld geoordeel totdat ten slotte die
laaste vyande verpletter word.

Ons lees daarvan in die vervolg van die boek
Openbaring. Christus het die boek geneem en is besig om sy sewe
seëls oop te maak. Hy is besig om die wêreldgeskiedenis te
ontvou. Die wêreld gebeure word deur Hom bepaal. Hy kom langs
die pad van die sewe seëls. Wat ’n ellende kom oor die wêreld
wanneer Hy die sewe seëls oopmaak: oorloë, hongersnode, geweld,
verskrikking na verskrikking totdat uiteindelik die aarde
onbewoonbaar blyk. Die wêreld grotes probeer hulle in paniese
angs weg te steek vir die toorn van die Lam, Christus (Openb 6).

Christus kom langs die pad van die 7 basuine
wat groot rampe oor die aarde bring. Hy kom langs die pad van die
7 skale van die grimmigheid van God. Wat ’n verwoesting en
verskrikking. Die wolke trek saam.

In geloof sien ek in alles Christus aan die kom.
Kyk, Hy kom met die wolke. In die onrus en chaos van die wêreld
kom Christus as Oorwinnaar. U sien Hom kom as u lees van die
beweging van die magte van hierdie wêreld. U sien Hom kom
wanneer u die nuus hoor of sien, die oorloë in die Afrika lande,
die vloede in suidelik Afrika, die armoede en die vigs epidemie
ens ens. Wie ’n oog het, laat hom kyk, laat hom goed oplet.

Gemeente, wat ’n geweldige troos vir die
kerk van alle plekke en tye. As ek die wolke sien dan skrik ek.
Maar die geloof sê vir my: agter die wolke skyn die son. Jesus
Christus is in aantog. Ons verlossing is naby. Die eindoorwinning
kom steeds naderby.

Uiteindelik sal elke oog Hom sien, ook hulle
wat Hom deursteek het. Niemand sal Hom kan ontwyk nie. Elkeen sal
Hom as Regter sien kom. En elkeen sal voor sy regterstoel moet
verskyn. Die rolle sal dan omgekeer word. Eens het mense hom voor
die regbank gesleep en veroordeel. Jode, Herodes, Pilatus. Mense
het Hom doodgemaak. Mense het Hom verag en verwerp, en doen dit
nog steeds vandag. Maar dan sal almal voor Hom staan; voor Hom as
Regter in volle heerlikheid.

En hulle sal op hul knieë gebring word. Hulle
sal radeloos wees van angs. Christus sal hulle die kwaad wat
hulle bedrywe het vergeld. Tydens hul lewe op aarde het hulle
praatjies genoeg gehad. Hulle het hul eie gang gegaan. Hulle het
geen rekening met koning Christus gehou nie. Hulle het gedink dat
hulle self beheer oor die situasie het. Hulle het Christus en die
christene vervolg, verag. Maar dan sal dit afgelope wees.
Definitief afgelope.

En die gelowiges: hulle sal verhoog word. Hulle
sal hul reg ontvang. Nie omdat hulle so goed was nie. Maar omdat
hulle geglo het in Jesus Christus. Omdat hulle by Christus
behoort het.

As ek my sondes sien, het ek alle rede om te
vrees: wie kan die goddelike verskyning van Christus verdra? Maar
as ek sien op Christus se volbragte werk dan het ek geen rede om
te vrees nie. Saam met al die uitverkorenes sal Hy my na Hom neem
in die hemelse blydskap en heerlikheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)