Jesus Christus is die opstanding en die lewe.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-09-17
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

Sondag 22
Ds C Kleyn - Sondag 17
September 2000

Lees: Johannes 11:1-44; Sondag
22.
Sing: Ps 121:1,2; Ps 121:3,4; Ps
63:1,2; Ps 73:10-12; Ps 16:4,5.

Tema: Jesus Christus is die opstanding en die
lewe.

  1. Wie in Hom glo besit die ewige lewe; en
  2. Wie in Hom glo ontvang die opstanding van
    die liggaam.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die geskiedenis van Joh 11 laat Christus dit
bewus uitloop op die dood van Lasarus. Martha en Maria het vir
Hom laat weet dat Lasarus siek was. Maar Christus maak geen haas
om na hom toe te gaan nie. Christus bly nog ekspres 2 dae waar Hy
is. En dit terwyl Hy het kan voorkom dat Lasarus sou sterwe. Het
Martha en later ook Maria nie tereg gesê: Here as U hier gewees
het, sou my broer nie gesterf het nie?

Die Here laat Lasarus wat Hy so liefhet rustig
sterwe. Hy doen geen enkele poging om dit te voorkom nie. Waarom
doen die Here dit? Daarvan gee Hy self ’n duidelike
verklaring. Onmiddellik nadat Hy die berig van Lasarus se siekte
ontvang, sê Hy: "Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie,
maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur
verheerlik kan word." En nadat Lasarus gesterf het, sê
Christus vir sy dissipels: "Lasarus, is dood. En Ek is bly
om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo"
(vers 14,15).

Christus het ’n duidelike bedoeling
daarmee om nie onmiddellik na Lasarus toe te gaan nie, maar om te
wag totdat hy gesterf het. Lasarus moet sterwe tot verheerliking
van God, sodat God alle eer kan ontvang. En sodat die Seun van
God daardeur verheerlik word. God wil hê dat sy Seun voor elkeen
se oë as die Heer oor lewe en dood aangewys sal word. God wil
rondom die sterwe van Lasarus sy Seun beklee met die heerlikheid
van die Oorwinnaar van die dood.

Dis opvallend dat dit die laaste teken is wat
Christus voor sy dood verrig. Kort voor sy eie dood bewys Hy
Homself as die lewensvors. Hy het gekom om die menslike lewe te
verlos. Hy staan ook by dood en graf. Wie in Hom glo word nie
deur die dood meegesleur na die ondergang nie. Die dood moet vir
die lewensvors wyk.

God het hierdie geskiedenis opgeneem in
Christus se werkprogram. Sodat die Seun Hom sou openbaar as die
lewensvors. Maar ook sodat die dissipels in Hom sou glo as die
volkome verlosser van die lewe. Die opwekking van Lasarus is ook
vir U opgeteken tot versterking van u geloof. Deur die oë van
die dissipels mag ook ons getuies wees van Christus se
heerlikheid as Heer oor lewe en dood.

Ek verkondig aan u: Jesus Christus is die
opstanding en die lewe

  1. Wie in Hom glo besit die ewige lewe
  2. Wie in Hom glo ontvang die opstanding van
    die liggaam.

In die gesprek met Martha werk Jesus versigtig
heen na die ryke selfopenbaring: Ek is die opstanding en die lewe.
In reaksie op Christus se woorde: "Jou broer sal opstaan",
sê Martha: "Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in
die laaste dag." Martha glo dus in die opstanding. Maar dit
is vir haar besef ’n saak van die toekoms. Is dit dikwels
ook nie so by ons nie? Waar dink u aan as u spreek oor die
opstanding? Ons gedagtes gaan amper vanself uit na die opstanding
op die jongste dag.

Christus deurbreek die gedagte. Christus kom
met verrassende uitsprake. Uitsprake waardeur Hy ons gedagtes op
’n ander spoor sit. Uitsprake wat ons blik verruim. Hy open
ons oë vir die hede. Wanneer ek praat oor lewe en opstanding dan
moet ek nie slegs aan die verre toekoms dink nie. "Ek is die
opstanding en die lewe", sê Jesus. In my verskyning is die
opstanding reeds aanwesig. In My is die lewe reeds volle
werklikheid. Die dood het oor My geen seggenskap nie. Daarom moet
die dood altyd voor my wyk. Waar Ek is, daar is die lewe pleks
van die dood. Ek is in lewende lywe die opstanding en die lewe.

So kom Christus tot die verrassende uitspraak:
"Elkeen wat lewe en in my glo, sal nooit sterwe tot in
ewigheid nie." Julle wat hier nog rondstap, julle wie se
hart nog klop, julle sal deur geloof in My die dood nooit sien
nie. As jy in My glo sal jy nooit sterwe nie.

Wat maak ’n mens met so ’n uitspraak,
terwyl die liggaam van jou geliefde broer in die graf lê? Wat
maak jy met so ’n uitspraak terwyl die afsterwe van ’n
geliefde nog so vars in die geheue is. Nooit sterwe? Dit klop tog
nie? Lasarus lê in die graf. Hy het tog gesterwe? En my geliefde
wat in die Here geglo het, het tog ook gesterwe? Christus laat
’n mens nadink: "elkeen wat in My glo, sal nooit sterwe
tot in ewigheid nie." Glo jy? Dan sal jy nooit sterwe nie.

Christus wil ons oë oopmaak vir die eintlike
betekenis van dood en lewe. Ons maak ons druk oor die liggaamlike
dood, die ontbinding van die liggaam. Dis begryplik. Dit is en
bly ’n verskriklike werklikheid. Hegte bande word sommer
deurgesny. Daarom sal Christus ook die mag oorwin. Maar vergeet
nooit waaroor die gaan as jy praat oor dood en lewe nie. Wat is
die belangrikste en beslissende? Lasarus se liggaam lê in die
graf. ’n Verdrietige saak. Iets wat ’n mens laat huil.
Maar vergeet nie, Lasarus leef. Hy kon nie sterwe nie, want hy
het in My geglo.

Wat is immers die ware lewe? Dit is dat ’n
mens gemeenskap met die lewende God het. Om die lewe te besit
beteken dat dit weer reg is tussen God en my, dat ek in
gemeenskap met God lewe.

En wat is sterwe? Dit is dat jy buite God se
gemeenskap staan. Jy is werklik dood as jy geen band met die
lewende God het nie. Wanneer jy sonder God lewe. Dood is die
duisternis van godverlatenheid.

Wel, wie in My glo sal nooit sterwe nie, sê
Jesus. Ek is die opstanding en die lewe. Ek red uit die dood.
Neem jy My in geloof aan dan besit jy die lewe, die ewige lewe,
om dit nooit weer te verloor nie. Die egte dood het dan geen mag
oor jou nie. Jy kan nooit meer sterwe nie.

Die ewige lewe begin dus nie eers in die verre
toekoms nie. Die opstanding uit die dood geskied nie eers op die
jongste dag nie. Dit is ’n saak van die hede. Dit begin hier
en nou. Soos die Kat sê "dat ek nou alreeds die begin van
die ewige vreugde in my hart ervaar."

Gemeente, Christus leer u wanneer die ewige
lewe begin as Hy in Joh 5:24 sê: "Wie my woord hoor en Hom
glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die
oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe."
Wanneer besit ek dus die ewige lewe? Op die oomblik waarop ek die
woord van Christus in geloof aanneem. Glo jy in Christus? Glo jy
in God? Aanvaar jy die evangelie? Dan besit jy hier en nou reeds
die ewige lewe. Jy passeer die grenspos tussen lewe en dood nie
eers aan die einde van jou aardse lewe nie. Jy passeer die grens
sodra jy God se woord aanvaar en in Christus glo. Deur die geloof
kom jy los van die greep van die dood en tree jy die lewe binne.

Met die verskyning van Christus word dinge
werklikheid, wat ons gewoonlik toeskryf aan die jongste dag. Iets
ongeloofliks gebeur: dooies word lewend gemaak. Jesus sê: "Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou,
wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die
wat dit gehoor het, sal lewe." (Joh 5:25). In Christus se
verskyning klink die stem oor die doodsbene (cf Esegiël 37)
"Dor bene, hoor die woord van die Here. So spreek die Here
Here tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat
julle lewendig kan word" (Es 37:4,5). Wie glo, sal opstaan
uit die dood en lewe. Hy sal hier en nou reeds die onaantasbare
lewe besit. Die lewe wat deur geen dood en oordeel meer bedreig
word nie. Want wie glo, is een met Hom wat die opstanding en die
lewe is. Wie glo is een met Hom wat die sonde en die dood oorwin
het. Hy lewe om nooit meer te sterwe nie.

Maar, broeders en susters, wat maak ons dan met
die liggaamlike dood? Lasarus het tog uiteindelik weer gesterwe.
Sr Miske het tog maar gesterwe, ook al het sy geglo. Hiervan sê
Christus: sulke mense is nie werklik dood nie. Hul hart klop nie
meer nie, dis waar. Hul liggaam word begrawe. Hulle is nie meer
hier nie. Jy kan nie meer met hulle praat nie. Jy kan nie meer
vir hulle liefde gee en van hulle liefde ontvang nie. ’n
Pynlike saak. Om van te huil. Maar tog: hulle lewe. Die
liggaamlike dood vorm geen verhindering vir die lewe nie. Die
geestlike lewe wat hulle hier reeds geniet het, gaan rustig voort.
Die lewe word selfs verdiep en verryk. Hulle omgang met die Here
is nou van aangesig tot aangesig. Hulle mag by die Here wees.

So sê Christus, terwyl Lasarus se liggaam nog
in die graf is: "wie in My glo, sal lewe, al het hy ook
gesterwe." Die lewe hou nie op nie. Die lewe kom daar ook
nie eers op die jongste dag nie. Wie glo, bly lewe ook al het hy
gestorwe. Ook al staan die hart stil en sê ons dat iemand
gesterf het, tog leef hy voort. ’n Gelowige is geen prooi
van die dood nie. Oor die liggaamlike dood en die graf heen gaan
die lewe in gemeenskap met die Here voort. Die gelowige bly deel
hê aan die opstanding en die lewe.

So spreek Openb 20:6 van die eerste opstanding
wanneer daar van die siele in die hemel gesê word: "Salig
en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle
het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van
God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer
duisend jaar lank."

Dit is wat die kat noem: "dat my siel na
hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word."
Wat is hier my siel? Dit is ekself. Die siel verteenwoordig my
persoon. Ook al sterf my liggaam af, ek self mag verder lewe, by
Christus wees, in die hemel. So hoor ons Paulus sê: "ek het
verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is
verreweg die beste; maar om in die vlees te bly, is nodiger om
julle ontwil" (Fil 1: 23,24).

As ek glo, dan is my liggaamlike dood wins.
Waarom? Omdat ek dan met Christus mag wees. My geloof sonder om
te sien, gaan oor in aanskoue. Ek mag Christus dan sien soos Hy
is.

Moet ek dan maar na die dood verlang? Paulus
noem die sterwe tog wins in Fil 1:21? Waarom word dit wins genoem?
Nie vanweë die dood self nie. Die dood bly ’n verskriklike
werklikheid. Die wins het ook niks te make met die verlange om
hier van die take verlos te word nie. So ontmoet jy soms mense
wat hul lewe op aarde nie wil aanvaar nie, en wat daarom verlang
na die sterwe. Soms ’n begryplike verlange. Die aardse lewe
het soms min fleur. ’n Mens kan in hierdie lewe vasloop. Dan
sien jy geen uitsig meer. Maar is dit tereg? Mag dit jou verlange
na die sterwe beheers? Wat jou moet beheers, is die verlange om
by Christus te wees. Dit mag nie so wees dat ek die maklikste weg
wil kies, die weg van die minste weerstand, asof die liggaamlike
dood die oplossing vir al my probleme sou wees. My verlange moet
beheers word deur die verlange om by Christus te wees. Laat ons
daarom erns maak met die woorde van Paulus in 2 Kor 5:9 "Daarom
lê ons ons ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom
welbehaaglik te wees."

Gemeente, Dat dit jou verlange is om by
Christus te wees, sal reeds nou moet blyk. Soos Paulus sê: vir
my is die lewe Christus, daarom is die sterwe wins. Dit sal moet
blyk in die hantering van my moeite en verdriet. Ek wil tog by
Christus wees? Dan wil ek niks anders as om vir Hom te lewe nie.
Nie eers later nie, maar reeds hier en nou. Dan wil ek vir Hom
werk. Dan wil ek my liggaam, ook al is dit baie geskonde, tog
diensbaar maak aan die eer van sy naam. Dan aanvaar ek die take,
hoe beskeie dit ook mag wees. Nie teen wil en dank nie. Maar uit
liefde vir my Here, in verlange na Hom. Ek behoort aan Hom.
Daarom weet ek dat ek nou reeds ’n erfgenaam van die ewige
lewe is. En ken nou reeds die begin van die ewige vreugde. Ek
weet dat God naby my is.

En wanneer Hy roep, dan is ek gereed. Dit is
dan geen oorgang van niks na alles nie. Maar ’n deurgang van
min na baie. Hoe dit dan sal wees, kan niemand beskrywe nie. Die
heerlikheid gaan ons verstand te bowe. Geen oog het dit gesien en
geen oor het dit gehoor en dit het in die hart van geen mens ooit
opgekom nie. Wat ’n ongekende heerlikheid om volkome vry van
sonde te wees, vry van alle gebrokenheid, van alle belemmerings.
Dis onvoorstelbaar. God bereik dan eindelik die doel van sy
skepping: dat ons Hom ewig sou loof en prys. Dit is die
bestemming van u lewe. Die doel word bereik in die nuwe hemel en
die nuwe aarde. Alles sal dan getuig van God se lof.

Maar broeders en susters, daartoe is dan wel
eers die opstanding van die liggaam nodig. Wie in Christus glo
besit nie slegs die ewige lewe nie, dit was die eerste punt, maar
ontvang ook die opstanding van die liggaam. Dit bring ons by die
2de punt.

Sonder die opstanding van die liggaam is die
saligheid nog nie kompleet nie. Op hierdie oomblik is dit slegs
siele wat in die hemel is. En die siele stry nog saam met ons op
aarde. Ons kry uit Openb 6 die beeld van siele onder die altaar
wat roep: "Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser,
oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde
nie?" God se volk in die hemel bly, in sekere sin, ’n
strydende volk. Die stryd is nog nie afgelope nie. Die bruilof
kan nog nie begin nie. Die siele is nog steeds sonder liggaam.
Hul liggaam lê nog op die aarde begrawe.

Maar die liggaam van die gelowiges word nog wat.
Dit word as ’n saadkorrel in die aarde begrawe. Waarom plant
’n mens ’n saadkorrel in die aarde? ’n Mens doen
dit omdat hy daaruit nuwe lewe verwag. Die saadkorrel moet sterwe
om te kan ontkiem, om tot nuwe lewe te kom en so vrug te kan dra.
So word my liggaam gesaai in verganklikheid – aan ontbinding
oorgelaat – om opgewek te word in onverganklikheid. "Daar
word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word
gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag" (1 Kor 15: 42,43).

Wanneer gebeur dit? As Christus terugkom. Op sy
bevel die grawe oopgaan en sal die liggame opstaan. Siel en
liggaam sal weer verenig word. Die mens is dan weer kompleet,
soos God die mens geskep het. God laat nie vaar die werke van sy
hande nie. Hy laat die mens, sy kunswerk, nie verdwyn nie. Die
liggaam word nie vernietig nie, maar weer opgeneem, vernuwe en
diensbaar gemaak. Ja, as God hierdie liggaam van my sou los en
slegs my siel sou red, dan sou dit ’n oorwinning vir satan
beteken. Christus het gekom om die mens na siel en liggaam te red.

En gemeente, Christus het u ’n teken van
die opstanding gegee, toe Hy Lasarus uit die dood teruggeroep het.
Lasarus moes sy aardse bestaan voortsit. Hy is aan hierdie kant
van die graf opgewek. Hy het nog nie ’n verheerlikte liggaam
ontvang nie. Maar wat Christus daar gedoen het, is ’n bewys
van sy mag oor dood en graf.

Toe Christus Martha en Maria ontmoet het, het
dit daarop gelyk dat hulle voor ’n onherroeplike feit
gestaan het. As Christus eerder gekom het, dan sou Hy nog iets
kon gedoen het. Maar nou lê Lasarus se liggaam reeds vier dae in
die graf. En dan sê ons mense: dis onherroeplik. Terwyl iemand
siek is, dan kan jy nog probeer om die lewe te red, maar as die
persoon reeds dood is, dan is daar niks wat ’n mens kan doen
nie. Dan staan ’n mens voor ’n voldonge feit. Dan is jy
magteloos.

Kort voor sy sterwe het Christus gewys dat die
dood vir Hom nie onherroeplik is nie. Hy beskik oor die dood. Ook
die ontbinding wat reeds ingetree het, is vir Hom geen probleem
nie. Hoor Hom by die graf van Lasarus roep: Lasarus, kom uit. En
Lasarus wat reeds vier dae dood was, het uit die graf gekom.
Christus kan grawe open en dooies weer lewend maak. En Hy sal dit
doen op die jongste dag. Die dood is nie die einde nie. Die
natuurlike ontbinding, maar ook die verbranding van die liggaam
is nie die einde nie.

’n Mens kan miskien sy ongeloof tav die
opstanding wil demonstreer deur lykverbranding, maar geen daad
van mense sal God se werk op die jongste dag verhinder nie. Hy is
nie aan ’n bepaalde tyd of plek gebind nie. Op sy bevel sal
die liggaam opstaan, waar dit ook lê en in watter toestand dit
ook verkeer. Sou Hy wat die mens uit die stof van die aarde
gemaak het, nie in staat wees om die mens se eie liggaam weer
terug te gee nie? Ons bely na die skrif: dat ook hierdie liggaam
van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel
verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal
word.

Wat ’n ongekende heerlikheid. ’n
Heerlikheid wat u nou reeds toewink. ’n Heerlikheid wat u
deur die geloof in beginsel reeds nou mag geniet. Christus is
immers die opstanding en die lewe. Wie in Hom glo, besit reeds
die ewige lewe. Wie in Hom glo ontvang ten slotte ook die
opstanding van die liggaam. Die bruilof van die Lam kan dan begin.
’n Vreugde sonder einde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)